Thursday 28 June 2012

Reën van seën

As kind van God, staan jy ook ontbloot voor die elemente. Job 37 : 13 God stuur die storm óf om te straf  
óf om vir die aarde te sorg óf om sy liefde te toon.  

Slegte dinge tref nie net ongelowiges nie.  Met die Laingsburg vloed, was daar kinders van God wat ook alles verloor het.  Meer as ‘n honderd mense het gesterf, van hulle Christene.  Baie mense het egter ook die vloed oorleef. 

Dieselfde God wat reën stuur, beheer ook die krag van die natuur.  Hy kan die magte van die natuur rondom jou laat woed en jou deur dit alles veilig hou.  Daar is hoeveel stories van wonderbaarlike ontkominge gedurende die Tsunami in Thailand.  Getuienisse van God wat Sy hand van bewaring oor mense kan hou.  Wanneer Hy neerreën op jou, is dit reën van seën.

Wednesday 27 June 2012

Wanneer God voorsien

Filippense 4 : 19  En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien...

Wat ‘n gerusstellende wete:  God kan in elke behoefte van my voorsien.  Niks is onmoontlik by God nie.  Genesis 22 : 8  Abraham het geantwoord: "My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.  Jy kan soos ‘n kind glo dat jou Pappa Vader sal voorsien en die seker wete beleef dat Hy jou nog nooit in die steek gelaat het nie.   

Daar is soveel onenigheid in die wêreld om jou.  Niemand gun enigiemand enigiets nie.  Nasies maak oorlog teen mekaar.  Dit is ‘n magstryd.  Te midde van die oorlogstryd, haat en misdaad, is daar ‘n oase van vrede:  God.  Hy hou die hele wêreld in Sy hande en Hy sorg vir diegene wat Sy Naam aanroep.  Niemand sal Israel ooit kan oorneem of afneem nie, want God het vir Israel voorsien.

Tuesday 26 June 2012

'n Nuwe lewe

Wanneer jy jou lewe aan God oorgee, lê jy ook die vorige lewe van sonde af.  Jy het geen erg meer aan die wêreldse dinge nie.  Galasiërs 6 : 14  want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.  

Die eens hoogmoedige mens word ‘n nederige persoon wanneer jy aan Sy voete kniel.  Jesus het verwag dat die ryk man al sy besittings moes verkoop alvorens hy Hom kon volg.  God wil nie hê dat enigiets jou aandag aftrek van Hom.  Daarom is totale oorgawe nodig.  Jy sterf as’t ware die ou lewe af alvorens jy die nuwe lewe in Christus tegemoetgaan.

Monday 25 June 2012

Volg die Lig

Lukas 18 : 19  Jesus het geantwoord: "Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen.

Wanneer ‘n skipper op die stormsee vaar en afhanklik is van sy toerusting om hom te verseker dat hy nog veilig is, is dit ‘n lighuis se flikker-sein, wat gemoedsrus bring.  Lig is ‘n teken van hoop.  ‘n Lighuis se lig kan ook ‘n waarskuwing inhou en jou lewe red. 

So is God ‘n lig in die mens se bestaan.  In jou donkerste oomblikke is Hy die liggie van hoop.  Sy lig skyn altyd, dag of nag.  Dit is jou baken van hoop en dit bied ook rigting uit die storm waarin jy jou bevind.  As jy bang is vir die donker, volg die Lig, want Hy is goed.

Sunday 24 June 2012

Om te sink of nie

Lukas 7 : 23  En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie. 

Wanneer dinge vir jou onmoontlik lyk, twyfel jy aan die mag van God, want jy dink dit is nie vir jou moontlik nie.  Moenie God verlaag tot menslike vermoëns nie. 

Hy het vir Petrus geroep in Mattheus 14 : 29:  “Kom!”  Petrus het uit die skuit geklim en op die water na Jesus toe begin loop.  Dit was toe hy sy oë van Jesus weggeneem het dat hy gesink het.  God roep jou ook:  “Kom!”  Gaan jy hom vertrou?  Dalk moet jy 'n groot besluit neem waarvoor jy bang is.  As jy met God daaroor gepraat het, kan jy Hom maar vertrou.

Dit is wanneer jy twyfel dat jy sink.  Hou jou oog op Hom sodat jy nie twyfel nie.  Jy kan dit doen. 

Thursday 21 June 2012

'n Omgee God

Soos ‘n kind staan jy elke dag in verwondering voor Sy grootheid. 

Elkeen van ons kan wonderbaarlike stories vertel van God se sorg en ontferming.  Sy liefde ken geen einde nie.  Jy weet dat Hy slegs sover is as wat jou knieë van die grond is.  Jy bid en jy ontvang in oorvloed.  Hy doen wonderwerke in jou lewe en keer op keer verstom Hy jou.  Jeremia 32 : 17  Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie.  

Soms vra jy die onmoontlike en dan staan jy oopmond in verwondering voor wat Hy vermag.  Soms dink jy net aan iets en dan ontvang jy, want hy ken elke gedagte van jou.  Hy gee jou die begeertes van jou hart.  Of ons dit altyd verdien is debateerbaar, maar dit bly ‘n wonder dat God soveel vir Sy skepsels kan omgee dat Hy persoonlik betrokke raak.

Wednesday 20 June 2012

Skepsels van 'n Lewende God


Jy kan slegs in algehele verwondering staan voor die almag van God en die skepping.  Dat Hy die hemel en die aarde, die see en alles daarin, die aarde en alles daarop, in sewe dae geskape het.  (Genesis 1)  

Dit was ook nie ‘n gejaagde poging nie.  Alles is volmaak, daar is na die fynste besonderheid opgelet.  Daarvan getuig die menslike liggaam seker die meeste.  Of jy nou mediese kennis het of nie, jy kan nie anders as om verstom te wees dat miniatuur spiertjies ‘n hand of oog kan laat werk nie.  Dat die brein prentjies ontvang en interpreteer in beelde, dat die hart bloed pomp en saam met ‘n span ander organe, soos die lewer, niere en longe uiteindelik ‘n menslike wese vorm. 

Jy het verstand om te redeneer.  Jy ontwikkel van ‘n bevrugte eierselletjie in ‘n baba wat in verskillende fases ontwikkel tot ‘n volwassene.  Die natuur bied nog ruimte vir verwondering.  Lewegewende reën wat slegs van God kom.  ‘n Voël in vlug, die intelligensie van ‘n dolfyn... Ja, ons is inderdaad kinders en  skepsels van ‘n Lewende God.

Tuesday 19 June 2012

Wonderwerke

Toe die Egiptenare op hul perde daar agter Moses aangejaag het om hulle terug te bring na Egipte, het God deur die Dooie See ‘n pad gemaak vir Moses en die Israeliete.  Eksodus 14 : 22  Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos 'n muur gestaan.  Dit klink verregaande, maar dit is hoe magtig God is. 

Terwyl Moses die volk op droë grond deurgelei het. het die Egiptenare agter hul verdrink.  God het mos belowe dat Hy saam met hulle sou trek.  Toe dit warm was het Hy ‘n wolk oor hulle gehou, toe hulle honger was, het Hy vir hulle manna uit die hemel gestuur.  Elke dag het Hy vars manna gestuur sodat hulle nie eens nodig gehad het om manna oor te hou nie. 

In die Bybel is daar vele voorbeelde van die wonderwerke waartoe God in staat is, maar God het nie opgehou om wonderwerke te doen toe die Bybel klaar geskryf is nie.  Jou blote bestaan, op sigself, is ‘n wonderwerk.  God wil ook vandag 'n wonderwerk in jou lewe verrig. 

Monday 18 June 2012

'n Goue kalf

Israel het op ‘n stadium opstandig en ongeduldig met God en Moses geword en toe vir hulle ‘n goue kalf gemaak wat hulle aanbid het.   Eksodus 32 : 19  Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg.  

Raak jy ook ongeduldig met God?  Jy het darem nog nie vir jou ‘n goue kalf gemaak nie, maar jy lees nie meer jou Bybel nie en jy bid lankal nie meer nie.  Jy weet nie wanneer laas jy in ‘n kerk was nie.  Wie se skuld is dit nou eintlik?  Dink jy dat God nie meer omgee nie, omdat dit met jou swaar gaan? 

‘n Verhouding kan nie bestaan as dit net van een kant kom nie.  Hy is steeds daar, wagtend op jou.  Hy wil jou help.  God is ontsettend lief vir jou.

Sunday 17 June 2012

My hele lewe

Genesis 28 : 15  Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie.  Ek sal doen wat Ek jou beloof het."

Hanli Slabbert sing 'n lied, Place on Earth.  "All of my life, you have been with me, my comfort in loneliness, my hope in the dark.  All of my life, Lord please stay with me, be my sustaining breath, guardian of my heart..."


Hanli en haar man is deur diep waters toe hul plaas in Zimbabwe beset is deur oorlogsveterane.  Haar getuienis is asemrowend.  Sy het vir die geweldenaars gebid en nogtans gejubel oor Sy alomteenwoordigheid deur die beproewing.  Op ‘n stadium het sy die plaas verlaat terwyl haar man agtergebly het, veilig in God se hande.  Haar versugting en smeking is dat God altyd by hulle bly, want sy weet dat Hy die groot Beskermheer is. 

Thursday 14 June 2012

Ou Koeie

1 Johannes 1 : 9  Maar as ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

God is ‘n genadige God.  As jy jou sondes bely en ware berou toon, sal Hy jou jou sondes vergewe.  Dit beteken nie dat jy dit elke nou en dan kan doen en maar net eenvoudig aanneem dat God jou elke keer sal vergeef nie.  Moenie sy genade beproef nie. 

Dit gebeur ook dat God jou lankal vergewe het, maar jy bly aan karring oor ou koeie.  Jy is die een wat jouself nie kan vergewe nie.  Hoekom aanvaar jy nie Sy vergifnis nie?  Sy genade is immers verniet.  Wanneer jy ware berou het, sal Hy jou sondes vergewe.

Wednesday 13 June 2012

Judas

Johannes 13 : 2  Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai.

Judas was een van Jesus se dissipels d.w.s. hy was in die binnekring.  Toe die duiwel vat kry in sy lewe, het hy die ondenkbare gedoen.  Hy het Jesus verraai vir 30 stukke silwer.  Hy het later spyt gekry en dit teruggeneem na die priesterhoofde (Matt 7 : 3) en uiteindelik sy eie lewe geneem (vers 5). 

Jy kan jouself die wroeging indink wat Judas moes deurgaan.  Ek en jy maak ook soms foute.  Jy het Jesus dalk ook al verloën sodat jy in die kring waarin jy beweeg kan inpas.  Wil jy in sonde sterf?  Jou lewe is veel meer werd as dit.  Staan op vir Jesus – Hy het reeds opgestaan vir jou.

Tuesday 12 June 2012

Almal doen dit

Danksy die hoogste prys wat Jesus Christus aan die kruis betaal het, is jy gered van jou sondeskuld.  Sy sterwe het jou bevry.  God se onbaatsugtige offer, sy Seun, het aan jou die Ewige Lewe besorg.  J

y lewe in ‘n wêreld waar dit elkeen vir homself is.  Jy vat wat jy kan kry en jy trap op ander om bo uit te kom.  ‘n Wit leuntjie hier en ‘n paar penne wat jy wegdra van die werk, is mos nie sonde nie.  As jy obsene tekens wys vir ander motoriste, as jy te veel kleingeld ontvang sonder om die kassiere daarop attent te maak, as jy te veel drink, as jy vloek, as jy afskrifte maak van DVD’s... almal doen dit tog. 

Is dit hoe jy Hom bedank vir die offer wat Hy gebring het?  In Romeine 10 : 9 sê Hy wat Hy verwag:  Hy verwag dat jy met die mond bely dat Hy Jesus die Here is, en met die hart sal glo dat God Hom uit die dood opgewek het.  Alleenlik dan, sal jy gered word.

Monday 11 June 2012

Om beroemd te wees

Op TV word jy op hoogte gehou van die lewens van belangrike mense.  In die koerante word daar meesal berig oor mense wie se name aan Jan-en-alleman bekend is.  Daar is ‘n sug na roem en erkenning.  Sekere beroemdes laat die sirkulasiesyfers van tydskrifte die hoogte in skiet. 

Ongelukkig skep dit die indruk dat net die doen en late van die rykes en beroemdes, nuuswaardig is.  Gewone mense voel minderwaardig, gemeet aan wat hulle bereik het.  Maar as jy alles van hul wegneem, wat het hulle oor?  Kan die roem of rykdom vir hulle ‘n plek in die hemel koop?  Markus 10 : 25  Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom. 

Daarmee wil ek nie voorgee dat geen beroemde of vername persoon ooit die hemel sal betree nie.  Ek weet net dat jy veel ryker is as Jesus alles in jou lewe is, as wanneer jy alles behalwe Jesus in jou lewe het.

Sunday 10 June 2012

Op elke moontlike en onmoontlike plek

Habakuk 3 : 19  Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

‘n Ribbok het die vermoë om op die hoogste klipkoppies en randjies te loop en selfs te spring, sonder dat hy enigiets oorkom.  God het hom gemaak, uniek, soos elke ander dier op die aarde.  Net soos wat Hy die ribbok veilig hou op die hoogste plekke, so hou hy jou ook veilig, elke dag. 

Daarom behoort jy nie die vergadering te vrees wat jy vandag moet bywoon nie, ook nie die tiran van ‘n kantoorhoof nie.  Jy hoef nie bang te wees vir die toets of eksamen wat jy vandag moet skryf nie en ook nie dat jy nie jou bestuurderslisensie sal kry nie. 

Hy stap saam met jou op elke moontlike en onmoontlik plek en Hy hou jou veilig.

Thursday 7 June 2012

Om voort te ploeter of nie


1 Petrus 5:7  Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Dit kan net ‘n onbaatsugtige grootte God wees wat bereid sal wees om almal se laste te dra.  Sy liefde is so ver bo ons begripsvermoë.  Hy het jou so lief dat Hy Sy Enigste Seun gestuur het om ‘n kruisdood te sterf sodat jy volkome vry kan wees. 

In Sy Woord vra Hy jou uitdruklik om daardie hopie bekommernisse wat jy saamsleep aan Hom te oorhandig.  En Hy wil vir jou sorg.  Jy sorg vir jou familie, jy werk lang ure, word min betaal.  Jy hoop om eendag ‘n werk te vind waarvan jy hou.  Jou verhoudings is nie wat dit moet wees nie en jy voel so oorlaai met bekommernisse.  Elke oggend staan jy op met die hoop dat vandag beter sal wees.  Elke nuwe jaar hoop jy dat vanjaar jou jaar gaan wees. 

God hou Sy hand na jou uit.  Hy wil jou las ligter maak en vir jou sorg en al daai bekommernisse op Hom neem sodat jy ‘n slag net kan ontspan en laat God.  Gaan jy die uitnodiging aanvaar of gaan jy voortploeter met daai hopie bekommernisse.

Wednesday 6 June 2012

Losgekoop

Galasiërs 3 : 13  Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: "Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is."

As dit nie vir Jesus se kruisdood was nie, waar sou ons vandag gewees het?  Sou God nie lankal moed opgegee het met die mensdom en die aarde liewer net vernietig het nie? 

Tog het Hy sy Woord gestand gedoen.  Hy het voortdurend beloof dat Hy ‘n Verlosser sou stuur om ons los te koop.  Die Verlosser is gebore, gekruisig, begrawe en het opgestaan.  Dank God dat Hy ook opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die Hemel van waar Hy eendag sal terugkom om ons te haal om vir altyd by Hom en Sy Vader te wees. 

Tuesday 5 June 2012

As ander Jesus in jou kan sien

Psalm 86 : 17  Maak my 'n voorbeeld van u goedheid, sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.

Volgens die sensus opnames, is die grootste deel van Suid-Afrika se bevolking Christene.  Deesdae loop almal en preek.  Geykte frases word aangehaal sonder dat dit opreg bedoel word. 

Sommige sakemanne adverteer dat hulle sake doen volgens goeie Christelike beginsels.  Realiteit is dat jy kan kerk toe gaan, Bybel lees, in ‘n Christelike huis kan grootword - sonder dat jy ‘n Christen is. 

As jy tot bekering gekom het, is jy ‘n Christen, maar dit is slegs die begin.  Jy moet ‘n verhouding met die Lewende God hê, een waarin jy groei. ‘n Verhouding beteken dat daar daagliks gesprekke tussen jou en God sal plaasvind, dat jy Sy Woord sal lees om Hom beter te leer ken.   Dit is ook nodig om volgens Sy woord en Sy opdragte te lewe.  Alleenlik dan sal ander Jesus in jou sien.

Monday 4 June 2012

Snoeityd

As ‘n mens nie die nag ervaar het nie, sal jy nooit die dag waardeer nie.  As jy nooit hartseer ervaar het nie, sal jy nie vreugde herken nie.  Jy sal nie jou vryheid waardeer tensy jy nie ‘n gevangene was nie.  As jy swaar grootgeword het, sal jy nooit geld kan mors nie. 

Johannes 15 : 1  Ek is die ware wynstok en my Vader is die landbouer.  Nadat die wingerd geoes is, word dit teruggesnoei sodat dit kan rus in die Winter om dan weer in die Lente te bot en druiwe te dra. 

Die goeie landbouer is altyd daar.  Hy laat jou soms rus sodat jy weer goeie vrugte kan dra, maar Hy het jou nie versaak nie.  Snoei is die voorloper tot nuwe groei.  Dalk is dit nou snoeityd in jou lewe en binnekort gaan daar pragtige botsels en bloeisels wees...

Sunday 3 June 2012

Jy's nie alleen nie

Elke oggend as jy jou oë oopmaak, wonder jy hoe jy deur die dag gaan kom.  Hoeveel onderhoude moet jy nog deurgaan? Hoeveel jammer-maar briefies moet jy nog ontvang? Hoe lank kan jy nog die skuldeisers paai? Hoe gaan jy vanaand jou gesin vertel dat daar nie meer kos is nie? 

Jy is so moeg, sielsmoeg en dis byna onmoontlik om ‘n uitkoms te sien.  Dalk voel jy soos ‘n mislukking en het jou selfvertroue tot so ‘n mate verdwyn dat jy jouself wanhopig met selfmoordgedagtes betrap.  Dit is omdat jy die pad alleen probeer stap.  Luister en hoor Sy stem:  Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee Matt 11:28   

Laat God toe om saam met jou vir die volgende onderhoud te gaan.  Om die waarheid te sê, laat Hom voor jou by die deur instap.  Laat toe dat Hy beheer van jou lewe neem.  Hy wil jou help.  Sien jy nie Sy trane van hoop nie?

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...