Tuesday 29 April 2014

Kan jy my loof en prys ten spyte van...?



Hebreërs 2 : 13  Ek sal altyd op Hom vertrou

Jare gelede, tydens die Kongolese rebellie, het ‘n Britse sendingdokter, Helen Roseveare, na Afrika gekom omdat sy geglo het dat sy hier ‘n verskil kan maak deur haar naaste te dien.  Sy het die gerief van die beskawing, met goed toegeruste hospitale agtergelaat en in Afrika haar Christenskap en geloof kom uitleef. 

Iemand wat so ‘n toonbeeld van ‘n Christen is behoort tog ongekende seën en beskerming te geniet, sou jy dink.  Ongelukkig het sy ook die rou onbeskaafdheid van Afrika in al sy felheid ervaar.  Sy is verkrag, aangerand en wreedaardig behandel.  

In latere kommentaar het sy gesê, om dit wat met haar gebeur het te verwerk, sy haarself ‘n vraag moes vra asof die vraag direk van God afkomstig was:  “Kan jy my loof en prys ten spyte van wat ek oor jou pad gebring het, al verduidelik ek nooit vir jou hoekom dit gebeur het nie?” 

Ons vra so maklik:  “Ek weet nie hoekom God my so swaar laat kry nie?  Ek gaan kerk toe, ek gehoorsaam Sy gebooie, ek gee vir ander… hoekom moet ek dan so ‘suffer’? Ware insig beteken dat ons besef dat ‘n Christen nie gevrywaar word teen onverklaarbare onregverdigheid nie, dat ons die goed sowel as minder goed van God moet aanvaar, want as ek Hom werklik vertrou, sal ek weet dat Hy alles ten goede laat meewerk.

Môre is Werkersdag.  As jy ongelukkig in jou werk is of voel dat jou baas jou onregverdig behandel... vertrou God... daar is 'n baie goeie rede hoekom jy op hierdie plek in jou lewe is.

Monday 28 April 2014

Alleentyd



Numeri 8 :14 Jy moet hulle van die res van die Israeliete afsonder dat hulle aan My kan behoort.
Henri Nouwens het alleenwees genoem “die smeltkroes wat verandering bewerkstellig.”

Soms is dit nodig om jouself af te sonder;  om alleentyd met God te maak.  Wanneer ons onsself so afsonder, kry ons tyd om te hoor wat God vir ons wil sê en ons ervaar ‘n nabyheid wat ongetwyfeld heilig is.  Die uitwerking van hierdie stiltetyd met God is soos vir iemand in ‘n woestyn om op ‘n oase af te kom.
Tydens hierdie alleentyd, kry ons dan die geleentheid om onsself baie goed te leer ken en ons sien raak wat ons moet verander.

Om alleen te wees, is verseker nie maklik nie, want niemand wil eensaam wees nie, maar dis ‘n ander alleenwees waarvan ons hier praat, want jy’t God by jou.  Elke Christen het nodig om selfondersoek in te stel, so ‘n bietjie voorraadopname te doen en seker te maak ons voldoen nog aan ons lewensdoel op aarde.  Soos jy weet het God met jou lewe ‘n doel en jy sal net vasstel wat jou doel is as jy met God daaroor praat.

Selfs tussen ander mense is daar tyd vir alleenwees. So lief as wat ek daarvoor is om radio te luister, veral in die verkeer, skakel ek soms die radio af en dan gesels ek sommer net met God.  Dis ons gehaltetyd, en het 'n heerlike kalmerende invloed op my gemoed.  Probeer dit gerus en kyk wat ‘n verskil dit in jou lewe kan bewerkstellig.

Thursday 24 April 2014

Maak jy 'n verskil?



Maleagi 3 : 18 Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie
Timson was egter nie altyd suksesvol nie. Op ‘n stadium het hul die maatskappy verloor.   Die maatskappy wat dit oorgeneem het, het gou agtergekom dat sukses afhang van die teenwoordigheid van ‘n Timson en daarom het hulle John Timson gesmeek om terug te kom.  Binne enkele jare was hy in staat om die nuwe eienaars uit te koop en sy doelwit bereik om Timson terug te kry in die familie.  En soos ek gister vertel het, is hul uiters suksesvol is.  
John het ook besef dat die tyd aangebreek het om die leisels aan sy seun oor te gee.  Die jong James het revolusionêre idees wat die maatskappy tot nuwe hoogtes voer.  Hulle het nou gediversiviseer en hul reeks winkels wissel van die herstel van skoene, sleutelmakery, fotografie en die herstel van horlosies. Hy het hul kantore herontwerp en die mikpunt was om dit ‘n plek te maak waarna jy uitsien om die dag deur te bring, want ‘n gelukkige werknemer is meer produktief.
James glo jy kan geld maak en jou integriteit behou.  In sy eie woorde:  “You can be nice and make money.”
Die familie glo ook om hul geld te gebruik om ‘n verskil in ander se lewens te maak.  John en sy vrou het 3 eie kinders, 2 aangenome kinders en het oor die jare 90 kinders in pleegsorg geneem.

Wednesday 23 April 2014

Behandel jul slawe met geregtigheid



Efesiërs 6: 9 En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.
William Timson het Timson in 1865 gestig.  Vandag is die maatskappy in die hande van die 5de generasieTimsons.  Hulle het meer as 960 winkels regoor Engeland met ongeveer 2600 personeel, waarvan 134 oud prisoniers is.

James Timson glo dat daar baie goeie mense in die tronk sit wat of onskuldig is, of werklike berou ervaar vir wat hul gedoen het en daarom net ‘n geleentheid nodig het om weer van voor af te kan begin en ‘n aanwins vir die samelewing te wees.  Sonder ‘n werk, val hul gou weer terug in misdadige bedrywighede. Daarom besoek hy een maal per jaar die tronk waar hy onderhoude met moontlike kandidate voer.  Oor die jare het hy agtergekom dat hul dikwels beter werknemers is as diegene wat hy van die straat af aangestel het.

Die maatskappy glo ook dat jy na jou personeel moet omsien, daarom kry personeel die dag af op hul verjaarsdag en hul mag vakansies gebruik maak van die maatskappy se vakansiehuise.

Hul glo ook in ‘n “upside-down” bestuurstel.  Dit beteken werknemers is verantwoordelik vir hul winkel en bestuur vertrou hul – geen mikrobestuur nie.

Hoe verfrissend sal hierdie benadering nie in Suid-Afrika wees nie?  Ek kry die gevoel dit gaan net oor wins en dividende en dat werknemers maklik vervangbaar is.

Dit gaan nie oor die skoene wat jy dra nie, maar wat jy daarin doen - Michael Jordan

Tuesday 22 April 2014

Bid gedurig

Thessalonicense 5 : 17 Bid gedurig. 

Wie hou nie daarvan om ‘n oproep te kry nie? Om te weet dat iemand aan jou dink… dat daar iemand is wat met jou wil praat… iemand wat belangstel in wat jy doen… of sommer net met jou te gesels. Veral vrouens sal ook weet hoe terapeuties dit is om ‘n vriendin te skakel en sommer net jou hart uit te praat… en dat sy luister.

God wil ook van jou ‘n ‘oproep’ ontvang. Hy sit en wag daar by die ‘telefoon’ en hoop dat jy sal skakel. Natuurlik weet God waarmee jy worstel en Hy weet waardeur jy gaan, maar dis nog steeds jy wat op jou knieë moet gaan en Hom aanroep. Die wonder is dat God altyd beskikbaar is en luister sonder om te kritiseer. Hy hoor selfs dit wat jy nie sê nie. En dis veral wanneer jy Hom vra om in te gryp dat Hy kan opstaan en moue oprol om dinge vir jou te laat gebeur.

Soms dink jy dalk dat jou probleem te eenvoudig is om met God te bespreek of jy het nou al soveel keer ervaar dat niks in jou lewe regloop nie dat jy God ook nie met jou probleem vertrou nie.

Lees dan Psalm 34 : 16 Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep. Dit maak nie saak hoe ontspoor jou lewe op die oomblik is nie… of jy dwelms gebruik… of jy moord gepleeg het… of jy gesteel het… of jy ‘n wit leuentjie vertel het… of jy ‘n verkeersreël oortree het nie…

Wanneer jy ware berou toon en God om vergifnis vra, sal Hy jou vergewe en jou hulpgeroep beantwoord. Jy sal verstom staan as jy aanskou waartoe God in staat is. Maak daardie oproep - bid gedurig.

Monday 21 April 2014

Die leë graf



Matteus 28 : 6  “Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het.

As ek een van diegene was wat Hom verhoor, vervolg en gekruisig het, sou ek darem regtig senuweeagtig gewees het as ek sou hoor Hy het uit die dood opgestaan.  

Jesus se opstanding het egter niks met wraak te doen nie.  In vers 8 lees ons van die ontsaglike blydskap oor die leë graf.  En skielik verskyn Jesus voor die vroue en groet hulle doodnormaal.  Die Bybel sê hulle het na Hom gehardloop en sy voete vasgegryp en Hom aanbid. En Jesus se laaste versekering:  “Julle hoef nie bang te wees nie.”  Omgee-God tot die einde!

Daarmee was Jesus op pad na Galilea om sy dissipels te ontmoet.  Vers 18  God sê toe:  God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.  Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het.  En weet vir seker:  Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Wednesday 16 April 2014

Die Lam word geslag



Matteus 27 : 46 “Eli, Eli, lema sabagtani,” wat beteken: “My God, my God waarom het U my verlaat?”

Kan jy jou voorstel om jou lewe te lei as Seun van die Allerhoogst?.  Spesiaal… geliefd… uniek… maar ook met die wete dat jy eendag tussen mense op aarde sal moet gaan tyd deurbring… mense wat jy tyd gehad het om dop te hou en geweet het hoe hul is.  Om ook te weet dat wanneer jy die wêreld binnekom, dit nie in luukse sou wees, maar in eenvoud en as kind van doodgewone mense.  Geen paleis vir die Seun van God… geen spesiale behandeling… en die vreeslike wete dat jy uiteindelik aan ‘n kruis vir hierdie mense sou moes sterf.

Ons probeer tog ons kinders beskerm en die lewe vir hul so gemaklik moontlik te maak, maar God het Sy Seun die aarde in sy felle werklikheid laat ervaar.  Dalk is al wat Jesus deurgedra het die wete dat ook dit sou verbygaan… dat Hy uiteindelik die dood sou oorwin en sou terugkeer na Sy regmatige plek aan die regterhand van God.

Hoe dit ookal sy, dit was ‘n verskriklike einde vir iemand wat net goed gedoen het in al Sy tyd op aarde.  Waar was al daardie mense wat hy genees het?  Waar was die skares wat Hom vereer het en gevolg het?

Laat ons Hom loof dat Hy die moed gehad het om deur te druk en vir ons sondes aan die kruis te sterf.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...