Monday 30 June 2014

Die belangrikste vak



Johannes 15 : 10 As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly,

Op skool leer ons lees en tel.  Onderwysers spandeer jare om wiskunde, wetenskap, geskiedenis, en so meer by ons in te dril.  Op universiteit word kennis verder uitgebrei en uiteindelik word nog ‘n generasie super-slimmes op die mensdom vrygelaat.  Volgens papiere, waarop hul baie trots is, en wat hul verdien het, is hul dan dokters, ingenieurs, tandartse, sielkundiges, fisici, dominees…  Maar, is hul toegerus vir die lewe?

Gemeet aan die tyd wat aan geleerdheid bestee word, spandeer ons min, tot geen tyd, daaraan om mense toe te rus oor dit wat werklik belangrik is, naamlik hoe om liefde te betoon, of hoe om liefde wat ander teenoor ons betoon te beantwoord.

As die gewig op die lewensskaal aan die ander kant swaarder geweeg het, was die egskeidingsyfer, die egbreuksyfer, mishandeling, verwaarlosing laer, of hopelik nie eens deel van ons woordeskat nie.  Dan sou daar nie soveel mense gewees het wat sielkundiges of huweliksberaders moes besoek, of van pille afhanklik was nie.  

Medici kan wonderbaarlike operasies doen, maar dieselfde medici, weet nie hoe om met hul tienerseun te kommunikeer nie.  Ruimtereisigers gaan maan toe, maar hul huwelike sneuwel.  

Die belangrikste vak word nêrens, behalwe in Die Bybel aangebied nie… en soms bly dit ook maar net by boekekennis. Stop die bose kringloop.  Leer almal rondom jou van liefde.

Sunday 29 June 2014

'n Lekker party



Efesiërs 5 : 4 Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.

Rolprente sonder vloekwoorde?  Lierieke sonder ‘n kragwoord?  Televisieprogramme (Engels of Afrikaans) sonder gekruide taal?  Komediante wat nie onder die belt grappies maak nie? Partytjies sonder drank? ‘n Goeie partytjie sonder ‘n grapmaker? 

Behoede my van so ‘n wêreld, sal menige sê. Ek het nie die krag vir ‘n klomp dwepers nie.  En dit is sekerlik wat die mark na vra as jy in ag neem dat daar ‘n mark daarvoor moet wees om te kan verkoop.
Nou kom die vraag by my op… hoekom laat ons as Christene dit toe?  Hoekom ondersteun ons hulle? Hoekom doen ons mee?  As jy nie vir God is nie, is jy teen Hom. 

Indien God ons nie hieraan wou blootstel nie, sou Hy ons seker elkeen in die hemel opgeneem het direk na ons tot bekering gekom het, maar nee, Hy laat ons juis toe om hier op aarde, tussen die growwe, ligsinnige en vuil praatjies te bly sodat ons ‘n verskil kan maak.

Ja, dis moeilik, en jy sal seker nie weer uitgenooi word nie, maar dan, ‘so be it’.  Ek staan eerder op vir iets as wat ek val vir niks.

Thursday 26 June 2014

Drank



Efesiërs 5 : 18 Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul,

Ons dominee het vanoggend die Woord oor ‘n moeilike onderwerp pragtig oopgebreek.  Min mense verstaan wat dit beteken om vervul te wees met die Heilige Gees.  Aan die hand van bogenoemde teks het hy uitgewys hoe twee sinsnedes wat ons nie normaalweg met mekaar verbind nie, in een teksgedeelte gebruik word in die Woord – met goeie rede.

Iemand wat onder die invloed van drank is, het gewoonlik geen beheer oor hul optrede of hul dade nie.  Hulle is totaal onder die invloed van bachus.  Drank beheer waarop hul, hul geld bestee, drank beheer hoe hul teenoor ander optree, drank beheer hul hele lewe.  ‘n Alkoholis kan nooit genoeg kry nie… nog net enetjie.

Stel jou nou die teenoorgestelde beeld in dieselfde teks voor… geesvervulde mense…  Dieselfde beeld is van toepassing.  Die Gees beheer jou lewe…jou hele lewe draai om God… jy wil net meer en meer van Hom hê… jy wil lewe volgens Sy wil, want Hy beheer jou lewe en optrede teenoor ander.  

Mag meer Geesvervulde mense jou pad vandag kruis, maar selfs meer belangrik, mag jy vandag iemand se lewe aanraak omdat jy Geesvervuld is.

Wednesday 25 June 2014

Vergifnis



Psalm 51 : 9 Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees.

Mense maak mekaar seer.  Mense doen wrede dinge aan mekaar.  Mense is tot die ondenkbare in staat.  Daaroor hou die media ons op hoogte van mense soos die “Modimole Monster” of Josef Fritzl of “Mnr E”.

Sak jy dalk ook jou kop in skande oor dit wat jy iemand aangedoen het? Jy het hul dalk nie gemartel of aangehou nie, maar jou woorde het blywende letsels gelaat.  Jou gewete knaag aan jou.  Deur die genade kan jy vergifnis ontvang,maar… Om iemand om vergifnis te vra, is slegs een kant van die munt.  Jy moet ook ware berou toon en verander.  Verandering is die moeilike deel.  Jy kan belowe om te verander tot jy blou is, maar dit moet vir ander , veral diegene wat aan die ontvangkant van jou optrede was, duidelik wees dat jy verander het. 

Die goeie nuus is dat jy dit nie alleen hoef te doen nie, God sal die pad saam met jou stap. Om professionele hulp te soek, is ook nie ‘n slegte idee nie.   Wat ek jou wel kan verseker, is dat jy geweldig trots op jouself kan wees, as jy begenadig word en as ‘n nuwe mens anderkant uitkom. 

Almal verdien geluk… ook jy.  Die beste tyd om die eerste tree te gee, is nou.

Tuesday 24 June 2014

Een Liggaam



Efesiërs 5 : 29-30 “want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen. Omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.  

Ons sien hul daagliks by die robotte staan; bedelaars (sommige sal reken luiaards of swakkelinge).  As ons so ongelukkig is dat die rooi robot ons naby hul laat stop, snou ons hul iets toe of kyk ongemaklik anderpad.  Ongelukkig gaan hulle nie weg nie.  Hulle stap ons bakhand tegemoet in ‘n parkeerarea of hulle klop aan ons voordeure. Deesdae is hul manlike, vroulik, kinders, oud, jonk, gestremd of nie, wit, swart, bruin… Armoede is nie uitsoekerig nie.  

Nou vir die ontnugtering… dit kon ek of jy gewees het.  God se genade en guns is al wat ons skei van hulle.  Die ander werklikheid is dat hulle nie annoniem is nie, hulle het ook name, hulle het ook gevoelens, hulle is ons medemense… ons naaste.

In die Woord lees ons dat die hele liggaam ly, as een lid ly.  Tog betoon ons min naasteliefde teenoor hulle.   Ons hoef nie noodwendig geld te gee nie, kos of iets om te drink, sal ook uitkoms bied.  Dit kan nie maklik wees om ander in die oë te kyk nie. Ek wonder dikwels waar is die familie?  Weet hul waardeur hierdie persoon gaan?  Gee hulle nie om nie?  Het hul dalk opgegee omdat hy/sy op ‘n sylyn van die lewe gerangeer is?  Dan is dit tyd dat ons instaan vir daardie afwesige familie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...