Tuesday 31 January 2012

Beskikbaar 24/7


Filippense 4 : 13  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

As mens is ons tot niks in staat, maar deur God is ons alles.  Wat ons bereik het, is aan Hom te danke.  Wat ons besit, kom van Hom.  Ons toekoms is in Sy hande.

Hy luister altyd na ons.  Die lyn na God is nooit beset nie.  Hy is nooit op voicemail nie.  Jy kry nooit ‘n besettoon nie.  God is nie net gedurende kantoorure beskikbaar nie.  Hy is elke oomblik van elke dag beskikbaar.  Hy raak nooit moeg en vra of dit alweer jy is nie.  Hy sit nooit die telefoon in jou oor neer nie.  Hy is nooit ongeduldig en kortaf nie.  Jy hoef nooit na musiek te luister of na verskeie opsies te luister alvorens jy die korrekte een kies nie.  Dit is ‘n direkte lyn, en altyd beskikbaar. 

Is ek en jy altyd daar as Hy met ons wil praat?  Geld dieselfde reëls vir Hom as vir ons? 

Monday 30 January 2012

Om op die Here te vertrou

Psalm 71 : 5  want U, Here, U is my hoop, op U, Here, het ek van jongs af vertrou.

Wie van ons stel ander regtig eerste in ons lewe of staan terug sodat iemand anders ‘n geleentheid kan kry? 

Kyk maar as iemand verjaar en daar is koek by die werk.  Neem jy in ag as jy jouself help dat ander ook nog moet kry of maak jy seker jy is eerste daar en oorlaai jou bordjie?  Bied jy ‘n bordjie eetgoed vir die skoonmaker of teemeisie aan?  As jy laaste opdaag en daar is nie meer koek oor nie, gaan jy ongelukkig wees daaroor?   Neem jy enigsins iemand anders in ag? 

Soms tree ons reg op in die regte geselskap.  Soms offer ons selfs op, want ons het verskuilde agendas en weet ons gaan uiteindelik baat. 

Net soos wat ons op die Here vertrou en ons hoop op Hom plaas, net so plaas Hy sy hoop op ons.  God het sy Enigste Seun opgeoffer vir ons m.a.w. Hy't ons eerste gestel, selfs voor Sy geliefde Seun. Sy Enigste Seun!   Die hoogste prys!  Het ons dit verdien?

Sunday 29 January 2012

God ken jou op jou naam

Eksodus 33 : 17  Die Here het vir Moses geantwoord: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam."

God ken jou by jou naam.  'n Mens noem net iemand op hul voornaam wat jy baie goed ken.  Hy het jou geken toe jy nog in die moederskoot was.  Jy is syne. 

Voel jy Sy liefdevolle arms om jou?  Voel jy sy vertroosting wat jou omvou?    Soveel name, soveel mense en tog is jy absoluut uniek en ken God elke gedagte van jou, weet Hy presies wat jy dink en wat jy begeer.

Hy doen moeite met jou en Hy is daar vir jou.  God draai nooit van jou af weg nie, dit is ek en jy wat soms die pad byster raak.  En ook dan is Hy bereid om te vergewe omdat Hy ‘n verdraagsame God is en jou so goed ken.

Thursday 26 January 2012

In die begin

Die Bybel begin by die begin… Genesis 1 : 1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 

As mens staan jy absoluut verstom oor die kleinste besonderheid waarmee die skepping plaasgevind het.  Ja, partykeer wonder ons hoekom God nou juis vlieë, muskiette of vlooie moes maak?  En tog, elke klein skakeltjie, selfs die byna onsigbare plankton wat ‘n reuse walvis eet, is ‘n legkaartstukkie in die skepping.  As een stukkie weg is, is die prentjie onvolmaak  

God het nie agterna onthou, oops…  Nee.  Vers 31  Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. 

Tydens die sondvloed het God wel die mense laat vergaan, maar die aarde en Sy skepping was volmaak.  Hy het dit nie oorgemaak nie.  Deur Noag en Sy opdrag, het God mens en dier laat voortbestaan. 

So jy kan verseker weet jy IS spesiaal.  God het jou met groot sorg en perfek, tot in die kleinste besonderheid, geskape en Hy was en is baie tevrede met jou.  As enige iemand jou vandag minderwaardig laat voel, onthou dat jy uniek, pragtig en perfek is.

Verander jou aas...

Matteus 28:19  Gaan dan heen maak die mense my dissipels...

God se laaste opdrag aan ons was om uit te gaan en dissipels van alle mense te maak. 

‘n Visserman vang vis omdat hy op die regte tyd van die dag  uitgaan, die regte aas gebruik en geduld aan die dag lê.  Vissermanne spandeer baie tyd om te verseker dat hul nette heel is, hulle die regte aas en toerusting gebruik. Hulle bestudeer die weer en die getye.  Dit alles doen hulle omdat hul wil seker maak dat hulle nie met leë hande terugkeer nie. 

As jy siele vir God wil werf, moet jy jou Bybel bestudeer, kerk toe gaan, bid, jouself toerus op elke moontlike manier. 

Deursettingsvermoë is net so belangrik.  Moenie sommer opgee as een persoon jou afgejak het nie.  Hou aan.  Baie vissermanne sal jou ook die storie vertel van die een wat weggekom het en jy gaan telkens moedeloos voel as jy gedink het iemand het tot bekering gekom en hulle volg weer hul ou weë. 

Moenie moed verloor nie, verander die aas, probeer weer... en weer... en weer...

Hoe lyk jou tuin?

Lukas 13 : 7  sê hy vir die tuinier: 'Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?

As tuinier is ‘n onkruidlose tuin, jou trots.  Jy weet ook dat ‘wêreld-onkruid’ maklik in jou lewe kan wortel skiet as jy nie daarteen waak nie. 

As die geringste sondige gedagte kop uitsteek, moet jy dit bydam en met wortel en tak uitroei. Soms staan die onkruid kniehoog in jou lewe.  Dan moet jy drastiese maatreëls toepas om van daardie onkruid ontslae te raak.  Gaan op jou knieë en smeek om vergifnis en vra die groot Tuinier om die onkruid namens jou te bestry.  Laat Hom toe om te skoffel en seker te maak dat jou lewe onkruidvry is.  En soms wil jy nie, of jy is net nie lus om die onkruid te beveg nie, maar deur die genade is Hy nooit moeg nie en gee Hy nooit op nie.

Hoe lyk jou tuin?

Monday 23 January 2012

Is jy moedeloos?



2 Kronieke 15 : 7 Maar julle moet vasstaan en nie moedeloos word nie…


Jy weet hoe dit voel, want jy was ook al daar. Dalk is jy steeds daar en dalk roep jy ook uit: “Ek is so mismoedig, waar het als verkeerd gegaan?” Soms wonder mens waar jy met jou kind se opvoeding verkeerd gegaan het of wat jy gedoen het dat 'n vriendskap/verhouding nie meer is wat dit was nie.  Dalk is jou finansies beroerd of jy het dalk nie eens 'n werk nie.

Jy ken hierdie moedverloor se vlakte waar die stormwinde van die lewe jou soos ‘n grashalmpie heen en weer waai. Al jou energie word ingespan om net staande te bly. 

Ek wonder baie maal wat maak ongelowiges wanneer hulle deur moeilike tye gaan? As jy God ken, weet jy Hy is daar om jou roepstem te hoor. Hy luister, Hy troos, Hy gee krag en Hy lei jou elke tree en as jy dink jy kan nie een tree verder gee nie, tel Hy jou op en Hy dra jou. En sagkens sit Hy jou weer op albei voete neer en help jou so liggies met die hand aan. “Veilig loop, my kind, Ek is hier reg langs jou.” Gaan weer op jou knieë en roep Hom aan.

Ten spyte van dit waardeur jy gaan, wil ek jou herinner dat God daar is.  Hy't nêrens heen gegaan nie, maar onthou jy dat Hy daar is of is jy verblind deur die probleem voor jou?  Ontspan, God is in beheer, moenie moedeloos word nie.  Praat met Hom oor dit wat jou so moedeloos maak.

Sunday 22 January 2012

Om getugtig te word

Spreuke 3 : 12  “want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos 'n vader die seun in wie hy behae het”

Teëspoed is onvermydelik.  Die lewe gaan jou af en toe pootjie.  Jy gaan foute maak en verkeerde besluite neem.  Jou eie oordeel gaan jou in die steek laat en jy gaan praat alvorens jy gedink het. 

Ontspan...God het nie nog ‘n God geskep nie, Hy’t ‘n mens geskep, 'n klein wonderwerk - jy!  Daarmee saam, het Hy jou ook verstand/brein, en ‘n wil van jou eie gegee. 

Glo my, God sit nie met ‘n afstandbeheer en beheer elke optrede van jou nie.  En tog is Hy bereid om jou te help wanneer jy nie herwaarts of derwaarts weet nie.  Soos 'n liefdevolle ouer gaan Hy jou soms toelaat om aan die warm plaat te vat sodat jy kan leer hoe gevaarlik dit is.

Dit bly ‘n wonder dat God die mens soveel vryheid bied en tog altyd daar is om die einas reg te soen en ‘n pleistertjie op te plak.  Ja, Hy tugtig jou, maar Hy oorlaai jou ook met liefde. 

Thursday 19 January 2012

Maak die beste van vandag

Psalm 145 : 2  Elke dag wil ek U loof, ek wil u Naam altyd prys.

Elke dag dat ons, ons oë oopmaak, is net genade.  Niemand is verseker dat jy die volgende dag gaan wakker word wanneer jy jou oë saans toemaak nie.

Vanoggend wil ek hê dat jy so bietjie dink oor die volgende vraag.  Waarmee sou jy jou tyd verwyl as jy sou weet dat jy oor twee weke gaan sterf?  Maak 'n koppie koffie en dink oor hierdie vraag. 

Sou jy soggens douvoordag die huis verlaat, nadat almal verskree is, en saans laat huis toe kom as ‘n oorwerkte, geirriteerde ouer?  Sou jy eers by die winkels aangaan en dan dadelik begin kosmaak sodra jy tuiskom?  Sou jy oor naweke soggens laat slaap?  Sou jy by die werk jou humeur verloor het?  Sou jy die bedelaar by jou voordeur onbeskof wegjaag? 

Sou jy jou met wêreldse dinge besig hou?  Of sou jy eerder voor dagbreek met jou Bybel en ‘n koppie koffie in die tuin gaan sit en na die voëlgesang luister terwyl jy met Hom praat?  Of dalk sou jy op die laaste nippertjie jou kind by die skool gaan aflaai, omdat julle eers na ‘n spinnerak met doudruppels staan en kyk het sodat jy hom so aan God kan voorstel.  Dalk sou jy die gesin eerder vir ‘n wegneemete na die see neem en die sonsondergang gaan bewonder. 

Moenie eendag spyt wees omdat jy nie die beste van vandag gemaak het nie. 

Wednesday 18 January 2012

Klippies van Geregtigheid

1 Samuel 17 : 47  Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee."

Om God se geregtigheid te aanskou, kan ons na die verhaal van Dawid en Goliat gaan kyk.  Dawid was die jongste van al die kinders en ‘n nederige skaapwagtertjie. 

Goliat was meer as 3 m lank en hy was ‘n heiden wat die volk van God daagliks verkleineer het.  Al die Israeliete was bang vir hom en het weggehardloop as hulle hom gesien het. 

Saul het vir Dawid sy oorlogsgewaad aangetrek, maar dit was te swaar en Dawid kon nie eens daarmee stap nie.  Dawid het die reus sonder beskerming, met net ‘n slingervel, 5 blink klippies en geloof in God, aangedurf en geregtigheid het geskied. 

Is dit nie iets wat jou ongelooflike gemoedsrus gee nie?   Om 'n God aan jou kant te hê wat onreg nie verdra nie, wat sal sorg dat geregtigheid geskied!  En dit terwyl jy die heel tyd voel of alles en almal teen jou is.  Jy stry die stryd nie alleen nie, die oorlog behoort aan God en Hy sal jou vyand in jou mag oorgee.  Jy hoef niks en niemand te vrees nie, want Hy is aan jou kant... en wat meer is... Hy spesialiseer in wonderwerke.  Logika sê immers vir jou niemand durf 'n reus met'n slingervel en 5 klippies aan nie - nie sommer enige 5 klipplies nie, God se klippies van geregtigheid. Vertrou  Hom.

Tuesday 17 January 2012

Die tyd loop uit

In Openbaring vind ons ‘n beskrywing van die eindtye.  Ek dink jy sal met my saamstem dat baie van die tekens reeds sigbaar is. 

Ongelukkig is daar sommige mense wat reken dat die einde van die wêreld net ‘n bang-maak-storie is.  Die waarheid is dat dit 'n realiteit is... die oordeelsdag gaan aanbreek so seker as wat daar 'n Lewende God is.  En vir baie gaan dit te laat wees, baie gaan ontnugter besef dat die Bybel inderdaad die hele tyd nie net 'n storie was nie, maar 'n skrikwekkende werklikheid.  

Genadiglik isGod geduldig en lankmoedig, maar... Hy is ook ‘n God wat doen wat Hy gesê het.  Wanneer die Oordeelsdag aanbreek, wil jy nie spyt wees dat jy nie maar tot bekering gekom het nie.  Jy wil met verwagting opkyk na waar Hy op die wolke kom. 

Niemand leef vir ewig nie en ongelukkig weet niemand wanneer jou uurglas gaan leegloop nie.  Jy kan dus nie bekering uitstel totdat jy eendag oud is nie.  Daar mag dalk nie tyd wees, soos jy reken, om  jou lewe nog net ‘n rukkie te wil geniet voor jy tot bekering kom nie. 

Laat ek jou onmiddellik gerusstel.  Om tot bekering te kom beteken nie dat die dae van jou lewe geniet op ‘n einde gekom het en dat jy nou vir altyd met ‘n Bybel onder die arm en met ‘n lang gesig moet loop nie.  Jy sal verstom wees hoeveel vreugde jy sal ervaar as jy eers die Koninkryk van God gevind het.

Monday 16 January 2012

Dit begin by jou en my

Wanneer jy koerante lees of TV kyk, staan jy verstom oor dinge wat deesdae alledaags is terwyl dit voorheen verkeerd of selfs onwettig was.  Naaktonele, vloek, Godslastering, moord, geldverduistering...

Oral rondom jou is daar blatante wetteloosheid.   Motoriste het min respek vir ‘n sperstreep.  Daar word sonder om ‘n oog te knip op parkering vir gestremdes geparkeer.  In die koerante word mense daaraan herinner om nie klappers te skiet nie, maar kom “Guy Fawkes” dan weergalm dit van vuurwerke.  Gesoute misdadigers beklee hoë poste.  Korrupsie verbaas niemand meer nie. 2 Kronieke 19 : 7  Mag die vrees vir die Here julle bybly! Wees versigtig en doen julle plig. By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie." Onskuldige mense word vermoor.  Daar is absoluut geen einde aan die verskrikking nie. 

Ons kinders gaan eendag sukkel om tussen reg en verkeerd te onderskei as daar geen reëls of geen voorbeelde is nie.  Dit is tyd dat ons terugkeer na die ‘basics’, die wette wat God vir ons neergelê het, die voorskrifte van die Bybel... en dit begin by jou en my wanneer ons ons voorneem om wette te gehoorsaam en 'n voorbeeld vir ander te wees... al is ons die enigste een wat dit doen.  2 Kronieke 19 : 7 is 'n vers wat geen doekies omdraai nie.

Sunday 15 January 2012

Hy sal jou gee die begeertes van jou hart

Ps 37:4  Verlustig jou in Hom, en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart

Dit klink darem bietjie verregaande.  Om jou in iets te verlustig, beteken tog dat jy dit moet geniet, dat jy pret gaan hê, dat jy ontspanne daarna gaan voel, dat jy dit bo verwagting gaan geniet.  Jy gaan dus permanent met ‘n geluksalige uitdrukking op jou gesig rondloop.  En dit terwyl jy jou in God verlustig!

Party mense dink dat jy met ‘n lang gesig en ‘n Bybel onder die arm moet rondloop van die oomblik dat jy tot bekering kom en dat pret dan iets is wat net vir nie-gelowiges beskore is. 

Nee, God wil hê dat jy Christenskap moet geniet, dat ander mense moet sien hoe jy jou in Hom verlustig.  Dat jy soos ‘n bedorwe brokkie, Sy lieflingkind, sal voel.  Jou Pa gee jou alles en nog meer en jy hoef nie eens te vra nie.  O, jy't 'n pragtige glimlag...

Thursday 12 January 2012

In God se kas

Genesis 4 : 13  Toe sê Kain vir die Here: "My straf is te swaar om te dra.

Daar kom tye in almal se lewe dat jy voel asof jy die hele wêreld op jou skouers ronddra... of alles net te veel word.  Dalk voel dit vir jou asof jy gestraf word en dat die straf darem net te swaar is.  Dis juis dan dat jy meer tyd op jou knieë moet deurbring. 

“In God se kas is alles wat mense nodig het mooi uitgestal.  Dit wat jy die nodigste het is op die onderste rak sodat kindertjies dit ook kan bykom.  Groot mense kan dit ook bykom, hulle moet net op hul knieë gaan.” (annoniem) 

Praat met God.  Soms praat jy met almal rondom jou, jy vra raad, jy kla, jy kom in opstand, maar jy vergeet om te bid.  Probleme gee mens tonnelvisie, jy sien niks buiten die probleem raak nie.   Ek herhaal, praat met Jesus, vertel Hom van jou probleme. 

Aag en hoe bevrydend is dit om te weet dat jy teenoor Hom heeltemal eerlik kan wees, want Hy ken jou beter as wat jy jouself ken.  Jy hoef nie die probleem mooi op te maak en diplomatiese woorde te gebruik om dit darem nie so erg te laat klink nie.  Hy verstaan en Hy sal jou antwoord.  Wat meer is, Hy sal jou selfs vergewe al kan jy jouself nie vergewe nie.

Wednesday 11 January 2012

Jubel van Blydskap

Job 8 : 21 Hy sal jou weer vreugde gee, jou van blydskap laat jubel.

Party dae moet ‘n mens net gaan sit en ‘n lysie maak van alles waarvoor daar rede in jou lewe is om te jubel van vreugde en dankbaarheid. 

As jy jou oë oopmaak, het jy die nag oorleef, jy is uitgerus en jy kan ‘n nuwe dag aanpak.  As jy kan was en koffie drink, is jy geseënd deur ‘n gawe wat net van God kom - water.  Dalk kan jy selfs ontbyt eet alvorens jy gaan werk, of ‘n toebroodjie en ‘n vrug saamneem werk toe.  Soveel mense gaan honger ‘n nuwe dag tegemoet.  Andere het nie eens ‘n werk nie.  Indien jy vervoer werk toe het, beteken dit jy het geld verdien om die luukse te bekostig.  Op pad werk toe, kan jy rondom jou die natuurskoon en ontwikkeling aanskou.  Is jy geseënd met gehoor, kan jy klanke rondom jou hoor.  Jy is in staat om reuke waar te neem.  As jy sonder krukke of ‘n rolstoel kan beweeg, is jy gelukkiger as baie mense oor die wêreld heen.

En so kan die lysie aangaan en aangaan.  Jou blyplek, jou familie, jou werk, jou belangstellings en prestasies... dis alles rede om te jubel en God te dank. 


Tuesday 10 January 2012

Sout van die Aarde

Matt 5 : 13  Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
Sout kan laf word en dan is dit niks werd nie;  kan dit geen dis opkikker nie..  Lig, daarenteen, bring hoop. 
Ons weet ook hoe verwelkomend 'n liggie in die donker kan wees.  As ek my oog op die Lig hou en ek laat toe dat Hy die smaak aan my lewe gee, dan is ek op koers. 

Onthou vandag dat jy smaak aan ander mense se lewens kan gee as hul God in jou lewe aanskou, veel meer as wat jy dit sou verkondig.  Mense leer makliker uit voorbeelde as uit ‘n preek. Laat jou lig skyn sodat ander Jesus in jou sien.  Laat dit hul na jou en Hom aantrek soos wat ‘n mot na die lig aangetrek word. 

Waak veral te midde van die alledaagse rep en roer daarteen dat jou sout nie laf word nie en dat jou lig nie onder ‘n emmer verberg word nie.

Monday 9 January 2012

Niks is by God onmoontlik nie.

Jesaja 26 : 3  Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.

Dit is maklik om God te loof en te prys wanneer dit met jou goed gaan.  Dit is minder maklik te midde van die storm.  Ek en jy weet dat niks by God onmoontlik is nie.  Ons sê dit vir mekaar, maar wanneer die eerste krisis ons tref, raak ons paniekbevange. 

Hoe kan ons met die mond bely dat niks onmoontlik is, maar daaraan twyfel wanneer ons getoets word.  Noag het ‘n ark gebou toe daar geen reën in sig was nie.  Mense het hom gespot, maar Hy het God vertrou al het dit ook hoe onmoontlik gelyk.  Dis dieselfde God wat ons vandag aanbid.  Jy kan Hom vertrou – gee Hom ‘n kans!  Stel jou vertroue op Hom.

Ek wil jou uitnooi om groot te droom, want ek dink ons droom te klein en daarom beperk ons God.  Hy wil vanjaar GROOT gaan vir jou. 

Sunday 8 January 2012

Niks is vir God onmoontlik nie

Lukas 1 : 37   Niks is vir God onmoontlik nie...".

Ek en jy weet dat niks by God onmoontlik is nie.  Ons lees dit immers in die Bybel, ons bemoedig ander daarmee, ons glo dit selfs.  Wel, tot ons 'n krisis beleef.  Dan raak ons paniekbevange.  Ons maak ons eie planne en maak staat op mense.  Dan is Lukas 1:37 net 'n teks in die Bybel.

Hoe kan ons met die mond bely dat niks onmoontlik is, maar daaraan twyfel wanneer ons getoets word?  Noag het ‘n ark gebou toe daar geen reën in sig was nie.  Mense het hom gespot, maar Hy het God vertrou.  Dis dieselfde God wat ons vandag aanbid.  Jy kan Hom vertrou – gee Hom ‘n kans!  Niks, maar absoluut NIKS is vir Hom onmoontlik nie. 

Thursday 5 January 2012

Loof God


Ps 69:31  Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met 'n danklied prys.

Om God te loof terwyl dit goed gaan en nadat jy Sy wonderwerke aanskou het, is maklik, maar loof jy Hom ook te midde van die storm?  Loof jy Hom as die wêreld om jou ineenstort?  Dit is juis dan dat jy Sy grootte Naam moet prys en saam met die engele om Sy heilige troon moet sing.  Sing ‘n vreugdeslied vir Hom.  Prys Hom as jy swaarkry, want dit is wanneer Hy jou vorm.  Goud is eers gesuiwer nadat dit ontsaglike hitte deurstaan het. 

Wednesday 4 January 2012

Ek en my huis

Joshua 24 : 15 Kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien."

Ek het al besluit dat ek en my huis die Here sal dien, en dan het een van my kinders ander planne.  Dit is dan dat ek besef dat ek dit nie uit eie krag kan doen nie.  Geen mens kan 'n ander dwing om 'n verhouding met God te hê nie.  Ons het Sy genade in ons lewe, ons huis, ons werk nodig. 

Slegs God kan deur die Heilige Gees in ons kinders se hart werk, of in ons man of vrou se hart.  Ons kan egter bid en 'n voorbeeld stel.  'n Mens wil dikwels die hele wêreld se siele vir God verwerf, maar jy vergeet om diegene naaste aan jou eerste te red. 

Tog sal dit nooit kan gebeur as dit nie ons hartewens is nie.  God is gereed en Hy ken ons hartsbegeerte nog voor ons dit eens verwoord het.  Beroep jou op die Waarheid van Sy Woord en die vaste vertroue dat God alleen in jou huis heers.




Tuesday 3 January 2012

Om 'n danklied te sing

Ps 69:31  Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met 'n danklied prys.

Om God te loof terwyl dit goed gaan en nadat jy Sy wonderwerke aanskou het, is maklik, maar loof jy Hom ook te midde van die storm?  Loof jy Hom as die wêreld om jou ineenstort?  Dis nie maklik nie. 

Dalk gaan jy op die oomblik deur 'n krisis en die laaste ding wat jy op die oomblik wil hoor is dat jy God moet loof.  Hy hoor jou nie, Hy help jou nie, Hy voel myle ver. 

Glo my as ek vir jou sê dat jy juis dan Sy grootte Naam moet prys en saam met die engele om Sy heilige troon moet sing.  Sing ‘n vreugdeslied vir Hom.  Prys Hom as jy swaarkry, terwyl die trane oor jou wange stroom, terwyl jy mismoedig, wanhopig, hopeloos, moedverlore is...want dit is wanneer Hy jou vorm. 

Goud is eers gesuiwer nadat dit ontsaglike hitte deurstaan het.  Dis 'n suiweringsproses. 

Monday 2 January 2012

Here my God, dink tog aan my!

Rigters 16 : 28  Toe roep Simson tot die Here: "Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë

Simson was, in die tyd van die Filistyne, 20 jaar lank leier van Israel.  Die Filistyne het dit nie vir hom maklik gemaak nie.  Aan die ander kant, Simson was ook nie juis onskuldig nie.  Hy het jakkalse twee-twee aan mekaar vasgemaak en dit deur hul landerye met ‘n brandende fakkel gejaag, sodat hul miedens, landerye en boorde afgebrand het.  Hy het by ‘n prostituut se huis ingegaan. 

Om alles te kroon, raak hy verlief op Delila.  Simson is van sy geboorte aan God gewei en daarom is sy hare nooit gesny nie.  Die Filistyne het Delila gebruik om die kennis te bekom.  Sy oë is uitgesteek, hy’s gemartel en in die tronk gegooi.   Ek kan my goed voorstel hoe Simson daar in die tronk moedeloos tot God uitroep.  Sy hare het weer gegroei en God het sy gebed uiteindelik verhoor. 

Ons het ook Filistyne en Delilas in ons lewens.  Bid dat God jou die vermoë sal gee om te onderskei tussen opregtheid en valsheid, tussen eerlike en minder eerlike motiewe, tussen reg en verkeerd, tussen vir God en teen God..  Erken jou afhanklikheid van Hom.

Sunday 1 January 2012

Doen goed

Romeine 2 : 10 Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood.

Madiba vra op sy verjaardag dat elkeen 67 minute spandeer om iets vir iemand in nood te doen.  Hy vra niks vir homself nie, maar vir ander. 

Dink net hoe die wêreld kan verander as ons elke dag, nie net een maal per jaar, 10 minute gebruik om iets vir iemand anders te doen?   In 10 minute kan jy ‘n ouer persoon oor die straat help, jy kan iemand skakel wat jy weet siek of eensaam is, jy kan sop by ‘n plakkerskamp gaan aflaai, jy kan ‘n kombers vir ‘n straatkind gee, jy kan ‘n glimlag op iemand se gesig bring, jy kan iemand wat agter jou in die supermarkry staan met 2 items voor jou laat betaal, jy kan iemand ‘n geleentheid na ‘n winkel gee, jy kan ‘n bal skop saam met jou kind, jy kan vir jou man sy pantoffels gaan haal...

Die moontlikhede is legio.  Dis die tipe gewoonte wat jy wil hê soos die H1N1 (varkgriep) virus moet versprei.  Sien jy kans om vandag net een goeie daad vir een ander persoon te doen?

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...