Wednesday 31 July 2013

Ek weet nie, maar God weet

2 Korintiers 12 : 9  Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Partykeer kan ons grootste swakheid ons grootste krag word.  Daar was ‘n 10-jarige seun wat ten spyte daarvan dat hy sy linkerarm in ‘n motorongeluk verloor het, Judo geneem het.
Die seun het gevoel dat hy goed vorder, maar die Japanese Judo meester het hom net een beweging geleer en na drie maande was die seun ‘n bietjie mismoedig. 
“Sensei, hoekom leer u nie vir my ‘n slag ander bewegings ook nie?”
“Dit, seun, is al beweging wat jy nodig het,” het die Sensei geantwoord.
Alhoewel die seun nie verstaan het nie, het hy sy leermeester vertrou en aangehou oefen.  Maande later was daar ‘n toernooi waarvoor die seun ingeskryf is.  Hy’t elke geveg gewen, ten spyte van die feit dat sy opponente groter, sterker en meer ervare was.  Op pad huis toe het hy en die sensei die gevegte bespreek en die seun wou weet:  “Sensei, hoe is dit dat ek elke geveg gewen het?”
Jy het om twee redes gewen:  “Eerstens omdat jy daardie een beweging byna vervolmaak het en tweedens omdat hul beste teen-beweging vir jou wen-beweging sou wees om die linkerarm te gryp.”
Die seun se swakheid was in hierdie geval sy krag.  Ons weet nie altyd hoekom dinge met ons gebeur of hoekom ons in sekere situasies beland nie, maar God het ‘n groter plan met ons lewens.  Ons swakhede is die groenlig vir Hom om in te gryp.

Tuesday 30 July 2013

Grootte God

Ons is so gewoond aan die lewe soos ons dit ken dat ons nie meer in verwondering staan oor die ‘klein’ dingetjies nie.  In Job 39 vra God ‘n paar vrae vir Job.  Kan jy vir ‘n leeu sy prooi vang?  Wie gee vir die kraai kos wanneer sy kleintjies om hulp roep?  Ken jy die tyd wat die klipspringers lam?  Kan jy vir hulle draagtyd bepaal?  Wie gee aan die wildedonkie sy vryheid?  Gee jy vir die perd sy krag; sit jy vir hom maanhare aan? 

Alles en almal is geskape om perfek binne God se volmaakte plan in te pas.  Van bio-diversiteit kan ons Hom niks leer nie.  In vers 35 vra hy finaal:  Wil jy vir God kom teregwys,” wat al hierdie dinge gedoen het waartoe jy nie in staat is nie?
Is dit nie alles wonderwerke nie?  God laat wel die mens toe om te ontwikkel en vooruit te gaan, maar sekere dinge sal ons nooit kan doen nie.  Ons kan soutwater ontsout, maar ons kan nie reën maak nie.  Sonder water is ons verlore.
Dis tyd dat ons ons beperkinge as mense erken en weer met nuwe oe begin kyk na waartoe God in staat is.

Monday 29 July 2013

Dankie, dankie Jesus

Markus 6 : 5  “Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het.“

Toe Jesus in sy geboortedorp kom, wou die mense niks van Hom weet nie.  Hulle het Hom as net nog ‘n mens gesien.  Vir hulle was hy Josef, die timmerman se seun met broers en susters wat hul by naam geken het.  Hoe kon Hy spesiaal wees? 
Ek het myself afgevra of ek anders oor hom sou voel as ek destyds geleef het.  En ongelukkig moet ek erken dat ek ook maar skepties sou wees, behalwe as ek Sy wonderwerke sou aanskou.  So hoe op dees aarde wil ons nou mense oortuig om te glo in ‘n God wat hul nie kan sien nie? 
Deur hul te vertel van dit wat God in jou eie lewe doen.  Ons hoef nie vreeslik lank te dink om te weet wat hy alles vir ons doen nie.  Die dak oor ons kop, ons gesin, ons werk, ons besittings – dit kom alles uit Sy hand.  Deure gaan nie maar sommer net oop nie.  Iemand skakel jou nie uit die bloute nie…  Jy wou so graag daardie pos gehad het en jy was SO teleurgesteld toe jy dit nie kry nie en kort daarna word jy verstom deur ‘n beter geleentheid…  Die verhouding wat misluk het en jou met ‘n gebroke hart gelaat het en kort daarna ontmoet jy die mees perfekte lewensmaat… Jy wou van baan verwissel, maar iets weerhou jou daarvan en net die volgende oomblik snel ‘n motor langs jou verby – dis altyd die hand van God. 
Vertel vir ander van hierdie ‘profeet’ wat nie onder Sy eie mense erken is nie. Vertel vir hulle van die groot en die klein wonderwerkies wat jy ervaar.  Om erkenning aan God te gee, sal die sluise van die hemel vir jou open. 

Sunday 28 July 2013

Is jy skaam?


Matteus 10 : 42  Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

As jy na Christene kyk, is daar min van ons wat voortdurend geloofwaardigheid uitstraal.  Wanneer mense na jou kyk gedurende die dag, behoort jou optrede teenoor ander, jou woorde, jou dade as’t ware ‘n demonstrasie van ‘Christenwees’ wees. 
Soms uiter ons woorde wat ons gebrek aan geloof demonstreer eerder as ons vertroue in God.  Meeste van tyd is ons woorde en dade die enigste Bybel wat iemand daardie dag te lese sal kry.  Ons behoort Jesus se arms en voete hier op aarde te wees.  Dit beteken nie noodwendig dat ons die Sendingveld moet invaar nie.  Even the rich are hungry for love, for being cared for, for being wanted, for having someone to call their own. We think sometimes that poverty is only being hungry, naked and homeless. The poverty of being unwanted, unloved and uncared for is the greatest poverty. We must start in our own homes to remedy this kind of poverty.” Mother Theresa

Wanneer iemand mismoedig is, moet ons hul optel met ‘n sagte woord of ‘n koppie koffie.  As iemand ons tenakom, moet ons hipoteties gesproke, die ander wang draai.  Daar is soveel wat op ander trap, en so min Barmhartige Samaritane.  Ons kan ‘n groot verskil in die wêreld maak deur vir ander ‘n voorbeeld te stel eerder as om Bybelversies aan te haal. 

Wanneer jy vanaand in die bed klim, kan jy terugkyk en sien waar jy ‘n positiewe verskil gemaak het of is jy skaam oor jou doen en late?

 

Thursday 25 July 2013

Eensaamheid

Psalm 25 : 16  Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote.

 Eensaamheid is ‘n monster wat jou kan bekruip en tot raserny dryf.  Dit spin jou toe en sonder jou af. 
 
Mense is tropdiere.  Alleenlopers word eenkant toe gestoot of as ‘n bedreiging gesien.  Vra maar enige weduwee/wewenaar/geskeide persoon.  Sodra jy nie meer ‘n maat het nie, is jy nie meer welkom by sekere geleenthede nie.  Dit is asof jy nie meer ‘n voltooide mens is nie. 
 
Wat doen jy om alleenlopers te betrek?  Reik jy uit na hulle of sien jy hulle as ‘n bedreiging?  Ons moet ook so leef dat ons nie afhanklik van ‘n ander is vir ons eie geluk nie, want dit is dan dat jou hele wêreld platval as daardie persoon nie meer daar is nie.  Word jou eie mens.  Kry jou eie belangstellings en bou jou eie vriendekring binne ‘n verhouding.  En as jy alleen is, reik uit na ander.  Neem die eerste tree om ander uit te nooi en word ‘n getroue vriend(in).

 

Wednesday 24 July 2013

Nog 'n sonsopkoms...

Die opdrag was duidelik:  Gaan dan heen en maak dissipels van alle mense.  Markus 16 : 15  Hy het vir hulle gesê: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.

Ons moet elke moontlike geleentheid gebruik om te getuig van dit wat God vir ons as mense gedoen het.  Hy het Sy enigste Seun gestuur om vir ons sondes te sterwe.  Meer nog.  Ons moet getuig wat Hy in ons lewens doen.  Vertel vir ander van die wonderwerke wat daar in jou lewe plaasvind. 

Ons kla so maklik oor ons swaarkry, maar hoeveel keer vertel ons vir dieselfde mense wanneer God vir ons deurgekom het.  Hy het nog nooit opgehou om vir ons te sorg nie.  Nog minder het Hy opgehou om Sy oorvloed oor ons uit te stort nie.  Elke dag gebeur daar klein wonderwerkies, maar omdat ons dit as vanselfsprekend aanvaar, praat ons nie eens meer daaroor nie. 

 Selfs die wonder van die sonsopkoms getuig van Sy liefde...

Tuesday 23 July 2013

Haat wat verkeerd is

Vra jouself af, sal ons dan:

Mekaar verkleineer?

Vir mekaar leuens vertel?

Niks vir ‘n ander gun nie?

Kwaadpraat van ander?

Van ander steel?

Hulle doodmaak?

Ons naaste haat?

Begeer wat hulle het?

Ander beswadder/beskinder?

Net aan onsself dink?


Amos 5 : 15  Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.

Monday 22 July 2013

Tasbare vreugde


Psalm 112 : 1  Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien, wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here.

 Mense hou Christene dop.  Sien hulle ‘n Christen as hulle na jou kyk of loop jy dalk met ‘n lang gesig en hangskouers rond?  Hoe kan jy vir ander vertel dat God tot alles in staat is en dan lyk jy so? 
 
God verseker jou dat jy jou vreugde in Hom moet vind en al die ander dinge sal vir jou gegee word.  Probeer elke dag so leef dat daardie vreugde sigbaar is vir ander.  Al gaan dit hoe sleg, sing ‘n loflied tot Sy eer.  Glimlag en tel jou kop op. 
 
Al gehoor van die Engelse gesegde:  “If you can fake it, you can make it.”  Reg of verkeerd, wanneer jy voortdurend glimlag en sing, gaan jou gemoedstoestand beter wees en ander gaan jou nie vermy omdat jy met ‘n donderweer gesig rondloop nie. 
 
Jou vreugde moet so tasbaar wees dat ander jou vra hoe jy dit regkry om ten spyte van jou probleme so sterk te wees?  Wys vir mense dat daar niks lekkerder is as om die Here te dien nie.

Sunday 21 July 2013

Graanskure wat oorloop


Spreuke 8 : 21  Ek maak dié wat my liefhet, ryk, ek maak hulle skure vol.

Wanneer jy leef volgens God se wil, in gehoorsaamheid en afhanklikheid, sal jy Sy verstommende seën in jou lewe ervaar.   Jy hoef Hom nie vir enigiets te vra nie, jy sal net op ‘n dag besef dat jy darem die afgelope tyd dinge gekry het wat jy eintlik nie kon bekostig of verwag het nie. 

Party mense ervaar voorspoed met hul loopbane, ander ervaar seën met hul verhoudings, ander ontvang seeninge uit die bloute.  God maak letterlik jou skure vol. 

Dit beteken nie dat daar nie tye van beproewing gaan kom nie.  Jy moet ook nie onder ‘n wanindruk verkeer en dink dat jy tot bekering gaan kom en dan gaan alles in jou lewe seepglad verloop nie.  Dit is iets wat moeilik is om te verduidelik, want die seën kom wanneer jy dit die minste verwag en dis ver bo menslike verstand of begripsvermoëns, maar menige Christen kan hiervan getuig.

Berei jouself voor, want God gaan jou graanskure tot oorlopens toe volmaak. 

Thursday 18 July 2013

God gaan vir jou omdop


Handelinge 22 : 14  Toe sê hy: 'Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om Sy wil te ken, die Regverdige te sien en Sy stem te hoor, 

Jy is dalk nog jonk en voel jy sal eendag jou hart vir die Here gee.  Jy wil net eers jou lewe nog so ‘n bietjie langer geniet. 
 
As jy eers getroud is en kinders het, dan sal jy jouself bekeer.  Intussen leef jy asof jy doof is vir Sy stem en nog erger, jy ignoreer Sy roepstem.  Dit gaan goed met jou en jy voel dalk dat jy wonder of dit enigsins nodig is om tot bekering te kom, want jy kom heel goed op jou eie reg. 
 
Wees gewaarsku. As Hy Sy oog op jou het, sal Hy alles in Sy vermoë doen om jou van jou verkeerde weë te laat afsien.  God gaan vir jou omdop.
 
Is dit werklik nodig dat iets buitengewoon moet gebeur om jou tot inkeer te bring?  Hoekom luister jy nie net na die stemmetjie binne jou en gee jou lewe aan Hom oor nie?  Wat van vandag?

Wednesday 17 July 2013

Grand Canyon


Lukas 15 : 24  Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.' Toe het hulle begin feesvier.

Jy was ‘n kind van God en jy onthou met heimweë hoe naby jy aan Hom gevoel het.  Iewers het jy afgedwaal of iets het gebeur wat jou aan Hom laat twyfel.   Dalk voel jy ook asof daar tans ‘n Grand Canyon tussen jou en Hom is. 
 
God dwaal nooit af nie.  Hy is nog op presies dieselfde plek.  Jy moet terugkeer na Hom.  Jy weet wat jy moet doen.  Jy is al vantevore hierdeur.  Algehele oorgawe.  Die ou dinge moet agtergelaat word en jy gaan ‘n nuwe lewe betree. 
 
God het nooit gesê dat Hy jou vasmaak of na ‘n eiland verskuif as jy tot bekering kom nie.  Hy los jou in die wêreld waar jy deel van elke dag se gebeure is en jou oordeel moet gebruik om te leef volgens sy wette.  Jy weet wat reg en verkeerd is.  Jy weet presies wat Hy van jou verwag en dat jy nou die eerste tree moet neem. 
 
Onthou jy hoe bly die pa was toe die verlore seun teruggekeer het?  God is net so bly oor elke afge-dwaalde skaap wat weer sy pad terugvind na Hom.  Selfs die Grand Canyon kan oorbrug word.

Tuesday 16 July 2013

My liewe kind


Uittreksel uit Voetspore in die Sand: 
 
Die Here het geantwoord:  “My liewe kind!  Ek het jou lief en sal jou nooitverlaat nie.  Die tye wat jy net een ry spore gesien het, was die tye toe Ek jou gedra het.”

 So kan ek en jy ook op ons lewenspad terugkyk en as ons eerlik is, sal ons erken waar ons Sy krag en mag ervaar het. 
 
Sommige gebeurtenisse in jou lewe is so stormagtig dat net die krag van God jou daardeur kan kry.  ‘n Egskeiding, die dood van jou eggenoot, ‘n kind se dood, personeelvermindering is dinge wat ons dink net met ander mense gebeur totdat dit jou onverwags tref. 
 
God wil jou ook deur jou huidige storm dra, vertrou op Hom.  Ek wonder soms hoe ongelowiges ‘n krisis oorleef, want ek kan my nie ‘n lewe sonder Hom aan my Sy voorstel nie.

Monday 15 July 2013

Toe-val-lig


Daar kom tye in jou lewe dat jy vra:  Wat kan nou nog verkeerd gaan?  Elke besluit wat jy die afgelope ruk neem, blyk die verkeerde besluit te wees.  Jy voel asof jy bid, maar God is doof of wil jou eenvoudig nie hoor nie.  Jy roep uit na Hom. Psalm 55 : 2  Hoor my gebed, o God, moet tog nie onverskillig staan teenoor my smeking nie.  Jy smeek, dreig, onderhandel, maar Hy  is stil. 
 
Dan, uit die bloute, ontvang jy ‘n epos of sms wat woorde bevat wat daarop dui dat God naby is en jou liefhet.   Jy verjaar en ontvang kaartjies met woorde wat getuig dat God jou nooit sal versaak of verlaat nie.  Jy kry smsse wat getuig van God se ewige liefde en dat Hy vir jou sal sorg. 
 
Hierdie boodskappe van Sy sorg en troue liefde kom keer op keer na vore.  Is dit toevallig/ coincidence? Of is dit Sy manier om jou te verseker dat Hy naby is en jou nie een oomblik alleen laat nie? 
 
As jy die woord toevallig opbreek in lettergrepe, kry jy:  toe val lig.  God se lig is deurlopend op jou, Hy het nie een oomblik van jou vergeet nie.  Sy soeklig volg jou.  Hy lei jou stilswyend op die regte pad.

Sunday 14 July 2013

Alle eer aan God

Genesis 16 : 16 Abram was ses en tagtig toe Hagar vir Ismael vir hom in die wêreld gebring het.

Abram en Sara was kinderloos.  Toe God nie hul gebede verhoor vir 'n eie kindjie nie, maak hulle soos baie van ons hul eie plan.  Abram moes by Hagar slaap en so is Ismael gebore.  As hulle maar gewaghet, want op Sy tyd het hy wel hul gebed verhoor.  Veertien jaar later is Isak gebore as Abraham en Sarah se eie seun, op 'n ouderdom toe dit menslik onmoontlik sou wees.
 
'n Rukkie gelede het ek genoem hoe wonderbaarlik God my gebede verhoor het, maar ek het nie uitgebrei daarop nie.  Na vele navrae, deel ek graag die getuienis met jou. 

Agtien maande gelede het ek my laaste uitsending as omroeper by Radio Tygerberg beleef.  Dit was moeilik om iets waarvoor ek so 'n passie gehad het oornag agter te laat.  Die leemte het al groter geword.  Dit was nie net om 'n omroeper te wees nie, want ek kon by enige ander plaaslike radiostasie gaan aanklop het.  Vir my was dit 'n roeping om die Woord te versprei en die hunkering sou nooit gestil word.  Ek het my hartsbegeerte aan God bekend gemaak, maar dit ook duidelik gemaak dat die geleentheid na my toe moes kom en nie andersom.  Alleenlik dan sou ek seker wees dat dit ook Sy wil is. 
 
Sowat 3 weke gelede beland ‘n epos uit die bloute in my "inbox" met 'n aanbod om omroeper te wees by Radio Disa.  Ek het daai skerm sit en kyk en kyk en kyk…  Hoe op dees aarde…?  Maar dis presies hoe God te werk gaan.   

Vanaand, 15 Julie 2013, begin ek by Radio Disa, 'n Christen Radiostasie!  Weliswaar aanvanklik net via die internet, maar God is hier verantwoordelik, ek het nie ‘n vinger verroer nie.  Ek gaan aanvanklik 3 skofte doen.  Dis baie met 'n voltydse werk, maar ek glo ook ek sal krag van bo kry.  Maandag, Dinsdag en Donderdagaande 18h00 – 20h00.  As jy wil inskakel via internet, die webblad is www.radiodisa.com Jy gaan sommer heelwat 'ou' stemme herken.

Alle eer aan God.

As daar enigiemand is wat op iets hoop of lank vir iets bid, hier is die getuienis dat Hy ‘n God van Wonderwerke is.  Soos wat hy Isak destyds vir 'n ouerpaar gegee het wat al moed opgegee het, so sal hy ook die onmoontlike vir joudoen.

 

Thursday 11 July 2013

Gee vandag die blomme


Johannes 15 : 12  Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Ons het binne 'n week twee familielede aan die dood afgestaan. Jy kan nie 'n begrafnis bywoon sonder om aan jou eie sterflikheid herinner te word nie.  Niemand van ons weet wie volgende is nie. Juis daarom moet ons blomme uitdeel terwyl ons geliefdes nog daar is.

Soms raak jy so gewoond aan iemand dat jy nie meer komplimente gee of liefde daadwerklik betoon nie.  Elkeen is so besig met sy eie lewe dat jy by mekaar verbyleef.  Daar is krisisse om te oorkom en jy word sodanig in jou eie gedagte- wêreld vasgevang dat jy nie oplet dat jy minder aandag aan iemand gee nie.  Of daardie iemand jou man/vrou, kind, ouers, vriende is, is irrelevant.  Wat wel relevant is, is dat jy jouself tot stilstand moet dwing en regmaak voor dit te laat is.  Jy wil nie met verwyte by ‘n oop graf staan nie. 
 
In retrospek kan ons altyd insien wat die regte ding was om te doen.  Om mekaar lief te hê, is ‘n opdrag van God:  gee vandag die blomme, die aandag, die liefde, die drukkies en sê dat jy omgee, selfs al moet jy dit altyd eerste doen, of die ander wang draai, want ons weet nie een wanneer ons laaste dag aanbreek nie.  Daar word altyd mooi dinge op mense se begrafnis kwytgeraak en dis reg so, maar hoekom doen ons dit nie meer terwyl die persoon dit self kan hoor nie? 
 
Maak iemand se dag vandag deur vir hom/haar te vertel wat jy omtrent hom/haar bewonder of waardeer.  Maak die oproep, reël die besoek. 

Wednesday 10 July 2013

Weet jy wie ek is


Lukas 16 : 15  “Hy sê toe vir hulle: “Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is 'n gruwel voor God.“
Meeste van ons is bekommerd oor wat ander van ons dink.  Ons ken ook die gesegde:  “Dis nie wie jy is nie, maar wie jy ken.”  Hierdie gesegde impliseer dat dit nodig is om belangrike mense te ken om resultate te kry.  Dit bevestig ook dat daar ‘n sekere rangorde onder ons bestaan, die sogenaamde ‘have’s en die have nots’. 
Sommige mense hou daarvan om belangrike name subtiel in hul gesprekke te gebruik, so asof die feit dat hy/sy op voornaam terme is met ‘n so-en-so jou moet laat verstaan met wie jy nou eintlik te doen het.
God is ‘n voorstander van nederigheid.  Volgens die vers hierboverafsku Hy die wat hulself as belangrik beskou.  Jesus het nie met die belangrike mense hier op aarde kom vergader nie.  Ook sy dissipels was gewone feilbare mense.
Daardie titel waarop ons so trots is, maak geen indruk op Hom nie.  Jou status in die gemeenskap, die herehuis teen die bult in die gesogte woonbuurt, jou vloot motors, die indrukwekkende saldo van jou bankrekening,  die omvang van jou besittings…  Niks hiervan gaan vir jou voorkeurbehandeling verseker tydens die oordeelsdag nie, behalwe as jy dit tot eer en verheerliking van Sy Koninkryk aangewend het. 
Stroop jouself van alle eiewaan en buig in aanbidding voor die Enigste Belangrike Persoon. Voor God is die boemelaar en die staatspresident albei mense.

Tuesday 9 July 2013

Oggendwense


II Samuel 23 : 4  “… soos die môrelig as die son opkom op 'n oggend sonder wolke; dit skitter na die reën...”

Mag vandag 'n gewone dag wees volgepak met gewone goete.

'n Koppie koffie wat jy nie self hoef te maak nie,

'n Onverwagte oproep of sms van 'n ou vriend

Groen verkeersligte die hele pad werk toe.

Wakker word van voëltjies wat buite sing.

 Mag die broodrolletjies wat jy koop

Nou net vars uit die oond kom

En jou skoene nie jou kleintoontjie druk nie

Ek hoop jy kry jou karsleutels waar jy dit neergesit het

 Dat jy die sonskyn op jou vel sal voel

 Geniet daardie lekker saamsingliedjie oor die radio

Mag iemand jou 'n verbyloop drukkie gee

 En die hond jou 'n nat welkomlek

 Dat jy nêrens in `n tou hoef te staan nie

Mag iemand jou vra om vir hom 'n guns te doen

  Kyk die reenboog kleure in die sproeier-reën

Ek hoop jy sal stilstaan om aan 'n blom te ruik

Ek hoop jy tel 'n vaal voëlveertjie op

Ek hoop iemand glimlag vir jou omdat jy kaalvoet loop

En eerste die blink aandster gewaar

Ek hoop jy ruik die jasmyn in die wind.

Wanneer jy later terugsak in 'n geurige skuimbad,

Besef dit was 'n dag vol wegkruip-wonderwerke !

Sodat jy vanaand kan terugsit ...

Gekoester, Geseënd, Tevrede!!
 
(epos juweeltjie)

Monday 8 July 2013

Stuur my


Baie mense wil vir God diensbaar wees, maar hulle weet nie altyd hoe of waar om te begin nie. 
Henry T Blackaby het gesê:  As jy vir God wil werk, maar jy weet nie wat om te doen nie, kyk waar Hy besig is en dan val jy langs Hom in.  Dit mag wees dat hierdie gedagte jou bang maak omdat jy voel jy is nie gekwalifiseer of opgewasse vir die taak nie.  Op die vraag of God jou sal vra om iets te doen waarvoor jy nie toegerus is nie, het Henry geantwoord:  “Ja, beslis.  Hoe anders word God verheerlik?”
Jou bereidwilligheid is genoeg vir Hom om die bal aan die rol te sit.  Rol so lank jou moue op.  Matteus 9 : 37  Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.
Mag jou antwoord ‘n eggo wees op Jesaja 6 : 9 Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”
Ons kan nie altyd kies waar ons betrokke wil wees nie, maar ons kan ‘n verskil maak waar Hy ons nodig het.

Sunday 7 July 2013

Opgevoede dwaas


1 Korintiërs 4 : 7  “Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?”

‘n Lied van Bill & Gloria Gaither het my vanoggend tot nadenke gestem.  “If you went to school or college, and you don’t have Jesus, it only makes you an educated fool.” 
Ons prioriteite kan soms so verdraaid wees.  Sonder Jesus is ons net opgevoede dwase.  Pleks dat ons op Jesus fokus, fokus ons daarop om die suksesleer te klim.  Nog ‘n graad, die volgende bevordering, ‘n blinker motor… en niks hiervan besorg aan jou ‘n toegangskaartjie tot die hemel nie.  Daarenteen is daar ewige verlossing vir jou, as jy glo dat Jesus Christus vir jou aan die kruis gesterf het… uit die graf opgestaan het… en die crescendo… dat Hy eendag terugkom om sy kinders te kom haal!
Alles wat ons besit en alles wat ons bereik het, is genadegawes uit die hand van God.  Ja, ons sit skouer aan die wiel, maar sonder die deure wat Hy vir ons oopmaak, is ons tot niks in staat.
Waarop fokus jy? 

Thursday 4 July 2013

Alles wat jy aanpak


Deuteronomium 28 : 8 “Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee.

Kan jy jouself voorstel om enigiets aan te pak en vooraf te weet dat dit suksesvol gaan wees!  Dis wat God beloof.  Hy gaan jou so seën dat alles wat jy aanpak geseënd sal wees.  Nie net party goed nie, maar alles. 

As jy in ‘n put van wanhoop sit, wil ek jou vandag bemoedig.  Die Here sal die seen bevel om oor jou te kom.  Dis nie outomaties nie, maar ‘n belofte.  Laat God eerste plek in jou lewe beklee, en jy sal geseënd wees.  Begin vandag om Hom alreeds te bedank vir elke enkele deur wat Hy van hierdie oomblik af vir jou gaan oopmaak.  Jy gaan nie glo wat jou oë aanskou nie.  Wanneer jou graanskure vol is, sal jy niks kortkom nie. 

Ek het dit vandag in my eie lewe ervaar.  Vir hoe lank nou al, bid ek vir iets spesifiek, maar ek wil dit nie gaan haal nie.  Ek wou seker wees dit is binne God se wil, so ek het gevra dat Hy dit na my toe laat kom.  En daar gebeur dit vandag – uit die bloute daag die epos op met die aanbod – dit wat totaal en al onmoontlik voorgekom het, het uit die lug in my skoot geval. 

Dis hoe God ons verras.  Ek staan nou nog oopmond van verbasing.

Wednesday 3 July 2013

Vra God


2 Kronieke 20 : 4  “en die Judeërs het bymekaargekom om die hulp van die Here te vra”
Toe Josafat hoor van die groot menigte wat teen hulle optrek, het Hy bang geword en by die Here hulp gesoek.  Hierin is ‘n les vir ons opgesluit.  Van bang raak, weet ons, maar anders as Josafat, gaan klop ons by vriende aan vir raad.  Goeie en wyse vriende is kosbaar, maar daar bestaan nie ‘n vriend wat met God kan kers vashou nie. 

Die Skrif leer ons om God in elke aspek van ons lewe te eerbiedig en te vertrou.  Gesels dwarsdeur die dag met Hom.  Laat Hom toe om deurlopend deel van jou lewe te wees, die goed sowel as die sleg.  Dank Hom as dit goed gaan; vra sy lyding as dit sleg gaan.  Hy wil betrokke wees.  Ek dink God moet partykeer verveeld voel, want ons wil so alles op ons eie mag en krag bereik dat daar nie veel vir Hom oor is om te doen nie.   

Moenie so eiesinnig wees nie.  Vra God om jou te help.

Tuesday 2 July 2013

Here, ek weet nie wat ek van U moet vra


Psalm 130 : 2  “luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.”

Kruispaaie, T-aansluitings, doodloopstrate… ons ken hul almal.  Daardie tye dat jy lewensveranderende besluite moet neem en so bang is jy besluit verkeerd.
"Here, ek weet nie wat ek van U moet vra nie... U alleen weet wat ek nodig het... U het my liewer as wat ek myself kan hê... O Vader, gee aan U kind wat hy self nie weet hoe hy dit van U moet vra nie... Ek bring maar net my hart na U en maak dit oop voor U... Amen" ~ Francois Fénelon
Enersyds is hierdie ‘n gebed van hopeloosheid en frustrasie, maar daar is tog ‘n onderliggende toon van hoop.  Wanneer ons nie weet watter kant toe nie, is dit in orde om net aan God oor te gee.   Dis verseker die tye dat God neerglimlag en Sy arms oophou vir jou.  Kom hier, my kind.   Moenie bang wees nie.  Laat dit aan My oor.  Van waar ek sit, kan ek die volle prentjie sien.  En wanneer Hy jou aftel van Sy skoot, sit hy jou op die regte pad neer en jy weet sonder twyfel watter kant toe.
Spreuke 3 : 6 “Ken die Here in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop”

Monday 1 July 2013

Kyk nie angstig rond


Jesaja 41 : 10  “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand”

Diere in gevangenskap het die manier om so op en af teen die draad te stap op soek na ‘n geleentheid om uit te breek.  Vandag kan jy goed identifiseer met daardie optrede.  Jy’s sielsongelukkig in jou werk en alhoewel jy al honderde CV’s uitgestuur het, kry jy nie eens die geleentheid om jouself tydens ‘n onderhoud te bemark nie.  Volgens die huidige arbeidstandaard is jy dalk te oud of jy het ander karakter eienskappe wat jou kanse verskraal, maar kyk nie angstig rond nie.  
God self is besig om jou te versterk, om jou krag te gee om te volhard.  Hoe kan jy faal as die Almagtige God jou ondersteun en help?   Niks is by Hom onmoontlik nie!  Saai jy maar net die saadjies.  Binnekort staan die oes geil op die land en sal jy die vrugte pluk van jou volgehoue harde werk.

Wees nie bevrees nie, want ek is met jou…
 
 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...