Thursday 31 July 2014

Die Wederkoms

Markus 13 : 32 Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele in die hemel of selfs die seun nie.

Hier staan dit swart op wit in Die Bybel – niemand, selfs nie die Engele of die Seun (Jesus) weet wanneer Hy weer na die aarde sal kom nie.  En tog, soos daar voorspel is, sal daar baie valse profete wees wat ons sal mislei en laat glo dat die einde van die wêreld op ‘n spesifieke dag of datum gaan plaasvind.

Wanneer daardie dag aanbreek sal dit vir Sy kinders ’n heuglike dag wees. Ek dink nie eens ek het woorde om te beskryf hoe dit vir my sal voel as ek Sy wederkoms ervaar nie. Markus 32 : 26  En dan sal die mense vir My, die Seun van die Mens, in geweldige krag en heerlikheid op die wolke sien kom.

Waarmee sal jy besig wees?  Jy gaan Hom hoor aankom en jy gaan weet Hy’s hier, of jy nou gelowig is of nie. En “there will be no place to hide”, want vers 26 vervolg:  “Dan sal ek my engele uitstuur om my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaar te maak.
As ek of jy nie een van daardie uitverkorenes is nie, is die vooruitsigte ‘n nagmerrie en ewige lyding wat ons, ons nooit eens sal kan voorstel nie – die hel.


Daar is nog tyd. Kry jou lewe in orde.  Wees gereed vir sy koms.

Wednesday 30 July 2014

Die hartseer sal nie vir ewig duur nie



Klaagliedere 3:20 as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.  

Jy ken daardie nagte van wakker lê en wroeg… van doodmoeg wakker word en wonder hoe jy uit die bed gaan kom, wat nog te sê jou dagtaak gaan verrig.  Jou gedagtes is in ‘n warboel en hoe meer jy probeer logies dink, hoe meer voel dit soos spinnerakke wat oral vaskleef.

Vincent van Gogh was seker een van die mees produktiewe kunstenaars van sy tyd.  Oor ‘n periode van 10 jaar het hy 900 skilderye en 1100 tekeninge voltooi.  Vandag is ‘n Van Gogh uiters gesog.  Sy Irisse het vir $53.9 miljoen verkoop en sy Portret van Docter Gachet vir $82.5 miljoen. 
Ongelukkig het hy nooit sy eie sukses beleef nie.  Hy was ‘n depressielyer en na vele jare van swaarkry, is hy in 1889 in ‘n psigiatriese hospitaal opgeneem.  Sy depressie het verder versleg en ‘n jaar later, op die ouderdom van 37, het hy homself geskiet, maar eers twee dae later gesterf.  Sy laaste woorde was:  “die hartseer sal verewig voortduur.”  Voorwaar iemand met ‘n gefolterde siel ten spyte van sy ongeëwenaarde talent.

Wie van ons kan hom oordeel?  As jy kyk hoe produktief hy as kunstenaar was, is dit byna asof hy die pyn uit sy siel wou skeur en op doek vaspen.  

Die samelewing het nie veel simpatie met depressielyers nie.  Hulle is nou nie juis aangename geselskap nie, wel meesal nie en daarom word hul eerder vermy.  Uit onkunde gebruik ons die woord ‘depressed’ so ligtelik, half spottenderwys.  

‘n Depressielyer is net so siek soos iemand met enige ander siekte.  Dis net dat daar ‘n stigma kleef aan iemand wat nie in staat is om hulself reg te ruk nie, min wetende wat dit van ‘n depressielyer neem om net ‘normaal’ te funksioneer.  Alles is ‘n stryd en alles is ‘n gesukkel.  Almal is teen jou en niks is regverdig nie.  Jou innerlike word vergiftig deur toksiese gedagtes.  

Dis ‘n eensame siekte – een wat jy meesal in jou kop stry en wat die wil om te lewe stukkie vir stukkie steel.  Depressie is nie ‘mood swings’ nie.  Dit is ook nie dat iemand ‘n introvert is of hulself van die samelewing onttrek of menssku is nie.  Dis soos om ‘n skaal te probeer balanseer, met lewe aan die een kant en dood aan die ander kant, terwyl dood ‘n massavoordeel het.

God gee ons egter hoop in EFESIËRS 4:23 Julle gees en gedagtes moet nuut word;
Depressie kan oorwin word, met die hulp van God, medikasie en die regte mediese deskundiges wat Hy oor jou pad bring.  Die hartseer sal nie vir ewig voortduur nie.

Tuesday 29 July 2014

Een of ander tyd val die legkaartstukkies in plek



Psalm 79:5 Hoe lank sal dit nog aanhou, Here? Sal u toorn dan vir altyd duur, u woede soos 'n vuur bly brand?
Is jy vandag mismoedig oor iets waaraan jy al lank werk, maar jy kan dit net nie deurgevoer kry nie?  Jy probeer alles, maar sukses bly jou ontwyk.  Voel jy dalk asof jy die einde van jou kragte bereik het?  Dalk selfs of God nie ten gunste daarvan is nie?
Ferdinand de Lesseps is gebore in Versailles (1805) as die seun van ‘n Edelman.  Gedurende ‘n kort verblyf in Egipte, het hy op sketse van ‘n ingenieur, ene Le Pere, afgekom.  Die idee van ‘n kanaal wat die Rooi See met die Meditereense see verbind, het hom gefassineer.
Maar hierdie idee sou vir ‘n hele ruk latent bly in Ferdinand se onderbewussyn.  Kort daarna is hy in Rotterdam aangestel as konsul, daarna in Barcelona en uiteindelik as Franse Minister in Madrid. Na ‘n mislukte politieke loopbaan in Rome, het hy hom onttrek en semi afgetree, waartydens hy ‘n relatief stil lewe vir die volgende vyf jaar gelei het.  

In 1854 hoor hy egter dat sy ou vriend, Mohammed Said, aangestel is as vise-koning van Egipte.  Net daar besluit hy om sy vriend te nader en dieselfde dag nog word hy die reg gegun om ‘n universele maatskappy te stig, met hom as uitvoerende hoof, om die kanaal te begin uitgrawe en dit operasioneel te verbind met die twee seë… op voorwaarde dat die Sultan van Konstantinopel dit goedkeur.  Dit beteken nie alles het seepglad verloop nie.  Daar was teestand uit verskeie oorde, Mohammed Said is oorlede, werknemerswette het swaar handearbeid verbied en werkers moes uit Europa ingevoer word, ‘n cholera epidemie het uitgebreek… daar was genoeg rede om moed op te gee, maar Ferdinand het deurgedruk en op 15 Augustus het die waters van die Rooi en Meditereense see saamgevloei.  Op 17 Augustus is die kanaal amptelik geopen.

Soms loop ons lewe vreemde draaie alvorens ons, ons bestemming bereik.  Dit is nie soseer ‘n slegte idee nie, want ons het dalk meer ervaring nodig om gereed te wees vir die taak, of ons moet eers groei as mens.  Hoe dit ookal sy, moet nooit jou drome vergeet nie en moet veral nie jou vriende afskryf nie.  Jy weet nooit wanneer hulle vir jou deure kan oopmaak nie.  En dit beteken nie dat jy vriende moet wees met mense omdat jy hul wil gebruik nie.  Partykeer is ons net nie bewus waarmee God agter die skerms besig is nie.  Hy is besig met groot skuiwe in jou lewe en binnekort gaan die laaste legkaartstukkie in plek val en gaan jy verstom staan voor die pragtige prentjie.  God se planne is nie altyd logies nie, maar dit is altyd perfek.  Onthou, Ferdinand was alreeds vyf jaar afgetree toe God hom met hierdie projek geseën het.  Opwindende dinge gebeur nie net met ander mense nie, dit gebeur met hulle wat God blindelings vertrou.

Monday 28 July 2014

Moenie dat enige iets jou terughou nie



Jesaja 38:16  Mense leef ten spyte hiervan, Here, en ek sal daarmee saam kan leef

Joseph Baermann Strauss is bekend as die hoof ingenieur van die welbekende Golden Gate Bridge, in San Francisco, California.  Hy is gebore in Cincinnati, Ohio, as lid van ‘n artistieke Duitse familie van Joodse afkoms.  Sy groot liefde was digkuns.  Met ‘n lengte van slegs 5 voet, 3 duim, was hy selfbewus oor sy klein statuur.  Een poging om rugby te speel, het hom in die hospitaal laat beland, waar hy uitgekyk het oor die John A Roebling Suspension Bridge.  Dis waar sy belangstelling in brue begin het.
In 1892 gradueer hy aan die Universiteit van Cincinnati met ‘n graad in ekonomie en sakebestuur. Toe hy uiteindelik begin werk, is dit by ‘n maatskappy wat spesialiseer in die bou van brue.  Hy’t voortdurend met revolusionêre idees na vore gekom om die ontwerp te verbeter.  Op daardie stadium was die bou van ‘bascule bridges” (commonly known as draw bridges) hoogmode.  Dit is met duur yster gewigte vervaardig en hy het ‘n goedkoper metaal voorgestel.  Sy voorstelle is afgewys en net daar besluit hy om sy eie maatskappy “Strauss Bascule Bridge Company of Chicago” te stig.
As hoof ingenieur van die Golden Gate Brug, moes Strauss baie probleme oorkom.  Hy moes gereeld fondse van die publiek en die Amerikaanse weermag bedel, maar niks het hom ooit van sy droom laat afsien nie.  Die brug was langer en hoër as enige ander brug en moes boonop ook die aanslae van die oseaan weerstaan. 
Die veiligheid van sy werksmense was vir hom van kardinale belang en daarom het hy aangedring op ‘n veiligheidsnet, wat uiteindelik 19 lewens gespaar het. Alhoewel werkers aan brue dikwels gesterf het, het daar nie een persoon gesterf tydens die bou van die Golden Gate brug nie. Die brug is in 1937 geopen en Strauss is een jaar later oorlede.  Alhoewel hierdie die belangrikste brug was waarby hy betrokke was, was daar vele ander.
Joseph Strauss het hom nie deur sy tekortkominge of ander se kortsigtigheid laat kniehalter nie.  Hy het in homself geglo en voluit vir sy droom gegaan, maar hy het diegene wat hom gehelp het om sy droom te verwesenlik net so belangrik geag.
Jy kan ook jou drome verwesenlik. Dit maak nie saak wat jou teëhou nie, jy kan daarmee saamleef en dit oorwin, met die hulp van God.

Sunday 27 July 2014

'n Ware Kunstenaar



Psalm 102:18  Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie.

Itzhak Perlman, was ‘n wêreldberoemde violis.  In 1995 was hy besig met ‘n uitvoering in die Lincoln saal in New York, toe sy vioolsnaar skielik breek aan die begin van ‘n uitvoering.  Vir Itzhak was dit ‘n ramp aangesien hy vanweë polio in sy kinderdae, veel langer as enigiemand anders sou neem om die snaar te vervang en die viool oor in te stem.  Sonder om twee keer te dink, doen Perlman die ondenkbare, hy besluit om aan te hou speel. Dit was een van sy roerendste uitvoerings ooit. Na dawerende applous het hy vir sy gehoor gesê: "You know, sometimes it is the artist's task to find out how much music you can still make with what you have left."
Wanneer dinge verkeerd gaan, het ons ‘n keuse om op te gee, of om voort te gaan met dit wat ons tot ons beskikking het.  Dis so maklik om ‘n slagoffer van omstandighede te speel, maar jou ware kleure kom na vore wanneer jy deur stormwaters gaan.  Kan jy ten spyte van omstandighede steeds sukses behaal, of gebruik jy jou omstandighede as verskoning?
Deur die genade is dit nie ‘n slegte plek om op die naat van jou rug te beland nie.  Dan kan jy net twee dinge doen; opkyk en bid. 

Thursday 24 July 2014

Die gebreekte vlerk



Romeine 12:6  Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het

Jim Hullihan het ‘n ware verhaal, getiteld “Die gebreekte vlerk” geskryf.
Hy begin deur ‘n stelling te maak dat party mense eenvoudig gedoem is tot mislukking.  Dit is hoe party volwassenes na sogenaamde ‘probleem kinders’ kyk.  Hy haal ‘n gesegde aan:  “’n Voël met ‘n gebreekte vlerk sal nooit so hoog soos ander voëls kan vlieg nie.” 
En dan noem hy dat TJ Ware as kind so moes gevoel het, want hy was gebrandmerk as ‘n moeilikheidmaker in die dorp.  Onderwysers het opgesien teen ‘n klas waarin hy teenwoordig sou wees.  Hy was nie baie spraaksaam nie, het nooit vrae beantwoord nie, ander se aandag afgetrek en was gedurig in een of ander geveg betrokke.
Alhoewel hy byna elke standard gedruip het, het hulle hom eenvoudig deurgesit omdat die onderwyser nie kans gesien het om nog ‘n jaar met hom te sit nie.  TJ was besig om aan te beweeg, maar beslis nie op nie.
Jim het TJ die eerste keer op ‘n naweek leierskap wegbreek ontmoet.  Die hele skool was genooi om die program by te woon, waartydens hul sou leer hoe om meer betrokke te raak in hul gemeenskappe.  Daar was ongever 405 studente.  Daar aangekom, bring die leier Jim op hoogte.  “Ons het ‘n hele spektrum hier teenwoordig, van die hoofseun, tot TJ Ware, die seun met die langste misdaadrekord in die geskiedenis van die dorp.”
Met die begin van die verrigtinge, het TJ letterlik buite die sirkel van studente gestaan met ‘n houding van “voeter voort, julle beindruk my glad nie”.  Hy het nie deelgeneem aan die besprekings nie, maar met die interaktiewe speletjies, het hy stadig maar seker begin meedoen.
Op ‘n stadium moes hulle ‘n lys maak van positiewe en negatiewe dinge wat die afgelope jaar by die skool gebeur het.  TJ het baie duidelike opinies gehad en skielik het hy gevoel asof sy opinie saakmaak en dat daar na hom geluister word.  Hy het briljante idees gehad en die ander kinders het aan sy lippe gehang.
Teen die volgende dag was TJ 100% aktief betrokke by die sessies en teen die einde van die naweek het hy by die Hawelose Projek ingeskakel.  Hy het genoeg geweet van armoede, honger en hopeloosheid.  Die ander studente was baie beindruk met sy passievolle belangstelling en idees.  TJ is gekies as voorsitter van die span en dit het beteken dat die hoofseun sy instruksies van TJ moes neem.
Toe TJ Maandagoggend by die skool opdaag, heers daar pandemonium. ‘n Hele groep onderwysers het na die skoolhoof se kantoor opgeruk en protes aangeteken teen sy verkiesing.  Die eerste projek was ‘n landwye voedsel insamelingsprojek en die onderwysers kon nie glo dat die skoolhoof so ‘n prestige geleentheid, met ‘n drie-jaarlange plan van aksie in die onbeholpe hande van TJ kon laat nie. Volgens hulle was die projek gedoem tot mislukking.
Hulle het die skoolhoof aan sy misdaadrekord herinner en geskimp dat hy heelwaarskynlik die kos sou steel.  Die skoolhoof het kalm geluister en die doel van die ACE program aan hul verduidelik.  Dit is om iemand se natuurlike talent en passie te ontgin en dit dan in ‘n positiewe rigting te kanaliseer.  Sodoende vind positiewe verandering in die individu plaas.  Die onderwysers het dit duidelik gemaak dat hul nie saamstem nie en dat mislukking onvermydelik is, wat die skool se naam deur die modder sal sleep.
Onder leiding van TJ het ‘n groep student twee weke later, 2854 blikkies kos vir gemeenskap sentrums in net twee ure ingesamel.  Die kos het behoeftige families vir 75 dae gevoed.  Die prestasie was so buitengewoon dat die plaaslike koerant ‘n volle bladsy aan die artikel gewy het.  Die skool het die bladsy op ‘n kennisgewingbord vasgepen, met TJ se foto daarby.  Elke dag dat hy daar verbygestap het, het dit hom herinner dat hy oor die vermoë beskik om ‘n groep mense te motiveer en tot sukses te lei.
Geleidelik het TJ verander.  Hy was elke dag by die skool.  Hy het vrae geantwoord, toetse en eksamens met goeie punte geslaag en daar was geen vuisgevegte aangemeld nie.  Tussendeur het hy ‘n tweede projek gelei deur 300 komberse en 100 pare skoene in te samel.  Sy volgende blikkieskos insameling het 9000 blikkies opgelewe en het in 70% van die haweloses se behoeftes voorsien.  Om te sê die projek was uiters suksesvol onder TJ se leierskap, laat nie werklik reg geskied aan sy bydrae nie.  TJ het sy passie in die lewe ontdek en dit het sy hele menswees positief verander.
Hy was net ‘n voëltjie met ‘n gebreekte vlerk, wat weer moes aangroei.  Toe die vlerkie aangegroei het, het hy hoër as enige ander voëltjie gevlieg.  Hy het skool suksesvol voltooi,’n werk gekry en is vandag ‘n gerespekteerde lid van die gemeenskap, wat nog nooit opgehou het om ‘n verskil in ander se lewens te maak nie.
‘n Kind se negatiewe gedrag verbloem dikwels die potensiaal wat binne hom/haar opgesluit is.  Dit neem net een persoon om daardie potensiaal te ontsluit. Dalk is jy die een met die gebreekte vlerkie>

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...