Thursday 31 May 2012

Neem U asseblief beheer oor die stuurwiel

Filippense 4 : 13  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Sodra jy in die motor klim, nog voordat jy die sleutel draai, behoort jy ‘n gebed te doen.  “Here, neem U asseblief beheer van hierdie motor.  Neem U die stuurwiel in U hande, want ek kan dit nie op my eie doen nie.” 

Op jou eie kan jy nie jou familie veilig by jul bestemming uitbring nie.  Vertrou God met alles, die groot en klein aspekte van jou lewe.  Wees uitdagend en laat God ook die stuur van jou lewe neem, want as Hy aan die stuur is, sal jy vind dat jy ooglopende ongelukke vryspring, dat jy wonderbaarlik aan die dood ontkom. 

Jy sal wonderwerke aanskou en Sy alomteenwoordigheid ervaar.

Wednesday 30 May 2012

Dit is volbring

Markus 15 : 32  Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo! Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.

Saam met twee ander kruise het Sy kruis afgeêts gestaan daar teen die heuwel op Golgota.  Saam met twee sondaars is hy vasgespyker en opgehys terwyl mense Hom gespot het.  Uiteindelik het Hy Sy laaste woorde geuiter: “dit is volbring.”  Die taak waarvoor Hy gebore is, om te sterwe vir jou en my sondes, het Hy voltooi. 

Jy kan nie anders as om ineen te krimp as jy hierdie prentjie voor jou geestesoog oproep nie.  Jesus het nie gesterf vir sy vriende of sy dissipels nie.  Hy het nie gesterf vir die gelowiges nie, maar vir diegene wat Hom nooit enige liefde betoon het nie, vir hulle wat Hom asyn gegee het toe Hy vir ‘n bietjie water gevra het, vir sondaars.  Aan daardie houtkruis was ons Redder vasgespyker. 

Tuesday 29 May 2012

Tyd is in Sy hande

Openbaring 22 : 13 Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.

Tyd is in Sy hande.  Hy kon die hemel, die aarde, die see, die heelal in 6 dae skape.  Vir ons is dit ondenkbaar binne ons beperkte verwysingsraamwerk.  Dit is vir Hom egter net ‘n oogknip.  Hy is die beskikker van lewe en dood. 

Hebreërs 13 : 8 herinner ons verder:  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.  Wie van ons is elke dag, of selfs heeldag, dieselfde?  Ons verander ons optrede en waardes afhangende van waar ons is of in wie se geselskap ons is.  Sondag in die kerk is ons vroom en eerbiedig, maar Maandag in die verkeer is ons iemand anders. 

Tyd is in Sy hande, ook ons begin en einde.  Lewe so dat jy nie eendag by die ewigheidspoorte weggewys word nie.

Monday 28 May 2012

Mooi-weer Christene

Om op die berg te wees, is simbolies van wanneer dit met jou goed gaan en wanneer jy in die vallei is, simboliseer dit die moeilike tye waardeur jy worstel. Psalm 46 : 3  Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see 

Niemand beleef deurlopend goeie tye of deurlopend slegte tye nie.  Jy moet God egter ken wanneer jy in die valleie is, sowel as wanneer jy op die berg is.  Dit is maklik om naby Hom te bly as jy deur donker dieptes worstel, want dan bid jy en jy lees jou Bybel vodde.  Nie almal hou egter hiermee vol wanneer die beproewing verby is nie. 

Waak daarteen dat jy nie ‘n mooi-weer Christen word nie, dat jou  Bybel nie lê en stof vergader en jou gebede nie sommer sulke kort smsse word nie. 

Sunday 27 May 2012

Elkeen vir homself

Daar is ‘n gesegde wat lui:  “Elkeen vir homself en die duiwel vir ons almal.”  Niemand het meer tyd vir ‘n ander nie. 

In die rot-resies word daar op ander getrap, jy druk voor ander in as hulle reeds lank in ‘n tou staan, jy bestuur met ‘n huurmotor-mentaliteit, jy druk die hyser se knoppie ywerig om toe te gaan sodat daar tog nie nog iemand moet inklim wat jou sal ophou nie, jy beantwoord nie oproepe nie, jy vra nie die bejaarde bure of hulle iets van die winkels af nodig het nie, jy skinder saam, jy voel vere vir ander... 

Dit het tyd geword dat ons minder word sodat God meer kan word.  Lukas 13:30:  Onthou net:  Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees."

Thursday 24 May 2012

Saai in 'n voorbereide bedding

Om geestelik herbore te wees, laat jou inderdaad sing omdat jy so vol lof en dankbaarheid is.  Klein kindertjies leer van jongs af die liedjie:  “Dit borrel in my.”  Laat toe dat Jesus in jou borrel en sommer oorkook.  Moenie dweep nie, maar laat mense eerder die verandering in jou sien.  Van ‘n hopelose na ‘n oorwinnaar. 

As jy ander van Jesus vertel kan ‘n deel van jou boodskap verlore gaan omdat hulle nie regtig geinteresseerd is nie, maar wanneer hulle ‘n verandering in jou optrede teenoor hulle en jou naaste aanskou, hoe die liefde van God uit jou straal, dan kan dit hulle beweeg om jou te nader om uit te vind waar jy jou vreugde vandaan kry. 

Dan is dit soos om die saad te laat val in ‘n voorbereide bedding, eerder as om dit net bo-op onkruidbesaaide grond te strooi. Matteus 13 : 8 Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.

Wednesday 23 May 2012

Wat die hart van vol is

Wanneer jy tot bekering kom, het jy geen erg meer aan die wêreldse dinge nie.  Jou stryd teen rook, drank, dwelms, prostitusie, getroude mans/vrouens, vloek, dit voel skielik so ver van jou af.  Maar dit laat jou ook nederig voor jou groot God buig, want net Hy is in staat om jou sondes sover as wat die ooste van die weste is, te verwyder (Psalm 103 : 12).  Wow!  Net Hy kan jou skoon was, witter as sneeu, al was jy rooi soos skarlaken (Jesaja 1 : 18).  Amen! 

Wonderbaarlik begin ‘n vuur in jou binneste brand om ander van Hom te vertel.  Jy vind dat jy nie meer jou tong beheer nie, maar God.  Wat die hart van vol is, loop die mond letterlik van oor. 

Jy kan nie en mag nie stilbly oor die wonder van ware verlossing nie.

Tuesday 22 May 2012

Daar wag iets goed op jou om die volgende draai

Droom jy ook van jou groot kans?  Van die dag dat jy die lotto wen of wanneer jy bevordering gaan kry of van daardie werk waarvoor jy aansoek gedoen het. 

Droom jy dalk van jou aanstaande?  Van hoe hy of sy moet lyk en optree.  God het jou geseën met die vermoë om te droom, om te hoop.  Soms hoop en droom jy egter nie binne Sy wil nie.  Bly binne die Wil van God en vra voortdurend na Sy wil.  2 Kronieke 31 : 21  In alles wat hy onderneem het ter bevordering van die tempeldiens en die gehoorsaamheid aan wet en gebod, het hy met sy hele hart gevra na die wil van sy God, en daarom was hy voorspoedig.

Glo dat Hy die meetsnoere vir jou op lieflike plekke sal laat val.  Soos ‘n goeie gasheer, sit Hy net die beste vir jou voor.  Daar wag iets goed om die draai, as jy aan God se eendag glo.

Monday 21 May 2012

God sal jou bekwaam

God het ‘n baie onwillige Moses beveel om die Israeliete uit Egipte te lei na die beloofde land.  Moses het allerhande verskonings gehad, maar God het ‘n antwoord op elke verskoning gehad. 

Toe Moses uiteindelik sy troefkaart speel, dat hy hakkel (Eksodus 4 : 10), het God selfs iemand gegee wat namens hom sou praat. 

Die mooiste woorde wat ek al gehoor het is:  “God roep nie bekwame mense nie, Hy bekwaam diegene wat Hy roep.”  Hy neem jou letterlik by die hand en lei jou na die beloofde land, want Hy wil Sy beloftes aan jou waarmaak.  Wat ‘n dag sal dit nie wees nie!   Genesis 13 : 15  Die hele land wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag.

Sunday 20 May 2012

Selfsugtige begeertes

“As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.”  Sjoe, sommer baie reguit woorde in Jakobus 4 : 3 waarin daar ongelukkig beslis waarheid steek. 

Die mens is van nature selfsugtig.  Ons is soos bedorwe brokkies wat sal voorgee en mooi broodjies bak, net om ons sin te kry.  Dit is optrede wat teenoor ander mense mag werk, maar God ken ons beter as enigiemand anders en by Hom sal ons nie hond haaraf maak nie. 

Slegs opregtheid en ‘n eerlike hart, sal Hom oortuig van ons bedoeling.  Daarom moet ons sorg dat ons oop kaarte met Hom speel.  Ons moenie dink ons gaan nou so bietjie kruip totdat ons gekry het wat ons wil hê en dan sal ons maar weer voortgaan met ons ou manewales nie. 

Hy weet wat ons dink nog voor ons dit hardop aan onsself erken het.  Sy beloftes is egter daar vir elke mens.  Hy sal jou krag gee as jy Hom vra en op Hom wag.

Thursday 17 May 2012

Mag, krag en roem

Psalm 21 : 14  Laat u mag seëvier, Here, dan sal ons u krag besing en daaroor roem.

Wat verstaan jy onder die woord mag? 

Donald Trump is magtig.  Hy is skatryk, besit vele maatskappye en het duisende mense wat vir hom werk.  Hy is beroemd en hy het sy eie televisie program. 

Mugabe is ‘n magtige man.  Hy is die heerser van ‘n vrugbare land, Zimbabwe.  Hy hou die lot van derduisende mense in sy hande - mense van alle rasse.  Sommiges kom om van honger en ander vlug vir hul lewens as gevolg van sy mag.  

Hitler was seker een van die magtigste mans van sy tyd.  Hy kon duisendes van sy sienings oortuig en het op een stadium amper die hele Europa ingepalm.

Idi Amin was ‘n magtige diktator onder wie se beheer derduisende mense gemartel is. 

Barack Obama is president van die magtigste moondheid ter wêreld. 

God se almag is totaal en anders.  Sy mag beteken dat Hy omsien na Sy kinders, dat Hy hul liefhet, hul lei en vertroos en ondersteun.  Sy mag verander menselewens.  Sy mag versag die hardste hart.  Hy regeer met liefde.

Wednesday 16 May 2012

Daar is niemand soos Hy nie

1 Kronieke 17 : 20  Daar is niemand soos U nie, Here

Een van die grootste foute wat ‘n mens maak, is om God te vergelyk met mense of om van Hom optrede te verwag wat jy van mense verwag. 

Daar is niemand soos Hy nie.  Ons verstand is te beperk om Sy wonderbaarlikheid te verstaan, of om te begryp Hoe groot Hy is en hoe anders Hy is.  Hy meet nie met ‘n menslike maat nie. Nog minder oordeel Hy met ‘n menslike maatstaf.  Hy is uniek, wonderbare raadsman, sterke God. 

Hoe is dit moontlik dat Hy homself bemoei met sondaar mense?  Sy liefde vir die mens is onbegrensd.  Hy weën as een siel verlore gaan.   Daar is inderdaad niemand soos Hy nie.

Tuesday 15 May 2012

Wie dink jy is jy?

1 Kronieke 16 : 29  Prys die Here om die eer van sy Naam! Kom na Hom toe, bring vir Hom offers! Buig voor die Here by sy heilige verskyning;

Elke mens behoort elke dag daaraan te wy om Hom deurlopend te dank.  Jy behoort ‘n lewe van dankbaarheid te lei eerder as ‘n ewige gekla oor die kleinste dingetjie. 

As jou kind net met ‘n verkeerde maat deurmekaar raak, beleef jy dit as die einde van die wêreld.  Hoekom sien jy dit nie as ‘n geleentheid om te saai in Sy koninkryk nie?  As jy vasgevang sit in die verkeer, gee ander ‘n kans om voor jou in te ry en laat hul God in jou sien.  Wanneer ander kwaadpraat van ‘n kollega, vind iets goed oor daardie persoon wat jy kan noem eerder as om saam te praat. 

Inteendeel sien mens bedorwe brokkies wat ‘n “tantrum” gooi elke keer dat hul die geringste teëspoed beleef.  God help my mos nie, nou sal ek Hom nie dien nie.  Wie dink jy is jy? 

Wat het jy vandag gedoen om Sy genade te verdien?

Monday 14 May 2012

Jy is spesial, uniek

Efesiërs 1 : 7  Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God

Terwyl die hart bloed pomp deur jou are, is daar lewe.  Soos bloed, so is God vir jou – lewegewend.  As die hart nie meer bloed pomp nie, sterf jy. 

Hy het jou gemaak na Sy beeld.  Hy het asem in Adam geblaas en vir Adam ‘n vrou gemaak van sy ribbebeen.  Jy lewe as gevolg van God, in afhanklikheid van Hom, maar tog is jy ‘n individu. 

Elkeen van ons is uniek, met unieke persoonlikhede, karaktertrekke en uiterlike.  En jy is spesiaal, want Hy was tevrede nadat Hy jou gemaak het.  Nog voor jou geboorte, in die moederskoot, het Hy jou geken.  God het tyd spandeer met jou skepping. 

Is dit dan nie vanselfsprekend dat jy daarna sal strewe om hierdie God te verbly nie, deur Hom trots te maak op Sy skepsel nie?

Sunday 13 May 2012

God eerste

Ag jy die Here waardig?  Buig jy voor Hom, en slegs Hom, neer in aanbidding?  Nie net wanneer jy Kerk toe gaan nie, maar in gebed...enige tyd, enige plek  Staan jy vir Hom op by die braaivleisvuur, by die werk in die kafeteria, gedurende ‘n heftige debat tydens ‘n bestuursvergadering...?

Hy is God... Hy is die Koning van die Heelal.  Dalk is dit tyd dat jy by die engele leer en Hom eer en Sy Naam groot maak.  Jy moet dit van die dakke van geboue afskreeu.  Jy moet goed doen aan ander, sonder dat enigiemand daarvan weet. 

Jy moet siele vir Sy koninkryk werf.  Jy moet leef soos diensknegte van ‘n Waardige, Almagtige God.  God eerste, dan jy, nie andersom nie.  Openbaring 5 : 9  Toe sing hulle 'n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. 

Thursday 10 May 2012

'n Ruiker vir Mamma

Lukas 1 : 27  Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria.

Maria was Jesus se moeder.  God het ‘n maagd gekies om Hom in die wêreld te bring.  Sy lewe was tot op twaalf redelik normaal en Maria en Josef het Hom sekerlik ook met liefde oorlaai.  Daarom glo ek dat God ‘n spesiale liefde vir moeders het.

Ek kan my net indink hoe Maria se moederhart geweën het toe Jesus gekruisig is.  God ag ouers so belangrik dat Hy in Sy wet vir jou ‘n reël neerlê:  “Eer jou vader en jou moeder”.  Betoon jy liefde aan jou ouers? 

Besoek jy jou ouers gereeld?  Help jy hulle waar en wanneer jy kan?  As hulle van jou afhanklik is, herinner jy hul op ‘n vernederende manier daaraan of sien jy dit as ‘n liefdestaak om vir hul te sorg?  Moenie te laat agterkom hoe kosbaar hulle is nie. 

Gee die medaljes / pennings / blomme terwyl hul nog leef.

Wednesday 9 May 2012

In en deel van die wêreld

Soms voel dit asof die lewe een lang stryd is.  Daar bestaan ongelukkig ‘n wanpersepsie by sommiges dat dit met jou sal goed gaan as jy tot bekering kom. 
God het nooit ‘n gemaklike lewe vir Christene beloof nie.  Die enigste versekering is dat Hy daar sal wees deur daardie donker tye.  Dit beteken egter nie dat jy agteroor kan sit en God sal voorsien en beskerm nie.  Jy moet steeds werk, net soos ‘n nie-christen.  Jy moet steeds jou eiendom beveilig en versekering uitneem.  En jy moet jou naaste dien dan sal Jesaja 58 : 10 jou werklikheid word:  as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.
As Christen leef jy nie in ‘n Christen-alleenlik alles-is-honkiedorieland nie.  Jy is deel van die wêreld.

Tuesday 8 May 2012

Daar is 'n Hemel

Openb 21 : 4  God sal al die trane van hul oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie.

Daar is min mense wat nie bang is vir die dood nie.  As Christen weet jy dat jy hemel toe gaan, huis toe, na jou Hemelse Vader.  Jy behoort daarna uit te sien met verlange in jou hart.  Dit is nie die eerste prys nie, dit is die enigste prys waarna jy moet streef.  Dit is waar daar geen trane en swoeg en sweet meer sal wees nie. 

Op aarde is dit ‘n stryd om oorlewing en versoekings wat jy daagliks moet systap.  Hier kan jy niemand vertrou nie, niemand gun ‘n ander enigiets nie.  In die hemel is dit alles verby.  Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam (Openb 19 :9).  Daar sal ‘n nuwe hemel wees, ‘n nuwe Jerusalem.

Monday 7 May 2012

Die Here is my Herder

Psalm 23 

As kind het jy die woorde van hierdie Psalm gememoriseer.  Dit het ‘n troos-Psalm geword, ‘n bevestiging dat God goeie dinge vir jou verlang en altyd daar sal wees, selfs tot in die dal van doodskaduwee.  ‘n Belofte van Sy voorsiening, te alle tye, van Sy goedheid en trou. 

Musikale verwerkings hou die Psalm lewendig en relevant en die sussende klanke van musiek onderstreep die woorde, een vir een.  God is teenwoordig in al die fasette van jou lewe.  Hy is soos ‘n oorywerige, betrokke, ouer. 

Wat meer kan enige Kind van God verlang as die vrede wat Hy beloof in hierdie Psalm?

Sunday 6 May 2012

'n Albaste flessie

Lukas 7 : 37  'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie

In vers 47 sê Jesus vir haar:  “Jou sondes is vergewe.” Die Fariseer kon nie verstaan dat Jesus hierdie vrou toegelaat het naby Hom nie.  Volgens hulle was Sy ‘n sondaar en Hy nie veronderstel om met haar te meng nie, maar Jesus het gekyk na haar optrede.  Hy het gesien dat sy Sy voete met haar trane gewas het en met haar hare afgedroog het, vir Hom water gegee het, Sy voete gesalf het en die Fariseer het niks gedoen nie.   Jesus meet nie met dieselfde maat waarmee jy en ek meet nie.    

Thursday 3 May 2012

Wanneer probleme nietig en klein lyk

Wanneer die lewe jou in ‘n wurggreep beetkry, rig jou oë op God.  Wanneer jy in Sy wonderbare gesig kyk, sal die probleme ewe skielik nietig en klein lyk in die aangesig van sy glorie en genade. 

God is verhewe bo daaglikse beuselagtighede en probleme, maar Hy is nie onsimpatiek of uit voeling met dit wat jy deurmaak nie.  Soms dink jy dat jy God net met die groot dinge kan pla en liewer die klein goedjies self moet uitsorteer.  Dis verkeerd.  Hy wil daar wees wanneer jy jou toon stamp of wanneer jy ‘n been breek, tydens jou algemene ondersoek of ‘n opehart operasie.  Psalm 142 : 3  ek stort my klag voor Hom uit en vertel Hom van my nood.  

Net soos wat Hy daar wil wees as jy die geur van ‘n blom inadem, wil Hy ook daar wees as jy jou eersteling se geboorte ervaar.  Hy wil elke oomblik deel van jou lewe wees.  Laat Hom toe. 

Wednesday 2 May 2012

Hy leef!

Matteus 28 : 2  Skielik was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit.

Soos ‘n crescendo, bereik jy die hoogtepunt van die Bybel wanneer jy lees dat die graf leeg is.  So word die Woord vervul, dat God Sy Seun sou stuur, dat Hy sou sterf en op die derde dag weer opstaan uit die dood. 

Dit is tog onmoontlik vir ‘n mens om uit die dood op te staan?  Jesus Christus is wel gebore as 'n mens, maar as die Seun van God het Hy die dood oorwin.  Dit is die klinkklare bewys dat jy ‘n Lewende God dien.  Daarom kan jy jubel en juig, want Hy leef en sit aan die regterhand van God waar Hy vir jou intree.  Kom bely saam... Ek glo aan ‘n drie-enige God... Vader, Seun en Heilige Gees.

Tuesday 1 May 2012

Om meer en meer soos God te wees

Om God te ken, bring ‘n seker wete dat jy aan Hom verbind is.  Jy is Sy kind, en Hy jou goddelike Vader.  Dit is jou plig om daagliks jou Bybel te lees en in jou Bybelstudie na Sy Wil in jou lewe te vra.  Sodoende groei jy al nader en nader aan Hom en soos ‘n kind die gewoontes van sy ouers aanleer, sal jy dan al meer en meer soos Hy word. 

Dan sal jy ook wil goed doen aan ander Hand 20 : 35 Hy het self gesê: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang, jy sal ook diegene wil help wat nie hulself kan help nie, jy sal vrede bewerkstellig, jy sal ander vergewe, jy sal nie kwaad met kwaad vergeld nie, maar die ander wang draai.  Dit sal jou intense begeerte word dat ander mense Jesus se liefde in jou sal aanskou en ervaar.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...