Sunday 30 June 2013

Here,U ken my hart


Here, U ken my hart,

my siel, my smart

U weet van die storms wat binne my woed

Die stryd tussen sout en soet

En tog het U my lief

Ten spyte van my verdriet

Hoe kan ek ooit verstaan

Waaroor dit alles gaan

U bring vrede binne my

Wanneer ek alles en almal wil vermy

U tel my op

Laat die mallemeule stop

Here, U ken my hart

U weet wat dit van my vat

Om net een voet voor die ander te sit

Terwyl ek deurentyd bid

En geduldig by U voete sit

Al kan ek nie U wil verstaan

Laat my voete meegaan

Om binne U wil vir my lewe te bly

Sodat ek onheil bly vermy

Thursday 27 June 2013

Nuwe Moed


Psalm 10:17  “U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed.”

Wat hou jou terug in die lewe?  Het jy ‘n fisiese gebrek?  Is jy geskei?  Voel jy minderwaardig?  Is jy te klein, te groot, te maer, te vet...?
Marla Runyan het op die ouderdom van 9 jaar Stargardt’s sindroom ontwikkel, ‘n siekte wat die spiere laat degenereer en jou uiteindelik blind laat. 
Alhoewel sy blind was, het sy nie ‘n tree teruggestaan vir ‘normale’ mense nie.  Sy het uitgeblink as marathon- baan en veldatleet.  Boonop is sy die drie-maal Amerikaanse Nasionale kampioen in die 5000 m vir vroue.  In 1992 het sy 4 goue medaljes verwerf tydens die Paralimpiese Spele.   In 2000 word sy die eerste wettig erkende blinde vrou om aan die Olimpiese Spele deel te neem, waar sy 8ste eindig in die 1500 meter; die hoogste plek wat ‘n Amerikaanse vrou nog in die nommer kon behaal.  Sy hou wêreldrekords vir die 100, 200, 400, 800 & 1500 m naellope, sowel as in hoogspring en verspring.
Fisiese gestremdheid definieer nie wie jy is nie.  So lank as jy glo, hard werk, en uitdagings herken as gawes eerder as hindernisse, sal jy die geleentheid hê om buitengewone hoogtes te bereik.

Wednesday 26 June 2013

Kunsbeen en al


Jakobus 3 : 2  “Ons struikel almal in baie opsigte…”
Dalk voel jy vandag gefrustreer omdat jy drome het, maar nie oor die nodige middele beskik om hul te bewaarheid nie.  Of ten spyte van al jou drome en ideale, wil die regte geleentheid hom net nie voordoen nie. 
Sudha Chandran is gebore in Chennai, Suid Indië.  Sy het haar Meestersgraad in Ekonomie aan die Universiteit van Mumbai verwerf.  Eendag op pad terug van Mumbai na Chennai, was sy in ‘n ongeluk en haar regterbeen is geamputeer.  Sy het ‘n prostese ontvang, maar ten spyte daarvan dat sy net een been gehad het, het sy haar nie laat onderkry nie.  Vandag is sy ‘n bekende danseres en aktrise met verskeie Indiese rolprente op haar kerfstok.  Sy is male sonder tal vereer met verskeie toekennings terwyl sy regoor die wêreld gedans het. 
Elkeen van ons het ons eie uitdagings en ons kry nie altyd dinge die eerste keer reg nie, maar diegene wat sukses smaak, is hulle wat aanhou ten spyte van terugslae.
As Sudha ‘n wêreldberoemde danser en aktrise kon word, ten spyte van haar kuns ledemaat, kan jy jou drome ook verwesenlik.  Vertel God van jou drome en vertrou Hom om deure vir jou oop te maak wat niemand ooit weer sal kan toemaak nie.
 

Tuesday 25 June 2013

Nogtans sal ek jubel


Habakuk 3 : 17  “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, “
Om te misluk beteken nie dat jy ’n mislukking is nie ... dit beteken wel dat jy nog nie sukses behaal het nie.
Om te misluk beteken nie dat jy niks bereik het nie ... dit beteken wel dat jy iets geleer het.
Om te misluk beteken nie dat jy dom is nie ... dit beteken wel dat jy baie geloof het.
Om te misluk beteken nie dat jy verneder is nie ... dit beteken wel dat jy bereid was om te probeer.
Om te misluk beteken nie dat jy dit nie in jou het nie ... dit beteken wel dat jy dit op ’n ander manier moet benader.
Om te misluk beteken nie dat jy onbevoeg is nie ... dit beteken wel dat jy nie perfek is nie.
Om te misluk beteken nie dat jy jou hele lewe vermors het nie ... dit beteken wel dat jy ’n rede het om weer ’n nuwe begin te maak.
Om te misluk beteken nie dat jy moet moed opgee nie ... dit beteken wel dat jy harder moet probeer.
Om te misluk beteken nie dat jy dit nooit sal maak nie ... dit beteken wel dat dit bietjie langer kan neem.
Nogtans sal ek jubel…

Monday 24 June 2013

Sout


Levitikus 2 : 13 “Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond met jou God…”
Die bejaarde leermeester het begin moeg word vir sy jong leerling se alewige gekla en een oggend vroeg stuur hy hom uit om sout te gaan haal.
Toe die leerling terugkom met die sout gee die bejaarde leermeester die omgekrapte leerling opdrag om ’n hand vol sout in ’n glas water te gooi en dit dan te drink.
“Hoe smaak dit?” vra die ou leermeester.
“Bitter,” antwoord die jong leerling terwyl hy die mond vol soutwater uitspuug.
Die ou leermeester glimlag en vra vir die jong leerling om weer ’n hand vol sout te neem en dit in die meer te gooi. Nadat hy die sout in die meer gegooi het sê die ou leermeester, “Drink nou van die meer se water.”
Terwyl die water van die jong leerling se ken afdrup vra die ou leermeester hom, “Hoe smaak dit?”
“Vars en verfrissend,” antwoord die leerling.
“Kon jy die sout proe in die water?” vra die ou leermeester.
Nee,” antwoord die jong leerling.
Die ou leermeester gaan sit langs die jong leerling en neem die jongman se hande in syne en sê, “Kom dat ek jou vandag leer oor die sout:”
“Die pyn in die lewe is suiwer sout; niks meer en niks minder nie. Die hoeveelheid pyn in die lewe bly presies dieselfde. Maar, die hoeveelheid bitterheid wat ons proe hang af van die houer waarin ons dit plaas. Dus, wanneer jy in pyn verkeer, is die enigste uitweg om verder heen om jou te kyk, vergroot jou gevoel van alles om jou....
Hou op om ’n glas te wees. Word ’n meer.”
Soms raak ons so vasgevang in ons eie pyn dat ons dink dit is al wat bestaan, maar wanneer ons die pyn rondom ons sien dan besef ons dat die soutwater wat ons nou drink glad nie so bitter is nie.

Sunday 23 June 2013

Met watter maat meet jy?


Daar was ‘n boer wat daagliks aan die bakker een pond botter gelewer het, wat hy gebruik vir die brode wat hy bak. Op ‘n dag besluit die bakker om die botter te weeg om seker te maak dat die boer wel een pond botter aan hom voorsien.  Tot sy verbasing sien hy dat die botter minder as een pond weeg. Hy was briesend omdat die boer hom ingeloop het met die gewig van die botter en het hom voor die hof gedaag.
Die regter vra die boer of hy ‘n skaal het wat hy gebruik. Die boer antwoord, “Agbare regter, ek boer baie primitief en het nie ‘n skaal wat die gewig van die produk aandui soos die nuwerwetse skale wat die bakker gebruik nie, maar ek het ‘n ou weegskaal waar jy die produk aan die een kant in die bak sit en aan die anderkant plaas jy ‘n spesifieke gewig en kyk dat die twee balanseer.”
Die regter vra:  “Nou hoe presies bepaal jy die gewig van die botter wat jy verkoop?  Wat is jou teen gewig wat jy gebruik?”
Die boer antwoord, “Agbare regter, lank voordat die bakker botter by my begin koop het, het ek gereeld ‘n een pond brood by hom gekoop. Toe die bakker by my begin  botter koop het ek sy een pond brood aan die een kant van die skaal geplaas en dieselfde gewig aan die anderkant afgeweeg vir hom. Ek het aanvaar dat sy gewig van die brood korrek sal wees en het nie doelbewus die gewig van die botter minder gemaak nie. ”
Net soos die bakker is ons ook partykeer te gou om te oordeel...
Matteus 7 : 2  “met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.“

Thursday 20 June 2013

Rig jou oog op God


Psalm 25 : 15  “My oë is altyd op die Here gerig…”
Amy Grant sing so ‘n pragtige lied:  Turn your eyes upon Jesus, look full in his wonderful face, and the things of earth will look strangely dim, in the light of His glory and grace…

Wat ook al jou aandag aflei van God, keer jou blik terug op Hom.  Uitdagings en probleme het die manier om jou in die nag wakker te maak en dan lyk hul eers grotesk.  Jy rol rond en wonder hoe op dees aarde jy hul gaan oorkom.  Op die ou end spandeer jy die grootste deel van die nag om planne te beraam, net om uiteindelik deur die wekker tot die wrede werklikheid teruggeruk te word.  Vir jou voel dit of jy nie ‘n oog toegemaak het nie. 
Ek weet dis makliker gesê as gedaan, maar fokus op God.  Wanneer jy jou oë vasgenael hou op Sy dierbare gesig, sal die probleme soos mis voor die son verdwyn. 
Onthou dat God nooit verander het nie.  Dis steeds dieselfde God wat destyds die see vir Moses oopgekloof het, wat die leeus se bekke gesluit het toe Daniel in die leeukuil was, wat vir Abraham en Sarah ‘n kindjie gegee het op ‘n baie hoë ouderdom, wat die storm stilgemaak het, wat ‘n skare mense kosgegee het met 5 vissies en twee broodjies, wat die dood oorwin het.  Sy getuigskrif spreek tog vanself. 

Wednesday 19 June 2013

½ Waarheid + ½ Waarheid = Leuen


Psalm 25 : 5  “Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin…”
Daar was ‘n matroos wat reeds drie jaar op dieselfde skip gewerk het. Een aand het dit baie gesellig gegaan met die etery en het die matroos dronk geword. Dit was die eerste keer dat dit ooit met die matroos gebeur het.

Die kaptein het dit in die skeeps dagboek aangeteken:  “Die matroos was dronk vanaand.”
Die matroos het die inskrywing gelees en besef dat die inskrywing sy hele loopbaan in die toekoms sal affekteer. Hy is na die kaptein en vra plegtig om verskoning vir sy swakheid die aand en pleit by die kaptein om by die inskrywing in die dagboek by te voeg, “....maar dit is die eerste keer dat dit gebeur in die drie jaar wat die matroos op die skip werk.” wat die waarheid was.
Die kaptein het geweier om die inskrywing te verander en sê, “Wat ek in die dagboek geskryf het, is die absolute waarheid.”
Die volgende dag was die matroos op wag in die stuur kajuit en dit was sy verantwoordelikheid om die skeeps dagboek in te vul.
Hy skryf toe in die skeeps dagboek, “Die kaptein was sober vanaand.”
Die kaptein lees die inskrywing en vra die matroos om die inskrywing te verander of daarby by te voeg want die inskrywing laat dit voorkom asof die kaptein al die ander aande dronk is.
Die matroos antwoord die kaptein dat dit wat hy geskryf het in die skeeps dagboek is die waarheid.
Beide inskrywings in die skeeps dagboek was waar maar hulle het ‘n verkeerde boodskap oorgedra – ‘n wanvoorstelling van die waarheid.
Daar word gesê dat daar gewoonlik drie waarhede is:  Joune, myne en die werklikheid.  Halwe waarhede, wit leuentjies, wanvoorstellings, verdraaide of verswygde feite kan soveel skade aanrig.  Buitendien moet jy altyd onthou wat jy voorheen vir wie gesê het.  Daarenteen is die waarheid soveel eenvoudiger, want daar is net een weergawe. 

Tuesday 18 June 2013

Here, maak my doof


Matteus 11 : 15 & 13 : 9 “Wie ore het, moet luister. “

Meeste mense pas selektiewe gehoor toe.  Ons hoor net wat ons wil hoor. 

Daar is soveel positiewe stories van hoop, maar ons verkies om die sappige rillers aan te hoor, van moord en doodslag, korrupsie en verval. 

Ons glo eerder iemand se hoorsê storie as om die volle waarheid vas te stel en min van ons kan dit weerstaan om daardie halwe waarheid oor te vertel sonder om nog ‘n stertjie by te las.

Ma’s en onderwysers ken die frustrasie van kinders wat eenvoudig nie wil hoor nie, maar ek dink volwassenes vaar nie veel beter nie.  Dalk is ons ore tog ornamente.

God se Woord is die waarheid en Hy praat elke dag met ons deur Sy Woord, maar ons verkies om die doemprofete van die wêreld te glo.

Here, maak my doof vir die wêreld se geraas sodat ek kan hoor wat U vir my wil sê.

Job 15 : 11 “Beteken die troos wat van God kom, vir jou niks, die woorde wat met soveel deernis tot jou gerig is?”

Monday 17 June 2013

Die Strandlopertjie


Sy was maar 'n skamele 6 jaar oud toe ek haar vir die eerste keer ontmoet het. Ek ry gewoonlik die 4 kilometer af strand toe elke keer as ek voel dat die wêreld vir my te klein begin word. Sy was besig om 'n sandkasteel of iets te bou, en toe sy opkyk, kyk ek in die pragtigste blou ogies, so blou soos die see self.
"Hallo", sê sy.
Ek antwoord met 'n knik van die kop, nou nie juis in 'n bui om te bodder met 'n klein dogtertjie nie.
"Ek bou", sê sy.
"Ja, so sien ek. Wat bou jy?" Ek gee nou nie juis om wat sy bou nie.....
"Aag ek weet nie, ek voel maar net lus om in die sand te speel."
Die idee trek my nogal aan, en ek trek my skoene uit. 'n Strandlopertjie sweef verby.
"Dis 'n vreugde", sê sy.
"Dis 'n wat?"
"'n Vreugde. Mamma sê dat 'n strandlopertjie vir 'n mens vreugde bring."
Die strandlopertjie verdwyn oor die duin. "Koebaai vreugde", mompel ek vir myself, "Hallo pyn!" Ek draai om om te loop. Depressie het aan my geknaag - my lewe was 'n gemors.
"Wat is jou naam?" Hierdie dogtertjie gaan nie maklik tou opgooi nie.
"Robert", sê ek, "Robert Peterson."
"Ek's Wendy ..... ek is ses."
"Hallo Wendy"
Sy giggel. "Jy's snaaks", sê sy.
Ek lag, ten spyte van die donker wolk wat oor my gemoed hang, en ek stap aan. Haar klokhelder giggel-laggie volg my.
"Kom weer meneer P", skree sy, "kom sodat ons nog 'n gelukkige dag kan hê!"
Na 'n paar dae van onbeheerbare Boy Scouts, frustrerende vergaderings en 'n ou kranklike moeder, het die son een oggend so vrolik geskyn dat ek die skottelgoedwater van my hande afgeskud het, en toe sê ek vir myself: "Robert, jy het 'n strandlopertjie nodig." Die heerlike sout seelug wag vir my, en ek gryp my jas.. Die windjie is ysig, maar ek stap aan en probeer die rustigheid van die strand indrink, daardie rustigheid wat ek so bitter nodig het.
"Hallo meneer P," roep sy my, "wil jy kom speel?"
"Wat het jy in gedagte?" Ek voel half vies vir hierdie inbreuk op my gedagtes.
"Aag, ek weet nie..... wat dink jy?"
"Wat van kennetjie?" vra ek half sarkasties.
Haar klokhelder laggie weerklink oor die strand. "Ek ken nie daai speletjie nie."
"Nou maar dan loop ons maar sommer."
Ek kyk af na die lewendige klein figuurtjie, en ek kan nie help om die delikate bleek gesiggie raak te sien nie. "Waar bly jy?"
"Daar annerkant", sê sy, en sy beduie in die rigting van 'n paar somerhuisies.
Dis baie snaaks, dink ek. Om in die winter in somerhuisies te kom bly....
"En waar gaan jy skool?"
"Ek gaan nie skool toe nie - Mamma sê ons is met vakansie."
Sy babbel aanmekaar terwyl ons met die strand afstap, maar my gedagtes is baie vêr weg. As ek later huistoe ry, sê Wendy vir my dat dit 'n baie lekker dag was. Ek glimlag vir haar - snaaks genoeg voel ek ook sommer baie beter..
Drie weke later jaag ek af na my strand toe. Dinge het nou net te veel vir my geraak, en ek is nie in 'n bui om eers vir Wendy te groet nie. Ek sien iemand op die somerhuisie se stoep sit - seker Wendy se ma - en ek voel asof ek vir haar wil skree: "Hou jou dogtertjie asseblief vandag tuis!"
Ek stap gejaag, maar Wendy haal my in. "Asseblief, nie vandag nie!", snou ek haar toe, "Ek wil vandag alleen wees!" Sy lyk vandag onnatuurlik bleek en uitasem.
"Hoekom?" vra sy.
Ek gaan staan, draai om na haar toe en skree: "Want my ma is dood!"
En skielik wonder ek waarom ek dit vir hierdie kind vertel.
"O", sê sy saggies, "dan is dit 'n slegte dag."
"Ja", sê ek, "én gister, én eergister, en ... aag gaan tog net weg!"
"Was dit seer?" sy kan net nie ophou nie.
"Was wát seer?" ek is moedeloos; met die dogtertjie en met myself.
"Toe sy dood is?"
"Natuurlik was dit seer!" kap ek terug, sonder om die bedoeling agter haar vraag te verstaan. Ek draai om en stap haastig weg, versonke in my eie seer gedagtes. 'n Maand of wat later, toe ek weer op die strand kom, was sy nie daar nie. Ek voel skuldig en skaam oor my gedrag, en ..... ek het haar nogal gemis. Ek stap na die strandhuisie toe en klop aan die deur. 'n Vrou maak oop.
"Ek is Robert Peterson", sê ek, "ek mis jou dogtertjie só vandag, en ek het net gewonder waar sy is."
"O ja, meneer Peterson, kom in asseblief. Wendy het so baie van jou gepraat.
Ek is so jammer dat ek toegelaat het dat sy jou pla. As sy 'n oorlas was - dan vra ek om verskoning"
"Aag nee wat, sy is so 'n borrelende klein dogtertjie." En skielik besef ek dat ek werklik bedoel wat ek sê.
"Wendy is verlede week dood, meneer Peterson. Sy het bloedkanker gehad - het sy jou nie gesê nie?"
Skielik draai die wêreld om my, en ek gryp haastig vir 'n stoel. Ek is sprakeloos.
"Sy was so lief vir hierdie strand, en toe sy vra dat ons hierheen kom, toe kon ek nie nee sê nie. Sy het soveel beter hier gelyk, en hier het sy baie gelukkige dae gehad. Maar die laaste paar weke het sy baie vinnig agteruit gegaan." Haar stem bewe. "Sy het iets vir jou gelos ..... as ek dit net kan opspoor. Sal jy omgee om 'n bietjie te wag - ek soek dit net gou?"
Ek knik my kop - ek soek vir woorde - maar hulle ontbreek. Wat sê ek vir hierdie pragtige jong vrou?
Sy gee vir my 'n vuil koevert met "MR. P" op geskryf in groot kinderletters.
Binne is 'n tekening in helder kleure - 'n geel strand; 'n blou see en 'n bruin voël, en onderaan die woorde: "'n Strandlopertjie om geluk te bring" . Ek kan die trane nie keer nie, en hierdie klip-hart van my wat lankal vergeet het wat dit is om lief te hê, kraak en breek. Ek neem Wendy se ma in my arms: "Ek is so jammer, so bitter, bitter jammer", is al wat ek kan uitkry, oor en oor, en saam huil ons.
Daardie kosbare prentjie is geraam, en hang in my studeerkamer. Ses woorde - een vir elke jaar van haar kort lewetjie - sê vir my van harmonie, dapperheid en 'n onvoorwaardelike liefde. 'n Geskenk van 'n dogtertjie met see-blou oë en hare die kleur van die seesand - sy het my geleer van die geskenk van ware liefde.
Hierdie ware verhaal is opgeteken deur Robert Peterson. Dit het meer as 20 jaar gelede afgespeel, en hierdie insident het sy lewe nherroeplik verander. Ons kan hieruit leer dat ons tyd moet maak om die lewe te geniet, en tyd moet maak vir mekaar. Die lewe is so gekompliseerd - die gejaag en elke dag se probleme en traumas kan maak dat jy fokus verloor en van die dinge wat rêrig saakmaak vergeet.
Gaan gee vir die mense in jou lewe waarvoor jy lief is vandag 'n ekstra drukkie, net om te sê dat jy omgee en vir hulle lief is. En gaan stap 'n draai in die tuin, en ruik aan die blomme. Drink die skeppingswonder van God in, en gee aan Hom die eer.
Wendy het nie maar toevallig op Robert se pad gekom nie - daar is nie so 'n ding soos toeval nie. Sy was daar met 'n doel.

So bring die Here dinge op ons pad met 'n doel - soms is dit nie lekker nie,  soms raak dit daar diep binne in jou bors, waar 'n waslap nie kan was nie, aan jou hart. Maar sien die hand van God daarin, en dank Hom daarvoor.

Thursday 13 June 2013

Hoekom hoor God nie?


Matteus 7 :8   want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

So dikwels bid en smeek ons God om ons gebede te verhoor, maar vir ons voel dit asof Hy ons totaal en al ignoreer.  Hoekom antwoord Hy nie?  Hoekom gee Hy my nie wat ek vra, soos Hy in Sy Woord beloof nie?

As God ons nie gee wat ons gevra het nie, is dit omdat Hy Homself op ‘n baie beter manier wil openbaar.  Dit wat ons vra gaan nie genoeg eer aan Hom gee nie.   Kom ons vra Hom eerder om Sy wil aan ons te openbaar.  En hoe kan ons ontvang terwyl ons hande vol is van onnodige goed wat ons keer om Sy volheid te ontvang?

God will never leave you empty,

He will replace everything you lost,

If He asks you to put something down,

It’s because he wants you to pick up something greater

Wednesday 12 June 2013

Vissersman vs Sakeman


Prediker 6 :9 Wat die mens het, is beter as wat hy begeer. Ook hier kom dit tot niks. Dit is 'n gejaag na wind.

Daarwas eendag ‘n visserman wat met sy klein bootjie by die kaai vasgemeer het en met sy lekker groot geelvin tuna, op die kaai uitgeklim het.  Daar staan toe ‘n ryk sakeman wat wil weet hoe lank dit hom geneem het om die een vis te vang waarop die visserman antwoord dat dit so ‘n paar uur geduur het.

Die sakeman wou verder weet hoekom hy nie langer gebly het en meer vis gevang het nie, maar die visserman het net gelag en gesê dat dit al is wat hy en sy familie nodig het.  Die visserman se houding het die sakeman gefassineer en hy wou weet wat hy dan met die res van sy tyd maak.

“Ek ontspan, bring tyd by my gesin deur, speel kitaar, kyk sport op TV en sommige aande gaan kuier ek saam met my vriende,” antwoord die visserman.

“Jy sien,” sê die sakeman.  “Ek het ‘n MBA graad en ek kan jou raad gee om baie meer winsgewend te wees.  As jy meer vis vang, kan jy dit verkoop en kort voor lank kan jy nog ‘n boot koop en jou eie vloot opbou.  Dalk kan jy dan selfs ‘n visfabriek begin en die vis inmaak en so ‘n sakeryk van formaat opbou.  Uiteindelik kan jy dit verkoop en aftree met miljoene rande in die bank.

Die visserman het sy oë op skrefies getrek en vir die sakeman gevra:  “Hoe lank gaan dit my neem?”

Selfvoldaan met sy meerdere kennis, antwoord die sakeman: “so vyftien tot twintig jaar.”

“En wat maak ek met al daardie miljoene,” wil die visserman weet?

Die sakeman glimlag breed:  “Dan, my vriend, kan jy net ontspan, tyd saam met jou gesin deurbring, kitaarspeel, sport op TV kyk en sommige aande ook saam met jou vriende kuier.”

Is dit nie ironies dat ons soveel tyd spandeer op iets wat ons nie eendag kan saamneem nie? Ons offer kosbare tyd op om ‘n gemaklike lewe te skep, maar diegene vir wie ons dit doen sou veel eerder net tyd saam met ons wou deurbring.  Die visserman het die geheim ontdek en vir hom was die lewe ‘n fees.

Tuesday 11 June 2013

Gesinne


1 Konings 17 : 15  Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin.

Die resep vir ‘n gelukkige gesin, is opgesluit in een word – Dissipline:
 
D = Deernis met mekaar, al is jul smoorkwaad vir mekaar

I = Ingelig wees oor mekaar se gevoelens en gedagtes

S = Selfbeheersing al voel jy of jy teen die mure kan uitklim,

S = Saamstaan in lekker en moeilike tye

I = Inspanning om oplossings te vind in konfliksituasies,

P = Pamperlang mekaar;  bederf mekaar

L = Liefde en lag

I = Ideale wat jul deel

N = Nederig om mekaar erkenning te gee

E = Eerlikheid en ‘n einde aan die Eie ek

George Bernard Shaw se aanhaling:  “As jy nie van jou familie se geraamtes kan ontslae raak nie, kan jy dit net sowel laat dans!”

Monday 10 June 2013

Mag jy


1 Kronieke 22 : 11  “Mag die Here dan nou by jou wees, my seun, en jou voorspoed gee

MAG JY...

- Nooit omdraai wanneer jy teleurgestel word nie.
- nooit ophou wanneer jy verloor het nie.
- nooit bly lê wanneer jy geval het nie.
- nooit haat wanneer jy seer gekry het nie.
- nooit minderwaardig voel wanneer jy nie waardeer word nie.
- nooit hoogmoedig word wanneer jy presteer het nie.
- nooit rus wanneer jy voorspoed gevind het nie.
- nooit in die steek laat wanneer jy vertrou word nie.

MAG JY..

- Altyd lewe met die wete dat jy met 'n doel lewe.
- altyd ly in die geloof sodat lyding krag bring.
- altyd doen met die besef dat dit jou taak is.
- altyd gee en deur jou gawe verryk word.
- altyd gereelmagtigheid en ondersteuning kry.
- altyd lewe met die oog op die onsienlike.

(Ontvang via epos)

Sunday 9 June 2013

Dis nog nie verby nie


Spreuke 13 : 12  “'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig…”

Is jy bietjie mismoedig of neerslagtig oor dinge in jou lewe wat net nie op dreef wil kom nie.  Jy was so hoopvol met jou laaste poging… die keer kan jy sukses proe…  en daar beleef jy weereens ‘n terugslag.  Moenie opgee nie.  Kom bid saam:

“Here, net wanneer ek dink:  nou is alles finaal verlore…
Nou kan niks meer aan hierdie situasie gedoen word nie…
Nou is die nederlaag finaal…
Herinner U my aan u opstanding…
Toe het almal ook gedink alles is verby…
Alles was tevergeefs…
Maar toe maak U die spotters stil…
Toe staan U daar met ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe lied…
En ‘n visie vir ‘n Nuwe Jerusalem…”

Jy kan dit regkry.  Probeer nog 'n keer.

Thursday 6 June 2013

Om berge te versit


Matteus 17:20  “Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

 
Dikwels het jy so baie werk .... Jy word vanuit alle oorde bestook,
Dikwels is die pad so moeilik, Dan lyk die heuwels onoorkombaar, ook.
Maar onthou dat die heuwels wat voor jou lê - Nooit so styl is as wat hulle lyk.
Met geloof in jou hart moet jy begin,
En klim tot jy jou droom bereik.
Want niks wat die moeite werd is
Is ooit te moeilik om te vermag
Solank jy die moed het om te poog,


En die geloof om elke dag te glo
Geloof is immers 'n mag baie groter As kennis, krag of bekwaamheid
En menige stryd word oorwin
As jy net vertrou op God se wysheid.
Want geloof kan enige berg versit
En daar is niks te moeilik vir Hom
Begin dus vandag met geloof in jou hart

En klim tot jou drome waar word.

Wednesday 5 June 2013

Luister


Genesis 27:8  Nou moet jy na my luister, my seun, en doen wat ek jou sê.

Het jy al vir iemand iets probeer vertel, net om te vind dat hy of sy jou voortdurend in die rede val, of jou sinne voltooi?  Of dalk ken jy iemand vir wie jy iets vertel en terwyl jy nog met jou storie besig is, begin hul voortborduur op die verhaal met hul eie weergawe.  Vertellings oor siektes, is veral vir baie moeilik om enduit na te luister, want hul siekte was baie erger…

God het aan die mens twee ore en een mond gegee; met goeie rede.  Ons is veronderstel om meer te luister as wat ons praat.

Oefen om te luister. Om werklik te luister, is eintlik ‘n fyn kuns.  Moenie ‘n woord rep nie, knik net jou kop om te wys jy luister. Behou sover moontlik oogkontak.  As die verteller asemskep, vra ‘n vraag oor hul storie, moenie nou wegval met jou eie weergawe nie.  Kort voor lank sal jy agterkom dat dit beter is om werklik te luister as wat dit is om te vertel.   

As ons werklik na mekaar luister sal ons ‘n diamant in ander ontdek.

"Aan die einde, sal ons nie die woorde van ons vyande
onthou nie, maar die stilte van ons vriende."  Martin Luther King Jr. (1929-1968) 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...