Monday 29 April 2013

As swaarkry te veel word

Psalm 88 : 4  Die swaarkry het vir my te veel geword…

“Here, vandag kan ek so goed met die psalmdigter vereenselwig: ek wil ook aan U kom sê dat die swaarkry vir my te veel geword het…
Dat my krag heeltemal gedaan is… 
dat dit vir my voel asof U nie meer na my gebede luister nie, of U my verstoot en U van my af terugtrek…
En tog, Here, weet ek verseker dat dit nie so is nie…
Ek ken U beloftes in U woord… 
dat swaarkry ‘n teken van U trou is… 
dat U my hierdeur kosbare lewenslesse wil leer…
Dat lyding my elke dag nader aan U laat kom… 
dat U self vir my nuwe krag sal gee sodat ek weer op arendsvlerke kan vlieg…
Here, help my om te midde van swaarkry na U op te kyk en dit reg te kry om van blydskap te straal ten spyte van my omstandighede…
Omdat ek seker is dat U by my is, ook wanneer my swaarkry op sy hewigste is…

Ek WEET dat ek ‘n God aanbid wat my op die regte tyd weer uitkoms sal gee…
Help my om aan U vas te hou, om aan te hou en uit te hou, om te volhard omdat ek weet dat hierdie swaarkry net tydelik is…
En vir my sal uitloop op ‘n heerlikheid wat vir ewig sal duur…”

(oorsprong onbekend)

Sunday 28 April 2013

Moenie moed opgee nie


Jesaja 40 : 31  maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
Twee paddatjies beland in ‘n kom melk.  Hulle besef dat hul gedoem is en sal moet swem om te oorleef, maar na ‘n rukkie is die een so moeg en hy sê:  “Ek kan nie meer nie.  Ons gaan verdrink.”  Die ander paddatjie moedig hom aan:  “Hou net aan, ons sal wel gered word.”  Die eerste paddatjie swem, maar na ‘n rukkie sê hy:  “Dis naweek, niemand gaan hier inkom nie.  Ons is gedoem.”  Weer bemoedig sy mede-paddatjie hom.  “Hou net aan.  Jy kan nie nou opgee nie.  Redding is in sig.”  “Nee wat, ek gee op,” kom dit floutjies van sy paddavriend net voor hy verdrink.  Al is die paddatjie geskok oor sy vriend se verdrinking, besef hy dat hy nou meer as ooit sal moet vasbyt of dit is sy lot ook en die outjie swem moedig voort.  Waarlikwaar binne ‘n paar minute voel die paddatjie vastigheid onder sy pootjies.  Die melk het botter geword en hy kan uitklouter.

Dalk is jy ook moeg gespartel.  Jy voel of jy net nie meer kan nie.  Hou moed.  God sal jou versterk en jou die krag gee om voort te gaan.   Die verskil tussen mense wat suksesvol is en hulle wat nie suksesvol is nie, is dat die een ‘n rukkie langer aangehou het.

Thursday 25 April 2013

Betaal


In die “Guardian Weekend” van 13 Augustus 2011 skryf Oliver Burkeman van die eienaar van ‘n groot industriële fabriek waar miljoene rande se verliese gely is as gevolg van een of ander meganiese fout wat die fabriek vir weke lank lamgelê het.  So kry hy die een na die ander tegnikus in, maar niemand kan die fout kry nie.  Uiteindelik kom daar ‘n man wat na ‘n deeglike ondersoek sy skroewedraaier uithaal en nadat hy net een skroef gedraai het, begin alles weer perfek funksioneer.  Agterna stuur hy toe ‘n rekening vir die eienaar van £10 000.
Die eienaar was woedend.  Die man het immers net ‘n skroef vasgedraai!  Hy skakel die man en dring aan op ‘n rekening wat die tegnikus se volledige koste uiteensit.

Toe hy die rekening terugkry lees dit: 
Skroef vasgedraai £1

Kennis om die regte skroef vas te draai £9 999

Dis ‘n onlogiese rekening.  Net so onlogies is die rekening wat God ten opsigte van Sy Seun uitgereik het. 

1 Korintiërs 7 : 23   Julle is vrygekoop en die prys is betaal

Wednesday 24 April 2013

Verdra mekaar


Efesiërs 4 : 2   Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.

Gedurende ‘n buitengewone koue Winter, het baie diere van die koue omgekom.  ‘n Groepie Ystervarkies besef toe dat hulle sal moet saamstaan.  So besluit hul om hul liggaamshitte te gebruik om saam te oorleef.  Kort voor lank raak die spulletjie geirriteerd met mekaar omdat hul penne mekaar steek in die beperkte spasie.  So beweeg die een na die ander ystervarkie weg van die groep om sy eie lêplekkie te vind.  Ongelukkig neem dit nie lank nie of ‘n ystervarkie verkluim van die koue.  Die res is geskok en besef dat hul hul verskille sou moes opsyskuif as hulle nie almal wil verkluim nie.  Wyslik verdra hul mekaar ter wille van oorlewing.  So het hul geleer om met die klein wondjies saam te leef wat hul nabyheid veroorsaak het.
Met verhoudings gaan dit ook so.  Ons irriteer en/of maak mekaar seer.  Die beste verhouding is egter nie die een wat perfekte mense saambring nie, maar wanneer individue leer om mekaar se foute te aanvaar en eerder op die ander persoon se goeie eienskappe te fokus.  En ons kan dit doen omdat dit ‘n opdrag van God is.

Tuesday 23 April 2013

Leë Beloftes


Josua 21 : 45  Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.
As iemand vir jou iets belowe en nie daardie belofte gestand doen nie, is dit ‘n groot teleurstelling.  Jy het jou drome en vooruitsigte daarop gebou en nou is dit soos ‘n ballon wat gebars het.  Ongelukkig gebeur dit baie gereeld dat beloftes gebreek word.  Selfs huweliks beloftes voor God afgelê, word nie eerbiedig nie.  Waar is die goeie ou dae toe ‘n man se woord genoeg was om ‘n kontrak te beklink?  Deesdae is diegene wat jou in die oë kyk, terwyl hul geen voorneme het om hul woord gestand te doen nie, alledaags.

Mense is feilbaar en daar is min op wie se woord jy kan staatmaak.  Daar is nie groot of klein beloftes nie.  Heidi het destyds so mooi gesê:  “’n Belofte is ‘n belofte en mag nie verbreek word nie.”  Veral kinders neem ouers op hul woord.  Moenie vir ‘n kind vertel dat iets gaan gebeur en dan nie daarby hou nie. 
Aan die ander kant is God ‘n Man van Sy Woord.  Numeri 23 : 19 God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?  Die Bybel is oortrek van God se beloftes.  Nie een van daardie beloftes is blote woorde nie.  Elkeen van hul word in wonderwerke gedemonstreer wat ons elke dag aanskou terwyl van hulle eers eendag volbring sal word wanneer God weer kom.  Nietemin, hulle is nie leë beloftes nie, maar vir ons om aan vas te hou.

Monday 22 April 2013

Vrede


Eksodus 33 : 14  Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”
Is daar iemand wat jou vrede steel?  Jy staan op met ‘n lied in jou hart, maar sodra jy hulle sien, sak ‘n swart wolk oor jou.  Dit is asof hulle elke druppel energie uit jou tap.  Hulle is negatief… praat kwaad… kla oor alles… sien net die donker kant van die lewe...  alles en almal anders is verkeerd… 

Norman Vincent Peale het gesê:  “Vermy mense wat negatief dink en optree.”  Moenie toelaat dat so iemand jou beinvloed nie.  As dit moet, wys die persoon daarop dat hul uitkyk op die lewe negatief is en dit moeilik maak vir jou om met hul te assosieer. Kla kom so natuurlik vir party mense dat hul nie eens agterkom dat hul kla nie en daarom is dit soms nodig om hul daarop te wys.
Indien jy nie die moed daarvoor het nie, of dalk al probeer het sonder veel sukses, kan jy altyd vir God vertrou om saam met jou te gaan en vir jou vrede te gee. 

Sunday 21 April 2013

Hy sal jou gebed verhoor


Job 22 : 27  Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou gebed verhoor

Was jy al ooit op moedverloor se vlakte?  As jy daar was, sal jy weet dat jy soms nie in staat is om te bid nie.  Dit is dan dat jy iemand nodig het om vir jou te bid.

Kinders is dikwels nie eens bewus van ouers wat jaar in en jaar uit vir hulle bid nie.  Daardie gebede waarvan jy nie weet nie, is die gebede wat jou dra.  Iemand tree vir jou in.  Die grootste geskenk wat iemand jou kan gee, is om vir jou te bid.   Soveel te meer as Jesus vir jou intree by die Vader.  

Begin ‘n gebedsgroep.  Bou ‘n gebedskring op en laat weet vir mekaar as jul gebed nodig het.  God is juis daar waar twee of meer in Sy Naam vergader. 

En jy kan ook vir ander bid.  Dra jou eggenoot, jou kinders, jou ouers, jou vriende, jou familie aan God op in gebed.  Gebed is ons direkte lyn na God.  Hy is nooit te besig vir ons nie. 

Thursday 18 April 2013

Ware vergifnis

Psalm 130 : 4  Maar by U Here is daar vergifnis

‘n Ooggetuie van die Hirosjima bomontploffing, het bygekom onder ‘n hoop rommel wat eens sy huis was.  Die nadraai van die bom was verwoestend met byna die hele stad platgevee en oral het vure gebrand.  Hy en sy ma is uit die puin gered net voor hulle ook deur vlamme verteer sou word.

Later nadat hy die volle verhaal rondom die atoombom gehoor het, het hy die vlieenier, wat die bom gegooi het, gehaat met alles binne hom.  Dit kon nie anders nie;  hy was omring deur mense wat deur die bom geskend is en wie se lewens nooit weer dieselfde sou wees a.g.v. die verskriklike leiding wat hul moes deurgaan.  Ongebore babas is met gebreke gebore.  Die nadraai was skrikwekkend. 

Jare later het hy en die vlieenier by dieselfde geleentheid  in Amerika onverklaarbaar langs mekaar opgeeindig.  Soos dit gaan as twee vreemdelinge langs mekaar opeindig het hul begin praat oor waar hul vandaan kom en die vlieenier het sy hart oopgemaak, min wetend van die emosies wat die man langs hom met alle geweld moes onderdruk toe hy besef wie sy buurman was.  Hy wou net opspring toe die vlieenier  sê:  Nadat ek die bom afgegooi het en die verwoesting vanuit die lug aanskou, het ek uitgeroep – My God, wat het ek gedoen!” Die oud-vlieenier se stem het gebreek en dit was duidelik dat hy ‘n swaar las met hom saamgedra het sedert daardie dag.

Die oorlewende het daar gesit en stilweg gebid dat God hom moet help om die vlieenier te vergewe en Sy Gees moes stuur om sy gevoelens te beheer.  Daar het ‘n vrede in sy binneste ontspring en hy kon die oud vlieenier uiteindelik vertel wie hy is en bevestig dat hy hom vergewe het. 

Die twee was vriende tot die oud vlieenier se afsterwe.
.

Wednesday 17 April 2013

Sonder trots

Psalm 104 : 27  Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd.

Dit is nodig dat ons ons trots verloor.  Trots maak dat jy nie vir hulp vra nie.  As jy te trots is, gaan jy glo dat jy dinge self kan doen en niemand anders nodig het nie. 

Ons het God nodig.  Op jou eie gaan dit maar sukkel-sukkel, maar met God aan jou kant kan jy ‘n bende storm loop.  As jy glo dat Hy leef, dan kan jy ook glo dat jy na Hom met al jou probleme en sorge kan gaan.  Hy sal jou nooit wegstuur nie. 

Dit mag wees dat Hy eintlik iets anders, iets veel beters, vir jou in gedagte het, maar Hy sal jou nooit aan jou eie lot oorlaat nie.  Trots is meesal die muur tussen jou en God.  Breek die mure af deur jou trots in jou sak te steek. 

"Vader, hier staan ek, bang en mismoedig, maar gestroop van alle trots - ek kan nie sonder U nie."

Tuesday 16 April 2013

Om te gee

Ons hou almal daarvan om geskenke te kry.  Gaan jy weg by die werk, verwag jy om ‘n geskenk te kry.  So ook as jy verjaar, verloof raak, trou, ‘n nuwe baba in die wêreld kom...  So hoe op aarde kan Jesus dan in die Bybel die volgende sê?  Handelinge 20 : 35  Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang." 

Ek wil jou uitdaag om te begin gee en te kyk hoeveel meer vreugde dit jou gaan bring.  Dit is lekker om te kry, ja, maar dis veel beter om te gee.  Veral as jy vir iemand gee wat dit nie verwag nie.  Moet nooit iets in ruil verwag nie.  Billy Graham het gesê:  God het aan ons twee hande gegee, een om te ontvang en een om te gee.  Gee ook vir hulle wat nie het nie. 

En nou die uitdaging:  Wanneer jy gee, moet jy dit so doen dat niemand anders daarvan weet nie.

Monday 15 April 2013

Is dit reg?

Psalm 23 : 3  Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Koerante en nuusberigte is oorlaai met artikels oor korrupsie.  Verkeersoortredings is aan die orde van die dag.  Sondae word nie meer gerespekteer nie.  Mense kom letterlik met moord weg.  Te midde van hierdie phenomeen, is daar ‘n klein minderheid wat die regte ding probeer doen en opstaan vir dit wat reg is. 

Tydens die finaal van die Amerikaanse Gholftoernooi het Bobby Jones se bal op die ruveld, net af van die skoonveld af, geland. Toe hy sy hou opstel om verder te speel, het hy per ongeluk sy bal beweeg. Hy het dadelik die veldbeampte in kennis gestel daarvan en 'n fout aangeteken.  Niemand het egter die bal sien beweeg nie en hulle het die keuse aan Jones oorgelaat of hy 'n strafhou wou slaan.  Hy het 'n strafhou gekies.

Later het iemand sy integriteit geprys, waarop Jones geantwoord het: "Prys jy 'n bankrower as hy nie 'n bank beroof nie?  Nee!  Gholf moet altyd op hierdie manier gespeel word.

Dr. Martin Luther King Jr. het gesê: "Papbroeke vra:  'Is dit veilig?' Lamsakke vra: 'Is dit gewild?' 'n Onwankelbare karakter vra: 'Is dit reg?'"

As jy Bobby Jones was, wat sou jy doen?  Vra altyd jouself af of dit reg is - reg in God se oë.

Sunday 14 April 2013

As jou hut brand

Psalm 5 : 13  U laat dit goed gaan met die regverdige, Here, u goedheid beskerm hom soos 'n skild.
Nadat ‘n skip gesink het, beland die enigste oorlewende op ‘n onbewoonde eiland. Hy begin onmiddellik bid dat God hom op een of ander wonderbaarlike manier van hierdie verlate plek sal red.  Elke dag hou hy die horison dop, hopende dat daar ‘n skip sal verbykom, maar niks gebeur nie.  Soos die dae verbysleep, besef hy dat hy vir homself ‘n skuiling sal moet bou.  Hy het geen besittings en moet improviseer.  Kos is skaars, so hy spandeer baie tyd om kos te soek.  Eendag nadat hy weer desperaat kos gaan soek, kom hy uitgeput en dors terug, net om sy skuiling in vlamme te sien.  Moedeloos sak hy op sy knieë neer en huil, later begin hy wild in die sand slaan van woede en ongeloof.  Met trane wat oor sy wange stroom, kyk hy op en skree:  “God, hoe kon U dit aan my doen!”  Nadat hy homself uitgewoed het, stap hy see toe om homself af te spoel en daar sien hy ‘n skip op die horison.  Dit was die rook wat hul aandag getrek het en genoop het om ondersoek in te stel.
Dis so maklik om ontmoedig te word as jy voel dat alles wat kan verkeerdgaan besig is om verkeerd te gaan, maar moenie moed verloor nie, God is aan die werk.  Moet jou nie blind staar teen die rook nie, want verskuil daaragter is God se genade; die skild waarmee Hy jou red en beskerm.  En partykeer is dit nodig dat ons op 'n eiland beland om weer God se algehele voorsiening te ervaar.

God brings men into deep waters not to drown them, but to cleanse them.

Thursday 11 April 2013

Verstaan of vertrou?

Job 5 : 9  "Wat God doen, is te groot om ooit te verstaan...  Hy doen wonder op wonder..."

Niemand behalwe God weet waardeur jy tans gaan nie.  En weet jy, dis genoeg, want Hy weet presies wat Hy doen.  Ons verstaan nie altyd nie, maar dan, hoekom moet ons verstaan?  Watter reg het ons om God se planne te bevraagteken?  Hoekom kan ons Hom nie net vertrou nie?  As mens bevraagteken ons die kruis wat ons moet dra, want ander se kruise lyk darem baie meer hanteerbaar as ons eie.  En die laaste ding wat jy wil hoor in die oog van die storm is “wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker”. 

Of  jy dit nou wil weet of nie, dis die waarheid.  Corrie ten Boom het ‘n pragtige aanhaling wat dit in perspektief plaas. "God gebruik ons probleme as boumateriaal vir sy wonders..."  

Dis ‘n kwessie van perspektief.  Ons is bloot instrumente.  En as ons deurdruk en terugkyk, sien ons ook die wonders.  Dis immers die swaarkry wat ons saambind en wat maak dat ons met heimwee terugdink aan ‘die goeie ou dae’. 

Wednesday 10 April 2013

Die Spinnekop

Efesiers 3 : 20  “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,”

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is ‘n soldaat van sy makkers geskei in ‘n ruig begroeide, bergagtige area.  Magteloos en angsbevange, besef hy teen donker dat hy ‘n wegkruipplek moet vind.  Teen ‘n rif was daar ‘n reeks grotte en alhoewel hy besef dat dit die eerste plek sou wees waar die vyand kom soek, het hy gevoel dat dit tog die beste opsie is.  Hy bid toe:  “Geliefde Vader, ek het U beskerming vannag nodig.  Ek glo in U en vertrou ten volle op U.  Laat U wil geskied.”

Slaap was buite die kwessie en hy kon hoor hoe die vyand nader kom.  Angsbevange lê en staar hy na buite en sien hoe ‘n spinnekop ‘n web begin spin en hy dink by homself dat hy eintlik ‘n baksteenmuur nodig het, nie ‘n spinnerak nie.
Toe die vyand wel die grotte bereik en begin deursoek, het hul net vlugtig op sy grot se ingang geskyn en aanbeweeg.  Die spinnerak het hul laat glo dat niemand binne kan wees as daar ‘n onversteurde web voor die bek is nie.
Al wat die soldaat kon doen was om te bid en God om vergifnis te vra dat hy so liggelowig was en nie die groter plan verstaan het nie. 
God se planne is dalk nie wat jy vir jou lewe verwag nie, maar vertrou Hom.  In God se hande is ‘n spinnerak meer doeltreffend as ‘n baksteenmuur. 

Tuesday 9 April 2013

Klein Jakkalsies

Hooglied 2 : 15 “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.
Soms fokus ons so op groot gevare, groot sondes, groot versoekings, dat ons die klein jakkalsies mis wat net soveel, indien nie meer, skade aanrig nie.

Dink nou maar aan jou finansies.  Ons hoor voortdurend dat ons nie genoeg spaar nie en natuurlik verdedig ons die stelling, maar hoe maklik gee ons nie geld uit nie.  In plaas van middagete koop, kan ons ‘n kospakkie inpak, wat heel waarskynlik meer gesond sal wees as dit wat ons op die ingewing van die oomblik koop as die hongerpyne knaag.  As ons ‘n fraksie van die geld spaar wat ons daagliks op nie-noodsaaklike items uitgee, sal ons verbaas staan. 

Daar is mense wat swaarkry en elke sent omdraai, maar daar is net soveel wat geen rekenskap sal kan gee van dit wat aan hul toevertrou is.  ‘n Eenvoudige gewoonte om bv R2 muntstukke aan die einde van elke dag in ‘n spaarbussie te gooi, kan vir ‘n meevallertjie sorg wanneer dit broodnodig is. 

Ons is rentmeesters van dit waarmee God ons vertrou en eendag sal ons moet rekenskap gee van dit wat ons mee vertrou is.  Nuwe gewoontes verg geduld en deursettingsvermoë, maar jy moet iewers begin.  Kom ons begin vandag om nuwe gewoontes aan te kweek sodat ons eendag trots in afwagting sal staan en trippel om ons ‘sukses’ te deel met ons Hemelse Vader.

Monday 8 April 2013

Die geheim van 'n suksesvolle huwelik

Hebreers 13 : 4  “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word.”

Wanneer jy na mense rondom jou kyk of met hul gesels, kom jy agter dat huweliksmaats dikwels niks goed oor mekaar te sê het en partykeer selfs mekaar se swakpunte uitbuit in geselskap.

‘n Man het sy skoonpa gevra:  “Wat is u geheim vir ‘n suksesvolle huwelik?”  Skoonpa antwoord:  “Moet nooit jou vrou kritiseer oor haar tekortkominge nie.  Onthou altyd dat dit juis as gevolg van haar tekortkominge is dat sy nie ‘n beter man as jy kon vind nie.”
In plaas van ons huweliksmaats afkraak, kan ons dalk so 'n bietjie dink oor hierdie staaltjie.  Wie weet, dalk is ons ontnugter en moet ons erken dat ons self nie juis volmaak is nie.  Dis meesal teenoorgesteldes wat mekaar aantrek en daarom moet ons altyd onthou wat ons in die eerste plek na die ander persoon aangetrek het.   Dalk kan ons dit waarmee ons nie saamstem nie kanaliseer tot ons voordeel eerder as om daarteen te baklei. 

Met tyd verander individue tog en ongelukkig groei albei nie altyd in dieselfde rigting nie, maar ook daarin is daar ‘n bedekte seen.  God het hom/haar na jou gelei en wie is ons om te verskil oor die pasmaat wat Hy vir ons gevind het?  ‘n Legkaart is net perfek as twee stukkies wat op die oog af nie dieselfde lyk inmekaar pas.  Elke stukkie is nodig om die prentjie te voltooi.

Sunday 7 April 2013

As dit nog nie jou tyd is nie

Prediker 3 : 1 “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:”
Chen Guangmei vertel hoe hy een aand laat huis toe gestap het na werk en uit die bloute deur ‘n 8 ton vragmotor omgery is.  Hy het niks gehoor voor die trok hom getref het nie.  Met die valslag het hy ervaar hoe die een stel wiele na die ander oor hom ry.  Terselfdertyd was hy verbaas dat hy geen pyn gevoel het nie. 
Na wat soos ‘n eeu gevoel het, het hy besef hy dat hy sy bene kan beweeg en ‘n poging moet aanwend om onder die vragmotor uit te kom.  Beangs het die drywer onmiddellik uitgespring, net betyds om Chen onder die trok te sien uitwriemel.  Die merke van die trok se wiele was duidelik sigbaar op sy hemp van sy skouer tot by sy laer rug.  Stomgeslaan kon die bestuurder net staar na die man wat lewend voor hom staan.  Alhoewel die vragmotor bestuurder aangedring het om hom hospitaal toe te neem, is Chen later ontslaan, want hy het absoluut geen beserings gehad nie. 
Toe die nuus onder die gemeenskap versprei, het mense van oral gekom om met hom te praat.  Chen het sy hemp trots soos ‘n vlag voor sy huis gehys.  Sy standard antwoord aan hulle was:  “My dood was nie in God se plan nie.  Hy is magtiger as ‘n 8 ton vragmotor omdat Hy groter planne vir my het.

Thursday 4 April 2013

Feestyd

Jakobus 3 : 16  “want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade“
Om deesdae ‘n bietjie weg te breek verg fyn beplanning wat tyd sowel as finansies aanbetref.  So beplan ons lank vooruit om die jaar weer ‘n slag KKNK toe te gaan.  Alles word haarfyn beplan en die slapies afgetel.
Alles het egter nie rekening gehou met die selfsug van die hedendaagse feesganger nie.  Om in ‘n ry te staan en jou beurt af te wag is benede sommige mense se stand.  Dan is daar die deurskynendes.  Hulle kan reg voor jou staan, al sit jy, solank hul net ‘n behoorlike uitsig op die kunstenaar het.  Ander maak hul eenvoudig by die tafel waar jy en jou gesin sit tuis en werk jou behoorlik uit.  By die oornagplekke gaan dit nie veel beter nie.  Mense kom raas-raas in, gebruik die laaste druppel warm water, los alles in ‘n wanordelike, morsige toestand, sonder om hul medemens ‘n tweede gedagte te gun.  Me, myself and I?
As Christen wil ek ook in die wêreld my liggie van mededeelsaamheid en onbaatsugtige naasteliefde laat skyn, maar jy moet wonder oor Jakobus 3 : 16.  Dalk is dit hoekom ons land se waardestelsel besig is om te disintegreer.  Selfondersoek is ook nodig, want almal het foute.  Watter voorbeeld stel ons vir die jeug? 

Wednesday 3 April 2013

Carpe Diem


Don't let the fear of the time it will take to accomplish something stand in the way of your doing it.  The time will pass anyway; we might just as well put that passing time to the best possible use.  ~Earl Nightingale

Ons wil nie studeer nie, want dit duur verewig om ‘n graad of diploma te verwerf.  Ons tyd is reeds so beperk… Ons sosiale lewe sal geruineer wees… Die familie gaan afgeskeep word…  Dis darem baie geld… Verskonings, verskonings, verskonings.

Wanneer jy ‘n paar jaar later terugkyk, besef jy dat jy al daardie kwalifikasie agter jou naam kon gehad het as jy bereid was om die tyd op te offer.  Kosbare tyd, wat ons nooit weer kan terugkry, is verlore.  Is ons besig om ons talente te begrawe?

In Matteus 5 lees ons die gelykenis van die talente wat nie versteek moet word nie.  Genadiglik is dit nooit te laat om te begin nie.  Neem vandag ‘n daadwerklike besluit om verskonings uit jou lewe te verban.  Gebruik elke minuut van die dag asof dit jou laaste minuut is.

Carpe Diem – Gryp die dag – met albei hande.

Tuesday 2 April 2013

Tweede Kanse

"We are given second chances every day of our life... We don't usually take them, but they are there for the taking.." - Andrew M Greely

As jy een behoorlike kans gegun word, is jy gelukkig.  Om ‘n tweede kans gegun te word, is selfs beter.  Die rede hoekom ons soms nie van hierdie tweede kanse gebruik maak nie, is omdat ons hulle nie altyd herken nie of nie bereid is om ons trots te sluk nie.

Ons almal maak foute, maar ‘n fout is net ‘n fout as jy niks daaruit geleer het nie. 

Jannie Mouton is op die ouderdom van 48 jaar werkloos gelaat.  Meeste mense sou in sak en as gaan sit het.  Nie hy nie.  Hy het homself deeglik ontleed en besef wat sy sterk punte is waarop hy moes bou.  Vandag is hy die Uitvoerende hoof van PSG, ‘n baie suksesvolle beleggings maatskappy wat hy gestig het nadat hy afgedank is.  En dan is daar nog diegene wat dink jy is breindood as jy 50 nader!

Natuurlik kom sukses nie vanself nie – dit verg harde werk en deursettingsvermoë.  Genesis 3 : 19  Net deur harde werk sal jy kan eet…  

Wees op die uitkyk vir daardie tweede kanse.  Hulle kom wanneer jy dit die minste verwag.  God hou van verrassings! 

Monday 1 April 2013

Jesus kom terug

Mattheus 17 : 23  en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word." Hieroor het hulle baie bedroef geword. 
Johannes 20 : 6  Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê,

Dank God dat ons nie ‘n lewelose beeld hoef te aanbid of ‘n dooie god nie.  Dank God dat Hy Sy Seun gestuur het.  Meer nog, dat Sy Seun die dood oorwin het.  Dit is die enkele bewys wat ons nodig het om te weet dat God almagtig is.  Geen ander God kon die dood oorwin nie. 

Hy het selfs vir ons die versekering gegee dat Hy terugkom, toe Hy die doeke wat daar oor Sy gesig was, netjies opgevou agtergelaat het.  Joodse tradisie wil dit hê dat ‘n man sy servet net neergooi as hy klaar geëet het, maar as dit opgevou word, beteken dit hy kom terug.  Jesus Christus kom terug.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...