Thursday 30 October 2014

Michelangelo se geheim – 0m jou passie te volg en die werk te vind waarvan jy hou



Prediker 5:6  Daar is baie drome, baie wat tot niks kom nie

Daar kom ‘n tyd in elkeen van ons se lewe dat ons moet besluit of ons die lewe gaan leef wat iemand anders vir ons gekies het of, of ons die lewe gaan leef wat ons wil leef.

Volgens oorlewering het ‘n jong seun vir die beroemde kunstenaar, Michelangelo, gevra hoekom hy die blok marmer so hard moker met ‘n hamer en bytel toe hy besig was om ‘n spesifieke beeldhouwerk te skep.  “Jong man, daar is ‘n engel binne hierdie stuk klip vasgevang en ek gaan hom vrylaat.”

Chris Widener, bekende konsultant en loopbaan afrigter, het ‘n boek geskryf getiteld “The Angel Inside” waarin hy Michelangelo se woorde gebruik om die potensiaal wat binne ons almal opgesluit is, te ontsluit – die engel binne ons vry te laat.

In die boek vertel hy die onvergeetlike storie van Tom Cook, ‘n ontnugterde Amerikaanse sakeman, wat na Florence, Italië, gereis het op soek na sin vir sy lewe.  Hy was siek en sat vir sy sieldodende bestaan en het vasgevang gevoel tussen eet, slaap en werk.  Daar ontmoet hy ‘n misterieuse ou man wat sy oë open vir die kuns en lewe van Michelangelo – hoe dit jou leer omtrent die waarde daarvan om jou passie te volg.  Volgens hom sal jy skoonheid in die fynste besonderhede vind en jou hand sal dit skep wat jy voor jou geestesoog sien.  Jy sal besef dat elke groot gebeurtenis met ‘n enkele aksie  begin, maar bowenal dat jy nooit ‘n dag se werk hoef te verrig as jy jou passie uitleef nie.  Dit hang alles af hoe jy na jou werk kyk.

Wat het van jou drome geword?  Bestaan jy bloot van dag tot dag of leef jy jou passie uit?


Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Wednesday 29 October 2014

Vyf minute



Jesaja 28:23 Gee aandag, luister na wat ek sê, let op, luister na my woorde:

Een of ander tyd begaan elke ouer ‘n ‘opvoedings fout’ met ons kinders.  Hulle kom immers nie met ‘n handleiding nie.  Ons probeer so hard om hulle reg te leer en as hulle dan nie heeltemal aan ons verwagtinge voldoen nie, is ons nie baie beindruk met hulle nie.  Ongelukkig demonstreer ons dikwels daardie gevoelens d.m.v. woorde en/of dade.  

Geleerdes praat van die 1 tot 5 beginsel.  Hiervolgens behoort jy 5 komplimente te gee vir elke keer dat jy iemand reghelp of kritiseer.  In vandag se lewe is ons so gejaag (daar is altyd iets om te doen), dat ons nie veel tyd het vir ons kinders nie.   Soms is dit net wanneer ons dissiplineer dat ons ‘tyd’ met hulle spandeer.  Meeste kinders weet nie hoe om dit te hanteer nie, behalwe om hul hartseer met verdere negatiewe optrede op te volg, in die hoop om die ouer se aandag te kry.

Iets wat jou dalk twee keer kan laat dink aan die manier waarop jy jou kind hanteer, is om jouself af te vra hoe jy die laaste vyf minute met hom/haar sou deurbring as dit hul (of jou) laaste vyf minute op aarde sou wees.  

Dissipline is noodsaaklik, maar onverdeelde aandag soveel te meer.  Ons weet almal ‘n kind spel liefde “T-I-M-E”.  As ‘n kind geliefd, veilig en geborge voel, sal die kind se optrede ook meer aanvaarbaar wees.
Vra enige ouer wat ‘n kind aan die dood afgestaan het, en hul sal jou verseker dat hul enige iets sal gee om net nog tyd met daardie kind te kon deurbring; tyd wat hul nooit weer gegun sal word nie.  Jy wil nie in daardie posisie beland nie.

Gebruik die tyd wat jul het om mekaar te leer ken en geniet.  Gesels… maak oogkontak, raak hul liefdevol aan…, lag… spandeer vyf minute waartydens jy net op hul fokus.  Partykeer raak ons so vasgevang in ‘n opvoedingsrol, dat ons vergeet dat ons eerstens ouers is.


Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Tuesday 28 October 2014

Met Jesus aan die stuur



‘n Pastoor wat wyd gereis het terwyl hy die woord regoor die wêreld verkondig, vertel hierdie verhaaltjie wat jou laat asem ophou, maar jou ook laat nadink.

Blykbaar was hy op een van daardie lang vlugte van een bestemming na ‘n ander, toe die waarkuwingsliggies aangaan wat passasiers waarsku om hul veiligheidsgordels vas te maak.  Die kaptein het oor die interkom die versoek herhaal en aangekondig dat hulle turbulensie gaan ervaar en dat die bediening van drankies dus opgeskort gaan word.  Nie lank daarna nie, word daar nog ‘n aankondiging gemaak dat die bediening van die beplande maaltyd ook opgeskort word a.g.v. die turbulensie wat voorlê.

Rondom hom kon hy sien hoe die nuus die ander passasiers ontsenu.  Almal het angstig gewag op die turbulensie wat volgens die kaptein hewig sou wees.

‘n Paar minute later vlieg hul die storm binne.  Die vliegtuig wip heen en weer terwyl dit kraak en kreun onder die geweldige aanslag van die natuur.  Weerligstrale verlig die hemelruim, afgewissel met oorverdowende donderslae.  Die een oomblik word die vliegtuig die hoogte in geskiet en die volgende oomblik plons dit meters ver na benede.

Die pastoor erken dat hy ook die ongemaklikheid en vrees van sy mede-passasiers gedeel het.   Sover hy kon sien, het mense met wit kneukels die armleunings vasgegryp terwyl hul liggame soos lappoppe saam met die vliegtuig geskommel het.  Hier en daar het iemand beangs gegil en party het saggies gehuil terwyl ander hardop gebid het.  Dit het gevoel asof daar geen einde is wat die storm aanbetref nie en almal het gewonder hoe lank die vliegtuig die elemente sou kon weerstaan.

En toe vang sy oog ‘n klein dogtertjie wat totaal op haar gemak is te midde van die chaos rondom haar.  Die een voetjie is onder haar ingevou en sy sit en lees rustig in ‘n boek, heeltemal verlore in ‘n wêreld van haar eie.  Die pastoor was stomgeslaan, want al die volwassenes was vreesbevange te midde van die storm terwyl die meisie geen teken van vrees of onrus getoon het nie.  Die pastoor kon skaars sy oë glo.

Uiteindelik het die storm bedaar en kort daarna het hulle veilig geland.  Dit was geen verrassing toe die pastoor na haar stap en vra:  “Verskoon my, maar ek moet eenvoudig weet… hoekom was jy nooit bang toe ons deur daardie verskriklike storm gevlieg het nie?”

Die dogtertjie het na hom gekyk asof die antwoord voor die hand liggend was.  “Want my pappa is die vlieënier.” 

Wyse woorde van hierdie jong meisie, ne?  So het ons almal storms waardeur ons worstel.   Die donker wolke van onrus spoel oor jou, ander se woorde tref jou soos weerlig en die lewe klap jou met donderslae terwyl ons woes heen en weer geruk en geskommel word. Ons ken almal hierdie tye en weet dat dit makliker is as jy op moeder aarde is as wanneer jy in ‘n vliegtuig sit.

Laat ons altyd onthou dat ons Hemelse Vader aan die stuur van ons vliegtuig is en dat Hy alles onder beheer het, want Hy is op pad huis toe met ons. 

(Skrywer onbekend)


Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...