Wednesday 29 February 2012

Die Heilige Gees

Die engel antwoord haar:  “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek.” (Luk 1:35)

Ons dien 'n drie-enige God:  Vader, Seun en Heilige Gees. 

Wanneer die Heilige Gees jou lewe beheer raak dit soveel makliker om die eie ek te verloën.  Dit is soos om van ‘n afstand beheer te word.  Jy hoef nie meer ‘n wag voor jou mond te plaas nie, want die Heilige Gees sal dit beheer.  Jy hoef nie meer die duiwel te vrees nie, want die Heilige Gees omvou en beskerm jou.  Dit is ‘n lewensveranderende ervaring en jou lewe is eenvoudig nie meer dieselfde nadat die Heilige Gees beheer van jou lewe oorgeneem het nie. 

Dis nie nodig om die stryd alleen te stry nie!

Tuesday 28 February 2012

Neem God op Sy Woord

Hebreërs 13:5  God self het gesê:  “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Om God blindelings te vertrou, jou lewe in Sy hande te plaas, dis wat Hy van my en jou verwag.  Dan word sy belofte waar;  dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie.  

Ken Hom in al jou besluite.  Probeer om nie eers te doen en agterna vir God vir hulp te vra nie.  Ons kan so impulsief wees.  Maak jou behoeftes deur gebed en smeking aan Hom bekend.   Wag vir God.   Dit is een ding om jou lewe in Sy hande te plaas, dis ‘n ander saak om dit daar te laat.  Veral as jy niks sien gebeur nie.

Neem God op Sy Woord.  Hy sal jou nie teleurstel nie.

Monday 27 February 2012

Vlieg met arendsvlerke

Jesaja 40 : 31  Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Mag hierdie vers die wind onder jou vlerke wees sodat jy hoog en vry soos ‘n arend sal vlieg.  

Soms kom ‘n mens op ‘n punt waar jy soggens opstaan en voel asof jy nooit geslaap het nie.  Jy beleef ‘n doodse moegheid, selfs al het jy vroeg gaan slaap.  Jou oë en kop voel dik terwyl jy met sleepvoete badkamer toe loop.  Selfs na jou eerste koppie koffie, wonder jy steeds hoe jy deur die dag gaan kom.  Die lewe is een lang marteling. 

Daar kan ‘n mediese rede wees, maar dit kan ook wees dat jy moet ophou om alles alleen te doen.  Dalk het die tyd aangebreek om Hom toe te laat om jou met krag te vervul.  Sodra jy Hom toelaat om oor te neem, sal jy met nuwe krag vervul word en sal jy weer jou ou self word.  Die lewe sal weer ‘n vreugde vir jou word.

Sunday 26 February 2012

God van medelye

Jesus het 'n wonderlike manier gehad om deur middel van gelykenisse 'n boodskap oor te dra, maar daar is ook ware verhale wat Hy laat opteken het sodat jy die Bybel makliker kan verstaan.  Iemand se getuienis en ervaring van Sy almag is eerstehandse bewys van Sy almag.

Jesus het blindes laat sien en verlamdes laat loop!  Wat is die kanse vir iemand wat blind is om eensklaps te kan sien of vir 'n verlamde persoon om net op 'n dag op te staan en te loop?   Onmoontlik, behalwe as Jesus 'n wonderwerk laat geskied.

Weet jy wat is selfs meer merkwaardig?  Die blindes het daar langs die pad gestaan en slegs gehoor dat Jesus daar verbygaan.  In geloof het hul uitgeroep:  “Wees ons barmhartig!”  Ander het hulle stilgemaak, maar hulle het weer en weer uitgeroep.  Jesus het gehoor en gevra wat Hy vir hulle kon doen.  Hulle het versoek dat hul oë geopen mag word.  En dan staan daar die pragtige woorde in Mattheus 20:34  “En Jesus het innig jammer vir hulle gevoel en hul oë aangeraak en dadelik kon hulle sien.”  God het medelye met die mens.  Hy kom tot stilstand en hoor ‘n blinde se noodroep, maar nog meer, Hy beantwoord die hartewens van ‘n doodgewone mens.

Dalk roep jy ook vandag uit na God.  Jy is so mismoedig, magteloos en desperaat, want jy sien geen uitkoms.  Of jy nou 'n ongeneeslike siekte het, finansiële probleme, verhoudingskwessies ervaar, probleme by die werk het... dit maak nie saak hoe klein of groot jou probleem, roep uit tot God en onthou die woorde van Mattheus 20:34, want ons God het medelye met jou.  Dieselfde God wat 'n blinde kan laat sien of 'n verlamde weer kan laat loop, kan jou help met jou krisis.

Thursday 23 February 2012

Laat God se lig vandag deur jou skyn


Ps 18 : 29 U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my.

Laat toe dat God deur jou skyn, dat Hy sigbaar is in jou optrede teenoor ander. 

Partykeer dink ek mense is so gewoond aan preke en geestelike boodskappe dat hul dit nie meer hoor nie.  Dit is nou maar eenmaal so dat 'n kind veel meer leer deur 'n ouer se gedrag dop te hou as deur wat die ouer mondelings oordra.

Die motorwag wat daar op die warm teer ure deurbring om motoriste parkeerplek aan te wys en hul motors op te pas, het ook ‘n vriendelike woord nodig.  Die dame wat jou inkopies in ‘n sak pak, sal ‘n dankie waardeer.  As die supermark se tou lank is en daar is iemand met net ‘n paar items agter jou, nooi hul om voor jou te betaal.  Die persoon wat ‘n verkeerde nommer geskakel het, sal baie verbaas wees oor seënwense in plaas van ‘n afjak.  Die taxi wat voor jou indruk sal baie verbaas wees as jy vriendelik waai eerder as om obsene tekens terug te maak.  Jou kollega met wie jy nie oor die weg kom nie, het ook 'n vriendelike woord nodig.

Laat God se lig vandag deur jou skyn in hierdie donker wêreld. 

Wednesday 22 February 2012

'n Dag soos enige ander dag... of nie

Lukas 1 : 31 Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee

Elke dag het sy roetine.  Jy staan op, maak gereed om jou dagtaak aan te pak, en dag na dag verloop, sieldodend, dieselfde. Elke dag is so gewoon dat jy kan gil daarvan. 

Vir Maria was dit ook ‘n doodgewone dag toe die Engel haar besoek het.  Sy sou nooit daardie oggend kon droom van hierdie besonderse gebeurtenis nie, dat sy van alle mense uitgekies is om die Koning te baar nie.

Dalk hou vandag vir jou iets besonders in.  Dalk is vandag vir jou ‘n spesiale dag/datum.  God maak sommige dae meer spesiaal as ander.  Soms stuur Hy Engele oor jou pad, soms is jy bedoel om 'n engel vir iemand anders te wees.  Hy hou van verrasings en om gewone mense op spesiale maniere te gebruik. 


Tuesday 21 February 2012

Eer jou vander en jou moeder

Lukas 1 : 27  Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid.  Die naam van die maagd was Maria.

Maria was Jesus se moeder.  God het ‘n maagd gekies om Hom in die wêreld te bring.  Sy lewe was tot op twaalf redelik normaal en Maria en Josef het Hom sekerlik ook met liefde oorlaai. 

Daarom glo ek dat God ‘n spesiale liefde vir moeders het. Ek kan my net indink hoe Maria se moederhart geweën het toe Jesus gekruisig is. 

God ag ouers so belangrik dat Hy in Sy wet vir jou ‘n reël neerlê:  “Eer jou vader en jou moeder”.  Betoon jy liefde aan jou ouers?  Besoek jy jou ouers gereeld?  Help jy hulle waar en wanneer jy kan?  As hulle van jou afhanklik is, herinner jy hul op ‘n vernederende manier daaraan of sien jy dit as ‘n liefdestaak om vir hul te sorg? 

Moenie te laat agterkom hoe kosbaar hulle is nie.  Gee die erkenning, liefde en blomme terwyl hul nog leef.

Monday 20 February 2012

Sê nou maar...

Dat daar steeds mense is wat eerder aardse rykdom as ewige rykdom wil najaag, gaan my verstand te bowe.  Soos in 'n vroeëre dagstukkie gemeld, sê God immers dat jy nie vir jou skatte op aarde moet bymekaarmaak waar mot en roes dit kan verniel nie en Hy beveel aan dat jy eerder vir jou skatte in die hemel moet vergader.  Matteus 6 : 20  Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. 

Kan dit enigsins vergelyk met ‘n huis van ‘n paar miljoen rand?  Kan dit vergelyk met ‘n motor van ‘n paar duisend rand?  Kan dit vergelyk met al die grade agter jou naam?  Gaan God eendag vir jou vra watter posisie jy beklee het?  Watter posvlak jy bereik het?  Wat jou maandelikse inkomste was?  Waar jy gewoon het?  Verseker nie. 

Hoeveel siele jy vir sy koninkryk gewerf het?   Hoeveel jy vir ander gedoen het... sonder om iets terug te verwag?  Ja, want dit sou ewigheidswaarde hê.

Sê nou maar die oordeelsdag breek vandag aan terwyl jy nog besig is om bymekaar te maak eerder as om oor te gee? 

Sunday 19 February 2012

Jy is vrygekoop

Johannes 1:14  Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.

Dit bly die grootste bewys van God se Liefde vir die mens;  dat Hy Sy enigste Seun gestuur het om as mens uit ‘n maagd gebore te word en as mens op aarde te woon.  Hier het Hy tussen gewone mense gewoon. 

Hy weet hoe dit hier op aarde is, want Hy was ook hier.  Hy verstaan valsheid, leuens, skinder, kwaadpraat, vernedering, rugstekery, onregverdigheid, pyn, liefde...  Ten spyte hiervan, het God nie een oomblik gehuiwer om Sy enigste Seun hieraan bloot te stel nie. 

Jesus het tussen hierdie mense kom leef en 'n boodskap van liefde en hoop deur middel van Sy lewe oorgebring.  Hy het wonderwerke gedoen en gepreek deur gelykenisse.  Uiteindelik het hul Hom aan ‘n kruis gehang om vir ons sondes te sterf, soos ‘n misdadiger, saam met misdadigers... aan die middelste kruis. 

Onthou asseblief, Sy dood was nie onnodig nie.  Sy bloed het elkeen van ons vrygekoop.

Thursday 16 February 2012

God is die oase in die woestyn van jou lewe

Numeri 24:1 Bileam het nou al geweet dat die Here vir Israel wil seën, en daarom het hy nie soos die vorige kere 'n voorteken gaan soek nie. Hy het na die woestyn toe gedraai

Selfs in die woestyn van moedeloosheid, waar jy gebuk gaan onder skuld, drankverslawing, verslawing aan pornografie, prostitusie, wetteloosheid, smokkel... ook daar sal jy die Gees van God ervaar.  Die warmte van Sy liefde kan jou ook daar omvou en deurdra. 

God het Sy Seun gestuur om sondaars te red, nie om gelowiges te red nie.  Daar is hoop vir jou.  Bely jou sondes voor God, erken dat jy verkeerd gedoen het en smeek hom om vergifnis.  Hy is getrou en regverdig en Hy reken die kwaad nie toe nie. 

Die Israeliete was 40 jaar lank in die woestyn en 40 jaar lank het God voorsien en beskerm en hul na die beloofde land gelei.  God is die oase in die woestyn van jou lewe.

Wednesday 15 February 2012

Hoe lyk jou skatte?

Kompeteer jy ook met jou vriende?  Jy moet dieselfde of ‘n beter motor as die buurman hê.  Jy moet in ‘n beter buurt as jou vriende woon.  Die kinders moet ‘brand name’ klere dra sodat hulle nie uit voel wanneer hulle by ander kinders is nie.  Jy moet ‘n spesifieke maak selfoon hê of jy gaan leen geld om ook oorsee te gaan soos jou kollega.  Daagliks word jy gedryf om beter te doen en meer te hê.  Jy is jou eie grootste vyand. 

Ongelukkig het niks van dit wat jy najaag ewigheidswaarde nie.  Slegs ‘n opregte verhouding met God, het ewigheidswaarde.  So waarom dryf jy jouself so? 

Hoekom bid jy nie oor hierdie dinge en vra God om jou te lei nie.  Hy het juis gesê dat jy jou moet losmaak van alles...  Markus 10 : 21 Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: "Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!"  Dit beteken nie noodwendig dat jy nou alles waarvoor jy gewerk het moet verkoop nie, dit beteken bloot dat jy nie so vas daaraan moet wees dat jy Hom nie kan volg nie.

Tuesday 14 February 2012

Magnify His name!

Psalm 30 : 5  Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof sy heilige Naam!

Deur musiek en liriek kan ons Sy naam verhef.  Musiek is sekerlik een van die grootste geskenke waarmee God die mens geseën het.  Ook Dawid het hom verlustig in die harp en die lier. 

Musiek beskik oor die vermoë om jou op te hef en weer nuwe moed te gee.  Partykeer kom ‘n lied oor die radio en dit voel vir jou asof die lirieke net vir jou geskryf is.  Nianell sê dat haar lirieke nie van haarself kom nie, dit kom van ‘Elders’. 

Partykeer kom die woorde van ‘n lied wat jy iewers gehoor het vanself in jou kop en jy voel net om te sing.  Geestelike (Gospel) musiek beleef ‘n oplewing.  Ek dink nie God sou dit toegelaat het as dit nie binne Sy Wil is nie.  

Cliff Richard het in een van sy liedjies met reg gevra:  Why should the devil have all the good music?”  Inderdaad.  Meer en meer kunstenaars bely hul geloof deur middel van geestelike musiek.  Dit is ‘n ode aan God.  Magnify His name!

Monday 13 February 2012

As die Here die huis nie bou nie

Psalm 127 : 1  As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.

Probleme, lyding, depressie, resessie, desperaatheid – dis ‘n woordeskat waarmee jy baie bekend is in vandag se lewe.  Kyk maar net na die TV nuus om te sien hoeveel lyding daar in die wêreld is en hoe onregverdig die lewe is. 

Wêreld ekonomië stort ineen, banke speel bankrot.   Amerika is in ‘n resessie, so ook Japan en Europa.  Al meer maatskappye sukkel om kop bo water te hou en al meer mense verloor hul werk.  Waar gaan dit alles eindig?  Is daar nog hoop? 

Verseker, want God sal al jou onsekerhede en vrese wegneem.  Vertrou op Hom.  Terwyl ander wanhopig is, hou Christene aan God vas.  ‘n Christen gee nooit moed op nie, want God is hoop.  Slegte dinge gebeur wel ook met Christene, maar Christene is nooit hooploos nie. 

Laat God toe om jou huis te bou.

Sunday 12 February 2012

Die voëltjie en die wurmpie

Matt 6 : 26  Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Dag na dag swoeg en werk jy, jy maak bymekaar en jy klim die suksesleer.  Hoekom?  God beloof dan Hy sal sorg. 

Dis korrek, maar Hy sê egter nie vir jou om agteroor te sit nie of langs die strand te gaan ontspan nie.  God laat immers nie die wurmpie na die voëltjie toe kom nie.  Nee, die voëltjie moet uit die nes, in wind en weer en self die wurmpie gaan soek om te eet.  Dan sal God sorg dat daar ‘n wurmpie is.  

Werk hard, en God sal vir die res sorg.

Thursday 9 February 2012

Stry die stryd

2 Korintiërs 2 : 11 Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed.

Sou die lewe nie soveel beter gewees het, as die duiwel uit die prentjie was nie? 

Ook Jesus is deur die duiwel versoek.  Hy weet van die versoekings wat oor jou pad kom.  Soggens as jy opstaan en Bybelstudie doen, is jy vol moed vir die dag, maar die dag is nog jonk wanneer die eerste versoeking ons pad kruis;  partykeer nog voor ons die huis verlaat het.  Daarom het Hy jou geleer bid:  “en lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose”.  Bly op jou knieë.  Moet nooit ooit toelaat dat satan jou van jou vreugde ontneem nie.  As jy toegee, verloor jy die stryd.  Daar is versoekings om elke draai. 

Leer ook jou kinders sodat hulle weet wat die verskil is tussen reg en verkeerd sodat hul nie in die duiwel se strikke val nie.  Satan is jaloers omdat hy uit die hemel uitgewerp is en soos ‘n stout kind, probeer hy nou aandag trek op die verkeerde manier.

Wednesday 8 February 2012

Sy plan vir jou lewe is volmaak

Jeremia 29 : 11  Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie;

Jy is so verskriklik alleen.  Jou werkgewer het jou so pas in kennis gestel dat jou dienste nie meer benodig word nie.  Jou huwelik is tot niet.  Jy moes so pas ‘n eggenoot aan die dood afstaan.  Dit voel of jou kinders van jou vergeet het.  Jy wonder waarom al hierdie dinge met jou gebeur. 

Dit is alles deel van God se volmaakte plan.  Onmoontlik - 'n liefdevolle God kan nie dit toelaat nie.  As mens sien jy nie die volle prentjie nie, maar Hy weet die beste.  Ons kyk in 'n spieël en sien 'n raaisel.  Hy sien die groter prentjie en eendag gaan jy sien hoekom jy nou deur hierdie smeltkroes moes gaan. 

Hoe moeilik dit ook al is gedurende sulke tye, vertrou op God.  Daar sal ‘n dag aanbreek dat jy sal terugkyk met dankbare oë en weet dat Hy tog reg was;  dat Sy planne vir jou lewe volmaak is.  God is nie impulsief nie, Hy weet presies wat Hy doen.  Hy maak ook nie foute nie, dis alles deel van Sy groter plan.

Tuesday 7 February 2012

Daar is niemand soos Ek nie

Eksodus 9 : 14  Dan sal jy besef dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie.

God stel dit baie duidelik – daar is niemand soos Hy op die ganse aarde nie.  Jy kan nie jou lewe aan enigiemand op aarde toevertrou nie.  Maak nie saak hoe lief jy vir jou aanstaande is nie, hy of sy is nie God nie.  Niemand is werd om in Sy skadu te staan nie. 

En tog het God Sy Seun na die aarde gestuur om mens te word.  Die verskil is dat Sy Seun nie op die aarde gebly het nie;  Hy het opgevaar en sit aan die regterhand van God.  Daar is niemand soos Hy nie.  Hy alleen kan jou red en beskerm.  Hy alleen verhoor gebede.  Hy is God almagtig.

Monday 6 February 2012

Hy sal hul gebed nie verag


Psalm 102 : 18  Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie.

Vir ander lyk jy baie suksesvol.  Jy trek deftig aan.  Jou motor is die nuutste, mees luukse model.  Jy woon in die regte voorstad en jy staan in ‘n beroep waarop menige jaloers is.  Ander beny jou jou man/vrou en kinders, want julle lyk na die ideale gesin.  Dit is wat die wêreld sien en tog weet jy dat dit ‘n valse beeld is.  Jy ken die balans van jou rekeninge en kredietkaarte.  Niemand weet van die verskriklike rusies en ontrouheid nie.  Jou kind is aan dwelms verslaaf.  Jy is raadop. 

Hou op om jouself te martel.  Jy het die beste gedoen en jy probeer steeds, maar om die verkeerde redes.  Hou op om die wêreld en ander te beindruk.  God sien jou soos jy is.  En Hy glo in jou. Lees weer die teksvers wat Hy spesiaal vir jou vandag gee.  Vir Hom is jy ‘n wenner.  Vra Hom om jou terug te lei na die lewe; die Ewige Lewe.

Sunday 5 February 2012

Praat met God oor jou storm

Matteus 8 : 26  Hy sê vir hulle: "Waarom is julle bang, kleingelowiges?" Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword.

Te midde van die storm waardeur jy op hierdie oomblik gaan, hoor God jou hulproep.  Wanneer jy op jou swakste is, is Hy op Sy sterkste.  Hy word nie moeg nie en Hy gaan nie slaap nie.  Deur die eeue heen hou Hy wag, soos die goeie herder. 

God het die storm stilgemaak toe sy dissipels benoud geword het.  As nietige mense het hulle benoud geraak.  En dis normaal vir ons om ook benoud te raak.  Dalk is jy benoud en jy praat met ander, vra raad, vra hulp.  Geen mens kan ‘n storm stilmaak nie, slegs ons almagtige God. 

Die oomblik toe die dissipels Jesus wakkergemaak het, en met Hom oor hul kommer gepraat het, het Hy opgetree.  Omdat ek ook glo dat God alwetend is, glo ek dat Hy te midde van 'n diepe slaap presies geweet het van die storm wat gewoed het, maar Hy het dit nie uit Sy eie stilgemaak.  Hy wou hê hulle moes hul afhanklikheid van Hom erken.  Praat 'n slag met Hom oor jou storm.

Hy kan ook die storm binne jou stilmaak.  Hy kan die storm in jou tik-verslaafde kind stilmaak.  Hy kan die storm wat in jou drankverslaafde man/vrou, pa/ma of kind woed, stilmaak.  As jy raadop is en niks wil help nie, wend jou tot God.  Hy sal jou nooit teleurstel nie.  Soms antwoord God onmiddellik, soms moet jy jare lank bid.  Jou tyd is nie Sy tyd nie, maar Hy is nooit laat nie.

Thursday 2 February 2012

Die Rots

Mattheus 16 : 18  En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

‘n Rots is standvastig.  Dit is daar vir eeue en eeue en sal nog vir eeue daar wees.  Dit word nie deur stormwinde rondgeruk of deur vuur gesmelt nie.  ‘n Rots is onbeweeglik.  Dit is onveranderlik en ewigdurend.  Dit is wat Jesus Christus is. 

Hy is nie ‘n mooiweersvriend nie.  Hy gaan nie verander nie.  Hy gaan nie weg nie.  Hy is presies dieselfde en daarom kan jy op Hom staatmaak.  Daarom bou Hy Sy Kerk op ‘n rots, want die Kerk sal nooit vergaan nie.  Selfs die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Wednesday 1 February 2012

Ek prys my God elke dag!

2 Samuel 22 : 47  Die Here leef!  Ek loof Hom wat my rots is.  Ek prys my God wat my verlos het.

As jy God was, sou jy so genadig teenoor die mens gewees het?  Sou jy vir almal ewe lief kon wees en almal dieselfde behandel het?  Sou jy kon vergewe en vergeet?  Ons is immers nie almal Moeder Theresa’s nie. 

Hoekom is ons dan so onverdraagsaam teenoor ons medemens?  In 'n ou Peanuts strokiesprent sê Charlie Brown: "Ek is lief vir die mensdom, ek hou net nie baie van mense nie."   Seker omdat daar ongelukkig ook Idi Amin’s, Osama Bin Laden’s en Johan Kotze's onder ons is.

God is die ‘ultimate’ voorbeeld.  God luister na almal van ons.  Hy glo in elkeen van ons.  Hy neem ons keer op keer weer terug as ons afgedwaal het.  Hy reken die kwaad nie toe nie.  Hy is lankmoedig.  Hy is verdraagsaam.  Hy vergeef ons.  Hy Leef!  Prys Hom elke dag!

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...