Thursday 30 January 2014

Om te groei

Romeine 10 : 17 Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor…
Begeer jy om sterker geloof te hê?  Die skrif bevestig dat ons kan groei in die geloof.  Hoor is ‘n werkwoord, nie ‘n eenmalige aksie nie.  Jy moet die boodskap oor en oor hoor sodat dit kan wortel skiet in jou hart. 
Soms kan ‘n boodskap ons binne ‘n oogwink verander, maar meeste van tyd gebeur dit oor ‘n periode van tyd.  Ek het al dele in Die Bybel gelees wat ek baie goed ken en dan skielik lees ek ‘n teks wat ek oortuig is ek nog nooit voorheen daar was nie.  Geestelike volwassenheid op daardie punt veroorsaak die openbaring.  Dis soos om ‘n saadjie op die regte tyd te saai in goedvoorbereide grond.  Plant die saadjie op die verkeerde tyd of in arm grond en daar gebeur niks.
Net so benodig ons gees ook daaglikse voeding.  Hoe meer vertroud ons met die skrif raak, hoe beter leer ken ons God en hoe beter ons Hom ken, hoe makliker raak dit om Hom te vertrou en Hom in alles te ken.  Dis geloof! 

Laat toe dat die waarheid van die Woord jou transformeer sodat jy kan leef in afwagting op dit wat God vir jou in gedagte het.

Wednesday 29 January 2014

Wees wie God jou gemaak het

Spreuke 29 : 25 As jy vir mense bang is, kan jy in 'n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig.

Meeste mense wil iewers inpas en soms sal hul hul persoonlikheid opoffer om net aanvaar te word.  Of hul is bang vir iemand, miskien ‘n baas/bestuurder, wat hul minderwaardig laat voel.  Dalk is jy deel van ‘n groep waar jy voel daar word van jou verwag om op ‘n sekere manier op te tree, en dit is nie wie jy is nie.
In die lewe sal daar altyd mense wees wat verwag dat jy volgens hul reëls moet leef of optree.  Hulle is egter nie jou skepper nie.  Hulle het jou nie toegerus, bemagtig of gemaak nie.  God het. 
As jy alles wil wees wat Hy van jou verwag, kan jy nie fokus op wat ander van jou dink of verwag nie.  As jy word wat mense van jou verwag om te wees, dan is jy bloot ‘n marionet.  Jy kan nie almal gelukkig hou terwyl hul kritiek of verwagtinge stukkies van wie jy is doodmaak nie.

In stede daarvan dat jy mense probeer tevrede stel, vra God om jou hart te ondersoek.  Vra Hom of jou weë Hom gelukkig maak.  Fokus op Sy doel vir jou lewe – vra daadwerklik daarna.  As mense jou nie verstaan nie – dis in orde.  As jy sogenaamde vriende verloor omdat jy nie meer na hul pype dans nie, dan was hul in elk geval nie jou vriende nie.  Jy het nie ander se goedkeuring nodig nie, net die Almagtige God s’n.  

Tuesday 28 January 2014

Ontspan!

Psalm 37 : 7 Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie.
Sukkel jy om jou drome te verwesentlik? 
Is jy gefrustreerd met ‘n verhouding wat net nie wil stabiliseer nie?  Dalk probeer jy die ander persoon (jou man/vrou, tienerkind, kollega, bure) verander, maar niks wil werk nie.  Jy bedoel dalk goed, maar hoe meer jy dinge probeer orkestreer, natuurlik ook volgens jou tydrooster, hoe meer loop dit skeef.  Een of ander tyd moet jy besef dat daar net een oplossing is en dit is om oor te gee en te wag dat God die nodige skuiwe maak. 
Hoe doen mens dit, veral as dit lyk asof ander se lewens seepglad verloop?  Begin deur ‘n keuse te maak en verklaar dan jou oorgawe.  “Vader, ek kies dat U die Meester van my situasie sal wees.  Ek staan terug en ek vertrou U volkome.”  En… dan begin jy Hom loof.  Lofprysing en aanbidding is een van die beste maniere om jou hart en verstand te herprogrammeer en God te verseker dat jy in sy vermoëns glo.  Bekommernis, daarenteen, is ‘n teken dat jy beheer wil terugneem.

Behalwe as jy dit geniet om bekommerd te wees of te sukkel, plaas dit in Sy gewillige hande en raak ontslae van onnodige druk.  Hy sal jou terugslae in welslae verander.

Monday 27 January 2014

Wie om My vertrou

Jesaja 49 : 23 … wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie.

Wat ‘n kragtige belofte van ons Almagtige God!  Wanneer ons, ons hoop en vertroue in Hom plaas, sal ons NIE teleurgestel word nie.  Ongelukkig is dit nie ‘n waarborg dat alle oplossings in ons guns sal wees nie.  Ons mag dalk ‘n bietjie langer wag, of ‘n ander antwoord kry as wat ons op gehoop het, maar ons sal nooit teleurgestel wees nie.  Iewers in die toekoms sal God dinge in ons guns laat uitwerk.  Met God aan ons kant, sal ons altyd seevier, so op die ou end sorg Hy altyd dat ons kry presies wat ons nodig het
Dra jy swaar aan bekommernis of frustrasie oor iets wat net nie wil uitwerk of tot ‘n punt kom nie?  Dis gewoonlik ‘n duidelike teken dat jou hoop en vertroue op die verkeerde dinge is.  Wanneer jy egter hierdie omstandighede vir God gee en weier om toe te laat dat wêreldse dinge jou geluk steel en jou fokus van God aflei, dis wanneer jy die deur vir God oopmaak om in jou lewe in te kom en beheer van jou omstandighede te neem. Dis dan wanneer alles eenvoudig in plek begin val en jy arendsvlerke kry. 

Maak vandag ‘n bewuste besluit om jou hoop op God te plaas;  jy sal nie teleurgestel wees nie.  Vertrou Hom omdat Hy getrou is en vind rus vir jou siel wetend dat Hy net goeie planne vir jou toekoms het.

Sunday 26 January 2014

Word 'n toeskouer

2 Kronieke 20 : 17  Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.”

Soveel mense hardloop weg van alles wat swaar is.  Hulle hardloop van hul probleme… verantwoordelikhede… hul verlede… van enige iets wat hul ongemaklik maak… vermy sekere mense om verskeie redes…  In plaas daarvan om hierdie dinge te ‘face’, neem hul die maklike uitweg – hul hardloop weg. 
Die Woord verwag die teenoorgestelde van ons.  Ons moet God sodanig vertrou dat ons te midde van ‘n geveg rondom ons, eenvoudig op die kantlyn gaan sit en kyk hoe God die situasie namens ons hanteer. 
Stel jou voor… daar is ‘n geveg, koeëls vlieg heen en weer, rondom jou val die gesneuweldes.  Jy aanskou alles, maar knip nie ‘n oog nie, hardloop nie weg nie, jy staan vreesloos en toekyk…sjoe!  Dit verg amper meer moed as om terug te veg, maar hier is die verskil… Hy het elkeen van ons toegerus met bonatuurlike krag om elke struikelblok te oorkom – in geloof.

Moenie vrees nie.  Wees uitdagend en oorwin jou vrese omdat jy ‘n kind van die Lewende God is wat in elke aspek van jou lewe teenwoordig is – ook in daardie hoekie van vrees.

Wednesday 22 January 2014

Oorwinnings of mislukkings?

Spreuke 6: 2  verstrik geraak het deur wat jy gesê het en vasgevang is deur jou eie woorde,

Gedurende die 1990’s was Jose Lima die ster van die Housten Astros.  In een seisoen was hy verantwoordelik vir 20 agtereenvolgende oorwinnings.  Hy was beskou as die beste bouler in sy span.  Toe die Astros van die Astrodome trek na ‘n nuwe veld, was die heining aan die een kant veel nader as by die Astrodome.  Dit het blykbaar die kolwers bevoordeel bo die boulers.  

Toe Jose die eerste keer op die veld kom, het hy na die heinings gekyk en gesê:  “Ek sal nooit hier suksesvol wees nie, want die heining is te naby.”  En wat gebeur?  Hy gaan van ster-speler met 20 oorwinnings tot verloorder van 16 wedstryde na mekaar.  Dit was een van die grootste negatiewe ommeswaaie in die geskiedenis van die Astro’s.  Jose het sy eie toekoms geprofesseer.


Ons is nie veel beter as Jose nie, want ons professeer ook negatiewe gedagtes oor ons eie lewens.  Wees ingestel op jou denke.  Dink voor jy praat.  As ‘n negatiewe gedagte jou te binne skiet, dink hoe jy dit kan omdraai in ‘n positiewe denke.  Moenie jou woorde gebruik om jou situasie te beskryf nie, gebruik jou woorde om jou situasie teverander.   Spreek gedagtes van hoop, voorspoed, sukses,  lewe en seën.  

Tuesday 21 January 2014

Tree terug... en spring oor

Filippense 4:13  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee

Vandag wil ek jou herinner wat God omtrent jou sê.  Ten spyte van die plek in jou lewe waar jy jouself tans bevind, is jy nie beperk daartoe nie.  Jou agtergrond, jou finansies, jou familie, jou verlede defineer jou nie.  Die Almgatige God het jou met alles toegerus wat jy nodig het om jou los te maak van dit wat jou terughou.  Hy het jou uniek gemaak, met baie spesiale talente en moontlikhede.  Jy durf nie toelaat dat jou lewe tot nou toe jou toekoms bederf nie.  Beroep jouself op die saad van sukses wat God binne jou geplant het.

God verseker jou deur hierdie teksvers dat jy tot ALLES in staat is.  Jou toekoms lê oop voor jou en dis ‘n rooskleurige een!  Jy kan die een wees wat opstaan en suksesvol wees ten spyte van. 

Begin om jou denke in te stel op die sukses wat vir jou voorlê en moenie toelaat dat klein struikelblokkies jou laat terugval nie.  Somtyds moet ‘n mens terugtree om oor ‘n hekkie te kan spring.  Daar word gesê dat die verskil tussen diegene wat sukses behaal en die wat dit nie maak nie, bloot is dat die sukses-gedrewenes nooit ophou probeer nie.


Wie kan misluk as God Almagtig in jou glo?

Monday 20 January 2014

Hartseer, teleurgestel, ontnugter & gebroke

Psalm 3 : 1-3  'n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.   Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my.  Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela

Toe Dawid destyds hierdie teks geskryf het, was hy in ‘n baie moeilike situasie.  Hy was besig om van sy eie seun te vlug wat hom wou vermoor sodat hy kon koning word.  Kan jy jou in sy skoene indink?  Hy was heelwaarskynlik oorweldig deur hartseer, teleurgestel, ontnugter en gebroke.  Het jy al so gevoel?  Let nou op dat Dawid nie met God oor sy probleem praat nie, maar eerder oor sy geloof in God.  Dawid kies om op God se goedheid te fokus, ten spyte van dit waardeur hy gaan.

Jou omstandighede op hierdie oomblik is dalk nie wat dit moet wees nie.  Onthou egter dat God nie handjies gevou sit nie.  Jou verhouding mag dalk in stormwaters wees, maar God is die Een wat die storms kan kalmeer.  Jy mag dalk smag na iets… God is die Groot Voorsiener.  Vir jou mag dit lyk asof daar geen uitkoms is nie, God is die God van die onmoontlike.  Staan jy net vas in geloof en jy sal die hand van God sien beweeg.  Volg Dawid se voorbeeld, ten spyte van jou omstandighede.

Sunday 19 January 2014

Liefde is 'n werkwoord

1 Korintiërs 13 : 4  Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

Een van die verklarings van die teks hierbo is dat “liefde konstruktief is”.  D.w.s. jy moet kyk wat jy vir ander kan doen.  Gewoonlik is ons eerste gedagte wat ons kan doen om ons eie lewe te verbeter, maar ons behoort eintlik te dink wat ons kan doen om iemand anders se lewe aan te raak.  Wat ‘n verskil sal dit nie in die wêreld maak as almal op diegene rondom hul begin fokus eerder as op hulself nie!  I.p.v. wraakgedagtes, dink eerder:  “Wat kan ek vandag doen om die persoon op te hef?”  “Wie kan ek vandag bemoedig?”  Jy beskik oor die vermoë om iemand se dag te maak of te breek.  I.p.v. om te kla oor die kassiere, kies om haar met raad te bedien om nie weer dieselfde fout te maak nie.  I.p.v. om te kla oor die kelnerin, komplimenteer eerder dit wat hy/sy reg doen. 

Iemand na aan jou het nodig om te hoor dat jy in hom/haar glo. Iemand na aan jou het nodig om deur jou bemoedig te word.  Ek glo dat God ons verantwoordelik gaan hou vir diegene wat Hy oor ons pad bring.  Hy reken op ons om Sy hande en voete te wees.  Vra jouself af of jy ‘n positiewe invloed het op diegene rondom jou? Vra God om jou kreatiewe denke te stimuleer om die beste in ander na vore te bring.  Soos wat jy saai in ander se lewens, sal God jou met meer vertrou.  Hy sal ook mense oor jou pad bring wat jou gaan opbou en bemoedig sodat jy kan volhou om ‘n seën vir ander te wees.

Thursday 16 January 2014

Hou koers

Miga 7 : 8  Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand, al het ek tot 'n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig.
Wanneer jy iewers in die lewe wil kom, is daar gewoonlik ‘n skare wat jou gaan kritiseer.  As jy wil uitblink in jou werk, ‘n nuwe besigheid wil begin, verder studeer, ‘n leierskap posisie inneem, gaan daar teenstand van iewers af kom.  Hoe meer suksesvol jy is, hoe meer gaan ander jou aandag probeer aflei met dit wat hul doen of sê.  Hoe hoër jy op die leer van sukses klim, hoe meer raak jou ‘vyande’.  Ook wanneer jy op ‘n nuwe vlak beginleef en na dit streef wat God in jou hart gelê het, sal jaloerse, kleinsielige, kritikusse na vore tree en allerhande bewerings en opmerkings maak om jou te probeer ontspoor.

As jy vandag hierdie druk ervaar, weet verseker dat dit is omdat jy besig is om ‘n verskil te maak.  Moenie toelaat dat hulle jou van koers dwing nie.  Dis nou die tyd om standpunt in te neem:  “Ek sal nie toelaat dat julle my van sukses beroof nie!”  Beweeg dan aan in geloof, want God het goeie planne vir jou en jy kan nie toelaat dat ander jou beroof van dit waarvoor Hy jou bestem het nie.   

Wednesday 15 January 2014

Waarop fokus jy?

Psalm 119:37 Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys.

Om ‘n lewe van oorwinning te leef wat God ons beloof, moet ons selektief wees met dit waaraan ons, ons tyd en aandag bestee. 
Raak bewus van jou gedagtes en kies doelbewus om sekere gedagtes te ignoreer, om sekere dinge wat mense omtrent jou sê, of aan jou doen, te ignoreer.  Dis moeilik – ek weet, maar jy hoef nie almal aan te vat wat jou te na kom nie.  Meeste van hierdie gebeure dien geen ander doel as om jou aandag af te lei van dit waarop jy behoort te fokus nie, naamlik jou geestelike welstand.  As sodanige gebeurtenis nie in die pad staan van jou Godgegewe eindbestemming nie, verdien dit nie eens ‘n tweede kyk nie.
Soveel van ons word van koers af gedwing omdat ons of dink die fout lê by ander, of afhanklik is van ander se goedkeuring.  As dit jou fokus is, mors jy kosbare tyd.  Jy het niemand se goedkeuring nodig, behalwe God s’n.

Dit is bevrydend wanneer jy agterkom dat jy nie elke geveg hoef te veg nie, dat jy nie ander se goedkeuring nodig het nie, dat jy nie vir ander se sieleheil verantwoordelik is nie, dat jy niemand hoef terug te betaal nie.  Fokus bloot op God en Sy Woord en jy sal ongekende vrede ervaar.

Tuesday 14 January 2014

Om deur te druk

Tessalonisense 5 : 11  Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.
Jean-Do was ‘n bekende Franse joernalis, skrywer en redakteur van die Franse mode tydskrif ELLE.  In 1995 het hy ‘n massiewe hartaanval gekry en was 20 dae lank in ‘n koma.  Toe hy uit die koma ontwaak, het hy ‘n rare neurologiese afwyking genaamd “Locked-in Syndrome" gehad.  Dit beteken sy verstand was 100%, maar die res van sy liggaam was verlam, van kop tot tone.  Hy kon slegs sy linker ooglid beweeg. 
Ten spyte hiervan het hy 2 boeke geskryf:  The Diving Bell en The Butterfly.  Dit was ‘n tydsame proses.  Iemand het die alfabet opgesê en dan het hy sy ooglid geknip by die regte letter.  Die alfabet is so gerangskik dat die letters wat die meeste gebruik is, eerste op die lysie was.  Die boek is op dieselfde manier geredigeer;  een letter op ‘n keer en uiteindelik op 7 Maart 1997 gepubliseer.  Bauby, soos hy alom bekend was, het twee dae later gesterf.
Dit was verseker nie vir Jean-Do maklik om met hierdie siekte saam te leef nie, maar hy het ‘n wilsbesluit geneem om nie te gaan lê nie. Boonop het hy meer bereik as mense sonder gebreke.  Ons gee so maklik op.  En ja, elkeen ken sy eie storie, so ons kan nie regtig mekaar oordeel nie, maar ons kan mekaar moed inpraat.  Ons kan daar wees vir mekaar.   

Monday 13 January 2014

Die Stryd

Romeine7 : 22-23  Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees.  Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.
Goeie voornemens is een ding, maar om dit tot uitvoer te bring, is nogal moeilik.  Neem nou maar ‘n dieet… Sondagaand staan jy sterk, want Maandag is die begin van ‘n nuwe jy.  Dis nou tot die hongerpyne knaag of ‘n kollega se burger en skyfies baie aantrekliker lyk as jou slaai.  En daar sal mos altyd ‘n feestelike gebeurtenis plaasvind sodra jy die dieet net lekker onder die knie het.  Aag nou ja, volgende Maandag sal ek weer probeer. 
Net so het ons goeie voornemens oor ons geloof en om nie toe te gee aan versoekings nie, maar die stryd word soms so gou verloor.  Onthou net dat God ons geskape het as mense, nie as klein perfekte godjies nie.  Hy ken ons beter as wat ons onsself ken.  Erken dat jy op eie krag nie in staat is om vol te hou nie en vra God om jou te help.

Anders as met meeste dieet voornemens hoef ons nie tot volgende Maandag te wag nie, ons kan elke dag nuut begin.  

Sunday 12 January 2014

Waar is die ander nege dan?

As vandag jou eerste dag terug op kantoor is, baie welkom terug.  Mag 2014 vir jou 'n besonderse jaar wees.

Lukas 17 : 17  Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?

Tien mans het Jesus gestop op pad na Jerusalem.  Hulle was melaats en het Hom gevra of Hy Hom oor hul sou ontferm.  Hy het hulle gevra om hul aan die priesters te gaan toon.  Op pad het hul agtergekom hul is genees.  Net een het omgedraai om Hom te prys. 

Aan die einde van 2013 het ek 'n uitnodiging gerig om te getuig oor dit wat God dalk vir jou gedoen het.  Hier is annoniem se getuienis:

“Ek kan baie getuig van God se goedheid in 2013. Weereens het ek besef dat die Here se genade vrylik beskikbaar is vir elkeen! Ons moet net met ‘n verwagting leef dat Jesus aan ons kant is en net die beste vir ons wil hê. Gedurende 2013 het ek weereens gesien en beleef hoe die Here in my lewe werk- ek’t besef dat Sy tyd nie noodwendig my tyd is nie. Na n paar jaar kan ek in 2014 weer begin studeer! Ek het in 2013 getrou, ‘n plekkie kon koop, keuring gekry vir n studierigting en dit was ‘n jaar van vele hoogtepunte en ook baie laagtepunte, tog het dit my weereens God se grootheid en goedheid laat raaksien. Ek’t baie keer nie geweet waar die finansies vandaan gaan kom nie, maar God voorsien ALTYD! Soms op ondenkbare maniere. 2013 het my geleer om in geloof te leef en te glo dat die deure wat toegemaak word is altyd omdat ‘n ander deur besig is om oop te maak! Ek dank God aan die einde van die jaar vir gesondheid, familie en Sy genade!”

Wat ‘n ‘amazing’ getuienis.  Baie dankie dat jy dit met ons deel, Annoniem.   Elke gelowige kan hul vereenselwig met jou woorde  - God se genade altyd daar!   So getrou is God en so dra Hy ons.  Soms dink ons Hy het ons vergeet, maar dis net omdat ons nie kan sien waarmee Hy agter die skerms besig is nie.  Onthou altyd dat God jou ontsettend lief het en dat Hy net die beste vir jou toekoms beplan. Vertrou Hom en geniet elke oomblik van Sy sorgsame Vaderhand oor jou lewe. 

Nie almal het toegang tot die dagstukkies gedurende die vakansietyd nie.  As jy nog wil getuig is jy baie welkom.




Thursday 9 January 2014

Goeie advies


Lukas 6 : 38

Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.”

Wednesday 8 January 2014

Tuesday 7 January 2014

'n Wenresep vir voorspoed


Job 36 : 11
As hulle luister en Hom dien, sal hulle hulle dae in voorspoed deurbring, hulle jare in welvaart.

Monday 6 January 2014

Vrede wat alle verstand te bowe gaan


Filippense 4 : 6-7

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Sunday 5 January 2014

Vra net...


Johannes 14: 13-14

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.  As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Thursday 2 January 2014

God hoor as jy roep


Psalm 34 : 18

As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.

Wednesday 1 January 2014

By God is alles moontlik


Matteus 19 : 26

 
Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...