Thursday 31 January 2013

Die paddatjie

Job 4 : 3  Jy het self baie mense reggehelp en dié wat moed verloor het, het jy weer moed ingepraat.
Duisende paddatjies klim 'n baie hoe toring uit...Toeskouers wat die wedstryd baie aandagtig dophou, skree:  "Julle sal dit nooit maak nie, dit is te hoog!!!  Julle is te klein!  draai maar terug en spaar julself die moeite!  Een na die ander gee die paddatjies op, daar is net een wat dit tot heel bo maak...  Almal wou net weet, HOE hy dit gedoen het?  Verbaas het hul uitgevind dat die paddatjie doof was… die negatiewe kommentaar kon hom nie ontmoedig nie. (ontvang via epos)

Wanneer jy iets in die lewe bereik… bevordering kry… ‘n kans waag… ‘n bietjie geluk ervaar… is daar ongelukkig ook diegene wat jou gaan mismoedig maak met hul negatiewiteit.  Sommige sal jou blatant afraai om voort te gaan of jou sukses bevraagteken.  Ander laat jou twyfel aan jou eie vermoeëns.

In teenstelling met hierdie groep is diegene wat jou moed inpraat, motiveer, reghelp, opreg komplimenteer, uiters skaars.  Vra jouself af:  "Sou ek een van die wees wat die paddatjie aangemoedig het, of sou ek hom ontmoedig het?"

Vermy mense wat negatief dink of optree – Norman Vincent Peale

Wednesday 30 January 2013

Om oud te word

Psalm 71 : 18  Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God, dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag.

Terwyl ons jonk is, kan ons ons skaars indink hoe dit moet wees om oud te word.  Dis iets wat ons ten alle koste wil vermy en dikwels vermy ons dan juis ook ‘ou’ mense.  Dalk is dit ons persepsie van ouderdom wat ons so laat optree.  Dit lyk nie lekker nie en nie noodwendig iets om na uit te sien. 

Ouderdom het sy uitdagings met die dat jou kragte afneem, grys hare en plooie uit die niet verskyn, skete en pyne na vore kom, geskrewe letters oornag krimp, swaartekrag jou vyand word – alles hang, blesse en boepies, jy ontnugter besef niemand vra meer jou mening nie, jy nie meer ‘n kandidaat vir vakante poste is nie, jou kinders jou soos ‘n kind behandel… en dit alles sonder waarskuwing.  Niks berei jou op die afsondering van ouderdom voor nie.

Eintlik behoort die teendeel waar te wees.  Agter die ongestrykte voorkoms is ‘n magdom kennis en wysheid opgegaar, wat hul smag om te deel.  Diegene in hul silwer jare sal bevestig dat hul gevangenes van die tyd is, want die brein verouder selde teen dieselfde tempo as die uiterlike. 

Maar ouderdom is eintlik ‘n seën op jou lewe, ‘n tyd om te geniet en waardeer te word, ‘n tyd om terug te ploeg en te investeer in die toekoms van die jeug – gee hul net ‘n kans.

Tuesday 29 January 2013

Drome

Jeremia 32 : 27 Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?  
So many of our dreams at first seem impossible, then they seem improbable, and then, when we summon the will, they soon become inevitable.” -  Christopher Reeve

Vir my dui hierdie aanhaling op die belangrikheid van drome.  Sukses begin by ‘n droom.  Menige innovasie het begin by een mens se ryk verbeelding.

Moenie toelaat dat negatiwiteit jou ontmoedig nie.  Bly glo aan jou drome en volg hul na.  Maak hul ‘n realiteit.  Doen navorsing, beplan, formuleer die droom in woorde of op papier, gesels met ander dromers en gaan oor tot aksie.

Die wonder van drome is dat dit jou toelaat om te emigreer na jou verbeelding waar drome haalbaar voel.  Terwyl jy dagdroom motiveer jou kreatiewe denke jou dat dit kan werk.  ‘n Vrugbare verbeelding is kosbaar.

As jy nie in jou drome glo nie, wie sal?

Monday 28 January 2013

Glimlag

Rut 2 : 13 Sy het geantwoord: “Meneer, u bewys my 'n guns, u laat my goed voel, u is vriendelik met my, al is ek nie eers een van u slavinne nie.”
Volgens Dr Rod Martin lag kinders ongeveer 300 tot 400 keer per dag terwyl volwassenes slegs 15 – 100 keer per dag lag.

Nou wat het verander?  Kyk ‘n bietjie om jou wanneer jy by ‘n robot sit en wag en jy sal verbaas wees oor die strak gesigte rondom jou.  Selde indien ooit, sien jy iemand glimlag, wat nog te sê lag.  Sonder uitsondering is hul ernstig, hartseer, onvergenoeg, kwaad, geirriteerd of net plein ongelukkig.

Wie het ons geleer om so ernstig te wees?  Ons gaan nie lewend uit hierdie lewe kom nie, so ons kan dit net sowel geniet.  Ja, ons kry swaar en ons is gespanne, en daar is verseker moeilike dae, maar lag versinnebeeld vreugde en volgens die aanhaling is dit ‘n verdowingsmiddel sonder enige newe-effekte.  Vrolik vandag jou medemens se dag op deur stralend te glimlag en selfs uit jou maag uit te lag. 

Laughter is a tranquillizer with no side effects – Arnold Glasow

Sunday 27 January 2013

As die lewe jou wil platdruk

NAHUM 1 : 7 Die Here is goed, Hy is 'n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.
Het jy ook as kind graag blare en blomme gepars?
Soms het ons dit gebruik om kaartjies mee te versier of as boekmerke;
ander kere het ons gepars net om te pars.
Die Bybel was altyd 'n ideale parsboek -
hoe dikker, hoe beter.

Geparste blare bly kleurvol, heel en nuttig
(hulle ongeparste maatjies het lankal
opgevrommel en verrot) dan is hulle nog mooi,
effektief en bruikbaar.

Soms voel ons ook soos blare wat gepars word -
platgedruk, so asof die lewe uit ons gepers word.
in sulke tye moet ons sorg dat ons tussen die bladsye van die Bybel bly.
Daar leer ons God ken as 'n God van liefde, selfs in parstye;
daar is ons toegevou in die beskerming van Sy Woord.
Skuil vandag in die bladsye van die Bybel
Want daar is jy veilig

(ontvang via epos)

Thursday 24 January 2013

Laat los

Job 11 : 16  Kan jy jou swaarkry vergeet en daaraan dink asof dit water is wat weggeloop het.
Die lewe is beslis nie vir sissies nie.  Absoluut niks kan jou voorberei op die pyn en lyding wat jy op jou lewenspad teëkom nie.  Wie kan immers getuig dat hy of sy nog nooit hartseer was nie, nog nooit swaargekry het nie, nog nooit mismoedig was nie, nog nooit wou moed opgee nie?

Verhoudings lei skipbreuk, ons kinders stel ons teleur, die maatskappy herstruktureer, vriende steek ons in die rug, bevordering bly ons ontwyk, mense lieg vir en bedrieg ons, ons vertrou die verkeerde mense, ons is slagoffers van geweld, ons staan geliefdes aan die dood af…

Om deurlopend oor die verlede te bly tob, om ‘wat as’ speletjies te speel, maak sake ook nie makliker nie.  Ons kan nie ons verlede verander nie, maar ons het beheer oor die toekoms a.g.v. ervaring wat ons opdoen langs die pad. 

Jy is baie sterker as wat jy dink jy is.  Laat los die verlede en beweeg aan.

Giving up doesn’t always mean you are weak.  Sometimes it means that you are strong enough to let go.  Unknown

Wednesday 23 January 2013

Lewenslesse

Miga 4 : 12 Maar hulle ken nie die plan van die Here nie; hulle verstaan nie wat Hy besluit het nie:

Gaan jy dalk op die oomblik deur ‘n moeilike tyd?  Jy voel dalk dat jy breekpunt bereik het en jy bevraagteken jou omstandighede.  Elkeen van ons het ons eie uitdagings en partykeer moet ons besluite neem wat nie altyd reg uitwerk nie.  Dan leer ons lesse.

Lesse is die ‘moulds’ van die lewe waar bruikbare items gebore word.  Partykeer laat die ‘mould’ merke agter.  Soms word jy aan hoë temperature blootgestel.  Daar kom tye dat jy lank op een plek bly sodat die ‘mould’ kan afkoel.  En soms breek dit wat uit die ‘mould’ kom na alles en moet daar voor begin word. 

So word ons gebrei en voorberei.  Ons word sterker en wyser.

Sekere lesse is ook nodig sodat ons nie weer dieselfde foute maak nie.  Gelouter deur die smeltkroes van die lewe, sal jy heel en beter anderkant uitkom as jy dit wat met jou gebeur aanvaar en verwerk, maar bo alles besef dat dit deel van ‘n groter Plan is.

“The difference between school and life: In school, you’re taught a lesson and then given a test. In life, you’re given a test that teaches you a lesson.”  - Tom Bodett quotes

Tuesday 22 January 2013

Vir wie werk jy?

Kolosense 3 : 23  Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,

Alhoewel baie mense so pas vakansie gehad het, hoor jy steeds dat hul moeg is.   Daar kan baie redes vir hierdie moegheid wees.  Alles moet deesdae teen die spoed van lig gebeur en die verwagting van jou as werknemer raak net al meer en meer.  Saam met die uitdagings van ons tyd is dit ook moontlik dat jy nie doen waarvan jy hou nie. 

God se Woord is duidelik, ons moet dit wat ons doen heelhartig aanpak en onthou dat ons nie vir ‘n baas of die maatskappy of ons spanleier werk nie, ons werk uiteindelik vir Hom.

As God by jou kantoor of werkplek sou instap, sou Hy ingenome wees met dit waarmee jy besig is of die gehalte van dit wat jy lewer?  Op die ou end is Christene ambassadeurs vir God op elke gebied van die lewe, ook in die werkplek. 

Wanneer jy weer mismoedig voel oor jou werk, onthou net dat daar ‘n rede is hoekom God jou daar geplaas het en dat jy net daarvandaan sal aanbeweeg wanneer jou taak voltooi is en jy gereed is vir die volgende trappie op die verantwoordelikheidsleer.  Sterkte en wees versker, God is nie besig met 'n proeflopie nie.  Hy't volle vertroue in jou omdat Hy alleen weet waartoe jy in staat is.

Monday 21 January 2013

Onsekerheid

Job 30 : 28 Dit kook in my, ek kom nie tot rus nie, dae vol swaarkry bly my inwag.
Hoe dit presies gebeur kan ons nie altyd verklaar nie, maar op ‘n dag besef ons net ewe skielik:  “Ek sien nie meer hiervoor kans nie.  Die eentonigheid van my bestaan, kan nie my toekoms wees nie.   Daar moet meer aan die lewe wees as my sieldodende roetine van opstaan op dieselfde tyd, dieselfde roete werk toe, dieselfde lessenaar, dieselfde vervelige en irriterende mense in wie se geselskap ek ‘n hele dag moet deurbring, dieselfde dagtake, dieselfde winkel na werk, dieselfde voorspelbare TV programme, bad/stort, slaap… en môre weer dieselfde… Aikona.”

Dis 'n openbaring wat jou tot stilstand ruk.  Asof ontwaak uit 'n diep slaap kom die besef dat niks meer jou bloed deur jou are laat druis nie, dat niks meer jou asem wegslaan nie, dat jy moeg is van die persoon in die spieël met die dowwe oë.  Sodra jy dit erken, kan jy tot aksie oorgaan en heel waarskynlik 'n paar moeilike besluite moet neem.  Realiteit is dat jy dieselfde resultate gaan kry solank as wat jy dieselfde aksies uitvoer.  Dit gaan veroorsaak dat jy tot in jou siel verveeld is.  Gesels met God oor dit wat jy wil verander en hoe jy dit kan doen.  Waarmee kan jy saamleef en waarmee nie? 

Die wêreld sal nie tot stilstand ruk as jy jou roetine verander nie.  Onthou verandering verg moed en ongemak, maar uiteindelik sal jy weer leef.

Life is not measured by the number of breaths we take, but by the moments that take our breath away… ~ George Carlin

Sunday 20 January 2013

Om te waag

Spreuke 22 : 13  Die lui mens sê: “Daar is 'n leeu daarbuite! Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!”
Hoekom is ons so bang om te waag, om buite ons normale verwysingsraamwerk te beweeg?  Verandering is vir meeste mense ontwrigtend, want dit neem ons uit ons gemaksone.  Jy hoor baie kere mense kla dat hul verveeld is met hul omstandighede, maar hul doen niks daaraan om dit te verander of verbeter nie.  Ons wil nuwe dinge beleef en meer opwinding ervaar, maar ons is nie bereid om iets anders as die gewone te doen nie.
 Jy moet oorgaan tot aksie en bereid wees om die onbekende tegemoet te gaan.  Columbus het nie Amerika ontdek deur in Portugal te bly nie.  Hy het sekerlik sy voortvarendheid betwyfel gedurende storms op see, maar kan jy jou voorstel hoe die wêreld daar sou uitsien as hy nie die nodige waagmoed aan die dag gelê het nie.

Man cannot discover new oceans unless he has the courage to lose sight of the shore – Andre Gide

Thursday 17 January 2013

Die doel vir jou lewe

Romeine 11 : 13  En nou praat ek met julle, gelowiges uit die heidennasies. As apostel vir die heidennasies is ek trots op my werk en strewe ek daarna
 Die lewe is nie ‘n bestemming op sigself nie, dis ‘n reis waarop ons is;  een om te geniet en wat ons slegs een maal sal ervaar.    Meeste van ons hou van reis, maar het dalk nie die finansiële vermoë nie.  Vir hierdie aardse reis hoef jy nie te betaal nie, jy moet net meedoen.

En daarom, waar jy ook al jou tyd deurbring, of dit nou by die huis, by die werk, op skool, universiteit is, maak die beste van elke oomblik.  As jy so gelukkig is om elke dag dit te doen waarvoor jy lief is, tel jou seëninge.  As jy jou werk haat, begin aansoek doen vir ander poste.  As jy nie die nodige kwalifikasies het nie, probeer om dit te bekom.  Dis maklik om verskonings uit te dink, maar een of ander tyd moet jy vasstel wat jou doel in die lewe is en daarna streef.

Here is the test to find whether your mission on earth is finished.  If you're alive, it isn't.  ~Richard Bach

Wednesday 16 January 2013

Ouderdom


Job 12 : 12  Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare
Oor die naweek het my skoonma my geleer hoe om regte egte, appelkooskonfyt te kook, soos sy dit al vir jare suksesvol doen.  My eerste twee flessies pryk op die kombuisrak en my tienerseun kan nie genoeg konfytbroodjies inryg nie.  Natuurlik was ek so trots toe hy sy stempel van goedkeuring mompel na die eerste hap:  “nes Ouma s’n” dat ek skoon vergeet het om hom reg te help dat 'n mens nie met'n mond vol kos praat nie.

Dit het my laat dink hoeveel ander kennis en vaardighede ouer mense oor beskik wat verlore gaan met tyd.  Dink net hoe pragtig is 'n gehekelde tafeldoek, die voedingswaarde van selfgekweekte groente/ vrugte, vetgeswelde ingelegde vrugte, 'n gebreide trui, houtspeelgoed, speletjies soos kennetjie, blikaspaai, bok in die hok, ons Afrikaner agtergrond...   Om uit te reik na ouer persone, kan ons elkeen se lewe verryk en ons toerus om weer ons kinders se kinders toe te rus. 

Dalk is jy in jou silwer jare en voel jy verstoot deur die gemeenskap of kinders.   Jesaja 46 : 4 neem jou terug na God se belofte:  Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.



Monday 14 January 2013

No Regrets

“If I knew that today was my last day on earth, would I do what I am about to do?”  ~  Steve Jobs

Heel waarskynlik nie, maar dan, wat sou ek mee besig wees as ek geweet het?

Wel, ek sou nie my tyd verkwis deur my te sit en bekommer nie.  Ek sou doen dit wat my gelukkig maak.  Ek sou seker maak daar is nie enige onafgehandelde aangeleenthede in my verhoudings nie.  Ek sou seker maak daar is geen misverstande nie.  Ek sou seker maak ek sê niks wat ek ooit sou berou nie.  Ek sou daardie oproep maak wat ek al so lank uitstel.  Ek sou blomme stuur vir almal wat ek voor lief is.  Ek sou seker maak dat daar niks is wat ek berou nie.

Ek sou beslis nie my tyd verspeel op enigiets wat nie ewigheidswaarde gehad het nie.

Wat sou jy doen?

Sunday 13 January 2013

Eensaamheid

Genesis 2  : 22  en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot 'n vrou en bring haar na die mens toe.
Eensaamheid is die monster van ons tyd;  een wat jou bekruip en in ‘n hoekie vaskeer. 

Mense steek dikwels hul eensaamheid weg.  Diegene wat op die oog af gelukkig lyk, gaan moontlik vanaand na ‘n eensame kamer/huis.  Jou kollega is dalk alleen, of jou buurvrou, of jou broer/suster.  ‘n Mens weet eers wat eensaamheid is as jy dit self beleef het.  Vir meeste mense is daar geen pret in om alleen uit te gaan, alleen die mas te probeer opkom, alleen te huil of sommer net alleen te bly nie.

Kom ons reik uit na die eensames, toon belangstelling, luister ‘n bietjie na hul.  Wanneer jy uitreik na ander, verreik jy jou eie lewe, en dit kan dalk net ‘n reddingsboei wees vir die ander persoon.

Loneliness is about the scariest thing out there.” ~ HankRearden Joss Whedon quotes

Thursday 10 January 2013

Waardes

Spreuke 23 : 4  Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie.

Wat het geword van goeie outydse waardes?  Dit beteken nie noodwendig dat ons ouers ons nie enige waardes geleer het nie, dis net moeiliker om tussen reg en verkeerd te onderskei omdat die basiese beginsels tot ‘n grys niemandsland vervaag het.  As ‘n taxi oor ‘n oranje of rooi robot of sperstreep kan ry… Die kassiere moes dubbel seker gemaak het sy keer die regte kleingeld uit… Almal doen dit… Woorde wat voorheen vloekwoorde was, verskyn vandag in die HAT…  My man/vrou gee nie genoeg aandag aan my nie… Die maatskappy maak genoeg wins, een pen sal hul nie armer maak nie…  Wit leuntjies…

Miskien is dit juis die gejaag na meer (meer geld, meer besittings, meer status) wat maak dat ons ons sin vir waardes verloor.

Op die internet vind jy verskeie artikels waar daar kommer uitgespreek word oor die gebrek aan goeie morele waardes en die impak daarvan op die Suid-Afrikaanse bevolking. “Ons kinders is beide die produk en die slagoffer van ons samelewing.

Kom ons gaan terug na die basiese beginsels soos vervat in Eksodus 20…  Liefde, respek, eerlikheid, getrouheid, regverdigheid, selfbeheersing, moraliteit, betroubaarheid…

Wednesday 9 January 2013

Gesinne

Genesis 7 : 1  Toe sê die Here vir Noag:  “Jy en jou hele gesin moet in die ark ingaan.  God red die hele gesin, nie net vir Noag.

Eksodus 1 : 1  Hier volg die name van die Israeliete wat saam met Jacob na Egipte toe gekom het, elkeen met sy gesin: Nie net die hoof van die gesin word genoem, die hele gesin

Eksodus 16 : 16  Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.” Genoeg vir elkeen

Spreuke 15 : 27   Wie hom verryk ten koste van ‘n ander, maak dat sy gesin verstoot word; (gesin benadeel) wie omkoopgeskenke weier, sal lewe. (gesin bevoordeel)

1 Konings 17 : 15  Sy gaan maak toe soos Elia gevra het.  Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. (beinvloed hele gesin)

Spreuke 27 : 8  Soos ‘n voël wat sy nes net so los, so is ‘n man wat sy gesin in die steek laat.

Elkeen van die voorafgaande teksgedeeltes gee vir ons ‘n kykie in God se hart.  Gesinne is nie net in Sy oë belangrik nie, maar Hy sien die gesin as ‘n eenheid en deur Sy Woord wil God vir ons wys hoe ons optrede ook ons gesinne kan bevoordeel of benaadeel.

Tuesday 8 January 2013

KINDWEES

Spreuke 23 : 22  Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind;  en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie

Menige groot mens dink met heimweë terug aan die dae dat hul nog sorgelose kinders was.  Die tyd gaan so gou verby en dan breek die harde werklikheid van die grootmens lewe aan.

As kind het jy nie juis ‘n keuse in terme van jou ouers nie.  Jy word in daardie gesin gebore.  Volgens navorsing is jongste kinders gewoonlik meer afhanklik… oudste kinders is gewoonlik meer verantwoordelik… enigste kinders is meer bederf… en die outjies in die middel voel soms verwerp omdat hul nie die oudste of jongste is nie… Hoe dit ook al sy, God het jou geboorte beplan en vir Hom is en bly jy spesiaal.  Jou ouers is vir jou gekies en reeds in die Tien Gebooie maan God ons om ons ouers te eer. 

Kinders gaan deur verskillende fases en hul word aan verskillende ervarings blootgestel.  Al hierdie dinge maak van jou die mens wat jy eendag is.  Party kinders het moeilike kinderjare soos streng ouers, gebroke huishoudings, gebrek aan materiële goedere, ouers wat drink of dwelms gebruik...  Jou opvoeding bepaal egter nie jou sukses nie.  Jy kan suksesvol wees ten spyte van jou agtergrond. 

Eer die vader en moeder in wie se sorg God jou toevertrou het en wees ook daar vir hul as hul eendag oud word, want God belowe dan vir jou ‘n lang lewe en dat dit met jou sal goed gaan.

Monday 7 January 2013

Moederskap

Josua 24 : 15 Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien
Jare gelede het ‘n dominee tydens huisbesoek vir elke gesinslid gevra wat hul gunsteling teksvers is.  Ek kon nie vir hom sê waar in Die Bybel dit staan nie, maar ek kon die woorde hierbo vir hom herhaal.  Vandag is dit steeds my mantra.

‘n Ma se verhouding met God, het ‘n direkte invloed op die res van die gesin se verhouding met God.  Ma’s skep atmosfeer; as hul ongelukkig is, is almal ongelukkig.  Dus het ‘n ma se optrede en houding ‘n groot invloed op die res van die gesin.  2 Tim 1: 5 Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. ‘n Ma is die stille krag en fondasie van die gesin.  Sy maak van ‘n struktuur meer as ‘n woning; ‘n tuiste.  Saam met moedersmelk kan ‘n ma haar kind aan God voorstel deur vir hom/haar uit Die Bybel voor te lees, te leer bid…  Geloof word nie geëerf of ingebore nie, maar dit kan deur goddelike wysheid en invloed oorgedra word.

Soms kan moeders magteloos voel, maar hul kan steeds bid.  Susannah Wesley het 19 kinders gehad.  Sy’t nooit universiteit toe gegaan, gepreek of ‘n boek geskryf, maar sy’t elke dag een uur opsygesit om vir al haar kinders te bid en elke week 1 uur met elke kind individueel gespandeer, spesifiek t.o.v. hul geestelike welstand.  Twee van haar seuns John en Charles Wesley sou diep spore in die geloofswêreld trap as gevolg van hul merkwaardige moeder.

Sunday 6 January 2013

Vaderskap

Efesiërs 5 : 23  Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.

Hierdie teks word dikwels uit verband geruk.  Dit gaan nie oor onderdanigheid en onderdrukkig nie.  ‘n Dominee het dit eendag pragtig verduidelik aan die hand van die volgende voorbeeld.  Hy’t na ‘n lynstaan in rugby verwys.  Die vrou tel die man as’t ware op sodat hy uitstaan bo die res om die bal te vang.  Wanneer hy die bal vang, baat die hele span (man en vrou) daarby. 

Daar word gesê die grootste geskenk wat ‘n man sy kinders kan gee, is om vir hul ma lief te wees.  ‘n Pa is die een waarna elke kind behoort te kan opsien.  Seuns wil soos hul pa wees en meisies is sommer net gaande oor hom en soek gewoonlik ‘n man soos hy.

Volgens ‘n Switserse studie wat in 2000 gepubliseer is, hang die geloofspraktyk van die pa daarvan af of ‘n kind in die toekoms sal kerk toe gaan al dan nie.  As beide ouers ‘n voorbeeld stel is die persentasie van kinders wat hul geloof eendag uitleef selfs groter, maar dit begin by die pa. 

Om te trou is maklik, maar om getroud te bly is ‘n uitdaging.   Wees ‘n span wat ‘n nuwe generasie van gelowiges toerus.

Thursday 3 January 2013

Ken Hom in jou besluite

Spreuke 16 : 9 'n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.

Met die aanbreek van ‘n nuwe jaar, is daar gewoonlik nuwejaarsvoornemens.  Wat behels jou voornemens?  Gewig verloor?  Ophou rook?  'n Nuwe werk... nuwe huis... Om ‘n beter mens te word?

Dis alles goed en wel, maar wat is God se plan vir jou?  Ek is ‘n baie impulsiewe mens, doen eers en dink agterna.  Menige kere verbrand ek my vingers of hardloop my tong so drie tree voor my verstand.  Daarom moet ek selfs meer bewus wees dat ek altyd Sy wil vir my lewe moet vra.  Dis nie altyd maklik nie, want God het ons ook ‘n wil van ons eie en gesonde verstand gegee.  Daardie selfde verstand behoort ook die teksvers hierbo te verstaan en ons te herinner dat ons God moet ken in ons besluite.

Hoe moeilik dit ookal is, ken God in jou besluite.  Maak Hom deel van jou toekoms.  Hy is ‘n liefdevolle Vader wat net die beste vir Sy kinders in stoor het.  2013 gaan nie sonder opdraendes wees nie, maar ek durf eerder die pad met Hom aan my sy aan as sonder Hom.

Wednesday 2 January 2013

Die Here is my herder

Psalm 23:1 Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie…

Oor en oor maal hierdie vers deur my kop.  Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie…

Met die brand in Hermanus, het ons alles verloor omdat ons geen versekering gehad het nie.  Dom, ek weet, maar om die een of ander rede het ons net nog nooit daarby uitgekom om die plek te verseker nie; deels omdat dit nie juis ‘n paleis was nie.  Niemand kan soveel verloor en dit maar net afskud en aanbeweeg nie.  Dit maak seer en jy wonder hoe gaan jy dit oorleef of deurleef, maar dan kom God en Hy herinner jou subtiel deur Sy Woord, Ek is hier, jy’t niks meer nodig nie. 

Wanneer die lewe ons ‘n dwarsklap gee, moet ons maar die houe aanvaar wat uitgedeel word.  In meeste gevalle het ons nie beheer oor wat met ons gebeur nie, maar die een ding waaroor ons wel beheer het, is hoe ons daarop gaan reageer.  Ons kan besluit om op ‘n hopie te bly lê en jammer voel vir onsself en sodoende onsself isoleer van alles en almal, of ons kan aanvaar dat dit wat gebeur het wel gebeur het en dat bekommernis of trane niks aan die omstandighede gaan verander nie.  Laasgenoemde bemagtig jou.  Jy’s weer in beheer en jy’t God om jou staande te hou.  Onthou dat jy NIKS kortkom solank God jou lei nie.

Tuesday 1 January 2013

Verbrande as

He will give beauty for ashes; joy instead of mourning; praise instead of heaviness… Isaiah 61 : 3 (TLB)

2012 behoort tot die verlede en ‘n nuwe jaar het aangebreek.
 
Vir ons het 2012 met 'n ramp geeindig.  Van ons naweek wegbreek plekkie in Hermanus het net as oorgebly.  Dit was nie veel nie, maar dit was ‘n hawe waarheen ons so een maal per maand kon wegbreek van die stadsgewoel.  Om daar te staan en te kyk na dit wat vir jou kosbaar was en net pikswart as, roet, kolle smeulende kole en rookwalms te sien, is hartverskeurend.  15 Karavane, 2 huise, 14 seiljagte… weg… Hoekom, God?  Waar was U?  Eers later besef jy dat God wel daar was, want daar was geen lewensverlies nie.  Skaam besef jy,  jy en jou familie kon deel van daardie as gewees het.  Wêreldsgoed kan vervang word en ek glo vas dat God ook uit hierdie as vreugde sal voortbring.

As jy vandag ook net swart as sien (dit wat was, of dit wat verkeerd geloop het, hartseer, teleurstelling, trane, mismoedigheid), weet verseker God is ook hierin teenwoordig en niks gebeur sommer maar net nie.  Een ding weet ek en dit is dat God presies weet wat Hy doen. 

Job was ook eens op ‘n tyd op die ashoop en God het hom opgetel en hom met meer geseën as wat hy ooit verwag het.  Ek wil vir jou net die mooiste uit God se hand toebid vir 2013.  Mag jy Sy vrede en liefde in jou lewe ervaar en rus in die wete dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie. Mag 2013 ‘n nuwe seisoen in jou lewe inlui en die jaar wees waarop jy van die ashoop van die lewe opstaan en jou vreugde terugeis.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...