Monday 31 March 2014

Ware vriendskap

1 Samuel 18 : 4 Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel

Volgens die Bybel was Jonatan die volgende aanspraakmaker op die troon, maar Dawid was God se keuse.  Alhoewel Jonatan se pa nie van Dawid gehou het nie, het die twee ‘n besonderse vriendskap ontwikkel, een wat so spesiaal was dat ons vandag nog na mense wat na aan mekaar is verwys as ‘hulle is soos Dawid en Jonatan’. Dawid en Jonatan het verby mense se persepsies en voorkeure gekyk tot binne mekaar se harte en daar het hierdie kosbare vriendskap ontstaan.

Om ‘n opregte vriend of vriendin te hê is ‘n wonderlike seen.  In ‘n wêreld waar dit vir vele net om hulself gaan, verg opregte vrienskap dat jy van jouself gee, dat jy daar is vir die persoon deur dik en dun. Ware vriendskap hou nie rekord oor wie wat vir wie gedoen het nie.

Dalk is daar iemand wat met jou wil vriende wees, maar die persoon lyk vir jou na ‘n onwaarskynlike opsie.  Kyk verby voorkeure en persepsies soos Dawid en Jonatan en gee daardie persoon ‘n kans.  

Sunday 30 March 2014

Praat net goed

Efesiërs 4 : 29  Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van die omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom

Afrikaans is een van die mooiste tale, maar daar is diegene wat nie ‘n sin sonder vuil taal en/of kragwoorde kan uiter nie.  Dit is asof kragwoorde so deel van hul manier van praat is, dat hul dit nie eens meer agterkom nie.   Jy kan steeds jou boodskap of gevoelens oordra sonder om kragwoorde te gebruik.  Vuil taal of suggestiewe opmerkings is net so ‘n euwel, want dit weerspreek waardes soos respek, wat ons elkeen teenoor mekaar behoort te demonstreer.

Jy kan maklik vir jouself ‘n reputasie opbou deur die woorde wat jy uiter.  Dra jou woorde ‘n boodskap wat opbouend is, of maak jou woorde van jou ‘n negatiewe mens?  Ons word so maklik ingetrek deur negatiewe opmerkings of skinderpraatjies.  Volgende keer as jy jouself te midde van so ‘n situasie bevind, maak die spreker bewus daarvan dat jy nie met hom/haar saamstem nie en ook nie glo dat dit reg is om oor iemand te praat wat nie teenwoordig is nie.  Indien jy nie die moed het om dit te doen nie, bly stil of stap eenvoudig weg.  Die ou cliché “as jy niks goeds kan sê nie, bly liewer stil”  is ‘n Bybelse beginsel as jy na die teks hierbo kyk.  Die tong is inderdaad ‘n twee-snydende swaard, ‘n ‘wapen’ wat ontsettende skade kan aanrig.  Woorde wat geuiter is, kan jy nooit weer terugtrek nie.  Jy kan omverskoning vra, maar wat jy gesê het, het jy gesê. 


As mense kan ons swakhede teenoor God erken en Hom vra om ‘n wag voor ons mond te plaas en elke dag oefen om nie ingetrek te word nie.  

Thursday 27 March 2014

Woestyntyd

Deuteronomium 11 : 5  “Julle het self beleef wat Hy vir julle gedoen het in die woestyn en totdat julle tot hier gekom het,”

Wanneer ek aan ‘n woestyn dink, dink ek aan die Namib, die enigste woestyn wat ek nog ooit gesien het… en was dit vir my mooi!  Van Swakopmund na Walvisbaai ry jy met die see aan die een kant en die Namibduine aan die anderkant.  Net God kan iets so eenvoudig dog so asemrowend skep. 

Om in ‘n woestyn te leef of te verdwaal, wens ek niemand toe nie, want dis wanneer jy die ander kant van ‘n woestyn sal leer ken.  Woestyne is egter nie net droog, bar en verlate nie.  As jy fyn kyk, sal jy dierelewe sien wat jy nêrens anders teekom nie.  Daar is ook oases, wat jou verstom te midde van hitte en sand rondom die groenigheid. 


As jy ‘n woestyntyd beleef, dink terug aan vorige tye van beproewing toe jy jou ook in die woestyn bevind het, en soos die Israeliete, onthou wat God vir jou gedoen en beteken het.  Oases is tekenend van God se voorsiening midde in ‘n woestyn.  Moed nooit moed verloor nie.  Dieselfde God wat soveel vir die Israeliete omgegee het, dat Hy vir hul manna en kwartels voorsien het, sal ook in jou behoeftes voorsien… groot of klein – Hy is die groot Voorsiener.

Wednesday 26 March 2014

'n Gewigtige saak

1 Samuel 16 : 7 Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

‘n Vriendin onthul onlangs hoe sy op skool geboelie is… en dit oor haar gewig.  Ons weet kinders kan wreed wees, maar ek dink nie hulle besef ooit hoeveel skade hul ‘onskuldige’ pret ten koste van iemand anders aanrig nie.  My vriendin loop vir jare met daardie seer binne haar… dit het haar identiteit verswelg.  En hoe meer sy daardie woorde geglo het, hoe meer het sy haar aan kos oorgegee…Tot sy op ‘n dag besef sy het die mag om daardie kettings te breek wat haar terughou.  

Toe sy eers daardie kopskuif gemaak het, was sy onstuitbaar.  Sy het oor ‘n periode van net bietjie meer as ‘n jaar 80 kg gewig verloor.

Daardie kinders onthou haar dalk nie meer nie, maar hulle het ‘n ongelooflike invloed op haar menswees gehad.   Sy was altyd mooi en het nog altyd ‘n borrelende persoonlikheid gehad, maar vandag het sy iets ekstra wat haar beeldskoon maak… selfvertroue en die besef dat sy enige iets kan regkry as sy eers haar kop daarop gesit het. 

In ‘n wêreld waar mooi mense voorkeur kry, wil ek jou herinner dat God nie na die uiterlike kyk nie, maar na die innerlike. 


Skoonheid of ‘n maer lyfie gaan jou nie in die hemel kry nie.  

Tuesday 25 March 2014

Jy's pragtig net soos jy is

Genesis 1 : 31  Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.

Oscar von Memerty ly aan MPS6 oftewel Maroteaux-Lamy-sindroom) wat skeletafwykings, dwergisme, verlamming, verlies van motoriese funksies en blind-doofheid veroorsaak.

Op skool is hy gespot omdat hy so kort was, dan het hy net na hulle gekyk en gesê: “Hoe slim van jou om iets uit te wys wat so duidelik is.”  Sy ouers het hom van kleins af geleer hoe om met die kritiek wat hy oor die jare sou moes verduur te hanteer, maar uiteindelik is dit hierdie jongman wat so sterk is dat hy net sowel 1,8 m lank kon wees.  Niks hou hom terug nie.

Hy’s dol oor hip-hop dans en lewer motiveringspraatjies terwyl hy tuisonderrig ontvang om sy skoolloopbaan klaar te maak.

Jy is nie wie mense sê jy is nie, jy is wie God sê jy is… en natuurlik wanneer jy aanvaar hoe Hy jou gemaak het. Soveel van ons probeer wees wat ander verwag ons moet wees.


Jy’s uniek en pas perfek in die vorm wat God gebruik het toe Hy jou gemaak het.

Monday 24 March 2014

Jou verlede bepaal nie jou hede nie

Spreuke 3 : 6 Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Brian Acton en Jan Koum het WhatsApp so pas aan Facebook verkoop vir R200 biljoen.

Jan Koum onthou hoe hy as kind na die welsynkantoor naby San Francisco gegaan het om koskoepons te gaan haal om sy ma, ouma en homself aan die lewe te hou.  Hy’t aangedring dat hul die transaksie onderteken voor hierdie welsynskantore om te onthou waarvandaan hy kom. Jan het blykbaar nooit op skool uitgeblink nie en net-net gematrikuleer.  Alhoewel hy vir die graad B.Sc in rekenaarwetenskap ingeskryf het, het hy dit ook opgeskop.

Brian Acton hou homself uit die kollig. Hy het egter ‘n hele paar grade agter sy naam.  Die transaksie moes vir Brian besonders gewees het, want toe hy ‘n paar jaar gelede by Facebook om werk aansoek gedoen het, is hy afgekeur.

Twee manne met verskillende agtergronde en talente, met ‘n droom wat ten spyte van terugslae en teestand nooit getwyfel het dat hulle ‘n goeie idee het en dat dit suksesvol sou wees nie.


As jy nie die hoogste punte op skool behaal nie, beteken dit nie dat jy nie suksesvol kan wees nie.  Dis dikwels kinders wat hard moet werk om iewers te kom wat eendag suksesvol is.  Enige iemand kan suksesvol wees, dit hang net af hoeveel jy in jouself glo… en natuurlik dat jy jou planne met God bespreek. 

Sunday 23 March 2014

Met watter maat meet jy?

Matteus 7 : 2  met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

Al sit jy op Mars, spring jy nie die voortdurende verslaggewing oor die Oscar Pistorius saak vry nie.  Vir my is dit absoluut verstommend dat mense dit nuuswaardig vind.  Oral waar jy kom is daar ‘kenners’ wat sekere ‘feite’ gebruik om te verklaar hoekom hulle dink hy is skuldig of onskuldig.

Die blote feit dat daar ‘n hele TV kanaal daaraan gewy word, maak dit nog meer hartseer.  Dit laat my voel asof ons toeskouers van ‘n bloedige stiergeveg is.  Ons weet daar is pyn en hartseer by betrokke en dat daar eintlik geen wenner is nie, maar ons kyk! Ek mag verkeerd wees, maar dalk maak die kanaal selfs geld uit adverteerders a.g.v. die aantal kykers.

Ek staan nie vir een oomblik onsimpatiek teenoor Reeva se ouers nie, maar Oscar moet met ‘n verskriklike werklikheid saamleef. Hoekom moet ons hom nog verder kruisig en ons verlekker in sy pyn?

Waar is die empatie? Wat het geword van ‘jy moet jou naaste liefhê soos jouself’?  Of ‘doen aan ander soos wat jy wil hê hul aan jou moet doen’?


Net God weet of Oscar dit doelbewus gedoen het of nie;  net God mag oordeel.  

Wednesday 19 March 2014

Strandlopertjie

STRANDLOPERTJIE
Die skrywer is Robert Peterson. Hy skryf:
Sy was maar 'n skamele 6 jaar oud toe ek haar vir die eerste keer ontmoet het. Ek ry gewoonlik die 4 kilometer af strand toe elke keer as ek voel dat die wêreld vir my te klein begin word. Sy was besig om
'n sandkasteel of iets te bou, en toe sy opkyk, kyk ek in die pragtigste blou ogies, so blou soos die see self.
"Hallo", sê sy.
Ek antwoord met 'n knik van die kop, nou nie juis in 'n bui om te bodder met 'n klein dogtertjie nie.
"Ek bou", sê sy.
"Ja, so sien ek. Wat bou jy?" Ek gee nou nie juis om wat sy bou nie.....
"Aag ek weet nie, ek voel maar net lus om in die sand te speel."
Die idee trek my nogal aan, en ek trek my skoene uit. 'n Strandlopertjie sweef verby.
"Dis 'n vreugde", sê sy.
"Dis 'n wat?"
"'n Vreugde.  Mamma sê dat 'n strandlopertjie vir 'n mens vreugde bring."
Die strandlopertjie verdwyn oor die duin. "Koebaai vreugde", mompel ek vir myself, "Hallo pyn!" Ek draai om om te loop. Depressie het aan my geknaag - my lewe was 'n gemors.
"Wat is jou naam?" Hierdie dogtertjie gaan nie maklik tou opgooi nie.
"Robert", sê ek, "Robert Peterson."
"Ek's Wendy ..... ek is ses."
"Hallo Wendy"
Sy giggel. "Jy's snaaks", sê sy.
Ek lag, ten spyte van die donker wolk wat oor my gemoed hang, en ek stap aan. Haar klokhelder giggel-laggie volg my.
"Kom weer meneer P", skree sy, "kom sodat ons nog 'n gelukkige dag kan hê!"
Na 'n paar dae van onbeheerbare Boy Scouts, frustrerende vergaderings en 'n ou kranklike moeder, het die son een oggend so vrolik geskyn dat ek die skottelgoedwater van my hande afgeskud het,
en toe sê ek vir myself: "Robert, jy het 'n strandlopertjie nodig." Die heerlike sout seelug
wag vir my, en ek gryp my jas.. Die windjie is ysig, maar ek stap aan en probeer die rustigheid van die strand indrink, daardie rustigheid wat ek so bitter nodig het.
"Hallo meneer P," roep sy my, "wil jy kom speel?"
"Wat het jy in gedagte?" Ek voel half vies vir hierdie inbreuk op my gedagtes.
"Aag, ek weet nie..... wat dink jy?"
"Wat van kennetjie?" vra ek half sarkasties.
Haar klokhelder laggie weerklink oor die strand. "Ek ken nie daai speletjie nie."
"Nou maar dan loop ons maar sommer."
Ek kyk af na die lewendige klein figuurtjie, en ek kan nie help om die delikate bleek gesiggie raak te sien nie. "Waar bly jy?"
"Daar annerkant", sê sy, en sy beduie in die rigting van 'n paar somerhuisies.
Dis baie snaaks, dink ek. Om in die winter in somerhuisies te kom bly....
"En waar gaan jy skool?"
"Ek gaan nie skool toe nie - Mamma sê ons is met vakansie."
Sy babbel aanmekaar terwyl ons met die strand afstap, maar my gedagtes is baie vêr weg. As ek later huistoe ry, sê Wendy vir my dat dit 'n baie lekker dag was. Ek glimlag vir haar - snaaks genoeg voel ek ook sommer baie beter..
Drie weke later jaag ek af na my strand toe. Dinge het nou net te veel vir my geraak, en ek is nie in 'n bui om eers vir Wendy te groet nie. Ek sien iemand op die somerhuisie se stoep sit - seker Wendy se ma - en ek voel asof ek vir haar wil skree: "Hou jou
dogtertjie asseblief vandag tuis!"
Ek stap gejaag, maar Wendy haal my in. "Asseblief, nie vandag nie!", snou ek haar toe, "Ek wil vandag alleen wees!" Sy lyk vandag onnatuurlik bleek en uitasem.
"Hoekom?" vra sy.
Ek gaan staan, draai om na haar toe en skree: "Want my ma is dood!"
En skielik wonder ek waarom ek dit vir hierdie kind vertel.
"O", sê sy saggies, "dan is dit 'n slegte dag."
"Ja", sê ek, "én gister, én eergister, en ... aag gaan tog net weg!"
"Was dit seer?" sy kan net nie ophou nie.
"Was wát seer?" ek is moedeloos; met die dogtertjie en met myself.
"Toe sy dood is?"
"Natuurlik was dit seer!" kap ek terug, sonder om die bedoeling agter haar vraag te verstaan. Ek draai om en stap haastig weg, versonke in my eie seer gedagtes.
 'n Maand of wat later, toe ek weer op die strand kom, was sy nie daar nie. Ek voel skuldig en skaam oor my gedrag, en ..... ek het haar nogal gemis. Ek stap na die strandhuisie toe en klop aan die deur. 'n Vrou maak oop.
"Ek is Robert Peterson", sê ek, "ek mis jou dogtertjie só vandag, en ek het net gewonder waar sy is."
"O ja, meneer Peterson, kom in asseblief. Wendy het so baie van jou gepraat.
Ek is so jammer dat ek toegelaat het dat sy jou pla. As sy 'n oorlas was - dan vra ek om verskoning"
"Aag nee wat, sy is so 'n borrelende klein dogtertjie." En skielik besef ek dat ek werklik bedoel wat ek sê.
"Wendy is verlede week dood, meneer Peterson. Sy het bloedkanker gehad - het sy jou nie gesê nie?"
Skielik draai die wêreld om my, en ek gryp haastig vir 'n stoel. Ek is sprakeloos.
"Sy was so lief vir hierdie strand, en toe sy vra dat ons hierheen kom, toe kon ek nie nee sê nie. Sy het soveel beter hier gelyk, en hier het sy baie gelukkige dae gehad. Maar die laaste paar weke het sy baie vinnig agteruit gegaan." Haar stem bewe. "Sy het iets vir jou gelos ..... as ek dit net kan opspoor. Sal jy omgee om 'n bietjie te wag - ek soek dit net gou?"
Ek knik my kop - ek soek vir woorde - maar hulle ontbreek. Wat sê ek vir hierdie pragtige jong vrou?
Sy gee vir my 'n vuil koevert met "MR. P" op geskryf in groot kinderletters.
Binne is 'n tekening in helder kleure - 'n geel strand; 'n blou see en 'n bruin voël, en onderaan die woorde: "'n Strandlopertjie om geluk te bring" . Ek kan die trane nie keer nie, en hierdie klip-hart van my wat lankal vergeet het wat dit is om lief te hê, kraak en
breek. Ek neem Wendy se ma in my arms: "Ek is so jammer, so bitter, bitter jammer", is al wat ek kan uitkry, oor en oor, en saam huil ons.
Daardie kosbare prentjie is geraam, en hang in my studeerkamer. Ses woorde - een vir elke jaar van haar kort lewetjie - sê vir my van harmonie, dapperheid en 'n onvoorwaardelike liefde. 'n Geskenk van 'n dogtertjie met see-blou oë en hare die kleur van die seesand - sy het my geleer van die geskenk van ware liefde.
Hierdie ware verhaal is opgeteken deur Robert Peterson. Dit het meer as 20 jaar gelede afgespeel, en hierdie insident het sy lewe onherroeplik
verander.
Ons kan hieruit leer dat ons tyd moet maak om die lewe te geniet, en tyd moet maak vir mekaar.
Die lewe is so gekompliseerd - die gejaag en elke dag se probleme en traumas kan maak dat jy fokus verloor en van die dinge wat rêrig saakmaak vergeet.
Gaan gee vir die mense in jou lewe waarvoor jy lief is vandag 'n ekstra drukkie, net om te sê dat jy omgee en vir hulle lief is. En gaan stap 'n draai in die tuin, en ruik aan die blomme. Drink die skeppingswonder van God in, en gee aan Hom die eer.
Wendy het nie maar toevallig op Robert se pad gekom nie - daar is nie so 'n ding soos toeval nie. Sy was daar met 'n doel. 
So bring die Here dinge op ons pad met 'n doel - soms is dit nie lekker nie, soms raak dit daar diep binne in jou bors, waar 'n waslap nie kan was nie, aan jou hart. Maar sien die hand van God daarin, en dank Hom daarvoor.


(epos  juweeltjie)

Tuesday 18 March 2014

Die enigste Bybel

Johannes 13 : 15  Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.
Sy naam is Billy. Hy het woeste hare, dra ‘n T-hemp met gate in, denimbroek en geen skoene. Dit was letterlik sy hele klerekas vir die hele vier jaar op kollege.  Hy is briljant en baie slim. Hy het ‘n gelowige geword terwyl hy op kollege was.
In die straat oorkant die kollegekampus was die kerkgebou van ‘n baie netjiese en baie konserwatiewe gemeente. Hulle wou ‘n bediening begin vir die kollegestudente, maar het nie regtig geweet waar om te begin nie.
Een Sondagoggend daag Billy by die kerk op ― geklee in sy gewone T-hemp, denim, ongeskeer, sy hare wat wild staan en kaalvoet.
Die diens het reeds begin en Billy het in die paadjie afgestap opsoek na  sitplek om te sit, maar die kerk was stampvol en daar was nie ‘n enkele  sitplek beskikbaar nie. Van die gemeentelede het kriewelrig rondgeskuif en ander het ongemaklik onder mekaar gefluister.
Voor by die preekstoel besef Billie dat daar geen sitplek beskikbaar is nie, en  hy maak homself toe op die mat tuis.
Teen die tyd was die gemeentelede alreeds erg opgetrek oor die situasie en die atmosfeer so dik dat jy dit amper met ‘n mes kon sny.
Juis toe merk die dominee dat een van sy gewese ouderlinge van heel agter in die kerk op pad is na Billy toe. Die oubaas was reeds in sy tagtigs, met silwergrys hare en, soos altyd, netjies geklee in sy swart driestuk pak. Almal het hom geken as ‘n waardige, Godvresende man ― met sy kierie het hy statig en hoflik sy weg gebaan na die jongman daar voor die preekstoel. Die kerk was doodstil, behalwe vir die getik van die ouderling se kierie op die vloer. Alle oë  was vasgenael op die oubaas en die gemeentelede het skaars asemgehaal, want hulle het geweet die oubaas loop nie draaie as dit by reg en verkeerd kom nie.  Selfs die dominee het gespanne en in stilte gewag om te sien wat gaan gebeur.  Toe die oubaas uiteindelik die jongman bereik, het hy sy kierie laat val, en stadig en met groot moeite op die mat neergesak, Billie met ‘n kopknik gegroet en effe uitasem gefluister: “Nou sit jy darem nie alleen nie…”
Die gemeente se emosies het voelbaar opgewel en hier en daar het een ‘n traan afgevee.

Toe die predikant uiteindelik beheer oor sy eie emosies kry, het hy opgekyk en gesê:  “Wat ek vandag oor gaan preek, het julle more dalk al vergeet.  Wat julle so pas gesien het, sal julle nooit vergeet nie… Wees versigtig hoe jy leef.  Jy mag dalk die enigste Bybel wees wat sommige mense ooit sal lees…

(ontvang via epos)

Monday 17 March 2014

Werkgewers vs Werknemers

Kolossense 4 : 1 Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel.
Laura Tennison was vir ‘n lang ruk, na ‘n ernstige motorongeluk, in die hospitaal.  Haar buurvrou in die saal en sy het natuurlik lekker gesels en sy besef toe hoe moeilik dit is om mooi kraamdrag te kry.  Terwyl sy daar gelê het, het sy die tyd gebruik om hierdie gaping in die mark te vul.  Sy was so opgewonde dat sy haarself ontslaan het en kort daarna is JoJo Maman Babe gestig.  Oor die jare het sy die besigheid opgebou tot ‘n multi-miljoen rand besigheid met meer as 50 takke en ook gediversifiseer in kinderklere. 
Op ‘n stadium het sy kapitaal benodig en begin soek na beleggers.  Na noukeurige oorweging het sy besluit op die maatskappy wat haar die meeste vryheid sou bied, maar veral nie haar personeel sou besnoei nie.  Sy het nie die belegger gekies wat die meeste geld sou investeer nie, maar eerder die een wat haar personeel sou beskerm.
Ek wonder hoeveel sakemanne of –vroue sou hierdie etiek aan die dag gelê het.  Maatskappye in Suid-Afrika is so ingestel op hul eie en aandeelhouers se winste dat hul personeel sal besnoei tot op die been en dit in ‘n land waar werkloosheid aan die orde van die dag is. 
Laura Tennison het bewys jy kan suksesvol wees sonder om op ander te trap.  Sy glo dat gelukkige personeel meer produktief is en daarom stel sy intens in die wel en wee van elke personeellid belang.  Terloops sy praat nie van haar personeel nie, maar van haar span.  

Sunday 16 March 2014

"Holding Patterns"


Many times, God will allow a painful situation or a painful circumstance in our life to "swallow us up." This season in our spiritual growth is a holding pattern. We can't move to the left or the right. All we can do is sit, like Jonah sat in the belly of that great fish, so God can have our undivided attention and speak to us.

God put Jonah in a holding pattern because He needed to speak to his heart. Jonah was all alone. There were no friends to call, no colleagues to drop by, no books to read, no food to eat, no interferences, and no interruptions. He had plenty of time to sit, think, meditate, and pray.

When we're deep down in the midst of a difficult situation, God can talk to us. When He has our undivided attention, He can show us things about ourselves that we might not otherwise have seen.

A few of God's holding patterns:
1. When you are sick in your physical body and you have prayed but you're not yet healed, you are in a holding pattern.

2. When you are having problems with your children and you have put them on the altar, but God has not delivered them yet, you are in a holding pattern.

3. When you have been praying for a loved one to return to God, and they have not come back yet, you are in a holding pattern.

4. When you are in a broken relationship and you have given it over to God, but it has not been restored yet, you are in a holding pattern.

5. When the doors slam shut before you can even knock on them, you are in a holding pattern.

When we are deep in the belly of a difficult situation, there are no interruptions. God has our undivided attention. All we can do is sit, think, meditate, and pray. Like Jonah, we cannot run from God, because there are no mountains that are high enough, valleys that are low enough, rivers that are wide enough, rooms that are dark enough, or places that are hidden from Him.

We must remember to praise Him while we're waiting, and remember three things:
1. The pattern has a purpose.
2. The pattern has a plan.
3. The pattern has a process.

So stop struggling and start listening, praying and trusting. He'll keep you right where you are until you can clearly hear Him say, "I love you."

Suggested Prayer: Father, forgive my unbelief. I know you love me and I will come to see the benefit of everything in my life, even this holding pattern, and the manifestation of my God is assured through You. You have planned nothing for me but victories and I am ready to receive them regardless of how difficult the path.


   
(ontvang via epos)

Thursday 13 March 2014

'n Nuwe afgod

1 Samuel 1 : 14  Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!”
Drank is besig om ‘n afgod in soveel mense se lewe te word.  Kyk maar by rugbywedstryde hoe die glasies op die paviljoene omhoog gehou word.  En geen fees sal volmaak wees sonder ‘n biertent nie, ne.  Of dit nou ‘n troue, doop, braai of familie saamtrek is, drank is altyd deel van die geleentheid.
Ek glo nie vir een oomblik dat jy net jouself kan geniet as jy ‘n drankie geniet nie. Jy kan jouself net soveel geniet met ‘n koeldrank.
Teen drank self het ek niks…Jesus het immers self wyn gemaak toe die wyn by die troue op was… dis die misbruik daarvan wat my bekommer.  Daar is te veel mense wat nie sonder drank kan funksioneer nie, alhoewel ek hier oor die definisie van ‘funksioneer’ verskil.  Dit word die kruk wat jou help om probleme te oorkom.  Dit word die staatmaker, of die steunpilaar wanneer die lewe druk.  Party mense glo dis net wat hul nodig het na ‘n dag se stress... om te kan ontspan.

Daar is ‘n ander oplossing… een wat ook nie jou beursie sal ruk nie… God.  Los daardie drankbottel.  Dit is besig om jou lewe en jou gesin te vernietig en dis so onnodig.  Jy’s ‘n pragtige mens en jy kan alles hanteer deur God wat jou daardeur sal dra.  

Wednesday 12 March 2014

Pikkewyne en ouerskap

Deuteronomium 11 : 19 “Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.”
Wanneer ‘n Emperor-wyfie-pikkewyn ‘n eier gelê het, is haar liggaam so uitgeput dat sy daarna nie in staat is om op die eier te sit tot dit uitbroei nie.  Van die oomblik dat die eier gelê is, oorhandig die wyfie die eier aan die mannetjie wat dan die eier onder sy vere inwerk sodat dit basies op sy voete rus.  So staan die mannetjies ‘n volle 64 dae met die eiers deur die strawwe Antarktiese Winter waartydens temperature daal tot -46 grade Celsius en met winde van tot 160 km/ph.  Daarom maak hulle beurte om aan die buitekante te staan, anders sal hul verkluim.  As die pa die eier op die sneeu sou laat, sal dit vries en nooit uitbroei nie. 
Intussen neem die wyfies die lang tog na die see en hulle vang vis asof hul lewe daarvan afhang.  Dit alles te midde van gevare soos robbe wat hul kan vang.  As hul oorleef pak hul die tog terug aan na die mannetjies.  Intussen broei die baba pikkewyntjies uit, maar die pa kan hul nie nou in die steek laat nie.  Hy moet wag totdat die wyfie hom en die babatjie opspoor tussen al die ander pikkewyne.  Nou ja, pikkewyne lyk vir ons almal dieselfde, maar hulle herken blykbaar mekaar aan hul skreeugeluide.  Wanneer die ma dan opdaag, voer sy die babatjie met die vis wat sy in haar maag gestoor het.  Jy kan jou voorstel wat gebeur as die wyfie dit nie terugmaak nie, maar as sy dit maak, is dit die mannetjie se beurt om te gaan eet… na maande sonder kos. 'n Mannetjie verloor tot 40% van sy liggaamsgewig gedurende hierdie tyd wat hy die eier uitbroei.  Die mannetjie sal ook weer terugkom met kos en om die beurt sal hul kos gaan haal vir die kleintjie totdat hy groot genoeg is om vir homself te sorg. Dan gaan al die pikkewyne see toe, so op ‘n streep en hul begin die migrasie roete aanpak. Die ‘tieners’ staan op die wal en moed bymekaarskraap, want nou het ma en pa die naelstring gesny en hulle word hul ook nie meer gevoer nie. 
Is dit nie ‘n pragtige voorbeeld van ouers wat vennote in hul kinders se opvoeding is nie?   Albei ouers neem ten volle verantwoordelikheid vir die kind se opvoeding deur sy of haar grootword jare.  Ons hoor soveel hoe kinders mishandel en verwaarloos word.  Of van ouers wat kinders gebruik om mekaar te vermaak na ‘n egskeiding. Wanneer ouers skei, skei hul nie van hul kinders nie.  Om met ‘n kind geseën te word is nie almal beskore nie, maar as jy daardie voorreg gegun is, maak seker jy is ‘n goeie ouer… een wat omgee, vertroetel, leer en versorg… ten spyte van omstandighede.

Tuesday 11 March 2014

Slim Planne

Spreuke 19 : 21 Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas.
Ten spyte van die mees wel deurdagte beplanning, vind ons dikwels uit dat die lewe nie juis verloop soos ons dit beplan het nie.
Net soos jy dink jy het uiteindelik iets reggekry of jou doelwit bereik, gee die lewe jou ‘n dwarsklap en spat alles uitmekaar. Soms is dit jou kind wat nie meer verder wil studeer nie… Partykeer is dit ‘n transaksie wat skeefgeloop het… Miskien het jou lewensmaat jou verkul… dalk het jy nie die bevordering gekry waarop jy gehoop het nie… of is jy met ‘n ongeneeslike siekte gediagnoseer… of dalk het jy gehoop op ‘n verhoging of bonus wat toe nooit materialiseer het nie…
Ek het nie al die antwoorde vir jou nie, maar ek kan jou verseker dat dit waar jy jou nou bevind nie die einde van die pad vir jou is nie.  God het groter planne vir jou. 
Dis nie altyd maklik om die stukke op te tel nie… dis ook nie maklik om van voor af te begin nie, maar God gaan daardie  stukkies van jou lewe optel en die mooiste mosaiek kunswerk daarmee skep.  Hy is die Meester Kunstenaar.  Wanneer ander na die nuwe jy kyk, gaan hul verstom staan hoe God se planne vir jou lewe perfek in plek geval het.
“Life is what happens to you while you're busy making other plans.” - John Lennon 

Monday 10 March 2014

Die huwelik


Genesis 2 : 22 en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe.

Wanneer jy iemand spesiaal in jou lewe het, jou beste maat en sielsgenoot, is daar soveel vreugde dat dit soms voel asof jy kan bars van geluk.  Daar is inderdaad min dinge in die lewe so mooi, soos twee mense wat mekaar opreg bemin en nie skaam is om dit te wys nie.

Dis veral vir my mooi as twee mense in hul senior jare nog liefdevol teenoor mekaar is.  Hierdie huwelike het ook hul uitdagings en krisisse gehad, maar die verskil is dat die liefde sterk genoeg was om dit te oorkom.

Huweliksbeloftes word voor God afgelê en is nie iets wat ons ligtelik kan of mag opneem nie.  Die enigste tyd dat drie mense in ‘n huwelik aanvaarbaar is, is wanneer dit julle twee en God is.  Hy behoort die basis van jou huwelik te vorm.

‘Laat ons nou maar eerlik wees, 'n huwelik is nie net maanskyn en rose nie; dit verg harde werk van beide kante. As elkeen se doelwit is om die ander persoon gelukkig te maak, kan dit net goed gaan, want as jou maat gelukkig is, is jy ook gelukkig.

God het die vrou na die mens gebring… julle twee is nie toevallig bymekaar nie.  Eer God deur jou huweliksmaat te respekteer en hom/haar met jou hele hart te bemin.

Sunday 9 March 2014

Moes jy al 'n padda soen?


Genesis 2 : 18  Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

Feëverhale, storieboeke en rolprente laat ons glo dat twee mense mekaar ontmoet en ten spyte van ‘n opdraend of twee, om die storie ‘n bietjie meer vleis te gee, die paartjie uiteindelik vir altyd gelukkig saam voortleef.  Daarom is dit heel verstaanbaar dat ons almal hoop op daardie een spesiale persoon om sy of haar opwagting te maak met wie ons dan vir die res van ons lewe gelukkig saam sal wees.

As jy vandag hunker na daardie spesiale persoon en wonder of hy/sy ooit gaan opdaag, moenie moed verloor nie.  En ja, jy moet soms  ‘n padda of twee soen voor jy die een vind wat uiteindelik in ‘n prins of prinses verander.

Dalk het jy onlangs ‘n liefdesteleurstelling gehad en voel jy verwerp en onaantreklik.  Dis normaal om deur hierdie roufase te gaan, maar jy kan jou kop optel en die lewe in die oë kyk, want jy verdien geluk – wees net geduldig – roep God se hulp in.

Partykeer dink ons, ons weet wat ons nodig het – ons het selfs ‘n lysie waaraan ons toekomstige lewensmaat moet voldoen en ons voel aangetrokke tot sulke mense, maar dan werk dit nie uit nie.  Vergeet van jou lysie. Vra God om DIE EEN aan jou uit te wys. Hy wil jou gelukkig sien en die persoon wat Hy vir jou ingedagte het, is perfek.

Thursday 6 March 2014

Swaar laste


Matteus 11 : 28  Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.
Ons word oorval deur advertensies.  Elkeen het ‘n strategie, belofte of slagspreuk wat jou oortuig dat dit eenvoudig moet werk.  Van hulle is so blatant om jou te laat glo dat hul aan jou kant is, dis nou solank jy hulle ondersteun, moet net nie iets terug verwag nie.
Blykbaar word  ‘n verbruiker aan gemiddeld 3000 advertensies per dag blootgestel. Dit wissel van pamflette om jou aandag na ‘n spesifieke handelsmerk op die winkelrak te trek tot ‘bill boards’, radio, koerante of maatskappyname en besonderhede op voertuie. Soort van aptytwekkers, of aas uitgooi met die hoop dat jy byt.  Dit beteken daar is ongeveer 3000 mense/maatskappye wat glo dat hul die oplossing vir een of meer van jou probleme het.
In teenstelling hiermee sien ek bitter min advertensies wat bevestig dat God jou probleme nie net op Hom sal neem nie, maar jou sal verkwik.  En daar is hope getuienisse van mense vir wie Hy presies dit gedoen het – nie net in die Woord nie, maar van alledaagse mense rondom ons.
Iemand het eendag gesê:  Dit maak nie saak wat die probleem is nie, God is die antwoord.”  Die Enigste antwoord

Wednesday 5 March 2014

Voete van 'n ribbok


Habakuk 3 : 17-19  Selfs al sal die vyebome nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan, al het die olyfoes misluk, en lewer die landerye niks op nie, al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg, tog, ten spyte van alles sal ek my verbly in die Here!  Die Here, die Oppermagtige is my krag!  Hy maak my voete soos die van ‘n ribbok; op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Of dit nou Carike Keuzenkamp is wat hierdie lied sing of Randal Wicomb wat Hans du Plessis se Griekwa Psalm sing, dit raak die hartsnare en sit ‘n huppel in jou stap. 

Habakuk bid en Hy staan in verwondering oor als waartoe God in staat was, en hy vra dat God in die toekoms ook sulke groot en magtige dade sal doen, al is Hy baie kwaad.  Hy is liries oor God sy vermoëns, maar in vers 16 spreek hy ook sy vrees uit vir dit wat op sy vyand wag.

Hy weet hy moet geduldig op God wag; ‘against all the odds’ om die vyand te verslaan. 

Teëspoed en probleme steel ons vreugde en ons loop met lang gesigte rond. Verkiesingspraatjies en voorspellings kan jou ontsenu.  Fokus op God en Sy almag.  Loof Hom ten spyte van jou gevoelens. Aanvanklik is dit moeilik, maar mettertyd gaan dit ook jou aandag aflei van jou probleem.

Tuesday 4 March 2014

Prys die Here


Psalm 68 :20 (NLV) “Prys die Here wat ons dag na dag in sy arms dra”

Of dit nou net die feit is dat jy ‘n goeie nagrus gehad het, of dat jy deur ‘n krisis is, God dra ons dag na dag. 

As jy ooit daaroor gewonder het of daaraan getwyfel het, hier is skriftuurlike bewys daarvan en ons weet dat God se Woord die waarheid is.

Gedurende die krisis het ons nie genoeg perspektief om op te let hoe God ons deurdra nie, maar wanneer jy na die tyd terugkyk vra jy jouself dikwels af:  “Hoe op aarde het ek in een stuk daardeur gekom?”  Nou weet jy.

Soms voel dit tog asof God ver is en ons nie Sy teenwoordigheid ervaar nie.  Die feit dat ons nie Sy teenwoordigheid ervaar nie, beteken egter nie dat Hy nie absoluut teenwoordig is nie.  Dis partykeer ‘n kwessie dat ons so verstrengel is in die probleem dat ons nie kan laat gaan nie.  God wag dus net dat jy laat los.

Here, dankie dat U geduldig is met my.  Laat my besef wat ek moet laat los sodat u kan oorneem.  Laat U wil geskied, Amen.

Monday 3 March 2014

Koninkryksambassadeurs



Matteus 10 – Die twaalf dissipels word koninkryksambassadeurs

Jesus kies sy twaalf dissipels, gewone mense.  Sy opdrag aan hulle is om absoluut niks saam te neem nie, want (vers 9 “’n Werker verdien tog sekerlik om versorg te word). 

Hy moedig hulle aan om by mense oor te bly waar hulle welkom is en diesulkes wat hul huisves te seen.

Jesus besef ook wat op hul wag en daarom waarsku hy hul om te pasop vir mense, want hy weet hulle gaan vervolg word.  En dan die wonder-woorde: (vers 18 Dit sal vir julle ‘n geleentheid wees om voor hulle en die volke van My te getuig.) Hy is as’t ware besig om hulle te bemoedig en te motiveer.  (vers 19-20 Wanneer hulle julle oorgee, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die regte woord sal op die regte tyd vir julle gegee word. Dit sal nie julle wees wat die praatwerk doen nie, maar die Gees van julle Vader wat julle as sy spreekkanale sal gebruik.)

Weet dus as jy een van die werkers is wat besig is om Sy oes (Matt 9 : 38)  in te samel, dat jy nie alleen staan nie.  Jou Vader rus jou toe, voorsien in elke behoefte van jou, bemoedig en versterk jou en Hy gee jou selfs die woorde om te uiter.   Wees jy net gewillig, want (vers 23 julle sal nie klaarkry met die dorpe van Israel voordat Ek die Seun van die Mens, kom nie.)  Ons kan egter ook nie hande gevou sit nie, want dit is nie God se wil dat een siel verlore gaan nie.

Sunday 2 March 2014

Moet jou nie ontstel nie


Markus 5 : 36 “Moet jou nie ontstel nie; vertrou net.”

Jesus het pas aan land gegaan toe Jairus hom nader en versoek om sy hande op sy sterwende dogtertjie te kom lê sodat sy genees sou word. Op pad daarheen het ‘n skare hom gevolg en ‘n vrou wat aan bloedvloeiing ly, het geglo dat sy net deur die skare moet kom totdat sy aan Sy kleed kon raak.  Direk na die aanraking is Sy inderdaad genees en Jesus het haar geloof vir haar sterk geloof.

Ongelukkig het die oponthoud Jesus vertraag en oppassers kom toe van die huis om te vertel dat Jesus nie meer hoef te kom nie, want die dogtertjie het reeds gesterf.

Die verskil tussen Jesus en ‘n mens soos Jairus, is dat hul die boodskapper se woorde geglo het en dit wat hulle gesien het.  Om die waarheid te sê by die huis het almal gehuil en getreur.  Jesus ignoreer egter die boodskapper se woorde en sê vir Jairus:  “Moet jou nie ontstel nie; vertrou net.”

Jesus het die skare agtergelaat en in die huis het hy op die ou end net die pa, ma en drie dissipels ingeneem waar hy haar aan die hand gevat en gesê het: ”Dogtertjie, staan op.”  Interessant genoeg het Jesus hul beveel om dit stil te hou. 

Wat jou vandag ook al ontstel, vertrou net.  Wat jy ook al vir hoe lank voor bid, vertrou net.  God gaan ook in jou lewe ‘n wonderwerk bewerkstellig.  Jairus was hooploos, maar Jesus het lewe in sy dogtertjie gespreek.  NIKS is vir Hom onmoontlik nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...