Thursday 28 November 2013

Fokus op wat jy kan doen

Jesaja 32 : 17  Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet.
Paul Smith was ‘n man met ‘n uitsonderlike talent.  Hy kon die mooiste, lewensgetroue, skilderye maak deur ‘n tikmasjien te gebruik en slegs simbole @ # $ % ^ & * ( )_ te herhaal.  As jy sy naam Google sal jy absoluut verstom staan oor sy talent. Op ‘n afstand is dit ‘n skildery, maar slegs wanneer jy van baie naby kyk, sal jy die simbole herken. 
Wat maak hom so spesiaal?  Hy was seribraal gestrem en het nie die volle gebruik van al sy ledemate gehad nie.  Sy spraak was ook aangetas.  Nogtans het hy homself nie laat terughou nie, maar hierdie kunsvorm as ‘n nismark vir homself uitgekerf. Boonop was hy ‘n uitmuntende skaakspeler, alhoewel hy destyds nie ‘n formele skoolopleiding gegun is as gestremde nie.
Wanneer hy sy kunswerke op die tikmasjien geskep het, moes hy sy linkerhand gebruik om sy regterhand te stabiliseer.  Daarom kon hy nooit meer as een sleutel op ‘n slag gebruik nie.  Hy het toe besef dat hy beperk is tot die simbole en het dit as ‘n geleentheid gesien om hierdie kunswerke te skep.
Hoeveel van ons sou bly vassteek het by wat ons nie kan doen nie, eerder as om te fokus op wat ons kan doen?  Elkeen van ons ken ons eie tekortkominge en soms is ons die enigste persoon wat in ons eie pad staan.  Paul is so ‘n inspirasie.
Hierdie merkwaardige man is gebore in 1921 en het in 2009 afgesterf.  Oor 70 dekades het hy honderde kunswerke geskep waarvan hy die meeste weggegee het.  Mettertyd het hy dit selfs bemeester om skaduwees, kleur en tekstuur aan sy werke te gee wat dit laat ooreenstem met houtskool skilderye.

"Jy leef net een keer nie, maar as jy dit reg doen, is een keer genoeg nie." - Mae West

Wednesday 27 November 2013

Tough love

Spreuke 29 : 17 Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.
‘n Wyfie kameelperd gee geboorte terwyl sy staan wat tot gevolg het dat ‘n baba kameelperd se eerste ervaring ‘n val van bietjie meer as ‘n meter is.  Wat 'n manier om die wêreld binne te kom!
Byna katswink strompel die baba op sy vier beentjies.  In plaas van ‘n liefdevolle lek as troos, stamp die wyfie die kleintjie sodat hy val en weer moet opstaan.  Hierdie onsimpatieke behandeling word ‘n hele paar maal herhaal totdat die kleintjie te moeg is om te staan en eenvoudig bly lê.  Eers dan sal die ma nader staan en die kleintjie lek om hom aan te moedig om op te staan.  Die keer sal sy hom nie weer omstamp nie.
Die rede hiervoor is oorlewing.  Dis uiters belangrik vir ‘n kameelperd om te leer om so vining as moontlik op sy voete te kan kom.  Die wyfie se skynbare harteloosheid is inderdaad ‘n daad van liefde. 
As ouers het ons ook ‘n verantwoordelikheid om ons kinders voor te berei op die lewe.  Soms is dit nodig om ‘tough love’ toe te pas.  Ongelukkig wil ouers deesdae eerder vriende wees met hul kinders en daarom ontneem hul hul kinders dikwels die voorreg om lesse te leer wat hul lewens kan red.  Genoeg liefde is die veiligheidsnet vir daardie lewenslesse. 

Arabiese spreekwoord:  “Sometimes, in order to teach something good,you have to be a little rough.”

Tuesday 26 November 2013

Trouble trees

Psalm 37 : 1  Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie,
Daar is ‘n verhaaltjie oor ‘n skrynwerker wat besig was om ‘n ou plaashuis te restoureer.   As gevolg van ‘n pap wiel het hy laat opgedaag.  Gedurende die dag het sy elektriese saag kort-kort probleme gegee en toe hy huis toe wil ry, wil sy ou bakkie nie vat nie.  Probleme op probleme – dalk klink dit soos jou eie lewe.
Die eienaar bied toe aan om hom huis toe te neem.  Moeg gewerk, na ‘n harde dag vol uitdagings, ry hul in stilte voort.  By die huis gekom, nooi die skrynwerker die boer in om sy familie te ontmoet.  Op pad na die voordeur, stop die skrynwerker by ‘n klein boompie en raak die takkies liggies aan met sy hande.
Die oomblik toe die skrynwerker egter die huis binnestap, trek sy moee skouers agteroor en sy gesig verkreukel met ‘n bree glimlag.  Asof hy heeldag sit en niksdoen het,  tel hy sy seuntjie op en gooi hom in die lug. Terselfdertyd buk hy oor sy vrou om haar hallo te soen en teen hom vas te druk met die wriemelende kleintjie steeds onder sy een arm vasgeknyp.
Op pad uit, vra die boer hom hoe hy dit regkry om te transformeer van doodmoeg tot liefdevolle eggenoot binne sekondes?
“O, dis maklik.  Ek het ‘n ‘trouble-tree.  Jy’t seker gesien hoe ek die boom aanraak op pad in.  Wel, ek weet dat elke dag sy eie probleme bring, maar dis nie nodig dat ek hul in my huis toelaat nie.  Ek vra my ‘trouble-tree” om na hul om te sien tot ek hulle soggens weer kan opneem.”  Hy kry so ‘n glinster in sy oog en se dan:  “En weet jy wat verbaas my elke keer? Wanneer ek hulle die volgende oggend wil optel is hulle of weg, of hulle is heelwat kleiner as wat ek onthou.”
God nooi jou uit om jou probleme by sy voete te los.  Moet dit nie in jou huis toelaat nie.

"Daar is net twee maniere om jou lewe te lei. Een is asof niks is 'n wonderwerk is. Die ander is asof alles is 'n wonderwerk is." - Albert Einstein

Monday 25 November 2013

Hulle wat nie kan praat nie

Genesis 1 : 25  God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.
‘n Reuse boggelrug walvis het in ‘n web van visnette en toue verstrengel geraak.  Terwyl sy probeer loskom, het sy haarself al vaster gedraai in die nette.  Stadig maar seker het die gewig van die nette haar mobiliteit ingekort en gekeer dat sy dryf.  Die toue het in haar mond en lyf ingesny.
‘n Visserman het haar gewaar oos van Farallone Eiland, net buite die Golden Bridge, en hulp ingeroep.  Binne ure het die reddingspan opgedaag, maar hul was geskok oor die situasie.  Die walvis was so verswak dat hul nie tyd gehad het vir ‘n uitgerekte reddingspoging nie.  ‘n Besluit is geneem om in te duik en die toue los te sny.  Dit was ‘n baie gevaarlike idee, want net een klap van die walvis se stert sou die duikers te pletter slaan.
Tyd was besig om uit te hardloop en hulle het ingeduik en begin om die toue los te sny.  Nadat die laaste tou en stukke net van die walvis verwyder is, het sy in wye sirkels geswem, duidelik oorstelp van vreugde om vry te wees.
Daarna het sy na elke duiker geswem en haar snoet teen elkeen gedruk en hom liggies gestamp om dankie te sê.  Die duikers het nie woorde gehad om die situasie te beskryf nie.  Die een wat die tou uit haar mond gesny het, se haar oog het hom heeltyd gevolg en hy sou nooit weer dieselfde wees na hierdie reddingspoging nie.
Elke huisvrou weet hoe dit voel as jy nou net die vloer gewas het en iemand stap met vuil voete daaroor.  Dit is presies wat die mens besig is om te doen.  Ons is besig om dit waarop God so trots was te verniel.  Al meer diere sterf uit… die omgewing word verniel en verwaarloos… ons is besig om die aarde te vernietig. Ons het meer regte as ooit tevore, maar met elke reg kom daar ook ‘n verantwoordelikheid.  Dis tyd dat ons daardie verantwoordelikheid ernstig opneem.  Elkeen van ons kan ‘n verskil maak. 
"As jy wil weet wat 'n man is soos, kyk hoe hy sy minderes,behandel,  nie sy gelykes." - J.K. Rowling


Sunday 24 November 2013

Vergifnis


Eksodus 32 : 30  Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”
Ons almal is menslik, en almal kry seer.  Ons het almal ons lesse om uit die lewe te leer.
Ons almal wil graag vergifnis he, Maar dis soms so moeilik net om jammer te sę.
Ons almal het stories, van trane en spyt, Ons almal het verhale van liefde en verwyt.
Niemand is perfek nie, en nie almal is mooi nie,
Maar onthou, die lekkerste appels is nie altyd rooi nie.
Vergewe en vergeet, is soos bitter en soet.  Die soet laat jou hart klop en die bitter vergiftig jou bloed.
Om kwaad te bly maak niemand dood behalwe jou nie. 
Dis nie die moeite werd om dinge teen mense te hou nie.
Leer om te lewe en ander te laat leef, Leer om na die goeie in die lewe te streef.
Daar’s net een van jou, en net een kort kans, Om op die ritme van jou geluk, in die lewe te dans.
Verlos jouself en begin diep binne rond delf.  Maak stupid grappies en lag hardop vir jouself.
Daar’s beter dinge as rykdom en geld, Al bly jy in ‘n tent iewers in die veld.
Dis jou eie keuse maak of breek, Kyk bietjie wat jy in jou binneste wegsteek.
Tel op jou kop, hou jou trane vir ‘n ander dag,
Dink terug aan goeie tye, en mis dit vir ‘n slag.
Dink aan al die dinge wat jy al behaal het, En buitendien is dit God wat jou lewe bepaal het.
Voel die verligting van vergifnis in jou are, Voel die speling van gevoel oor jou hart se snare
Lewe en laat leef, die res kan maar staak,
Want dis meer as asem haal, wat in jou lewe saak maak…
‘n Mens lewe nie van brood en water alleen nie,

En God het jou nie verniet aan die węreld geleen nie!

(Outeur onbekend)

Thursday 21 November 2013

Gaan mense dan nie hel toe as dit reen nie?

Die dominee en sy elfjarige seuntjie het die gewoonte gehad om elke Sondagmiddag na kerk die dorp in te vaar en traktaatjies uit te deel met die evangelieboodskap op. Een Sondag kom die seun by Pa aan, toegewikkel in sy warmste klere,

"Ek is reg pa!" Die dominee is effens uit die veld geslaan - dit is bitter koud en die reën kom af in emmersvol. "Nee Seun, ons kan nie vandag gaan nie - nie in hierdie eendeweer nie.." 

Teleurstelling is duidelik op die outjie se gesig te lees: "Maar Pa.. gaan mense dan nie Hel toe as dit reën nie?" 

"Kyk Seun, ek gaan beslis nie in sulke weer uit nie!"

"Maar mag ék dan maar gaan Pa? Asseblief Pappie."

Nadat die dominee goed oor die saak gedink het, gee hy vir sy seuntjie 'n pak traktaatjies om te gaan uitdeel, en opgewonde vaar die outjie alleen die sopnat strate in.

Daar was byna g'n siel te siene op straat nie, dus loop hy van deur tot deur en deel sy traktaatjies uit. Na twee ure se harde werk het hy nog net een traktaatjie oor.

 Sopnat gereën en bibberend van die snerpende koue stap hy na 'n huis toe om sy laaste traktaatjie af te gee. Hy lui die klokkie, maar niemand maak oop nie. Hy lui weer 'n slag, maar binne is dit doodstil. Dan druk hy die knoppie met méning, en lui en lui, maar binne gebeur absoluut niks.

 Uiteindelik draai hy om om te loop, maar dit is asof 'n stemmetjie binne in hom vir hom sê om terug te gaan. Hy draai om, lui weer die klokkie, en begin om aan die deur te klop, en later te hamer met sy vuis. Dit is asof iets hom by daardie deur hou. Net toe hy wil moed opgee gaan die deur stadig oop.  

'n Ou tannie wat duidelik baie bedroef is vra vir hom of sy hom kan help met iets. Met ogies wat glinster en 'n glimlag van oor tot oor gee hy vir haar sy traktaatjie: "Ek is jammer ek het Tannie gepla, maar, maar ek wou net vir Tannie kom sê dat Jesus 'rêrag' vir Tannie lief is. Hier is my heel laaste traktaatjie vandag - daarop vertel dit alles van Jesus en Sy groot liefde!" En daarmee gee hy vir haar die traktaatjie, draai om en hardloop huistoe.

 Die volgende Sondagoggend staan die Dominee op die preekstoel. Sy oë gaan oor sy gemeente, en toe vra hy of daar dalk iemand is wat 'n getuienis het wat hy wil lewer voor die diens begin. Heel agter in die kerk staan 'n ouerige dame op, haar gesig stralend.

 "Niemand ken my in hierdie kerk nie," begin sy vertel, "want sien, voor verlede Sondag was ek nie 'n Christen nie, en ek was nog nooit in hierdie kerk nie." Die mense rek eintlik hulle nekke om hierdie vreemdeling te sien.

 Sy begin haar verhaal vertel:
"My man is 'n paar jaar gelede dood, en toe los hy my stoksiel alleen op hierdie droewige aarde. Laas Sondag was dit 'n besonder koue, nat en mistroostige dag, en ek het net gevoel dat daar vir my absoluut niks hier oorbly om voor te leef nie. Ek het 'n stuk tou gevat en 'n stoel, en ek is op na die solder toe. Daar het ek op die stoel geklim, die tou om 'n balk vasgemaak en die ander punt om my nek.  

En daar staan ek, so bitterlik jammer vir myself. Ek het die einde van my paadjie bereik! Net toe ek wil spring, lui die deurklokkie - ek het my byna dood geskrik. Ek het doodstil gestaan en gedink dat wie ookal die klokkie lui sou padgee.. maar hy het nie!

 Die gelui het al harder en dringender geword, en ek het begin wonder wie mý deurklokkie so sou lui, want niemand het ooit vir my kom kuier nie. Naderhand het die gelui 'n geklop geword en naderhand het die persoon met sy vuiste teen die deur gehamer. Ek kon dit nie meer vat nie, en toe maak ek maar die tou los om te gaan kyk wie dit is."

 "Ek kon my oë nie glo toe ek die deur oopmaak nie, want voor my het 'n seuntjie gestaan - sy gesiggie stralend soos 'n engel s'n. En daardie glimlag - ek kan dit skaars beskryf! En toe hy begin praat, is dit soos 'n engel wat met my praat:

 "Tannie", het hy gesê, "Tannie, ek kom net vir Tannie vertel dat Jesus vir Tannie 'rêrag' liefhet!" My hart wat so morsdood was het in my keel geklop. En toe gee hy vir my hierdie traktaatjie wat ek vashou.

"Toe hy weg is, vat ek die traktaatjie, en ek lees dit oor en oor - ek het elke woord daarin ingedrink. En toe stap ek op na die solder toe, en ek gaan haal die tou en die stoel, want toe was hulle nie meer nodig nie, want sien, ek is nou 'n Kind van die Koning.
Julle kerk se adres was agter op die traktaatjie, en ek het net vanoggend gekom om te kom dankie sê vir die engeltjie wat my lewe kom red het, en my gered het van die ewige verderf in die hel.

Teen daardie tyd was daar seker nie 'n enkele persoon in die kerk wat nie gesit en trane afvee het nie. Die dominee het van die preekstoel afgeklim en sy klein engeltjie styf teen sy bors vasgedruk terwyl die trane vryelik oor sy wange loop.

Daar is seker nie 'n gemeente wat 'n groter oomblik van glorie beleef het as hierdie een nie, of 'n pa wat meer vervul was met liefde en eerbetoon vir sy seun as hierdie een nie .. buiten Een: hierdie Vader het óók Sy Seun in die donker, koue wêreld ingestuur om die Boodskap van Redding aan die wêreld te bring.
Sy Seun was verag, verwerp, gespot, geslaan en aan 'n kruis vasgespyker. En toe alles verby was, het Hy Sy Seun terug verwelkom en Hom op die troon laat sit om te regeer oor die heelal.

Daardie Seun bring vandag steeds hoop en redding vir die wêreld, maar hy vra vrywilligers soos ek en jy om Sy boodskap met vreugde uit te dra aan mense wat verlore is. (ontvang via epos|)

Johannes 3 : 16  Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

Wednesday 20 November 2013

Vir jou

Die mooiste glimlag verberg die grootste hartseer;
Die sagmoedigste mense is al die ergste verneder;
Die mooiste oë het al emmers trane gestort;
Die warmste harte het al die meeste pyn gevoel;
Die stilste mense het die diepste geheime;
Die wat die gouste oordeel het die meeste geraamtes;
Die hardste lag verberg die minste selfvertroue;
Die mooiste liefde is nie selfsugtig nie;
Die mooiste sprokie is die een in jou drome;
Die beste plek om te wees is in iemand se hart;
Die gelukkigste mense is die dankbaarste;
Die beste dokters is mamma’s;
Die diepste plooie vertel die mooiste stories;
Die lekkerste gevoel is om verlief te wees;
Die mooiste woorde is "Ek is Lief vir jou";
Die beste dinge in die lewe is gratis;
Die beste pad is die een waar jy die meeste geleer het;
Die edelste mense het die swaarste pad geloop;
Die diepste siele het op die hardste manier geleer;
Die meeste aanmoediging kom van jou beste vriende;
Die waardevolste lesse word geleer deur ons grootste seer;
Die wonderlikste geskenk is die geskenk van Lewe;
Die onmoontlikste dinge is moontlik as ons glo;
Die grootste waarborg kry ons in ons geloof.

(epos juweeltjie)

Tuesday 19 November 2013

Sy troue liefde

Psalm 25 : 6 Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het.

Een van die interessanthede omtrent primate is dat daar ‘n streng rangorde in ‘n trop heers.  In enige groep is daar ‘n alfa mannetjie wat die groep in toom sal hou en beskerm.  Wanneer die hokke oopgemaak word sodat hulle kan uitgaan, stap die alfa mannetjie eerste uit om die omgewing te verken en seker te maak dis veilig.  As jy egter onder op die ranglys is, het jy nie ‘n baie lekker lewe nie.  Jy kan slegs eet as almal klaar geëet het, en baie keer is daar dan net half geëete vrugte oor.  Jy moet veral uit die alfa mannetjie se pad bly, anders haal hy sy gramskap op jou uit.

Monkey World waarvan ek al vroeer vertel het, wend hierdie laer rangorde diere baie effektief aan.  As ‘n nuweling by die park arriveer, word die laer rangorde dier eerste by die nuweling toegelaat.  Omdat hulle altyd afgeknou word, is hul baie onderdanig en uitgehonger vir liefde en aanraking.  Daarom is dit die veiligste om hul by die nuwelinge toe te laat.  Hulle sal selde, indien ooit, ‘n nuweling aanval.  Sodra die vriendskap dan gevorm is, word die twee teruggesit by die groter trop en dan sal die laer rangorde outjie die nuweling beskerm, want nou’t hy ook ‘n beste maatjie.

Dit het my laat dink hoe ons ook sommige mense eenkant toe stoot omdat hul laer op ons rangorde lysie is.  Daardie mense het ook liefde en aandag nodig.  Om die waarheid te sê, daar is mense oral om en tussen ons wat uitgehonger vir liefdeis. Ons kan ‘n hand van vriendskap na hul uithou en vir hulle die lewe soveel aangenamer maak.  Elke mens het iets mooi en goed in hom, selfs diegene wat ons nie mee wil assosieer nie – gee hul net ‘n kans.


As God Sy liefde so getrou oor ons kan uitstort, kan ons dit verseker ook oor ons medemens uitstort.  

Monday 18 November 2013

Ontferm U weer oor ons, O God

Psalm 85 : 2-5  U was goed vir u land, Here, U het aan die nageslag van Jakob ‘n nuwe toekoms gegee;  U het u volk sy sonde nie toegereken nie, hom al sy skuld kwytgeskeld. Sela;   U het u woede laat bedaar, u gloeiende toorn laat afkoel;  Ontferm U weer oor ons, o God, ons Verlosser, moet tog nie langer op ons toornig wees nie!

Kerke loop leeg, en terselfdertyd gaan ons land ten gronde.  Het die twee dalk iets met mekaar te doen?  Dis tyd dat ons as volk terugkeer na die huis van die Here.  Ons kinders moet grootword in die kerk… Sondagskool toe gaan… waardes leer… ‘n anker in God ontdek…

Mense wil glo nie meer kerk toe gaan nie, want die kerk het nie tred gehou met vandag se lewe nie.  Waar op dees aarde het jy al gehoor dat God nie tred hou met die lewe nie?  Hy is gister, vandag en môre dieselfde.  Die Bybel is soms skrikwekkend relevant – asof dit vandag geskryf is.

Die kerk is nie ‘n teater waar jy vermaak moet word of ‘fun’ moet hê nie.  Dis ‘n plek van eerbied en introspeksie.  Die fout lê nie by die kerk of die predikant nie, maar by ons.  Ons is so ver van God dat ons nie meer met sy ‘huis-reëls’ kan identifiseer nie.  Terwyl ons van kerk tot kerk sweef, gaan siele verlore.  Terwyl ons die dominee en die kerk blameer, kan ons al moue opgerol het en begin het om vissers van mense te wees.  Die oes is groot en die arbeiders min (Matt 9:37)


Soos die Israeliete is Suid-Afrikaners in ballingskap.  Ons eie land het vir ons ‘n vreemde plek geword.  Net soos Dawid in Psalm 85, moet ons ook begin roep na God, hom smeek om Hom oor ons te ontferm en vir ons uitkoms te gee.  Net Hy kan ons red.

Sunday 17 November 2013

Maak tyd om ander te help

Jesaja 41 : 6  Hulle help mekaar enpraat mekaar moed in

Die manier waarop jy dink en doen, bepaal die manier waarop ander mense teenoor jou gaan optree.
Kyk maar om jou na die groot vriendekring van mense wat werklik omgee vir ander.
Hier-teenoor het introverte wat nie bereid is om na ander uit te reik nie maar min vriende.
Die Bybel gee duidelik opdrag dat ons bereid moet wees om mekaar te help en by te staan in noodsituasies.
Dat ons tyd opsy sal sit om werklik betrokke te raak by die probleme van die mense om ons.
Bedagsame mense is ongelukkig dun gesaai, maar elkeen van ons kan leer om mense in krisissituasies raak te sien, werklik vir hulle om te gee en na hulle uit te reik.
As jy werklik empatie met ander mense het, moet jy hierdie omgee in jou dade bewys.
Deur om te gee en hulp te verleen bewys jy jou eie dankbaarheid vir die dinge wat God aan jou gee.
Maak dus tyd om die nood van mense om jou raak te sien en iets daadwerkliks daaromtrent te doen.
Doen soms vriendelike dinge sommer maar net om die lewe vir ander lekkerder te maak.
Deur positief te dink en op te tree kan jy ‘n groot verskil maak in die wêreld waarin jy woon.

As mense op ‘n oggend die hart van ‘n medemens voel, kom hulle tot die lewe.
Êrens binne jou sit daar ‘n engel en wag met ‘n boodskap van goedheid en liefde vir mense op aarde.
Laat hom in jou dade aan die woord kom.
Liefde maak nie net vindingryk in die bewus word van nood.
Dit laat ons die elende van ons medemens raak sien.
Voordat die liefde ons hande in beweging bring, maak dit ons oë oop.
Diè mense wat werklik ‘n naaste is vir ander, is bereid om hulle posisie, prestige, selfs hulle lewe te waag ter wille van ander.
In die donker valeie, langs die gevaarlike steiltes van die lewenspad sal hulle ‘n weerlose en reddelose broer raaksien en hom ophelp.

Maak tyd vir ander.


Ontvang via epos

Thursday 14 November 2013

Bid vir hulle

Monkey Life is een van my gunsteling TV programme.  Dit gaan oor Monkey World Ape Rescue Centre, sowat 65 ha bewaringsgebied in Dorset, Engeland.  Dis in 1987 deur Jim & Alison Cronin gestig.  Jim is intussen oorlede, maar Alison sit die werk voort.  Hulle red primate van regoor die wêreld en hervestig hul in ‘n omgewing wat hul so natuurlik as moontlik vir die diere probeer maak.  Geen geld of moeite word ontsien nie. 

Van die diere is afkomstig uit laboratoriums waar hul vir wetenskaplike toetse gebruik is.  Sommige het nog nooit die buitelug gesien nie, wat nog te sê bome of gras.  Ander is as troeteldiere aangehou, tot die diere uit verveling en frustrasie aggressief begin raak en dan in hokke toegesluit is.  Sommige toon kompulsiewe gedragspatrone, soos om aanhoudend op en af te spring omdat dit al was wat hul in die hok kon doen.
 
Hoekom kyk ek na iets so hartseer?  Omdat dit my tot trane van blydskap dryf om te sien dat daar nog mense is wat uit hul pad gaan om op te maak vir wat hierdie diere deurgemaak het – en ek geniet die diere se manewales.  

Daar is 17 verskillende tipe primate en meer as 200 inwonertjies, van marmoset apies, tot ‘ugly monkeys, sjimpansjees, woolies, oerangoetangs...  Elkeen het ‘n naam en sy/haar eie persoonlikheid.  Wat my veral opval is die kundigheid van die werknemers van die park.  Ek verkyk my aan die vindingrykheid waarmee die personeel die diere versorg.   Hulle doen navorsing oor die diere se natuurlike habitat en veral voertyd kom die personeel se kreatiwiteit na vore.  Party van die spesies sal bv met hul vingertjies grawe vir gom in bome, so daar word gate in die hout geboor en stropies ingespuit sodat die apies dit kan uitvis.  Vir ander word weer wurmpies in verskillende vorms weggesteek.  Hulle maak interessante ‘treats bv joghurt en jellie wat gevries word en dan vir die diere gevoer word.  Sommige kry baddens jellie met stukke waatlemoen ens daarin.  Dit is absoluut fasinerend.

Daar is ‘n hospitaal, maar hulle opereer slegs as dit die enigste uitweg is.  Soms verloor hul van die diere.  In een episode vertel hul van ‘n aap wat in die park gebore is d.m.v. ‘n keisersnee.  Sy ma is oorlede by geboorte en sy pa het vreeslik getreur, maar uiteindelik het daar ‘n baie spesiale en hegte band tussen pa en seun ontstaan en oor die jare het die twee onafskeidbaar geword.  Eendag let die pa op dat iets fout is met sy aapseun en die personeel let op hoe hy alles probeer om hom op te beur en te laat eet, maar die outjie kan eenvoudig nie.  Uiteindelik het hulle hom geopereer.  ‘n Gewas het sy organe oorgroei en hulle kon dit nie verwyder nie.  Die personeel het saam besluit om hom die pyn te spaar en eerder uit te sit onder narkose.  Trane het vryelik gevloei in die teater.  Die ergste was om die pa te sien sit en wag dat sy aapseun moet terugkom.  Daardie oë… dit kon net sowel ‘n menspa gewees het.  Ek het nog nooit soveel smart in twee pikswart ogies gesien nie.  Dis asof jy kan sien hoe hy sit en dink… eers my vrou en nou my seun… Selfs sy liggaamshouding was een van gelatenheid.  Die pa is nou die enigste van sy soort en die dieretuin is besig om te kyk wat hulle vir hom kan doen.  Hulle is bang om hom in die bome los te laat waar hy en sy seun soveel gelukkige oomblikke deurgebring het omdat hulle bang is hy sal van sy kop af raak as hy nie sy seun kan vind nie, maar hulle glo dat sy enigste anker sy bekende omgewing is – sy aaphuis in die dieretuin.

Wat ‘n wonderlike kontras teenoor dieremishandeling.  Hierdie mense vergoed vir al die hartseer, pyn en onreg wat soveel andere regoor die wêreld onskuldige diere aandoen.

Dra hul asseblief in gebed op.  Genesis 24 : 26  Toe het die man gekniel en tot die Here gebid  En as jy enigsins kan gaan besoek hulle in Engeland.  Daar is ook ‘n oerangoetang van Suid-Afrika, Osjeen.  Haar eienares wou haar die geleentheid gee om weer tussen haar eie mense te wees en Monkey World het haar kom haal.

PS:  Die personeel het nou 'n gepaste wyfie vir Sam opgespoor.  Omdat hy al ouerig is, wou hul nie 'n jong maat vir hom kry nie.  Die dame is 18 jaar oud en ek kan nie wag om te sien hoe hy oor haar gaan voel nie.

Wednesday 13 November 2013

Gaan dan in vrede

Openbaring 1 : 4  Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon,

Wanneer die seën in die kerk na die erediens uitgespreek word, is dit vir my een van die hoogtepunte van die erediens.  Dis elke keer asof God persoonlik die woorde uiter en dit my moed gee vir die week wat voorlê.
In vandag se lewe, verg dit inspanning, dalk selfs dissipline, om Sondagoggend op te staan vir kerk.  Vir baie mense is dit die enigste oggend waar hul bietjie verlore slaap kan inhaal omdat hul nie vroeg hoef op te staan vir werk nie.  Veral in die winter, is dit moeilik om op te staan as jy weet jy hoef nie.  Die vraag is egter vir wie jy dit doen.  Doen jy dit vir mense, of doen jy dit vir God? 

Dalk het jy opgehou om kerk toe te gaan.  Dalk het ‘n leraar of kerk amptenaar jou tenagekom.  Dalk voel jy ontuis in die kerk en asof niemand met jou kom gesels nie, so jy bly liewer weg.  Dalk is jy net nie lus om kerk toe te gaan nie.  Wat ookal jou rede, onthou dat die kerk nie uit mense bestaan nie, maar dat dit die huis van God is.  Hy wil jou baie graag in Sy huis verwelkom.  As jy oorsee woon, en daar is nie ‘n kerk naby nie, skakel in op ‘n Christelike radio stasie.


Ek wil so graag hê jy moet ook daardie salige gevoel ervaar as die woorde gespreek word:  “gaan dan in vrede…”

Tuesday 12 November 2013

Goue jare

Job 12 : 12  Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare.
Wanneer jy klein is, het jy net een wens - jy wil groot word.  Wanneer jy dan ‘groot word’ en skool toe gaan, droom jy weer van die dag dat jy kan begin werk… dan van jou troue… jou kinders… en voor jy jou kom kry kyk jy een oggend in die spieël en wonder wat het dan nou laas nag gebeur, want ewe skielik het jy plooie en grys hare.  
Ek belowe, dit gebeur oornag J  Nee, darem nie heeltemal nie, maar as jy al aanstap in jare dan weet jy dat niks jou regtig op die ouderdom voorberei nie.  Ewe skielik is brille en pille bo aan jou inkopielysie en nie meer ‘n pragtige nuwe swart nommertjie nie – van hulle hang daar al hoeka ‘n hele reeks nommertjies wat jy ontgroei het in die kas.  Jy ken pille se name op die punte van jou vingers, maar kan nie dieselfde sê van die nuutste popsterre s’n nie.  Jy koop eerder ‘n paar gemaklike as modieuse skoene. 
Ai, hoekom moet mens oud word?  Skielik verlang jy terug na jou kinderjare en helaas daardie herinneringe is varser as wat jy nou net in die kombuis wou kom doen.
Dankie tog dat daar darem een seen daarme gepaardgaan – wysheid wat met die jare kom, en ‘n rustigheid.

Geniet jou goue jare, want dis ‘n seen uit God se hand.

Monday 11 November 2013

Gister, vandag, môre


Job 8 : 9 Want ons is maar net van gister, ons weet niks, ons dae is so vlugtig soos ‘n skaduwee op die grond…

Gister het ek 'n vreemdeling ontmoet.
Vandag is hierdie vreemdeling my vriend.
Indien ek nie die tyd gebruik het om "dag" te sê nie, of terug geglimlag het, of blad geskud het, of geluister het nie, sou ek nie hierdie persoon leer ken het nie.

Gister
het ek drukkies gegee aan iemand vir wie ek baie omgee.
Vandag is hulle weg...en MôRE sal hul nie terugbring nie.
Sou dit nie lekker wees as ons almal sou weet dat ons MôRE nog hier sal wees nie?
Maar dit kan nie gebeur nie, dus maak VANDAG tyd om iemand 'n drukkie te gee, of
om te glimlag en sê gerus ook: "Ek gee om."

Net vir vandag
, glimlag vir iemand wat jy nie ken nie;
Luister regtig wanneer iemand met jou praat;
Laat val 'n muntstuk waar 'n kind dit kan optel;
Leer iets nuuts by en dra hierdie kennis oor aan ander;
Vertel iemand dat jy aan hulle dink;
Gee 'n geliefde 'n drukkie;
Moenie 'n wrok koester nie;
Moenie bang wees om te sê: "Ek is jammer" nie;
Kyk in 'n kind se oë en vertel hulle hoe fantasties hulle is..
Moenie daardie spinnekop in jou huis doodmaak nie, dit is dalk net verdwaal, wys dit dus hoe om te ontsnap;
Kyk verby iemand se gesig na sy hart;
Maak 'n belofte en kom dit na;
Gaan kuier of bel iemand, bloot net om te sê: "Hallo!"
Staan by jou beginsels;
Ruik die reën, voel die briesie in jou hare en luister na die wind in die bome se blare;
Gee om vir diere en luister na die vrolike sang van die voëls;
Gebruik al jou sintuie tot hul volle potensiaal;
Waardeer en geniet VANDAG.
Epos juweeltjie

Sunday 10 November 2013

Genade

1 Korintiërs 1 : 4 Ek dank God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het

God se genade is die grootste gawe wat ons ooit sal ontvang.  Dis selfs groter as jy na ons optrede kyk.  Jy kan nie anders as om jouself af te vra of jy so geduldig en verdraagsaam sou wees as jy in God se skoene sou staan nie.  Maar dis nie hoe God se genade werk nie.  Dis nie iets wat ons verdien nie, dis gratis en verniet, net omdat hy ons so onuitspreeklik lief het.  
Genade kry eers werklik betekenis as jy vind jy kry dit ten spyte van…  ten spyte van jou eie onvergewensgesindheid… ten spyte van jou eie feilbaarheid… ten spyte van verdienste… sommer net… omdat Hy ‘n God van genade is. 

Thursday 7 November 2013

'n Kwessie van perspektief

Psalm 34:6

"Die wat swaarkry, sien op na Hom en straal van blydskap...  hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie..."

Geld kan nie geluk koop nie.  As daar enigsins waarheid in die skindernuus is, het die ryk en beroemde mense dit glad nie maklik nie.  Daarenteen verkyk ek my soggens aan die vreugde van ‘n koerantverkopertjie.  Reën of sonskyn… hy lag en dans.  Die lewe is vir hom ‘n lied. 

‘n Verslaggewer berig nou die dag oor Orprah Winfrey se skool in Suid-Afrika.  Volgens haar bepaal agtergrond nie of jy sukses sal behaal al dan nie.  Die meisies het dit so pas bewys toe hul almal geslaag het. 

Dis ‘n kwessie van perspektief.   Moenie na jou omstandighede kyk nie, kyk liewer na dit wat jou omstandighede jou laat bereik het.

"People are always blaming their circumstances for what they are...  I do not believe in circumstances...  The people who get on in this world are the people who get up and look for the circumstances they want, and if they can't find them, make them!"  ¬ George Bernard Shaw

Wednesday 6 November 2013

Wat is jou planne?

Matteus 5:3

"Geseend is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die Koningkryk van die hemel..."

Wanneer die einde van die jaar so naby is, het meeste van ons seker al vakansieplanne.  Sommige beplan ook seker al aan volgende jaar  se studie rigtings.  Dalk is daar ‘n troue op pad, of dalk gaan jul met ‘n gesin begin – alles verg haarfyn beplanning.

Ons weet dat niemand beplan om te faal nie, maar dat mense faal omdat hul nie beplan nie, so oordeelkundige beplanning is noodsaaklik.  Jy moet mikpunte en doelwitte hê.  Dis ook goed so, maar ek wonder tog hoeveel van ons ook die Ewige Lewe in ons beplanning  inwerk.  Beplan jy wat jy moet doen, wat jy moet vermy en hoe jy struikelblokke tot by die Ewige Lewe gaan oorkom?  Doen jy genoeg navorsing (Bybelstudie)?  Hou jy introspeksie na elke dag om te sien of jy nog binne jou beplanning is?  Dalk het jy bietjie van koers af gedwaal en moet jy herbeplan.  Ons google vakansiebestemmings en ons doen navorsing oor studierigtings, dink net hoe fantasties dit sal wees as ons net so ywerig navorsing doen oor God se Woord! 

Al het jy 10 grade… al het jy die hoogste sport op die suksesleer bereik… al is jy die rykste mens in die wêreld… die dag dat jy sterf, word die syfertjies almal na nul teruggedraai… ewe skielik is die kwalifiserings kriteria heeltemal anders as wat jy tot op daardie oomblik gewoond was.


"Ek glo in vandag...  Dit is die enigste ding wat ek besit...  Die verlede is kosbaar vir soverre dit vandag voller en vryer kan maak...  Daar is geen versekering dat more sal kom nie...  Ek moet die beste van vandag maak! ¬ Charles Stelze

Tuesday 5 November 2013

God is ons toevlug

Spreuke 14:26

"Wie die Here dien, het daarin 'n toevlug en ook sy kinders vind daar skuiling..."

Jare gelede, in die beroemde Louvre Museum in Parys was daar ‘n skildery met die titel “skaakmat”. Dit het die satan uitgebeeld wat smalend oor sy skaak-opponent uittroon, omdat hy sy opponent se siel gewen het. Die opponenet word uitgebeeld as ‘n jong man, sy kop gebuig in vernedering – hy’s verslaan en verslae. Sy gesig is vertrek van pyn – en die satan lag oorwinnend. Daar’s ‘n paar stukkies oor op die skaakbord en die woord “ skaakmat” staan oor die skildery geskryf.

‘n Ouerige man stap deur die Louvre en stop by die sataniese skaakspel. Doodstil staan hy vir lank die prent net en bekyk. Toe hy skielik lewe kry en begin uitroep: “dit is ‘n leuen, dit is‘n leuen!”. Ander mense in die gallery het kom kyk wat aangaan. Wat is die leuen vra hulle terwyl hy aangaan om dit uit te roep. Die kurator van die museum daag op.“ Meneer is hier ‘n probleem, kan ek help?” Die man kyk die kurator in die oë en sê:  “Ek is die Franse skaakkampioen – ek sê vir jou dit is ‘n leuen!”.  Die kurator was nog steeds verward – wat is ‘n leuen? Die man wys na die skaakbord en sê: “Die skilder sal die skildery moet verander, of hy sal die titel moet verander. Kyk, die spel is nie oor nie, dit is ‘n leuen, dit is nie skaakmat nie, die KONING het nog ‘n skuif!”
  • - ‘n Klein seuntjie met 2 vissies en 5 brode en duisend mense. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die KONING het nog ‘n skuif, en hulle tel 12 mandjies kos na die tyd op.
  • - ‘n man met die naam Daniël word gegooi in ‘n kuil vol honger leeus. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die KONING het nog ‘n skuif oor!
  • - Jesus kom by die graf van Lasarus. Hy’s al 3 dae dood. Die graf ruik sleg. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die KONING het nog ‘n skuif oor.
  • - Die vrou by die put, moet deur mans met klippe doodgegooi word. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die KONING het nog ‘n skuif oor. “Gaan en moenie langer sondig nie!”
  • - Die moordenaars saam met Jesus aan die kruis. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die KONING het nog ‘n skuif oor. “ Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.”
  • - Op Goeie Vrydag word die Lam geslag. Die mense skreeu veroordelend – “ Kruisig Hom, kruisig Hom.” Hulle spot Hom en slaan Hom. Hulle spoeg Hom en kap Hom met spykers vas aan die kruis. Jesus skreeu met ‘n hortende asemteug en gebarste lippe dit uit: “ Eloi, Eloi lama sabagtani - my God, my God waarom het U my verlaat?” Eenkant staan mense en sê: “ ja, ander kon Hy red, maar Homself kan Hy nie red nie”. Dit is verby, skaakmat, gaan maar huis toe – satan leuen smalend oor die skouer van die mens, alles is verby, maar dan kom die opstanding Sondag en ek en jy weet.
Dit lyk soos skaakmat, maar dit is ‘n leuen, want die KONING het nog ‘n skuif oor! Die land is in ‘n gemors. Moorde vind orals plaas. Kinders word wreed verkrag. Mense verloor hul werke, huise, huwelike, lewens, self respek, waardes, morele, harte en verstand…jou lewe is ‘n gemors. Jy soek, jy klop, jy roep…jy huil, jy lag, jy raak kwaad….jy voel leeg. Jy voel verlore. Jy soek jou voetspore, maar vind verdwaalde paaie. Satan staan en lag: en lieg… “Dis verby. Sluk daai pil, trek die sneller, gee daai tree oor die rand…”

Vrees is aan die orde van die dag.  Vrees bepaal jou kom en jou gaan. Vrees jou lewe, vrees vir jou medemens, vrees vir jouself, vrees vir jou gedagtes, vrees vir jou omstandighede, vrees vir môre, vrees vir die herinnering van gister, vrees vir die omstandighede van vandag.

VREES….Maar vandag wil ek vir jou sê, die spel is nie oor nie!!!

DIE KONING HET NOG ‘N SKUIF OOR !!!!!!!!



(epos juweeltjie)

Monday 4 November 2013

Guy Fawkes


Genesis 1 : 26  Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”
Vandag is “guy fawkes”.  Tradisioneel word daar vuurwerke afgeskied.  Om eerlik te wees, ek hou ook van vuurwerke.  As kind het ons in die Strand langs die see gaan kyk hoe mense vuurwerke afskiet en die sterretjies was my gunsteling – vandag nog, maar slegs in die Spur. 
Teen vuurwerke het ons niks, maar dan moet mense dit nie doen waar dit nie toegelaat word nie – in woongebiede byvoorbeeld.  Die arme diere is paniekbevange.  Hulle verstaan nie die geraas en geblaas van vuurpyle en klappers nie. 

Elke jaar lees jy ook van onmoontlike dieremishandeling.  Hoe kan mense dit doen aan diere oor wie Godhul aangestel het? Die idee was sekerlik om te bewaar en beskerm, nie om te vermink en terroriseer nie.

Sunday 3 November 2013

Ons verstaan nie altyd nie

Johannes 13:7

"Wat Ek doen, begryp jy nie nou nie, maar later sal jy verstaan..."

Soms kan ‘n mens nie anders as om oor God te wonder nie.  Kan Hy dan nie sien dat ek die einde van my vermoëns bereik het nie?  Hoor Hy nie my hulp geroep nie?  Hoekom moet net ek ‘suffer’ terwyl almal rondom my dit so maklik het?  Die wat het kry nog en die wat nie het nie… van hulle word daar nog weggeneem ook!   Hoe op dees aarde werk God se kop?  Daar gebeur te veel slegte dinge met goeie mense.  Waar is God?

Ongelukkig sal ons God nooit verstaan nie, want ons sien net ‘n breukdeel van die prentjie.  Ons kan Hom  egter vertrou, want Hy beloof dat alles ten goede sal meewerk vir die wat in Hom glo.

 Jesaja 49:8

"so sê die Here:  'Op die dag wat ek dit goeddink, sal Ek jou gebede verhoor, op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help..."

Hemelse Vader, vergewe ons dat ons in ons menslik swakheid ons oë in moedeloosheid neergeslaan het.  Ons kyk op na U, O God en ons wag geduldig.  Leer ons om vas te staan in geloof en nooit toe te gee aan negatiewe gedagtes nie. 

"moenie uitsien na die dag wanneer jou swaarkry oor sal wees nie, want as die dag kom, sal jy weet jy is dood..."  ¬ Tennessee Williams


"Beproewing is maar net die skaduwee van God se vlerke..."  ¬ George MacDonald

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...