Monday 30 September 2013

Elke einde is 'n nuwe begin


“There’s a trick to the 'graceful exit.' It begins with the vision to recognize when a job, a life stage, or a relationship is over — and let it go. It means leaving what’s over without denying its validity or its past importance to our lives.
It involves a sense of future, a belief that every exit line is an entry that we are moving up, rather than out.”

‘n Kollega is in die mark vir ‘n ander motor.  Elke keer as hy iets vind waarvan hy hou, bedink hy homself:  “Sê nou maar ek hou nie van die nuwe motor nie… of die motor is swaarder op brandstof… of my vrou kom nie met dit reg nie…” 

Dit het my laat dink hoe moeilik dit vir ons is om afstand te doen van dit wat vir ons bekend is.  Soms het ons die pos ontgroei waarin ons al jare sit, maar ons is te bang om vir ‘n ander pos aansoek te doen.  Of ons is in ‘n verhouding wat al maande/jare lank nie werk nie, maar ons bly glo dat dit sal regkom.

As jy jou motor vervang, beteken dit nie dat die een wat jy tans het nie sy doel gedien het nie.  Wanneer jy gefrustreerd raak met jou huidige pos, beteken dit nie jy’t nooit daarvan gehou nie.  Net so beteken dit nie dat die verhouding nie iewers in die verlede gewerk het as dit nie nou meer werk nie. 

Elke einde is ‘n nuwe begin.  Mense groei, maar nie almal groei teen dieselfde tempo nie.  Verandering beteken vernuwing.  Soms is mense bang om te laat gaan, want hul glo hul sal nooit weer kry wat hul nou het nie, maar jy kry gewoonlik meer as wat jy gehad het.  Jou hande moet egter oop wees om te ontvang en nie toegeklem aan die verlede nie.


As jy bid en God vertrou en Hom ken in alles wat jy doen, sal Hy jou die regte pad laat loop. (Spr 3 : 6)

Sunday 29 September 2013

Deure

Eksodus 14 : 21  Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met 'n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is

Dr John Tibane vertel hoe hy eendag met sy sekretaresse reël om vroëer by die besigheid te ontmoet omdat hulle ‘n belangrike kontrak moet gereed kry vir ‘n kliënt.  Daar gekom besef hy dat sy sleutels by die huis lê.  Hy wag ongeduldig en 08h00 stap hy na die deur om ‘n nota vir haar te los dat hy daar was, maar nou sy sleutels by die huis gaan haal.  Tot sy verbasing hoor hy die telefoon lui en hoe sybinne antwoord. 

Die voorval was vir hom ‘n openbaring, want skielik het hy besef hoeveel keer hy al by toe deure in sy lewe omgedraai het, terwyl daardie deure bloot toe was, maar nie gesluit nie.  Dis ons besluit of ons die deur gaan oopmaak, al dan nie.

Nou die dag kom ek by die dokter, maar ek kan nie self die deur oopmaak nie, die ontvangsdame moet dit met ‘n knoppie van binne oopmaak.  Soms het ons iemand nodig om vir ons ‘n deur oop te maak, maar ons moet ten minste arriveer.

Ek was ook al onder die indruk dat ‘n winkel toe is, net om ‘n nota op die deur te lees ‘Closed on account of the weather’.  So die deur is eintlik oop, dis my besluit of ek hom gaan oopdruk.

Jy ken daardie deure by winkelsentrums wat begin draai as jy instap.  Die deur draai egter net as jy naderkom.  Ook hier is dit my besluit of ek gaan naderstaan of bly glo die deur ‘werk’ nie, net omdat hy nie draai as ek nie naby is nie.

Oor die jare ervaar ons hoe deure vir ons oop- en toegaan.  Ons doen aansoek vir ‘n pos, maar is nie suksesvol nie…  Ons het ons oog op ‘n huis / motor, maar die transaksie val deur die mat… ‘n Verhouding wat so goed begin het, loop dood…  Vriendskappe wat al jare lank bestaan, verwater nadat een party weggetrek het.  Die dood beroof ons van ‘n geliefde… 


Die vraag is net:  “Is daardie deure regtig toe?”  God het vir die Israeliete ‘n pad deur die see gemaak, so Hy sal verseker vir jou deure kan oopmaak.

Thursday 26 September 2013

Onsekerheid

Johannes 10 : 24 Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou?

Om kalm te bly terwyl jy omring word met negatiewe nuus en statistiek, is nie altyd maklik nie.  Die Jode het Jesus by hulle gehad en ook hulle wou sekerheid van Hom kry.

Ongelukkig kan niemand vir ons met sekerheid sê wat die toekoms inhou nie.  Ons kan ook nie iewers heen vlug en met sekerheid weet dat dit Eutopia is nie. Om jou siek te maak met die ‘wat asse’ van die lewe is eenvoudig soos om om ‘n atletiekveld te hardloop.  Jy lê honderde meters af, maar jy kom nêrens.

Ons kan egter terugkyk op ons lewenspad en onthou hoe God ons gedra en beskerm het en omdat ons weet dat Hy nooit verander nie, kan ons met sekerheid weet dat Hy ons ook in die toekoms sal dra en beskerm.


Geloof is immers om te vertrou op daardie dinge wat jy nie noodwendig kan sien nie.

Wednesday 25 September 2013

Aftrede

1 Timoteus 6 : 17 … Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.
Volgens finansiele kundiges sal net 6% van die bevolking eendag onafhanlik kan aftree.  Dis genoeg om jou te laat hiperventileer.  Hoe gemaak as ek een van die 94% is wat dan of van die staat of van my kinders afhanklik sal wees?

Meeste mense probeer baie hard om voorsiening te maak vir hul aftrede, en is oortuig dat hul voorbereid is, maar dan is daar al die ander faktore soos inflasie en die wereldekonomie wat pandemonium saai onder ons planne.   En soms neem ons ingeligte besluite wat steeds skeefloop… iets waaroor ons nie altyd beheer het nie. 

Steven Covey skryf in sy boek The Seven Habits of Effective People oor die Circle of Control, Influence en Concern.  Basies kom dit daarop neer dat ons soveel tyd in die sirkel van kommer  vermors, waar ons eintlik geen beheer het nie, terwyl ons eerder ons energie moet fokus op die sirkel waar ons kontrole het of die sirkel waar ons ten minste ‘n mate van invloed het. 

Die Bybel is jare voor Steven Covey se topverkoper geskryf en tog is daar duidelike ooreenkomste.  Ons moenie fokus op dit wat ons nie kan beheer nie, maar eerder op God, want Hy is in beheer en Hy is die een wat ons toekoms kan beinvloed omdat Hy beloof om te voorsien.

Tuesday 24 September 2013

Die stryd teen vet

Filippense 3 : 13 …ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
Ek geniet werklikheidsreekse soos Biggest Loser.  Elke deelnemer is ‘n inspirasie, want hulle het besef dat hul iets moet doen om hul situasie te verander.  As jy kyk hoeveel hul insit en die determinasie op hul gesigte sien, kan jy nie anders as om hul te bewonder nie.  Wanneer die individu uiteindelik hul doelgewig behaal het, is hul byna onherkenbaar en is dit ‘n ware transformasie,nie net van die uiterlike nie, maar ook die innerlike. 

Daar is redes hoekom hul gewig so handuit geruk het, maar daar is ook hartseer daarin om te sien hoe mense hul liggame verwaarloos het.  Hoe dit ookal sy, hulle het ‘n keerpunt bereik en werp alles in die stryd teen die vetmonster.  Met ‘n onlangse reeks was dit ook fantasties om te sien hoe hulle dit terugneem na hul gemeenskappe en ander daar help om gewig te verloor  - paying it forward. 

Wat my ook opval, is hoe gewig mense se selfbeeld affekteer.  Dis asof die ekstra gewig hul menswees gesteel het.  Wanneer hulle die stryd gewen het, is dit asof hul weer tot die samelewing toegelaat word en ‘aanvaarbaar’ is. 

Dalk voer jy ook ‘n stryd teen die skaal.  Dis ‘n lang en uitputtende, meesal eensame stryd, maar onthou net dat jy tot alles in staat is omdat God jou die krag vir die stryd sal gee.  Maak jou eenvoudig los van die ou jy en visualiseer die nuwe jy.


Sunday 22 September 2013

Om mekaar lief te hê

Maleagi 2 : 16  Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.
Beloof jy om haar lief te hê, haar te beskerm en by te staan? 
Wanneer ons met drome in ons oe voor die kansel staan en glo dat ons liefdesverhaal uniek is en beslis nie deel sal word van die egskeiding statistiek, is dit maklik om daardie woordjie te uiter.  Die toets kom wanneer die werklikheid inskop en ons oor kleinigheidjies verskil… dat dieselfde eienskappe wat ons na mekaar aangetrek het, ons begin irriteer… wanneer ons gewoond word aan mekaar en nie meer mekaar bewonder nie… wanneer finansies druk… of wanneer ons verskil oor die kinders se opvoeding… wanneer een persoon voel hy of sy doen alles in of om die huis…  Dan lyk egskeiding ewe skielik na ‘n uitkoms, want daardie persoon se blote teenwoordigheid wek ‘n weersin in ons. 
Die naweek het ‘n familielid getrou en ek het by myself gewonder hoe dit moontlik is dat ons land so ‘n hoe egskeidingsyfer het as ons soveel geluk en drome voor ‘n kansel sien staan?  Dalk is dit my eie worsteling met tweede huwelike.  Hoe kan jy ‘n tweede keer belowe ‘tot die dood ons skei’ as jy die eerste belofte verbreek het?  En tog… niemand beplan om te skei nie, so waar gaan dit verkeerd?  Is ons oor realisties of is ons bloot dromers wat ‘n illusie najaag?  Of gee ons te maklik op? 





Thursday 19 September 2013

Dieselfde God


Markus 4 : 37  Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het.


Dis maklik om God te dien as dit goed gaan.  Die uitdaging kom wanneer jy stormwaters binnevaar.  Dan wankel ons geloof en twyfel ons of God regtig in staat is om ons veilig deur, en anderkant uit, by te staan.  

Daar is ‘n ondeurgrondelike waarheid waarvan jy moet kennis neem.  God het nog niks verander nie.  Hy tree nie anders teenoor jou op as jy deur moeilike tye gaan nie.  God is gister, vandag en ook môre presies dieselfde.  

Hy het nog nooit op Sy Woord teruggegaan nie.  Sy beloftes is op skrif in die Boek van die Waarheid opgeteken soos die storm wat Hy gestil het.  As jy Die Man ken, sal jy weet dat jy nie een tree hoef te hardloop nie.  Jy hoef net te gaan stilstaan, jou hande uit te steek, en Hy sal jou optel deurdra.

Wednesday 18 September 2013

Glo soos Moses

Psalm 116 : 10  Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my


Wat is die basis vir geloof?  Geloof is om te glo in die dinge wat jy nie kan sien nie.  Dis ‘n vaste vertroue op die dinge waarop jy hoop.  

Moses het aanvanklik probeer wegkom, maar God het deur middel van plae vir Hom gewys dat Hy tot enigiets in staat is.  Hy het Aaron vir Moses gegee en uiteindelik het Moses die pad gevat Kanaan toe met die Israeliete.  Moses het nie geweet hoe nie, maar Hy het geweet dat God sou voorsien.  En God het nie net brood gegee nie, maar ook kwartels (vleis) en ‘n wolk as skaduwee gedurende die warm trek deur die woestyn.  

God het aangehou om Moses te bemoedig met voortdurende wonderwerke – die see het in twee verdeel en die Israeliete is droogvoet deur en toe die Egiptenare daar wil deur... Glo jy nog soos wat Moses geglo het dat God jou in alle omstandighede sal help.

Tuesday 17 September 2013

24 Uur


Matteus 6 : 34  Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.


Min mense beleef die lewe een dag op ‘n slag.  Sommige leef in die verlede, terwyl ander in die toekoms leef. 

Diegene wat in die verlede leef, bly vasklou aan dit wat was.  Hulle kan nie daarvan afsien of laat los nie en sodoende geniet hulle nooit vandag nie, want hulle bly treur oor wat was en hoop dalk dat vandag maar net kan wees soos wat dit destyds was.  

Diegene wat in die toekoms leef, hoop weer op beter dae.  As dit of dat net wil gebeur, dan sal dit beter gaan.  Ook hier word vandag nie geniet nie, want die hoop op môre se beter dae, is allesoorheersend.  

God het elke dag presies in 24 uur porsies afgemeet en deur die eeue heen het niks nog daaraan verander nie.  Maak die beste van vandag.  Gister is verby en môre mag dalk nooit joune wees nie.

Monday 16 September 2013

Op soek na geluk


Spreuke 16 : 3 Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.


Geluk is soos die spreekwoordelike pot goud aan die einde van die reënboog.  Hoe meer jy daarna soek, hoe minder vind jy dit, want dit is al die tyd binne jouself.  Min mense sal dit glo.  Hulle glo dat hulle gelukkig sal wees as hul net eers klaar is met skool, ‘n (ander) werk gekry het, getroud is, die nuwe motor kan koop, uiteindelik ‘n huis kan koop, oorsee kan gaan...  En so vlieg die lewe verby terwyl jy onvergenoegd bly.

Geluk is binne jouself.  Dit kan nie gekoop word nie en dit hang ook nie van ander af nie.  Jy is vir jou eie geluk verantwoordelik en jy kan uitbundig gelukkig wees.  Neem ‘n wilsbesluit.  Ek gaan van vandag af gelukkig wees, want...  Tel jou seëninge.  Kyk rondom jou.  Vind jou vreugde in die klein dingetjies.

Sunday 15 September 2013

Om te glo ten spyte van

Nie almal glo in God of sy bestaan nie. Op die internet sal jy mense kry wat wetenskaplik bewys dat dit te koud was vir skaapwagters om daardie tyd in die veld te kon wees.  Hulle bevraagteken die logika van ‘n maagd wat ‘n kind baar – met reg, want dis menslik nie moontlik nie.  Hulle verklaar onomwonde dat Hy nooit uit die dood opgestaan het nie en sê dis absoluut verregaande dat Hy opgevaar het na die hemel.  Waar’s die hemel in elk geval?  Volgens hulle is Christene ‘n klomp dromers wat in ‘n wêreld van hul eie leef.  

Jy kan seker wetenskaplik al hierdie dinge bevraagteken en twyfel in sommige se harte aanblaas, maar God verwag van ons om soos kinders te glo.  ‘n Kind bevraagteken nie iets wat aan hom vertel word vir die waarheid nie.  

Ek glo liewer in God en gaan hemel toe as wat ek eendag uitvind dat alles waar was en ek die kans verloor het om my siel te red.  God het Sy bestaan al oor en oor aan my bewys. Openbaring 22 : 20 Hy wat dit alles getuig, sê: "Ja, Ek kom gou!" Amen! Kom, Here Jesus! 

Thursday 12 September 2013

My genade is vir jou genoeg


Korinthiers 12:9  Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Wanneer die lewe sy rug op ons keer, voel ons dikwels of dit die einde is.  Spanning kan ons kniehalter, tot so ‘n mate dat jy wonder hoeveel jy nog kan hanteer.  Dis tye dat God skitter en jou herinner:  “My genade is vir jou genoeg.”

 Genade is dalk die laaste wat jy ingedagte het.  God moet inspring en iets daadwerklik doen! Tonnelvisie tree in en ons sien nie lig aan die kante nie, net ‘n stikdonker tonnel vol kommer en probleme.

 O, dis moeilik om sulke slae kalm te bly.  En dan spring ons self in.  Wanhopig, desperaat en dikwels doelloos skarrel ons rond.  Raak rustig.  Hoor Sy stem.  “My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Erken jou swakheid, jou hulpeloosheid en jou afhanklikheid, maar bo alles, jou vaste vertroue dat Hy weet wat Hy doen en uitkoms sal gee op presies die regte moment.

Wednesday 11 September 2013

Bitterheid



Spreuke 14 : 10 Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.

Bitterheid is nie iets waarmee jy een oggend wakker word nie.  Soos die jare aanstap, word ons gekneus deur verskillende ervarings.  Soms laat dit net ‘n bloukol, ander kere is dit ‘n hou wat ons in ons spore stuit, en soms laat dit ‘n letsel op ons siel.  Hoe dit ookal sy, hierdie ervarings het die vermoe om te akkummuleer en op ‘n dag besef ons dat ons verbitterd is.

Bitterheid laat jou perspektief verloor, want jy sien die lewe deur die lense van die verlede. Meestal beinvloed dit jou gesonde logika en stoot andere weg.

Wat ander jou aangedoen het, weet ek nie. Hoe jy daaroor voel en hoe jy die pyn oor en oor beleef, sal ek nooit weet nie. Wat ek wel weet is dat diegene wat hierdie bitterheid in jou veroorsaak, salig onbewus daaroor is en selfs mag voel dat jy oorreageer.  Solank jy aan die voorwerp van jou bitterheid bly klou, daaroor tob en prut, sal jy nooit ooit kan vooruit gaan en weer die lewe geniet nie.  Bitterheid maak jou siek en maak jou ‘n kluisenaar. Jou mooiste jare gaanverby.  Vind weer vreugde in die lewe.  Daar is meer goeie mense rondom jou as waarvoor jy hul krediet wil gee.

Tuesday 10 September 2013

Die verantwoordelikheid


Genesis 1 : 26  Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

Troeteldiere is ‘n alledaagse gesig in ons voorstede en vir baie van ons bring hul net vreugde.  Mense draf met hul honde, of jy sien ‘n kat luilekker uitgestrek in die wintersonnetjie. 

Ons het self ‘n klein dieretuintjie met 2 kleinerige honde buite (een aangeneem van die Dierebeskermingsvereeniging) en een skoothondjie binne.  Dan is daar ook die baas van die huis, ons wollerige baster kat, wat aan 'n klient van my behoort het.  Verder is daar vissies en budgies en natuurlik ‘n horde wilde voels wat nou al verwag hulle moet gevoer word.  Eintlik kan ek my nie ons huis sonder hierdie kreature voorstel nie.  Wat my egter opval, is hoe afhanklik hierdie diere van ons is.  Hulle kan nie uitkom om vir hulle kos of water elders te gaan soek nie.  Hulle wag getrou dat ons voorsien.

Ongelukkig is daar mense wat ‘vergeet’ om hul diere kos te gee en ander vir wie dit bloot nie prioriteit is nie; dieselfde mense wat nooit hulself sal afskeep by die kospotte nie. 
 
Hoe kan jy ‘n verantwoordelikheid wat God jou gegee het so ligtelik opneem?  Dan wonder jy nog hoekom jy nie meer bereik of verder in die lewe kom nie.  Hoe kan God jou met meer vertrou? Hoe durf jy dit wat Hy met sorg geskape het, verwaarloos?  Diere is nie net oulik as hul klein is nie.  Volwasse diere is net so pragtig en elkeen het sy of haar eie persoonlikheid.

Monday 9 September 2013

Moenie tou opgooi nie


2 Kronieke 16 : 9 Die Here het Sy oë oral op die aarde sodat Hy die kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou

Diana Nyad is ‘n 64-jarige dame wat die eerste vrou geword het om van Kuba na Amerika, regoor die Florida Seestraat, sonder ‘n haaihok of paddavoete te swem.  Sy’t wel ‘n silikoonmaskerpak gedra om haar teen dodelike boksjellievisse te beskerm.  Wat haar poging selfs meer merkwaardig maak, is dat dit haar 5de poging in 35 jaar is.  Dit het haar 53 uur geneem om die 177 km af te lê. 
 
Net soos ek en jy ook nie die lewe alleen hoef aan te durf nie, het Diana ook nie hierdie mylpaal alleen aangepak of bereik nie.  Sy’t ‘n ondersteuningspan op 5 bote gehad wat haar vergesel het.  Ons het almal mekaar nodig op die een of ander manier.  Elke 40 minute kon sy stop om roereier en pasta te eet.

Vir diegene in hul twintigs of dertigs is, is 64 sekerlik oud, maar hierdie dame het haar nie deur ouderdom laat terughou nie.  Sy’t ook nooit haar droom laat vaar nie.  Vyf pogings in 35 jaar! 

Hoe vaar jy met jou drome?  Moenie opgee nie, vertrou op die Here om jou die nodige krag en deursettingsvermoë te gee om aan te hou.  Net soos wat Hy Sy oë op ‘n 64 jarige vrou gehad het, so is Sy oë vasgenael op jou.  Gesels met Hom oor jou drome en neem ‘n wilsbesluit om dit waar te maak.

Sunday 8 September 2013

Me, myself and I

Markus 12 : 33 En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

Ek verkyk my altyd hoe min mense vir mekaar omgee.  Daar is ‘n ‘me, myself and I’ mentaliteit wat my afskrik.  Of dit nou in die verkeer is, of wanneer ons uit ‘n hysbak borrel, of op die kassiere afpyl, ons wil altyd eerste wees. 

Gaan ons regtig laat wees as ons iemand voor ons van baan laat verwissel?  Gee iemand kans om voor jou in die ry te staan volgende keer.  Meeste van tyd word jy met ‘n stralende, ietwat verbaasde, glimlag begroet en somtyds is dit die begin van ‘n lekker geselsie.


Hoe kan ons God liefhê, maar bo-oor ons naaste leef?

Thursday 5 September 2013

Vir wie werk jy?

Genesis 3 : 19:  In die die sweet van jou aangesig sal jy brood eet…

Tydens opstyging hoor ek twee vlugkelners met mekaar praat.  “Wanneer begin jou vakansie?” vra die een.  “Nog ‘n week.  Ek kan nie meer wag nie.  Man, ek wil vir ‘n hele maand nie ‘n vliegtuig sien nie – ek is moeg gevlieg…

Ek het ‘n seun wat daarvan droom om eendag ‘n vlieënier te word.  Hy praat heeldag en aldag daaroor, lees daaroor, droom daaroor.  As ek gevlieg het, wil hy alles van die vliegtuig weet.  Hierdie vlugkelner het seker ook sulke drome gehad?   Ek wil graag glo dat hy steeds van sy werk hou, maar net moeg is.  En ek glo daar is baie mense wat dink hul sal nooit ooit moeg word as hulle kan rondvlieg vir ‘n lewe nie.


Realiteit is dat die werksomgewing meer veeleisend as voorheen is.  Ons werk langer ure en daar is meer druk op ons as ooit tevore.  As jy vandag moeg is vir jou werk of dit sieldodend vind, dink weer terug aan die dag toe jy gehoor het dat jy die suksesvolle kandidaat is.  Onthou weer hoe opgewonde jy was en hoe jy na daardie eerste dag uitgesien het.  

Al waaroor ons beheer het, is hoe ons reageer op dit wat met ons gebeur.  Moenie toelaat dat die meule van die lewe jou geesdrif demp nie.  Buitendien, ons werk nie vir ‘n aardse baas nie, maar vir God.

Wednesday 4 September 2013

God sal jou nie in die steek laat nie

Genesis 28 : 15 … Ek sal jou nie in die steek laat nie…

Op ‘n dag dat die Kaap van Storms sy naam gestand doen, haal ek ‘n vlug na Johannesburg.  Een ding waaraan ek my vergaap, is hoe die vliegtuig in gietende reën opstyg en nog voor die vlugkelners kan versnapperings uitdeel, deur die wolke breek waar die son steeds baldadig skyn.


Dit het my laat dink hoe ons tydens moeilike tye van God verlate voel.  Dis tye dat ons, ons in gietende reën bevind.   Wanneer dit reën is ons onder die indruk dat die son nie skyn nie, maar bo die reënwolke skyn die son steeds.  God is steeds bo die onweerswolke in ons lewe.  Omdat ons Hom nie kan sien nie, beteken dit nie Hy’s nie daar nie.  God word nie deur reën of storms gekortwiek nie.  Hy is verhewe bo die wêreldse stryd, maar nie verwyder nie.  

Net soos wat die reën die een of ander tyd opklaar, sal ons probleem ook die een of ander tyd wyk. God se belofte in Genesis is steeds van toepassing vandag, maak nie saak hoe hopeloos jou situasie lyk.  Hy SAL jou nie in die steek laat nie. Sy liefde vir ons is net so oorvloedig soos die heerlike sonskyn bo daardie gietende reën.

Tuesday 3 September 2013

Kosbare pêrels en meetsnoere

Psalm 16 : 6 Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval

Mense kom en gaan in ‘n mens se lewe, maar party laat ‘n blywende indruk.  Voor ons verlede jaar deur herstrukturering is, was ons vyf dames wat ‘n hegte band gesmee het.  Ons het nie baie saamgereis nie, maar die kere wat ons wel saamgereis het, sal my altyd bybly.  Ons was ‘n diverse groepie, wat op elke moontlike manier van mekaar verskil het, maar mekaar leer waardeer het.  En… ons het saam 2 herstrukturerings beleef – ‘n smeltkroes wat ons gebind het asof ons verskillende metale was wat saamgesmelt het. 

Uiteindelik sou drie van die vyf slagoffers van die herstrukturering word, terwyl ‘n vierde bedank het.  Vandag moes ek  alleen ‘n reis aanpak wat ons vyf voorheen saam beleef het.  Dit het soveel herinneringe by my opgeroep, en verlange na dit wat was, maar onherroeplik verander het toe die korporatiewe wiele hul draai gedraai het. 


Die wonder is dat ons steeds kontak behou al is ons nou op afsonderlike eenspoor paadjies.  Al verstaan ons dit nie altyd nie, was ook dit deel van God se groter plan.  Uiteindelik het die meetsnoere vir elkeen op lieflike plekke geval en ons is elkeen ryker omdat ons mekaar werklik leer ken het.

Waardeer daardie kosbare pêrels wat jou pad kruis.  Die lewe verander binne 'n oogwink.

Monday 2 September 2013

Help Mekaar

Jesaja 41 : 6  “hulle help mekaar en praat mekaar moed in.”

Een van my gunsteling tydverdrywe is om mense dop te hou, spesifiek hul interaksie met mekaar.

Terwyl ek vandag in ‘n ry staan en wag om aan boord van ‘n vlug na Johannesburg te stap, staan daar ‘n gesin voor my in die ry – pa, ma en ‘n seun van +- 13 jaar.  Beide ouers is op hul selfoon besig terwyl die seun met die selfone kompeteer om aandag.  Kort-kort mik hy van die een na die ander se selfoon om te sien waarmeer hul besig is.  Die pa is besig om ‘n speletjie op die selfoon te speel en alhoewel die seun ook wou speel, het die pa net gelag en gesê hy moet wag.  Selfs terwyl ons vorentoe beweeg, het hul nie een oomblik weggekyk van hul selfone nie.  Op ‘n stadium moes die seun sy pa aangespreek:  “Stop playing,” en die drasak optel, want beide ouers was te besig om daaraan aandag te gee.  Hulle is die vliegtuig in sonder om hul oë vir een oomblik van die skerms af te haal.  Eintlik kon hul net sowel die kind by die huis gelos het, eerder as om hom op ‘n duur oorsese vakansie te bring.  Dit kon ek aflui van hul internasionale paspoorte en die feit dat hul aan boord ‘n vlug gegaan het wat via Johannesburg na Frankfort op pad was.

Selfone het ongetwyfeld hul voordele, maar dit is hartverskeurend wat dit aan ons doen.  Die selfoon het vir baie hul beste vriend geword, die een wat al hul tyd en aandag kry.


Ons is almal skuldig op die een of ander vlak, want ons laat toe dat ons op ‘n afstand beheer word d.m.v. epos, smsse, bbm’s, whats-up en wat nog alles.  Neem jouself vandag voor om nie ook ‘n slagoffer te word van selfoonverslawing nie.  Druk die rooi knoppie en maak Jesaja 41 : 6 ‘n werklikheid vir mekaar.

Sunday 1 September 2013

Hoop

Romeine 8 : 25  Maar ons hoop dat daar iets met ons sal gebeur, iets wat nog nie gebeur het nie. Daarom hoop ons en hou ons aan om daarvoor te wag.
Moet nooit
Opkrop as jy iets op die hart het nie
Stilbly as jy ‘n opinie het nie
Moed opgee as jy sukkel nie
Kwaad word as jy teleurgestel word nie
Ophou wanneer jy verloor het nie
Ongeduldig raak as jy nie jou sin kry nie
Bly lê as jy geval het nie
Persoonlik raak as jy in die rug gesteek word nie
Sinies raak as liefde nie uitwerk nie
Oordeel as jy iemand nie ken nie
Verwyt as iemad ‘n fut began nie
Haat as iemand jou seermaak nie
Ophou glo as jou vertroue geskend word nie
Bang wees as jy alleen is nie
WANT… jy is baie spesiaal en elke liewe ding wat met jou gebeur
En elke liewe men swat oor jou pad kom, is vooraf vir jou beplan
Om jou sterker, wiser en slimmer te maak
En jou diepte en karakter te gee
Geniet jou lewensreis…
Onthou…
Hoop maak die reis moontlik, Geloof maak dit makliker
En liefde maak dit onvergeetlik mooi

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...