Thursday 29 December 2011

'n Jaloerse God

Eksodus 34 : 14 Julle mag nie 'n ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My. Daarom noem hulle My: 'Die God wat onverdeelde trou eis.

God draai nie doekies om nie.  Dit staan swart op wit.  Hy is ‘n jaloerse God.  Hy verwag van jou om Hom eerste te stel, maar Hy verwag dat jy dit sal doen sonder dat Hy jou hoef om te koop.  Dis 'n keuse.

Om ‘n Christen te word, word jy nie met leë beloftes van algehele voorspoed en gelyk paaie gelok nie.  God beloof nooit dat probleme na jou bekering tot die verlede sal behoort nie.  Slegte dinge gebeur ongelukkig ook met gelowiges. 

Wat Hy wel beloof, is dat jy nooit weer enige beproewing op jou eie sal deurworstel nie.  Hy gaan daar wees om jou te dra deur die storms en jou die krag gee om gelouter ander kant uit te kom.  Dit op sigself is alreeds meer as wat die wêreld jou kan bied.

Wednesday 28 December 2011

'n Dubbel lewe

Spreuke 6 : 18 gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad,

Daar is baie mense wat 'n dubbel lewe lei.  Dis nie 'n leuen nie, die waarheid word net so 'n bietjie verdraai... en... dis eintlik om iemand seerkry te spaar.  Voor mense kan jy ‘n gesiene man in die kerk wees, ‘n vermoënde man, ‘n gesinsman, ‘n man wat alles het, iemand na wie ander kan opsien.  Intussen besoek jy prostitute, jy misbruik jong seuns, jy betaal omkoopgeld om kontrakte na jou kant te laat kom, jy behandel jou werksmense soos ondergeskiktes, jou rekeninge is knaend oortrokke en jy leen geld by vriende onder valse voorwendsels, ens, ens, ens. 

Vir God kan jy niks wegsteek nie.  Hy ken elke gedagte van jou, hy ken elke tree wat jy gee, hy weet van elke daad.  Jou dubbele lewe gaan jou die ewige lewe kos.  Jy kan verander.  Jy kan alles wees wat ander van jou dink en jy kan breek met die sonde.  Gaan op jou knieë en smeek Hom om jou te vergewe en neem vandag ‘n besluit om te breek met hierdie dinge en dit agter jou te laat.

Tuesday 27 December 2011

"What Would Jesus Do?"

Kry vir jou ‘n WWJD armband of plak dit op oral in jou huis en kantoor.  What would Jesus do?  As ons elke keer alvorens ons praat of alvorens ons ‘n belangrike besluit neem, die vraag vra, sal ons nog sê wat ons wou sê?  Sou ons nog doen wat ons wou doen?  Sou ons nog die doodstraf wou terugbring as ons self in die dodesel gesit het? 

Matteus 7 : 2  met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. 

In die hitte van die oomblik, doen en sê ons dinge waaroor ons agterna spyt is.  Net omdat ons God nie kan sien nie, beteken nie dat Hy ons nie kan sien of nie weet wat ons doen nie.  Ons moet so optree soos wat Hy van ons verwag.  Doen aan ander soos wat jy wil hê hulle aan jou moet doen of vra jouself af wat Jesus sou doen.  Net om dit so 'n klein bietjie makliker te maak, dra die armband om jou te herinner elke keer dat jy daarna kyk.  Wat sou Jesus doen?

Monday 26 December 2011

Die woonplek van die Wysheid

Job 28 : 23  Net God weet hoe die pad daarheen loop, net Hy ken die woonplek van die wysheid,

Voel jy dat dit wat jy tans deurgaan, jy met niemand kan deel nie?  Niemand sal verstaan nie.  Party sal jou dalk veroordeel.  Sommige sal selfs vreugde vind in jou hartseer.  Of dalk voel jy, jy is eenvoudig iemand wat nie met jou hart op jou mou rondloop nie.  Waar begin jy in elk geval om dit met iemand te deel?  Nog erger... wat kan ander in elk geval aan jou probleem doen? 

Daar kom tye dat jy dalk voel daar is niemand wat jy sodanig kan vertrou om hierdie privaat aangeleentheid mee te deel nie.  Genadiglik is daar Een met wie jy kan praat.  Onthou dat Jesus alreeds weet waardeur jy gaan.  Hy ken al die positiewe en negatiewe punte van jou verhaal.  Hy sal verstaan, nie oordeel nie en niks oorvertel nie.  Praat met Hom.  Laat Hom toe om te luister terwyl jy jou hart uitstort.  Vra Hom vir raad en vertrou dat Hy jou ook hierdeur sal help. 

Dis vir my ongelooflik bemoedigend om te weet Hy ken die woonplek van die wysheid.

Thursday 22 December 2011

Tot die laaste woord

Deuteronomium 31 : 24  Toe Moses hierdie wet, tot die laaste woord toe, in 'n boek opgeteken het,

Die Bybel en al die verhale daarin saamgevat is inderdaad ‘n ou-ou storie.  Dit is geskryf deur verskillende mense oor ‘n tydperk van vele jare en tog is die feite skrikwekkend ooreenstemmend.  Dit is omdat dit die waarheid is.  God sê:  “My Woord is die Waarheid”.  Alhoewel die Bybel duisende jare oud is, is dit steeds relevant.  Sommige dele is so sterk van toepassing dat dit inderdaad wil voorkom asof dit gister geskryf is.

God het selfs ‘stories’ gebruik om lewenslesse oor te dra toe Hy gelykenisse met die mense gedeel het.  ‘n Storie maak die boodskap eenvoudig sodat ons daarby aanklank vind. 

Die Bybel is die mees vertaalde, sowel as die mees gelese boek.  Tog is daar steeds mense wat nog nooit hul eie Bybel vasgehou het nie, terwyl in vele huise daar Bybels lê en stof vergader.  Lees jou Bybel... tot die laaste woord.

Wednesday 21 December 2011

Ek loop die pad

Jesaja 57 : 2  Dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is

As verloste kind van God, put jy krag uit Sy Woord.  Dit is die daaglikse brood wat jou geestelike honger stil.  Dit is jou kompas in die lewe.  God dui die weg aan.  Niemand het nodig om rigtingloos rond te dwaal nie, gebruik die kompas as jy twyfel. 

Ons luister so maklik na wat ander mense sê en mettertyd verdwyn die grense tussen reg en verkeerd in 'n grys middeweg.  Wat voorheen sonde was, is nou aanvaarbaar.  Die model antwoord vind ons egter net op een plek - in die Bybel.  Besluite word vanselfsprekend omdat jy Sy stem hoor as jy die antwoord daar gaan soek.  En dan weet jy eenvoudig wat is reg en wat is verkeerd.

Dit beteken nie dat jy nooit weer gaan twyfel nie, maar dit beteken dat jy nie deur donker dieptes en met kwelvrae hoef te worstel en op ander 'kenners' se menings staat te maak nie.  Die Lig is duidelik voor jou, langs jou, bo jou en ook onder jou en al wat jy hoef te doen is om Hom te volg, waar Hy ook al lei.  Die reguit pad is nie ‘n maklike pad nie, maar die beloning aan die einde is totale vrede.

Tuesday 20 December 2011

'n Liefde sonder einde

1 Kronieke 16 : 34  Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!

Johann Stemmet sing 'n lied:  "Love without end."  Die lied vertel ‘n storie van ‘n seun wat baklei het en vir sy pa daarvan moet kom vertel en die pa wat dan ‘n les deel wat hy by sy pa geleer het.  Uiteindelik word dit teruggevoer na die onmeetlike liefde van Jesus wat ons nie net af en toe ervaar nie, maar elke dag.  Hy het ons lief ten spyte van wat ons gedoen het, of nog gaan doen.  Daar is inderdaad geen einde aan Sy liefde nie. 

Iemand sê net iets wat ons seermaak of doen iets wat ons te na kom en ons is op die plek kwaad.  Partykeer koester ons vir dae, weke, maande, jare 'n wrok.  Jesus vergewe op die plek as ons vergifnis soek.  Selfs al val ons weer, sal Hy ons weer en weer vergewe, want Hy het ons te lief om ons ooit verlore te laat gaan.  Hierin lê 'n les wat ek dink min van ons wil leer, dat ons ook so moet vergewe.  Sjoe, vergifnis is 'n moeilike ding.  Vergewe en boonop vergeet...  Probeer daarna kyk soos Jesus - met liefde waaraan daar geen einde is nie. 

Dit leer ons ook dat ons as ouers ten alle tye ons kinders met liefde op die regte pad moet lei en nooit moet vergeet dat ons ook eens kinders was nie.  Wees lief vir jou kind, ten spyte van wat hy/sy gedoen het, want dit is hoe lief Jesus vir jou is.  Wys jou kind (en jou naaste) dat jy daardie oneindige liefde wat aan jou betoon word, wil deel en uitleef.

Monday 19 December 2011

Aan die Brand

Matt 28:19: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels  Markus 6 : 12  Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer

Jesus se laaste opdrag aan Sy dissipels was dat hul moet uitgaan en die woord verkondig... tot aan die uithoeke van die aarde. 

Suid-Afrika staan bekend as ‘n Christelike land en tog is daar nog soveel mense wat God nie werklik ken nie.  Die grootste gevaar is dat iemand in ‘n Christen-huis opgroei en selfs kerk toe gaan, maar nog nie die Ewige Lewe beërf het nie.  Om genoeg van God te weet dat jy glo jy ken Hom en om Hom as jou Verlosser en Saligmaker aan te neem, is twee verskillende dinge.  Wanneer jy jou ou lewe aflê en ‘n nuwe lewe as Christen aanpak, kan jy nie meer dieselfde mens wees nie.  Jy sal ‘n afkeer aan sondige dinge hê en ‘n ewige honger na Sy wil ervaar.  Jy sal Hom in alles ken en Sy leiding vra alvorens jy enige besluit neem.  En daarom sal jy ook nie skaam wees om die evangelie te verkondig by elke moontlike geleentheid nie. 

Praat jy eerste met mense oor God of praat jy saam as hulle van Hom  praat?  Dink net hoeveel God jou vertrou... Hy vertrou jou om siele vir Hom te werf.  Hy weet jy kan dit doen.

Sunday 18 December 2011

Om God te ken

Spreuke 3 : 6  Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Dit is werklik my wens dat jy God op so ‘n besonderse wyse ken dat waar jy ook al in die lewe mag gaan, of dit werk toe is, in die tronk, op die landerye, in ‘n siekbed, op see, by jou huis, in ‘n vliegtuig, in die skool of universiteit, op ‘n trein, langs die braaivleisvuur, op ‘n boot...  jy Hom steeds naby jou sal voel omdat jy ‘n lewende verhouding met Hom het.  Dat jy Hom daagliks aanbid en ook sy onmeetlike liefde elke oomblik ervaar.  Dit is ‘n gevoel van veiligheid te midde van gevaar, ‘n gevoel van beskermende arms om jou al is jy koud, ‘n gevoel van liefde duur gekoop vir jou en my deur sy kosbare bloed.

 In 'n wêreld vol van onsekerheid, is hierdie 'n absolute oase - die wete dat God daar is vir jou.  Mense sal jou teleurstel of in die steek laat, maar God sal tree vir tree saam met jou stap.

Thursday 15 December 2011

Paid / Betaal

1 Korintiërs 6 : 20  Julle is gekoop, en die prys is betaal.  Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

As daar gratis monsters in die winkel uitgedeel word, storm almal om daarvan te kry.  Wanneer daar ‘n uitverkoping is, is daar ‘n samedromming van mense.  Hoekom gryp meer mense dan nie die kans aan om gratis hemel toe te gaan nie?  Die kaartjie is immers meer as 2000 jaar gelede betaal en in jou naam uitgereik.  Weet jy wat dit gekos het?  Jy hoef net terug te dink aan die vorige dagstukkie om die verskriklike prentjie te vorm. 

Niemand van ons sou dit kon bekostig nie, maar danksy die onverstaanbare genade van God, het Hy deur Sy seun, Jesus Christus, vir ons met Sy kruisdood die prys volledig betaal.

Wednesday 14 December 2011

Die kruisdood

Prente van die kruisdood kan onmoontlik die verskriklike lyding weergee.  Tydens geseling is al Jesus se klere uitgetrek, sy hande is aan ʼn paal bokant sy kop vasgemaak en Hy is geslaan. Die Joodse wet het ʼn beperking op die aantal houe geplaas - veertig. Dit is twyfelagtig of die Romeinse soldate hulle aan hierdie beperking gesteur het. Dit was ʼn kort sweep met verskeie swaar leerrieme. Naby die punte van hierdie rieme is klein loodballetjies of stukkies been ingevleg. Die loodballetjies in die sweep veroorsaak erge kneusings. Die rieme en beentjies skeur die vel. Daar is baie bloed.  Bloed uit die doringkroon, bloed uit die spykergate, selfs bloedsweet.  Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val (Lukas 22:44).

God het Sy Seun aan hierdie onmenslike ervaring blootgestel om een rede; sodat elke mense verlos kan wees en die Ewige Lewe kan hê.  Dink jy nie dis 'n duur genoeg prys nie?  Hoe kan 'n mens hierdie 'geskenk' eenkant toe klap of wegstap van dit?

Tuesday 13 December 2011

Jou handleiding


Jesaja 32 : 17  Wie reg doen, sal vrede hê;  wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet.

God het vir ons ‘n handleiding gegee;  die Bybel.  Dis ook jou kompas/handleiding vir die lewe.  Wanneer jy jou Bybel gereeld lees, groei jy as Christen nader aan Hom.  Dis ook jou reddingsboei in tye van nood. 

In die Bybel vind jy bemoediging en troos.  Telkens sal God jou lei na die regte vers vir die krisis waarin jy is.  Dit is waar jy hoop vind as jy moedeloos is.  Alhoewel die Bybel soveel jare gelede geskryf is, is dit steeds relevant.  Soms dwaal jy af en hoe wonderbaarlik lei God jou nie weer terug tot aan Sy voete nie. 

Dalk het jy afgedwaal, of jou geloof het so bietjie afgekoel... jy is nie meer so soekend na Hom nie.  Kom terug, dis nooit te laat nie en God wag vir jou met ope arms.   God vra jou om vas te staan in geloof.

Monday 12 December 2011

Moenie wag nie!


Romeine 2 : 5  Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek.

Ten spyte daarvan dat die Woord wyd verkondig word en Suid-Afrika bekend staan as ‘n Christelike land, is daar steeds mense wat leef asof daar nooit ‘n oordeelsdag sal wees nie.  Vandag wil ek ‘n beroep op jou doen, wat nog nie tot bekering gekom het nie.  Selfs al breek die oordeelsdag nie in jou leeftyd aan nie, kan ek jou verseker, God kom weer en dan kom Hy om diegene te haal wat vir altyd saam met Hom in die Hiernamaals sal leef. 

Jy wil nie die donker en verlate dieptes van die hel tegemoet gaan nie.  Nie jy of ek weet wanneer ons laaste dag sal aanbreek nie.  Moenie tot dan wag nie.  Leer God nou ken.  Roep Hom aan.  Soos die Engelse sê:  "There is no time like the present."  Present, 'n geskenk van die Ewige Lewe.

Sunday 11 December 2011

Om liefde te bewys

1 Korintiërs 13 : 13  En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

Leo Buscaglia, (afgestorwe professor by die Universiteit van Suid Kalifornië, sielkundige, motivering spreker en skrywer van verskeie boeke) vertel die verhaal hoe hy besluit het om die Universiteit se Dekaan elke dag ‘n drukkie te gee.  Die eerste dag het die man weggebeur en was hy wantrouig.  Mettertyd het hy die drukkie beantwoord en toe Leo Buscaglia die dag weggaan, het hy gevra wie hom nou ‘n drukkie gaan gee? 

Selfs die mees geharde persoon het liefde nodig.  Reik uit na iemand wat op die oog af geen liefde nodig het nie en jy sal verbaas wees hoe jou eie lewe verryk word.  As jou kind moeilik is, gee meer liefde... as jou man/ vrou afsydig is... gee meer liefde... as jy smag na liefde, betoon liefde aan ander...  En moenie ophou as jy nie dadelik reaksie kry nie... volhard.

Thursday 8 December 2011

Die ewige dors

Ps 42 : 2  Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.

As Christen weet jy dat jy ‘n ewige dors na God het.  Daardie dors word nooit geles nie.  Waar dit voorheen moeite was om die Bybel te lees, kan jy amper nie wag om te lees nie... Voorheen het jy opgesien daarteen om kerk toe te gaan, nou kan jy nie wag vir die volgende erediens nie...  Jy wil Sy Woord hoor, sien, bespreek...  Jy luister na geestelike musiek, lees geestelike boeke...  Dit bly ‘n smagting; ‘n honger na Hom.  Hy word alles oorheersend in jou lewe, jou hartsverlange.  En tog is dit nie ‘n seer nie.  Dit bring eerder gemoedsrus. 

Laat God die begin en die einde van jou lewe wees, die alfa en die omega.  Die mens kan nog lang rukke sonder kos, maar nie sonder water nie.  Net so kan jy sonder baie dinge in jou lewe, maar jy kan nie sonder God nie.  Jy kan nie sonder Sy Woord nie.  Bybelstudietyd word jou gunsteling tyd van die dag en God se Woord gaan voor jou oop.

Indien jy nog nie so 'n verhouding met God het nie, begin werk vandag daaraan.  Hy wag met ope arms op jou.

Wednesday 7 December 2011

Om te hoop

Romeine 15 : 13 Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

As jy met mense gesels dan hoor jy hoe baie van hulle hul hoop op aardse dinge plaas.  Wanneer ek die Lotto wen..., sodra my man aftree... as ons huis net klaar betaal is... wanneer die kinders groot is... as ek klaar is met my kanker behandeling...

Almal van ons hoop; hoop dat dinge beter sal wees sodra die een of ander fase aanbreek.  Ek sê nie ons moet ophou hoop nie, maar ek dink ons moet die fokus van ons hoop verskuif na die bron van hoop, God, sodat Hy ons op enige gegewe oomblik met ware hoop kan vul.  Hy is immers die bron van hoop en Sy hoop vul jou met vreugde en vrede.  

Tuesday 6 December 2011

Die geskenk van gebed

Die grootste geskenk wat iemand jou kan gee, is om vir jou te bid.  Soveel te meer as Jesus vir jou intree by die Vader.  En jy kan ook vir ander bid.  Dra jou eggenoot, jou kinders, jou ouers, jou vriende, jou familie aan God op in gebed. 

Gebed is ons direkte lyn na God.  Hy is nooit te besig vir jou nie.  Gebed is die noodlyn na God.  Dit is die reddingsboei in die stormsee.  Gebed is nie tydgebonde of plekgebonde nie. 

Julle kry nie omdat julle nie bid nie... (Jak 4:2).  Bid voortdurend.  Bid uit dankbaarheid, bid uit nood, bid omdat jy moedeloos is, bid vir jouself en vir ander, maar moet nie stilbly nie.  God wil jou hoor.

Monday 5 December 2011

Trek 'n streep deur negatiwiteit

Die menseras het nou maar eenmaal die vermoë om so vasgevang te word in probleme dat ons tonnelvisie ontwikkel.  Ons sien nie meer goeie dinge raak nie.  Ons hou op lag en vind in niks meer vreugde nie.  Die lewe raak een lang treurmare. 

Feit is dat die lewe nie gaan stilstaan omdat jy deur ‘n moeilike tyd gaan nie.  Jy raak steeds ouer en jou lewe tik verby.  Wees nou eerlik...  As jy aan groot krisisse terugdink, lyk hul nog so erg?  Ontstel dit jou nog steeds?  Tyd en afstand tussen jou en die probleem, bring alles in perspektief. 

Te midde van die stryd, raak stil.  Dink hoe getrou God is, hoeveel vreugde Hy jou al laat ervaar het.  1 Kronieke 16 : 27  Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en vreugde vul die plek waar Hy is. Dink ook aan die onmoontlike wat Hy al in jou lewe vermag het.  Fokus op die positiewe en jy sal nie tyd hê vir die negatiewe nie.  Trek eenvoudig ‘n streep deur negatiewiteit (-).  Dan verander die minus (-) in ‘n plus (+).

Sunday 4 December 2011

Kyk die lewe in die oë

Lewe jy ‘n lewe van sussie-ek-is-jammer-dat-ek-leef lewe?  Voel jy skuldig en kan jy jouself nie vergewe nie?  Dra jy so swaar aan skuldgevoelens dat jy niemand in die oë kan kyk nie? 

Neem vandag ‘n besluit om die saak na Jesus te neem.  Voor jy met Hom begin praat, sit daardie pakkasie aan Sy voete neer.  Praat nou jou hart uit.  As jy klaar is, staan op en draai jou rug op die verlede. God sal daarvan ontslae raak.  Psalm 147 : 3  Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.  

‘n Professor het ‘n leë glas vasgehou en aan studente gevra hoe swaar dit is.  Nadat hulle geraai het, vra hy hulle wat sou gebeur as hy die glas heeldag vashou?  Heel week?  ‘n Maand?  Het die glas swaarder geword?  Nee.  Wat moet jy doen om van die pyn ontslae te raak wat noodwendig met tyd sal kom?  Sit die glas (pyn) neer.  En so moet jy ook jou probleme neersit anders kan dit jou siek maak.  Tel jou kop op en kyk die lewe in die oë.

Thursday 1 December 2011

Maak jy 'n verskil?

Maleagi 3 : 18  Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie.

Daar was een maal ‘n man wat langs die strand gestap het en toe hy sien dat daar honderde see stêrretjies op die sand lê, begin hy hulle een vir een terug gooi in die see.  ‘n Ander man kom toe na hom en vra:  “Hoekom doen jy dit?  Hoekom mors jy jou tyd om die see stêrretjies terug te gooi?  Dit is ‘n onbegonne taak en jy kan hulle nooit almal red nie.”  Die eerste man het voortgegaan om die see stêrretjies terug te gooi en toe hy een weer in die branders sien verdwyn, sê hy:  “nee, ek kan nie, maar dit maak ‘n verskil in daardie een se lewe.” 

Jy kan nie almal se lewens aanraak of verander nie, maar jy kan ten minste jou bes probeer met diegene wat jou pad kruis.  Partykeeer moet ons God se hande wees.   Mag ek jou vra om vandag 'n verskil in net een persoon se lewe te maak?  Dit hoef nie iets groot te wees nie... dit hoef nie geld te kos nie... wees net 'sag' in 'n harde wêreld... wys vir een persoon die ware persoon wat God bedoel het jy moet wees...

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...