Thursday 29 August 2013

As jou naam nie gelees word nie...

Markus 13 : 26  Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit.


Kan jy jou dit voorstel?  Niemand van ons weet wanneer Hy weer kom nie, maar ons weet wel dat Hy definitief weer kom.  Hy sal kom op die wolke, elke menslike oog sal Hom sien...  

Waarmee sal jy besig wees as Hy kom?  Gaan jy lê en slaap of sit jy by jou lessenaar.  Is jy op pad werk toe of dalk besig met ‘n belangrike transaksie?  Is jy by ‘n ander persoon se eggenoot, dalk besig met huiswerk of in ‘n belangrike vergadering?  Jy’s dalk op die sportveld, op die telefoon, kyk TV of jy’s in die bad.  Party is dalk in die kroeg, ander in die tronk.  Is jy en jou eggenoot dalk besig om op mekaar te gil?  Is jy dalk op die punt om by ‘n huis in te breek...  

En dan begin Hy die name op die rol van die lewe aflees;  name van diegene wat hemel toe gaan...  In afwagting wag jy, hoop jy, maar helaas... jou naam word nie gelees word nie...  Dis nog nie te laat nie.  Maak seker dat jy gereed is vir Sy koms.

Wednesday 28 August 2013

Sing, sing


1 Kronieke 16 : 9  Sing liedere, sing tot sy eer, vertel van al sy magtige dade.


Sing vandag vandat jy jou oë oopmaak.  Sing uit volle bors.  Sing ‘n lied vir God, ‘n lied wat uit jou hart uit kom en daarvan getuig dat jy in sy sonskyn leef.  Probleme sal daar altyd wees, maar as jy lekker sing, trek dit jou aandag van jou probleme af.  

Meeste liedere se woorde het ‘n pragtige boodskap.  As jy nie self kan sing nie, sit die radio aan en neurie saam.  Jy kan selfs in jou gedagtes sing as jy dalk met die publiek werk en nie hardop kan sing nie.  Sing op pad werk toe, sing in die hysbak, sing agter jou lessenaar, sing op pad huis toe, sing terwyl jy besig is met die mees vervelige takies, sing in die bad/stort, sing as jy in die bed klim.  

Kry vir jou ‘n ipod en prop dit in jou ore as ander kla.  Jy sal verbaas wees om te sien hoe dit jou gemoedstoestand lig en jy Sy sonskyn op jou voel. En so gaan jy sing-sing deur die lewe.

Tuesday 27 August 2013

Liefde

Hooglied van Salomo 8 : 6 Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur.


Die liefde bly ‘n magiese wonder waarna almal smag.  Dit is ‘n basiese behoefte.  Liefde is die brandstof wat ons aandryf.  Daar word beweer dat kinders wat bemind is en ouerlike liefde ervaar, beter presteer op skool as diegene wat uit ongelukkige huise kom.  

Jong dogtertjies droom van hul droomman met wie hul eendag vir altyd gelukkig sal saamleef.  Daarom is die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou so kosbaar.  Net soos ‘n tuinier die plantjies vertroetel en versorg, so moet jy daagliks aan jou huwelik werk.  Die beloning van ‘n mooi tuin, kom nie sonder sweet en swoeg nie en net so gaan ‘n huwelik ook nie vanself floreer nie.  \Onkruid skiet maklik wortel en kan jou tuin oorneem.  So kan 'onkruid' ook jou huwelik ontsier.  Werk daagliks daaraan om jou huwelikstuin 'onkruidvry' te hou.

Praat, deel, kommunikeer, respekteer, vertrou, lag saam, dien God saam...  Enige huwelik beleef  krisisse.  Dan is dit verblydend om te weet dat God die Lighuis is wat julle sal waarsku dat jul gevaar loop om te strand.

Sunday 25 August 2013

Vreugde

Spreuke 12 : 25 Bekommernis druk 'n mens neer; 'n vriendelike woord vrolik hom op.

Vanmiddag op pad huis toe, het ek gou by die supermark gestop vir ‘n paar items.  Teen Donderdag het die week sy tol op meeste van ons geeis, so daar was nie veel tekens van vreugde op die mense om my se gesigte te bespeur nie. 

Terwyl ek in een van die gangetjies stap, hoor ek iemand sing en toe ek omkyk kom ‘n Downsindroom meisie (ongeveer 20 jr oud) verbygehuppel met haar trollie.  Haar pa stap rustig agter haar aan.  Hulle speel ‘n speletjie en sy skaterlag omdat hy haar nie kan vang nie.  By die kassiere gekom, is pa en dogter reeds daar.  Die lagbui wat kort-kort uit die engelkind borrel, is ‘n lag wat vaag bekend is, een met soveel ongekende, opregte uitbundige vreugde wat uit haar diepste binneste kom.  Dis asof die hele winkel tot stilstand kom.  Almal staar in verbasing na die toneeltjie en ek glo menige van my mede inkopiegangers het haar, haar sorgelose lag beny op daardie oomblik.  Die lag was so aansteeklik dat almal dit staan en indrink het met ‘n glimlag op hul gesigte.


Ten spyte daarvan dat vreugde een van die vrugte van die Gees is (Gal 5 : 22), het ons verleer om te lag.  Kommer het ons vreugde gesteel.  ‘n Downsindroom meisie het vandag reggekry wat baie sielkundiges oor droom, om ‘n groepie mense vir ‘n paar minute weer ware vreugde te laat ervaar en van enigiets anders te vergeet.  Dis die uitwerking wat jou vreugde op ander kan hê.  Maak iemand se dag vandag.  Lag uitbundig.

Thursday 22 August 2013

Groen gras

Maleagi 2 : 16  Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

Dis hartseer en ontstellend om te sien hoe maklik huweliksmaats deesdae swig onder die groen gras wat aan die anderkant van hul huweliksheining groei.

Huweliksbeloftes is nie leë woorde nie, dis ‘n heilige belofte wat voor God afgelê word.  God gaan die verbreking van hierdie beloftes nie ligtelik opneem nie – Hy haat egskeiding. 

Al lyk die probleme in jou huwelik ook hoe onoorkombaar, vra God om julle te versoen.   Daar is tye dat God egskeiding toelaat, maar egbreuk is nie een daarvan nie.  Wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

Dalk is jy die derde party in ‘n huwelik.  Wil jy nie vir een keer die minste wees en jou gesteelde geluk tweede stel nie?  Stuur hom / haar terug na hul huweliksmaat.  Daardie huwelik staan ‘n kans as jy uit die prentjie tree.


Die gras is gewoonlik net groener aan die anderkant omdat dit meer water kry.  Neem jou huweliksbeloftes ernstig op en begin dit water gee sodat daardie kwynende huweliksplantjie weer kan opstaan en floreer.  Die grootste geskenk wat jy jou kinders kan gee, is om vir hul ma/pa lief te wees, soos jy voor die kansel beloof het.

Wednesday 21 August 2013

Mans

Genesis 1 : 26 Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”
Mans is besig om ‘n identiteitskrisis te ontwikkel.  Aan die een kant moet hulle hard wees – ‘n man huil nie.  Aan die ander kant word daar van hulle verwag om meer betrokke te wees by die kinders en die huishouding.  En dis goed so.  Meeste vroue is dankbaar dat hul mans deesdae meer huislik is en nie skaam is om hul gevoelens te wys nie.

Die krisis ontstaan met al meer mans wat hul werk verloor en nie meer die broodwinner is nie.  Hul voel nie meer soos ‘n man nie omdat hul nou tuis bly waar hul kos maak en huis skoonmaak.  Dit wat hul as man tot nou toe gedefineer het – om vir hul vrou en kinders te sorg – het oornag verander.  Hul manlikheid is aangetas en ongelukkig soek baie van hierdie mans troos by die bottel.

Vrouens kan ‘n groot rol speel om mans weer hul waardigheid terug te gee.  Ondersteun hom en laat hom steeds voel soos die een wat heers.  Soms word die rolle omgeruil, maar dit hoef nie die kardinale rol van manwees om te ruil nie.  Hy is steeds die hoof van die huis en die een na wie almal opsien.


Die tyd het aangebreek om ‘n spesie wat op die rand van uitsterwing staan te red – ons mans.

Tuesday 20 August 2013

Skop

Matteus 7: 2  met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

Hoekom is ons so lief om iemand te skop terwyl hy alreeds lê?  Dit bly vir my hartseer om te sien hoe ons oordeel sonder al die feite.  Meeste van tyd was ons nie eens daar nie, maar berus ons oordeel op hoorsê of dit wat ons in die koerante lees.

‘n Mens kan jouself afvra hoe jy sou voel as jy moes sien of hoor hoe ander jou oordeel sonder om met jou daaroor te gesels en jou weergawe van die storie te hoor.

Dalk is dit omdat dit die aandag aflei van ons eie sondetjies.  Ons is immers nie uitgevang soos Joost nie.  Of ons het darem nie so ‘n humeur soos die media wil voorgee Oscar het nie. 

As die skoen aan die ander voet was; as dit ons was wat al die negatiewe aandag moes ervaar en verwerk terwyl dit almal rondom ons affekteer en seermaak, sou dit dan anders gewees het?


Voor Oscar se hofsaak, het borge met graagte hul produkte aan sy naam en roem gekoppel.  Nou onttrek hulle die een na die ander.  Het Oscar verander?  Nee,  hy’s steeds die jongman sonder bene wat sy Godgegewe talent ontdek en ontwikkel het na sy bene geamputeer is.  Gaan die borge hom weer nader as hy onskuldig bevind word?  Ek hoop hy is dan grootgenoeg om hulle nie met dieselfde maat te oordeel  nie.

Monday 19 August 2013

Afgode

Levitikus 19 : 4  Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God

Alhoewel ons nie meer afgodsbeelde maak nie, beteken dit nie dat ons nie afgode het nie. 

Vir party van ons is ons diere afgode. Hulle word aangetrek, menskos gevoer en slaap selfs by ons in ons bed.

Daar is diegene wat van sport ‘n afgod maak.  Geen wedstryd word gemis nie.  As hul na ‘n wedstryd gaan kyk, is hulle aangetrek in hul span se kleure, die gesigte word geverf en hul moedig hul span met oorgawe aan.  Voor die wedstryd en lank daarna word oor niks anders gepraat nie.

Party van ons het van ons huise afgode gemaak.  Die huis word versier met net die beste en duurste.  Vriende is te bang om te kom kuier of voel ontuis.

Ander maak weer van kos ‘n afgod.  Alles draai om kos.  Elke maaltyd word ‘n ritueel.  En wanneer daar nie geëet word nie, word daar aan kos gedink of daaroor gepraat.


Dalk beskou ons nie enige van hierdie as afgode nie.   ‘n Goeie toets is om jouself af te vra of jy dieselfde of meer geld, tyd of energie aan God afstaan.  Indien nie, is dit dalk tyd om jou prioriteite in heroorweging te neem.

Sunday 18 August 2013

Moeg gespartel

Eksodus 23 : 22  As jy goed ag gee op hom en alles doen wat Ek sê, sal Ek die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders.

So dikwels probeer ons op eie krag die probleme van die lewe uitsorteer.  Ons is moeg gesukkel en moeg gespartel.  En om eerlik te wees, al die gestoei en spartel werp nie juis veel vrugte af nie.  Nes ons die een vuur doodgeslaan het, vlam ‘n ander weer iewers op.

Rekeninge stroom in en die begroting wil eenvoudig nie klop nie…  Ons speel die lotto, dobbel by die casino, maar die geluksgodin bly ons ontwyk…  Ons is ongelukkig by die werk, maar kan eenvoudig nie ‘n ander pos kry nie…  Die man of vrou wat ons hele lewe was, het ewe skielik belangstelling in ons verloor…  Ons baas is onredelik en onregverdig…  Die kinders by die skool boelie ons…

Haal jou oog van die probleme af ek fokus op God.  Die woorde in Eksodus 23 is kragtig.  Jou vyande en teestanders staan nie ‘n kans nie. 


When all else fails, read the instructions… Jou eie pogings werp nie vrugte af nie, lees die instruksies (Die Bybel) en glo aan Sy beloftes. Ek kan nie jou probleme wegneem nie, maar ek kan jou verseker dat God daartoe in staat is… as jy Hom genoeg vertrou.

Thursday 15 August 2013

Oud & in die pad

Psalm 71 :9 Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud  geword het nie, moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie.
Onthou jy nog jou kinderdae?  Jou ouers wat daar was vir jou toe jy die eerste dag skool toe is… nagte by jou omgesit het terwyl jy masels of waterpokkies gehad het… vir skoolklere gesorg het… kos op die tafel… jou einas beter gesoen het… jou getroos het soos net ‘n ouer kan… langs die sportveld was… wat hulself tekort sou doen sodat jy kon kry wat jy nodig gehad het… wat jou gehelp het om op jou voete te kom… en gesien het hoe jy sukses bereik… wat so trots is op jou en alles wat jy bereik het dat dit al is waaroor hulle kan praat…

Wanneer laas het jy hulle besoek?  Wanneer laas het jy tyd met hul spandeer?  Dalk is jy te besig – jy het eenvoudig nie tyd nie.  Net jy sal weet.  Dalk was jou ouers nie juis model ouers nie enis dit die rede hoekom jy hul vermy.

Dit breek my hart om te sien en hoor hoe mense hul ouers eenkant toe stoot.  Die persoon wie aan jou die lewe geskenk het, die persoon wat die rede vir jou bestaan is, is oorbodig.  Ons word almal oud en ek glo nogal aan die gesegde: “wat jy saai, sal jy maai.”


Daar word ook gese: “ Wees goed vir jou kinders, want hulle moet eendag jou ouetehuis kies…”

Wednesday 14 August 2013

Om jou volle potensiaal te bereik

Job 6 : 13 Self is ek tot niks in staat nie.

"Jare gelede het 'n jong swart seun in Cleveland grootgeword in 'n huis wat hy later beskryf het as "arm in materiële waarde, maar ryk in geestelike waardes..."  

Eendag het 'n beroemde atleet, Charlie Paddock, hulle skool besoek om met die leerders te praat...  Op daardie tydstip is Paddock beskou as die vinnigste atleet in die wêreld.  Hy het aan die leerders gesê: "Luister!  Wat wil jy word?  Noem dit, en God sal jou help om dit te wees..."  Een seuntjie het op daardie dag besluit dat hy ook die vinnigste mens op aarde wou word.

Die seun het na sy afrigter gegaan en hom vertel van die nuwe droom.  Die afrigter het vir hom gesê: "Dit is goed om 'n droom te hê, maar om jou droom te bereik sal jy 'n leer daarheen moet bou...  Die eerste trap is beslistheid.  Die tweede trap is toewyding.  Die derde trap is dissipline.  En die vierde trap is gesindheid."  Die gevolg van daardie inspirerende aanmoediging is dat die jong man voortgegaan het en vier goue medaljes in die 1936 Olimpiese Spele gewen het.  Hy het die 100m naelloop gewen en het die Olimpiese rekord en wêreldrekord vir die 200meter oortref.  Sy verspringrekord het 20 jaar gestaan - Sy naam was Jesse Owens..."  ¬ A.T Schofield


Die sleutel hier is dat Jesse gehoor en geglo het dat hy alles kon bereik omdat God hom sou help om sy drome te bewaarheid. Waaroor droom jy?  Dalk het jy selfs al moed opgegee met jou drome.  Glo jy dat God jou sal help om jou drome te verwesenlik?

Tuesday 13 August 2013

Lig in die duisternis

Psalm 55 : 23 Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.
 Ek lê jou vandag voor GOD neer
Hy ken jou naam, jou lag, jou seer
Hy hou jou vas, wil vertroos
Teen Sy bors druk en liefkoos
Hy ken omstandighede, wat jou pla
Hy hou jou hand, Hy wil jou dra
Hy neem elke Las, kommer, en vrees
Ek bid vandag dat jy Sy Gees ervaar
Dat jy staande sal bly, Hy is daar
Moenie kyk na die berg voor jou
Moenie dat versoekings jou onderkry
Jy is 'n Koningskind, geroep by die naam
Hy het jou lief, elke treë stap Hy saam
Jou hand in Syne, Hy sal nooit laat Los
My gebed is dat Hy jou seën met alles wat mooi is
Liefde, vrede, vreugde, wysheid, vriende,
Glimlaggies, sonskyn, & gawes van die Gees.


(Gedig deur Van Heerden)

Monday 12 August 2013

'n Christelike huis


2 Timoteus 1 : 5  Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

Baie van ons is geseënd omdat ons in ‘n Christelike huis grootgeword het.  Ek onthou hoe my ouma by ons kom kuier het toe ek klein was.  Die lekkerste van ouma se kuier was dat ek en sy my  kamer gedeel het met sulke kuiers. 

Sy was al te koud om te kniel, maar saans as sy die lig afgesit het, het sy regop bly sit op die bed – bene lank voor haar uitgestrek en haar hande saamgevou, dan het sy saggies gebid.  Haar gebede het my absoluut gefassineeer, want sy’t met God gepraat asof sy Hom geken het.  Nie dat dit nodig was nie, maar Ouma se gereelde gesprekke met God, het verseker dat Hy alles van almal van ons ook geweet het.  Dis omdat sy met grafiese besonderhede oor elkeen bid - alles word met Hom gedeel.  Sy’t seker gedink ek slaap of dalk was sy so ingestel op God dat sy nie besef het ek kan haar hoor nie. Daarna sou ouma yskoue water drink uit haar silwer waterbeker en oomblikke later in ‘n diep slaap verval. Sorge sou haar nie uit die slaap hou nie, want alles was nou in God se hande.

Van ‘n baie jong ouderdom het my ma vir my uit die Kinderbybel voorgelees en die karakters het vir my lewend geword.  Die prentjies daarby het wondere gedoen vir ‘n ryk kinderverbeelding soos die reuse tros druiwe waarmee Josua hulle uit Kanaan teruggekom het (Numeri 13). 

My pa het weer gesorg dat almal Sondag na Sondag gestewel en gespoor kerk toe is en Sondagskool bygewoon het. Vandag nog volg ek pa se voorbeeld:  "Ek en my huis, ons sal die Here dien."


Elkeen van ons het die geleentheid om ons geloof oor geslagte heen te laat voortleef.  Die vraag is net of ons die geleenthede gebruik.  Stel ons ‘n voorbeeld vir ons kinders wat hul motiveer om God te dien?  Watter tradisies skep ons?

Sunday 11 August 2013

Vrees hou jou terug

2 Timoteus 1 : 7 Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

God se wens vir ons is om vooruit te gaan, om nuwe hoogtes te bereik en nuwe fases in die lewe te betree.  Die vyand is berug daarvoor om jou met gedagtes van mislukking te vul.  “Sê nou maar jy misluk?  Wat sal die mense van jou dink?  Jy is in elk geval nie in staat tot so iets nie.  Dis nie vir iemand met jou agtergrond beskore nie.”  Met vrees laat hy jou terugkrimp en bly waar jy is.

Ons weet dat opregte liefde, soos God s’n vir ons, enige vrees kan uitwis.  Vrees hou jou terug van wie jy bestem is om te wees.  Met God kan jy immers ‘n bende stormloop.  Nooi Hom saam en vra na Sy wil vir jou lewe.  Deur Sy Gees, is ons gevul met krag, liefde en selfbeheersing.

Wednesday 7 August 2013

Hoe om versoeking te weerstaan

1 Korintiërs 10 : 13  Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

Daagliks kruis versoekings ons pad.  Iemand keer te veel kleingeld aan ons uit.  Hou ons dit of gaan ons terug?  ‘n Paar kollegas is besig om lekker te skinder.  Word ons ingetrek of stap ons weg?  Vriende gebruik drank en/of dwelms.  Staan ons vas onder groepsdruk of swig ons.  Daar is ‘n kollega by die werk wat ons laat goed voel terwyl ons huweliksbootjie deur stormwaters vaar.  Geniet ons die aandag of bly ons getrou aan die persoon aan wie God ons gebind het? 

Versoeking het verskillende baadjies aan.  Uit die bloute word jy ‘n pos aangebied wat uiters aantreklik lyk gemeet aan dit wat jy tans het.  Is dit waar God jou wil hê?  ‘n Agent bied aan om jou huis te bemark teen ‘n aanloklike prys.  Is dit binne Sy wil?


Deur God se genade en beloftes in die teksvers hierbo, kan ons versoekings weerstaan.  Lees dit en bid dat Hy uitkoms sal gee as versoeking hom voordoen.  Vra na God se Wil.  Lees Sy Woord en jy sal weet wat die regte ding is om te doen.

Tuesday 6 August 2013

Maak jou mond wawyd oop

“… maak jou mond wyd oop sodat ek dit kan vul…” Psalm 81 : 10 NLV
As jy gereed is vir God om jou behoeftes en verlangens te bevredig, moet jy jouself oopmaak vir hom sodat Hy dit kan doen.  Ons sit dalk toemond, met oogklappe op en Hy wil, maar kan nie ons honger stil nie.
Klein voëltjies wat honger op die mamma wag se mondjies is wawyd oopgesper in afwagting.  Hulle vertrou dat die mamma kos sal gaan haal en vir hulle bring.  Om die waarheid te sê, dis wat hulle verwag.  Net so behoort ons ook ons geestelike monde oop te maak in afwagting op God.

Negatiewe gedagtes en denke maak jou geestelike mond toe en ontoeganklik vir Hom.  Die baba voëltjie gee nie om waar die kos vandaan kom nie, solank die mamma net kos bring.  Hy hou net sy bekkie wawyd oop en skree in afwagting.  Ons kan ook so wag, want ons weet dalk nie hoe of wanneer God ons te hulp gaan snel nie, maar dit beteken nie dat Hy nie besig is in die agtergrond nie.  Vertrou op Hom en weet dat Hy jou nooit sal laat omkom van honger nie.  Hy is te lief vir jou.

Monday 5 August 2013

Wipwaentjie-rit van die lewe

Markus 4 : 39  Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom
Ons almal ken tye wanneer die lewe jou woes heen en weer skommel sodat jy later in ‘n hoekie wil gaan sit en jou bloukolle vertroetel.  Die lewe is nou maar een maal nie ‘n piekniek nie en om die minste te sê, uiters onvoorspelbaar.  Nes jy dink nou’t jy gearriveer, kry jy ‘n verassing waarsonder jy goed sou kon klaarkom.  Jou kind raak by dwelms betrokke, jou man/vrou is nie meer tevrede met jul jarelange huwelik nie, jou verlowing / troue word afgestel, daar vind personeelvermindering plaas, jy word met ‘n terminale siekte gediagnoseer.
Ons almal hanteer trauma op verskillende maniere en die geleerdes praat van ‘n 'change curve' waardeur jy moet gaan.  Daar deur-gaan, moet ons.  Wat maak jy as hierdie, of enige ander emmer koue water jou tref?    Party van ons kry woedeaanvalle, ander onttrek, party huil.  Soos ons deur die krisis leef, ervaar ons verskillende emosies. 
Jesus was op ‘n dag saam met die dissipels in ‘n boot toe hulle deur ‘n storm getref word.  Die dissipels was rasend bekommerd terwyl Jesus geslaap het.  Toe die dissipels hom wakkermaak, het hy net gepraat:  “Hou op!  Bedaar!” en onmiddellik het die wind gaan lê.

Op die wipwaentjie-rit van die lewe, gaan ons angsbevange oomblikke beleef, bekommerd wees en alleen voel, maar dan onthou ons dat die Bybel sê dieselfde Gees wat Jesus uit die dood laaat opstaan het in ons is.  Dit beteken dat ons oor dieselfde wonderwerkende krag beskik.  Jy het die reg om vrede oor jou huis, jou gedagtes en jou familie uit te spreek.  Jy is tot alles in staat deur Hom wat jou die krag gee.

Sunday 4 August 2013

Om te getuig


Lukas 21 : 13 Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om van My te getuig.

Sondagoggend in ons gemeente het iets uitsonderliks gebeur.  ‘n Groep Graad 8 & 9’s, het getuig van hul ervarings na hul ‘n Toerustingkamp bygewoon het.  Op die kamp is hul toegerus hoe om ander oor Jesus in te lig.  Hul het ook die geleentheid gehad om jeug gevangenes te besoek, wat ‘n geweldige indruk op hul gemaak het, maar wat vir my uitgestaan het, is dat hierdie groepie in ‘n winkelsentrum ingegaan het en die moed gehad het om na wildvreemdelinge te stap en met hul oor Jesus te praat.

Hoeveel van ons sou dit gedoen het?  Party van ons sal nie eens met ons vriende of familie oor Jesus praat nie. Daar is seker goeie redes hoekom ons dit nie doen nie, maar dis nie wat God van ons verwag nie.  Ons moet die Woord uitdra, want mense wil nie meer Kerk toe gaan nie.  Mense het God nie meer nodig nie en dis omdat ons nie ons kant bring nie.

Hierdie groepie kinders het menige volwassene hul koppe in skaamte laat sak. En wat meer is, dit het nie daar geeindig vir hul nie.  Hulle het Gebedsgroepe en Bybelstudiegroepe in hul skole kom stig.  Hulle is opgewonde en vuur en vlam vir Jesus. 
 
Wat is jou verskoning?

Thursday 1 August 2013

Nederigheid

Filippense 2 :3 Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

Die president van Amerika het eens op ‘n tyd ‘n sekere stad besoek waar ‘n groep soldate gesweet het om ‘n boom wat omgeval het uit hul pad te verwyder.  Die korporaal het hul aangepor om harder te probeer, maar hulle kon dit eenvoudig nie beweeg nie.
‘n Vreemdeling wat op sy perd verbygery het, stop en beveel aan dat die korporaal moet help, want dan sal hulle dit kan regkry.

Natuurlik antwoord die korporaal toe dat dit nie sy werk is nie.  Dis wat soldate doen.  Korporaals gee bevele.  Net daar klim die vreemdeling van sy perd af en help die soldate om die boom uit die pad te sleep.  Toe hulle die tak uit die pad gesleep het, klim hy terug op sy perd en sê:  “Volgende keer, roep die Hoof van die Weermag.”
Eers later sou die korporaal uitvind dat die man George Washington was, die President van Amerika, wat ook die Hoof van die Weermag is.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...