Thursday 29 March 2012

Koningskind

Matteus 6 : 9  Ons Vader wat in die hemel is…

Wanneer jy glo dat jy ‘n kind van God is, is jy onafskeidbaar aan Hom gebind.  Leon Goosen sing, ook dat jou Pa die koning is en daarom is jy ‘n prins/prinses. 

Jy woon dalk in ‘n plakkerskamp of in ‘n nederige huisie in 'n minder gegoede buurt.   Daar was nie geld om verder te leer nie en dalk het jy nooit eens skool klaargemaak nie.  Jy dra nie bekende handelsmerk klere nie.  Jy maak van publieke vervoer gebruik omdat jy nie jou eie vervoer het nie en woon by iemand in die agterplaas omdat jy nie ‘n eie blyplek kan bekostig nie. 

Jy ag jouself as arm.  Volgens finansiële standaarde is jy seker arm, maar nie op geestelike gebied nie, nie as jy Sy kind is nie.  God meet nie jou rykdom aan aardse besittings nie.  By Hom is jy ‘n Koningskind, besit jy alles wat nodig is om die Ewige Lewe te mag beërwe.  

Lig jou kop koningskind en kyk op na jou Vader in die Hemel - Hy is onuitspreeklik lief vir jou.

Wednesday 28 March 2012

Om wind na te jaag

Prediker 1 : 14  Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk: alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind.

Vryheid is vir baie van ons slegs ‘n droom.  Ons is gevangenes van tyd.  Dalk moet jy vandag erken dat ook jy een van die gevangenes is. 

Ons jaag wind na.  Ons boeie is is geld en besittings.  Ons sel is die leer na sukses.  Die Engelse praat van “The 3 P’s: Prosperity, Possessions, Power.”  

Elke oggend klim jy op die ‘roller coaster’ van die lewe, saans val jy doodmoeg daaruit.  Eet, slaap en môre... is presies dieselfde.  Jy klim die korporatiewe leer, en jy ding met die bure mee.  Daar is altyd nog iets wat jy moet hê of nog iets wat jy moet bereik.  Jy is so besig met die dinge van die wêreld dat jy nie tyd het vir die dinge van die ewigheid nie. 

God beloof algehele vryheid.  Wat 'n paradoks!  Gee jou hele lewe aan Hom oor om totaal vry te wees.  Jy moet laat gaan en laat God om ware vryheid te smaak.  

Tuesday 27 March 2012

As Hy weer kom...

Kolossense 3 : 4  Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Die ou Hallelujah liedjie, "As Hy weer kom", weerklink dalk ook steeds in jou geheue.  Dit is hoe menige kind van die Wederkoms geleer het.  God kom eendag om sy pêrels te haal:  “al die skones, al die wittes vir Jesus se kroon”. 

Met hierdie eenvoudige liedjie is ‘n saadjie gesaai.  Dalk was dit toe reeds jou begeerte om eendag een van daardie pêrels te wees wat Hy kom haal.  Is jy steeds daarvan seker dat jy eendag Hemel toe gaan?   Sien jy steeds met afwagting daarna uit?  Leef jy met die wete dat jy jouself vir die hiernamaals voorberei?  Of het jy afgedwaal? 

Leef en tree elke dag so op dat jy verseker daarvan kan wees dat jy wel Hemel toe gaan.  Daar is geen waarborg nie, maar daar is sekere vereistes.  Jy moet wedergebore wees.  Jou hart moet aan Hom behoort.  Jy moet ‘n kind van God wees.

As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy Sy pêrels, al die skones, al die wittes, vir Jesus se kroon...

Monday 26 March 2012

Om in wanhoop uit te roep

Psalm 61 : 3  Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U. Bring my op 'n rots waar ek veilig sal wees.

Jy ken daardie mismoedige gevoel wanneer jy in ‘n put van wanhoop beland het.  Hoe jy ook al redeneer of planne maak, jy weet nie watter kant toe nie.  Jy is totaal platgeslaan.  Dis dan dat jy begin rondkyk.  Wie kan jou help? 

Die waarheid is, dat wanneer dit met jou sleg gaan, jou sogenaamde vriende ook verdwyn het.  Deur God en mens verlate.  Nee, God verlaat jou nooit nie.  Hy dring Homself net nie aan jou op nie.  Al wat jy moet doen, is om Hom aan te roep.  Hy sal jou help. Ophelp.  Hy ken jou seer, jou mislukking, jou teleurstellings. 

‘n Mens moet mislukking ervaar om sukses te waardeer.  Jy moet kruip voor jy kan loop.  En dit beteken nie dat jy nooit weer sal val nie, maar om op te staan en weer te probeer, dit maak van jou ‘n wenner.

Sunday 25 March 2012

Alles of niks

Openbaring 22 : 13  Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.

Wanneer jy geestelike volwassenheid bereik, is God jou Alfa en Omega, jou begin en ook jou einde.  Jou hele lewe is oorgegee aan Hom.  Jy leef in totale afhanklikheid van Hom.  Jy vertrou Hom met elke fasset van jou lewe.  Elke besluit word met Hom bespreek.  Hy lei en jy volg. 

Daar is geen middeweg nie.  Dis óf alles óf niks.  Wonderbaarlik besef jy dat dit juis dàn is dat presies dit vir jou genoeg is; dat jy niks kortkom en nooit alleen is nie. 

God ken elke gedagte van jou, nog voor jy dit in woorde omgesit het en Hy is steeds in beheer, tot die bittereinde... en daarna.

Thursday 22 March 2012

Hoor jy die klop?

Kyk, ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor... (Openb 3:20)

Hoe lank gaan jy jou nog doof hou vir die klop aan jou hart se deur?  Weet jy wanneer jy gaan sterf?

Moenie die geleentheid laat verbygaan nie.  Jesus roep na jou.  Hy wil ‘n verhouding met jou hê. 

Partykeer wens jy dat God jou net so ‘n bietjie met rus wil laat.  Ek wil nog net ‘n jaar lank partytjie hou saam met my vriende, dan sal ek tot bekering kom.  Ek wil nog net 3 maande lank dobbel voor ek op Sy roepstem sal antwoord.  Ek wil nog net hierdie maand daardie geld uit die maatskappy ‘leen’ dan sal ek ophou. 

My liewe medemens.  God klop nou.  Hy wil nou inkom.  Hy wil hê dat jy Hom nou innooi in jou lewe en onmiddellik breek met die sonde.  Moenie dat dit vir jou te laat word en dat Hy onverrigtersake moet wegdraai van jou nie.  Daar is trane wat oor Sy wange loop... vir jou. Hy is so lief vir jou.  Hy wil jou red... vandag... nou.

Wednesday 21 March 2012

Genade

Jesaja 33 : 2  Wees ons genadig, Here, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood.

Niemand van ons weet wanneer ons laaste uur gaan aanbreek nie.  Jy kan vannag jou kop op die kussing neerlê en nooit weer wakker word nie.  Jou man/vrou of kinders kan jou vanoggend tot siens soen en later uitmekaar geruk word as een van julle in ‘n ongeluk betrokke is. 

Daarom behoort jy elke oggend as jy jou oë oopmaak vir God dankie te sê vir Sy genade; dat Hy jou deur die nag bewaar het en dankie dat jy ‘n nuwe dag tegemoet kan gaan.  Elke nuwe dag is ‘n gawe uit Sy hand.  Niks is vanselfsprekend nie. 

Jy mag dalk lewe asof daar nie ‘n môre sal wees nie, of jy mag dalk nog 100 jaar oud word.

Tuesday 20 March 2012

Swerwers

Matteus 11 : 28  Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee

Is jy tot die dood toe moeg?  Wonder jy ook party dae of dit alles die moeite werd is? 

Party dae voel jy soos iemand wat op een van daai “spinning bikes” is.  Jou kop is om laag en jy trap vir ‘n vale, maar jy kom nêrens.  Dit bly ‘n stryd om oorlewing, die ewige soektog, die gejaag na wind. 

Ons is almal swerwers totdat ons rus vind in God.  

Realiteit is dat ons met oogklappe deur die lewe gaan.  Ons is so besig om te oorleef dat ons vergeet om ons laste vir Hom te gee.  Soms gee jy dit en wanneer jy opstaan en voortbeweeg tel jy dit op en sleep dit verder saam.  Laat gaan en laat God.

Monday 19 March 2012

Algehele vergifnis

Jesaja 1:18  Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu

Dit moet sekerlik ‘n moeilike begrip vir ‘n enigiemand wees.  Dat God jou, jou sonde so totaal en al kan vergewe.  Hy sal nooit ooit weer daarna verwys nie.  Wanneer jy die dag jou sondes belei het en God se vergifnis gevra het, is dit vergete. 

As mens haal ons so dikwels ou koeie uit die sloot en daarom is dit vir ons seker moeilik om te glo dat God dit waarlikwaar agterlaat.  God hou nie ‘score’ nie.  As hy jou vergewe het, is dit ou nuus. 

En daarin lê ook ‘n les vir ons elkeen opgesluit dat ons ander so moet vergewe.  Mag jy as Christen groei om elke dag meer en meer soos Hy te wees.  As daar iemand is wat jy moet vergewe, vergeef hul soos God jou vergewe.

Sunday 18 March 2012

Strek jou uit

Filippense 3 : 13  Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

Dink net daaraan... as gereddene, is die Hemel jou beloning.  Dat ons eendag in die hemel sal wees saam met God, is die bestemming waarna elke Christen streef. 

Dit beteken dat jy alles wat jou terughou, moet losmaak en afskud.  Geen atleet kan ‘n wedren wen terwyl hy met ‘n tou aan die wenstreep vasgemaak is nie.  Die atleet se klere en houding is sodanig dat daar so min as moontlik wind weerstand is.  Wanneer hy naby die eindpunt is, strek hy homself uit om die wenstreep te bereik. 

God beloof self dat daar geen trane of hartseer meer in die hemel sal wees nie.  Tog bly klou jy aan die wêreld vas.  Jy bly vasgemaak aan die wenstreep en kom sodoende nooit uit die blokke om die wedren te wen nie.

Thursday 15 March 2012

Vorm my

Jakobus 4:8  Nader tot God en Hy sal tot julle nader

Wanneer jy ‘n Christen word, is dit maar net die begin.  Daarna moet jy God toelaat om jou te vorm en te brei. 

Dis ‘n vennootskap.  Elke pragtige glas voorwerp waarna jy kyk, moes eers in ‘n vuuroond ontsettende hitte deurstaan, alvorens dit gevorm kon word tot die pragstuk wat dit nou is. 

Terwyl God jou vorm, groei jy nader aan Hom.  Dis so ‘n gerusstellende gevoel.   Mag dit ook jou versugting wees:  "Vorm my vandag, dierbare Vader."

Wednesday 14 March 2012

'n Reddingsboei

Matteus 6 : 30  As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

Algehele, blindelingse vertroue op God; dis nie maklik nie.  Veral nie as dinge gebeur wat jou totaal en al ontspoor nie.  Kleingelowig?  Nee, net 'n feilbare, bang mens omdat ons ons perke ken.

Neem jy God op sy Woord?  Maak nie saak wat gebeur nie, Hy sal voorsien!  Lees hierdie sin in hoofletters.  Maak dit jou mantra wanneer storms jou tref.

Geen mens kan in elke behoefte van ons voorsien nie.  Ons leef in onseker tye.  Meeste van ons is al deur herstrukturering of ken iemand wat al daardeur is.  Die ekonomie ry wipplank.  As jy na die politiek kyk, wil jy histeries aan die lag gaan.  Elke dag is daar ‘n meer absurde skok wat jy moet absorbeer.  Die spreekwoordelike mat is onder jou uitgeruk en jy hang onseker in die lug.  Jy dobber onseker rond.  Waardes bestaan nie meer nie.  Daar is geen dissipline nie.  Wetteloosheid is aan die orde van die dag.  

Te midde van al hierdie dinge, gooi God ‘n reddingsboei na jou en my.  Al val die berge rondom ons, Hy sal sorg.  Dank God!

Tuesday 13 March 2012

Die omvang van Sy liefde

Geen lengte of breedte of diepte of hoogte,  kan my skei, van U liefde...  Dit is God se belofte in Romeine 8 : 38 & 39. 

Hieruit is dit duidelik dat God nooit sal toelaat dat enigiets tussen jou en Hom sal kom nie.  Hy het jou onuitspreeklik lief.  Dalk wonder jy ook soms of jy as mens Sy liefde waardig is.  Daagliks word jy gekonfronteer met die onbetroubaarheid van mense.  Jy sien elke dag hoe mense mekaar in die rug steek of in die steek laat.  Mense trou en skei, want die liefde wat hul gevoel het, het verander of verdwyn. 

Genadiglik is God se liefde anders.  Dit is standvastig en onwankelbaar.  Hoe vergoed jy Hom vir hierdie liefde?  Is jy elke dag getrou aan Hom? 

Die grootste gevaar is om God se liefde of Homself as vanselfsprekend te aanvaar.  God is nie ‘n mooiweer-God nie.  Hy is daar deur die donker dieptes, deur elke moeilike ervaring, maar ook tydens die oomblikke van vreugde is Hy daar. 

Is dit nie tyd dat jy die omvang van Sy liefde besef en elke dag daaraan werk om Hom net so lief te hê nie?

Monday 12 March 2012

Vreugdes en hartsbegeertes

Psalm 37:4 Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer

As Christen behoort jy elke oggend met ‘n lied in jou hart op te staan, sodat jy jou vreugde in Hom vind. 

Daar is meer as genoeg rede daarvoor.  Hy bewaar jou deur die nag.  Jy is gesond.  God het jou dalk geseën met ‘n eggenoot en kinders.  Jy het genoeg om te eet.  Sodra jy jou oggendtakies afgehandel het, is jy op pad werk toe.  Jou huismense is versorg en God stap saam met jou deur die dag tot jy vanaand weer terugkeer na ‘n warm huis... 

Dalk is jy nie heeltemal so geseënd nie.  Het jy al jou vreugde in Hom gevind?  Hy beloof, as jy dit doen, sal Hy jou die begeertes van jou hart gee.

Sunday 11 March 2012

Afgedwaal?

Johannes 10 : 11  Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

Hoe dwaal ‘n skaap af?  Hy wei, kyk op en sien ‘n groener polletjie verder, loop daarheen... wei... kyk op... en so hou hy aan totdat hy ewe skielik besef hy’t heeltemal van die res afgedwaal. 

Presies net so word ons aandag ook van God afgelei.  Jy word in 'n Christelike huis groot, gaan gereeld kerk en Sondagskool toe.  Soms werk jy lang ure, soms is jy eenvoudig moeg, soms het jy net nie lus om jou Bybel te lees of  kerk toe te gaan nie - afgedwaal? 

By geleentheid gebruik jy 'n drankie of rook 'n sigaret om nie uit te wees en kort voor lank koop jy jou eie drank/sigarette, drink gereeld...  drink alleen... raak afhanklik van drank - afgedwaal?

Jy word saamgenooi na ‘n partytjie en daar wil jy deel van die groep wees so jy neem ‘n drankie, gee toe aan die groepsdruk en gebruik dagga.  Met die volgendepartytjie gebruik jy ecstacy... tik...ens en so gaan jy aan en kort voor lank is jy verslaaf – afgedwaal?

Eers laat jy die outjie toe om jou te soen, dan vat hy hier en later daar en voor jy jou kom kry het jy jou maagdelikheid verloor - afgedwaal?

Die goeie herder sal jou weer vind en jou teruglei, want Hy het reeds Sy lewe vir jou afgelê.

Thursday 8 March 2012

Hoor jy nie die klop?

Matteus 7 : 7  Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word

Hoe lank moet Hy nog klop voor Hy gaan wegdraai en jy die belangrikste ontmoeting van jou lewe gaan misloop?  Maak oop die deur, nooi Hom in.  Gee Hom ‘n kans. 

Wat kan jy verloor?  Drank of dwelms bring tydelike verliging, maar kort voor lank is die leemte weer daar.  Jy het al alles in die lewe probeer en elke keer agtergekom dat dit weereens tevergeefs is.  God het sy oog op jou, Hy sien jou pyn en verwarring.  Hy klop aan die deur van jou hart en Hy wil inkom. 

Hy belowe nie dat jy daarna nooit weer na drank of dwelms gaan smag nie, dat niemand jou weer in die steek gaan laat nie of dat daar dan nooit weer iets sleg met jou sal gebeur nie, maar Hy sal by jou wees en jou daardeur dra.  Al wat jy hoef te doen is om jou sondes te bely en Hom in jou hart in te nooi as jy Hom as jou Saligmaker en Verlosser aanneem. 

En nee, jou sondes is nie te erg vir hom nie. 

Wednesday 7 March 2012

Jou oog op die wenpaal

1 Korintiërs 9 : 26  Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie.

Dit is seker die mees onseker tyd waarin jy leef.  Alle pilare is besig om te verkrummel. 

Maatskappye wat al dekades bestaan (groot name) gaan bankrot. Wat voorheen verkeerd was, is nou reg.  Waarvoor mense vroeër tronk toe gegaan het, is nou aanvaarbaar.  Die ekonomie is in ‘n warboel, wêreldwyd.  Politiek oorheers.  Oorloë dreig.  Moord en doodslag is hoofnuus.  Mense neem eerder deel aan sport (of kyk daarna) as om kerk toe te gaan. 

Dis die tekens van die tye, maar God is groot.  Te midde van dit alles is Hy steeds in beheer, is Hy steeds op die troon.  Hou jou oog op die wenpaal, Jesus Christus, en moet nooit jou doel uit die oog verloor.

Tuesday 6 March 2012

Wees jy net jy

Jy is ongedurig met jouself.  Jy streef altyd na iets meer, om meer soos iemand anders te wees.  Jy beny ander hul figuur, hare, kleur, persoonlikheid... Jy kyk na ander en meet jouself aan hulle en so bly jy voortdurend onseker van wie jy is en wat jou eie waarde is. 

Genesis 1 : 27  God het die mens geskep as Sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep... 

Nie alleen het Hy jou gemaak nie, maar Hy’t jou selfs volgens Sy beeld gemaak.   Dink jy God is nie heeltemal soos Hy moet wees nie?  Nooit!  Juis, daarom is jy ook perfek net soos jy is.  Jy is uniek, spesiaal; die bloudruk.  Daar is niemand anders soos jy nie.  Hoekom bevraagteken jy die kwaliteit van Sy handewerk? 

Wees jy net jy, soos die Here jou gemaak het.  Sy oog is op jou, sy oogappel.

Monday 5 March 2012

Opstaantyd!

Psalm 37 : 34  Vertrou op die Here en bly op sy weë; Hy sal jou weer laat opstaan ...

Jare gelede toe ek deur ‘n krisis gegaan het, het iemand die volgende vir my gesê:  “Jy kan een van twee dinge doen.  Jy kan óf op ‘n hopie gaan sit en huil, óf jy kan opstaan en wys wat in jou steek.  En as jy gaan sit en huil, gaan jy alleen huil.”  Dit was harde woorde aan ‘n persoon wat alreeds platgeslaan was, maar dit het my laat opstaan en sommer gou ook. 

Dit is nodig om te rou.  Dit is nodig om ‘n krisis te verwerk, maar die een of ander tyd moet jy weer op daardie fiets klim waarvan jy afgeval het. Francois de Chateaubriand het gesê:  Daar is niks mee verkeerd om in stof en as te gaan sit as jy ‘n fout gemaak het of baie seergekry het nie…  maar dis verkeerd om daar te bly…” 

Hoe gouer jy opstaan en aangaan, hoe gouer bly die krisis agter en vergroot die afstand tussen jou en die krisis sodat jy weer perspektief vind.  En voor jy jou kom kry, is jy weer bo-op die heuwel van die lewe, waar die son vol op jou skyn. 

Sunday 4 March 2012

God sal voorsien

Romeine 8:31  As Hy vir jou is, wie kan teen jou wees.

Ons is almal al iewers in ons lewens, teleurgestel deur mense.  Menigeen het al besef dat hy/sy die verkeerde persoon vertrou het. 

Ongelukkig kan jy nooit regtig weet wat ander dink of aan wie se kant die ander persoon is nie, maar van een ding kan jy seker wees.  God kies nie kant nie.  Hy is vir jou en daarom kan jy in oorwinning leef en hoef jy jouself nooit ooit te verwyt oor goeie voornemens wat verkeerd uitgedraai het nie. 

Watter onreg ook al teenoor jou gepleeg is, God is 100% bewus van albei kante van die storie en Hy slaap nie.  Dalk is jy een van die goedgelowiges wie se pensioen belê is in ‘n piramide skema...  Of jou oordeel het jou in die steek gelaat en jy't vir iemand geld geleen wat nooit beplan het om dit terug te betaal nie...Na ‘n huwelik van dertig jaar, wil jou man jou verlaat vir ‘n jonger vrou...  Jy het iemand met jou hele lewe vertrou en nou het jy niks.  Jy soek geregtigheid.

Glo vandag, God sal voorsien!  Hy sal jou weer optel.  Hy sal jou deurdra.  Moenie toelaat dat satan jou beroof van die mooi wat God jou beloof het nie.

Thursday 1 March 2012

Bid en jy sal ontvang

Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. (Jak 4:2)

Om onvoorwaardelik en blindelings te glo en daarmee saam jou algehele vertroue in God te plaas, is vanuit ons menslike oogpunt moeilik.  Ons lewe word so maklik deur twyfel beheer.  God maak dit so eenvoudig, vra en jy sal ontvang.  Hy sê ook:  "Julle kry nie, omdat julle nie vra nie."

Jy wil God beperk.  Jy sê: “dit wat ek van God vra is eenvoudig nie moontlik nie,” of "ek kan nie vir God met so 'n kleinigheid pla nie."  En jy’s reg.  Dit is menslik nie moontlik nie, dis 'n kleinigheid, maar God is nie ‘n mens nie.  Niks, maaar niks is by hom onmoontlik of te klein nie.  Jy dien ‘n onbeperkbare God.   Die mens kompliseer dinge, nie God nie.  

Bid en jy sal ontvang.  Vra en vir jou sal gegee word.  Gaan sommer nou op jou kniee en bid.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...