Thursday 27 February 2014

Hoe draai ek die ander wang?


“Julle het gehoor dat daar gesê is: “’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand, maar Ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ‘n slegte mens verset nie.”

Jare gelede het ons kwotasies gekry vir verbouings en verbrekings aan ‘n huis wat ons toe pas gekoop het.  As gesin het ons na die kwotasies gekyk en saam op een besluit.  Vandag kan ek net sê ons mensekennis het ons erg in die steek gelaat.

Die bouer het nooit planne ingedien of laat goedkeur nie.  Hy’t mure uitgeslaan en drade oop laat hang en daarvandaan was dit net beloftes.  Van die bakstene wat hy gebruik het was gebruikte stene.  Die uiteinde van die saak was dat die bouer met die geld (geleende geld) vort is en dat ons met skuld en ‘n groot gemors gesit het.  As gesin het ons saamgestaan en maniere gevind om ‘n ekstra inkomste te genereer om die bouwerk te voltooi en die lening terug te betaal en dit het ons saamgesnoer.

Die man is aangekla, maar het nie eens uitskryfwerk gekry nie.  Tog het ons het besluit om die saak daar te laat.  Oor die jare het ons gereeld gelees hoe hy nog mense ingeloop het, want hy’t gereeld in plaaslike koerante adverteer en lesers het by die koerante oor hom gekla terwyl hy skynbaar gewetenloos voortgegaan het.

Onlangs lees ons sy doodsberig.  Niemand sal weet wat met hom gebeur het na sy afsterwe nie, maar ek is seker God sou nie vir sy leuens en verduidelikings val nie.  Vir ons was dit egter nodig om die ander wang te draai en hom te vergewe.

Wednesday 26 February 2014

Geleenthede tot Sy eer


Matteus 10 : 18 Dit sal vir julle ‘n geleentheid wees om voor hulle en die volke van My te getuig.

Die teksgedeelte het my ook laat dink aan Pierre Korkie.  Hy word in Jemen as gyselaar aangehou deur nie-Christene en hulle eis ‘n losprys van meer as R30 miljoen.

D.m.v. die media weet ons dat die onderhandelinge nie maklik is nie.  Ek het groot waardering vir die mense van “Gift of the Givers”.  Deur hul toedoen is Yolande vrygelaat en hul ondersteun haar en die kinders terwyl hul voortgaan om onbaatsugtig, onder uiters moeilike omstandighede, vir Pierre se vrylating te veg.  Hierdie mense is ‘n toonbeeld van iemand wat oor alle grense heen vir ander omgee.  Hul herstel ons vertroue in die mensdom.

Angus Buchan het voor ‘n groot skare vir ‘n wonderwerk gebid en ek glo dat God ‘n wonderwerk sal bewerkstellig, maar dis ook ‘n geleentheid vir Pierre om oor God te getuig daar waar hy nou is.  Dis ‘n geleentheid om Sy naam te verheerlik.  Nog ‘n gyselaar van Iran, wat saam met Pierre aangehou is, is reeds tereggestel, maar Pierre is steeds veilig en Al-Kaida luister nog na rede. 

Laat ons nie vir een oomblik ons omstandighede bevraagteken wanneer dit tot eer van God kan strek nie.

Hemelse Vader, ons dra Pierre Korkie en sy gesin aan U op en bid vir sy veilige terugkeer, want ons weet U gee om.  (Matt 9 : 36 Hy het ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid.)

Tuesday 25 February 2014

God weet!


Matteus 6 : 8 “…want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!”
Iemand het eendag gesê:  “Genade is dikwels dat God ons nie gee wat ons vra nie.” 
Ek het byvoorbeeld al gebid vir ‘n pos en dit nie gekry nie.  Nie lank daarna nie, is daardie hele afdeling toegemaak.  So ek kan getuig dat God ons nie altyd gee wat ons vra nie, maar Hy gee ons beslis wat ons nodig het, want kort daarna het ek ‘n veel beter pos gekry.
Vir sommige van ons toon ons gebede duidelike ooreenkomste met ‘n lywige inkopielysie wat ons verwag so gou as moontlik by ons adres afgelewer moet word.  Vra ons net of onthou ons darem om aan ander ook te dink en dankie te sê vir soveel seëninge wat ons as vanselfsprekend aanvaar.  Dalk is die Onse Vader ‘n goeie plaasvervanger vir daardie inkopielysie.
Wanneer ons deur ernstige kweltye gaan, voel dit later asof ons nie meer weet hoe om te bid nie.  Ons voel asof woorde ons ontbreek om God te laat besef dat dit darem nou hoogtyd is om uitkoms te verskaf.  Onthou dat die Gees sulke tye vir ons intree.
Die feit dat God weet wat ons nodig het beteken darem nou ook nie dat ons hande gevou agteroor kan sit nie.  Ons moet steeds werk aan daardie verhouding met Hom waar ons ons diepste hartsgeheime, seerkry en behoeftes met Hom deel.  Dis dan wanneer God oorloop van liefde en uitreik na ons.

Monday 24 February 2014

'One-trick-horse'


2 Korintiërs 4 : 16   Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe”

Iemand vertel my onlangs dat vriende sê sy en haar gesin is ‘one-trick-horses’ omdat hulle daarvan hou om elke jaar op dieselfde plek vakansie te hou.

Dit het my dieper laat kyk na my eie lewe.  Ook ek is ‘n ‘one-trick-horse’, want ek hou van sekere roetines.  Is dit verkeerd?  Nie noodwendig nie, want tradisie is goed vir kinders tydens hul vormingsjare. 

Baie van ons sal met liefde terugdink aan gereelde rituele wat ons ouers gehad het.  As gesin was ons elke Sondag ingeryg in dieselfde volgorde in die kerk… in dieselfde kerkbank as elke vorige Sondag…  Vader Kersfees het klokslag die aand voor Kersdag jaarliks gearriveer… As gesin het ons saam om die tafel gesit elke maaltyd en nie geëeet alvorens pa nie gebid het nie en niemand sou opstaan alvorens pa nie gedank het nie. Dit het ‘n gevoel van samehorigheid en veiligheid gekweek. 

Dit beteken egter nie dat ons nie nog ‘n toertjie kan aanleer nie.  Ek probeer byvoorbeeld gereeld nuwe resepte en ek probeer verskillende paaie terugry, veral as ek iewers was waar ek nog nie voorheen was nie. 

Ons kan die toertjies in ander dele van ons lewens toepas en hier kan jy self besluit hoe waagmoedig jy is, maar moenie die ou ‘tricks’ (tradisies) vergeet nie.  Roetine hoef ons nie moedeloos te stem nie.

Sunday 23 February 2014

Gaan maak reg


Matteus 5 : 24 – 26    los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon...  Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom… Ek verseker jou, jy gaan beslis nie daar uitkom voordat jy elke sent afbetaal het nie…

Ons ou volkie is darem haatdraend.  Jy hoor so baie hoe daar uitgevaar word teen iemand wat ons tenagekom het… hoe ons hom/haar nooit sal vergewe nie. 

Hierdie gedrag is toe te skryf aan ontnugtering, teleurstelling en eerstehandse ervarings van medemense se optrede in jou verlede.

As jy iemand is wat ‘n ander tenagekom het op enige gebied, het jy die geleentheid om dit reg te stel. (Lees Matt 5: 22) Die keuse is joune.  Indien jy iemand finansieel ingedoen het, is dit dalk ‘n goeie idee om op te let wat die Bybel sê jy behoort te doen.

Niemand sê dit gaan maklik wees nie, want jy sal die minste moet wees.  Jy gaan hierdie persoon met wie jy jare in onvrede leef, dalk iemand wat jy seergemaak, verneder of tenagekom het in die oë moet kyk en om vergifnis vra.  Die goeie nuus is dat jy dit nie op jou eie krag hoef te doen nie.  God sal met jou wees en jou die krag gee.  Al wat jy moet doen is om gehoorsaam te wees. 

Mag die genade van ons Hemelse Vader met jou wees.

Thursday 20 February 2014

Net een evangelie


Galasiërs 1 : 8  “Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref!   Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur 'n mens uitgedink nie.”

Sê nou maar ons is verkeerd en die moslems, budhiste, hindoes, 'scientology', watter geloof ook al, is reg…  Hoe weet ons dat ons geloof die ware geloof is?  Daar is diegene wat jou selfs sal oortuig dat die Koran en die Bybel baie ooreenkomste het. 

Wie sê die Bybel is waar?  Hulle ontdek dan nou nog stukke van die Bybel. En buitendien, niemand weet regtig wanneer Jesus gebore is nie, ons vier Kersfees, maar dis nie eens sy geboortedatum nie.

Die ergste is hulle wat die skepping bevraagteken en evolusie aanhang.

Moet nie vir een oomblik toelaat dat sulke uitsprake en redenasies (vals evangelies) jou mismoedig stem nie.  Ek weet party van hulle is baie oortuigend en kan jou laat twyfel, maar dis juis wat die duiwel beoog. 

Glo soos ‘n kind.  Hou vas aan Galasiërs 1. Daar is net een Evangelie en dit is die Evangelie van die Drie-Enige God.  Jesus Christus is gebore uit ‘n maagd. Hy het die aarde bewandel en vele wonderwerke gedoen.  Hy is gekruisig en het opgestaan uit die graf en uiteindelik opgevaar na die hemel.  Dit alles sodat ek en jy verlos en vry kan wees en eendag Sy wederkoms kan ervaar.

Wednesday 19 February 2014

As die lewe jou pootjie


Jeremia 17 : 17  “Here, moenie my nou verlaat nie!  U alleen is my toevlug as onheil dreig.”

Die afgelope ruk was seker een van my donkerste tye.  Die lewe het my gepootjie en ek was totaal en al magteloos.  Menige dag was die teksvers hierbo my enigste anker.  Noudat ek weer logies op die gebeure kan terugkyk, is dit eintlik ‘n bedekte seëning. 

Dis nie asof ek nou dink dit was sommer onbenullig nie, nee, dit is net dat ek nou God se hand daarin kan sien.  Al die gebeurtenisse wat vir my gevoel het soos onoorkomlik, was deel van God se plan.  En die beste van alles is dat wanneer jy, figuurlik gesproke, op die naat van jou rug lê, is daar eintlik net een rigting om te kyk, en dit is op.

Gedurende hierdie tyd van algehele swakheid… verlatenheid… mismoedigheid… raadop wees… was daar een bron van krag:  God.  Ek kon myself nie help nie, maar Sy krag het tot volle werking gekom.  

Wanneer mense ‘n terugslag ervaar, is ons so gou om raad te gee: “Man, dis soos fietsry.  Klim so gou moontlik op en ry weer.”  Wat ons nie besef nie is dat daar verskillende grade van besering is wanneer iemand van ‘n fiets afval en verskeie faktore wat tot die besering kan bydra.  Almal kan nie dadelik weer opklim en ry nie.  Party is net nerf-af terwyl ander se bene in gips is.

Wat ek wel wil doen is om jou te verseker dat jy God maar kan vertrou.  Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord en Hy sal jou nie in die steek laat nie.  Daarvan kan ek getuig.

Tuesday 18 February 2014

Geld God se wette nog vandag?


Matteus 5 : 17 & 18   “Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly.”

Televisienuus en koerante trakteer ons daagliks met nuuswaardighede wat jou laat wonder of die tien gebooie nie dalk oudmodies is nie.  Dalk het die wêreld tog verander sodat daardie reels nie gevolg hoef te word nie.

Jy mag nie ander gode buiten My aanbid nie.  Elkeen se mening sal hieroor verskil, maar feit is, daar word van vele bekendes afgode gemaak.

Jy mag die naam van die Here jou God nie misbruik nie.  Hoeveel keer hoor jy ‘Oh,my god’? 

Eer jou vader en jou moeder… regtig? Terwyl soveel bejaardes verwaarloos word?

Jy mag nie moord pleeg nie…ons is al byna immuun hierteen.

Jy mag nie egbreek pleek nie… maar dis so opwindend, veral as jy nie uitgevang word nie…

Jy mag nie steel nie… wie van ons is nog nie besteel nie?

Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie… ook hier staan ons skuldig, want ons wil soos ander wees, koop wat hul koop of nog erger, hê wat hul het.

Of ons dit nou wil weet of nie, die wet geld steeds en elkeen van ons sal onsself doelbewus daarop moet instel om dit te gehoorsaam, al wil dit voorkom asof dit uit pas met vandag se lewe is.

Monday 17 February 2014

God sal jou nie in die steek laat nie


Psalm 46 : 2-3  “God is ons toevlug en ons krag:  in nood is Hy gereed om te help.  Ons sal nie bang wees nie al bewe die aarde.”

Jare gelede, tydens die aardbewing in Ceres-Tulbagh, het ons in die Strand gewoon.  My ma het koekblikke uitgestal bo-op die kombuiskaste en ek onthou hoe daardie koekblikke uit die bloute begin afval het.  Aardbewings was nie deel van ons woordeskat op daardie stadium nie, maar as koekblikke sonder waarskuwing van kaste afspring, skrik jy groot.  Ek kan nie onthou dat ons die trillings gevoel het nie, maar ek kan onthou dat ek vreesbevange was.  Bo alles onthou ek my my ma se woorde:  “Daar is niks om voor bang te wees nie.”  Probleem opgelos en daarmee is ons bed toe.

Die teks hierbo doen dieselfde vir jou en vir my.  Dis God se manier om jou en my te kalmeer, te midde van die gevaar.  Al wil ons weghardloop, al is ons bang, is daar eintlik geen gronde vir ons vrese nie, want Hy is ons toevlug.  Hy gee ons krag.  In nood is Hy gereed om ons te help.

Negatiewe ervarings uit die verlede manifesteer dikwels in vrese wat ons vir altyd kan lamlê.  Dit raak ons realiteit en so bevind ons onsself in ‘n maalkolk wat ons al dieper en dieper intrek. 

Daar is uitkoms. God gooi ‘n reddingsboei na ons.  Hy is ons toevlug en ons krag en wanneer ons, soos nou, in die nood is, staan Hy gereed om ons te help, so moenie bang wees nie.

Sunday 16 February 2014

'n Rein hart



Jeremia 17 : 9 & 10 “Die mens se hart is deur en deur bedrieglik…  Maar Ek weet!  Ek, die Here, deursoek alle harte en geheime motiewe. Ek gee elkeen wat hulle toekom volgens wat hulle gedoen het.”

Oneerlikheid is iets wat my dwars in die krop steek.  Voeg daarby valsheid, voorgee en rugstekery en jy kan my van jou ‘birthday list’ skrap.

Ongelukkig is daar heelwat medemense wat hierdie ‘kunsies’ vervolmaak het, en selfs daarop roem… te veel individue wat oor die vermoë beskik om jou vir jare om die bos te lei.  Vir ander is slegs een poging genoeg om jou te ontnugter. 

Hoe dit ookal sy, ek wil nog die mens ontmoet wat nie op die een of ander tyd bedrieg is nie.

Nou vir die verrassing.  Jy kan jare lank wegkom met jou streke, maar God weet van jou bedrieglikheid en elkeen gaan kry wat hom/haar toekom.  Nou is egter nie die tyd om jou in ander se afrekening te verlekker nie, want as ons regtig eerlik is, en die teks weer lees, wil dit voorkom asof God ons almal oor dieselfde kam skeer - die mens se hart is deur en deur bedrieglik. 

Soos God ons harte deursoek vir geheime motiewe, moet ons dit ook doen en vir God vra om daardie hoekies vir ons te openbaar sodat ons, ons harte kan reinig.  Nie een van ons kan hier die eerste klip gooi nie, maar ons kan 'n bewuste poging aanwend om elke gedagte en motief te ondersoek en aan God se standaarde te meet en konstant Sy hulp en leiding te soek hierin. 

Thursday 13 February 2014

Op wie vertrou jy?


Jeremia 17 : 5 & 7  “Die Here sê: “Daar rus ‘n vloek op die wat hul vertroue stel in gewone mense.”  “Maar gelukkig is die mense wat op die Here vertrou en hul verwagting in Hom stel.”
Moeilike tye is net so deel van ons lewe as gelukkige tye.  Deur die genade wissel hulle mekaar af en niemand kla gewoonlik dat jy nou regtig moeg is van gelukkig wees nie, ne. Maar ai, daardie uitdagende tye… dis hulle wat jou ruk, skud en soms selfs ontwortel.
Elkeen hanteer sulke tye verskillend en ek wil glo dat jy dit hanteer deur God se hulp in te roep.  Realiteit is dat God nie voor ons staan nie en daarom kan ons nie Sy gesigsuitdrukking sien of Sy lyftaal lees nie, dus het ons geen idee hoe Hy oor ons monoloog voel nie.  Indien daar geen antwoord op ons gebede is nie, of niks gebeur om verligting of ‘n oplossing te bring nie, is dit net menslik om ander uitweë te begin soek. Desperaatheid dryf ons dan om na mense uit te reik en sonder dat ons dit agterkom, begin ons op hierdie mense staatmaak. Ja, God bring mense oor ons pad om ons te ondersteun, maar ons vertroue en verwagting moet altyd op Hom rus.
Laat ons nie vir een oomblik vergeet dat Hy die enigste Een is wat werklik ‘n verskil aan ons situasie kan maak nie.  Wat meer is, is dat wanneer Hy die probleem oplos, die resultaat die regte een vir jou besonderse situasie is.

Wednesday 12 February 2014

Elke kind is spesiaal


1 Samuel 1 : 26  “en Hanna het gesê: “Ekskuus, Meneer, u sal my nie glo nie, maar, Meneer, ek is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid.”

Hanna se moederskoot het vir jare leeg gebly.  Sy het by God gepleit vir ‘n kindjie en uiteindelik is haar gebede beantwoord.  Om te sê Samuel was spesiaal, is sekerlik ‘n “under statement”. 

Every child is special is ‘n Indiese rolprent met ‘n universele boodskap dat elke kind spesiaal is.  Dit gaan oor ‘n seun wat voorkom as ‘n dromer.  Hy’s gedurig laat en let nie in die klas op nie.  Verder is hy ook knaend in die moeilikheid om verskeie redes.  Kort voor lank is hy bekend as die ‘probleem-kind’.

Terwyl sy broer akademies en op sportgebied uitblink, versleg sake rondom die seun sodanig dat die skool hom nie meer wil toelaat nie.  Sy ma betoon baie liefde, maar sy pa werk hard en is oormoeg wanneer hy huis toe kom en ignoreer die seun byna, behalwe om hom te disiplineer.  Sy pa reel dat hy na ‘n koshuis gaan.  Behalwe dat dit die seun verder in sy dop laat kruip a.g.v. die trauma om van sy ma geskei te word, verbeter sy skoolwerk steeds nie. 

Tot ‘n waarnemende onderwyser die kunsklas oorneem.  Hy gebruik onkonvensionele maniere om die klasse interessant te maak en die kinders is gaande oor hom, maar niks beweeg die seun om deel te neem aan die pret nie.  Jare se geboelie, gespot en die etiket van 'dom' wees het hom van alle selfvertroue ontneem.  Die onderwyser sien homself in die seun en ontdek dat die seun, soos hy, disleksies is.  Hy vra toestemming om die kind onder sy vlerk te neem.  Met baie geduld, ongewone metodes en hope opregte belangstelling, leer hy die seun lees.  Nie net verbeter sy skoolwerk en slaag hy nie, maar die onderwyser ontdek ook die seun se buitengewone kunstalent en hy kry 'n idee om die seun se aansien onder sy maats te herstel.  Hy reel ‘n kunskompetisie en die seun wen dit, wat hom weer deelmaak van die ‘hoofstroom’.  Dit neem net een person om in jou te glo en jou lewe nuwe sin te gee. 

Elke kind IS spesiaal.  Daar is gewoonlik ‘n goeie rede hoekom ‘n kind ‘stout’ is.  Dalk leef jy elke dag met so ‘n ‘moeilike’ kind.  Daardie kind het vir ‘n rede jou pad gekruis en jy is gekies om ‘n verskil in sy/haar lewe te maak.  Moet nooit opgee op ‘n kind nie.  God het Hanna se gebede beantwoord – Hy sal joune ook beantwoord en jou die wysheid gee hom om hierdie kind te hanteer.

Tuesday 11 February 2014

Twee opsies

Matteus 7 : 13  “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie…”
In ‘n onderhoud tydens die dokumentêr “Miracle landing on the Hudson”, maak ‘n oorlewende die volgende stelling:  “As human beings we all know we have to die, but somehow we always think we have tomorrow, next week, next month, next year.  All of a sudden that was no longer a true assumption.”  Nadat die vliegtuig in een stuk in die Hudson geland het, was dit ‘n gestoei om betyds uit die vliegtuig te kom aangesien dit vining water ingeneem het.  Hulle kon net die voorste ingange oopmaak en met soveel mense wat paniekbevange was, was daar inderdaad rede om te dink dat jy nie lewend uit die vliegtuig sou kom nie.
Dalk dink jy ook jy het nog baie tyd voor jy gaan sterf. Ongelukkig weet nie een van ons wanneer daardie laaste uur gaan aanbreek of hoe dit gaan plaasvind nie.  Wat ons wel weet, is dat daar na die dood net een van twee opsies is – hemel of hel.
In teenstelling het ‘n wedergebore Christen oorlewende die volgende stelling gemaak toe hy oortuig was dat hy dit nie gaan maak nie:  “There are worse things than having to go to the after life.”

Moenie wag totdat jy die dood in die gesig staar nie.  Jou lewe kom nie tot ‘n einde wanneer jy tot bekering kom nie;  dit begin dan eers.

Monday 10 February 2014

Werk asof vir God

Spreuke 22 : 29  Jy sien self: iemand wat vaardig is in sy werk, kom in die diens van konings, nie in die diens van mense sonder aansien nie.

Volgens ‘n artikel op die internet is daar drie punte waarna werkgewers kyk wanneer hul tydens herstrukturering besluit wie hul gaan behou as poste verminder word i.e. positiwiteit, diegene met ‘n wye verskeidenheid vaardighede en laastens diegene wat voortdurend daarna streef om hulself te vernuwe.
Probeer om jou talente en gawes tot voordeel van die maatskappy aan te wend.  Wees betrokke en sorg dat hul weet wat jou bydrae is.  As jy ‘n week kan wegbly en alles verloop seepglad sonder jou, moet jy bekommerd wees.  In vandag se sakewêreld gaan dit oor resultate, produktiwiteit en kostebesparing. Hoe meer jy kan doen, hoe beter.

Die skrif is duidelik dat iemand wat vaardig is in sy werk raakgesien sal word deur diegene in magsposisies en daarmee saam gaan gewoonlik promosie. Onthou dat jy eenvoudig jou beste moet doen, asof vir God, en dat Hy sal sorg dat jy die groot hoogtes bereik wat Hy vir jou bestem het.

Sunday 9 February 2014

Staan uit bo die res

Genesis 39 : 2  Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly.

In die skrif het baie helde onder begin.  Josef is een van hulle.  Hy is in ‘n put gegooi en as slaaf verkoop, maar selfs as ‘n slaaf het hy nie op sy louere gerus nie.  Hy het gesorg dat hy besig bly, nuwe vaardighede leer, relevant bly, tot so ’n mate, dat hy as hoof van die paleis aangestel is.  Toe hy in die tronk gegooi word, het hy gou die hoof van die tronk geword. 
Josef het nooit sy omstandighede as verskoning gebruik nie.  Inteendeel, hy het elke geleentheid en elke oomblik benut.  Toe Farao uiteindelik iemand nodig gehad het om die voedingsprogram tydens die hongersnood te lei, was Josef gereed vir die taak.  Farao kon enige iemand gekies het, maar hy het Josef gekies.  Hoekom?  Omdat Josef gereed was.  Josef se houding het gemaak dat hy kop en skouers bo die res uitgestaan het. 

Waar jy jou vandag bevind is die werksomstandighede dalk nie volmaak nie, maar sorg dat jy uitstaan bo die res.  Dit maak nie saak of jou posisie minder belangrik is nie…of of die baas op jou pik nie… ook nie hoe skamel jou salaris is nie…  Dit hang af van hoe jy dit aanpak.  Steek jou hand op as hulle iemand nodig het… doen meer as wat daar van jou verwag word… leer soveel as moontlik.  Binnekort gaan die seisoen vir jou draai en dan wil jy oor al die nodige vaardighede beskik.

Thursday 6 February 2014

'Game over'

2 Petrus 3: 8  Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
Het jy al gevoel of jy ‘n doodloopstraat bereik het?  Dalk dink jy dat daar geen uitkoms is nie… dat dit “game over” is. 
Martha en Maria het ook gedink dis “game over”.  Hul broer, Lazarus, was ernstig siek en hul laaste hoop was op Jesus gevestig.  Daarom het hulle vir Hom laat weet om na hul stad te kom en vir Lazarus te kom bid.  Die boodskapper is daar weg en later terug, maar geen teken van Jesus nie.  Toe die boodskapper na ‘n dag terugkom, het Maria en Martha gevra of hul die boodskap vir Jesus gegee het.  “Ja.”  Martha en Maria het seker die pad angstig dopgehou terwyl hul moes aanskou hoe hul broer se toestand versleg.
Jy kan jou indink hoe hierdie susters moes voel toe Jesus vier dae later opdaag, nadat hul broer reeds afgesterf het.  Is dit nou die tyd om hier aan te kom?  Het Jesus nie die boodskap gekry nie?  Het Hy nie enige begrip vir die ernstigheid van die situasie  gehad nie? En toe Jesus opdaag, vaar Maria sommer uit:  “Jesus, as U eerder opgedaag het, sou my broer nie gesterf het nie.”
Hier’s die verskil.  Die susters het op genesing gehoop… Jesus het ‘n opstanding in gedagte gehad!  Ons verwag te min.  Vertrou op ‘n 'opstanding', nie bloot 'genesing' nie.

Ook vir jou is dit nie te laat nie.  Gee God vrye teuels om ‘n wonderwerk in jou lewe te laat plaasvind.

Wednesday 5 February 2014

Hou moed - end-uit

Filippense 1 : 6  Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom
Soos ons groei in geloof, vertrou ons meer en meer op God en die beloftes in Sy Woord.  Soms bid ons vir lank en dit wat ons voor vra, wil maar net nie tot vrug kom nie. 
Dis maklik om dan moed te verloor, te dink dat God nie hoor of nie omgee nie. Veral as jy hoor hoe ander se gebede rondom jou verhoor word, herinner dit sterk aan eksamentye toe almal rondom jou vir ‘n vale voortgeskryf het, maar jy klaar was en beangs rondgekyk het.  Die duiwel spesialiseer daarin om jou aan te val as jy op jou swakste is.  Ons moet egter nooit vergeet dat God op Sy sterkste is as ons op ons swakste is nie. 
As jy die afgelope tyd bid en jy gehoorsaam Sy gebooie terwyl jy vasstaan in die geloof, maar ‘n antwoord op jou gebede bly ver op die horison, is dit beslis nie nou die tyd om moed op te gee nie.  Sodra een deur toegaan, gaan ‘n ander oop.  Wees bedag op die vyand se misleiding wat jou laat fokus op die toe deure… tot so ‘n mate dat jy nie die deur sien wat God vir jou oophou nie.  Hier’s goeie raad - te midde van jou onsekerheid en afwagting, hou aan om Hom te prys!  Uitkoms is om die draai. 

Moenie moed verloor nie en moenie twyfel nie. Dis God se boodskap aan jou vandag.

Tuesday 4 February 2014

Aanhouer

Jakobus 1 : 4  En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.
Ranulph Fiennes is ’n Britse ontdekkingsreisiger (wat sy vroeë kinderjare in Suid-Afrika deurgebring het), met vele Guinness World Records op sy kerfstok.  In 1982 het hy en sy spanmaat Charlie Burton die eerste mense geword wat die Noord- en Suidpool oor land bereik het. 
In 1993 het hy die eerste tog oor Antarktika voltooi sonder enige steun.  In 2003, enkele maande na ‘n dubbele hartomleining voltooi hy 7 marathonne op 7 vastelande, binne 7 dae.  Indrukwekkend?  Beslis, maar hy was slegs 50% suksesvol in die 40 jaar dat hy wêreldrekords opgestel het.
Was jy al teleurgestel omdat jy misluk het?  Ek glo nie daar is 'n mens wat nog nooit misluk het op die een of ander manier nie ,selfs al het jy met 'n tweede of derde poging sukses behaal...Ons almal ken daardie sinkende gevoel.  Dalk het jy gehoop om die suksesvolle kandidaat te wees…  Dalk het jy gehoop dat jou verhouding tot ‘n huwelik sou lei…Dalk het jy ‘n koek probeer bak wat platgeval het... Wat het jy toe gedoen... Opgegee of weer probeer?

Die feit dat Ranulph soms misluk het, het hom nie afgesit nie.  Toe ‘n joernalis hom vra hoe hy daaroor voel, het hy geantwoord:  ““Dis ‘n totale vermorsing van tyd om oor dinge spyt te wees waaraan jy niks kan doen nie.”  Ranulph het nooit moed opgegee nie.  Ek en jy moet ook volhard… in geloof en ook in ons daaglikse handel en wandel.

Monday 3 February 2014

Innerlike vs uiterlike

Psalm 86 : 11 Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien.
Wanneer God na jou hart kyk, wat sien Hy?
Te veel mense leef ‘n dubbele lewe.  Hulle gee voor om iemand te wees wat ander se goedkeuring sal wegdra.  Hulle sê wat ander wil hoor.  Hulle tree op soos daar van hul verwag word. 
Dan is daar die innerlike, wat bestaan uit jou gedagtes, houding en motiewe.  Net God weet presies wie jy van binne is.
Juis hier kom die probleem, want nou is die innerlike en uiterlike in konflik.  Met valse optrede kan ons mense nog bluf, maar nie vir God nie.  Hy sal baie gelukkiger wees as ons opreg is in ons woorde en dade. 

Neem so ‘n bietjie voorrraadopname deur baie eerlik na jouself te kyk.  Het jy vrede met wie jy is van binne en van buite – stem die twee ooreen?  Indien nie, vra God om jou ‘n onverdeelde hart te gee en leef ‘n lewe tot Sy eer.

Sunday 2 February 2014

Goddelike liefde

1 Korintiërs 13 : 4 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.
Christenskap word nie gemeet aan hoe lank jy reeds ‘n Christen is, of hoe goed jy Die Bybel ken, of hoe gereeld jy kerk toe gaan nie.  Dit word wel gemeet aan jou dade… hoe jy ander behandel… hoeveel liefde jy betoon… hoe hulle voel as jy wegstap. 
Korintiërs 13 lys al die eienskappe van die liefde o.a. om nie ongeduldig te wees nie – om ander met respek en liefde te hanteer.  Is jy geduldig, vredeliewend, beleef teenoor diegene wat jy elke dag mee in aanraking kom - of dit nou in die winkel of die raadsaal is.  Jy behoort nie die posman anders te hanteer as die skoolhoof nie.
Nie een van hierdie eienskappe het te doen met hoe jy voel nie, want liefde is ‘n keuse. M.a.w. ek hoef nie van jou te hou om op die regte manier teenoor jou op te tree nie.  Ek kan bloot besluit dat dit is wat ek as kind van God behoort te doen, om Hom te verheerlik, en dan daarvolgens te leef. 

Liefde kan die wêreld verander.  Inherend het elke mens die behoefte om met liefde behandel te word – goddelike liefde.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...