Wednesday 27 March 2013

Paasfees?

Vier jy paasfees as ‘n lekker langnaweek met hope paaseiers?   Of onthou jy dat dit die herdenking van Jesus se kruisdood en opstanding is?  Onthou jy dat Hy Sy Seun as offer vir jou en my gebring het? 

God het ‘n keuse gehad.  Jesus het ‘n keuse gehad.  Selfs al was Jesus bang en benoud en al het Hy gevra of die beker nie maar by Hom kon verbygaan nie, het Hy nie omgedraai nie.  Dit is volbring.  Galasiërs 1 : 4  wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring.  

Die prys is betaal, met Sy kosbare bloed.  ‘n Duur prys.  Sê jy nog vir Hom dankie vir daardie opoffereing?  Vertel jy vir ander daarvan?  Keer op keer vergewe God jou sondes.  Moet jy nie keer op keer van sy weldade vertel en Hom hulde bring nie?

Mag Goeie Vrydag vir jou 'n baie spesiale dag wees, gevul met die wete dat Jesus Christus om net een rede die Via Dolorosa gestap het en uiteindelik aan die kruis gehang het - omdat Hy gehoorsaam was aan God en om te bewys dat ware liefde (die liefde wat God vir jou het), oor enigiets kan triomfeer.

Tuesday 26 March 2013

Verlore Drome

Success seems to be largely a matter of hanging on after others have let go ~ William Feather
As jy enigsins aan die aanhaling twyfel, hoef jy net die naaste begraafplaas te besoek.  Hoeveel mense dink jy lê daar wat nog drome gehad het wat hul nie naastenby verwesenlik het nie?  
So hartseer as wat dit is, is dit ongelukkig nie altyd omdat iemand nie die geleentheid gehad het om hierdie drome te verwesenlik nie.  Partykeer sterf die droom voor die individu.  Mense gee op op hul drome omdat ander hul ontmoedig deur negatiewe kommentaar of pessimisme.
Prediker verwys ook na verlore drome.   Prediker 5 : 6 Daar is baie drome, baie wat tot niks kom nie, ook baie woorde. Maar dien jy vir God!
Onthou gerus dat dit jou droom is.  Werk hard om dit te bewaarheid en moenie toelaat dat ander jou ontmoedig nie.  Moet egter nooit die Waarmaker van Drome uit die oog verloor nie.  By Hom is alles moontlik.

Monday 25 March 2013

God se Insig

Spreuke 3 : 5  Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Herfs is my gunsteling tyd van die jaar in die Kaap.  Ek is gaande oor die windstil dae met temperature wat net reg is;  nie te koud nie en nie te warm nie.  En tog, as ek nie die versengende hitte van ‘n Somersdag ervaar het, of ‘n stormsterk Suid-ooster moes trotseer nie – as ek nie die snerpende koue van ‘n nat Wintersdag ervaar het nie, sou ek nooit hierdie perfekte dae soveel waardeer het nie.

Net so moet ons verstaan dat ons nooit gelukkige tye sou waardeer as ons nie ongelukkigheid beleef het nie.  Ons elkeen het ‘n perfekte balans tussen hartseer en vreugde; tussen swaarkry en geluk – net soos God dit vir ons uitgemeet het.  As jy dink jou swaarkry is onhanteerbaar, gesels gerus met ander rondom jou en jy sal vinnig besef dat jy eerder jou pakkie wil hou as om ander sin op te neem, want ons kry ook ‘n goeie dosis krag om ons swaarkry te hanteer.   Daardie krag pas egter net by jou pakkie. Sou jy iemand anders se pakkie opneem sal daardie krag niks uitrig nie.   

En net soos Lente Winter opvolg, sal vreugde ook in ons lewens kort voor lank bot en gedy.  As ons jaar in en jaar uit somersvrugte sou kry, sou ons lankal daarvoor moeg wees, maar nou kry ons verskillende vrugte in verskillende seisoene en so is daar ook verskeidenheid in ons lewens.

Ons is tot soveel meer in staat as wat ons God krediet voor wil gee.  Mag jy God ervaar tydens die hewigste Winter in jou lewe; net soveel as wat jy Hom ervaar tydens die hoogsomersdae.

Sunday 24 March 2013

O, Heer my God

Lied 464 : 1, 2    O Heer my God, as ek in eerbied wonder - en al u werke elke dag aanskou:  die son en maan, die aarde, sterre, wolke, hoe U dit elke dag so onderhou...  Dan moet ek juig...

Ek dink nie ons kan ooit die wonder van die skepping regtig verstaan nie.  Sterre wat aan die hemelruim glinster… wolke wat soveel verskillende vorms aanneem… die son waarsonder ons nie kan bestaan en die maan wat dan half, dan vol vertoon. 

Die feit dat die see weet waar sy grense is, (Job 38 : 11) dat ‘n voël in die hemel kan sweef, getuig van Sy volmaakte onverstaanbare skeppingsvermoë.  Waar bêre God die sneeu en die hael? (Vers 22). Wie gee verstand aan die ibis om teen die vloed te waarsku of wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig? (Vers 36). Wie gee vir ‘n kraai die kos wat hy nodig het wanneer sy kleintjies om hulp roep na God, rondskarrel vir iets om te eet?  Ken jy die tyd wanneer die klipspringers lam? (Job 39 3-4).

Gelukkig hoef ons nie alles te verstaan nie, ons hoef net te weet dat God in beheer is, net soos wat Hy ook in beheer van jou en my lewe is.  As Hy die see in toom kan hou, is die klein stormpies wat ons tref sommer kinderspeletjies vir Hom.

Thursday 21 March 2013

Vyf goue muntstukke

Matteus 25 : 16  “Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf.
Ons ken die gelykenis.  Twee van die slawe het ‘n wins gemaak en een het die geld begrawe omdat hy bang was hy sou dit verloor. 

Is dit nie presies wat ons ook partykeer oorkom nie?  Ons is so bang ons gaan nie suksesvol wees nie, dat ons nie eens probeer nie.  Ons is so bang ons gaan verloor dat ons nie eens ‘n kans waag nie.  Soms gee God vir ons al die middele en Hy wys ons die pad, maar ons is steeds te bang om daardie stap in geloof te neem.  Ons begrawe as't ware ons geleenthede.

Dalk is jy by ‘n kruispad en moet jy besluite neem, maar jy is so bang jy ‘verloor alles’.  As jy God in die saak geken het en jy het ‘n antwoord van Hom ontvang kan jy gerus voortgaan, want Hy wil hê dat jy gelukkig moet wees.  Dis tyd vir ‘n oë toeknyp en God te vertrou. 

Gaan vermenigvuldig daardie vyf goue muntstukke waarmee Hy jou vertrou het.  Jy wil nie hoor dat jy ‘n slegte en ‘n lui slaaf is omdat jy jou muntstukke begrawe het nie (vers 26).

Tuesday 19 March 2013

Sout van die aarde

Psalm 37 : 4  Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
Jy mag dalk van my verskil, maar ek dink die mense van die platteland is die sout van die aarde.  Hul opregtheid is soos ‘n welkome briesie op ‘n bloedige Somersdag.

Wat maak mense van die platteland so anders?  Hulle groet mekaar en vra met opregte belangstelling na mekaar se welstand uit.  Daar is ook nie die gejaagdheid waaraan ons in die stad gewoond is nie.  Hulle jaag nie agtuur in die aand nog na die supermark om 'n brood te gaan koop nie, want die winkels maak 6h00 op die laaste toe.  Saterdagmiddae is vir tuinwerk, nie die winkelsentrum se eindelose gange nie.   Vir iemand wat byna elke dag die stadsverkeer moet trotseer is drie motors by ‘n stopstraat in die hoofstraat byna abnormaal.  En dan beduie die vriendelike man aan jou regterkant nog vir jou om eerste te ry!

Agter ons hoë mure en tralies voor al wat ‘n deur en venster is, het ons onsself verloor.  Dalk het dit tyd geword om onsself weer te vind.  Ons hoef nie altyd by te bly nie - ontspan!  Ons hoef nie soos vele ander met stroewe gesigte rond te loop nie.  Ons kan uitreik na ander en so ‘n bietjie plattelandse gasvryheid teenoor ons naaste betoon.

Waak vandag jaloers oor die vreugde wat God binne jou geplaas het.  Nog voor jy uit die bed klim, bid sommer gou.  “Here, dankie vir al die vreugde wat ek vandag gaan ervaar en ook vir die vreugde wat ek in ander se lewens gaan bring.  Maak my ‘n gewillige instrument in U hand, Vader.  Ek is gereed.”    

Monday 18 March 2013

Seëninge uit Sy hand

Psalm 147 : 8  Hy voorsien reën vir die aarde en laat gras op die bergland uitspruit.
Tydens ‘n onlangss sakereis, reis ek deur die platteland.  Op pad na my bestemming, verwonder ek my aan die skepping.  Langs die pad verander die landskap kort-kort van brak lande tot geil wingerde tot stoppellande.  Soms wei daar spekvet skape en beeste.  Daar’s selfs ‘n paar rye hoenderhokke en die damme is lekker vol water. 

Skielik besef ek iets van God se voorsiening.  Alles wat ek rondom my sien, kom uit Sy hand.  Danksy Sy voorsiening, kruie die trekkers stadig voort met waentjies wat oorloop van vet geswelde druiwe.  Die stoppellande getuig van koring wat geoes is en ek kan my net voorstel hoe vol die silo’s nou is. 

’n Boer weet hoe om op sy knieë te bly, veral deesdae.  As daar nie stakings is nie, dan is daar plaasmoorde, brande en droogtes.  Alhoewel ons weet dat die mens deesdae net mooi alles kan doen, het ons God steeds nodig om reën te bring – lewegewende reën. 

As jy ‘n boer is en ‘n bietjie moedeloos voel as gevolg van omstandighede, wil ek jou bemoedig om vol te hou.  God het iemand soos jy nodig.  Moenie dat wêreldse probleme jou onderkry nie.  En ons wat nie boer nie, kan gerus vir ons boere bid.  Dis harde werk onder moeilike omstandighede, wat dikwels net deur God se genade volgehou kan word.

Sunday 17 March 2013

Alles of Niks

1 Korinthiërs 1 – 28  en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak.

Al is jy hoe optimisties, kry ons almal tye dat ons voel asof ons ‘n totale mislukking is – dat ons net mooi niks kan regdoen nie.  Dis maklik om te voel dat jy nie goed genoeg is nie wanneer jy om jou kyk en mense met deftige klere sien, of diegene wat in duur motors ry, of dalk diegene wat in gesogte buurte woon. 

Juis daarom is dit absoluut verfrissend om ‘n teksvers soos hierbo te lees en te weet dat God nie belangstel hoe belangrik jy is nie, maar veel eerder wil weet wat ‘n belangrike verskil jy in die wêreld rondom jou gemaak het.  Of jy kreupel is of werkloos;  of jy in ‘n plakkerskamp woon of jouself in ‘n tronksel bevind, is vir Hom irrelevant.  Dis wat binne jou hart aangaan waarin Hy belangstel – wie jy aanbid.  En ons weet Hy’s ‘n jaloerse God wat nie deel nie – dis alles of niks. 

So tel op jou kop en onthou dat jou Hemelse Vader die Koning van die heelal is, wat dan van jou ‘n prins of prinses maak.  Jy is spesiaal en God het die perfekte plan met jou lewe – vertrou Hom net.  Ons almal hoop op ‘n makliker môre, maar dis vandag wat saakmaak.  Sal jy vanaand met trots op jou dag kan terugkyk?

Thursday 14 March 2013

10 Gebooie vir Vandag

1. As Ek die eerste plek in jou lewe inneem, sal jy geen ander gode wil dien nie,

2. As Ek in jou hart woon, sal dit nie nodig wees om gesnede beelde van My te maak nie,

3. As jy My liefhet, sal My naam nooit ’n vloekwoord oor jou lippe kan wees nie, maar in alle omstandighede deur jou eerbiedig en gerespekteer word!

4. As Ek die ereplek in jou lewe het, sal die Sabbat die hoogtepunt van die week vir jou wees. Dit sal vir jou ’n
vreugde wees om in die Gemeenskap van die heiliges My te aanbid. ’n Dag om na uit te sien, nie om teen op te sien nie!.

5. As Ek in jou lewe is, sal dit vir jou ’n voorreg wees om jou ouers te eer en lief te hê. Dit sal nie vir jou moeilik
wees nie, want agter Hulle sal jy My sien wat hulle vir jou uitgekies het!

6. As jy my liefde jou eie gemaak het, sal jy nooit iemand wil seermaak of haat nie, wat nog te sê doodmaak!

7. As jy My liefhet, sal dit nie moeilik wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie.  As Ek ’n plek in jou huwelik het, sal julle vir mekaar lief wees en julle geluk sal ek in my hande bewaar.

8. As Ek op die troon van jou lewe sit, sal jy daagliks vra: ‘Aan wie en waar kan ek aan ’n ander iets gee en jy sal nooit iets van ‘n ander wil neem nie.

9. As Ek in jou lewe is, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van ’n ander kwaad te praat nie. Deur my gees
sal jy ’n mens wees wat van ’n ander niks sal sê as dit nie iets goeds is nie!

10. As jy een met My is, sal My gees jou tevredenheid gee om vergenoegd te wees met wat jy het, met die besef dat God gee soos wat jy nodig het en wat Hy gee, gee Hy altyd genoeg sodat jy niks sal kortkom nie!

(Ontvang via epos)

Wednesday 13 March 2013

Hoop, Vertroue, Krag

Jesaja 40 : 31 maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
Anders as meeste, dink ek die mens is van nature optimisties.  Ons hou nooit op met hoop dat môre, volgende week, volgende maand, volgende jaar beter moontlikhede inhou nie.  Meeste mense sien met groot hoop en afwagting uit na ‘n nuwe jaar, so asof al wat ‘n probleem is, huidige of toekomstige, in die ou jaar gaan agterbly.  Jy hoor so dikwels:  “As ek suksesvol met hierdie aansoek is!”  “Wanneer ons trek…” “ Sodra ons van die motor ontslae geraak het…”  “As my man of vrou net…”  Ons droom, glo en vertrou dat uitkoms binne ons bereik is.  Keer op keer word ons teleurgestel, maar dan hoop ons weer. 

Die lewe is nie regverdig nie, maar hoe sal ons weet wat regverdigheid is as ons nooit onregverdigheid ervaar het nie?  Sal ons ooit die prag van ‘n reënboog waardeer indien ons nie die storm oorleef het nie?

Die geheim is om nie op jou eie krag te vertrou nie, nie te bly hoop op dit wat jy wil hê nie, maar God te vertrou vir leiding.

Life is not always fair.  Sometimes you get a splinter even sliding down a rainbow.  ~Terri Guillemets

Tuesday 12 March 2013

Die Tong

Jakobus 3 : 5-6  So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. 'n Klein vuurtjie kan 'n groot bos aan die brand steek.  Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet.
‘n Vriendin raak nou die dag ‘n groot waarheid kwyt.   Sy sê sy probeer partykeer bid en dan ervaar sy dat sy ewe skielik niks het om te sê nie, maar as iemand by haar kom stories aandra (skinder), dan vloei die woorde soos water oor haar lippe. 

Hoe oorkom ‘n mens die drang om nie saam te praat nie?  Wees nou maar eerlik, jy weet skinder is gevaarlik, maar jy voel of jy gaan bars as jy nie die sappige stukkie gaan deel nie.  Dit neem min of meer 21 dae om ‘n nuwe gewoonte aan te leer soos om eerder stil te bly as jy nie iets goed van iemand kan sê nie.  Plak vir jouself notatjies of prentjies op om jou daaraan te herinner.  Konsentreer aanvanklik om net saam te praat as dit positief is en later om eerder weg te stap van sulke geselskap.

Niemand hou daarvan om die onderwerp van ‘n skinder veldtog te wees nie.  Volg die goue reël:  Doen aan ander soos jy wil hê hulle aan jou moet doen.

Monday 11 March 2013

Splinternuwe Jy

Johannes 15 : 9 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.

Wanneer die onsigbare meule van die lewe
Jou fyn gemaal het, neem jou Skepper
Daardie einste stukkies in Sy onsigbare hand op
En raai wat is die resultaat?
'n SPLINTER NUWE JY
Wat die lewe vol moed kan aanpak!
So my vriendin/vriend,
Leun vanoggend 'n rukkie met jou arms
Op die hemel se vensterbank
En aanskou ons Hemelse Vader se LIEFDE.

Draai dan versterk om.
Gaan die dag met Sy genade in!

Mooi dag vir jou!
Mag ons Vader jou lei en bewaar, vandag en altyd.

Weet dit . . .
Jesus is LIEF vir jou
***

Sunday 10 March 2013

Treë in geloof

Klaagliedere 3 : 33  dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.

Tye van beproewing besorg aan ons tonnelvisie.  Ons kan nie weerskante van ons vreugde en wonderwerke sien nie.  Ons kan nie agter ons goeie tye en God se wonderbare redding sien nie en ons glo die lig in die tonnel is ‘n aanstormende trein. 

Nee, daardie lig, is Sy lig.  Hy staan daar en Hy wink jou om Sy reddende hand te neem.  Stel jou ‘n kindjie voor wat op waggelbeentjies staan en die pa hou sy hande na hom/haar uit.  Die kleintjie se armpies is uitgestrek en die treetjies word in geloof gegee.  Pappa sal my vang as ek struikel.  Die gesiggie straal en die kleintjie vorder.  Met die laaste paar treetjies word die pas versnel. 

Ons moet ook in kinderlike geloof ons oog op die lig hou en elke tree in geloof na Hom gee.  Dan is die lewe nie meer donker rondom ons nie. 

Thursday 7 March 2013

Hou op omkyk

Baie van ons leef in die verlede.  Ons bly vasklou aan dit wat verkeerd gegaan het en ons koester ‘n wrok teenoor wie ookal ons tenagekom het.  Wanneer ons bid bly ons ou koeie uit die sloot grawe en die versoeklysie vir onsself raak al langer en langer. 

Hou op omkyk.  Dit help nie om een tree vorentoe te neem en dan weer twee terug te neem nie.  Maak jou los van dit wat agter lê en strek jou uit na wat voor lê.  Filippense 3 : 13  Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.  

Rig jou oog op die toekoms, die wenstreep.  Begin met danksegging:  “Laat U naam geheilig word...” Dan vra:  “Gee ons vandag asseblief ons daaglikse brood...” En dan weer eer en erkenning:  “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid...” 

Wanneer jy vra, onthou ook om vir ander te vra. 

Wednesday 6 March 2013

Neem God op Sy Woord

Psalm 25 : 2  My God, op U vertrou ek.

Die opgewondenheid om ‘n Christen te wees wanneer jy Jesus Christus as jou Verlosser aangeneem het, bring jou gou tot die werklikheid terug wanneer jy jou eerste probleem teekom.  Dit is maklik om te sê dat jy op Sy Woord moet vertrou, maar om dit te doen wanneer jou wêreldjie rondom jou ineenstort, wanneer jy iemand aan die dood afstaan, wanneer jou man aan depressie ly, wanneer jou vrou borskanker het, wanneer jy uitvind dat jou lewensmaat jou verkul, wanneer jou tiener aan dwelms verslaaf is... Dan begin ons twyfel. 

Die saak lyk so ontmoontlik vir ons dat ons nie kan dink dat God enigiets kan verander nie.  Ons bid en dit gaan nie beter nie.  Ons smeek en niks gebeur nie. 

Ek glo dat God op drie maniere antwoord:  (1) Ja (2) Nie nou nie (3) Ek het iets beter vir jou in gedagte.  Ons moet hom blindelings vertrou en op Hom wag.  Neem God op Sy Woord, want Sy Woord is die Waarheid.

Tuesday 5 March 2013

Hoekom glo ek?

Ek het Hom nodig so hier is my antwoord.

Ek glo in God, want partykeer is die wêreld so "awesome" en dinge werk so goed uit dat my siel uitroep vir iemand om voor dankie te sê. 
Dan is dit Hy! Ek glo in God, want soms is die berge en die sonsondergang en die wolke en die maan so mooi dat ek iemand nodig het om te prys.
Iemand moes dit gemaak het.  Dis Hy!
Ek glo in God, want partykeer gebeur goed wat so onbeplan is en so seer maak
en dan voel dit of niemand verstaan nie, maar dan onthou ek die spykers in Sy hande en die Man aan die kruis.
Dan weet ek Iemand huil saam met my.  Dis Hy!
Ek glo in God, want partykeer is ek so deurmekaar en die lewe so sinneloos en my drome lyk onbereikbaar en dan het ek iemand nodig om saam met my die pad te stap en rigting te wys.  Dan is Hy daar!
Ek glo in God, want partykeer is ek so dom en ek doen sulke "stupid" goed en Sonde mors my hart en my lewe so op en maak ander so seer
en dan het ek nodig dat Iemand vrede en wysheid bring.  Dan is Hy daar!
Hy maak heel wat ek self verbrou het!
Hy bring genade selfs in seer wat ekself veroorsaak het!
Ek glo in God, want partykeer weet ek niks. Ek het leiding en wysheid nodig in 'n deurmekaar wêreld wat ek nie verstaan nie.
En dan skryf Hy vir my in die Bybel en ek lees Sy Woord en hoor Sy stem en dinge maak weer sin!
Ek glo in God, in Jesus, in sy Gees, want Hy's daar!  Heeltyd! Altyd!
In alles waardeur ek gaan en maak nie saak hoeveel keer ek dieselfde fout maak nie. Hy is daar!
Ek glo in God, want ek sien nie kans om ooit alleen te wees of enigiets alleen te doen nie.
(oorsprong onbekend)
 

Monday 4 March 2013

Kwellings


Psalm 37 : 1 Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie,
Moet jou nie kwel oor die stoflike wat jy nie kan saamneem nie,
kwel jou oor die siel wat jy nie kan agterlaat nie.
'n Bietjie meer doen en minder praat

'n Bietjie meer liefde en minder kwaad

'n Bietjie meer dank en minder kla

'n Bietjie meer gee en minder vra

'n Bietjie meer vreugd' en minder vrees

'n Bietjie meer musiek wat spanning genees

'n Bietjie meer blomme in
die lewensuur as ruikers na die graf te stuur
'n Bietjie meer glimlag, minder steun,
maar voluit vertrou en op Hom leun.
MAG JY...
- Nooit omdraai wanneer jy teleurgestel word nie.
- nooit ophou wanneer jy verloor het nie.
- nooit bly lê wanneer jy geval het nie.
- nooit haat wanneer jy nie waardeer word nie.
- nooit hoogmoedig word wanneer jy presteer het nie.
- nooit rus wanneer jy voorspoed gevind het nie.
- nooit in die steek laat wanneer jy vertrou word nie.

MAG JY..
- Altyd lewe met die wete dat jy met 'n doel lewe.
- altyd ly in die geloof dat lyding krag bring.
- altyd doen met die besef dat dit jou taak is.
- altyd gee en deur jou gawe verryk word.
- altyd gereelmagtigheid en ondersteuning
- altyd lewe met die oog op die onsienlike.
(ontvang via epos)

Sunday 3 March 2013

Verander God van Plan?

Jona 4 : 2  Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.
Baie mense verkeer onder ‘n wanindruk.  Hulle sien God as ‘n outoritêre figuur wat net sit en wag dat ons iets verkeerd doen sodat Hy ons kan straf;  dat Hy as’t ware sit en boek hou van elke enkele misstap en dat ons eendag gaan les opsê.  Korintiërs 13 : 5 herinner ons dat jy nie liefde betoon as jy boekhou van die kwaad nie. 
In Genesis 28 ‘onderhandel’ Abraham met God.  Hy weet die mense van Sodom en Gomorra is sondaars en daarom begin hy deur te vra of God die stad sal spaar as daar net 50 regverdiges is… 45… 10…?  Elke keer het God hom verseker dat Hy die stad sal spaar ten spyte van Sy aanvanklike voorneme om dit te vernietig.
Dit beteken nie dat ons nou maar kan aangaan en hoop God sal ons vergewe en nie straf nie.  Dit laat slegs ruimte vir ons onvolmaaktheid, gekoppel aan Sy genadige, liefdevolle voorsienigheid.
“Vertrou die verlede toe aan die genade van God, die hede aan Sy liefde en die toekoms aan Sy voorsienigheid.” Augustinus

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...