Thursday 28 February 2013

Onbeplan?

Jeremia 1 : 5  Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken

‘n Onbeplande swangerskap beteken geensins dat jou geboorte nie beplan is nie.  Jy mag dalk voel dat jou geboorte ongewens was.  Dalk voel jy verantwoordelik vir baie dinge wat destyds in jou ouers se lewe verkeerd gegaan het.  Miskien het jou pa die hase pad gekies.  Dalk het jou ouers bymekaar gebly, maar daar was nie veel liefde nie.  Of jy voel dalk dat hulle jou verwyt omdat jy hul jeug gesteel het. 

Lees Jeremia 1 : 5 oor en oor.  God het jou in daardie spesifieke moederskoot geplaas.  Hy het beplan dat die twee mense wat jou gemaak het bymekaar uitkom.  Dit was alles deel van Sy groot plan met jou.  En al was jou kinderjare nie volmaak nie, weet steeds dat God ‘n plan vir jou lewe en toekoms het.  Sy liefde vir jou ken geen perke nie.

“What you need to know about the past is that no matter what has happened, it has all worked together to bring you to this very moment.  And this is the moment you can choose to make everything new.  Right now.” Unknown

Vandag kom die versekering hard en duidelik na jou:  “Jy is nie onbeplan nie – jy is TE spesiaal vir God.

Wednesday 27 February 2013

Om jou oog op God gerig te hou

Jesaja 40 : 31 maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Jare gelede, toe ek my eerste wedloop as Sub A’tjie (dit was toe nog nie Graad 1 nie) afgelê het, het my pa vir my agterna gesê dat ek sou gewen het as ek nie soveel omgekyk het nie.  As atleet moet jy gefokus wees, jou oog op die wenstreep. 

So moet ons as Christene ook ons oog op Jesus hou.  Daar sal tye kom dat jou aandag afgelei gaan word.  Jy gaan versoekings teëkom, maar wanneer jy jou oog op Jesus hou, sal jy net so ‘n tersluikse blik op die versoeking gooi en dan weer fokus op Jesus en wat Hy van jou verlang.   

Terwyl Isak met sy enigste seun, waarvoor hy soveel jare gewag het, teen daardie berg uitgestap het om hom te gaan offer, het hy deurlopend sy oog op God gehou en vertrou dat God sal voorsien.  Hou jou oog op God.

Tuesday 26 February 2013

Die smal paadjie

Eksodus 20 : 12 "Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Erken jy onbeskaamd dat jy ‘n kind van God is?  Doen jy dit ook wanneer jy met ‘n glas in die hand saam met jou kollegas ‘n drankie na werk geniet?  Doen jy dit ook op die paviljoen as jou span verloor?  Doen jy dit ook as jou ouers jou tugtig. 

God het vir Moses die tien gebooie gegee.  Dit is die handleiding vir ons as mens.  Net 10 reëls, maar hulle is nie onderhandelbaar nie.  Jy SAL jou ouers eer, selfs al verdien hulle dit nie.  En so is daar nege ander gebooie.  Die eerste gebod is die basis.  As jy die eerste gebod regkry, is die res maklik.  As jy jou naaste so liefhet soos vir God, dan sal jy jou ouers eer, nie steel, nie doodslaan, nie begeer...  Dit is ‘n smal paadjie, maar dit lei na die Ewige Lewe.


Monday 25 February 2013

Skepper God

Genesis 14 : 19  Skepper van hemel en aarde

Het jy al ooit gedink hoe wonderbaarlik die skepping is?  God het dit alles gemaak, maar die aarde het hy baie spesiaal gemaak.  Dink maar net aan die wonder van swaartekrag.  ‘n Ronde bolletjie, genaamd planeet aarde, wat tussen niks en nêrens in die rondte tol.  Niemand val af nie, niemand raak duiselig nie. 

Dink aan die mens;  ‘n ingewikkelde samestelling van brein, ledemate, organe, spiere, bloed, are... en dit leef, haal asem, beweeg, dink...  Alles werk in perfekte harmonie. 

God het die mens die vermoë gegee om ingewikkelde dinge uit te vind, maar al is die mens ook hoe intelligent, is daar steeds dinge wat ons God nie kan nadoen nie en steeds soveel wat ons nie verstaan nie.  Dink maar aan reën...  Hy is Wonderbaarlik, Skepper, Raadsman, sterke God.

Sunday 24 February 2013

Ware vriende

Spreuke 24 : 26  Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend.

Moet nooit die waarde van ware vriende onderskat nie.  ‘n Ware vriend(in), wat ook ‘n kind van die Here is, is soos om Christus in persoon langs jou te hê.  Hulle is egter dungesaai. 

Die eerste stap om ‘n goeie vriend(in) te hê, is om een te wees.  Wees daar vir jou vriende(inne).  Stel opreg belang in hul.  Onthou die dinge wat vir hulle belangrik is.  Wees daar vir hulle wanneer die lewe hul op ‘n sylyn plaas. 

Jy hoef nie altyd te gee of te praat nie.  Soms moet jy net daar wees.  Skakel soms net om te hoor hoe dit gaan.  Moenie altyd iets in ruil verwag nie.  Wees onbaatsugtig. 

As iemand iets met jou deel en vra om dit vertroulik te hou, sorg dat dit net by jou bly.  Moenie oordeel nie.  Wees net jouself.  Wees opreg.  Wees daar.


Thursday 21 February 2013

Kinders is soos vlieërs

Matteus 19 : 14  Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
Kinders kom nie met ‘n handleiding nie en om alles te kroon het elkeen ook sy/haar eie persoonlikheid.  Menige ouer sal saamstem, om ‘n kind groot te maak is nie maklik nie.  Om hul geestelik voorbereid die wye wêreld in te stuur verg toewyding.
Kinders is soos vlieërs . . .  ‘n Mens sukkel ‘n leeftyd lank om hulle "van die grond af te kry”. 
Jy hardloop met hulle totdat julle albei poegaai en uitasem is …
en as jy weer sien, het hulle in die grond geduik.
Dan probeer jy maar so goed jy kan afstof en regbuig en aanpas en troos en weer wys hoe dit gedoen moet word. 

En die hele tyd sê jy vir hulle... eendag dan sal hulle vlieg …
Uiteindelik is hulle in die lug!
Maar dan moet jy hulle meer tou gee.  Jy moet die lyn waarmee jy hulle al die tyd vasgehou het, al langer en langer maak.  Die hele tyd weet jy dit sal nie lank wees voordat die pragtige “vlieër” wat jy self gemaak het, sal losruk en onafhanklik die ruimte invaar nie. 

Die lewenslyn wat julle al die tyd aan mekaar gebind het sal breek en jou kind sal alleen die vryheid van volwasse-wees moet hanteer. 

Eers as jy hulle sien vlieg, sal jy weet of jy ‘n goeie ouer was!                                                     
(oorsprong onbekend)

Wednesday 20 February 2013

Om te glo

Efesiërs 1 : 14  Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos.

Saam met verlossing, kom daar vervulling met die Heilige Gees.  Met die Gees van God in jou, sal jy weet wat reg en verkeerd is.  Sy Gees sal jou lei om ‘n lewe van oorwinning te lewe. 

As Christene bely ons tydens die eredienste dat ons glo in ‘n Drie-enige-God:  Vader, Seun en Heilige Gees.  Vir sommige mense is dit moeilik om te begryp.  Tog is dit nie nodig om alles te verstaan nie.  God verwag van ons om eenvoudig te glo soos ‘n kind. 

As jy rede soek om dit te bevraagteken, sal jy dit kry, maar wat gaan dit jou baat.   Geloof is om te glo dit wat jy nie kan sien nie.

Tuesday 19 February 2013

Ter wille van een regverdige


2 Petrus 2 : 7  En tog het Hy vir Lot gered, 'n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense.

Dit is Oom Angus Buchan, aartappelboer (rolprent Faith Like Potatoes), se passie - dat Suid-Afrikaners moet terugkeer na God.  Hy glo ook dat die man weer die hoof van die huis moet wees.  As ons manne hulle aanmeld en leef soos Sy Woord ons beveel, die huishouding lei in geloof, kan ons as volk ons weer verootmoedig voor Hom. 

Ons weet dat Oom Angus nie meer die groot samekomste van die verlede op sy plaas hou nie, omdat dit is wat God van hom verwag, maar dit was 'n goue tyd, toe mans in hul massas opgeruk het na sy plaas om God in hul menigtes te aanbid.  Manne wat teruggekeer het na God, na die 'basics' en vernuwe teruggekom het.  Dit het mens weer hoop gegee vir ons land en sy mense.

God was bereid om ter wille van 'n handjie vol regverdiges vir Sodom en Gomorra te red.  Dalk is jy die enigste regverdige in jou werkplek of in jou gesin.  Hou aan bid en vertrou dat God ons land kan red. 

Monday 18 February 2013

Vaste Fondament

As ek lees van iemand wat ‘n misdaad gepleeg het, dink ek onwillekeurig aan die ouers.  Dis moeilik om die vreugde oor ‘n nuwe lewe te vergelyk met die hartseer van ‘n kind wat die pad byster geraak het.  Geen ouer gaan seker doelbewus hul kind leer om te steel, iemand te verkrag, of ‘n moord te pleeg nie.  Agter elke 'misdadiger' sit daar dus ‘n ouer wat moontlik hulself blameer vir dit wat in hul kind se lewens verkeerd gegaan het.    “Ma’s is nie lief vir hul kinders omdat hul perfek is nie, sy is lief vir hulle omdat hulle hare is.”   Madelijn v Biljon

Wat veroorsaak dat ‘n onskuldige kind ‘n gewetenlose misdadiger, moordenaar, dief, verkragter word?  Is dit gene, geestes welstand, gebroke ouerhuise, gebrek aan liefde, druk van die samelewing, verkeerde vriende of blootstelling aan dwelms?   Wat dan die vraag laat ontstaan:  “Hoe hou jy jou kind geanker en beskut?”

Markus 10 : 16  Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hul geseën.  ‘n Geestelike opvoeding is geen waarborg dat jou kind nie op die verkeerde pad sal beland nie, maar dis beslis ‘n vaste fondament.  Waar kan ‘n kind veiliger wees as binne die kring van God se arms? 

Om Oscar Pretorius of Anene Booysen se verkragters te veroordeel, berus nie by ons nie.  Die polisie ondersoek nog 'n saak, dan het ons hul al klaar skuldig bevind.  God ken die volle verhaal.  Ons kan wel bid vir Oscar en sy familie, sowel as vir Anene Booysen se familie.

Sunday 17 February 2013

Ver bo menslike begrip

Johannes 18 : 9  So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: "Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie."

Dit is iets wat ek jou toebid met my hele hart.  Die seker wete dat jy weet dat God jou oneindig liefhet.  Kyk na ‘n kind wie se ouers hom of haar oorlaai met liefde.  So ‘n kind is vol selfvertroue.  Die blote wete dat hy/sy die ouer se onvoorwaardelike liefde besit, maak van daardie kind ‘n wenner.  Niks sal hom/haar onderkry nie, want die liefde van die ouer is soos ‘n veiligheidsnet.  Dit is die veilige hawe wat so ‘n kind binnevaar wanneer die storms buite die hawemure woed. 

God het elkeen van ons onvoorwaardelik lief.  Toe Hy Sy Seun gestuur het om vir ons sondes te sterf, was daar geen voorwaardes nie.  Sy Seun sou nie net vir ‘n sekere groep sterf nie.  Sy Seun het gesterf sodat NIEMAND verlore mag gaan nie.  Dit is ‘n liefde wat ver bo menslike begrip strek, maar dit is ‘n liefde wat jy elke dag joune kan maak. 

Thursday 14 February 2013

Lewensstorme

Matteius 15 : 28  "Mevrou," sê Jesus vir haar, "jou geloof is groot. Jou wens word vervul."

Een van die liedjies van my kinderdae wat altyd by my opkom gedurende moeilike tye, is die een:  “As die lewensstorme woedend om my slaan...”  Daar kom tye in elke mens se lewe dat jy nie weet hoe jy staande kan bly nie.  Sodra jy dink die ergste is verby, klap nog 'n brander jou plat.  Jy swem en spartel vir 'n vale, maar dit voel asof jy nooit weer vaste grond onder jou voete gaan voel nie.  Al wat jy kan doen gedurende sulke tye van beproewing is om vas te klou aan jou geloof en jou seëninge te tel. 

In geloof bly jy op God vertrou.  In geloof weet jy dat Hy alles ten goede laat meewerk.  In geloof weet jy Hy sal voorsien.  Alles wat ons het kom tog uit Sy hand.  Deur vas te hou aan jou geloof, skep jy vir jouself ‘n vaste fondament, te midde van die storm.  Wanneer jy uiteindelik terugkyk op sulke tye, kan jy beswaarlik glo dat jy heel daardeur gekom het. 

Dit is hoe wonderbaarlik God is.  Hy is die anker in die storm en Sy ankertou breek nooit.  Hou vas aan jou geloof;  houvas aan God, want dan alleen is jy veilig.

Ook dit waardeur jy nou gaan, sal verbygaan.

Wednesday 13 February 2013

Moenie oordeel nie

Matteus 7 : 2  met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

Bedelaars op straat is ook mense; skepsels van God.  Dit is nie vir ons om op iemand neer te sien wat deur God geskape is nie.   Om hul te ignoreer gaan nie maak dat hul verdwyn nie.

So dikwels oordeel ons op sigwaarde.  Ons het selektiewe visie, want ons sien net die splinter in ‘n ander se oog en nie die balk in ons eie oog nie. Gemeet aan ons menslike standaarde, wil ons iemand veroordeel terwyl net God alleen kan oordeel. Veroordeling berus nie by mense nie.  En Hy weet dikwels meer as ons. 

Jy voel dalk soos ‘n mislukking omdat jou lewe nie so suksesvol voorkom soos diegene wat jy rondom jou sien nie.  In God se oë is jy spesiaal en is Hy steeds oneindig lief vir jou.  God se liefde berus nie op wie jy is of wat jy bereik het nie, dis onvoorwaardelik.

Waarskuwings is daar wel; dat ons geoordeel sal word volgens dieselfde maat waarmee ons oordeel.  Kom ons wees net so 'n bietjie meer verdraagsaam teenoor ander, kyk 'n slaggie na iemand soos wat God na hom of haar sou kyk, sonder oordeel.

Elke keer as ons 'n bedelaar sien, behoort ons God te dank dat dit nie ons is wat in daardie persoon se skoene staan nie.  Hoe sou Jesus opgetree het?  "vir sover jul dit aan die geringstes gedoen het, het jul dit aan my gedoen..."

Tuesday 12 February 2013

Bid dag vir vrede

Deuteronomium 30 : 3  sal die Here jou God jou omstandighede verander. Hy sal jou jammer kry en jou weer bymekaarmaak van oral af waarheen Hy jou tussen die volke verstrooi het.

Niemand van ons kan terugstaan en hoop dat ander sal bid en dat Suid-Afrika dan ‘n beter plek sal word nie.  Dit is elke Christen se plig om vir ons land te bid.  God is in beheer.  Hy kan ons land red.  Hy verwag egter dat ons, as volk, ons voor Hom moet verootmoedig.  Dan sal Hy intree en verandering sal plaasvind. 

Introspeksie is ook nodig.  Ons moet kyk waar ons nodig het om te verander.  Leef ons volgens en binne die wil van God?

Daadwerklike, opregte, gebed vir ons land en sy mense is nodig sodat ons as volk sal terugkeer tot God.  Bid dae vir reën was vroeër jare toe ons land geteister is deur droogtes, 'n gereelde verskynsel.  Dis tyd vir 'n bid dag vir vrede.  Daardie bid dag kan elke dag wees en dit kan klein begin - by jou en my. 

Monday 11 February 2013

Vreugde in God

Jeremia 21 : 8  Daarna het die Here vir Jeremia gesê: Jy moet vir hierdie volk sê: So sê die Here: Ek gee julle die keuse: wil julle lewe of wil julle sterwe?

Om die Here te loof, is ‘n keuse.  Dit is nie verpligtend nie.  Jy kan loop en brom en met alles en almal rondom jou foutvind of jy kan vreugde vind in die klein dingetjies.  Weereens ‘n keuse.  Dit is juis die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar, wat die grootste vreugde verskaf. 

Die lewe is nie 'n komedie nie en baie van ons het min om oor te lag, maar om 'n lang gesig te hê is weereens 'n keuse.  Kyk na koerantverkopertjies soggens.  Hulle verdien bittermin, werk in wind en weer, en tog maak hulle menige motoris se dag met hul kwinkslae en breë, soms tandlose, glimlagte. 

Al opgelet dat jou hond elke dag ewe bly is om jou te sien?  Hy bly nie party dae lê as hy jou sien omdat hy te depressief is om op te staan nie.  Luister na die voëls se gekwetter soggens, hulle raak nooit moeg vir mekaar se geselskap nie. 

So moet ons elkeen 'n rede vind om te lag, of dan ten minste te glimlag.  Sommer vir ekstra pret, het ek vir my ‘n pop gekoop wat lag.  As ek druk op haar magie en sy so 'n kinderlike borrel-laggie uiter, lag ek lekker saam. 

Almal hoef darem nou nie so ver te gaan nie.   Vind jou vreugde in die Here en al die ander dinge sal vir jou gegee word.

Sunday 10 February 2013

Geleenthede

Spreuke 14 : 23  Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.
Partykeer is ons oog so op die toekoms gerig dat ons net uitkyk vir groot geleenthede.  Geleenthede het verskillende baadjies aan.  Iemand het eenkeer gesê mense verloor uit op geleenthede omdat hulle as harde werk vermom is.
Gryp elke geleentheid met albei hande aan.  As hulle by die werk iemand soek om een of ander onbenullige takie te verrig, bied aan om dit te doen.  As hulle iemand soek om uit te help en jy is alreeds besig, bied nog steeds aan om te help.  Op daardie gegewe oomblik mag dit dalk jou kosbare tyd in beslag neem, maar eendag kry jy dalk net daardie vaardigheid nodig wat jy sodoende bekom het.
Kennis bemagtig jou, dit hou jou nie terug nie.  Geen vaardigheid wat jy aanleer, kan ooit as tydmors beskou word nie.
“The future depends on what we do in the present…”  ~ Mahatma Gandhi

Thursday 7 February 2013

Onregverdigheid

Job 24 : 1 “Waarom stel die Almagtige nie tye vas vir afrekening nie? Waarom moet dié wat Hom ken, tevergeefs uitsien na sulke dae?

Deesdae wil dit voorkom asof onregverdigheid aan die orde van die dag is.  Die nuus word gereeld oorheers deur moorde, maar hoeveel moordenaars word aangekeer?  Lewenslank beteken dan nie eens meer die res van jou natuurlike lewe nie!  Artikels oor korrupsie en self verryking is vollop en dit wil voorkom asof  die skuldiges nie eens uitskryfwerk kry nie.

In die werkplek tel ervaring deesdae teen jou.  Verkeerswette word links en regs oortree sonder dat ‘n haan daarna kraai.  Daar is diegene wat loop en spog met hul buite egtelike verhoudings.  Diere word mishandel.  'Ou' mense word in ‘n ouetehuis gestop en vergeet. Sogenaamde finansiële raadgewers verduister mense se swaarverdiende geldjies.  

Waar gaan dit alles eindig?  Is ons alomteenwoordige God besig om ‘n blinde oog te keer op al hierdie onregverdigheid?  Die antwoord vind ons in Romeine 1 : 18 God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.  God is geduldig, maar die dag van afrekening sal beslis aanbreek.
 

Wednesday 6 February 2013

Tweede plek

Job 24 : 24  Net 'n kort tydjie is hulle belangrik, dan is daar niks van hulle oor nie, hulle stort inmekaar en sterf soos almal, hulle word soos koringare afgesny.
In 'n samelewing wat soveel klem op prestasie plaas, is dit soveel moeiliker vir diegene wat nie altyd so suksesvol is nie. 

Oral waar jy kyk word presteerders opgehemel.  ‘n Tweede plek haal selde, indien ooit, die koerant se voorblad.  Van die Oscars tot die werkplek, fokus ons op presteerders.  Ja, dit motiveer ons om beter te doen en onsself verder te dryf, maar wat doen dit aan hulle wat nie op daardie vlak is nie? Agter elke presteerder is daar hoeveel wat nie die paal haal nie, nie omdat hulle nie probeer het of nie so goed is nie, maar daar kan net een eerste plek wees.

Genadiglik gaan God nie eendag vir ons vra watter rang of posvlak ons beklee het nie, maar Hy gaan vra of ons ten alle tye ons beste gegee het, selfs al het ons nie altyd die eerste plek beklee nie. 

“Try and fail, but don’t fail to try…”  ~ Stephen Kaggwa

Tuesday 5 February 2013

Of ek reis en of ek oorbly

Psalm 139 : 3  Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
Enige iemand kan ‘n punt bereik waar jy voel dat jy in ‘n doodloopstraat beland het sover dit jou loopbaan aangaan.  Soms bereik jy hierdie punt ten spyte daarvan dat jou vorige skuif ‘n weldeurdagte een was.  Ander kere het jy hierdie punt bereik as gevolg van ‘n verkeerde besluit.  En dan is daar die kere dat jy voel jy kom net mooi nêrens, maak nie saak hoeveel jy insit nie. 

Daar is min dinge wat jou so mismoedig maak as wanneeer jy voel jou lojaliteit en toewyding gaan ongesiens verby.  Ongelukkig begin mense jou as vanselfsprekend aanvaar wanneer jy te lank in een posisie bly.  Daar kan goeie redes wees hoekom jy niks aan die situasie doen nie.  Jou huidige pos laat jou toe om etenstye huis toe te gaan, die kinders by die skool op te laai, jy hou van jou kollegas, jou baas is gaaf, jou salaris is nie te sleg nie, jy voel jy het nie die nodige kwalifikasies vir ander poste nie… 

Maar dan breek daardie dag aan dat jy besef dis tyd vir ‘n verandering.  Sit skouer aan die wiel en begin daadwerklik na iets anders soek.  En as jy nie iets beter kry nie, sal die wêreld nou regtig tot ‘n einde kom as jy ‘n stappie terug of sywaarts neem op die suksesleer?  Sometimes you have to step back in order to jump over – Gerhard Burger  Dis nogal 'n paradigma skuif in vandag se lewe waar mense boontoe mik ten alle koste.

Groot besluite is nooit maklik nie, want jy weet nooit of dit die regte een is nie, maar as jy dit in gebed doen en God vertrou om jou te lei, kan jy nie verkeerd gaan nie.

Monday 4 February 2013

God in die middel

Spreuke 27 : 1  Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie.
Wat is jou planne vir die week, maand of jaar wat voorlê?  Mense vra dikwels na jou kort- medium en langtermyn doelwitte.   In direkte kontras daarmee, is daar diegene wat glad nie glo om te veel te beplan nie, maar die lewe vat soos dit kom.   Die vraag is dus, mag ons beplan?  Jakobus 4 : 13- 14 Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak. Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! 

God vertrou ons genoeg dat hy ons die vermoë gegee het om te dink, redeneer en beplan.  As ons egter Sy goedkeuring en seën oor ons planne verlang, sal ons onthou om Hom die middelpunt daarvan te maak. 

Jakobus 4 : 15 Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

Juis dan kan ons op God staat maak.

Spreuke 3 : 6  Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.
In ‘n wêreld vol onsekerheid en verrassings, is dit verblydend om te weet, jy kan op God staatmaak as jy Hom ken in jou besluite.

Sunday 3 February 2013

Lag en trane

Psalm 30 : 6 Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.
‘n Kollega van my is tans in ‘n kankerstryd gewikkel.  “Een oorloggie wat ek nie van voorneme is om te verloor nie,” was haar woorde na die operasie en onseker oor wat vir haar voorlê.  Chemoterapie en bestraling is nou nie juis iets wat deel van ons algemene kennis vorm nie.    Ek kontak haar vanoggend om te hoor hoe dit gaan, wetend sy’t gister weer ‘n chemo sessie gehad.

Aan die kant van die telefoon, sit ek met trane van bewondering vir haar moedigheid, en lag.  “Ek dink ek gaan vir 'n oudisie vir die volgende Star wars rolprent, want ek het nou geen ooghare meer nie," sê sy en skaterlag.  Sy vertel ook hoe die hospitaal personeel haar gekomplimenteer het omdat sy altyd so goed lyk.  “Gelukkig sien hulle my nie sonder my pruik, lipstiffie en hoë hakke terwyl ek verbete aan die lewe probeer vasklou na so ‘n sessie nie… en jy weet wat… ook dit sal verbygaan.”  Wat ‘n inspirasie.

Hoe dikwels kla ons nie en dink ons dit waardeur ons gaan is die einde van die wêreld nie.  Genadiglik is daar ‘n einde aan alles, ook aan pyn en lyding. 

Die lewe is dalk nie maklik op die oomblik nie, maar glo vas dat jy weer uitbundige geluk sal ervaar en genoeg rede sal hê om heerlik te lag.


Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...