Wednesday 30 November 2011

God is groter as die berg voor jou


Psalm 121 : 1
Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

Ons as mense is darem partykeer lekker kortsigtig.  Hoeveel keer gebeur dit dat jy eenvoudig nie verder as jou probleem kan sien nie?  Te midde van jou probleme, het jy as’t ware oogklappe op.  Soos iemand wat tonnelvisie het, sien jy niks buite jou probleemveld nie.  

Dis juis dan wat jy moet besef dat God groter is as enige berg, die wat jy kan sien, maar ook die wat jy nie kan sien nie.  Jy moet Hom net vertrou en die probleem vir Hom gee.  Hou eerder jou oog gevestig op Hom as op jou probleem.

Tuesday 29 November 2011

Is God nr 1 in jou lewe?

Eksodus 15 : 11  Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!

Partykeer dink ek dat ons so kerk-bewus is dat ons van die Herder van die gemeente vergeet.  PPK, Protestant, Apostolies, Gereformeerd, Hervormd, Volle Evangelie, Metodiste, Rooms Katoliek, Rhema, Grieks Ortodoks ... 

Terwyl ons onder mekaar veg oor of ons vroue as dominees moet toelaat, al dan nie, is daar siele wat verlore gaan.  Daar is ‘n storie van iemand wat vir die duiwel gevra het hoe hy mense so maklik laat afdwaal?  “Ek hou hulle net besig.”

Vra jouself af of dit waarmee jy jouself besig hou, tot eer van God strek?  Het dit ewigheidswaarde?  Vereer jy Hom deur jou doen en late?  Gee jy Hom eer vir dit wat in jou lewe gebeur?  Soms is dit nodig dat ons terugkeer na die basiese dinge...ontslae raak van dit wat ons aandag aftrek van dit wat werklik belangrik behoort te wees.

Monday 28 November 2011

Luister...

Matteus 13 : 9  "Wie ore het, moet luister!"

Wanneer jy met iemand redeneer, kan jy nie hoor wat daardie persoon sê nie.  Is jy besig om met Hom te redeneer?  Jy moet fyn luister om Sy stem te hoor.  Hy praat gereeld met jou.  God het ons met goeie rede geseën met twee ore en een mond.  Dit is sodat ons twee keer soveel sal luister as wat ons praat.  Hy antwoord egter nie altyd soos wat ons dit wil hoor nie. 

Daar was ‘n klein seuntjie, wie se ouers baie arm was.  Ten spyte daarvan het hy gedroom van ‘n nuwe fiets vir Kersfees.  Sy ouers sou dit nooit kon bekostig nie, maar hy’t so vas geglo dat Hy Liewe Jesus vir enigiets kon vra en dit sal ontvang dat hy vir sy maatjie vertel het dat Liewe Jesus vir hom ‘n fiets vir Kersfees sou gee.  Kersoggend kom die maatjie opgewonde by hom aan om na die nuwe fiets te kom kyk.  Daar is geen fiets nie.  “Liewe Jesus het jou seker nie gehoor toe jy Hom gevra het nie,” sê die maatjie.  En toe antwoord hierdie seuntjie met die wysheid waaroor min van ons beskik:  “Liewe Jesus het gehoor.  Hy’t net gesê, nie nou nie.”

Sunday 27 November 2011

Neem die eerste tree

Romeine 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Hoekom na ander kyk om die eerste stap te neem?  Daar is ‘n gesegde in Engels wat lui:  “If it is to be, it’s up to me.”  Niemand kan besluite namens jou neem nie, want net jy (en God) ken jou omstandighede, elke klein besonderheid, elke struikelblok, elke moontlikheid.  Niemand kan jou motiveer nie, want motivering kom van binne.  Wees jou eie beste vriend.  Regtig.  Wees gaaf met jouself en gee jouself 'n kans.  Daar is genoeg mense wat jou gaan probeer onderkry so hoekom moet jy ook nog so hard op jouself wees? 

Jy moet egter verantwoordelikheid neem vir jou eie lewe en dade.  Dalk moet jy so bietjie selfondersoek doen en eerlik wees met jouself - wat is jou sterkpunte en wat is jou swak punte.  Deur op jou knieë te bly, kan jy God in alles ken en dan is keuses en besluite soveel makliker, want God se seën sal op jou besluite rus. 

Thursday 24 November 2011

As die lewe sieldodend word

Johannes 1 : 16  Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.

Voel jy ook soos ‘n hamster op sy wieletjie?  Elke oggend staan jy op, drink koffie, borsel tande, gaan werk toe, werk soos ‘n slaaf, keer huiswaarts, doen jou huistake, val in die bed, slaap, staan op...  Daar is geen afwisseling in jou sieldodende roetine nie.  Jy is so moeg van jou wieletjie of die baan waarom jy in sirkels hardloop.  Daar is diegene wat alles sal gee om self te kan opstaan om werk toe te gaan, maar as invalide is dit hul nie beskore nie.  Daar is diegene wat met liefde jou vervelige werk sal doen, want as werklose het hulle geen vooruitsig om ‘n salaris te ontvang aan die einde van die maand nie.  Daar is diegene wat alles sal gee om jou ‘stout’ kinders of veeleisende man/vrou te hê, want hul gesin is deur die dood weggeneem.  Daar is diegene wat alles sal gee om te kan lewe, maar hul ly aan ‘n ongeneeslike siekte en weet dat die uurglas vir hul leeggeloop het.  Wanneer jy hierdie sleurtake as genade sien, sal jou hele uitkyk op die lewe verander. 

Wednesday 23 November 2011

Jesus min my salig lot...

1 Korintiërs 16 : 24  My liefde is by julle almal in Christus Jesus.

Jesus min my salig lot, ek weet dit uit die Woord van God... Bekende woorde uit ‘n ou halleluja liedjie (lied 437) van jou kinderdae.  Omdat die Bybel so sê.  As kind het ons dit gehoor, geleer en geglo.  God verwag van ons om soos kinders te glo.  Hoekom die Bybel bevraagteken?  Hoekom tegnies oor die Bybel dink?  By God is alles moontlik.  'n Groot verskeidenheid skrywers – van skaapwagters tot konings – het vir ten minste 1 200 jaar lank daaraan geskryf, en tog bevat die verskillende boeke een en dieselfde boodskap en begrip van wie God is!  Die Bybel is die mees verkoopte, sowel as die mees vertaalde boek. Dit is omdat God wou sekermaak dat mense eendag verstaan alhoewel die ‘storie’ deur verskillende mense vertel is, dit ooreenstem, omdat dit die waarheid is.   Sy Woord is die weg en die waarheid.

Tuesday 22 November 2011

God sal nooit laat los nie


1 Kronieke 28 : 20 
Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie, want God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie…

Wat ‘n blye versekering!  God sal nooit ons hand laat los nie.  Eendag staan ‘n pa en sy seun op die wal van ‘n rivier in vloed.  Hulle moes dringend aan die ander kant kom.  Die pappa het die seuntjie beveel om sy hand styf vas te hou as hulle deur die rivier beweeg.  Toe sê die seuntjie:  “Pappa hou jy liewer my hand vas.”  Die pa vra toe wat die verskil is of hy die seun se hand vashou en of die seun sy hand vashou.  “Want Pappa, as jy my hand vashou sal jy nooit laat los nie, maar as ek jou hand vashou sal ek dalk laat glip.”  As God jou hand vashou, kan jy verseker wees dat Hy nooit sal laat gaan nie.  Sy oneindige liefde sal dit nie toelaat dat jy wegdryf van Hom nie.  Maak nie saak wat gebeur nie...

Monday 21 November 2011

Hoeveel hare is daar op jou kop?

Lukas 12 : 7  Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.

Dit is darem ‘n wonderlike gedagte – dat God selfs weet hoeveel hare daar op my kop is – ek weet dit nie eens self nie.  Hy ken my deur en deur – niemand ken my so goed soos Hy nie.  Jy kan iemand net so goed ken as jy daardie persoon self gemaak het en as jy elke oomblik van elke dag by daardie persoon is en daarom kan ek jou verseker dat jy nooit, ooit alleen is nie.  Op ’n ligter noot, deel ek ’n epos boodskap met jou:  “Weet jy hoekom jou hare soggens so deurmekaar is?”  “Omdat die engele besig was om jou hare te tel.” 

Jesus Christus kom terug

Mattheus 17 : 23  en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word." Hieroor het hulle baie bedroef geword. 
Johannes 20 : 6  Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê,

Dank God dat ons nie ‘n lewelose beeld hoef te aanbid of ‘n dooie god nie.  Dank God dat Hy Sy Seun gestuur het.  Meer nog, dat Sy Seun die dood oorwin het.  Dit is die enkele bewys wat ons nodig het om te weet dat God almagtig is.  Geen ander God kon die dood oorwin nie.  Hy het selfs vir ons die versekering gegee dat Hy terugkom, toe Hy die doeke wat daar oor Sy gesig was, netjies opgevou agtergelaat het.  Joodse tradisie wil dit hê dat ‘n man sy servet net neergooi as hy klaar geëet het, maar as dit opgevou word, beteken dit hy kom terug.  Jesus Christus kom terug.

Maak my 'n instrument...

Spreuke 27 : 17  Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.

Om ‘n instrument in God se hand te wees, beteken dat jy hoë temperature sal moet weerstaan en dat jy gehamer en geslyp sal word.  ‘n Hamer en bytel waarmee die kunstenaar die pragtige beeld skep, word nooit op ‘n plaatjie by die beeld vereer nie, die kunstenaar se naam word wel vermeld.  So is ek en jy slegs ‘n instrument in Sy hande en moet ons nie verwag om vereer te word as instrumente nie.  Ons is gereedskap.  Sonder gereedskap kan daar egter nooit ‘n pragtige beeld wees nie.  Gereedskap lê partymaal in onbruik, ander kere word dit daagliks gebruik.  Wees net beskikbaar, gewillig, wanneer die Meester jou en my benodig.  So het ons deel aan die skepping en wonderwerke in wording.  Laat U Wil geskied.

Friday 18 November 2011

God ken die volle prentjie

1 Korintiërs 13 : 12  Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.

Via epos ontvang ek die verhaaltjie van iemand wat gekla het oor die kruis wat hy moes dra.  Toe kap God ‘n stukkie van die kruis af.  Na nog ‘n ent kla die persoon weer en God kap nog ‘n stuk af.  ‘n Ent verder, kla hy weer en weereens word daar ‘n stuk afgekap.  Uiteindelik kom die man by ‘n rivier.  Hy kyk links en regs, maar nêrens is daar plek om oor te gaan nie en die rivier is in vloed.  Toe hoor hy die stem:  “Die aanvanklike kruis sou lank genoeg gewees het om neer te sit en veilig oor die rivier te stap.”  Jy vra ook hoekom moet jy op die oomblik so swaarkry en jy wil ook hê dat God jou kruis ligter maak.  Daar is ‘n rede hoekom jy op die plek is waar jy op hierdie oomblik is.  Vra eerder dat Hy jou die krag gee om daardeur te kom as wat jy Hom vra om die las ligter te maak.  God ken die volle prentjie.

Thursday 17 November 2011

Amen!

Openbaring 22 : 21 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.

God hou die hele wêreld in Sy hande.  Hy sorg dat dit reën op die regte tyd.  Seisoene volg mekaar ritmies, sonder huiwering op.  Die planete bly in hul wentelbaan. Op die vasgestelde tyd kom die son op en gaan dit weer onder.  Die kompleksiteit van die heelal is ver buite ons begrip.  Jy dra kennis  van swaartekrag, maar hoe bly alles mooi regop terwyl die aarde in die rondte tol?  Dit is die mag van ‘n Hoër Hand.  Dit is die almag van God.  Dat die mens voortplant van ‘n blote eierselletjie en ontwikkel tot ‘n mens, is nog ‘n wonder.  Hoe weet die swaeltjies wanneer om die tog na die noorde aan te pak?  Dit is tyd dat ons ophou om logika hierin te sien en bloot soos ‘n kind aanvaar dat by Hom alles moontlik is. 

Wednesday 16 November 2011

Kom!

Matt 14 : 28 “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.”  (29) En Hy sê:  “Kom!”

Jesus het vir Petrus geroep om op die see te loop na Hom toe.   Petrus was bang en toe vrees hom oorval, het Hy gesink.  Jesus het egter dadelik Sy hand uitgesteek en hom gegryp.  Jy begin ook dikwels ‘n taak in geloof en dit gaan goed totdat jy begin twyfel.  Geloof is om God te alle tye te vertrou.  Dan sal Hy jou op hoë plekke laat loop;  selfs op die stormsee sal jy veilig loop.  Vertroue is ‘n vaste geloof in die onsienbare dinge.  Jy is bang om God te vertrou, en dit is normaal.  Bly in gebed daaroor en laat God weet dat jy ‘n begeerte het om Hom te vertrou.  Solank jou begeerte sterker is as jou vrees, is dit genoeg vir Hom.  As jy Hom vertrou, is Hy elke oomblik daar met ‘n uitgestrekte hand.  "Kom, vertrou My."

Monday 14 November 2011

Almal wat die Here liefhet, staan maar nader ...

 
Staan jy nader as daar oor God, geloof of godsdiens gepraat word of sorg jy dat jy jouself vinnig uit die voete maak?  Jy lees Bybel, bid en gaan kerk toe, maar God moet tog net nie van jou verwag om te getuig nie.  Sulke mense word klip-christene genoem.  (Matt 23 : 27 verwys na witgeverfde grafte). Die boodskap het net soveel effek op jou as wat dit op ‘n klip het.  Jy gaan net so min die woord uitdra as wat ‘n klip dit gaan doen.  Dalk dink jy dat daar genoeg ander mense is wat dit kan doen.  Jy is verkeerd.  In Lukas 10 : 2 word jy geroep:  Hy het vir hulle gesê: "Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”  Jy en ek is albei arbeiders en ons moet aan die werk spring.  Ons mag nie die boodskap net vir onsself hou nie.

Onse Vader

Onse Vader
Gee ons vandag ons daaglikse brood...

Mattheus 6 – So moet julle dan bid

Toe die Israeliete in die woestyn getrek het, het God hulle elke dag net genoeg manna gegee vir daardie dag.  Dit was nie vir hulle nodig om spaarsamig daarmee te werk of daarvan oor te hou nie, inteendeel dan sou dit sleg word.  God het selfs vir verskeidenheid gesorg;  Manna en Kwartels.  So sorg God vandag steeds vir jou in die kleinste besonderheid.  Jy hoef nie oor die dag van môre bekommerd te wees nie;  nie as jy elke dag bid vir vandag se brood nie.  Hy sal sorg.  Hy is getrou.  Hy het jou geleer hoe om te bid en Hy sal nooit op Sy Woord teruggaan nie.  Daar sal nie oorvloed wees nie, maar jy sal nooit honger ly nie.  Laat U wil geskied... Laat U koninkryk kom...

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...