Sunday 30 September 2012

Sy arms is altyd onder jou

Wanneer jy daar op ‘n hopie sit en jou hart uitsnik en dink niemand verstaan waardeur jy op hierdie oomblik gaan nie;  niemand het nog ooit so seer gehad soos jy op hierdie oomblik nie, is dit moeilik om God se nabyheid te ervaar, want jy kan nie sien hoe jy hierdeur gaan kom nie. 

Dit is alles menslike gevoelens en dit is hoe God ons gemaak het.  Laat hierdie emosies toe om hul uit te woed, maar voel ook die Here se arms om jou. Deuteronomium 33 : 27  Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.  Hy voel saam met jou. 

God gil of skree nooit nie.  Hy fluister en partykeer moet jy mooi luister, want Hy fluister wanneer jy dit die minste verwag.  Hou aan bid.  Lees jou Bybel.  Werk aan jou verhouding met Hom en jy sal Sy stem hoor.  Jy sal Sy krag ervaar om aan te gaan en dit te verwerk wat jy nooit gedink het jy in staat sal wees om te verwerk nie. 

Jy gaan selfs eendag ‘n punt bereik om terug te kyk en die positiewe uitwerking te sien wat hierdie ervaring op jou menswees gehad het.

Thursday 27 September 2012

Hoe goed ken God jou?

Openbaring 3:8 belowe God verder:  Ek ken jou handel en jou wandel… 

Hy ken jou so goed dat hy presies weet wat jy nou doen, wat jy beplan, en wat die toekoms vir jou inhou.  Hy ken elke tree wat jou voete gee.  Hy ken jou beter as wat jy jouself ken.

Dis bevrydend.  Jy hoef nie een oomblik voor te gee nie.  Jy hoef nie die storie ‘n rooskleurige kleurtjie te gee nie.  Hy ken selfs jou gedagtes:  Psalm 139 : 2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

Wednesday 26 September 2012

V-formasie

Deuteronomium 28:54  Selfs die sagste en mees verfynde man by jou sal niks omgee vir sy broer of sy lieflingvrou of sy kind wat nog lewe nie.
Jy moes sekerlik al opgelet het hoe voëls in V-formasie vlieg.  Dis altyd ‘n skouspel en laat my in verwondering na hul staar. 

Hierdie aerodinamiese V-vorm, verminder die lugweerstand en sodoende kan die voëls tot 70% verder vlieg.  Wanneer hul so in gelid vlieg, is dit nie noodwendig die leier wat voor vlieg nie.  Hulle maak beurte om voor te vlieg, want die voorste voël moet die hardste werk.  Sodra hy moeg word, gee hy ‘n indikasie aan die ander en een van die wat agter hom is val in sy plek in.  Hy val terug tot heel agter waar hy kan ‘rus’ terwyl hul voortgaan.  Terwyl hul so in formasie vlieg, kan hul ook mekaar sien en met mekaar kommunikeer.

Ons kan regtig by die voëls gaan leer hoe om mekaar te ondersteun.  Kom ons, as gelowiges, vlieg in formasie sodat ons kan oplet as iemand ‘moeg’ raak.  Kom ons kyk bietjie uit vir mekaar.  Omgee en opstaan vir 'n medemens het 'n skaars kommoditeit geword in 'n wêreld van eie-belang en self gesentreerdheid.

Almal kry swaar, maar dalk staan ek en jy nog nie by 'n robot en bedel nie.  Maak dit ons beter as hul wat op 'n sylyn van die lewe beland het?  Ons het nog nie in daardie persoon se skoene gestaan nie, so ons kan nie oordeel nie.  Wie weet hoe moeilik dit vir hom/haar is?  Miskien het ons nog 'n snytjie brood om vir so iemand te gee.  Dalk kan ons net van ons tyd vir iemand gee...Dalk kan ons net 'n bietjie meer verdraagsaam teenoor ander wees...

Tuesday 25 September 2012

Onverstaanbare liefde

Die feit dat jy as mens totaal onthef is van alle skuld sodra jy Hom as jou Verlosser en Saligmaker aanvaar, is niks anders as onbeskryflike groot genade nie.  Boonop het Hy dit om net een rede gedoen;  omdat Hy jou so onverstaanbaar baie lief het. 

Die feit dat jy in die tronk sit vir gewapende roof, of dat jy aan dobbel verslaaf is, of dat jy jou buurdogter skelm afloer, of dat jy jou vriendin se man begeer, of dat jy skelm rook, of dat jy vloek, ens, ens, ens maak eenvoudig nie aan Hom saak nie. 

Die oomblik dat jy jou sondes bely en om vergifnis vra, en met jou hele hart glo dat jy vergifnis ontvang, het Hy jou reeds vergewe.  Ja, dit is moeilik om te glo, want jy sukkel dan self om ander te vergewe.  God sê eenvoudig dat jou sondes jou vergewe is.  Punt.  Lukas 5 : 20  Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: "Mens, jou sondes is jou vergewe.  

Nie net vergewe, maar ook vergete.  Hy gaan dit nooit weer voor jou kop gooi nie en Hy gaan jou help om nie weer in die sonde terug te val nie, solank as jy aan Sy voete bly kniel.  Genade onbeskryflik groot!

Monday 24 September 2012

Die merke aan Sy hande


Van die kruis het hulle Jesus na die graf geneem, van die graf het Hy ontwaak, aan verskeie mense verskyn en uiteindelik opgevaar na die Hemel.  Hy het spesiaal na die aarde gekom om ons te leer en vir ons die korrekte weg aan te dui. 

As Christen kan jy nooit moeg raak vir hierdie wonderbaarlike boodskap nie.  Dit is die rede hoekom jy Sy naam verhef en die genadige verlossing aanvaar wat Hy daarmee aan jou nagelaat het.  Jesus het verskeie wonderwerke gedoen tydens sy leeftyd, maar die grootste wonderwerk van alle wonderwerke was nie ‘n wonderwerk nie, dit was die naakte waarheid waarmee mense gesukkel het om vrede te maak. 

Dis tog ongehoord dat iemand uit die dood opstaan.  Jesus moes hulle selfs toelaat om die gate in Sy hande en voete te voel.  Johannes 20 : 25  Die ander dissipels sê toe vir hom: "Ons het die Here gesien!" Maar hy sê vir hulle: "As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. Glo jy dit... soos 'n kind glo, sonder voorbehoud of bewys?

Thursday 20 September 2012

Een dag in die huis van die Here

Een dag in die huis van die Here is beter as ‘n duisend elders.  Die kerk is die huis van die Here.  Dit is die tempel waar jy gaan om Hom te aanbid.  Hy het die Sabbatdag as gereelde rusdag ingestel en daarom is dit belangrik dat jy Sy gebod eerbiedig;  dat jy die Sabbatdag moet heilig hou.  Eksodus 20 : 9 Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God.  Dan mag jy geen werk doen nie... 

God voel so ernstig daaroor dat Hy dit jare gelede alreeds vir Moses as een van die Tien Gebooie gegee het.  Wanneer jy Sondag in die Kerk was, kry jy weer rigting, word jy weer herinner aan wat reg en verkeerd is.  Jou siel word gevoed en die seën word oor jou uitgespreek. 

God spreek ook direk tot jou d.m.v. die prediker wat aan jou die boodskap uit Sy Woord bring en ook uiteindelik die seën oor jou uitspreek.

En as jy bedlêend is en nie kan kerk toe gaan nie... ook dan kan een dag spesiaal aan Hom gewy word of jy kan na 'n boodskap oor die radio luister, maar een dag behoort aan God alleen.

Wednesday 19 September 2012

Voetspore

VOETSPORE
Oorsprong onbekend


Een nag het ek ’n droom gehad.
Ek het gedroom dat ek op die strand loop
en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel.
In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien:
myne en die Here Jesus s’n.
Toe die laaste toneel voor my afspeel‚
het ek teruggekyk na die voetspore in die sand
en merk toe op dat daar soms net een ry spore was.
Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewigste tye in my lewe!
Dit het my gehinder en ek het gevra:
“Here‚ toe ek begin het om U te volg‚
het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie.
Hoekom was daar dan net een ry spore
gedurende daardie moeilike tye in my lewe?
Ek kan nie verstaan waarom U‚
in die tye wat ek dit die nodigste gehad het‚ my verlaat het nie.”
Die Here het geantwoord: “My liewe kind!
Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie.
Die tye wat jy net een ry spore gesien het
was die tye toe Ek jou gedra het.”

Tuesday 18 September 2012

Lof & Dank

1 Kronieke 23 : 30  Hulle moes ook elke môre hulle plek inneem vir die dank en lof aan die Here, en so ook saans.

Jou hele lewe behoort een van danksegging te wees. 

  • Dankie vir my ouers, gesin, familie, vriend(in). 
  • Dankie vir my huis, werk, kos en klere. 
  • Dankie vir my oë, ore, verstand, dat ek kan loop. 
  • Dankie dat ek aan ‘n kerk kan behoort;  sonder die vrees van vervolging kan bid. 
  • Dankie dat ek na ‘n Christelike Radiostasie kan luister. 
  • Dankie dat U aan die kruis vir my sondes gesterf het. 
  • Dankie dat ons in ‘n land leef waar ons nie mortiere en koeëls om ons sien vlieg wat alles rondom ons platvee nie. 
  • Dankie dat Suid-Afrika ‘n vrye oorgang tot demokrasie gehad het. 
  • Dankie dat ek skool of universiteit kan bywoon, dat ek kan lees. 
  • Dankie vir die natuurskoon, die sproei van ‘n brander, die reuk van ‘n roos, die sonsondergang, die môrestond.  
  • Dankie vir tegnologie...

En selfs al het jy ‘n gebrek, selfs al het jy nie ‘n werk nie, selfs al woon jy in ‘n plakkerskamp, selfs al besit jy niks, is daar altyd rede om dankbaar te wees. 

Monday 17 September 2012

Op reis

Om ‘n reis na die onbekende aan te pak, het jy ‘n goeie kaart (deesdae 'n GPS) nodig, want soos ons almal weet,  sonder behoorlike aanwysings, verdwaal jy sommer een, twee, drie.  Jou hele lewe is jare gelede reeds vooraf beplan en gekaart. 

God is die kompas – hou jou oog na Bo (noord). Hoekom strompel jy so gefrustreerd deur die lewe?  Gefrustreer deur ‘n ewige gesukkel, gaan jy kort voor lank voel asof alles wat jy aanraak, misluk of verkeerd loop.  Mettertyd sal dit voel asof jy niks kan regdoen nie en asof jy altyd in die moeilikheid is - of nog erger, stroom-op swem. 

Jou stryd is so onnodig.  Al wat jy hoef te doen, is om God te vra om jou die pad te wys wat Hy vir jou beplan het.  Psalms 25 : 1 Tot U, Here, rig ek my.  Nie net gaan Hy jou die pad wys nie, Hy gaan elke tree daarvan saam met jou stap en met tye voor jou uit stap.  Wanneer jy terugkyk, sal jy ook sien dat daar tye is dat daar net een ry voetspore is omdat dit tye is dat Hy jou gedra het.

Sunday 16 September 2012

Vergewe en vergeet


Psalm 118:8 Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou...

Hoe voel jy oor jou medemens?  Is daar van hulle wat jou teleurgestel het?  Dalk is jy wantrouig as gevolg van mense wat jou gekul het of dalk is jy ‘n slagoffer van ‘n gemene skelmstreek. 

Ons is naief en met tye bevraagteken ons, ons mensekennis - dalk met goeie reg.  Diegene wat nie eerbare bedoelings het nie, lyk net soos enigiemand anders.  Soms is ons instink reg en soms laat dit ons in die steek, of dalk is die bedrieer net uiters goed.  Hoe dit ook al sy, ons gaan ons misgis en ons gaan teleurgestel word, want die mens is nie perfek nie en daar is diegene wat nie eerbaar is nie.

Ons kan egter by die Here gaan skuiling soek en Hom vra om ons te lei.  Moenie toelaat dat die hartseer van die lewe jou van God vervreem nie.  Hy weet presies wat aangaan en op Sy tyd sal Hy die nodige straf uitdeel.  Die wraak kom ons ongelukkig nie toe nie en al sien ons nooit dat die persoon gestraf word nie, is daar geen rede om haatdraend te bly nie.  Vergewe en vergeet, want hy of sy is beslis nie die pyn werd waardeur jy tans gaan nie.

Thursday 13 September 2012

God is trots op jou

Elke dag wat jy jou oë oopmaak, kan jy God dank dat jy Sy kind is.  Deuteronomium 8 : 10  Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het. 

As kind van die Koning van die heelal, is jy ‘n prins(es), want jou pa is die koning.  Dit is ‘n wonderwerk.  Jy mag dus nie jou eie waarde geringskat nie.  Maak nie saak hoeveel mislukkings jy al in die lewe beleef het nie.  Of jy nou sukkel met verhoudings, of om ‘n werk te vind of behou, of jy nie van jou verslawing kan loskom... Hy sien jou as ‘n wenner.  Hy het genoeg vertroue in jou om in jou te glo omdat Hy weet waartoe jy in staat is. 

Soos ‘n ouer net die beste vir sy kind wil hê, so wil God net die beste vir jou hê.  Jy is SO spesiaal in Sy oë.  As Hy na jou kyk, is dit met oë vol liefde en trots.  Tel jou kop op begin glo in jouself, want Hy reken klaar jy’s perfek.  

Wednesday 12 September 2012

Die gevaar van sukses

Deuteronomium 8 : 11  Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet deurdat jy nie gehoorsaam is aan sy gebooie en bepalings en voorskrifte wat ek jou vandag gee nie.

Alexandr Solzhenitsyn sê dat hy leer bid het in die Siberiese konsentrasiekamp omdat hy geen ander hoop gehad het nie.  Voor hy gevange geneem is, toe dit met hom goed gegaan het, het hy selde aan God gedink wat nog te sê met Hom gepraat. 

Soortgelyk het die Israeliete ook in die Sinai wilderness geleer wat dit beteken om op God te vertrou vir hul daaglikse brood. 

Sukses kan maak dat jy nie tyd vir bid of Bybel lees het nie, wat nog te sê om gehaltetyd met God te geniet.  God hou genadiglik nie boek en weier om jou te help as jy bietjie afgedwaal het nie.  Hy is steeds lief vir jou.  Hy kyk nie na Sy swartboekie en sien dat jy lanklaas in die kerk was en nou gaan Hy jou nie help nie.  God is altyd dieselfde - hy kan nie haat nie, want Hy is 'n God van liefde. 

Kom ons wend 'n daadwerklike poging aan om God te ken in die goeie sowel as die slegte tye. 

Tuesday 11 September 2012

Wat sal mense van jou onthou?

Hoe sal mense jou onthou? Hebreërs 13 : 6  Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is. As jy môre sterf en iemand praat oor twee jaar van jou, wat sal hulle van jou onthou? 

Jy kan niks saamneem as jy sterf nie, maar jy kan ‘n erfenis nalaat.  As jy iemand na die Here gelei het, sal hulle jou altyd onthou.  As jy ‘n verlore mens hoop gegee het, sal hulle jou onthou.  Jy kan iemand ‘n Bybel gee wat dit nie kan bekostig nie.  Jy kan iemand leer lees wat nie in staat is nie.  Daar is vele dinge wat jy kan doen om ‘n nalatenskap te verseker sodat mense sal onthou wat jy agtergelaat het eerder as wat jy sou kon saamneem. 

Ons kan nie almal president van ‘n land word nie, maar ons kan almal siele vir God wen of selfs net saad in Sy koninkryk saai.

Monday 10 September 2012

Dankie Here

Dankie Here, 'n geestelike lied gesing deur Natasha Joubert
Elke ding wat ons van die lewe kan begeer, kom van die Here.  Dankie Here, vir ‘n wysie en ‘n woord..., dankie Here vir die vreugde wat dit bring, mag elke noot wat mense hoor, hulle hart en siel bekoor, laat die eer aan U behoort...

Alhoewel dit dikwels die wysie is wat ons aandag trek, kan daar groot inspirasie geput word uit die lirieke.  So word daar met elke geestelike lied ‘n boodskap van bemoediging uitgedra.  Dis ook verblydend om te sien wanneer ‘n sanger nie net erkenning aan God gee vir die woorde en musiek nie, maar ook sy/haar afhanklikheid van Hom besef. 

Natasha besef deeglik die krag wat daar in ‘n liedjie opgesluit is en sy hoop dat mense daardeur geraak sal word, maar meer nog, dat alle eer aan Hom behoort wat haar die talent gegee het.  Met hierdie lied word jy aan die wonder daarvan herinner, en ook dat elke ding wat jy begeer, uit Sy hande kom. Prediker 2 : 24 Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n gawe uit die hand van God is.

Sunday 9 September 2012

Genade


Die woordjie genade kom die eerste keer in Genesis 42 : 21 voor toe Josef se broers besef het dat hulle na hom moes geluister het toe hy hulle om genade gesmeek het. 

Elkeen van ons kan terugkyk op ‘n kronkelpad lewe.  Die paadjie lyk dalk kronkelrig omdat jy onseker was, onseker oor waarheen jy op pad is.  Jy’t afdraaipaadjies geneem omdat jy alles wou ondersoek.  Soms was dit wêreldse verleiding, soms net op soek na ‘n kort-pad. 

Daar is geen kortpad na God nie.  As jy die ewige lewe wil beërwe, moet jy die smal pad loop.  Tog het Hy jou elke keer kom haal as jy afgedwaal het, omdat Sy liefde en genade vir jou so onbegrens is.  Hy wil nie dat een persoon verlore gaan nie. Genadiglik is Hy altyd daar.

Thursday 6 September 2012

Jesus vertel stories

Wanneer Jesus skares toegespreek het, het hulle in stilte na Hom geluister.  Hy het tussen gewone mense beweeg en in gewone taal, soms deur stories (gelykenisse) waarmee mense kon vereenselwig, ‘n boodskap van hoop oorgedra. 

Matteus 13 : 13 Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie.   

Mense sou Hom volg, waar Hy ook al gegaan het.  Saggeus het in ‘n boom geklim om Hom te kan sien.  Die blinde man wou net Sy kleed aanraak.  ‘n Vrou wat aan bloedvloeiing gely het, wou net aan die soom van Sy klere raak. 

Hy het gepraat soos geen ander man voor Hom of na Hom.  Vandag nog, hang ons aan Sy woorde.  Hy was nie skaam om baie reguit te praat nie.  Wanneer ander geoordeel het, het Hy hulle uitgedaag om die eerste klip te gooi.  Wanneer hulle Hom wou vasvra oor die sabbat het Hy hulle beskaamd agtergelaat. 

Wednesday 5 September 2012

'n Instelling van God

Wanneer jy met getroudes gesels, kom jy agter dat daar baie min werklik, gelukkige huwelike is.  Die egskeidingsyfer in Suid-Afrika is sprekend daarvan.  Om alles te kroon, leef ons in ‘n wêreld waar ons eenvoudig iets weggooi en ‘n ander een koop, die dae van skoene hersool of horlosies laat regmaak, is verby. 

Ongelukkig word menige huweliksbelofte ook oor dieselfde kam geskeer.  Ons skei sommer gou, ontmoet iemand anders en trou weer.  Enige huwelik kan gered word, as ons die probleme en hartseer in God se hande plaas en Hom vra om ons te help om ‘n nuwe toekoms te bou. 

As jy dit oorweeg om op te gee met jou huwelik, wil ek jou vandag uitdaag om God ‘n kans te gee om te red wat jy en jou eggenoot en die huweliksberader tot nou toe nie kon regkry nie.  Daar is nog tyd.  Die huwelik is God se instelling en hy haat egskeiding. Malegi 2 : 16  Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

Tuesday 4 September 2012

Arendsvlerke

Jesaja 40 : 31  maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie

Hoe wens ek nie dat ek jou kan verseker dat al jou probleme op ‘n einde sal wees as jy tot bekering kom nie.  Sou dit nie fantasties wees as bekering al jou probleme soos mis voor die son laat verdwyn nie? 

Dit is ongelukkig nie so nie, want God koop niemand om nie.  Nêrens in die Bybel sal jy so ‘n belofte vind nie.  Die belofte wat daar wel gemaak word, is dat God die pad saam met jou sal stap.  Keer op keer herhaal Hy hierdie belofte in die Bybel.  Daar sal moeilike tye kom, maar wanneer jy by die afgrond kom, sal daar een van twee dinge gebeur.  God gaan jou of vang as jy val, of hy gaan jou vlerke gee. 

Monday 3 September 2012

Rykdom vs Armoede

Spreuke 17 : 1 Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby.

As rykdom ware geluk kon koop, hoekom besoek soveel beroemdes klinieke vir depressie en middel misbruik?  Hoekom is die selfmoordsyfer so hoog onder lotto wenners?  As geld op sigself geluk bring, hoekom soek soveel rykes steeds daarna?  Hoekom is hul nie tevrede met die eerste of tweede miljoen nie?

Mense praat dikwels met groot deernis oor hul swaarkry dae.  Swaarkry vervaag met tyd, maar die emosies en kameraadskap wat jy gedurende daardie tye ervaar, bly met jou vir ‘n leeftyd.  Dit bind diegene wat saam daardeur gaan vir altyd saam.  Met diepe introspeksie en eerlikheid moet jy tog erken dat dit jare is waarna jy selfs terugverlang. 

Om uit te styg bo jou omstandighede, is verseker iets om op trots te wees, maar as jy nie geluk of vrede daarmee saam ervaar nie, moet jy jouself afvra of dit die moeite werd is.  Wat is die prys?  Op die ou end kan jy immers niks saamneem nie.  Menige welvarende persoon wat aan ‘n ongeneeslike siekte ly, het al gesê dat hul hul laaste sent sal gee om net weer gesond te kan wees.

Sunday 2 September 2012

Lig van die Lewe


1 Joh 1 : 4  In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense.  Die lig skyn in die duisternis, ie duisternis kon dit nie uitdoof nie.

Jesus Christus is die Lig wat lewe in ‘n donker wêreld gebring het.  Hy het die duisternis kom uitdoof.  Deur Sy kruisiging, het Hy redding gebring.  Jy hoef nie meer die duisternis te vrees nie. 

As die son sou ophou skyn, sal alles op die aarde vries en uiteindelik tot niet gaan.  Jy weet self hoe welkom ‘n sonkolletjie is op ‘n koue wintersdag. 

Party mense is bang vir die donkerte.  Donkerte bevat ‘n element van onsekerheid en gevaar.  Wanneer Jesus as die Lig van die lewe hierdie duisternis uitdoof, bring dit vir jou lewe, hitte, sekerheid, veiligheid en soveel meer.
                

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...