Sunday 31 August 2014

Lentedag!



Hooglied 2:12  Daar is bloeisels in die veld, dit het tyd geword om te sing
Lentedag!  Bloeiseltyd…’n tyd van nuwe begin… hoop op die Somer… tot siens aan die Winter…  ‘n Tyd van oor begin…
Lentedag laat nie almal uit hul vel spring van vreugde nie.  Vir meeste is dit maar net nog ‘n dag… ‘n dag vol uitdagings en probleme… ‘n dag waarteen daar opgesien word.   Of dit nou is oor jou liefdeslewe wat net nie op dreef wil kom nie… of dit nou oor jou motor is wat al weer probleme gee… of dit nou oor daardie klein jakkalsies is wat die wingerd verniel… vandag kan ‘n nuwe begin wees.
Onlangs ry ons terug na ‘n naweek aan die Weskus.  Dit maak nie saak waar jy kyk nie… die veld is oortrek van blomme… wit, geel, pienk, oranje… blomme net waar jy kyk tussen heldergroen bossies en landerye.  Soms is daar soveel blomme dat dit lyk soos wit riviersand of sneeu.  Pragtig!
Een ding wat my van die Namakwa Daisy opval is dat sy blomgesiggie in absolute geloof al agter die son aandraai… die son wat God geskep het is vir hierdie blommetjie die rigtingwyser. 
Te midde van die chaos in jou lewe wil ek jou vandag aanmoedig om ook ‘n Namakwa Daisy dag te geniet.   Hou jou oog op God gerig soos daardie blommetjie opkyk na die son.  Volg Hom en jy sal ook weer begin lag en geluk ervaar.  Winter is verby… dis Lentetyd… ook in jou lewe.

Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar kan vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek wat mooi herinneringe terugbring.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h10 Gedig Voorlesing, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.

Thursday 28 August 2014

40 jaar van sorg



Nehemia 29 : 21 U het hulle 40 jaar in die woestyn onderhou.  In die tyd het hulle niks kortgekom nie. Hulle klere het nie verweer nie, hulle voete nie geswel nie!
Hoe oud is jy vandag?   Dink nou terug oor die afgelope jare.  Sien jy swaarkry, sukkel, mismoedigheid, terugslae of voorspoed, geluk, vooruitgang…?
Ek neem aan daar is ‘n redelike op en af kurwe oor die jare, maar dat jy moet erken dat God jou oor al die jare nooit, ooit in die steek gelaat het nie.
Stel jou ‘n periode van 40 jaar in ‘n woestyn voor.  Jy kan nie uit die woestyn kom en gou gaan voorrade aankoop of ten minste skoon klere kry nie.  Jy swerf net rond, maar God voorsien elke dag van daardie 40 jaar;  tot so ‘n mate dat hul voete nie eens van die hitte swel nie. Dit mag na ‘n nietigheid klink, maar dit is belangrik dat God selfs in soveel detail na Sy volk omsien.
Dieselfde God wat Sy volk onderhou en in elke behoefte van hulle voorsien het, is ook daar vir jou.
As jy werklik eerlik is, sal jy erken dat ten spyte van jou eie roekelose optrede, of dalk ondeurdagte besluite, God jou altyd op jou voete laat land het.  Jy’t oorleef en daardeur gekom.  Selfs as jy iemand is  wat ‘n maklike lewe het, wil ek jou herinner waar daardie seën vandaan kom.  Ons kan niks as vanselfsprekend aanvaar nie.  Hy voorsien… ook in jou behoefte.

Wednesday 27 August 2014

Onderduimsheid & Rugstekery



Job 19 : 17-18  Hul eie planne sal hulle ondergang wees.  Hulle sal val in die gat wat hulle vir ander gegrawe het.  Hulle struikel oor hulle eie strik.  ‘n Strop trek hulle vas.
Iewers is daar maar altyd ‘n vlieg in die salf... daardie klippie in jou skoen.   Daar is altyd iemand wat die lewe vir jou moeilik maak, wat jou om elke hoek en draai wil bykom of sommer net irriteer. 
Volgens die Woord moet ons dan ook nog die minste wees en die ander wang draai, so ons mag nie eens die persoon wat ons te na kom probeer terugkry nie.
‘n Vriendin van my het iemand by die werk wat elke dag vir haar hel maak.  Sy sien op daarteen om te gaan werk, maar sy het nie ‘n keuse nie, want sy’t die inkomste nodig en al het sy al hoeveel keer aansoek gedoen vir werk, kry sy nie ander werk nie.   Dit kan nie lekker wees om te weet  jy moet elke dag met so iemand saamwerk nie.
Juis daarom is Job 19 so ‘n riem onder die hart, want hier bevestig God dat die persoon wat vir jou ‘n gat grawe self daarin gaan val… dat die strik wat hy/sy vir jou stel, hulself gaan laat struikel.
Praat met God oor jou problem en vra Hom om geregtigheid te laat geskied.  Hy is ‘n regverdige God en dit lyk nie asof Hy onderduimsheid en rugstekery ligtelik opneem nie.
Ook hierdie ‘klein’ probleempie, is nie te gering om met God te bespreek nie.

Tuesday 26 August 2014

Die maatemmer



Romeine 5:3  Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding,
John Forbes Nash is ‘n Amerikaanse Wiskundige, wat ook benoem is vir ‘n Nobel Laureate prys.  Van sy teorieë word gesien as groot deurbrake.  Van ‘n jong ouderdom was hy geinteresseerd in wetenskaplike eksperimente wat hy in sy kamer uitgevoer het.  Hy het Chemiese Ingenieurswese, Aptekerswese en Wiskunde by die Carnegie Mellon Universiteit studeer. 
 In 1959 het hy tekens van paranoia begin toon en onreëlmatige gedragspatrone gedemonstreer.  Hy het o.a. geglo ‘n organisasie is besig om hom te agtervolg. Alhoewel hy hom teengesit het, is hy gehospitaliseer  waar hy uiteindelik met Paranoiëse Skisofrenie gediagnoseer is.  Na behandeling is hy vrygelaat, maar het hom daarna weer vrywilliglik vir 9 jaar lank in die hospitaal laat opneem waar hy skokterapie ontvang het.  Teen 1970 het hy stadig maar seker herstel.  Sy werk was meer suksesvol as ooit en dit het hom verskeie pryse en benoemings besorg. 
 In 1978, ontvang hy die John van Neumann Teorie prys en in 1994, die Nobel Gedenk prys in Ekonomiese Wetenskap.  “n “Acadamy Award” rolprent genaamd “A beautiful mind” met Russell Crowe in die hoofrol is gemaak, gebasseerd op sy biografie.
Elkeen van ons het ons eie uitdagings en dit mag dalk vir ons voel asof ons uitdaging ons lewe ruineer, dat ons altyd van andere afhanklik sal wees en nooit onafhanklik sal wees, wat nog te sê beter word.
Daar is altyd hoop by die Groot Geneesheer, maar soms moet ons bereid wees om ‘n swaar pad deur die woestyn te stap om beter en sterker anderkant uit te kom.  John Nash is ‘n lewende bewys dat dit gedoen kan word.

Moenie bang wees nie



Spreuke 4 : 25-26  Jy sal nie hoef bang te wees dat teëspoed jou skielik sal tref nie.  Die rampe vir slegte mense bedoel sal nie oor jou kom nie. Die Here is jou beskermer.  Hy sal sorg dat jy nie in ‘n strik trap nie.
Hoeveel van ons gaan elke dag met vrees tegemoet?  Ons is bang dat ons in ‘n ongeluk sal wees op pad werk toe.  By die werk hoor ons kort-kort via die riemtelegram dat daar personeelvermindering gaan wees, en ons is bang dat ons een van die statistieke sal wees.  Terwyl ons by die werk is, is ons bang vir ons baas, wat fout vind met alles wat ons doen.  Ons voel verontreg en dat ons soos kinders behandel word.  Gedurende die dag is ons bang dat iets met ons kinders sal gebeur of dat daar by ons huise ingebreek sal word.  Op pad huis toe dink ons aan dit wat op ons by die huis wag… dalk is ons selfs bang om huis toe te gaan omdat omstandighede daar ook nie wenslik is nie.  Vanaand lê ons en rondrol, bang vir al die spoke wat ons rondjaag, vrese oor finansies, verhoudings, die ekonomie, ons land… en so hou dit aan.
Wanneer jy ‘n teksvers soos die een in Spreuke 4 lees, is dit asof jy die sweet van jou voorkop wil afvee en sê: “Dankie, Vader. Uiteindelik het ek rus vir my gemoed.  U verseker my dat U my beskermer is en daarom hoef ek niks te vrees nie.”
Wat jou vrees ook al is, neem hierdie woorde ter harte.  Hy sal sorg.  Jy hoef nie verder bang te wees nie, niks kan verkeerd gaan nie, niks sal jou oorkom nie.  Maak nie saak hoe onwaarskynlik dit lyk nie, jy is veilig.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...