Thursday 31 October 2013

Ek's 'n dapper muis...


Galasiers 1:15

"God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in Sy genade geroep..."

Onthou jy nog die kinderrympie:  “Ek’s ‘n dapper muis… kyk hoe stap ek deur die huis… en daar’s niks waarvoor ek skrik nie…

Jy kan hierdie rympie maar hardop loop en sê, want daar is eenvoudig niks waarvoor jy bang hoef te wees of bekommerd oor hoef te wees nie.  God se liefde omvou jou soos ‘n wolsagte kombers.  Sy oog is voortdurend op jou, Sy lieflingkind.  Dit beteken nie dat jy geen opdraendes of valleie sal ervaar nie, maar jy kan dit met selfvertroue aanpak, want God is vir jou.  Dis soos om in ‘n liefdevolle ouerhuis groot te word.  Maak nie saak hoe die wêreld buite die mure van die huis is nie, daarbinne voel jy veilig, gekoester en geliefd.


"Pak jou lewensbootjie lig met net die nodigste: 'n warm tuiste en eenvoudige genietinge, een of twee vriende wat die naam werd is, iemand om lief te he, en iemand om jou lief te he..."  ¬ Jerome K Jerome

Wednesday 30 October 2013

Soms is woorde nie nodig nie

Jesaja 50:4

"De Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek die wat moeg is, kan moed inpraat..."

Het jy ook al gewens jy beskik oor die regte woorde om iemand te bemoedig of te vertroos?  Dis nie altyd maklik om iemand anders se pyn te verstaan nie en soms is die persoon se lyding so erg dat jy net eenvoudig nie woorde het om die persoon mee te bemoedig nie. 
Vra God altyd om jou met die regte woorde toe te rus.  Hy alleen ken die volle verhaal.  En Hy kan jou wonderbaarlik gebruik om ‘n persoon se seer te verlig met ‘n sagte word.  Soms is woorde nie eens nodig nie.  Wees net daar vir hom/haar.
"soms behaal jy die grootste oorwinning wanneer jy niks se nie...  Maar dan moet Iemand anders praat, op 'n manier wat heiliger is as menslike woorde..."  ¬ Braam Hanekom



Tuesday 29 October 2013

Moenie toegee nie...

Spreuke 2:7

"Hy laat eerlike mense sukses behaal en beskerm die wat onberispelik lewe..."

As jy hierdie teksvers lees, kan jy maklik dink dat dit dalk in die Bybel se tyd relevant was, maar beslis nie meer vandag geld nie.  Korrupsie is die siekte van ons tyd en dit versprei vinniger as aids.  En die ergste van alles is dat dit wil voorkom asof die skuldiges wegkom. 
Wanneer jy daarvan lees of hoor, gaan dit jou verstand te bowe dat mense sulke bedrae kan steel of wanbestee en daarmee wegkom.  Dit wil ook voorkom asof die straf net sowel uitskryfwerk kon gewees het, want dit is nou nie juis in lyn met die misdaad nie.
Jy mag dalk voel asof ‘almal’ steel en ‘almal’ wegkom, so hoekom moet jy sukkel?  En dan help jy ook jouself.
Moenie toegee nie.  Moenie swig nie.  Dit is steeds verkeerd in God se oë en alhoewel dit voorkom as hul daarmee wegkom, die Enigste Regter, staan vir hulle en wag.  Leef jy maar net soos God van jou verwag en weet dat Sy seen meer werd is as wêreldse miljoene

"Jy behaal 'n groter oorwinning wanneer jy as gevolg van jou beginsels verloor as wanneer jy as gevolg van jou leuens wen..." ¬ Arthur Calwell

Monday 28 October 2013

Om te volhard

Psalm 121:1-2

"Ek kyk op na die berge:  waarvandaan sal my hulp kom?  My hulp kom van die Here wat die hemel en aarde gemaak het..."

Met die huidige ekonomiese uitdagings is die lewe beslis nie ‘n piekniek nie.  Ons hoor elke dag van mense wat hul werk verloor.  Sommige verloor ook hul motor of huis.  Ja, dis wêreldsgoed, maar jy’t hard gewerk vir dit en ten spyte van jou harde werk, moet jy uiteindelik die stryd gewonne gee.  Dis nie maklik nie.  Elkeen wat hierdeur gaan sal weet, dis nie net die verlies aan bates nie, maar die gevoel van mislukking wat jou onderkry.  Waar begin jy?  Hoe begin jy van vooraf?  Dalk is jy nie meer vandag se kind nie en die lewe het jou nou hierdie laaste klap gegee.  Jy staan verslae, mismoedig, op moedverloor se vlakte.
Mense gaan jou nie help nie… net God kan… en Hy sal.  Dieselfde God van die Bybel is ook jou God.  Alles gebeur met ‘n doel en jy mag dalk nie op die oomblik enige doel in hierdie gebeurtenis sien nie, maar God se plan is altyd ‘n voltooide sirkel.  
Rig jou oë op God en wag op sy leiding.

"Om te volhard is groter as om te waag...  Om die aanslae van die lewe tot breekpunt te verduur; om jou nie deur klein of groot probleme te laat onderkry nie; om moedig aan te hou as almal op moedverloor se vlakte sit; om dwarsdeur eindelose intriges onkreukbaar te bly...  DIT eerder as waagmoed, is die essensie van grootheid..."  ¬ William Makepeace Thackeray

Sunday 27 October 2013

Om 'n belofte gestand te doen

Hebreers 13:4  Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word.  Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

'n Kollega van my bevind haar in 'n baie ongelukkige huwelik.  Haar man gee hoegenaamd geen aandag aan haar nie. Daar is nie woorde of dade van liefde nie.  Meeste van tyd heers daar 'n tasbare stilte, want hy gesels nie met haar nie.  As sy 'n geselsie probeer aanknoop, jak hy haar blykbaar af.

Sy't onlangs deur 'n krisis met haar ouers gegaan en hom gevra om haar by te staan.  Sy antwoord aan haar was: "Ek kan niks doen nie, hulle moet maar hul eie probleme uitsorteer." Daarteenoor lag en gesels hy met die kinders, maar teenoor haar is daar geen warmte.

'n Mens moet jouself afvra of 'n vrou wat so emosioneel mishandel word, binne die huwelik moet bly.  Sou jy?  Die kollega huiwer nie een oomblik nie.  "Ek het 'n belofte voor God afgelê en ek sal daardie belofte nakom."

Vandag wil ek vir jou vra om vir hierdie Godskind te bid.  Dra haar in geloof op en bid dat haar huwelik herstel sal word, want by God is dit moontlik.

Thursday 24 October 2013

Hy sal jou nie in die steek laat nie...

Deuternomium 31:8
“Die Here sal voor jou uitgaan...  Hy sal by jou wees...  Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie...  Moenie bang wees nie, moenie skrik nie...” 
Ten spyte van dit wat jy op hierdie oomblik deurgaan, hoef jy nie vir een oomblik mismoedig te raak nie, want God is by jou.  In Deuteronomium 31 is daar ‘n hele paar beloftes vasgevang.  Wanneer ons in die valleie beland, kan ons maklik verlate en alleen voel.  Ander mense verstaan dalk nie waardeur jy gaan nie, maar God verstaan.  Jy voel asof alles binne jou stukkend is en asof jy nooit ooit weer vreugde sal ervaar nie, maar God vertroos jou.
Dalk het die krisis nog nie ‘n hoogtepunt bereik nie, en weet jy die ergste lê nog voor.  Moenie vrees nie, God sal voor jou uitgaan en die weg baan.  En wanneer jy daardie verlate vlakte oorsteek is Hy reg langs jou.  God maak nooit leë beloftes nie.
Eendag sal jy ook hierop kan terugkyk en sien hoe God jou deurgedra het.  Op eie kragte is ons tot niks in staat nie, maar hy versterk ons en met Sy hulp en genade kan ons enige iets oorkom.

“ Ons hoop vaagweg, maar ons vrees in fyn besonderhede...”  ¬ Paul Valery      

Wednesday 23 October 2013

God of Mammon?

Matteus 6 : 24 Julle kan nie God en Mammon dien nie...

Dubbele standaarde is deesdae aan die orde vandie dag.

Ons gaan kerk toe, maar ons is nie bereid om ons naaste te help nie.

Ons bid verlos ons van die bose, maar ons gee ons oor aan wêreldse versoekings.

Ons weet dat God kan voorsien, maar ons probeer ook op eie houtjie om sukses te bewerkstellig.

Ons beloof ewige trou, maar gee so maklik op sodra die eerste argument uitbreek.

Ons skud ons kop oor korrupsie en geld wat wanbestee word, maar ons neem skryfbehoeftes huis toe.

Ons kan dit ontken, maar dit gebeur steeds, want ons is menslik en swak.

God of Mammon?

Tuesday 22 October 2013

'n Nuwe begin


 Job 5:9, NLV

"Wat God doen, is te groot om ooit te verstaan...  Hy doen wonder op wonder..."

Matrikulante het verlede week hul laaste skooldag beleef.  Nou lê die bloktyd voor en dan die eksamen.  Of jy nou ‘n A-kandidaat is of iemand wat regtig skouer aan die wiel moet sit, almal het tog maar eksamenvrees.  Solank jy jou kant bring, sal God jou die helderheid van verstand gee om die inligting op die vraestel te kan weergee.  Al is jy nie iemand wat maklik feite kan memoriseer nie, vra God om jou te help om die inhoud te kan onthou.

En dan lê die toekoms oop voor jou.  ‘n Nuwe begin… Vir party is dit universiteit, vir ander die hoop op ‘n werk.  Hoe dit ookal sy, vir almal is dit ‘n tyd van onsekerheid…

Jou matriekjaar mag dalk soos die einde lyk… jy gaan die vreemde in… jy gaan jou vriende mis…  Weet verseker dat dit eintlik net ‘n nuwe, interessante, fase is.  Jou vrese en onsekerheid oor die toekoms is onnodig.  God kan vir jou deure oopmaak wat jy nooit eens aan gedink het nie.  Wat God vir jou beplan weet niemand van ons nie, maar ons weet dat Hy ‘n God van wonders is.  Sien met afwagting uit na die toekoms, want dis ‘n nuwe begin.


"Wat lyk soos die einde, is dalk net 'n nuwe begin..."  ¬ Anoniem

Monday 21 October 2013

Jy is Spesiaal

Jesaja 49: 16  Ek het jou naam in my handpalms gegraveer...

As jy voel asof die lewe jou die rug gekeer het, wil ek jou vandag moed inpraat.  Moenie mismoedig word nie.  Wanneer 'n mens uitermatig beproef word, is dit maklik om jou eiewaarde te bevraagteken.  Jy't aansoek gedoen vir hoeveel poste, maar jy kry eenvoudig nie 'n werk nie... Jy wil so graag iemand in jou lewe hê, maar eensaamheid bly jou enigste metgesel...  Jy wil so graag bo jou omstandighede uitstyg, maar jy kry net nie 'n geleentheid nie...

Begin om met God oor hierdie gevoelens van jou te gesels.  Jy is SO spesiaal vir hom dat jou naam in Sy handpalms gegraveer is.  Dis nie met ink geskryf wat afwas nie.  Dis nie op papier geskryf wat kan wegwaai nie.  Dis in Sy handpalms gegraveer!


Thursday 17 October 2013

Daniel


Daniël 6 : Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank. 

  
Wanneer jy in 'n land woon waar jy ter eniger tyd kan aanbid, besef jy nie hoe dit moet wees om oor jou geloof vervolg te word nie.  Daardie voorreg kan enige tyd van ons weggeneem word.

Daniël het in so 'n land gewoon waar dit ewe skielik onwettig was om te bid en jy net voor die koning mag kniel.  Dit het Daniël egter nie ondergekry nie, want Hy't eerder op die almag van God vertrou as 'n koning.  

Ons ken die storie - Daniël en sy twee vriende beland in die leeukuil, maar die leeus se bekke bly gesluit.  Selfs in 'n oond kon die woede en magsug van hierdie koning nie die almag van God oorwin nie en Daniël en sy twee vriende stap ongedeerd daar uit.

Het ek en jy daardie geloof?  Staan ons op vir God?  Wys ons diegene tereg wat Sy naam ydelik gebruik?  Hoe kan ons verwag dat God opstaan vir ons as ons nie vir Hom opstaan nie?

Wednesday 16 October 2013

Ek kan nie ophou kla nie

Job 23 : 2  "Ek kla nog steeds uit opstandigheid, en ek kan nie ophou kla nie."

Die verhaal van Job is een wat my fasineer.  Job was 'n model gelowige.  Die duiwel kon dit glad nie hanteer nie en hy't allerhande aantygings oor Job gemaak o.a. dat Job so 'n goeie Christen is omdat God hom soveel geseën het.  God ken Job se hart en sy opregtheid.  Hy laat die duiwel toe om Job te beproef en alles behalwe sy lewe van hom weg te neem.  Ons weet Job het God nooit vervloek nie... hy't vasgehou aan sy geloof terwyl baie van ons lankal handdoek sou ingegooi het.

Job is 'n mens en hy sukkel net soos ek en jy om sy omstandighede te verwerk.  Nie een keer maak God vir Job stil nie... God help hom wel reg, maar belangriker is om te weet dat God heeltyd so naby is dat hy elke sug en klagte van Job aanhoor.  God het Job nie een oomblik verlaat nie.

Uiteindelik het God alles wat Job verloor het en meer vir hom teruggegee.  Die duiwel het nie oorwin nie.

God is ook daar vir jou.  Jy kan jou bekommernisse en vrese maar uitspreek - Hy verstaan.  Jy kan maar opstandig raak - Hy verstaan en Hy hoor.  Net soos Hy vir Job uitkoms gegee het, sal Hy ook vir jou uitkoms gee.  

Tuesday 15 October 2013

Die toets

Job 23 : 10  Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud.

Hoe voel jy vandag?  Het jy gesukkel om op te staan?  Sien jy op teen die dag wat voorlê? 

Dalk het jy rede om so te voel... dalk nie.  Hoe dit ook al sy, elkeen van ons kom op 'n punt waar ons dit moeilik vind om voort te gaan.  Moenie op jou eie kragte staat maak nie.  God, wat jou geskape het, weet presies waardeur jy gaan.  Nog lank voor jy hierdie punt bereik het, het hy reeds geweet wat vir jou voorlê en Hy is daar... reg langs jou.  Wie weet, die manier waarop jy hierdie krisis hanteer, inspireer dalk iemand anders.

In Engels praat hulle van 'n testimony.  Ons weet almal dat die onderwysers doodstil is gedurende 'n toets, maar dit beteken nie hulle is nie daar nie.  'Unfortunately some of us are moaning throughout the test. Why me... why me... ?'  Daar is 'n rede vir alles en die goeie nuus is dat alles tot 'n end kom... ook hierdie toets waardeur jy gaan.  Laat God trots wees op die manier wat jy daardeur gaan - hand aan hand met Hom.

Eendag sal jy terugkyk op hierdie tyd en met heimwee daaraan terugdink.  Wees net sterk en vol vertroue.  God weet presies wat Hy beplan en doen. 

Monday 14 October 2013

Hoekom bring God beproewings oor ons pad?

Esegiël 20 : 16  Hulle het immers my bepalings verwerp, nie volgens my voorskrifte gelewe nie, my sabbatte ontheilig en die afgode van hulle keuse gedien.

 Daar is mense wat sal sê die lewe sal vervelig wees sonder enige uitdagings, maar daar is seker net soveel wat sal sê hul verkies 'n vervelige lewe bo die een wat hul tans beleef.  Net om deesdae kop bo water te hou, is 'n uitdaging.  Al die onsekerheid is genoeg om jou te laat hiper ventileer.

Dalk ly jy ook aan die siekte van ons tyd - stress.  Stress veroorsaak tonnelvisie.  Jy is so vasgevang in jou probleme dat jy nie enige uitkoms kan sien nie.  En hoe meer jy probeer ontspan, of 'n uitkoms vind, hoe meer gestress raak jy.  Maagpyn, hoofpyn, hartkloppings, naarheid, tranerigheid... alles dra by tot 'n gevoel van wanhopigheid.  Hoe gaan jy ooit weer lig sien?

As ons eerlik is, moet ons erken dat ons baie van God se bepalings verwerp het.  Ons leef nie meer volgens Sy voorskrifte nie.  Besighede is Sondae oop en ons ondersteun hulle...  Sport vind op Sondae plaas en ons sien dit as ontspanning...  Egbreuk is vir sommige iets waarop hul trots is...  Ons ouers word in ouetehuise gestop en vergeet...  Ons trap op ons naaste, al is dit net om voor hul in 'n ry in te druk of hul nie 'n kans in die verkeer te gee nie...  Diefstal... moord... en Mammon is ons afgod.

Durf ons wonder oor die beproewings?  Is dit nie dalk nodig om self-ondersoek in te stel nie?

Sunday 13 October 2013

Kosbare ure, minute, sekondes

"Wanneer die klok aan die einde van die dag 12uur slaan, word die sekondes waarin jy nie belê het nie, as slegte skulde afgeskryf...  Geen saldo's word na die volgende dag oorgedra nie en oortrokke fasiliteite is nie beskikbaar nie...  As jy nie daarin kon slaag om die deposito te gebruik nie, is die verlies joune...  Dis ons elkeen se verantwoordelikheid om hierdie kosbare fonds van ure, minute en sekondes, so te belê dat dit in die belang van ons gesondheid, vreugde en sukses sal wees..."   ¬ Ian Nell  

Thursday 10 October 2013

As 1 Korintiërs 13 net vir Mammas geskryf was.....

Al sou mamma  die mooiste huis besit en die lekkerste etes vir ons voorberei,
maar dit nie met liefde doen nie,
dan is dit so waardeloos soos 'n  leë kastrol.

Al is mamma  die besigste mamma op die Beheerraad
en koop vir my eendag die  duurstesporttoerusting,
maar mamma het nie die tyd om my langs  die sportveld aan te spoor nie,
dan sal dit my niks baat  nie.

Al koop  mamma 'n kamer vol van die duurste opvoedkundige speelgoed
en  betaal sakke vol geld vir ekstra klasse,
maar mamma sit nie ook  self by my en speel of sukkel met die skoolwerk nie,
dan sal dit  my niks baat nie.

'n  Liefdevolle mamma is geduldig met my,
sy tel maar partykeer my  speelgoed en klere op.
'n Liefdevolle mamma is lankmoedig en  vriendelik,
sy laai haar motor maar somtyds vol kletsende,
bakleiende, swetende skoolkinders.

Mamma's  vergelyk nie hul kinders met ander kinders nie en is nie verwaand  oor prestasies nie.
Mamma's bedek skrape met liefde en pleisters  en glo in my,
hoop net die beste vir my en verdra die klaery en  kritiek.

My gewasde  en gestrykte wasgoed word weer vuil en 'n netjies huis weer  deurmekaar.......
maar 'n opregte drukkie en 'n intieme gesprek  sal vir altyd in my kinderhartjiebly.

Eendag sal  ons huis en sy binnekant tot niet gaan,
maar mamma en ons gesinse  siele sal ondersoek word.

Toe mamma  nog 'n jong meisie was,
was mamma gesteld op mamma se mooi  voorkoms en aardse besittings,
maar noudat mamma 'n MA is, het ons kinders die  belangrikste geword.
Een van die dae kyk mamma miskien vas in 'n  opstandige tienergesig,
maar eendag as ek groot geword het,
sal ek  die vrugte pluk van die LIEFDE wat mamma in my kleintyd gesaai het.

En nou bly,  AANDAG, GEDULD en LIEFDE, hierdie drie,
maar die  waardevolste hiervan is die onvoorwaardelike LIEFDE van 'n mamma!

(ontvang via epos)

Wednesday 9 October 2013

Vriende

Galasiers 1 : 10  Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God?

Leef jy om diegene rondom jou te plesier?  Jy voel dalk dat hul goedkeuring jou definieer.  Hul opinie van jou is uiters belangrik vir jou.

Vriende is belangrik, want ons leef nie in isolasie nie, maar as daardie vriende jou verander in iemand van wie jy nie baie hou nie, moet jy jouself begin afvra of dit regtig vriende is.  Vriende is daar vir jou en wil net die beste vir jou hê.  Vriende vra nie net nie, hulle gee ook.  Vriende maak van jou ‘n beter mens omdat hulle jou reghelp en uitkyk vir jou.  En as jy regtig wil weet of jy die regte vriende het, kan jy dit altyd daaraan toets deur jouself af te vra of Jesus gemaklik sou wees in jou vriendekring.

Vra jouself ook af watter tipe vriend jy is en watter rol jy in jou vriende se lewe speel.  


Soek God se guns.  Vra Hom om die regte vriende in jou lewe te bring en jy sal nie nodig hê om mense se gunste wen nie.

Tuesday 8 October 2013

Skadu's

Psalm 144 : 4  'n Mens, hoe verganklik is hy tog: sy dae gaan soos 'n skaduwee verby.
Met tye beland ons in donker dieptes, dalk net in ‘n skadu-plekkie, daar waar die son nie helder op ons skyn nie.  Dis swaarkry-tye, hartseer tye, mismoedigheid-tye, knie-bly-tye…

As ons terugdink is dit nie juis tye wat ons weer wil beleef nie, maar meeste van ons sal darem ook kan erken dat dit die tye is wat ons gemaak het wie ons vandag is.  Daar op moedverloor se vlakte het ons onsself dikwels behoorlik leer ken, en ja, partykeer seker ook nie gehou van die persoon wat ons van nader leer ken het nie.  Maar dit is ook daar wat ons diepte gekry het, waar ons op die swaar manier geleer het dat die lewe nie net uit prêt en plesier bestaan nie.

Die analogie dat ‘n skaduwee altyd met ons is – geen prent is volmaak sonder skaduwees nie  - skadu gee diepte en karakter – skadu is deel van die prent as ‘n geheel….


Deur die genade is God met ons, of die son skyn, of die skadu’s oor ons skuif, of dit donker is.  Die feit dat jy Hom nie kan sien nie, beteken nie dat Hy jou nie kan sien nie.  Sy oog is liefdevol op jou gerig.

Monday 7 October 2013

Om vol te maak

Genesis 22 : 14 Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.” 
Elke keer dat ek my motor vol brandstof maak, besef ek dat ons as mense ook moet ‘volmaak’.  Party maak Sondae by die kerk vol, terwyl ander na Geestelike musiek of boodskappe luister.  Meeste van ons maak ook vol deur tyd saam met God deur te bring wanneer ons Sy Woord indrink sodat ons weer gereed is vir die ‘lang pad’.

En soms kom daar tye dat die wêreld van ons besit neem en ons eenvoudig nie by hierdie dinge kom nie.  Partykeer sien ons selfs die rooi liggie aan gaan en weet nou moet ons drasties iets doen.  Net soos die motor se tenk ‘n reserwe het, het ons dan ook hopelik ‘n reserwe opgebou wat ons tot by die volgende motorhawe kan neem. 


Sommige motors is lig op brandstof, terwyl ander weer meer brandstof gebruik.  Dit hang natuurlik ook af hoe ‘hard’ jy die motor ry. Klink dit dalk soos jou lewe… so asof jy ‘n uitdagende 4x4 roete gery het?   Ook dit sal verbygaan en ook jy sal jou bestemming bereik.  Soms moet ons egter tot bo-op die berg kom om God se voorsiening te ervaar.  Gebruik net die padkaart (Die Bybel)

Sunday 6 October 2013

NET 5 TREE

Matteus 15:25 Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”
Nadat die Biggest Loser deelnemers ses weke by hul eie huise deurgebring het, durf hulle ‘n marathon aan.  Op een stadium hardloop een van die deelnemers se vriend langs haar.  Sy’s moeg en wil opgee, want daar lê nog 10 km voor.  “Moenie op die 10 km fokus nie, fokus net op die volgende 5 tree.  Kan jy nog 5 tree gee?”  Natuurlik kon sy en dit is hoe sy klaargemaak het  - deur net op die volgende 5 tree te fokus wat vir haar moontlik was.  Nie net het sy klaargemaak nie, sy was eerste en… sy’t ‘n nuwe rekord opgestel! 
Partykeer wil ons ook opgee of ons voel ons het die einde van ons kragte bereik, veral hier naby die einde van die jaar.  Ons is moeg en ons ‘pyn’ oral.  Dalk het jy buiten werksdruk ook nog finansiële druk… of ‘n motor wat probleme gee… of ‘n kind wat nie wil leer nie… wat ook al jou beproewing, fokus net op die volgende 5 tree.  Jou 5 tree mag dalk net more wees, iemand anders se 5 tree mag dalk net hierdie week wees… 


En onthou dat jy nie alleen is nie.  As jy voel jy kan nie meer staande bly teen die storms nie, gaan op jou knieë en vra: “Here help my!”.  Tree vir tree stap Hy saam met jou.  

Thursday 3 October 2013

Maak los!

Filippense 3 :13  Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is

Elkeen van ons het ons eie storie om te vertel… party van ons het selfs ‘n paar letsels om te wys waar die lewe se skerp kant ons bygekom het. 

Moenie daarby vashaak nie en by elke moontlik en onmoontlike geleentheid die ‘replay’ knoppie druk nie.  Glo dat daar ‘n rede vir alles is en laat gaan.  Al kan jy dit nie verstaan nie, moenie te veel daaroor tob nie.  Die feit dat dinge nie volgens ons planne verloop nie, beteken nie dat dit verkeerd geloop het nie. 

Ek het al jare later denkbeeldige sweet afgevee van dankbaarheid dat ek nie my sin gekry het nie en besef dat God se plan eintlik beter was as my kortsigtige eiesinnigheid.


Bevry jouself van die verlede.  God het soveel meer vir jou in gedagte. 

Wednesday 2 October 2013

Geestelike Antennae

Handeling 4 : 31 Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

Lourens Geldenhuys van Die Bybelgenootskap vertel hoe hulle onlangs Bybels met ‘n kamoefleeromslag vir die weermag geskenk het.  Die Bybels was deel van ‘n geskenkpak met o.a. eetgoed, maar hy was verstom om te sien hoe hulle die eetgoed ignoreer, en eerste die Bybel opneem en daarin begin lees.


Hierdie mense was uitgehonger vir die Woord van God.  Honger jy na God se Woord?  Ons woon in ‘n land waar daar algehele godsdiensvryheid is, maar daarin is ook ‘n gevaar, want ons word oorweldig deur geestelike boodskappe d.m.v. verskeie media.  Dit op sigself is nie verkeerd of sleg nie, maar ons kan afskakel en nie regtig die boodskap hoor nie omdat die uit alle rigtings kom en nie meer krag dra nie.  Of die boodskap tot jou gaan deurdring, hang af hoe ingestel jou geestelike antennae op God is.  Laat toe dat Sy Gees jou vul sodat jy ook met vrymoedigheid oor Homs al getuig.  Getuienisse is kragtiger as preke, want hulle is bewys van God se werking in jou lewe.

Tuesday 1 October 2013

The Tea Cup


There was a couple who used to go to England to shop in the beautiful stores.
They both liked antiques and pottery and especially teacups.
This was their twenty-fifth wedding anniversary.
One day in this beautiful shop they saw a beautiful teacup.
They said, "May we see that? We've never seen one quite so beautiful."
As the lady handed it to them, suddenly the teacup spoke.
"You don't understand," it said. "I haven't always been a teacup.
There was a time when I was red and I was clay.
My master took me and rolled me and
patted me over and over and I yelled out,
"let me alone", but he only smiled, "Not yet."
"Then I was placed on a spinning wheel," the teacup said,
"and suddenly I was spun around and around and around.
Stop it! I'm getting dizzy! I screamed.
But the master only nodded and said, 'Not yet.'
Then he put me in the oven. I never felt such heat.
I wondered why he wanted to burn me,
and I yelled and knocked at the door.
I could see him through the opening and
I could read his lips as He shook his head, 'Not yet.' 
Finally the door opened, he put me on the shelf, and I began to cool.
'There, that's better,' I said. And he brushed and painted me all over.
The fumes were horrible. I thought I would gag.
'Stop it, stop it!' I cried. He only nodded, 'Not yet.'
Then suddenly he put me back into the oven, not like the first one.
This was twice as hot and I knew I would suffocate.
I begged. I pleaded. I screamed. I cried.
All the time I could see him through the
opening nodding his head saying, 'Not yet.' 
Then I knew there wasn't any hope. I would never make it.
I was ready to give up. But the door opened and
he took me out and placed me on the shelf.
One hour later he handed me a mirror and said,
'Look at yourself. And I did. I said,
'That's not me; that couldn't be me.
It's beautiful. I'm beautiful.' 
'I want you to remember, then,' he said,
'I know it hurts to be rolled and patted,
but if I had left you alone, you'd have dried up. 
I know it made you dizzy to spin around on the wheel,
but if I had stopped, you would have crumbled.
I knew it hurt and was hot and disagreeable in the oven,
but if I hadn't put you there, you would have cracked. 
I know the fumes were bad when I brushed and painted you all over,
but if I hadn't done that, you never would have hardened;
you would not have had any colour in your life.
And if I hadn't put you back in that second oven,
you wouldn't survive for very long because
the hardness would not have held.
Now you are a finished product.
You are what I had in mind when I first began with you.


God knows what He's doing (for all of us).
He is the Potter, and we are His clay.
He will mold us and make us,
so that we may be made into a flawless piece
of work to full fill His good, pleasing, and perfect will.
(epos juweeltjie)

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...