Tuesday 30 September 2014

Rivierklippe



Hebreërs 13:4   Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word
Nie almal is so gelukkig om hul sielsgenoot en/of huweliksmaat te vind nie.  Dit beteken nie dat meeste nie aanhou soek nie.  Die mens is immers nie gemaak om alleen deur die lewe te gaan nie.
Indien jy uiteindelik daardie spesiale persoon ontmoet en julle voel dieselfde oor mekaar, is dit baie spesiaal.  Normaalweg lei dit dan tot ‘n huwelik en die ewige opportuniste onder ons glo die feëverhaal weergawe… dat die paartjie vir altyd daarna gelukkig saamleef.
Ongelukkig verg ‘n huwelik meer as net geluk… dit verg harde werk van beide kante… dit verg toegewydheid en vasbeslotenheid om jou huwelik te laat werk, ten spyte van die klein jakkalsies wat die wingerd probeer verniel.
Rivierklippe word deur water rondgerol, getol en sommer bloot hardhandig hanteer, maar uiteindelik maak dit van ‘n onafgewerkte stuk klip, ‘n pragtige, perfek geskaafde klip.
Huweliksmaats gaan ook deur ‘n soortgelyke proses.  Hedendaagse uitdagings is daar oorgenoeg van.  As jy die egskeidingstatistiek bekyk, trek jou keel toe… dis amper asof jou huwelik nie ‘n kans staan nie.   
‘n Huwelik kan egter werk.  Twee mense kan teen mekaar skaaf en later pragtig gevorm word om perfek bymekaar te pas.  Die proses hou seker nooit op nie, maar dit is baie bevredigend as jy besef die ergste is verby… dat julle sterker en mooier anderkant uitgekom het.
Laat God altyd die Middelaar in elke geskil wees… laat toe dat Hy julle skaaf en skuur totdat julle perfek pas.  God het die huwelik ingestel en dis ‘n eer as jy jou belofte voor die kansel gestand kan doen.
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Monday 29 September 2014

Roep Hom aan



Jeremia 33:3  Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.
Amanda Strydom het gesing dat sy “lankal na ‘n plek in haar kop geëmigreer het”.  Baie van ons emigreer, meer gereeld as wat ons besef, na daardie selfde plekkie.  Ons raak so vasgevang in ons omstandighede dat ons nie eens agterkom dat ons met niemand praat nie.  Die omstandighede verswelg ons sodanig dat dit ons hele lewe in beslag neem, en ons selfs verhoed om met God te praat.  En dis nie omdat ons nie met Hom daaroor wil gesels nie, ons is so besig in ons kop dat ons heelwaarskynlik glo dat ons reeds die saak met Hom bespreek het.
Geen krisis is bo God se vuurmaakplek nie.  Al wat ons moet doen, is om Hom aan te roep.  Hy verseker ons dat Hy sal antwoord.  Die manier waarop Hy uitkoms bring sal ons verstom, want God is in staat om die Kosmos te beweeg, al is dit vir ons onverstaanbaar, is dit juis sy spesialiteit.
Moet jou nie verder bekommer nie.  Daardie slapelose nagte en hoofpyne is nie goed vir jou gesondheid nie.  God staan en wag dat jy Hom aanroep.  Gun jouself die luukse van Sy Vaderliefde.   As Hy bereid was om Sy Seun vir ons verlossing te offer, glo ek dat Hy enige iets vir jou sal doen.  Dit wat vandag vir jou onoorkombaar lyk, lag jy môre oor. 
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Sunday 28 September 2014

Geloof in aksie



Matteus 8:10  Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle:  Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie.
‘n Les in geloof - Die Charles Blondin Storie – skrywer onbekend
Charles Blondin was ‘n beroemde Franse waaghals wat hoog bo die grond op ‘n styfgespande tou geloop het, sonder enige veiligheidsnet.  Dit op sigself is ‘n illustrasie van geloof en selfvertroue.
Op 14 September 1860 was hy die eerste persoon wat op een van hierdie styfgespande toue oor die magtige Niagaravalle geloop het.  Mense het van heinde en verre gekom om hom te sien.  Hy het verskeie keer heen en weer oor die valle gestap en elke keer op ‘n ander doodsveragtende manier bv. met ‘n fiets, geblinddoek, terwyl hy ‘n stoof gedra het, ‘n kruiwa gestoot het en hy’t selfs ‘n omelet in die middel staan en kook!  Die skare was in vervoering en het telkens na hul asems gesnak.
Op een stadium vra hy of daar enige vrywilliger is wat sal instem dat hy hom/haar oor die valle dra of in ‘n kruiwa stoot.  Alhoewel mense hom luid toegejuig het en mekaar aangepor het, het niemand die moed gehad of na vore gekom nie.
Hierdie ware verhaal demonstreer wat geloof regtig is.  Die skare het hom verskeie kere, op verskeie maniere op die tou oor die valle sien loop, so hulle het geweet en gesien dat hy in staat is om dit te doen, maar hulle was nie bereid om hul geloof tot aksie te laat oorgaan nie.
Dis presies dieselfde met ons.  In die Bybel lees ons van Jesus se wonderwerke en ons aanskou dit daagliks nie net rondom ons nie, maar ook in ons eie lewens… en tog twyfel ons steeds aan Hom en Sy vermoëns… ons is nie bereid om ons lewe en toekoms in Sy hande te plaas nie! 
Getuig jou optrede van jou vaste vertroue in Hom, of twyfel jy soms?  Dink jy partykeer dat dit nie iets is waarmee jy God kan pla nie of het jy soms net nie die moed om Hom te vra nie?
 


Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar sal vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek van toeka tot nou.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h10 Gedig Voorlesing, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Thursday 25 September 2014

Weet jy waarheen jy op pad is?



Maleagi  3:18  Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie.
Billy Graham is in Januarie 2000 uitgenooi na ‘n middagete ter ere van homself.  Hy was huiwerig om die uitnodiging te aanvaar  omdat hy alreeds Parkinsons gehad het, maar op die ou end het hy tog gegaan. 
Toe hy die podium betree om ‘n paar woorde te spreek, het hy na die gehoor gekyk en gesê dat die dag hom herinner aan Albert Einstein, die beroemde fisikus wat daardie selfde maand deur ‘Time Magazine’ vereer is as ‘Man of the Century’.  Hy vertel toe verder die staaltjie van Einstein wat van Princeton per trein gereis het en toe die kondukteur by hom kom, kon hy nêrens sy kaartjie vind nie.  Einstein het paniekerig in elke sak gesoek, maar die kondukteur het hom gelukkig herken en gesê dat dit in orde is, want hy weet wie hy is en hy’s seker dat Einstein wel ‘n kaartjie gekoop het.  Die kondukteur het aanbeweeg, maar opgelet dat Einstein onder die sitplek ingebuk het, steeds op soek na sy kaartjie.  Weereens het hy Einstein verseker dat dit in orde is, hy weet wie hy is en hy glo dat hy wel ‘n kaartjie gekoop het, waarop Einstein toe antwoord:  “Jong man, ek weet ook wie ek is, maar ek het geen idee waarheen ek op pad is nie.”
Die gehoor het natuurlik lekker gelag, waarna Billy Graham voortgegaan het.  “Julle sien die pak klere wat ek aanhet, dis splinternuut.  My kinders het gesê dis tyd vir ‘n nuwe pak klere… dat ek te verslons lyk.  So ek het ‘n nuwe pak gaan koop vir vandag en nog ‘n baie spesiale geleentheid.  Weet julle wat daardie geleentheid is,” vra hy?
“Dit is dieselfde pak klere waarin ek begrawe gaan word, maar wanneer jul van my afsterwe hoor, wil ek nie hê dat julle terugdink aan my nuwe pak klere nie.  Ek wil hê dat julle onthou dat ek nie net geweet het wie ek is nie, maar dat ek ook geweet het waarheen ek op pad is.”
Daar was baie blink ogies in daardie gehoor en ‘n paar koppe het gesak.  Is dit nie ‘n wonderlike vergelyking nie? 
Hoe gaan mense jou onthou?  Is jou lewe ‘n demonstrasie van wie jy is en waarheen jy op pad is?

Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar kan vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek wat mooi herinneringe terugbring.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h10 Gedig Voorlesing, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.


Besoek gerus die webblad:www.watsediewoord.co.za

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...