Tuesday 31 July 2012

Nuwe Begin


Openbaring 21:5   Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

Die een ding wat my fassineer is hoe mense aan insidente uit die verlede bly vasklou.  Terwyl jy vasklou, is jou hande toe en kan jy nie die nuwe dag (the present = geskenk) wat God vir jou vandag wil gee ontvang nie. 

Wat gebeur met iets wat jy oor ‘n tydperk hou?  As dit ‘n appel is, raak hy vrot...  As dit ‘n blom is, verwelk dit...  As dit ‘n boek is, vergader hy stof...die blaaie vergeel... 

Vandag is ‘n geskenk uit die hand van God, ‘n nuwe begin.  Dit wat verby is, is verby.   Laat gaan.  Alles gaan verby, die goeie, maar genadiglik ook die minder goeie.  Gun jouself die vreugde van ‘n nuwe begin.

Monday 30 July 2012

Watter vrugte dra jy?

Galasiërs 5 : 22   Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

Wanneer jy God as jou verlosser en saligmaker aanneem, bely jy dat jy in ‘n drie-enige God glo;  Vader, Seun en Heilige Gees.  Dan dra jy die vrugte van die Heilige Gees soos in Galasiërs verwoord. 

Jy sal jou naaste onvoorwaardelik liefhê en deur jou trane sal vreugde uit jou straal.  Jy sal vrede bewerkstellig eerder as konflik.  Andere sal verbaas staan oor die geduld wat jy aan die dag lê.  Jy sal te alle tye vriendelik wees en ander sal jou goedhartigheid ervaar.  Jy sal nie eens daaraan dink om ontrou te wees nie.

Sunday 29 July 2012

Voorspoed en nie teenspoed

Jeremia 29 : 11  Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here:  voorspoed en nie teenspoed nie.  Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

In Jeremia kry jy die bevestiging dat God presies weet wat Hy vir jou beplan.  Hy wil vir jou ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!  ‘n Verwagting is iets waarna jy uitsien.  Dit is iets wonderlik en groots.  Ongelukke tref jou nie maar sommer net nie.  Jy het nie skielik geluk getref nie.  Dit is alles binne God se plan.  En dit is duidelik dat teenspoed nie deel van Sy plan is nie, slegs goeie dinge. 

Terwyl jy voel dat alles en almal teen jou is, kan jy gerus wees, God is aan jou kant en soos vir Jeremia, verseker Hy jou dat Hy vir jou net goeie dinge beplan.

Thursday 26 July 2012

Wat as daar nie 'n hemel is nie?

Jakobus 1 : 7-8  So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

Daar is mense wat sinies is en vra:  “Wat as daar nie ‘n hemel of ‘n ewige lewe is nie?”  Die vraag moet eerder wees:  “Wat as daar wel ‘n hemel en ‘n ewige lewe is en jy het dit nie gemaak nie?” 

Dit gaan nie oor wie reg of verkeerd is nie, maar eerder of jy daar gaan uitkom al dan nie.  Ek sal eerder eendag teleurgestel wees dat daar nie ‘n ewige lewe is nie as om te moet hoor dat ek die ewige verdoemenis moet tegemoet gaan omdat ek nie in God geglo het nie.  Daarom gaan ek so leef dat ek 100% seker is dat ek die Ewige Lewe sal beërwe.  Jesus Christus is reeds daar om vir my plek voor te berei en ek kan nie wag nie!   

Glo onwrikbaar in Sy beloftes.

Wednesday 25 July 2012

Wees stil en wag

Ps 69:7 Laat die wat U verwag, deur my nie beskaamd staan nie, O Here.
Om stil te wees en op God te wag, is seker een van die moeilikste dinge.  Geduld is 
nie een van die mens se goeie karaktertrekke nie, want ons is van nature ongeduldig.  Die een oomblik vra ons nog vir hulp en die volgende oomblik doen ons in elk geval wat ons wil. 

Twyfel tree so maklik in.  Ons vra nog vir God om te help dat ons tog nie een van die is wat geraak gaan word deur herstrukturering nie, dan beplan ons al ons CV, want sê nou maar net ons is wel een van hulle. 

Om vir God te vra vir hulp beteken dat ons Hom sal vertrou, dat ons glo dat Hy kan voorsien, al lyk of klink dit ook onmoontlik.  Geloof is om die onmoontlike te glo en verwag. 

Tuesday 24 July 2012

Vertel vir almal

2 Kor 1 : 4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons.  Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer.  Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.
Jou grootste pyn en smart kan ‘n ongelooflike getuienis vir iemand anders word.
 
As jy God se ondersteunende hand deur jou diepste beproewing ervaar het, moet jy vir andere daarvan vertel.  Daar is geen beter getuienis as ‘n ware verhaal van iemand wat weet dat God deurlopend daar was nie.  Gebruik jou ervarings om ander te bemoedig soos God jou bemoedig het.

Monday 23 July 2012

'n Wonderlike draaiboek

Mel Gibson het met die rolprent The Passion of Christ, die skrikwekkende werklikheid van Christus se lewe en sterwe vasgevang.  Sou ‘n ongereddene daarna kyk, kan hy/sy dit sien as ‘n ongelooflike draaiboek.  Ek en jy weet dit is die skrikwekkende waarheid. 

Alhoewel dit meer as 2000 jaar gelede plaasgevind het, is dit uiters relevant.  Mense verraai steeds mekaar.  Hul is steeds liggelowig.  Jesus Christus het in die middel van twee sondaars aan die kruis gehang, van God en mens verlate.  Bloed het oor sy liggaam gestroom.  Sy pyn en lyding was onmenslik.  En Hy het dit vir jou en my gedoen, sondaar mense. 

1 Petrus 1 : 19  Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.  Hy het geweet wat vir Hom voorlê en ook getwyfel, maar God het Hom nie toegelaat om kop uit te trek nie. Die prys moes betaal word, sodat elke mens uiteindelik vry kon wees. 

Sunday 22 July 2012

Klaar betaal

Miga 7 : 19  Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U 
sal al hulle sondes in die diepsee gooi...
Dank God dat jy nie eendag deur ‘n aardse hof geoordeel sal word nie.  Prokureurs
verdedig nie noodwendig kliënte omdat hul in hul onskuld glo nie.  Skuldig bevinding, al dan nie, hang dikwels af van die prokureur se vernuf, sy kennis van die wet en sy vermoë om ‘n swakplek in die verdediging raak te sien.

God meet nie met dieselfde maat as mense nie.  Ek en jy kan voorgee om ‘n goeie lewe te lei deur geld te gee vir die armes en vir hulle kos te maak, maar God ken jou harte.  Jy kan nie vir jouself plek koop in die hemel nie. 

Jy reken jy is die grootste sondaar en is gedoem tot die ewige verderf, God sien potensiaal.  Jy reken jou sondes is onvergeefbaar, God reken dis klaar betaal. 

Thursday 19 July 2012

'n Kort geheue

Kan daar ‘n groter liefde as die liefde van God vir die mens wees?  God het Sy enigste en geliefde Seun, Jesus Christus, gestuur om vir jou sondes te sterf.  

Psalm 103 : 12 demonstreer hoe ons sondes “so ver as die ooste van die weste af is” verwyder word.  

As mens sondig ons daagliks, want ons het ‘n sondige natuur.  Die mens wat sê dat hy geen sonde het nie, het bloot ‘n kort geheue.  Johannes 8 : 7 “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.”  Jesus Christus se kruisdood het ons egter gereinig.  Hy het vir elke mens gesterf.  Hy het die hoogste prys betaal toe Hy wat geen sonde gehad het nie, vir sondaars gesterf het. 

Kan daar ‘n groter liefde wees?  Maar dan, “Het jy al vir Hom dankie gesê?”

Wednesday 18 July 2012

Tonnelvisie

Jesaja 11 : 2 Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied
vir die Here.

Partykeer leef jy vir jare met tonnelvisie.   Jy is so ambisieus dat jy net jou oog op die volgende trappie op die korporatiewe leer het.  Jy studeer verder, maak vriende met die regte mense, koop eiendom in die regte area, jy trou met die regte persoon, julle besit statussimbole soos duur duitse motors, platskerm tv’s, platinum kredietkaarte, ‘n huisie by die see, en word op al die regte plekke gesien, gaan hou oorsee vakansie, eet in duur restaurante, het gimnasium lidmaatskap, die kinders word gedwing om te presteer sodat jy goed lyk...  

En dan word jy een oggend wakker en jy vra jouself af of dit regtig die moeite werd is?  Is jy werklik gelukkig?  Is daar nie meer omtrent die lewe as dit nie?  Deur die Heilige Gees, het God jou oë geopen en as jy Hom sien, vervaag die dinge van die wêreld.  Jou prioriteite verander.  Jy sien die lewe deur God se oë. 

Tuesday 17 July 2012

Wat 'n vriend het ek in Jesus

Job 7 : 3  So bring ek my maande deur met swaarkry, my nagte is net smart.
Joseph M Scriven het in1855 die lirieke van die lied,"Wat 'n vriend het ek in 
Jesus"geskryf om sy ma te bemoedig wat in Dublin, Ierland, agtergebly het nadat hy na Kanada emmigreer het. 

Die besluit om te emmigreer is geneem na twee tragedies.  Sy verloofde het verdrink die nag voor hulle in die huwelik sou tree.  Hy het ‘n tweede keer liefde gevind, maar ook sy het gesterf aan tuberkulose net voor hul sou trou.

Dit was nooit sy idée om dit te publiseer nie.  ‘n Vriend het hom besoek toe hy siek was en die woorde op ‘n stukkie verfrommelde papier gesien.  Hy was uiters nederig en op ‘n vraag of hy dit geskryf het, het hy geantwoord:  “God en ek het dit gedoen.  Dis net tussen ons.”

Dit het een van die gewildste liedere geword en is deur verskeie kunstenaars opgeneem.  Die boodskap is eenvoudig, dog treffend en universeel.  Hoe onnodig ly ons nie, net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart. 

Monday 16 July 2012

Die pottebakker se hand

Jeremia  18 : 6  Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel.

In die hande van ‘n ervare pottebakker, raak ‘n eenvoudige stuk klei, ‘n meesterstuk.  Wanneer jy Hom toelaat om jou te vorm, soos ‘n pottebakker die klei vorm, kan jy ook ‘n meesterstuk word.

Soms moet die pottebakker van voor af begin.  Klei moet goed gebrei word voor dit bruikbaar is.  Die voorbereiding is uiters belangrik vir die eindproduk.  Daarom behoort jy dankbaar te wees dat God jou brei sodat jy uiteindelik meer bruikbaar sal wees.  Kopers se aandag word getrek deur ‘n uitstaande produk.  Ander mense moet sien dat jy ‘n uitstaande produkte van ‘n Meester Pottebakker is.

Sunday 15 July 2012

Adonai

Hebreers 13:5-6  "wees tevrede met wat jy het...  God self het gesê:  “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie...” Daarom kan ons met vertroue sê, die Here is my helper, ek ken geen vrees nie...  Wat kan 'n mens aan my doen? "
God se beskerming omvou jou van die oomblik dat jy jou oë oopmaak tot jy hul weer toemaak aan die 
einde van die dag.  Jy kan nooit buite Sy beskerming beweeg nie, al probeer jy ook.  Daarom kan jy die groot Adonai prys, ‘n lofsang vir Hom sing.  Adonai is Hebreeus vir Vader.  God is jou Vader. 

Daar is soveel rede om God te prys.  Selfs al het jy ‘n moeilike dag, kan jy Hom steeds prys omdat Hy jou deurgedra het.  Hy gaan voor jou uit en maak jou paaie gelyk.  Wat kan ‘n mens jou aandoen?

Thursday 12 July 2012

Om gered te word

Jesus Christus het nie gekom om te red dit wat reeds gered is nie.  Hy het gekom om te red diegene wat 
verlore is.  Lukas 19 : 10  Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.

Al het jy so ver afgedwaal dat jy glo Hy sal jou nooit vind nie, al leef jy die mees sondige lewe onder die son, selfs al is jy sterwend aan HIV Vigs a.g.v. jou lewenswyse, is jy nie verlore nie.  Hy wil Sy lewegewende genade oor jou laat reën en jou skoonwas. 

Dit is God se wil dat nie een enkele mens verlore sal gaan nie.  Hy probeer alles moontlik om jou van jou verkeerde weë te bekeer.  Dalk het jy juis hierdie siekte opgedoen sodat jy tot stilstand kan kom om Sy stem te hoor.  Jy het nog tyd.  Gebruik dit om Hom te leer ken en Hom as jou Verlosser aan te neem sodat jy as gereddene kan sterf en die Ewige Lewe kan beëerwe.

Wednesday 11 July 2012

Blomseisoene

Die reëlmaat van die seisoene gaan onverpoos voort.  Of die aandelemark nou in duie stort, of daar 
aardbewings in Kalifornië is, of die Banke wêreldwyd bankrotspeel, of ons ‘n nuwe president kry... Lente sal verseker aanbreek na die Winter.  Die bome sal weer uitbot en die lewe sal voortgaan. 

Die lewe bestaan ook uit siklusse.  Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan.  Prediker 9 : 11 Alles word bepaal deur tyd... 

God het Sy eie tyd.  Jy moet stil word en wag op Hom.  Wanneer die tyd reg is, sal Hy uitkoms gee.  Al gaan dit hoe swaar, moet jy troos vind daarin dat elke donker onweerswolk ‘n silwer randjie het.  Jy kan nie twyfel aan God se trou nie. 

Net soos wat die Lente uitbundig aanbreek na ‘n lang Winter, so sal hierdie seisoen van jou lewe ook verbygaan en ‘n nuwe blomseisoen aanbreek.

Tuesday 10 July 2012

Leë beloftes

Daar is soveel beloftes in God se Woord.  Teks vir teks kry jy die versekering van Sy liefde en trou.

Alhoewel die boeke van die Bybel deur soveel verskillende mense oor baie jare geskryf is, bevat dit een sentrale tema:  die boodskap van Verlossing.  Die volkome bewys van Sy liefde.  ‘n Boodskap dat God Sy Seun sou stuur om vir ons sondes te sterf.  

Jy kry mense wat maklik leë beloftes maak.  Hulle praat maklik, maar dit wat hul sê gebeur nooit.  God maak nie leë beloftes nie.  Josua 21 : 45  Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom. 

Sy Woord word gestand gedoen en uiteindelik is dit volbring.  Wanneer Hy dan die Ewige Lewe vir jou beloof, kan jy Hom weereens op Sy woord neem. 

Monday 9 July 2012

Laat hierdie lydensbeker by My verbygaan

Mattheus 26 : 39   My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.
Tydens nagmaal word die brood gebreek as simbool van die liggaam van Jesus en die beker met die wyn simboliseer Sy bloed.  

Jesus moes die lydensbeker ter wille van jou en my ledig.  Alhoewel hy gevra het, het Hy geweet dat daar geen omdraai is nie.  Hy is gebore om aan ‘n kruis te sterwe, ter wille van jou en my. 

Vir party van die omstandelinge was dit seker moeilik om ware liefde te voel, maar tog was God se liefde so allesomvattend dat Hy Sy Seun deur hierdie lyding laat gaan het.   

Daar kom tye in ons lewe dat ons wens ons kan die lydensbeker maar aangee.  Weet verseker, hoe seer dit ook al is, ook dit sal verbygaan.  Wees sterk en weet dat Jesus weet presies hoe jy voel. 

Sunday 8 July 2012

Waar sal my hulp vandaan kom?

Jy ken die mismoedigheid in die woorde van die Psalmdigter.  Soos hy wonder jy ook waar jou hulp vandaan sal 
kom.  Jy het jou werk verloor, die huispaaiement is maande agterstallig, die bank het reeds jou motor teruggeneem.  Jou kinders kom van die skool af en vra geld vir ‘n uistappie en jou keel trek toe, want jy weet nie hoe om hulle te vertel dat daar nie meer geld is nie.  Jou oortrokke rekening is met selfs meer as die limiet oortrek, jou kredietkaart is agterstallig.  Rooi koeverte is ‘n alledaagse gesig en jy vrees elke telefoonoproep.  Jy weet nie herwaarts of derwaarts nie.  Slaap ontwyk jou lank reeds en jy en jou eggenoot grom nog net vir mekaar. 

Hou op om op eie krag hierdie berg te probeer aanpak.  Psalm 121 : 2  My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Gee jou probleme vir Hom en vra Hom om ‘n uitkoms te voorsien.  Vertrou Hom.

Thursday 5 July 2012

Hy sal jou staande hou

Filippense 4 : 13  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee
Jesus Christus het die dood oorwin en deur Hom is jy ook ‘n oorwinnaar, want Sy Gees leef in jou en daarom hoef 
jy werklik niks te vrees nie. 

Dikwels sug mense dat hulle eenvoudig nie die krag het om verder te gaan nie.  Op jou eie het jy nie krag nie, maar Hy gee jou nuwe krag.  Hy tel jou op en hy dra jou as jy nie verder kan nie.  Hy huil wanneer jy nie meer trane oor het nie.  As jy so seer het dat jy nie meer kan bid nie, dan is Hy  daar. 

Vind gemoedsrus in Rom 8 : 26, waar die Gees vir jou intree wanneer jy nie kan bid nie.  Hy sal jou regop hou as jy wil ineenstort, want Hy’s aan jou kant.

Wednesday 4 July 2012

Musiek met 'n boodskap

Psalm 98 : 5 Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing.
Al meer en meer sangers betree die geestelike musiekmark, want hulle het agtergekom dat daar ‘n nuwe, 
snelgroeiende, mark ontstaan het.  Geestelike musiek is nie meer ‘n vervelige mark nie.  Dit is ook finansiëel voordelig en kan deesdae kompeteer met die beste sekulêre musiek.  Ons groot en magtige God, sou nie toegelaat het dat geestelike musiek so floreer, as dit nie sy goedkeuring wegdra nie. 

As iemand egter geestelike musiek wil maak, sonder dat hul ‘n werklike verhouding met  Jesus Christus het, gaan so iemand bloot net nog ‘n sanger met ‘n mikrofoon wees.  Met Jesus in jou lewe, word dit musiek met ‘n boodskap, ‘n bediening. 

Musiek kan die boodskap oordra op maniere wat geen preek dit kan doen nie.  Wanneer lirieke die boodskap van verlossing oordra, kan dit siele vir Jesus werf.

Tuesday 3 July 2012

Dis alles net genade...

Dit is alles net genade.  God het genade aan soveel mense betoon, deur die eeue heen.  Dit het begin met Noag. 
God het hom en sy gesin genade betoon toe Hy die hele wêreld  tot niet laat gaan het met die sondvloed.  Slegs Noag en sy gesin is gered.  Genesis 7 : 23  So het God alles wat op die aarde geleef het, uitgewis: mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, hulle almal is weggevee van die aarde af. Net Noag en dié by hom in die ark is gespaar.

Uit die hele Sodom en Gomorra het God net vir Lot, sy vrou en twee dogters.  Daar was egter ‘n voorwaarde:  “Moenie omkyk nie.”  Lot se vrou het hierdie voorwaarde geignoreer en toe word sy ‘n soutpilaar. Ons moet nie God se genade ignoreer nie. 

Uiteindelik eindig dit by jou.  Sy genade is vir jou genoeg. 

Monday 2 July 2012

Want Sy Woord sê so

Matteus 8 : 27   Die mense het hulle verwonder en gesê: "Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?"

God heers oor die mens sowel as die natuur.  Hy het alles geskape.  Die groot en magtige oseaan, met al sy fasette, 
kom ook uit Sy hand.   Elke keer dat jy aan die voet van ‘n berg staan en jy kyk na elke klip en randjie of hemelhoë kranse, weet dan dat God dit geskape het. 

Hoe kan enigiemand in ‘n groot knal glo of enigsins bevraagteken dat Hy die Skepper van die heelal is?  Ek hoef nie te verstaan hoe God dit reggekry het om alles in ses dae te maak nie, ek moet bloot glo dat niks by Hom ontmoontlik is nie. 

Ek glo dit, want Sy Woord sê so.

Sunday 1 July 2012

Ek roep elke dag om hulp

Psalm 88 :2  Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U.
Die telefoonlyn na God is nooit beset nie, dit is altyd beskikbaar.  Dit gebeur nooit dat jy “voicemail” kry nie, 
jy hoef nooit ‘n boodskap te laat en te wag tot Hy terugskakel nie.  Dag of nag, Hy is gereed om na jou te luister. 

Selfs as jy knaend op dieselfde aambeeld hamer, luister Hy.  Hy haal nooit die telefoon van die mikkie af nie.  Hy verander nooit Sy nommer nie.  Hy maak jou nooit stil omdat Hy na iemand anders luister nie.   Soms gaan jy op jou knieë, soms is dit sommer ‘n skietgebedjie in ‘n krisis.  Hoe dit ook al sy, bly op jou knieë, dis waar jy die naaste aan Hom is. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...