Sunday 29 April 2012

In die palm van Sy hand

Psalm 13 : 6 Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart

Lank gelede was daar ‘n wyse man in die Himalayas. Soms het hy afgestap na die dorpie aan die voet van die berg.  Daar was seuns wat hom bespotlik wou maak.  Een van hulle vra toe vir hom:  “In my hande hou ek ‘n voëltjie, is hy lewend of dood?”  Die seuntjie het geweet dat hy die voëltjie kon dooddruk as die man sê hy is lewend of hom kon laat vlieg as die man sê dat hy dood is.  Wat die wyse grysaard ook al sou antwoord, die seuntjie sou hom een voor wees.  Toe die ou man die vraag hoor, antwoord hy:  “die antwoord lê in jou hande”. 

Deur die Genade is ek en jy nie soos hierdie voëltjie, aan mense uitgelewer nie, maar is dit God wat ons toekoms in die palm van Sy Hand hou.

Wednesday 25 April 2012

Is God te laat vir jou probleem?

Johannes 11 – Die opwekking van Lazarus

Plaas jouself in Martha en Maria se skoene.  Die mense het al met hulle kom simpatiseer oor hul broer se dood, toe Jesus daar aankom.  Martha het uitgegaan na Hom en beskuldigend gesê:  “Here as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie."  Om 'n geliefde aan die dood af te staan is immers nie maklik nie en hier daag die enigste persoon wat hom kon help te laat op.  Maar onthou ook dat sy ten spyte van haar hartseer ook deeglik bewus was van Sy almag, want in dieselfde gedeelte het sy Jesus ook verseker dat sy glo dat alles wat sy van Hom vra, Hy haar sal gee. 

Juis daarom is dit nie verbasend wanneer Jesus onmiddellik antwoord:  “Jou broer sal opstaan.”  In vers 40 sê Jesus: “as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien.” 

Soos Martha en Maria, kla jy dat God nie jou gebede beantwoord nie.  Dalk is dit omdat jy nie regtig glo nie.  Jy sê jy glo, maar tog twyfel jy.  Jy dink dalk dis te laat – nie vir Hom nie.  Vra en vertrou Hom.

Tuesday 24 April 2012

Vergroot my grondgebied, O God

Kronieke 4 : 10 – Vergroot my grondgebied

Satan lê elke dag op loer.  Hy stuur twyfel oor jou pad en wag vir die geringste onsekerheid wat jy mag openbaar.  In tye van beproewing is ons op ons kwesbaarste.  Wanneer jy sien dat dit oënskynlik goed gaan met die goddelose, wonder jy of dit enigsins die moeite werd is om nog te glo.  Hulle glo nie, hulle lees nie Bybel nie, hulle gaan nie Kerk toe nie, hulle gee nie hul tiendes nie, hulle bewys geen goeie dade nie. Inteendeel hulle trap op ander en sulke tye voel jy dalk hul voorspoed koggel jou uit. 

Dalk moet jy jouself vra of jy God dien omdat jy voorspoed verwag of omdat jy glo dat Hy die enigste Ware God is wat tot alles in staat is?  Ook om jou te omarm en terug te lei as jy dalk sou afdwaal, want dit is nie Sy wil dat jy ooit Sy grondgebied verlaat nie.  Bly binne Sy wil en Hy sal jou grondgebied vergroot.

Monday 23 April 2012

God wil jou seën

Psalm 115 : 112  Die Here dink aan ons: Hy seën, Hy seën die huis van Israel, Hy seën die huis van Aäron,

Sommige mense weet nie hoe om ‘n kompliment te aanvaar nie.  As jy hulle komplimenteer oor ‘n mooi haarstyl, sê hulle dalk:  “O nee, ek moet dit alweer laat sny.”  Of jy komplimenteer die kleur van hul klere.  “Aag, dis sommer ‘n ou rok van laasjaar.”  So gaan dit ook met die seën van God, jy dink jy is dit nie waardig nie.  Jy dink jy verdien dit nie en so keer jy dit van jou af weg. 

God wil jou seën, Hy wil jou oorlaai met goeie dinge.  Aanvaar sy seën met grasie.  Net soos wat jy afgehaal voel as iemand nie jou kompliment aanvaar nie, so voel God ook seergemaak as jy Hom hierdie vreugde ontneem.  Wees trots dat Hy jou so bederf en spog daarmee.  Jou Pa is immers die Koning van die Heelal.

Sunday 22 April 2012

God is by jou

Josua 1 : 9  Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan

Hoe verblydend is dit nie om te weet die alomteenwoordige God is elke uur van elke dag by jou.  Hy raak nooit moeg nie, hy slaap nooit nie.  Hy raak nie ongeduldig of verveeld nie.  Sy liefde vir jou is ‘n liefde sonder grense.  Hy luister na jou, troos jou, ondersteun jou, lei jou. 

Jy sien dikwels op TV die lyfwagte om belangrike persone.  Groot mans met baie spiere, soms geklee in swart pakke en donker brille.  Hul mikpunt is om enigiemand af te skrik wat naby die belangrike persoon probeer kom.  Hulle is bereid om hul eie lewe af te lê vir die sterre of staatshoofde.  Ek en jy het ook ‘n lyfwag, naamlik Jesus Christus.  Anders as die wagte maak Hy nie op Sy spiere staat nie, Hy omgeef jou bloot met sy engele en Sy teenwoordigheid.  Hy gebruik nie geweld nie, tog sal niemand jou skade berokken as Hy vir jou is nie.

Thursday 19 April 2012

Die stem van God

Psalm 121 : 1  Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

Daar is sekere frases wat leë cliches geword het.  Jy gebruik hulle dalk ook.  Jy uiter ook leë beloftes en woorde van valse hoop.  Dit klink tog goed en Christelik.  En as jy deur donker dieptes gaan, hoor jy dit dan ook van ander. 

Die internet het een van die mees gevaarlike medias geword.  Jy word oorlaai met pragtige geestelike boodskappe.  Dit is so ‘n oorlading dat die woorde nie meer trefkrag het nie.  Jy hoor die boodskap op soveel maniere dat dit soos ‘n saal vol mense klink wat almal tegelyk praat.  Jy weet nie na wie om te luister of wie om te glo nie. 

Daar is net een werklikheid, die stem van God.  Raak stil en hoor Sy stem.  God gil nooit, Hy fluister.  Jy moet fyn luister.  Kyk op, nie angstig rond nie, want jou hulp is van Bo.

Wednesday 18 April 2012

Om oopmond te staan

Psalm 146 : 6  Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou,

Vertrou jy God ten volle?  Dra jy jou behoeftes aan Hom op in gebed en dan laat jy dit aan Sy voete en gaan aan met jou lewe in die vaste wete dat Hy die probleem sal oplos?  Vra jy Hom vir hulp en sodra jy amen gesê het, begin jy planne beraam om die probleem op te los? 

Jy gee tog nie vir iemand ‘n geskenk en neem dit dan weer terug nie?  As God ‘n mens was, kon jy dalk in twyfel verval het, maar Hy is God!  Hy is almagtig! 

Onthou jy nog jou vorige krisis en hoe Hy jou oopmond van verbasing gelaat het omdat Hy die onmoontlike vermag het?  Vertrou Hom, blindelings.  Hy bly getrou

Tuesday 17 April 2012

Tien Melaatses

In Lukas 17 vind jy die gelykenis van die tien melaatses.  God het tien van hulle genees, maar net een het omgedraai en Hom bedank. 

Hoeveel keer help God jou?  Hoeveel keer sê jy agterna dankie?  Of word dit wat Hy vermag eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar?  En as jy dankie sê, is dit sommer net so vinnig in die verbygaan, of vertel jy vir ander wat Hy vir jou gedoen het? 

Dit kan ‘n getuienis word wat ‘n verskil in iemand anders se lewe kan maak.  Moet nooit ooit agterlaat om God te bedank vir dit wat Hy vir jou gedoen het nie.  Daagliks voorsien Hy en jy aanvaar soveel dinge as vanselfsprekend dat jou gebede eerder ‘n versoeklysie is as ‘n gebed van danksegging. 

Gee aan Hom die eer.  Verhoog sy naam.

Monday 16 April 2012

Volhard


Mattheus 24 : 13  Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.

Deur die Woord te lees, het menige al tot bekering gekom.  Die Bybel is die mees gedrukte en ook mees geleesde boek ter wêreld. 

Het jy al die gesig gesien van iemand wat niks besit nie, maar dan sy of haar eerste Bybel kan vashou, in sy of haar eie taal?  Die Bybel word versprei tot in die uithoeke van die aarde.  Dit is die kompas na die Ewige Lewe, ‘n handleiding vir elke mens. 

Wat jou ook al kwel, jy sal die antwoord in Sy Woord vind.  Sy Woord is die Waarheid.  En die Woord het vlees geword en onder ons kom bly.  Jesus Christus is die Woord.  Ook in ons Bybelstudie moet ons volhard tot die einde.

Sunday 15 April 2012

Gewone mense

Lukas 19 : 10  Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is

In die tyd dat Jesus op aarde gewandel het, het Hy nie in paleise tuisgegaan saam met konings nie.  Uit die Bybel blyk dit dat Hy  by gewone mense tuisgegaan het. 

Hy is nie gebore uit ‘n koningsgesin nie, maar as kind van ‘n ongehude moeder (die maagd Maria) en Josef, ‘n skrynwerker.  Hy wou nie bo jou en my verhewe wees nie.  Hy wou jou laat verstaan dat daar by Hom geen onderskeid is nie.  God gee nie om wat jou status of jou finansiële vermoëns is nie, tensy jy daarmee goed kan doen. 

En tog het Hy soveel vermag, juis onder gewone mense, want Hy’t nie gekom om te red wat reeds gered is nie.  Hy’t juis gekom om die verlorenes te red, mense soos ek en jy.

Thursday 12 April 2012

Hardloop voluit

1 Korintiërs 9 : 26  Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie

Wanneer ‘n atleet in die wegspringblokke staan, is sy oog gevestig op die wenstreep.  ‘n Atleet
draai nie sy kop om te kyk wie agter hom is of hoe naby hulle is nie.  Die atleet se oog is doelgerig op die wenstreep. 

Hierin lê ‘n les opgesluit vir jou en my.  Ons moet ophou omkyk na die verlede.  Ons moet ophou kyk hoeveel meer ander mense het.  Ons moet ophou oplet hoeveel meer sondig hulle as ons is en hoeveel beter dit met hulle gaan.  Ons oog moet doelgerig op die eindstreep wees – die Ewige Lewe. 

En ons moenie moeg word nie.  Nog minder moet ons halfpad moed opgee, want eendag gaan ons Hom van aangesig tot aangesig sien.

Wednesday 11 April 2012

My genade is vir jou genoeg

2 Korinthiërs 12 : 9  My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is."

Hoeveel maal het jy nie al uitgeroep dat jy eenvoudig nie meer kan nie?  Hoeveel keer het jy nie al gevoel asof jy die einde van jou kragte bereik het nie?  Dit is so onnodig dat jy op jou eie die stryd voer. 

God bied jou Sy genade aan en Hy verseker jou dat Sy krag juis deurkom wanneer jy op jou swakste is.  Neem die geskenk uit Sy oop deurboorde hande aan.

Tuesday 10 April 2012

Hardloop voluit

1 Korintiërs 9 : 26  Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie

Wanneer ‘n atleet in die wegspringblokke staan, is sy oog gevestig op die wenstreep.  ‘n Atleet draai 
nie sy kop om te kyk wie agter hom is of hoe naby hulle is nie.  Die atleet se oog is doelgerig op die wenstreep. 

Hierin lê ‘n les opgesluit vir jou en my.  Ons moet ophou omkyk na die verlede.  Ons moet ophou kyk hoeveel meer ander mense het.  Ons moet ophou oplet hoeveel meer sondig hulle as ons is en hoeveel beter dit met hulle gaan. 

Ons oog moet doelgerig op die eindstreep wees – die Ewige Lewe.  En ons moenie moeg word nie. 
Nog minder moet ons halfpad moed opgee, want eendag gaan ons Hom van aangesig tot aangesig sien.

Monday 9 April 2012

Hy het ter wille van ons gesterf

1 Tessalonisense 5 : 10  Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.

Hy het gesterf sodat jy kan lewe.  Moenie toelaat dat Sy dood nutteloos is nie.  Moenie toelaat dat Sy kruisiging vergeet word nie.  Moenie toelaat dat een enkele sterfling die dood tegemoetgaan sonder dat hy van God gehoor het nie. 

Elke mens het ‘n opdrag ontvang om te sorg dat mense tot aan die uiteindes van die aarde van Hom sal hoor.  Gaan verkondig die Evangelie.  En tog hou jy, jou doof.  Hy klop en jy maak nie oop nie.  Hy roep, maar jy antwoord nie.  Daar sal geen groter stilte wees as die dag waarop Sy stem stilword nie.  Daar sal geen groter hartseer wees as wanneer jy die geleentheid laat verbygaan om Hom te ontmoet nie. 

Sunday 8 April 2012

Die man van Galilea - die opstanding

Markus 1 : 28  En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

Daar word telkens na die man van Galilea verwys – Jesus.  Hy is gebore uit ‘n maagd wat in Nasaret gewoon het, ‘n dorp in Galilea.  Ook Kapernaum was in Galilea.  Langs die see van Galilea het hy gewandel en verskeie wonderwerke gedoen.  Dit is waar Hy gepreek het en dit is ook waar Johannes Hom gedoop het.  In Markus 14 : 28 sê Hy: “nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe."  Na die water.  Water is lewe. 

God het Sy Seun van die hemel na die aarde gestuur sodat jy die Ewige Lewe kan beërwe omdat Hy vir jou sondes aan die kruis gesterf het.  Deur te sterf bied Hy jou die lewe, want genadiglik het Hy ook opgestaan.

Thursday 5 April 2012

My rots, my toevlug

Ps 62 : 6-8 – my rots, my toevlug

Te midde van onsekerheid en slegte nuus op TV en in die koerante, staan God bo dit alles uit, soos ‘n rots.  By Hom vind jy gemoedsrus en versekering dat Hy sal sorg. 

Mag jou hart en jou gemoed vandag oop wees sodat jy die wonder kan ontvang en ervaar;  die wonder van Sy vrede wat oor jou kom as die storms rondom jou woed. 

Selfs al is jy vandag ver van God, is daar ‘n klein deeltjie diep in jou hart wat weet dat jy op Hom kan vertrou, dat Hy ook jou rots en toevlug is.

Wednesday 4 April 2012

'n Eie wil

Deuteronomium 29 : 4  En tog het die Here tot nou toe nie vir julle verstand gegee om te verstaan, oë om te sien en ore om te luister nie.

God het mense gemaak, nie robotte nie.  Hy het jou ‘n verstand gegee en ook ‘n wil van jou eie.  En mense vergeet.  As jy swaarkry bid jy dag en nag en as jou probleem opgelos is, wat dan?  Vir baie van ons is dit  terug na die ou patroon. 

Jy vergeet so gou dat jy jou hart vir Hom gegee het en dan raak jy maar weer deel van die wêreld.  Hy laat jou toe om te leer, soos wat ‘n ouer ‘n kind toelaat om te leer.  As jy fyn luister, sal jy wel sy vermanende stem hoor.  Jy weet wanneer jy verkeerd gedoen het.  Hy is so verdraagsaam en geduldig.  En wanneer Hy jou genoeg vryheid gegee het, herinner Hy jou weer waar jy hoort en kom jy skoorvoetend terug. 

Is dit nie juis waar die wonder lê nie?  Dat Hy jou nooit wegstoot nie, maar altyd terugneem.

Tuesday 3 April 2012

God sal voorsien

Lukas 12 : 24  Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls.

God wys ons daarop dat hy ook na die diere omsien, van kraaie tot mossies.  Ons grootte God gee om vir voëls, groot of klein, waarvan daar letterlik duisende is.  Tog weet God van elkeen van hulle;  Hy sorg vir elke mossie.  Nie eens ‘n mossie is te gering om deur Hom versorg te word nie. 

God wys vir die mossie waar daar kos is;  hy hoef nie te soek nie.  Hy sorg vir die gras van die veld.  Op die regte tyd stuur Hy reën.  Hy verwys na die lelies wat beter geklee is as Salomo.  En Salomo was ‘n man wat uitspattig mooi geklee was. 

“Hoeveel te meer?” vra Hy, “sal Ek nie vir jou sorg, wat soveel meer werd is as voëls nie?”  Ten spyte van hierdie versekering, bekommer jy jou morsdood oor die toekoms.  ‘n Mossie het nie ‘n yskas nie.  God neem hom elke dag na sy maaltyd.  Die gras kan nie gaan water soek nie, God voorsien.  ‘n Lelie is nie net mooi nie, dit simboliseer ook reinheid.   Glo vandag:  "God sal voorsien."

Monday 2 April 2012

Wegloopkind

Dalk is jy ‘n wegloopkind.  Jy het op ‘n dag net besluit dat jy moeg is vir God en die kerk en besluit dat jy heel goed op jou eie kan regkom, want God luister in elk geval nie as jy praat nie.  Die kerk help jou nie.  Die kerk en sogenaamde gelowiges/Christene veroordeel jou.  God help in elk geval net ander mense. 

Hou op om soos ‘n dikmond tiener rond te loop.  Kom tot inkeer en besef dat jy nie op jou eie kragte kan staatmaak nie.  Reik uit na God.  Kom terug na Hom.  Hy sal jou, sy verlore seun/dogter, met ope arms terug verwelkom.  Lukas 15 : 24  Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.' Toe het hulle begin feesvier.

En wanneer jy Hom om vergifnis gevra het, maak die begeertes van jou hart aan Hom bekend en kyk hoe Hy jou verras.

Sunday 1 April 2012

Jy's spesiaal

By God is elke mens spesiaal.  Niemand is gering in Sy oë nie.  Hy het ander standaarde as mense. 

As jy vandag glo jy is ‘n mislukking, weet dan dat God van jou verskil.  Hy sien jou as uniek, as iemand.  Spreuke 16 : 4  Die Here het alles gemaak met 'n doel...   Hy het tyd gemaak om jou te skape en soos die bufferplakker sê:  “God makes no junk”.  Selfs al het jy ‘n liggaamlike gebrek, of al was jy ‘n onbeplande baba, is jy binne die Wil van God geskape. 

As Hy nie ‘n doel met jou lewe gehad het nie, sou jy nie vandag hier gewees het nie.  Moenie dat mense jou anders wys maak nie.  Moenie teen jou eie mislukkings vaskyk nie, ook dit kan verander.  God het jou steeds lief.  Jy is iemand baie spesiaal in Sy oë.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...