Wednesday 31 October 2012

God of mammon

Lukas 16 : 13  Julle kan nie God én Mammon dien nie."

Geld kan ‘n afgod word.  Hansie Cronje het sy liefde vir geld erken en ons weet dat hierdie liefde uiteindelik verantwoordelik was vir sy val.  Van mees suksesvolle krieketkaptein van alle tye, het hy geval tot waar hy bely het dat hy geld van beroepswedders aanvaar en in ruil daarvoor sekere wedstryde “gekook” het.  Hy het alles verloor, maar met sy val, het hy ook sy sonde bely;   is hy dus vergewe. 

Jesus het ook gesê dat dit makliker vir ‘n kameel is om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryk man om in die hemel te kom.  Die rede hiervoor is dat jy dit wat geld kan koop, belangriker kan ag as wat jy God ag.  As kind van God, met die Gees binne jou, sal jy nooit ’n slaaf van die geldgod / vleeslikheid wees nie.  Jy sal jou geld gebruik om Sy koninkryk uit te bou eerder as om jouself met weelde te omring.

Tuesday 30 October 2012

Omgee

Lukas 10 : 33  ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.
“Wat word van die wêreld?” hoor ons dikwels.  Mense gee bitter min om vir ander.  Barmhartigheid is iets waarvan ons nog net in die Bybel lees.  Die egosentisme van sommige mense is verstommend.  Die lewe draai net om hulle.  Me, me, me…  Hulle is die as waarom hul eie wêreldjie draai. 

Hoeveel van ons dink aan ons bure… aan die persoon wat daar by die robot staan en bedel… die skamel geklede kind met sy paar sente in sy hand voor jou by die betaalpunt… diegene wat deur herstrukturering hul werk verloor… aan die eensaamheid in ‘n ouetehuis… aan diegene in hospitaalbeddens…

Dalk is dit nodig dat ons ‘n slag dink oor ons beeld, die prentjie wat diegene in die vorige paragraaf het wanneer ons hul paaie kruis.  Voel hul seergemaak of verryk wanneer ons wegstap?  Gaan hul ons onthou as die barmhartige samaritaan of as ‘n hartvogtige, selfsugtige persoon wat hul hopelik nooit weer hoef te sien nie?

Compassion can help you get perspective and move you to do great things…” ~ Soul Surfer  Wat is jou nalatenskap?

Monday 29 October 2012

Nog 'n drankie?

2 Kor 10 : 13  Ons bly binne die perke van die werkkring wat God aan ons toegemeet het. Julle val ook binne daardie perke.

Party mense sal enige verskoning vind om hulself aan drank oor te gee.  "Ek het net iets nodig om my te laat vergeet"...  "Jy het nie ‘n idee hoeveel stress ek op kantoor het nie"...  "‘n Drankie laat my onmiddellik ontspan"... "Ek kan my drank vat"...  "Ek benadeel niemand deur in my huis te sit en ‘n drankie te geniet nie"...  "Ek is nie bakleierig as ek drink nie, eerder net in ‘n vrolike bui"... 

Wie probeer jy flous?  Jy het ‘n probleem.  Kyk jou probleme in die oë en los jou fopspeen.  Drank het ‘n kruk vir jou geword. 

Jesus het nie ‘n probleem met drank gehad nie.  Toe die wyn by die bruilof opgeraak het, het Hy water in wyn verander.  Het Jesus elke dag gedrink?  Het Hy drank misbruik?   Alles binne perke.  Vir elke ding is daar ‘n tyd.  As daardie tye egter ‘n gewoonte word moet jy rooi ligte sien flikker.

Sunday 28 October 2012

Nee!

Psalm 27:14  Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!
I am thankful to all those who said NO to me.  It’s because of them I did it myself – Einstein
Meeste van ons ken die woordjie ‘nee’ maar te goed omdat ons dit al meer male moes aanhoor as wat goed is vir ons.

Dalk voel jy dat deure oral vir jou toegaan.  Jy doen aansoek vir werk, maar hulle laat nie eens weet dat jou aansoek onsuksesvol was nie.  Dalk het ‘n verhouding misluk en vind jy dit moeilik dat hy/sy nie meer vir jou lief is nie.  Dalk wou jy ‘n motor of huis koop, maar iemand anders het dit voor jou weggeraap.

Einstein het ‘n heel ander perspektief op die negatiwiteit wat ons normaalweg aan die woord koppel.  Dis maklik om negatief te raak as jy konstant verwerp word, maar dit kan ook ‘n positiewe gevolg hê.  Die feit dat jou werksaansoeke nie suksesvol is nie, dui moontlik daarop dat jy jou eie besigheid moet begin.  Die verhouding wat tot ‘n einde gekom het, is heelwaarskynlik ‘n bedekte seën.  Die huis of motor het dalk gebreke gehad waarvan jy nie bewus was nie.

Neem vandag beheer oor jou toekoms en bedank diegene wat die katalisators is vir jou toekomstige sukses.  Elke nee, is nog 'n stappie nader aan sukses.

Thursday 25 October 2012

Harde Werk

Genesis 3 : 19:  In die die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem…

‘n Kollega het eendag spottenderwys gesê:  “Harde werk het nog nooit enigiemand doodgemaak nie, maar ek vat nie kanse nie.” 

Inderdaad, hoekom hard werk as daar kortpaaie is?   Daar is diegene wat eenvoudig in ‘n top-posisie instap, sonder enige ervaring of vermoëns, maar hoe kan jy trots wees op jou sukses as jy dit nie deur harde werk, op jou eentjie, met sweet, opoffering en deursettingsvermoë, bereik het nie?  Niemand het respek vir iemand wat ‘bevorder’ is om van die probleem ontslae te raak of a.g.v. ander in ‘n posisie beland nie.

Moenie jou integriteit prysgee nie.  Maak seker jy kan eendag wanneer jy die hoogste sport van die suksesleer bereik het met ‘n oop gemoed terugkyk op die pad wat jou daarheen gelei het terwyl jy die soet smaak van sukses waardeer;  dat jy nie met berou sal terugkyk op hulle wat jy vertrap het op pad boontoe nie.  'n Mens moet versigtig trap, want jy mag hul dalk teëkom op jou pad terug.

“The only place where success comes before work, is in the dictionary” – Vidal Sassoon

Wednesday 24 October 2012

Eendag


2 Petrus 3 : 8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

As jy na party mense kyk, sal jy dink hulle is besig om tronkstraf op aarde uit te dien, eerder as om die voorreg van lewe te geniet.  Lang gesigte en leë oë sien jy oral.

God wil regtig hê dat ons die lewe moet geniet.  Hy het geen probleem daarmee dat jy die lewe geniet nie.  Om die lewe te geniet, beteken nie dat jy losbandig is nie.  Jy kan binne God se wil leef en steeds grenslose vreugde daarin vind. 

Moenie eendag op jou sterfbed lê en wens dat jy sommige dinge nog wou doen nie.  Benut elke dag, want die tyd vlieg verby.  Jy kan eerder eendag jammer wees oor jou rugbybeserings as wat jy jammer is dat jy nie tog maar probeer het om die eerste span te haal nie. 

So baie mense leef vir eendag terwyl vandag verbysnel.

Tuesday 23 October 2012

Span kragte saam

Matteus 18 : 20 want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is ek by hulle.

Moet nooit die krag van gebed onderskat nie.  Jesus moedig dit ook aan dat ons saam bid. 

As jy deur moeilike tye gaan en jy kom wysheid kort, vra ‘n paar vriende en/of vriendinne om saam met jou te bid.   Jy kan verseker wees dat jy nie net wysheid sal ontvang nie, maar ook ‘n duidelike aanduiding sodat jy die regte besluit kan neem. 

Om twee perde voor ‘n kar in te span, maak die las op albei perde ligter.  Net so word gedeelde leed, gehalveer en gedeelde vreugde, word dubbele vreugde. 

Laat jou mede-gelowige vriende/vriendinne deel in jou diepste nood, maar ook in jou uitbundige, vreugdevolle, oomblikke. 

Monday 22 October 2012

'n Mooi gebed vir besige mense

 
Here, ons het ’n moeë generasie geword!
Ons is moeg gewerk, moeg vir probleme, moeg vir mense.
Ons het veral moeg geword om alles altyd reg te doen.
Om aanvaarbaar te wees, móét ons
Suksesvol, begaafd en finansieel sterk wees met duidelike doelwitte.
Verder moet ons goeie ouers, lojale vriende, toegewyde familiemense
En betrokke gemeenskapwerkers wees
Sjoe, dis ’n oorvol mondvol!
Vandag wil ek sommer net by U kom rus
En vra dat U my die regte prioriteite sal wys.
Sal U my help onderskei tussen die dinge wat regtig saak maak
en die dinge wat die wêreld ons probeer voorskryf?
Ja, help my om te weet wat vir U belangrik is..
Maak huis skoon met my, Here.
Verwyder die selfopgelegde eise in my oorvol lewe
En leer my om sommer net U kind te wees.
In U naam vra ek dit,

Amen

oorsprong onbekend

Sunday 21 October 2012

Jy is kosbaar

Jesaja 43 : 4  Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

Jy is kosbaar vir God.  Alvorens ‘n diamant geslyp word, is dit bloot ‘n klip.  Wanneer dit geslyp is, word dit ‘n gesogte edelsteen wat absoluut perfek is vir die doel waarvoor dit geslyp is.  Net so moet goud ook eers aan baie hoë temperature blootgestel word om die aanvanklike kosbare edelmetaal op te lewer.  As jy ‘n aartappelskiller het wat jy al jare gebruik, weet jy dit werk perfek, maar koop nou ‘n nuwe een en jy sukkel bietjie.  Dit is asof dit stomp is en jy kry net nie dieselfde vinnige bewegings as met die oue.  Eers nadat dit ‘n rukkie in gebruik is, is dit werklik effektief.  Net so moet ‘n nuwe paar skoene soms eers uitgetrap word, alvorens dit gemaklik sit.  Elkeen van ons moet so ‘n bietjie geslyp en geskaaf word.  Wanneer ons tot perfeksie geslyp is deur God se hand, raak ons effektief en het ons gegroei in geloof.  

Thursday 18 October 2012

Gebed van 'n bruid

Hemelse Vader, vandag is my huweliksdag en my hart jubel van vreugde en geluk.

Gee dat die vreugde van hierdie dag nooit sal verdof of omskep word in berou oor die stap wat ek vandag neem.

Mag die liefde wat ons op hierdie dag vir mekaar koester, net elke dag groei en edeler word.

Maak my getrou in die verpligtinge wat die huweliksbelofte op my plaas.

Gee dat ek vir hom 'n beminde, 'n vriendin en ondersteuner sal wees.

Here, hou tog alle versoekings wat die huwelik sal bedreig weg uit ons harte.

Vader gee aan ons U onmisbare seën op hierdie besondere dag.

Dankie dat ons twee saam aan U hand die toekoms kan instap.

Ons plaas onsself in U almagtige en liefdevolle hande.

In Jesus Naam, Amen

Oorsprong onbekend

Wednesday 17 October 2012

So moet julle bid

Matt 6 : 9 So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word

Jesus was baie spesifiek oor hoe ons moet bid.  Jy moet in jou binnekamer ingaan en die deur toemaak en nie op die hoeke van strate bid nie.  Dit beteken egter nie dat jy nie enige plek, in stilte, met God kan praat nie.  Gebed behoort ‘n bekendmaking van jou diepste hartsbegeertes te wees.  Gee aan God al die eer en die heerlikheid omdat Hy groot is en tot alles in staat is.  Aan Hom behoort die koningskap, die Skepper en Heerser van hemel en aarde. 

Ontdek die krag van gebed en jy sal verstom staan voor die grootheid en almag van God.

Tuesday 16 October 2012

Moenie toelaat dat die dood jou van God vervreem nie

Romeine 8 : 38 & 39  geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie

Onlangs het ek 'n vrou ontmoet wat haar 24-jarige seun in 'n motorongeluk verloor het en sy't met trane na my gekyk en gesê:  "Ek is kwaad vir God...  Hy was my soet kind... Ek wil my kind nog net een keer vasgehou het, vir hom gesê het hoe lief ek hom het... dis nie regverdig dat 'n ma haar kind moet begrawe nie..."  Die wonde aan haar hart was so rou en seer.

Om iemand aan die dood af te staan, is finaal.  Daar is geen logika daarin nie.  Veral as jy ‘n kind aan die dood afgestaan het, sal jy vra hoekom dit nie eerder jy was nie.  As dit jou eggenoot is wat op ‘n jong ouderdom afgesterf het, gaan jy wonder hoekom nie eerder iemand wat nie meer wil leef nie.  As iemand na aan jou selfmoord gepleeg het, gaan jy vra hoekom jy nie kon sien dat die persoon selfmoordneigings het nie. 

Daar is altyd vrae en ons kry selde hier op aarde antwoorde.  Partykeer slaan die dood so onverwags toe dat daar nie eens tyd is om tot siens te sê nie.  Betoon elke dag jou liefde aan diegene wat vir jou so kosbaar is sodat jy geen berou het die dag as jy langs 'n oop graf staan nie.  Hoe moeilik dit ook al is, onthou om nie hulle wat agtergebly het weg te stoot terwyl jy rou nie.  Hulle het jou liefde nou meer as ooit nodig, want ook hulle rou.

Niemand kan regtig antwoorde bied nie.  Niemand kan regtig troos nie.  Die antwoorde en die troos kom van God.  Moenie toelaat dat die dood jou van God vervreem nie. 

Monday 15 October 2012

Het jy beweeg?

In Maleagie 3 : 6 word ons  herinner: “Ek, die Here, het nie verander nie” .  Te midde van ‘n veranderende wêreld, is Hy steeds dieselfde.  Ons behoeftes is steeds dieselfde.  As Hy Abraham, Jesaja, Job, Johannes, Petrus en Paulus se gebede verhoor het en hulle deur krisisse gehelp het, kan ons verseker weet dat Hy vandag nog ook daar is vir ons. 

Vra God om jou huis toe te lei.  Vertel Hom dat jy moeg is, dat jy swak is en dat jy alleen voel.  Laat God weet dat jy van Sy krag afhanklik is en Hom smeek om oor te neem.  Hy het nog nooit ‘n hulpkreet geignoreer nie.  Iemand het eendag gesê:  “As jy ver van God voel, raai wie het beweeg?”

Sunday 14 October 2012

HOEKOM EK GLO

(ontvang via epos)

Ek glo in God, want partykeer is die wêreld so "awesome" en dinge werk so goed uit dat my siel uitroep vir iemand om voor dankie te sê.  Dan is dit Hy! Ek glo in God, want soms is die berge en die sonsondergang en die wolke en die maan so mooi dat ek iemand nodig het om te prys.
Iemand moes dit gemaak het.  Dis Hy!
Ek glo in God, want partykeer gebeur goed wat so onbeplan is en so seer maak en dan voel dit of niemand verstaan nie, maar dan onthou ek die spykers in Sy hande en die Man aan die kruis.  Dan weet ek Iemand huil saam met my.  Dis Hy!
Ek glo in God, want partykeer is ek so deurmekaar en die lewe so sinneloos en my drome lyk onbereikbaar en dan het ek iemand nodig om saam met my die pad te stap en rigting te wys.  Dan is Hy daar!
Ek glo in God, want partykeer is ek so dom en ek doen sulke "stupid" goed en sonde mors my hart en my lewe so op en maak ander so seer en dan het ek nodig dat Iemand vrede en wysheid bring.  Dan is Hy daar!
Hy maak heel wat ek self verbrou het!
Hy bring genade selfs in seer wat ekself veroorsaak het!
Ek glo in God, want partykeer weet ek niks. Ek het leiding en wysheid nodig in 'n deurmekaar wêreld wat ek nie verstaan nie. 
En dan skryf Hy vir my in die Bybel en ek lees Sy Woord en hoor Sy stem en dinge maak weer sin!
Ek glo in God, in Jesus, in sy Gees, want Hy's daar!  Heeltyd! Altyd!
In alles waardeur ek gaan en maak nie saak hoeveel keer ek dieselfde fout maak nie. Hy is daar!
Ek glo in God, want ek sien nie kans om ooit alleen te wees of enigiets alleen te doen nie.

Thursday 11 October 2012

Praat met Hom

Eksodus 33 : 17  Die Here het vir Moses geantwoord: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

Nog voor jy bid, selfs voor jy jou hart oopmaak, ken God elke gedagte van jou.  Hy weet alreeds wat jy gaan vra.  Selfs jou diepste smart ken Hy. 

Teenoor ander mense moet jy dalk die storie so bietjie verdraai, maar teenoor God kan jy absoluut eerlik wees.  Jy hoef nie voor te gee nie, want Hy ken jou hart.  Soms dink jy net dat jy oor iets moet bid, dan weet God reeds waaroor jy gaan bid.  Hy ken elke wens van jou, elke begeerte. 

Tog wil God steeds hê dat jy die inisiatief neem om in gebed met Hom daaroor te praat.  Hy wil weet hoe jy oor dinge voel en watter emosies dit in jou ontketen.  In Sy alwysheid weet Hy reeds wat die uitkoms of die antwoord sal wees, maar Hy wil sien hoe jy jou afhanklikheid van Hom uitleef en erken. 

Om dit te verstaan, kan 'n mens dink aan enige verhouding.  As ouer kan jy sien dat iets jou kind pla, maar jy kan nie inmeng nie, jy wag totdat hy/sy met jou praat.  Kommunikasie maak of breek enige verhouding, so ook die verhouding met jou Hemelse Vader.  Praat sommer net jou hart uit teenoor Hom.

Wednesday 10 October 2012

Waarhede


Psalm 25 : 5  Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder.  In U stel ek elke dag my verwagting.

Die mooiste glimlag verberg die grootste hartseer;
Die sagmoedigste mense is al die ergste verneder;
Die mooiste oë het al emmers trane gestort;
Die warmste harte het al die meeste pyn gevoel;
Die stilste mense het die diepste geheime;
Die wat die gouste oordeel het die meeste geraamtes;
Die hardste lag verberg die minste selfvertroue;
Die mooiste liefde is nie selfsugtig nie;
Die beste plek om te wees is in iemand se hart;
Die gelukkigste mense is die dankbaarste;
Die beste dokters is mamma’s;
Die diepste plooie vertel die mooiste stories;
Die mooiste woorde is "Ek is lief vir jou";
Die beste dinge in die lewe is gratis;
Die beste pad is die een waar jy die meeste geleer het;
Die edelste mense het die swaarste pad geloop;
Die diepste siele het op die hardste manier geleer;
Die meeste aanmoediging kom van jou beste vriende;
Die waardevolste lesse word geleer deur ons grootste seer;
Die wonderlikste geskenk is die geskenk van Lewe;
Die onmoontlikste dinge is moontlik as ons glo;
Die grootste waarborg kry ons in ons geloof
(ontvang via epos)

Tuesday 9 October 2012

Prys Hom

Jeremia 29 : 12  Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.

Jy wil God prys, maar jy weet nie waar om te begin nie en jou woorde is dalk ook min.  Dit is nie nodig om taalkundig korrek te wees as jy God prys nie.  Jy hoef ook nie hoë woorde te gebruik nie.  Doen dit net uit jou hart uit en opreg.  Laat God weet hoe belangrik Hy vir jou is, hoe afhanklik jy van Hom is en hoe dankbaar jy is vir alles wat Hy vir jou elke dag doen. 

As jy dit elke dag doen, sal jy mettertyd al meer redes kry om Hom te prys.  As jy vir hulp gevra het en God beantwoord jou gebed, onthou om dankie te sê.  Laat jou verhouding met God in ‘n vriendskap ontwikkel.  Dit beteken nie dat jy Hom nou as jou pêl ag nie.  Jy kan Hom steeds respekteer, maar dit kan die kommunikasiekanaal oopmaak en jou die vrymoedigheid gee om Hom in alles wat jy doen en sê te ken.

Monday 8 October 2012

Hou op omkyk


Ons is soos Lot se vrou.  God het vir Lot gewaarsku dat hulle nie mag terugkyk na die sondige stede waaruit Hy hulle toelaat om te vlug, maar Lot se vrou het omgekyk.  En...jy ken die storie.  Genesis 19 : 26  Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander. 

Die verlede is presies dit, dit is verby.  As jy ‘n fout gemaak het, leer daaruit en dan gaan jy aan asof dit nooit gebeur het nie. 

Daar was eendag ‘n vrou wie se man ‘n misstap begaan het.  Hy het vir haar gesê hy is jammer en gevra of sy hom sal vergewe.  Sy’t ja gesê, maar met elke klein rusietjie het sy die aangeleentheid weer opgehaal.  Eendag vra hy vir haar of sy regtig bedoel het dat sy hom vergewe het, want sy haal dit elke keer op. Ja, sê sy, ek wil net seker maak dat jy dit nie vergeet nie. 

God vergewe jou onvoorwaardelik.  Hy sê jy moet jouself losmaak van dit wat agter lê en jou uitstrek na dit wat voor jou lê.  Hou op omkyk.

Sunday 7 October 2012

Loof God

1 Kronieke 16 : 25  Die Here is groot, al die lof kom Hom toe, ontsagwekkend is Hy bo alle gode.

Jy weet dalk nie hoe om God te loof en hulde aan Hom te bring nie.  Doen dit daagliks, heeldagdeur as jy kan.  As jy vir jou koffie of tee maak, bedank God dat jy toegang tot elektrisiteit het.  Sê dankie dat jy ‘n keuse tussen tee en koffie het, terwyl jy weet dat daar mense in die wêreld is wat gelukkig is as hulle toegang tot skoon water het.  As jy die koffie of tee by die werk geniet, sê dankie dat jy ‘n werk het.  As jy suiker en melk kan ingooi, loof Hom daarvoor.  Mettertyd kan jy verder gaan deur Hom te bedank dat jy liggaamlik in staat is om self die koffie of tee te gaan maak en dit terug te dra na waar jy gaan sit om dit te nuttig.  Dalk kan jy dankie sê vir die uitsig as jy dit in die oggend in jou tuin kan doen.  As dit in ‘n hospitaalbed is, dankie dat jy nie meer aarvoeding kry nie.  En so kan jy aangaan en aangaan en vele redes vind om Hom lof en hulde te bring.

Thursday 4 October 2012

'n Katedraal

Efesiers 6 : 5  Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met ‘n opregte hart, asof dit vir Christus is. 

‘n Man het eendag ‘n steengroef  besoek en daar 3 mans gevind wat besig was op bakstene te maak.  Hy vra toe vir die eerste man wat hy besig is om te doen?  Die man antwoord dat hy bakstene maak.  Op dieselfde vraag het die tweede man  geantwoord dat hy seker maak elke baksteen is perfek i.t.v. vorm, tekstuur en mates sodat die gebou waar dit gebruik word besonders sou wees.  Die derde man het geglimlag toe hy dieselfde vraag moet beantwoord:  “Ek is besig om ‘n katedraal te bou.”

Al drie hierdie mans was besig met presies dieselfde taak, maar net een het die groter prentjie gesien.  Elkeen het geweet hoe om ‘n baksteen te maak, maar die derde man het ‘n visie gehad, hy kon sy rol in die nalatenskap sien wat hy sou laat, hy het geweet hoekom hy dit doen.

Hoe kyk jy na jou dagtaak?  Sien jy dit as eenvoudig soos om ‘n baksteen te maak, of sien jy dit as ‘n katedraal in wording?

Wednesday 3 October 2012

Die Here sal vir jou veg

Eksodus  14 : 14 Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg

Daar gaan tye kom dat jy dink jou lewe het nou heeltemal aan skerwe gebreek.  Jy gaan voel dat dit onmoontlik en geensins die moeite werd is om die stukke op te tel nie. 

Kunstenaars aanskou vele mislukte pogings alvorens hulle ‘n meesterwerk lewer.  Skrywers skryf vele manuskripte wat hul vir uitgewers stuur en dit word net so teruggestuur.  Daar gaan baie teleurstellings in jou lewe wees.  Dit is die realiteite van die lewe.  

Dis hoe jy hierdie teleurstellings hanteer wat van jou ‘n nuwe mens gaan maak.  Die lewe is 10% wat met jou gebeur en 90% hoe jy dit hanteer, jou houding.  Net jy kan besluit hoe jy op dit wat met jou gebeur gaan reageer, niemand anders nie. Wees kalm en weet dat Hy namens jou veg.  God sien jou as ‘n wenner.  Hy glo in jou.  God makes no junk.

Tuesday 2 October 2012

Ek roep na U om hulp

Psalm 88 : 14 Ek roep na U om hulp, Here, vroeg in die môre al bid ek tot U.

Jy kan moed skep, want jou Redder is naby.  Hy is nooit ver van ons nie.  Hy is so naby dat jy Sy teenwoordigheid kan voel.  

Geloof is om in die onsienbare te glo.  Geloof is om teen alle logika in te glo.  Geloof is moed om te vertrou dat daar ‘n Lewende God is omdat jy Sy hand al soveel keer in jou lewe ervaar het. 

Dalk ken jy God nog nie.  Dalk lees jy hierdie gedeelte en jy wil weet hoe kan jy dit ervaar.  Jy moet ‘n verhouding met Hom ontwikkel en dit begin met ‘n gesprek, op jou knieë, helder oor dag, voor jy gaan slaap, wanneer jy opstaan, elke moontlike oomblik deur die dag.  Dit verg van jou tyd in jou binnekamer waar jy Sy Woord bestudeer en Hom van aangesig tot aangesig ontmoet. 

Hy het reeds vir jou gesterf.  Hy ken jou reeds al ken jy Hom nog nie.  Hy wag vir jou en Hy klop al jare lank aan die deur van jou hart.  Wil jy nie vir hom oopmaak dat Hy kan inkom nie?

Monday 1 October 2012

Moenie angstig rondkyk nie

Efesiërs 2 : 12 In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

Jy kan goed met die volk se hopeloosheid vereenselwig.   Jy weet hoe dit voel om die einde van jou uithouvermoë te bereik.  Jy kry nie werk nie, jy het jou huis, jou motor, jou man/vrou verloor, jou kinders is deur die welsyn weggeneem, jy kan nie aangaan na die egskeiding nie, jy kan nie aangaan na jou kind se dood nie, jy wil nie alleen oud word nie...  Jou hart is gebroke en jou gees is geknak. 

Moenie angstig rondkyk nie, kyk op.  God staan voor jou met arms wyd uitgestrek en Hy wil jou so graag teen Sy bors vasdruk en die trane afdroog.  Glo en vertrou Hom, want Hy wil so graag vir jou uitkoms bied.  Staan op, of as jy nie kan nie, kruip na Hom toe.  God kan ook in jou lewe ‘n verskil maak.  Selfmoord los nie al jou probleme op nie, dit skep net nog probleme vir diegene wat agterbly en daar is mense wat gaan agterbly wat vir jou lief is. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...