Sunday 30 December 2012

Beweeg aan

Jesaja 43 : 18   Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

Die jaar is besig om einde se kant toe te staan.  Dalk is dit ‘n goeie tyd om so ‘n bietjie voorradopname te doen.  Wat was die hoogtepunte vir jou van die afgelope jaar?  Het jy bereik wat jy jouself ten doel gestel het?  Hoe voel jy oor die jaar wat byna verby is?

Wat die ekonomie aanbetref, gaan ons deur moeilike tye so daar is seker baie mense wat voel die afgelope jaar was finansiëel ‘n uitdaging.  Daar was storms, orkane en ‘n besonder koue Winter, dus is ons ook wat die elemente aanbetref deur ‘n moeilike tyd.  Ons het stakings en onluste regoor die wêreld beleef, met leiers wat onttroon is en ander wat nog ‘n termyn gegun is en daarom kan ons ook terugkyk op ‘n moeilike jaar wat die politiek aanbetref.

Wanneer ons die einde van die jaar nader is dit asof ons voel, dit was ‘n moeilike jaar, maar sodra die 31ste eers verby is, sal dinge beter gaan.  Wie weet dalk was 2012 ‘n uitstekende jaar vol geluk en genade vir jou en hoop jy dit loop nooit ten einde nie.  Hoe dit ook al sy, 31 Desember en 1 Januarie is bloot twee dae wat mekaar opvolg.  Gewoonlik is daar geen merkbare verskil van die 31ste na die 1ste nie.  As dit ‘n moeilike jaar was, kom ons plaas dit agter ons, want ons kan net in geloof elke dag tegemoet gaan met die wete dat God goeie dinge vir Sy kinders beplan en dat ons lewe in Sy hande is.

Thursday 27 December 2012

Ek sal geen onheil vrees nie

Dawid skryf in die bekende Psalm 23:  “Al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie.”  Dit demonstreer geloof op sy beste. 

Dit laat my onvillekeurig ook aan Daniël dink.  Hy is in die leeukuil sonder enige vrees, want hy het geweet dat God nie net groot en magtig is nie, maar boonop getrou as jy Hom onvoorwaardelik vertrou.  Daarom het Daniël nie een oomblik gewyfel nie. 

Ons lees koerante of kyk TV nuus en ons raak paniekbevange.  Die Bybel is vol van God se beloftes van beskerming en voorsiening.  Deur die eeue heen het Hy nog nooit Sy Woord verbreek nie.  God se Woord is die Waarheid.  "Wees oor niks bevrees nie, want Ek sorg vir julle," verseker Hy ons keer op keer.

Wednesday 26 December 2012

Onbeskryflik!

Job 37 : 16 Weet jy hoe die wolke sweef? Dit is die wonderlike werk van Hom wie se kennis volmaak is.

Het jy al ooit oor die wonder van die skepping gedink?  God is die Skepper van Hemel en Aarde.  Hy beheer alles.  Hy het vir die branders van die see grense gestel.  Hy het 'n arend die vermoë gegee om hoog in die hemel te sweef.  Hy skenk lewegewende reën.  Hy vertel vir die weerlig waar om te slaan.  Hy gee aan die son die vermoë om hitte en lig uit te straal.  Hy het die sterre aan die hemelruim gehang en ken elke ster by naam!  Abraham kon nie die sterre tel nie, maar Hy ken elkeen se naam! 

Bederf jouself met 'n DVD van Louis Giglio.  In "Indescribable" raak hy byna uitasem van verwondering wanneer hy oor die aarde en die hemelruim begin gesels.  Die omvang daarvan is ver buite ons menslike begrip en ons het nog nie eens alles ontdek nie.  As jy die grootte van die aarde vergelyk met die grootte van die heelal, dan staan jy verstom dat God soveel moeite gedoen het, met hierdie spikkeltjie wat ons aarde noem. 

"You are amazing God!"

Amen!

Sunday 23 December 2012

In 'n stal in Bethlehem

Matteus 2 : 1  Jesus is in Betlehem in Judea gebore   Lukas 2 : 7 Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.   

Môre vier ons Kersfees, die geboorte van ons Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus en dit het my laat wonder.

God kon dit tog so bewerkstellig het dat Sy Seun in ‘n koningsgesin gebore word.  Jy sou dink dat net die beste goed genoeg sou wees vir die Koning van die Heelal se Seun.  Hy kon gesorg het dat Jesus geen gebrek sou ly nie. 

Ek wonder ook hoekom Hy nie tot vandag gewag het waar daar behoorlike vervoer is en meer geriewe sodat Jesus nie so ver moes stap nie.  Hy kon dalk selfs na ander lande ook gevlieg het. Dink net hoe hard Jesus moes praat sodat die skares hom kon hoor.  Vandag sou hy 'n mikrofoon kon gebruik.  In plaas van 'n nederige vissersboot kon hy op 'n luukse jag of motorboot gevaar het.  In vandag se tyd sou Hy heelwaarskynlik nie eens rondbeweeg het nie, want Hy kon soos vele predikers sommer Sy eie TV program gehad het.

Onverstaanbaar soos dit vir ons is, het God besluit dat Jesus Christus as kind van ‘n nederige timmerman, uit 'n maagd genaamd Maria, in ‘n stal in Bethlehem gebore word.  En dit meer as 2000 jaar gelede toe daar nog bitter min ontwikkeling was. 

By gebrek aan ‘n behoorlike blyplek, moes Maria haar pasgebore baba in ‘n krip neerlê nadat sy Hom in doeke toegedraai het.  Ons verstaan nie altyd Sy weë nie, maar God weet beslis hoekom Jesus Christus tussen gewone mense woon, opgroei en beweeg.  Sodoende kon Hy diegene ontmoet wat Hom die nodigste het. 

As Jesus vandag gebore sou word, sou dit heel waarskynlik op TV nuus verkondig word, op koerante se voorblaaie gepryk het en daar sou heelwat eposse, smsse, bbm's ens rondgestuur word, maar... sou dit die impak gehad het wat dit wel gehad het toe Hy die boodskap van verlossing persoonlik aflewer het?  Jesus Christus is nie Dynamo wat 'magic' doen op TV nie, Hy het egte, verstommende, wonderwerke gedoen wat mense sonder enige kamera kunsies aanskou het.

God se plan is volmaak - ook vir jou.

Geseënde Kersfees en vrede vir jou, uit my hart uit.

Thursday 13 December 2012

Wees dapper

Deuteronomium 31 : 6  Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”
Iemand het eendag gesê jy hoef nie noodwendig goed te wees nie, maar jy moet passie hê.

Passie dryf mense om die onmoontlike te bereik.  Jy kan net nuwe horisonne en geleenthede ontdek as jy bereid is om te waag.  Die blote gedagte om ‘n risiko te neem, laat meeste mense die hasepad kies, maar dit is eintlik onnodig.  Motiveer jouself deur te fokus op die eindresultaat. 

Pioniers is diegene wat die nodige waagmoed aan die dag lê om dit te doen wat niemand anders voor kans sien nie.  In die proses het briljante innoverings al die lig gesien, Columbus het Amerika ontdek en Neil Armstrong het op die maan geloop… Wat is jou passie?

“Never be afraid to try something new…  Remember, amateurs built the ark… Professionals built the Titanic…” ~ Anonymous

Wednesday 12 December 2012

My vriend, Jesus

Johannes 15 : 13 & 14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel

Om Jesus so goed te ken, dat jy Hom jou vriend kan noem, is seker een van die grootste voorregte.  Die wonder is dat Hy jou vriend wil wees. 

Dit is nie nodig om familiêr met Hom te wees nie, maar dit toon dat jy ‘n lewende verhouding met Hom het.  Dis ‘n bewys dat jy Hom in alles aspekte van jou lewe ken en ook met alles vertrou.  Jou beste vriend is daar in voorspoed en teëspoed.  Daar is soveel valsheid in die wêreld van vandag.  Hy is opreg en nie ‘n mooiweersvriend nie. 

Hoeveel vriende het jy vandat jy kan onthou; wat jou vriend gebly het ten spyte van veranderinge in jou lewe?  ‘n Ware vriend gaan jou waarsku as jy op die verkeerde pad is.  Hy sal jou nie in die verderf laat beland nie.  Jesus Christus wil jou Vriend wees.

Tuesday 11 December 2012

Wat 'n prys!

1 Korintiërs 7 : 23  Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie.

Daar is soveel goeie dinge wat vir jou voorlê as jy jou lewe aan God toevertrou.  Deur Sy kind te word, beërf jy die ewige lewe.  Jy gaan eendag toegelaat word in die Vader se huis waar daar reeds vir jou plek voorberei is.  Daar gaan net vreugde wees en geluk.  Miskien ken jy net swaarkry hier op aarde en is jy mismoedig.  Hou vas aan God se beloftes.

Toe Petrus saam met Jesus op die berg was, het hulle ‘n stem uit die hemel hoor sê:  Dit is my geliefde Seun in wie ek vreugde vind.”  God is ontsettend lief vir Sy seun en trots op Hom. Hy was altyd naby Jesus, maar tog het Hy Hom nie gespaar nie.  Hy moes die wedloop voltooi en die prys namens ons aan die kruis betaal.  Deur Sy bloed is ons gered.  Wat ‘n prys!

Monday 10 December 2012

Vrees

Levitikus 26 : 37  Die vrees vir oorlog sal hulle oormekaar laat val om weg te kom van agtervolgers wat nie bestaan nie.

Vrees word in meeste gevalle voorafgegaan deur vals getuienis wat oor jou pad kom op meer as een manier… deur middel van die bostelegraaf… opsweping… via sogenaamde vriende/vriendinne…  jou interpretasie… So leef ons in vrees as gevolg van dinge wat of nie waar is nie, of nooit gaan gebeur nie.

Vrees verlam mense;  dit veroorsaak tonnelvisie.  Dit beinvloed jou goeie oordeel en dit lei jou aandag af van dit wat werklik belangrik is.  Kanaliseer jou energie eerder op positiewe  alternatiewe;  oplossings eerder as vrees.

Vrees op sigself is skadeloos.  Ons oorhandig ons mag die oomblik dat ons die vals getuienis as die waarheid aanvaar en toelaat om ons te affekteer. 

“FEAR is an acronym in the English language for "False Evidence Appearing Real" - Neale Donald Walsch quotes

Sunday 9 December 2012

Lang gesig of nie

Romeine 7 : 22  Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God,

Stem jy saam?  Wat sien ander as hulle na jou kyk?  Sien hulle ‘n Christen wat vreugde uitstraal?   Iemand het eendag gesê: “as jy gelukkig is, vertel jou gesig sodat dit kan weet om ook gelukkig te lyk.”  As ek rondom my kyk, sien ek nie baie vreugde nie.  Ek sien kommer, stroefheid, hartseer.  Instede van blydskap, lofprysing en getuienis van God se goedheid en genade, hoor ek klagtes en vrese wat geopper word. 

Onsekerheid het ‘n leefwyse geword en kla ons nuwe nasionale sport.  God wil hê dat jy gelukkig moet wees, gesus in die wete dat Hy in beheer is.  As jy elke dag opstaan en ‘n daadwerklike besluit neem dat jy vandag vrolik gaan wees, ten spyte van onweerswolke wat om jou saamtrek, sal jy probleme soveel beter kan hanteer. 

Meer nog, jou vreugde kan so aansteeklik wees dat ander jou kom vra hoe jy dit regkry om voortdurend opgeruimd en vrolik te wees, want hulle begeer om ook so te wees.  Dit is hoe jy siele vir Jesus kan wen, nie met ‘n lang gesig nie.

Thursday 6 December 2012

Stop! Ek wil afklim

Prediker 2 : 23  Elke dag bring vir hom pyn en elke onderneming ergernis; selfs snags kom hy nie tot rus nie. Ook dit kom tot niks.

As jy ‘n trein was, het jy jouself op ‘n sylyn gerangeer.  As die lewe ‘n pretpark was, sou jy gevra het hulle moet stop, want jy wil afklim.  Jy’s nie meer lus vir hierdie speletjie nie. 

Ongelukkig kom die aarde nie tot stilstand omdat ek of jy voel of ons uitmekaar breek van smart nie.  Om die waarheid te sê, terwyl ons op ‘n hopie ineengekrimp en met rooi oë sit, gaan alles skrikwekkend normaal voort.  Die son kom steeds op en hy gaan onder.  Lente volg na Herfs en babas word steeds gebore.  

Hoe gouer ons onsself sover kan kry om weer normaal te funksioneer, hoe makliker kan ons voortgaan.  Die ou gesegde dat jy so gou as moontlik weer moet fietsry nadat jy afgeval het, geld hier ook.  God is die groot Vertrooster en Hy wil jou ook vertroos.  Vind rus in Sy koesterende arms en weet dat jy nooit alleen is nie.

Wednesday 5 December 2012

Jy's nie alleen nie

Psalm 121 : 1  Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?  

Dalk gaan jou huwelik deur stormwaters, of jy is reeds besig met ‘n egskeiding, of jy het so pas iemand aan die dood afgestaan. Miskien het jy jou werk verloor, of jy probeer wegbreek van ‘n bende...

Te midde van sulke krisisse is dit moeilik om die mooi in enige dag te sien, want om staande te bly verg al jou energie.  Jy is lewensmoeg en afgemat tot so 'n vlak dat jy tonnelvisie ontwikkel het.  Die krisis is allesoorheersend en veroorsaak dat dit byna onmoontlik is om enigiets anders waar te neem daarom kan jy nie die sonskyn of vreugde buite jou gesigsveld sien nie. 

Benader die probleem op ‘n heel ander manier.  Sodra jy opstaan, in plaas van sug en die kombers oor jou kop trek, raak stil voor God en dan sing jy ‘n lied.  Sing uit volle bors - 'n oorwinningslied.  Stap na die spieël en gee jouself ‘n kompliment.  As jy kan, gaan draf ‘n ent om jou kop skoon te kry.  Terwyl jy draf, gesels met God of luister na musiek.  Waar jy ook al deur die dag beweeg, kyk na ander mense en weet dat elkeen van hul ook krisisse beleef.  Sodra jy op enigiets buiten jou probleem fokus, kry jy afstand en dan gaan jy perspektief op die saak kry. 

Onthou altyd dat jy nie alleen staan nie, die feit dat jy niks sien verander of verbeter nie, beteken nie dat God agteroorsit en Hom verlekker in jou pyn nie. 


Tuesday 4 December 2012

Waaroor droom jy?

Psalm 16 : 5  Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.
 Weet jy regtig wat jy in die lewe wil hê? 
Het jy dit al neergeskryf? 
Het jy ‘n daadwerklike plan? 
Visualiseer jy dit?
Bid jy daaroor?  
Is dit binne die wil van God?  
Wat is jou eerste stap? 
Wat het jy tot dusver in plek gesit om jou doelwit te bereik? 

As ‘n mens niks doen, kan jy natuurlik ook nie misluk nie, maar dit beteken nie noodwendig dat jy suksesvol is nie.  Daar is geen beter tyd as nou nie.  Neem die eerste tree… vandag nog.  En moenie beskeie wees nie.  God was nog nooit bekend om Sy suinigheid nie. 

The first step to getting the things you want out of life is this: Decide what you want.  - Ben Stein

Monday 3 December 2012

Dit gaan nie oor my nie

Openbaring 5 : 5 die Leeu uit die stam van Juda

Die grootste gevaar wat ‘n Christen kan loop, is dat mense soveel na jou opkyk dat jy begin dink dit gaan oor jou.  As jy ‘n goeie prediker is en baie gewild onder die gemeente, mag dit gebeur dat jy begin glo jou kerk is so vol omdat die mense kom luister hoe goed jy preek.  As jy ‘n Evangelis is en vol sale trek, kan jy maklik glo dit is omdat jy so dinamies is.  As jy ‘n sendeling is wat groot sukses bereik op die sendingveld, mag jy dink dit is omdat jy jou Bybel so goed ken. 

Jy mag dalk ‘n talentvolle atleet of ‘n suksesvolle skrywer of ‘n baie gewilde sanger wees, onthou dat jou talent van God kom.  Alles gaan oor Hom en nie oor jou nie.  Moet nooit groter as Die Saak word nie.  Bly nederig.  Wanneer jy Hom in alles ken en erkenning gee, sal Hy jou selfs meer suksesvol maak.  Hy gee dit vir jou en Hy kan dit enige tyd wegneem.  Onthou asb oor Wie dit gaan.

Sunday 2 December 2012

Saai die saadjies

Matteus 13 : 8  Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer,

As jy nie saai nie, sal jy ook nie maai nie.  Dit is nie altyd nodig om vir iemand te preek nie.  Jy kan net iewers vir iemand vertel van ‘n wonderwerk wat God in jou lewe bewerkstellig het.  Die persoon mag dit dalk hoor en vir tyd en wyl vergeet, maar eendag as hy of sy deur diep waters gaan, onthou hul jou getuienis en besef dan dat die tyd ryp is om hierdie wonderlike Jesus van jou beter te leer ken.  

So saai maar jou saadjies.  Soms val hul op goeie grond en ander kere op onvrugbare grond.  Iewers gaan jy dit regkry en dan gaan die lande geil staan.    

Dis juis wanneer ons deur ‘n krisis gaan en besef dat ons meer as menslike hulp gaan nodig hê vir hierdie saak dat daardie saadjie ontkiem.  Dan grawe ons, ons Bybel uit, stof dit dalk eers af en ontdek dat Hy en Sy Woord die enigste ankertou is wat nooit sal breek nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...