Sunday 30 November 2014

Dankbaar in alle omstandighede



1 Thessalonicense 5 : 18  Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Dank jy God in alle omstandighede?  Let op dat die teks lees “alle” omstandighede, m.a.w. nie net as dit goed gaan nie.  Dit mag dalk onnatuurlik aan die begin voel om Hom te dank terwyl jy sukkel om kop bo water te hou, maar dit is presies wat ons moet doen.  Daar is altyd iets om dankbaar voor te wees.  Fokus op wat God gaan doen in jou lewe, nie op die krisis waarin jy jouself bevind nie.  

As jy dankbaar is, open dit die deur vir God om oor te neem.  Die teks sê immers dat dit is wat God van ons verwag.  Hoe nader jy aan Hom is, hoe meer sal jy Sy krag en guns ervaar.  Probeer ‘n lewe van dankbaarheid leef. 

“Vader, ten spyte van dit waardeur ek vandag gaan, kies ek om U te loof en prys…  alhoewel ek siek is, weet ek dat U my gesond gaan maak… al gaan my huwelik deur stormwaters, weet ek dat U ons weer in kalm waters sal bring… Dankie vir my vriende, my familie, vir nog ‘n dag wat ek gespaar is…” 

Sodra jy aan redes begin dink om Hom te dank (in alle omstandighede), sal jy al meer redes tot dankbaarheid identifiseer.  Voor jy jouself kom kry, is die krisis verby en besef jy dat God jou veilig, sterker en wyser anderkant laat uitkom het… nog ‘n rede tot dankbaarheid.

Thursday 27 November 2014

‘n Boot, ‘n helikopter en wantroue



Genesis 6:17 “Ek gaan 'n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe, te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Alles wat op die aarde is, sal omkom,

Dit is die verhaal van ‘n man genaamd Joseph, wat die twyfelbare voorreg gehad het om te midde van ‘n ernstige vloed vasgevang te word.  Die watervlak was besig om rondom hom te styg en binnekort was dit tot by sy knieë.  Hy’t met die trappe opgeklim na die eerste vloer van sy woning, maar binnekort was die water selfs daar.  Binne enkele oomblikke het die water gestyg tot by sy middellyf.  Hy’t by die vensters uitgekyk om te sien wat sy bure doen.

Net toe vaar ‘n bootjie verby en die insittendes roep na hom:  “Joseph, kom spring in die boot, dan neem ons jou na veiligheid.”  Joseph het geglimlag en teruggeroep:  “Dankie, maar God het gesê Hy sal na my omsien.  Gee iemand anders ‘n geleentheid om in te klim.”  En so verdwyn die bootjie buite sig.
Die vloed was in volle swang en die water het bly styd.  Op die ou end moes Joseph op die dak van die huis klim.

‘n Helikopter het hom gesien en ‘n tou na hom afgegooi terwyl hul oor ‘n mikrofoon vir hom geskree het om die tou te gebruik om homself na veiligheid te hys, maar weereens het Joseph besluit dat hy sy lewe lank sy vertroue in God geplaas het en dat dit nie nou die tyd is om Hom te wantrou nie.  Dus het hy ook hierdie aanbod van die hand gewys:  “Moenie oor my bekommerd wees nie.  God sal my nie laat omkom nie.” 
Ongelukkig het die water bly styg en kort voor lank was Joseph ‘n hulpelose drenkeling wat later die stryd verloor het.

Soos genoem was Joseph ‘n man wat God met sy hele lewe gedien het en daarom is hy hemel toe waar hy God ontmoet het.  Joseph se eerste vraag aan God was:  “Ek is verward.  Alhoewel ek tot U gebid het om my te red, en vas geglo het dat U dit sou doen, het U nie.  Hoe kon U toelaat dat ek so vroeg sterf terwyl ek U met my hele hart vertrou het?  Dis nie regverdig nie.”

God se antwoord aan hom was:  “Wat bedoel jy?  Ek het ‘n boot en ‘n helikopter vir jou gestuur.”

Is dit nie ironies nie?  God reik dikwels ‘n helpende hand, maar ons wantrou die poging omdat dit nie in ons verwysingsraamwerk inpas nie.  Net omdat dit nie verpak is op die manier wat ons verwag nie, beteken nie dat dit nie God se wil is nie.  God is baie vindingryk as dit by Sy kinders kom.  Ons moet net ons gedagtes en harte oopmaak sodat ons Sy hand daarin sien.  Moenie dink dat ‘n boot of ‘n helikopter nie die hand van God is nie.

(Skrywer Onbekend)

Wednesday 26 November 2014

Eer Hom



Titus 3 : 1  Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is.

Wat doen jy om God te eer en verheerlik?  Jy antwoord dalk dat jy Sondae kerk toe gaan… of jou Bybel gereeld lees… dat jy saamsing in die kerk… jou tiende gee…  Dis goed en reg, maar het jy geweet dat jy God ook eer deur betyds te wees vir werk… deur heeldag produktief te wees… wanneer jy diegene respekteer wat oor jou aangestel is…  wanneer jy suksesvol in jou loopbaan is?

Dade spreek harder as woorde.  Deur jou beste by die werk te gee, vereer jy God met jou hele lewe.  Om op te daag met ‘n positiewe, vriendelike houding teenoor almal, en te sorg dat jy georganiseerd is en deurlopend jou beste te gee, sal mense oplet dat daar iets anders omtrent jou is.  Hulle sal daarna streef om ook te wees soos jy.

As gelowiges behoort ons ‘n hoër standard as nie-gelowiges te handhaaf; op alle vlakke van ons lewe.  Sonder dat jy enige iets sê, behoort ander dit aan jou karakter en menswees te sien.  Begin vandag om so te leef dat jou doen en late tot eer van God strek.  Jy is Sy hande en voete; Sy verteenwoordiger op aarde. 
 
“Mense sal waarskynlik vergeet wat jy gesê het, maar hulle sal nie sommer vergeet hoe jy hulle laat voel het nie.”  (Annoniem)

Tuesday 25 November 2014

Pam se storie



Rigters 13:12 … “Wanneer u belofte waar word, hoe moet die kind hom dan gedra en wat moet hy doen?”

Daar was ‘n vrou, Pam, wat geweet het hoe dit voel om aborsie te oorweeg.  Meer as 24 jaar gelede, terwyl sy en haar man Bob, sendelinge in die Fillippyne was, het hul gebid vir ‘n 5de kind.  Pam het egter voedselvergiftiging opgedoen.  Sy’t later in ‘n koma verval en is met sterk antibiotika behandel alvorens hul ontdek het dat sy swanger is.

Dokters was bekommerd oor haar veiligheid en die skade wat die medikasie aan die ongebore baba kon veroorsaak en daarom het hul aanbeveel dat sy die baba laat aborteer.  Pam het teen die aborsie besluit omdat sy vas geglo het dat dit teen haar Christelike geloof is, maar ook omdat sy vertrou het dat die baba sonder enige fisiese gebreke gebore sou word, al het die dokters anders voorspel.  Volgens Pam het die dokters net aan die ongebore baba as ‘n fetus gedink, nie dat dit inderdaad ‘n lewende wese was nie.

Gedurende die swangerskap was daar vier geleenthede waar Pam byna die baba verloor het, maar sy het ‘n aborsie bly weier.  Sy onthou hoe sy met haar man gepraat het oor die belofte wat sy aan God gemaak het:  “As Hy hierdie seun sou spaar, sal hul hom Timothy noem en hom groot maak om  eendag ‘n prediker word.
Die laaste twee maande van haar swangerskap het sy in die bed deurgebring, maar uiteindelik geboorte geskenk aan ‘n volmaakte seuntjie op 14 Augustus 1987.   

Pam se jongste seun, Tim Tebow, het toe ‘n prediker geword.  Nie net preek hy in tronke, maar is ook deel van sy pa se bediening in die Fillippyne.  

(Skrywer onbekend)

Monday 24 November 2014

Berigte en boodskappe



Jeremia 49 : 5  En nou maak die Here 'n aankondiging… Die Here het my 'n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen.

Daagliks ontvang ons berigte of boodskappe via koerante, nuus, riemtelegramme en nog vele ander maniere.  Ons kry ook boodskappe van God en soms maak dit nie sin as ons na ons huidige omstandighede kyk nie.  Dis wanneer ons ‘n keuse het.  Gaan ons God se boodskap glo, of gaan ons ons eie logika volg en dit glo wat sin maak?  

Onthou altyd dat ons ‘n bonatuurlike God dien.  Wanneer Hy aan die stuur van sake is, is die normale manier van doen by die deur uit.  Net omdat ons nie uitkoms sien nie, beteken nie dat God nie alreeds ‘n uitkoms in gedagte het nie.  Hy bring ‘n eenvoudige geleentheid oor jou pad en dit verander jou hele lewe.  God kan jou skuld binne ‘n oomblik uitwis.  Jy lag dalk nou en dink ek het nog nooit gesien hoeveel skuld jy het nie, so dis verregaande om te verwag.  NIKS is onmoontlik vir God nie.  Jy mag dalk te midde van ‘n kankerstryd wees en voel jy is besig om die stryd te verloor.  Dit mag dalk so wees volgens doktersverslae, maar die Groot Geneesheer het ander planne.  Miskien is jy werkloos en moedeloos omdat jy nie eens ‘n onderhoud kry nie.  Moenie moed verloor nie.  God het ander planne en wat meer is, Hy gee jou die krag om staande te bly.

Luister baie fyn na God se stem.  Soms bid ons vir ‘n werk, terwyl God se boodskap is dat jy jou eie besigheid moet begin…

Hoe dit ookal sy… kies vandag om na God te luister, nie na mense nie.  Hy kan en gaan jou omstandighede omkeer.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...