Thursday 30 August 2012

Kerk-gaan in perspektief


'n Man skryf 'n brief aan 'n tydskrif en kla dat dit vir hom geen sin meer maak om kerk toe te gaan nie.

Hy skryf. "Ek gaan al vir meer as 30 jaar kerk toe, ek het gedurende hierdie tydperk na ongeveer 3000 preke geluister, maar ek kan nie een onthou nie. So ek dink ek mors my tyd en die predikante mors hulle tyd deur al hierdie preke voor te berei en Sondag vir Sondag te preek".

Die artikel is in die tydskrif gepubliseer en 'n paar weke het verbygegaan voordat iemand soos volg op die artikel geantwoord het.

"Ek is reeds 30 jaar getroud. Gedurende my getroude lewe het my vrou ongeveer 32,000 etes voorberei. Maar, net soos jy, kan ek nie een van die Spyskaarte onthou nie. Maar dit weet ek, al daardie etes het my gevoed en versterk, as dit nie vir daardie etes was nie, dan sou ek vandag dood gewees het. Dieselfde geld ook vir die kerk. As ek nie gegaan het om geestelik gevoed te word nie sou ek vandag geestelik dood gewees het.

Wanneer jy af is, is God besig met iets! Geloof sien die onsigbare, glo die ongelooflike en ontvang die onmoontlike! Dank God vir ons Fisiese en Geestelike voeding.

Oorsprong onbekend

Wednesday 29 August 2012

Gees van God


Die Gees van die Here het vir Simson Rigters 14 : 6 so sterk gemaak dat hy ‘n leeu kaalhande kon verskeur. 

Dawid vra in Psalm 143 dat die Gees van God hom op ‘n gelyk pad moet lei.  

Na aanleiding van Matteus 10 : 20 weet jy dat dit nie meer jou woorde is nie, maar die Gees van die Vader wat deur jou praat. 

As Christen bely ons dat ons glo in ‘n drie-enige-God naamlik, Vader, Seun en Heilige Gees.  Die Heilige Gees werk voortdurend in ons harte.  Die Heilige Gees is soos ‘n moederhen wat jou laat besef wanneer jy verkeerd dink of optree.  Dit is soos ‘n klein stemmetjie wat jou moed inpraat.  Dit is ook die beskermengel wat jou waarsku in tye van gevaar.  Jy is nooit alleen nie, want die Heilige Gees omarm jou. 

Tuesday 28 August 2012

Geanker in Jesus

Psalm 37 : 4  Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Wanneer dit goed gaan en jy voorspoedig is, dan is jy die vriendelikste mens in die omtrek.  As jy net die geringste teëspoed teenkom, raak jy betrokke.  Dit is nou wanneer ‘n wolk voor die son inskuif en alles so bietjie donker word.  Dan moet almal uit jou pad bly en jy loop en blameer en beskuldig alles en almal. 

Sien jy so bietjie van jouself in hierdie prentjie?  Ons kry almal ons af dae, dae wat ons net nie die moed het om te glimlag nie.  Dit is die dae dat jy as Christen juis ook jou vreugde in die Here moet uitstraal.  Laat diegene rondom jou weet dat jy deur ‘n moeilike tyd gaan, maar laat hulle ook sien dat jy nie hopeloos is nie.  As hulle kan sien dat jy nie ronddobber op die stormsee nie, maar geanker in Jesus bly, sal dit hul inspireer om ook daardie gemoedsrus te hê.

Monday 27 August 2012

Die Coke-blikkie storie

(ontvang via epos)

Hierdie stukkie goeie nuus is ter nagedagtenis van Abrie de Bruin. Abrie is gebore 16.07.79 en oorlede 28.02.92, op 13 jarige ouderdom toe hy noodlottig getref is deur ‘n motoris. 'n Dag voor sy tragiese dood het hy die volgende nota op sy lessenaar gelaat:

Hoeveel Coca-Cola's het jy al gedrink en nooit eers gewonder hoekom die Blikkie rooi is? Wel hier is die storie:

"Die rooi stel die bloed van Jesus voor.Die swart strepies (bar code) is die sonde wat jy doen. Die wit is reinheid. Wanneer jy jou sonde bely dan word jy rein.

Coca-Cola staan vir die volgende:

C-Come
O-on
C-children
A-Accept
C-Christ
O-our
L-Lord
A-Amen
Die woorde Coke staan vir:

C-Christus
O-ons
K-Koning
E-Ewig


Agter op is daar 340ml  (deesdae 330 ml), in Klaagliedere 3:40 staan daar dat jy jou tot Die Here moet bekeer. As jy dit doen dan gooi jy jou sondes weg soos die mannetjie agter op. Dan is jy 'n koningskind. Dit word voorgestel deur Die kroon. En as jy nog twyfel of jou sondes vergewe is dan kyk jy na die SABS-handelsmerk. Dit is jou waarborg. Wanneer die blikkie toe is en jy skud hom en maak hom oop dan kook hy oor. So is dit ook as jy tot Bekering kom; dit borrel binne in jou."

Hierdie is die laaste woorde van 'n jong kind wat Jesus in alles raakgesien het.

Sunday 26 August 2012

Uit die hand van die Here

2 Samuel 23 : 5  Al my hulp, al my vreugde, dit kom van Hom af.

Het jy al vir iemand vertel van die nuwe motor of huis wat jy vir jouself gaan koop, of selfs net van die nuwe broek of hemp?  Onthou jy om by te voeg dat dit uit die hand van die Here kom?  Het jy al ooit daaraan gedink dat dit van Hom kom?  Of glo jy dat jy die hoogste sport bereik het op eie stoom? 

Dalk reken jy dat dit jy is wat ure insit met jou studies, dat dit jy is wat hoeveel ure oortyd werk en dat dit jy is wat weet hoe om te belê sodat jou geld vir jou werk.  Realiteit is dat God jou gesond hou om die ure te kan insit, dat Hy jou die verstandelike vermoëns gegee het om te kan studeer, dat Hy sorg dat jy ‘n werk het, dat Hy jou help om die regte besluite te neem. 

Alles, maar alles wat jy het, behoort aan Hom.  Daar is ook gemoedsrus daarin, want jy weet dat Hy vir jou voorspoed en nie teëspoed (Jeremia 29 : 11) beplan.

Thursday 23 August 2012

Om soos 'n kind te glo

Markus 10 : 14  Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: "Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.

God maak geen geheim daarvan dat kinders vir hom baie belangrik is nie.  Hy bemaak sy koninkryk aan hulle.  Hy verwag ook van ons om te glo soos ‘n kind.  Om nie alles te bevraagteken en te ontleed nie. 

Sommige dinge is eenvoudig onverklaarbaar.  Jesus het gesê dat dit nou is soos om in ‘n spieël te kyk, maar eendag sal jy weet waaroor alles gaan.  Jy moet soos ‘n kind word.  En jy is ‘n kind van God.  Aanvaar dit en geniet eenvoudig die grenslose liefde van jou Vader.

Wednesday 22 August 2012

Vergewe

Hoeveel keer het jy al belowe dat jy nooit weer sal toegee aan jou swakheid nie?  God moet jou nog net hierdie een keer vergewe.  Getrou aan Sy woord, vergeef Hy jou keer op keer.  Hoe ver kan jy God egter beproef, hoeveel keer gaan Hy jou nog laat toelaat om na jou ou weë terug te keer? 

Sê nou maar môre is jou laaste dag?  Elke keer raak jy weer die pad byster.  Elke keer as jy jouself aan drank of dwelms oorgee, gil en skree jy. 

Dalk het dit tyd geword vir jou om te fluister, te prewel... “Here vergewe my, neem hierdie sonde van my weg. Gee my die krag om die versoeking te weerstaan.  Here, ek kan nie op my eie nie, maar ek weet dat ek deur U tot alles in staat is.” 

Genadiglik haal God nie elke keer die ou koeie uit die sloot nie, hy gooi dit nie weer elke keer teen jou kop nie.  Laat dit dus agter.  Hy vergewe jou 70 x 7 keer en Hy verwag dieselfde van jou.  Matteus 18 : 22  Jesus antwoord hom: "Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer

Tuesday 21 August 2012

Die mens deur die oë van Moeder Teresa



Mense is onredelik, onlogies en selfsugtig…
Wees maar nog steeds lief vir hulle…
As jy goed doen, kan jy verwag dat mense jou gaan beskuldig van selfsugtige motiewe…
Hou maar aan met goed doen…
As jy suksesvol is, gaan jy dalk valse vriende en egte vriende wen…
Moenie toelaat dat dit jou terughou om jou droom te volg nie…
Die goed wat jy vandag doen, sal dalk more al vergete wees…
Doen nog altyd goed aan ander…
Eerlikheid en deursigtigheid, maak jou baie kwesbaar…
Kies maar nog steeds vir eerlikheid en deursigtigheid…
Iets waaraan jy jou lewe lank gebou het, kan oornag vernietig word
Hou maar net aan met bou…
Mense wat hulp nodig het, sal jou kwalik neem as jy hulle probeer help…
Help maar nog altyd…
Gee aan die wereld die beste wat jy het, en jy mag dalk sleg seerkry…
Gee maar nog steeds jou beste…”

Monday 20 August 2012

Mooi soos blomme

2 Kor 2 : 15 Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan

Om jou neus teen ‘n roos te druk en die aangename geur in te adem, bring so ‘n saligheid oor jou.  Blomme bring soveel vreugde.  Elke blom is uniek, dog volmaak geskape deur God.  Gee vir iemand blomme en jy helder daardie persoon se hele dag op.  Daarom is die vergelyking so treffend.  Soos die blomme ‘n aangename geur afskei, moet ek en jy ook ‘n aangename geur afskei as ons met ander in aanraking kom.  Ander moet graag naby jou kom omdat hulle aangetrek word deur die geur van Christus wat om jou sweef.  

Vrouens is die kroon van God se skepping.  Sy is sag en mooi en as sy lewe tot Sy eer, straal ‘n innerlike skoonheid uit haar wat haar selfs meer aantreklik maak.  Insekte word aangetrek deur helder kleure en sodoende kan die blom voortplant.  Jou geloofslewe moet helder kleure hê sodat dit ander aantrek en help om dit oral te versprei sodat God se Woord kan voortleef.

En weet jy, mans is net so lief vir blomme.  Bederf vandag 'n man met 'n blom of 'n ruiker.

Sunday 19 August 2012

Bid en vra na My wil

2 Kronieke 7 : 14 En my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hul bose wee af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

Dit is inderdaad nuus vir sommige, want hulle het gedink dat hul regeer, dat hulle in beheer is.  Daar is diegene wat leef asof hulle God is. 

Daagliks aanskou ons onreg sowel as minagting van God se reëls volgens die tien gebooie.  Om die waarheid te sê kom meeste van ons nie eens verby die eerste gebod nie, naamlik julle moet mekaar liefhê...  Daar is soveel haat, en jy krimp ineen as jy sien hoe mense op mekaar trap agter mammon en selfverheerliking aan. 

In baie gevalle, blyk die mens se vooruitgang ook sy eie ondergang te wees.   Ons kan leef asof Hy nie bestaan nie, maar dit gaan Hom nie laat verdwyn nie.  Kom ons bid dat diegene wat Hom nog nie ken nie, ook die Lig sal sien, dat 2 Kronieke 7 : 14 ‘n werklikheid word. 

Thursday 16 August 2012

Gebed van die regverdige

Jakobus 5 : 16  Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige werking. 

Om vir iemand te bid, is sekerlik die grootste geskenk wat jy vir daardie persoon kan gee.  Menige kind gaan deur die lewe, min wetend dat ‘n moeder elke aand op haar knieë vir hom of haar intree by God.  Lewensmaats bid soms vir jare vir die ander se bekering. 

Bid dus daagliks vir ander, vir die wêreld, vir jou kinders.  Bid sonder ophou en met opregte bedoelings, want God hoor die gebed van die regverdige.

Wednesday 15 August 2012

U Woord is die Waarheid

Johannes 17 : 17  U Woord is die waarheid

God het Sy Woord vir ons nagelaat.  Dit is ‘n fontein wat nooit opdroog nie.  Deur dit te lees, les jy ‘n ewige dors.  Die Woord is die Waarheid.  Elke woord daarin, is daar omdat dit Sy wil is. 

Wanneer jy verdwaal, is dit jou kompas.  Die kompas wys altyd Noord en vir ons hier aan die suidpunt van Afrika is noord, bo.  Bo is waar ons glo Jesus in die hemel sit aan die regterhand van God.  Wees bedag op geleenthede wat daagliks jou pad kruis waar jy kan getuig van sy almag, waar Sy Woord as getuienis oor jou lippe kan vloei. 

God sal jou vol hou met Sy Woord en jy sal daarvan oorborrel.  Wees gehoorsaam en doen Sy wil.  Moenie dat enigiemand jou laat twyfel nie.  Jy is die instrument in ‘n Meester se hand. 

Tuesday 14 August 2012

5-vinger gebed

(ontvang via epos)

Hou jou hand met die naels boontoe voor jou.

Jou duim is naaste aan jou, so dis die die maklikste een on te onthou, want jou duim herinner jou dus om te bid vir diegene naaste aan jou.  Bid dus vir al jou geliefdes – volgens C S Lewis is dit jou heilige plig;

Tweedens, jou wysvinger.  Bid vir diegene wat onderrig, ‘coach’, instrukteer en genees.  Dit sluit in geestelike leiers, regters, die polisie, onderwysers en dokters.  Hulle benodig ondersteuning en wysheid om ander in die regte rigting te lei en die krag om altyd ‘n voorbeeld vir ander te wees.  Hou hul dus in gebed;

Derdens, jou middelvinger.  As langste vinger, herinner die een ons aan hulle wat uitstaan bo die res.  Bid vir ons president, sy kabinet en prominente sakelui wat besluite neem wat ander se lewens raak.  Hierdie mense vorm die gemeenskap en is die voorbeeld wat menige jongmens volg.  Met so ‘n verantwoordelikheid, het hulle God se leiding nodig om nie te swig voor versoekings nie;

Vierdens, jou ringvinger.  Interessant genoeg is hierdie jou swakste vinger.  Bid vir hul wat siek en swak is, die armes en ook diegene wat ly.  Jy kan nooit te veel vir hierdie mense bid nie.  Hulle het jou gebede dag en nag nodig.

Vyfdens en laaste jou pinkie.  Dit dui daarop waar jy jouself plaas in verhouding tot God en jou medemens.  Soos Die Bybel sê:  “die wat laaste is, sal eerste wees...”   Jou pinkie herinner jou dus om laaste, maar nie die minste, vir jouself te bid.  Noudat jy vir almal gebid het, kan jy jou eie lewe in perspektief sien en behoort jou gebede vir jouself meer effektief te wees.

Monday 13 August 2012

JOU PLANNE OF GOD S’N?


Spreuke 16:1&3 gekry – “Mens kan planne maak, maar die finale besluit kom van die Here af…  Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag…”

Luister ‘n bietjie wanneer mense praat oor hul toekomsplanne of selfs net oor planne vir die naweek of vakansie wat voorlê.  “Ons gaan die naweek...”  “Die plek is bespreek...”  “Met my volgende vakansie...”  “Ek wil nog...”  “Ons soek ‘n huis...”  “Ons het besluit om vir Kosie by skool A in te skryf...”

Ek staan net so skuldig hier en betrap myself kort-kort dat ek impulsief voortbeur sonder dat ek God in die saak geken het. 

Maar O weë, laat ons planne nou net skeef loop, dan weet ons darem baie goed waarheen om te hardloop.  Ek weet dis moeilik, maar dis ‘n gewoonte wat sukses waarborg, wat ons maar gerus kan aanleer.  God sê uitdruklik dat ons planne sal slaag as ons Hom ken in die saak.

God is ons vennoot, nie ons opponent nie. 

Sunday 12 August 2012

Gee en neem

JOB 1:21  “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”

Verhoudings is soos ‘n bankrekening.  Bankrekenings is eenvoudig.  Jy moet gereeld deponeer om te kan onttrek.  As jy nie deponeer nie, gaan die rekening leeg loop en is daar doodeenvoudig niks om te onttrek nie. 

‘n Gesonde bankrekening beteken daar is genoeg fondse om al die betalings en onttrekkings te delg.  Boonop beskik ‘n gesonde bankrekening oor ‘n deurlopende buffer om beskerming te bied in geval van onvoorsiene uitgawes. 

Met verhoudings is dit presies dieselfde.  As jy nie investeer in die verhouding d.m.v. aandag, klein dingetjies wat jy doen sonder om iets terug te verwag, ‘n sagte woord, aanraking, vergifnis... dan gaan daar binnekort niks in die verhouding wees om te onttrek nie.  Soms is daar nie geleentheid of tyd om te deponeer, maar dan het jy hopelik ‘n buffer opgebou vir ‘n noodgeval waarop jy so bietjie kan onttrek.  Dis die tye dat jy swaarkry en iemand nodig het om jou te ondersteun en ‘n bietjie te pamperlang sonder dat jy in staat is om terug te gee.

Is jou bankrekening in krediet of hardloop dit in die rooi?
   

Thursday 9 August 2012

Moenie bang wees nie

Deuternomium 31:8  “Die Here sal voor jou uitgaan...  Hy sal by jou wees...  Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie...  Moenie bang wees nie, moenie skrik nie...”
Of jy nou na ‘n nuwe skool/universiteit moet gaan... na ‘n ander huis/omgewing trek... van werk verander... emmigreer... dit bring onsekerheid.  Jy weet nie wat vir jou voorlê nie; hoe die nuwe mense teenoor jou gaan optree, of jy die werk gaan baasraak, of jy sal inpas, of die bure gaaf gaan wees, ens, ens, ens.   Daar is soveel dimensies wat met verandering gepaard gaan.
Hoe verfrissend is dit dan nie om in Die Bybel ‘n teksvers soos Deuternomium te vind wat jou verseker dat God nie net saam met jou sal gaan nie, maar selfs voor jou uitgaan!
Hierdie teksvers is vir my so omvattend en soos ‘n getuigskrif vir ons omgee-God.  Dis presies hoe ‘n liefdevolle ouer ‘n bang kleuter gerus sal stel. 
Onthou asseblief dat God jou behoeftes, vrese en onsekerhede ken en graag die las ligter wil maak.   Wat die toekoms ook al inhou, God is alreeds daar.

Tuesday 7 August 2012

Hartseer


DIE OPENBARING 21:4  Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
God sien jou trane.  Soos enige liefdevolle ouer is dit nie vir Hom lekker om te sien hoe swaar jy kry nie.  Hy wil jou vandag troos.  Hy wil weer daardie pragtige glimlag van jou sien.

Kom sit hier by Sy voete en praat jou hart uit.  Al is Hy ‘n alwetende God, wil Hy steeds hoor dat jy Hom vertrou deur in afhanklikheid jou hart teenoor Hom uitstort.  Wanneer hartseer gedeel word, halveer dit.  Die las word ligter en jy kry perspektief op die aangeleentheid.

Droog nou jou trane af en kyk die lewe in die oë.  Jy kan aangaan, want God gee jou die krag om voort te gaan.  En as die hartseer jou weer pak,...dis in orde.  Kom huil maar weer ‘n bietjie by Hom.

Trane was die gemoed, dit suiwer die siel.

Monday 6 August 2012

Moeilike tye


Psalm 37 : 19  In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê

Tydens gesprekke tussen vriende, kollegas of familie, is daar deesdae ‘n deurlopende lyn van kommer.  Mense is bekommerd oor die toekoms.  Radio en televisie nuus bulletins laat jou keel toetrek.  As daar nie skrikwekkende tonele van moord en onrus is nie, dan is daar beriggewing oor die toestand van die wêreld se ekonomiese toestand. 

‘n Toestand is dit gewis.  Werkloosheid vier hoogty terwyl pryse die hoogte inskiet.  Gemeet aan menslike norms, is dit gewis ‘n tyd om benoud rond te kyk. 

Krisistye is egter ‘n tyd van karakterbou.  Dis wanneer jy diep delf en jou beroep op elke belofte in die Woord.  Jy kyk terug op jou lewe en jy erken skaam dat God jou oor die jare, of dit nou 16, 39 of 68 jaar was, nog nooit een enkele keer in die steek gelaat het nie.  Hoekom sou Hy dit nou doen? 

Op die ou end is dit juis hierdie swaarkry jare wat jy op ‘n  bittersoet manier onthou en selfs af en toe na terug verlang. 

Sunday 5 August 2012

Om bitter te wees

Spreuke 14 : 10 Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.
Bitterheid is ‘n monster wat jou gedagtes oorheers en opsweep teen die objek van jou bitterheid. 
Soms is dit geregverdig, soms nie.  Life happens...” Mense kom jou te na... jy verloor geld, jou huis, jou besigheid... diegene vir wie jy alles gedoen het draai hul rug op jou... iemand steel jou man/vrou... jy word gediagnoseer met ‘n ongeneeslike siekte terwyl jy so graag wil leef... jou kinders vergeet van jou... jou baas sien net wat jy verkeer doen en nie hoeveel jy insit nie...
Selfs al kan jy die opbou tot hierdie punt in die kleinste besonderheidjie onthou en oorvertel, gaan niemand regtig dieselfde emosies as jy ervaar nie.  En so hartseer en onregverdig as wat dit klink, die lewe gaan voort.  Die objek van jou bitterheid besef dalk nie eens dat hy/sy jou tenagekom het nie. 
Praat met God oor die aangeleentheid, vra Hom om jou te help om te vergewe, maar ook om te vergeet en beweeg aan.  As jy bitter bly, wen die ander party twee keer.

Thursday 2 August 2012

Leef of Bestaan?


 
Norman Cousins het gesê: "Iemand wat doodgaan, is nie die grootste verlies in die lewe nie. Die grootste verlies is dit wat binne-in ons sterf terwyl ons steeds leef. 
Spreuke 14:10  Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.
Wanneer jy saans in die bed klim en terugkyk op jou dag, voel dit vir jou asof jy elke oomblik ten volle benut het of voel jy so bietjie skuldig oor ‘n dag wat eintlik vermors is? 

Daar word gesê ‘n mens besef eers die waarde van tyd wanneer jy op jou sterfbed lê en wens dat jy net nog tyd gehad het om dit te doen waarvoor jy nooit tyd gehad het nie. 

Ongelukkig is ‘n gebrek aan tyd nie altyd die oorsaak dat sekere dinge agterweë bly nie.  Meeste van ons is skuldig daaraan dat ons nie elke sekonde ten volle benut nie.   Hou jouself dop en let op hoeveel kosbare minute onproduktief verbytik.    

Wednesday 1 August 2012

God jok nie


Numeri 23 : 19  God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?

Moes jy ook al uitvind dat iemand van wie jy dit nooit verwag het nie, vir jou gejok het?  Dis niks lekker nie en dit ontstel jou.  En tog gebeur dit daagliks.  Deesdae kan jy niemand meer vertrou nie, want kort voor lank word jy teleurgestel wanneer die waarheid ontbloot word.

Dalk bak jy ook soms kluitjies.  Ons het mos die manier om dinge te regverdig deur te sê dat ons dit doen omdat ons iemand seerkry wil spaar.  Party reken dis net ‘n ou wit leuntjie wat niemand kan seermaak nie. 

Dis hoekom dit vir my so verfrissend is om swart op wit in die Bybel te lees:  “God jok nie.”  Sy Woord is Sy eer. 

Dis nou op hierdie punt dat ek jou wil herinner aan al God se beloftes in die Bybel.  Niemand hoef een oomblik te twyfel aan hierdie beloftes nie, want Numeri 23 maak dit duideliker as daglig.  God jok nie; Hy sal jou nie onder ‘n vals indruk bring of mislei nie.  Sy beloftes is ‘real’.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...