Thursday 29 November 2012

Splinters

Lukas 6 : 41 "Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?

Dit is so maklik om ander te blameer of te verwyt.  Ons bly vasklou aan dit wat ons jare terug aangedoen is.  Dit word ‘n allesverterende kanker.  Solank as wat jy daardie seerkry bly herkou, gaan die slegte smaak in jou mond bly.  Spoeg dit uit.  Laat dit agter en vergewe die persoon wat jou te na gekom het. 

Haat doen niks aan die voorwerp van jou haat nie, net aan jouself.  Eers wanneer jy vergewe het, sal jy vrede vind en ook vry wees.  Dan kan jy die ander persoon leer liefkry.  Liefde kan die wêreld verander en dit inderdaad ‘n beter plek maak. 


Wednesday 28 November 2012

Bekommernis

Spreuke 3 : 5  Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Om na die nuus te kyk is deesdae soos om ‘n riller-fliek te kyk.  Jou keel trek toe en jy raak skoon kort-asem van benoudheid.  Elke nou en dan is daar nog ‘n gru-toneel.  Plaasmoorde, geweldadige stakings, prysstygings, bedrog, ens, ens, ens.  Ons word daagliks met angs gevul deur die media, gerugte, gebeurtenisse en negatiewe mense.

Hoe dit ook al sy, om beangs te wees gaan nie die situasie verbeter nie.  Dit jaag net jou bloeddruk op.  Geloof aan die ander kant, bring ‘n kalmte… hoop… ‘n mate van beheer en uiteindelik ontwapen dit die angs wat in ons opgebou het. 

Om jou te bekommer is soos om op ‘n skommelstoel te sit, baie beweging, maar jy kom net mooi  nêrens. 

“Every tomorrow has two handles. We can take hold of it with the handle of anxiety or the handle of faith...”  ~  Henry Ward Beecher

Tuesday 27 November 2012

God spesialiseer in wonderwerke

Matteus 19 : 26  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

As jy jou menslike intellek gebruik, dan lyk dit onmoontlik dat sekere dinge ooit kan gebeur.  Hoe kan iemand wat totaal in sonde verval het, ooit gered word?  Hoe kan God vir my ‘n ander werk op hierdie ouderdom laat kry?  Hoe gaan my man ooit verander?  Menslik lyk dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik. 

Hy is ‘n God sonder perke.  Hoe moeiliker dit vir ons voorkom, hoe makliker is dit vir Hom.  Hy laat water uit ‘n klip loop.  Nadat Job alles verloor het, seën God hom met meer as wat hy ooit oor sou kon droom.  Dawid maak ‘n reus dood met ‘n slingervel en vyf rivierklippies.  As jy God toelaat, sal Hy jou oopmond van verbasing laat staan, en ja, soms sal jy jou kop in skaamte moet laat sak omdat jy Hom onderskat het.

Monday 26 November 2012

Wanneer God jou bekwaam

Johannes 11 : 2  Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het.

God roep jou, maar jy het allerhande verskonings.  Ek kan nie, want ek het geen ondervinding nie... Ek is net ‘n eenvoudige...  Daar is soveel ander mense wat meer geskik is vir die taak...

Realiteit is dat God gewone mense roep om ongewone take te verrig.  Hy verwag nie van jou om bekwaam te wees vir dit wat Hy jou roep nie.  Hy sal jou self bekwaam vir dit waarvoor Hy jou nodig het. 

Maria Magdalena sou nooit kon dink dat Sy eendag Jesus se voete sou kon afdroog nie.  Jy dink dalk ook dat jy nooit eendag die voorreg sal hê om vir Hom te werk nie.  God gaan jou verbaas.  Wanneer jy dit die minste verwag, gaan Hy jou aan die hand vat en toerus vir die taak wat Hy jou voor uitgesoek het.

Sunday 25 November 2012

Inkopielys vs doenlys

Filippense 4 : 6  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

Is jou gebede soos ‘n inkopielys met alles wat jy nodig het of is dit eerder soos doenlysie waarop jy kan afmerk wat jy al vir Hom voor dankie gesê het?  Bid jy slegs as jy Hom nodig het of bid jy partykeer sommer net om dankie te sê?

As jy niks meer het om te vra nie, begin om dankie te sê.  Hoe meer jy dit doen, hoe meer dinge sal jy vind waarvoor jy kan dankie sê.  Of begin sommer met dankie sê, dalk kom ons dan nooit eers by die vra stadium nie.  Ons aanvaar soveel dinge elke dag as vanselfsprekend en vergeet dat alles uit Sy hand kom.  Daarom kan ons ‘n lewe van dankbaarheid leef. 

Ons hoef ook nie skaam te wees om te spog oor dit wat ons elke dag geniet nie. 

Thursday 22 November 2012

Afstand

Jesaja 43 : 18  Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

Jy kan nie vorentoe beweeg as jy voortdurend omkyk nie.  Deur een tree vorentoe te gee en drie agteruit, gaan jy nie vorentoe beweeg nie.  Deur vorentoe te beweeg, rek die afstand tussen jou en die probleem. 

As jy met jou neus teen ‘n spieël staan, kan jy geen beeld sien nie, maar as jy wegstaan, kry jy ‘n volledige prent.  Wanneer jy vorentoe beweeg, maak jy jouself oop vir nuwe dinge en nuwe ervarings en baie keer staan jy verstom dat jy ooit jou tyd gemors het op iets so onbenullig.  Afstand bied perspektief. 

Soms is ons so bang om te leef.  As Christen hoef jy nie skuldig te wees om jou hart te volg nie.  God ken jou hart.  Waag in geloof en Hy sal jou verstom.

Wednesday 21 November 2012

VASBYT!

Matteus 24 : 13   Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.

Deur die eeue heen vind ons mense wat besonderse uithouvermoë aan die dag gelê het.  Hulle het nooit ‘n nederlaag oor weeg nie, maar aangehou ten spyte van terugslae.  Soms was dit omdat hul eenvoudig te moedswillig was om op te gee.

Danielle Steel, wat al meer as ‘n honderd boeke geskryf en ongeveer ‘n miljoen kopieë verkoop het sê op haar webblad dat sy baie gelukkig was om haar eerste boek te publiseer, maar die volgende 5 is nooit gepubliseer nie.  Eers die 7de boek is weer gepubliseer.  Sy sê dat sy nooit die loopbaan sou gehad het wat sy vandag het as sy sou opgee iewers in die tyd dat sy daardie 5 ‘mislukkings’ geproduseer het nie.  Sy skryf haar sukses toe daaraan dat sy eenvoudig op ‘n stoel gaan sit, daar bly sit en dit doen.

So as jy moeg is, hoekom tou opgooi.  Probeer nog een keer.  Sukses wag dalk net om die volgende draai.

“Many of the great achievements of the world were accomplished by tired and discouraged men who kept on working…” ~ Anonymous

Tuesday 20 November 2012

Alles of niks

Matteus 4 : 10  Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Peter Coffe sing 'n pragtige lied getiteld "I Surrender".  In hierdie lied vertel die sanger ‘n verhaal van algehele oorgawe.  Wanneer jy jou lewe totaal en al in God se hande laat, sal jy Hom wil volg, ten spyte van alles.  

God is nie ‘n mooiweers God nie.  Jy kan Hom nie net uit die kas haal wanneer die dominee kom kuier nie.  Hy is nie soos die Bybel wat daar iewers lê en stof vergader en net soms afgestof word om gou bietjie te lees wanneer jy in die nood is nie. 

Om God te dien, raak ‘n dors wat nooit geles word nie.  Wanneer jy Hom leer ken, verloor jy belangstelling in die dinge van die wêreld.  Jy word deel van Sy wêreld.  Hy is ‘n jaloerse God en vra dat jy geen ander god as vir Hom dien nie.  Dis of alles of niks. 

Monday 19 November 2012

'n Tyd vir alles

Prediker 3 : 8   'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog, 'n tyd vir vrede.

Wanneer ons deur moeilike tye gaan, wil ons net hê dat dit verbygaan.   Daarom is dit verblydend om te weet dat daar ‘n seisoen vir alles is. 

Dank God dat daar ook ‘n tyd is vir positiewe dinge soos liefde, lag, blydskap, opgewondenheid, trots, goeie oeste, prysdalings, geboortes, vrede, ens.  Dank God dat daar nie net tye van haat, oorlog, hrtseer en swaarkry is nie. 

Alles gaan verby.  Elke donker wolk het ‘n silwer randjie.  Dit sal weer beter gaan.  Vertrou Hom gedurende jou donkerste tye, maar weet dat Hy ook daar is in jou oomblikke van vreugde en geluk.

Sunday 18 November 2012

Weer probeer

Deuteronomium 20 : 8   Verder moet die leiers nog vir die volk sê: ‘Wie is bang? Wie bewe? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie sy volksgenote laat moed verloor soos hy nie.’
Die dag dat jy ophou probeer, het jy hoop verloor.  Terwyl jy steeds probeer, selfs al maak jy foute, het jy steeds ‘n kans op sukses.  Ironies genoeg probeer baie van ons nie eens nie, ons gee boedel oor alvorens ons ‘n poging aangewend het of nog erger, ons opper verskonings.

As jy in iets glo, gaan voluit vir jou droom.  Selfs al misluk jy aanvanklik, moenie opgee nie.  Probeer ‘n ander aanslag of werk harder.  Moenie luister na negatiewe opmerkings nie en vermy diegene met negatiewe houdings.  Omring jou eerder met mense wat in hul Godgegewe talente en vermoëns glo. 

Droom die onmoontlike.  Om die waarheid te sê moet nooit ophou droom nie.  Drome is sluimerende kreatiwiteit.  Hulle kan of net drome bly, of jy kan hul saam met jou laat ontwaak.

“Most of the important things in the world have been accomplished by people who kept on trying when there seemed to be no hope at all…”  ~ Dale Carnegie quotes

Thursday 15 November 2012

God is vir jou

Rom 8 : 31 – As God vir ons is wie kan teen ons wees?

Wat kan ‘n mens jou aandoen? Jy hoef absoluut niks te vrees nie.  God is groter as al jou probleme.  Hy weet hoeveel hare jy op jou kop het.  Sy beskerming sal jou verstom. 

Dink aan Daniël in die leeukuil.  Hy en sy twee vriende is tussen ‘n klomp honger leeus ingegooi.  Die leeus het nie aan hulle geraak nie, want God het die leeus se monde gesnoer.  Jona het selfs binne ‘n vis se maag nog geglo dat God hom kan help.  Jona 2 : 1 Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God.  

Weet dat God jou deur enige krisis sal dra en dat jy sterker anderkant gaan uitkom.

Wednesday 14 November 2012

Engele

Psalm 91 : 11  Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan

In Suid-Afrika is misdaad deel van ons lewens.  Misdaad is nie meer net iets wat met ander mense gebeur nie, elkeen van ons is al deur misdaad geraak. 

Die vermetelheid van sekere misdadigers is verregaande.  Inbrake word nie eens meer gerapporteer nie.  As jy beroof word, is jy dankbaar dat jy lewend daarvan afgekom het.  Die polisie kan nie voorbly met al die sake nie.  Soos oral, is daar in die polisie ook vrot appels of mense wat hul voordoen as polisie en dan misdade pleeg.  Ons is ‘shock-proof’.  Jy het al alles gehoor en dalk selfs gesien. 

Te midde van al hierdie verskrikkings kom God met die versekering dat Hy Sy engele opdrag gee om jou te beskerm, en wat meer is, Hy bied hierdie beskerming aan “waar jy ook al gaan”.  Geen wonder Dawid sê:  al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my!”  Hy is met jou.  Hy beskerm jou. 

Tuesday 13 November 2012

Om in alles sukses te behaal

Jy sien jouself as ‘n alkoholis, of ‘n mislukking, of ‘n sondaar – God sien jou as die produk van Sy handewerk.  Jesus het ook teenoor die sondaar aan die kruis langs Hom genade betoon.  Hoekom sal Hy nie ook aan jou genade betoon nie? 

Hy kan jou bevry van die drankduiwel.  Hy kan jou suksesvol maak.  1 Samuel 18 : 14 en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was.  Hy kan jou red van sonde.  Bely jou sondes opreg voor Hom.  Vra Hom om vergifnis en ontvang Sy verlossing.  Van daardie oomblik sal jy ook die lied Me and Jesus joune kan maak. 

Dit is die wonder van verlossing.  Van die oomblik dat jy van sonde bevry is, stap God die pad tree vir tree saam met jou.  Hy gaan jou help om teen die versoekings te stry wat weer oor jou pad sal kom.  Hy gaan jou staande hou wanneer jy weer in jou ou weë wil verval en Hy gaan jou regop hou as jy mismoedig word.

Monday 12 November 2012

Bid sonder ophou

Psalm 35 : 13  Ek het sonder ophou vir hulle gebid

Die veiligste plek vir enige kind van God is op jou knieë.  Charles H Spurgeon se woorde is baie waar:  Jy kan nie struikel as jy op jou knieë is nie. 

Gebed bied jou die vermoë om jou diepste seerkry of uitbundige vreugde met Hom te deel.  Op jou knieë kan jy Hom vra om hulp.  Bid sonder ophou.  Bid vir jou eie behoeftes, bid om dankie te sê, bid vir jou gesin, jou land, jou kerk, die regering, misdaad, vrede, vir die vrede van Jerusalem (Psalm 122 : 6) vir diegene wat jou haat, vir vergifnis...  Moet nooit ophou bid nie. 

Gebed is ‘n lewenslyn.  Jesus het Homself ook afgesonder om te bid.  Hy het ons selfs ‘n voorbeeld nagelaat hoe ons moet bid (Mattheus 6 : 9).  Hy sê dat ons nie kry nie omdat ons nie bid nie.  Deur te bid kry jy perspektief op jou probleme.  Gebed toon ook jou afhanklikheid van God.  Gebed hou jou nederig, dog naby God.

Sunday 11 November 2012

Om die Bybel te bevraagteken

Johannes 17 : 17   U woord is die waarheid

Daar is diegene wat die Bybel bevraagteken en met logiese verklarings die begin van die wêreld en vele ander gebeurtenisse daarin wil verduidelik.  As jy logies daaroor wil dink kan jy seker dink dat dit darem bietjie dik vir ‘n daalder is om die see in twee te kloof en die Israeliete droogvoets te laat deurtrek of om ‘n mens uit stof te maak. 

Daar is ook diegene wat beweer dat daar ander Bybelboeke is wat nie in die Bybel is nie omdat dit Christene pas dat dit nie bekend word nie.  Jy kan egter nie stry met Sy bevestiging nie in Johannes 17 : 17 nie. Glo dit soos ‘n kind.  Moet dit nie bevraagteken nie.  Beroep jou op die beloftes in Sy woord.  In Efesiërs 6 : 11 waarsku God jou om die volle wapenrusting aan te trek om jou te beskerm teen die aanslae van die duiwel.

Thursday 8 November 2012

Groei is opsioneel

Johannes 15 : 2   Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.
 Ons ken almal die cliché:  ‘Die enigste ding waarvan ons seker is, is verandering.‘

Verandering is ‘n realiteit van die dag en dit gaan nie weggaan nie.  Inteendeel dit gaan met korter tussenposes en meer gereeld plaasvind.  Om daarteen te skop, gaan niks help nie.

Aan die ander kant, kan ons verandering verwelkom en eerder die positiewe moontlikhede wat dit inhou raaksien… nuwe uitdagings… nuwe omgewings… nuwe kollegas of vriende… nuwe base… vars aanslae… die moontlikheid om nuwe take te bemeester of selfs verborge talente te ontdek… en siedaar ‘n nuwe lootjie sien die lig.  Die keuse is joune.  Groei of stagneer, maar onthou… dis juis nadat ‘n plant gesnoei is dat hul van voor af uitspruit en heerlike vrugte dra.

“Life is change. Growth is optional. Choose wisely...”   ~ Similar Quotes

Wednesday 7 November 2012

Hy was hier

Jesus was op aarde.  Hy is ons verlosser en eendag kom Hy weer om ons te haal.  Hy het ‘n hart vir mense. Nadat Hy opgevaar het na die hemel, sit Hy aan die regterhand van God, die Vader, waar Hy vir ons intree.  Efesiërs 4 : 9  Hierdie uitdrukking: "Hy het opgevaar", veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe.  

Hy weet hoe dit op aarde was.  Hy het dit self beleef en ervaar.  Hy weet hoe mense jou in die steek kan laat en teleurstel.  Ook dit het Hy ervaar.  Tog was die prys nie te hoog vir Hom nie.  Hy het dit betaal sodat ek en jy ‘n geleentheid sal kry om bevry te word.  

Ons kan nie vry wees as ons nie glo dat Hy aan die kruis gesterf het en uiteindelik opgestaan het nie. 

Tuesday 6 November 2012

Vry!

Lukas 15 : 10   Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer

Hier is ‘n bietjie verbeelding nodig.  Sien voor jou geestesoog die engele voor God as Hy vir hulle die nuus gee.   (Jou naam) het so pas tot bekering gekom.  Daar klink ‘n gejuig op en jy sien net glimlagte en vreugde op die gesigte van die hele engeleskaar en die trots op Sy gesig.  Nog ‘n verlore skaap is veilig in die kraal.  Dit is ‘n heuglike dag in die hemel, want ‘n sondaar het tot bekering gekom. 

Jesus het nie as mens na die aarde gekom om die wat reeds gered is te red nie, Hy het gekom om sondaars te bevry.  Dit maak nie saak hoeveel keer jy val nie, Hy staan steeds met oop arms op jou en wag om huis toe te kom.  Jy voel dalk dat jy Hom so seergemaak het dat Hy jou nooit sal vergewe nie.  Hy het dit reeds gedoen.  Jy’s vry!

Monday 5 November 2012

Jesus se hande en voete

Deuteronomium 32 : 2  My onderrig kom na julle toe soos reënwater, my woorde verkwik julle soos dou, soos sagte reëns op die grassies, soos reënbuie op die graan.
In die lied ‘Less of Me’ van Foster & Allen, sing hul “Let me be a little kinder, let me be a little blinder, to the faults of those about me, let me praise a little more...”

Vandag rig ek ‘n uitnodiging tot jou om elke keer dat jy iemand wil kritiseer, iets in daardie persoon te vind of in dit wat hy/sy doen wat jy eerder kan komplimenteer.  Weerhou jouself van snedige aan- of opmerkings.  Versag jou stemtoon.  Helder iemand se dag op met ‘n glimlag wat tot by jou oë strek.  Deel drukkies uit.  Neem ‘n paar minute om regtig te luister as jy gevra het hoe dit gaan. 

Verskuif die fokus van jouself en wees vandag Jesus se hande, voete, oë en stem.  Wees die ligstraal in iemand se lewe, die engel wat hul nog altyd wou ontmoet. 

Kindness is the language which the deaf can hear and the blind can see. ~Mark Twain

Sunday 4 November 2012

Voorraadopname

Psalm 49 : 6  Waarom sou ek my in moeilike tye kwel as ek bedreig word deur die onreg van bedrieërs,

Terwyl die golwe van die stormsee waarin jy jou bevind woes om jou slaan, kan jy van een ding seker wees – God laat jou nooit alleen nie.  Jy twyfel en jy bekommer en jy lê nagte om wakker.  Jy beplan en maak somme en kry nog grys hare by. 

Partykeer is dit nodig om so ‘n bietjie voorraadopname te doen.  In plaas van jou blindstaar teen probleme, kyk eerder na die verlede en onthou hoe God daar was gedurende jou vorige beproewing.  Dit is dan dat jy jou seëninge kan begin tel en uiteindelik eerder vir God kan begin loof en prys eerder as om te kerm en te kla.  Hy is soveel groter as jou probleme.  Jou geheue is dalk net ‘n bietjie kort.

Thursday 1 November 2012

Naasteliefde

Lukas 10 : 27  Hy antwoord: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself."

Die grootste gebod, is die gebod van die liefde.  Om die Here ten eerste so lief te hê soos beskryf in Lukas 10 : 27 en dan om vir jou naaste net so lief te wees as wat jy vir jouself is. 

As elkeen van ons, ons naaste so liefhet, behoort daar mos geen moord of oorlog te wees nie.  Jy kan mos nie jou buurman uitvloek as jy veronderstel is om vir hom lief te wees nie.  Jy kan nie kies vir wie jy wil lief wees nie.  Die boemelaar op straat of jou baas wat vir jou verhoging sorg, hulle is almal jou naaste.  Of dit nou ‘n mede Suid-Afrikaner van ‘n ander ras is, ‘n homoseksueel of ‘n buitelander, behoort geen verskil aan jou naasteliefde te maak nie. 

Dit is ‘n opdrag van God.  Hy vra jou nie om te probeer nie, Hy sê nie jy moet hulle liefhê as… Hy sê jy moet hulle liefhê – punt.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...