Thursday 26 February 2015

Die tong

Spreuke 18 : 21  Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.

Iemand raak iets kwyt oor jou en dit raak jou realiteit.  Die spreker mag dalk ‘n heel ander bedoeling gehad het, maar soms hoor ons dit waarna die woorde ons terugvoer… dalk ‘n opmerking wat iemand lank gelede teenoor jou gemaak het.  Hoe dit ook al sy, ek wil jou eerder herinner wat God van jou sê.  Hy sê jy’s volmaak.

Die ander kant van die munt is net so waar.  Elke woord wat ons uiter het die een of ander uitwerking.  Vir my of jou kan dit onskuldig voorkom, maar in iemand anders se lewe kan dit ‘n lewensveranderende uitwerking hê.  Daarom kan ons ons woode gebruik om iemand anders se dag op te helder en lewe of vergifnis oor hul spreek.  Daardie saadjies wat jy saai, het ewigheidswaarde.

As ouer het ons ‘n verantwoordelikheid om opbouende woorde sowel as woorde van bemoediging, onderskraging en liefde oor ons kinders te spreek.  Wat uit ons mond kom, kan ons kinders selfvertroue en ‘n positiewe uitkyk op die lewe gee.  Negatiewe woorde kan egter katastrofiese gevolge hê en ons kinders vir die res van hul lewe skaad.  Een onnadenkende uitspraak kan daardie kind vir die res van sy of haar lewe bybly.


Alles begin en eindig by dit wat uit ons monde kom.  Daardie klein tongetjie het hopeloos te veel verkeerde mag, so van vandag af gaan ons hom tot eer van God gebruik sodat hy lewe spreek eerder as skade aanrig.  Is jy saam met my op hierdie reis?

Wednesday 25 February 2015

God is vir jou

Romeine 8 : 31  Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?

In Joshua, hoofstuk 6, lees ons hoe Joshua en die volk hul in ‘n baie moeilike posisie bevind.  Hulle staan voor die mure van Jericho;  mure wat almal weet hul nie sommer kan oorklim nie.  Dis hoog en stewig gebou om enige vyand uit te hou.

Terwyl hul daar voor die mure en stewige hekke gestaan het, sou niemand kon dink dat hul enige kans staan om die stad binne te storm nie.  Vanuit ‘n menslike oogpunt was dit ondenkbaar.  Joshua het egter ‘n voorsprong bo vele ander gehad, want hy’t nie alleen gestaan nie – hy het beloftes van ons Almagtige God gehad.  Nie net was God aan sy kant nie;  die oorwinning was alreeds oor hom gespreek.  Soos ons weet het die mense vir 6 dae om die mure van Jericho gestap en op die 7de dag het hul oorwinningskrete geskree en die mure van Jericho het omgeval.  Moeilik om te glo, maar dit is presies hoe dit gebeur het.  Al wat die volk moes doen, was om oor die murasies te klim en die stad in te neem. 

So ontmoontlik as wat dit klink, so moontlik is dit as God aan jou kant is.  Al wat jy en ek moet doen is om te leer om Sy beloftes te aanvaar en Hom volkome te vertrou… al vra hy ook jy moet 6 dae lank om ‘n stad se mure stap en dan op die 7de skree en op horings blaas!  

Moenie vandag in die mure in jou lewe vasstaar nie, vertrou dat God, net soos vir Joshua, ook vir jou sal deurkom.  Luister om te hoor wat Hy van jou verwag en voer Sy opdrag noukeurig uit, al klink dit ook hoe vergesog.  Hy is vir jou en as Hy vir jou is, wie kan teen jou wees?  Sien die oorwinning voor jou geestesoog en moenie een oomblik twyfel nie.  Beweeg vorentoe in gehoorsaamheid, wel wetende dat God aan jou kant is.  Sterkte!

Tuesday 24 February 2015

Gehoorsaamheid

Matteus 21 : 22  As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.

Daar’s ‘n gesegde in die Kaap wat as volg lui: “There is no free lunches in Cape Town.”  Menende dat niks ooit verniet is nie.  Jy sal vir alles betaal op die een of ander manier, al is dit nie nou nie, wel iewers in die toekoms.  Geld is die natuurlike betaalmiddel.  Dis nou in die normale verloop van die lewe.

Met  God werk dit so ‘n bietjie anders.  Geld het geen waarde in Sy oë nie, behalwe as jy aan ander goed doen daarmee.  By Hom gaan dit oor geloof.  Ons leer in die Bybel dat ons moet bid en glo en dat ons dan sal ontvang.  Geloof kan berge verskuif.  Dit maak deure oop en dit verbly God se hart. 

“Waar kom geloof vandaan?”, vra jy.  Weereens leer ons uit die Woord dat elkeen van ons ‘n mate van geloof binne ons het.  Hoe sterk daardie geloof is, hang af hoe goed jy God ken en hoe naby jy in ‘n verhouding met Hom staan.  Die goeie nuus is dat elkeen die geleentheid het om te groei in geloof. 


Daar bestaan altyd ‘n moontlikheid dat ons geloof kan wankel, maar daar is ook ‘n 50% kans dat jy kan vasstaan in geloof, ten spyte van alles.  Kies om God se Woord te gehoorsaam.  Soos wat jy hoor en Hom vertrou, so sal jou geloof groei.  Binnekort sal jou geloof so sterk wees, dat jy letterlik alles sal ontvang waarvoor jy bid.

Monday 23 February 2015

Kwytgeskeld

Psalm 5:13 U laat dit goed gaan met die regverdige, Here, u goedheid beskerm hom soos 'n skild.

Watter behoefte het jy vandag wat God kan bevredig?  Hoop jy op voorsiening, vrede, leiding…?

Die Woord beloof dat dit met jou, as regverdige, goed sal gaan.  Jy keer miskien nou met woorde soos:  “Ek is te ‘n groot sondaar… My skuld is te veel… Ek weet nie herwaarts of derwaarts nie…”  Onthou net, as jy God as jou Verlosser en Beskermer aangeneem het, is jy vir altyd verlos.  Ons struikel wel weer van tyd tot tyd, maar ons kan vashou aan 1 Johannes 1 : 9  “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.


Aanvaar vandag dat God jou van alle skuld wil kwytskeld.  Hy gee jou die geleentheid om skotvry voor Hom te staan en dus te weet dat sy guns op jou rus.  Hy wil Sy seën oor jou uitstort.  Wat jou behoefte ook al is, God staan gereed.  Sy goedheid omvou jou soos ‘n skild.  

Sunday 22 February 2015

'n Huis sonder God

Psalm 84 : 11  Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God.

Sondag het ons dominee ‘n video gespeel waar mense gedurende 'n onderhoud gevra is:  “Wie is Jesus?”  Ek wil die vraag ook aan jou stel:  “Wie is Jesus?”

In die video het elke antwoord met ‘n onseker “Uhm” begin.  Antwoorde was uiteenlopend en skokkend.  Een antwoord het my so geskok dat iemand net sowel ‘n emmer yskoue water oor my kon uitstort.  “He’s the biggest con story ever!”  Ernstig???

As jy nie weet nie… Hy is die Seun van God, die Messias, die Verlosser wat vir jou en my sondes aan die kruis gesterf het sodat ons vry kan wees.  En mense weet nie wie Hy is nie!  Dit terwyl verskeie webblaaie hom as een van die mees invloedryke mense van alle tye klassifiseer (o.a. Time:  The 100 Most Significant Figures in History – Number 1).  G’n wonder die wêreld is so onderstebo nie!


Ons kan nou hier in skok bly sit, of ons kan besef dat daar nog baie werk vir jou en my is.  Hierdie mense moet opgespoor word en die Woord moet aan hul verkondig word sodat hul ook in ‘n huis kan woon met God daarin.  Dink asseblief waar jy betrokke kan raak.  Ons mag nie eendag voor Hom staan met leë hande nie.  

Jy hoef nie eens jou lewe in gevaar te stel deur na ‘n land te gaan waar Christene vervolg word nie… hulle is in ontwikkelde lande.  Partykeer hoef ons ook nie ver te soek nie, want soms moet ons by ons eie huis begin.  

Thursday 19 February 2015

Dit staan op die punt om te gebeur

Jesaja 43 : 19  Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

Ek is seker daarvan dat jy al met groot afwagting na iets uitgesien het en daarom weet hoe dit voel om te wag, maar niks gebeur nie.  Miskien was dit ‘n vakansie;  dalk ‘n salarisverhoging of ‘n promisie.  Of dalk het jy iemand ontmoet en gehoop hy sal jou skakel met die hoop op ‘n nuwe verhouding wat gaan blom… Dalk sit en wag jy op die oomblik vir ‘n deurbraak en is jy so half mismoedig gewag, want niks gebeur nie.

Wel, dan moet jy asem ophou, want ek glo hierdie teks is vandag op jou gerig.  Iets staan op die punt om te gebeur.  Jou droom, hoe onmoontlik ookal, is op die punt om te realiseer.  Ander mag dink jy’s die kluts kwyt, maar God gaan vir jou deurkom, want Hy is dieselfde God wat ‘n pad in die woestyn maak.  Dis nie leë beloftes nie – dit staan op die punt om te gebeur! 

Partykeer is ons so gefokus op die onmoontlikheid dat ons nie in ag neem dat ons met ‘n God van wonders te doen het nie.  As Hy riviere in die woestyn kan laat ontspring, is dit waarop jy hoop nie eens moeite vir Hom nie.


Dit maak nie saak hoe jou omstandighede lyk nie, besef en glo dat God aan die werk is in die agtergrond.  Sien die deurbraak voor jou geestesoog… glo dit met alles binne jou… verklaar oorwinning, deurbrake, en seën oor jou lewe.  Vertel gerus vir ander dat vandag die dag is waarop jou drome bewaarheid gaan word.

Wednesday 18 February 2015

Weet wie jy is

1 Samuel 10 : 27  Maar die kwaadwilliges het gevra: “Hoe sal hý ons red?” Hulle het hom met minagting behandel en geen geskenk vir hom gebring nie, maar daaraan het Saul hom nie gesteur nie.

Nie almal was beindruk toe Saul as koning ingeseën is nie.  Kyk maar net na die kwaadwilliges se neerhalende houding in die teks.  Die interessante deel is dat Saul hom nie aan hulle gesteur het nie.  Hy kon hom vererg het en hul iets teruggesnou het of hy kon toegelaat het dat hul woorde hom kasty, maar hy het verkies om hulle te ignoreer.

Nou wil ek by jou weet of daar mense is wat jou seermaak?  Is daar dalk ‘n vlieg in die salf by die skool of werk?  Maak hul woorde of optrede jou seer?  Voel jy asof jy niks kan regdoen nie?  Trek jy jou hul mening of woorde aan, of ignoreer jy hulle omdat jy weet wie jy is? 

God het vir Saul uitgekies om koning te word.  Hy het jou ook uitgekies om te wees wie jy is.  Jy is op presies die regte plek op hierdie oomblik, so moenie probeer weghardloop van jou omstandighede nie.  Besef eenvoudig dat nie almal aan jou kant is nie.  Party is eenvoudig jaloers en niks wat jy sê of doen sal hul ooit van mening laat verander nie.  As hul sien dat jy seerkry, gaan hul genot put daaruit.  Moet ook nie probeer om hul guns te wen nie.  Gaan jy net jou gang en bring tyd deur saam met ander wat ook die goed kan sien wat God in jou doen. 


Norman Vincent Peale het gesê:  Vermy mense wat negatief dink en optree.  Jy het hul nie in jou lewe nodig nie.  Ignoreer die kritici en wees jy net presies wie God wil hê dat jy moet wees.

Tuesday 17 February 2015

Triomftog

2 Korintiërs 2 : 14  Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus.

Wanneer jy aan die verlede dink, wat onthou jy?  Onthou jy alles wat verkeerd gegaan het… die mislukkings… die foute… die kere dat jy jou naam met ‘n plank geslaan het…?  Of onthou jy jou oorwinnings… jou suksesse… die vele kere dat ander jou geprys het omdat hul raakgesien het hoe jy presteer? 

Volgens die Ou Testament  het mense sogenaamde gedenkklippe gehad.  Die doel van hierdie gedenkklippe, was om hul te herinner aan alle goeie dinge wat God in hul lewe gedoen het.
Daarom is dit so jammer dat negatiewe gebeurtenisse ons denke oorheers en ons vergeet van al die oorwinnings.   Hoe klein of groot is irrelevant.  Elke mylpaal wat ons behaal moet gevier word omdat dit deel vorm van die triomftog waarop ons saam met God is.


Hy is ontsettend trots op jou.  Jy mag jou tans blindstaar teen iets wat verkeerd geloop het, maar Hy sien eerder hoe hard jy probeer het.  Moet nooit vergeet dat jy in Sy oë ‘n oorwinnaar is nie.  Ja, alles verloop nie altyd voor die wind nie, maar moenie mediteer oor dit wat tot die verlede behoort nie.  Sit dit agter jou en beweeg aan na jou volgende oorwinning.  Begin fokus op oorwinnings... die wat jy alreeds bereik het, sowel as die wat op jou wag.  

Weet net dat God groot planne vir jou het en dat geen van daardie planne mislukkings insluit nie.  Wees gereed vir die mees onwaarskynlike deure wat Hy vir jou gaan oopmaak en staan gereed om die suksesse te vier.

Monday 16 February 2015

Die jeug

Psalm 144 : 12  Mag ons seuns wees soos plante wat hoog groei in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgebeitel soos vir 'n paleis.

Sandile Kubheka, ‘n boorling van Newcastle, is grootgemaak deur ‘n enkelma.  Op die ouderdom van 5 jaar, het sy skoolloopbaan begin.  Drie maande nadat hy met Graad 6 begin het, is hy bevorder na Graad 7.  Hy was slegs 15 jaar oud toe hy matrikuleer en het alreeds geweet in watter rigting hy wil studier;  medies.  Vyf jaar later kwalifiseer hy as die jongste dokter (MBChB) in Suid-Afrika;  slegs 20 jaar oud.  Huidiglik is hy besig met ‘n 2 jaar lange internskap.  

Verlede jaar het ‘n groot eer hom te beurt geval toe hy deur Africa News Network as Young South African of the Year aangewys.

Wat my veral van hierdie jong man beindruk, is dat hy vele kritici verkeerd moes bewys, want baie het geglo hy is te jonk en sal nooit sy studies voltooi nie.  Hy’t egter hierdie kritiek omgekeer om hom te motiveer om daardie mense verkeerd te bewys.  

En dit eindig nie hier nie.  Na sy gemeenskapsjaar, wil hy sy meesters behaal in siektes waaraan soveel Afrikane sterf. 

Dit is ook sy droom om kinders te motiveer om uit te styg bo hul omstandighede.  Hy glo vandag se jongmense word gebreinspoel deur die etiket "verlore generasie".  Volgens hom, en ek stem heelhartig saam, is hul juis die toekoms.  

Elkeen van ons het die geleentheid om ‘n jongmens onder ons vlerk te neem en te motiveer.  Woorde soos:  “daar is geen toekoms nie… “ of “daar is nie werk nie…” moet eerder vermy word.  Ons jeug beskik oor veel meer potensiaal as waarvoor ons hul krediet gee.


(met erkenning aan Fairlady)

Sunday 15 February 2015

Val en opstaan

Psalm 145 : 14 Die Here help almal op wat geval het, Hy ondersteun die wat bedruk is.

Soms voel dit of die lewe net bestaan uit val en opstaan... asof ons nooit ons babaskoene gaan ontgroei en op eie bene sal kan staan nie. Daarom is dit werklik 'n riem onder die hart om te sien dat God jou ophelp as jy geval het. Hy is nie die een wat jou platstoot of omstamp nie. Die lewe kan ons partykeer pootjie, maar ons moet altyd weer opstaan. Val en opstaan maak jou bene sterk.

Bedruktheid, swaarmoedigheid, tamheid, depressie... dis simptome van ons tyd. Elke dag het genoeg van sy eie probleme en dit bly 'n stryd om staande te bly. Soms wil jy net uitgil: “Wyk, satan?” 

Kyk verby die probleem na die hand wat na jou uitgesteek word van die Een wat jou wil ophelp. Jy hoef nie in die stof te bly lê nie, God gaan jou ondersteun. Let wel, Hy help ALMAL op wat geval het... ook vir jou.

Thursday 12 February 2015

Angs en mismoedigheid

Psalm142 : 4 Ek het alle moed verloor, U weet wat ek moes deurmaak.

Toe Dawid hierdie Psalm geskryf het, het hy in 'n grot weggekruip vir mense wat hom wou doodmaak. Dit moes 'n tyd van angs en mismoedigheid gewees het, maar Dawid het geweet Wie in beheer is en daarom het Hy aangehou om na God te roep. 

Jy het ook al 'n paar sakke sout agter die blad en vir al wat ek weet sit jy ook op moedverloor se vlakte jou wonde en lek.  

Senomi de Villiers het gesê: “Droeë jare maak 'n olienhoutboom se hout mooi vir die toekoms!” Al het jy hoeveel gelei, dalk alles verloor, of al is jy ook op die punt om boedel oor te gee, onthou dat God besig is met 'n meesterstuk. Jy is die olienhoutboom en vir Hom pragtig met elke karaktertrekkie wat oor die jare gevorm is.

Wednesday 11 February 2015

Verkoop alles!

Lukas 14 :33 So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.

Meeste mense spandeer hul hele lewe om meer,beter en duurder besittings te versamel. Ons meet sukses aan wat ons besit, ons posisie en ons adres. Vir God om te verwag dat ek of jy al ons besittings moet laat gaan as ons 'n dissipel van Hom wil wees, is tog verregaande. 

Dalk is die verskil dat God nie waarde aan aardse besittings heg nie. Op aarde het Hy geen erg aan enige besittings gehad nie. Sy enigste doelwit was om diegene wat verlore sou gaan, se siele te red.
Ek glo nie God verwag dat ons letterlik al ons besittings moet weggee nie... dis net nie prakties in vandag se lewe nie, maar ons mag nie toelaat dat ons lewe om daardie besittings draai nie. Ons doelwit in die lewe moet nie wees om onsself te verryk of met weelde te bederf nie, maar op wat ons vir Sy Koninkryk kan doen. Dis 'n kwessie van perspektief en/of fokus. Wat weeg die swaarste? Wat is jy bereid om op te offer om vir Hom te werk? 

Baie mense sê soms, sonder om werklik daaroor te dink, dat hulle vir God wil werk, maar sodra dit te veel tyd in beslag neem of van hul vereis om sekere opofferings te maak, dan verloor hul belangstelling. Nie almal hoef in China sendingwerk te gaan doen nie... ons kan reg op ons voorstoep ook diensbaar wees.

Tuesday 10 February 2015

Ontferm jou oor die armes

Spreuke 19 : 17 Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.

Jy hoor so baie stories van hoeveel mense verdien wat by robotte staan. Soveel so dat hulle nie nodig het om te werk nie. Verder weet jy ook nie of die geldjie wat jy vir 'n stukkie brood gee wel daarvoor aangewend gaan word nie. 

God verwag egter van ons om ons oor die armes te ontferm. Daar is vele maniere waarop ons dit kan doen en verseker weet dat die geld wel vir die versorging van behoeftiges gaan, maar dis nie ons plek om te besluit of iemand behoeftig is al dan nie. Ons moet hulle help, want wanneer ons dit doen, is dit asof ons dit aan Hom doen. Daars selfs iets in dit vir jou, want Hy beloof ook om jou te vergoed. Daarmee wil ek jou nie aanmoedig om te gee sodat jy kan terug ontvang nie, maar wel om te gee, sonder voorbehoud. God ken ook daardie mens se hart en dis vir Hom om te oordeel.

Monday 9 February 2015

God se sorg

Jeremia 29 : 11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

God is nie die een wat die bose planne sit en uitdink nie. Hy is verseker nie die een wat dink hoe Hy jou kan laat misluk of hoe Hy jou kan seermaak nie. God is 'n God van liefde. 
 
Oral in die Bybel lees ons hoe God Sy volk versorg, hulle uit onmoontlike situasies uitred en wonderwerke laat gebeur. Wanneer God die middelpunt van die volk se bestaan is, gaan dit uiters voorspoedig met hulle. Die Egiptenare staan nie 'n kans nie. Ons weet ook dat God van die Bybel dieselfde God van vandag is. Hoekom sal Hy dus nie vir jou ook voorspoed en 'n gelukkige toekoms gun nie? 

Niks gebeur toevallig nie. Alles is deel van God se volmaakte plan vir jou lewe. Ek dink nie jy kan vir iemand beter vra om aan jou kant te wees as vir Hom nie. Jy kan eenvoudig nie misluk as jy jou lewe in Sy hande toevertrou nie. God se liefde vir jou is so grensloos dat Hy nie sal toelaat dat een haar van jou hoof verdwyn sonder dat Hy daarvan weet nie. Wanneer dinge egter begin verkeerdgaan in ons lewens, is dit soos wanneer die volk afgedwaal het. Dan loop sake sommer lelik skeef en leer jy God se gramskap ook ken. Die geheim is dus net om binne die Wil van God te leef.

Sunday 8 February 2015

Sy beskerming

Psalm 121 : 8 Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.

Niemand is nêrens meer veilig nie. Onskuldige, doodgewone mense word vermoor in hul eie huise wat veronderstel is om 'n veilige hawe te wees. Soms is die moordenaar selfs 'n eggenoot of bloedverwant. Gewapende roof is die nuutste gier in winkelsentrums; 'n plek wat meeste mense besoek vir 'n bietjie ontvlugting. Plaasmoorde is al so alledaags, ons lig nie eens meer 'n wenkbrou nie. Jy is nie eens seker dat jy veilig sal terugkeer as jy die pad vat nie.

Daarom is dit baie maklik om te vra waar God dan was toe al hierdie onheilige dade gepleeg is? Hoekom het Hy dit toegelaat? Hoekom het Hy hulle nie beskerm nie? Daarop het ek nie die antwoord nie. Wat ek wel weet is dat daar andere is wat kan getuig dat hul in situasies was waar hul die dood in die gesig gestaar het, maar dat God hul beskerm het. Ek glo ons elkeen se tyd is bestem, maar ons weet ook dat Satan altyd opportunisties is vir 'n geleentheid om toe te slaan. Ek reken ook nie dis wys om die noodlot uit te tart deur oopoog in gevaar in te stap of nie die nodige veiligheidsmaatreëls te tref nie, maar ons kan op God reken om ons te beskerm as ons Hom blindelings sou vertrou. Geen alarm, gewapende reaksie eenheid, diefwering, veiligheidshekke of elektriese heinings is so effektief soos God Almagtig nie.

Thursday 5 February 2015

Glo

Matteus 21 : 22 As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

Of jou man alreeds by 'n ander vrou ingetrek het... of jy terminaal siek is... of jou kind ingetrek is deur 'n verkeerde groep vriende... of jou salaris te klein is om al die gaatjies toe te stop... of jy 'n nuwe motor benodig... jy kan vir God enige iets vra en jy sal dit alles ontvang. 

Die enigste voorwaarde is dat jy moet glo dat dit vir God moontlik is, al kan jy nie sien hoe Hy die situasie kan omkeer nie... Dis gewoonlik waar die kinkel in die kabel lê... om te glo. Dis maklik om te glo dat die son môre sal opkom of dat die naweek sal aanbreek, maar hoe glo jy dat jy genees kan word as die dokters jou net 'n paar maande gee? Hoe glo jy dat jou huwelik nog 'n kans staan as jou man alreeds 'n nuwe lewe begin het saam met iemand anders? 

Sulke tye kom twyfel en vee daardie laaste bietjie hoop met een hand weg. Dis tog nie moontlik dat my kind lewend van daardie groep sal wegstap nie. Jy weet wat jy nog skuld en jy weet dat 'n verhoging of meevallertjie nie in die vooruitsig is nie. 

Die wonder is dat niks by God hoef sin te maak nie. AS jy GLO, SAL jy ALLES ontvang waarvoor jy in gebed gevra het.

Wednesday 4 February 2015

Uitgeput en oorlaai

Matteus 11 : 28 Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Hoe voel jy vandag terwyl jy die boodskap ontvang? Die lewe het jou dalk in 'n wurggreep beet en jy hoop van harte dat hier vandag vir jou bemoediging in hierdie boodskap sal wees. Ek weet nie wat jou omstandighede is nie en ek skryf ook nie hierdie dagstukkies maar sommer net om die tyd om te kry nie. Elkeen word sorgvuldig onder leiding van die Heilige Gees geskryf. My rol is bloot om 'n gewillige instrument in Sy hande te wees. Dit gaan nie oor my nie. Ek bly naamloos. Daarom kan ek jou vandag verseker dat hierdie boodskap direk aan jou gerig is. 

Hy sien hoe swaar jy kry... hoe jy op jou eie kop bo water probeer hou... God weet ook dat jou kragte min raak, dat jy wil moed opgee omdat hierdie probleem besig is om jou onder te kry. Hy weet waardeur jy gaan en Hy wil jou so graag troos. My kind, moet jouself nie so opwerk nie. Stort jou hart uit sodat die pyn uit jou kan vloei. Eers dan kan My genesende krag in jou werk. Jy's nie alleen nie. Jou Vader in die hemel hou die heeltyd 'n ogie oor jou.

Wat probeer jy bewys? Dink jy dat God minder van jou sal dink as jy jou na Hom sou wend in stede van voortsukkel op jou eie? Inteendeel, Hy nooi jou uit om na Hom te komvandag sodat Hy jou rus kan gee. Hy staan gereed om die probleem op Hom te neem. Daar is hoop vir jou vandag.  Jou swaarkrydae is verby. Gee oor.

Tuesday 3 February 2015

Laat jou lewe aan die Here oor

Psalm 37 : 5 Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
Hebreërs 13 : 5 Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

As ons na ons eie rekord kyk, lyk dit nie goed nie. Wanneer ons iets op eie houtjie aanpak, gaan dit maar sukkel-sukkel. En tog doen ons dit keer op keer.

In teenstelling met hierdie benadering,verwag die Here dat ons ons lewe aan Hom moet oorlaat. Die teks kom amper identies twee keer in die Bybel voor. Dit gaan nie maklik wees as jy gewoond is om dinge self te doen nie. Van kleins af ontwikkel ons mos 'n eie willetjie en wil dinge self doen. Nou verwag God dat ons ons lewe aan Hom moet oorlaat. Dis mos nou soos om langs 'n leerlingbestuurder te sit. Al is daar geen pedale aan jou kant nie, trap jy vir 'n vale in stede daarvan om die leerling te vertrou. 

Onthou egter... Oor die eeue heen, het God nie 'n geskiedenis van mislukking opgebou nie. Om die waarheid te sê, jou eie lewe getuig sekerlik van vele wonderwerke, kere dat jy nie geweet het hoe jy jouself uit daardie hoekie gaan uitwriemel nie, maar wanneer God jou daar uitgekry het.

Wat my opval is dat Hy nie 'n blindelingse vertroue verwag nie, Hy volg dit op met 'n belofte. Hy sal sorg. As jy vandag moeg gespartel is, die einde van jou uithouvermoë bereik het, tot siekwordens toe sat is, laat gaan. Gee jou toekoms oor in Sy hande. Wat meer kan ek of jy voor vra as iemand om ons te versorg en teen die aanslae van die lewe te beskerm.

Monday 2 February 2015

Verheug jou in swaarkry

Romeine 5 : 3-4 Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 
 
Wie verheug hul nou in swaarkry, wonder jy? Kyk, die lewe is nie vir sissies nie. Jy moet elke dag jou moue oprol en weerbaar wees teen die aanslae van die lewe. Hoekom sou enigiemand hul dus verheug in swaarkry?

Ek dink Jesus het dit volmaak reggekry. Toe Hy hier op aarde was, het baie mense hom goed laat verstaan dat hulle nie glo Hy is die Verlosser nie. Die Fariseërs het hom probeer vastrek met twisvrae. Later het mense op Hom gespoeg en Hom gevloek. Hy's geslaan en mishandel, maar nooit ooit het Hy hul optrede nageboots. Hy was die volmaakte edelman, Seun van die Koning van die Heelal. Hy het Sy vreugde daarin gevind dat Hy geweet het hoekom Hy hier is en nooit sy lot bekla nie. Te midde van Sy swaarkry het Hy volhard en Sy geloof en hoop het nooit gewankel nie.

'n Moeilike voorbeeld om na te volg, ne. Ek kan nie aan een enkele ding dink wat God van ons verwag wat Sy Seun nie gedoen het nie. Terwyl Hy in die bloedige son en stof van een dorp na 'n ander gestap het, dalk honger en dors was, geen vaste blyplek gehad het nie, het Hy nooit gekla nie. Hy het wel gebid tot die Vader en ek glo nie dit was gebede deurtrek met klagtes nie. 

Ons voorneme kan vandag in werking gestel word. Maak nie saak wat ek vandag gaan beleef nie, ek sal nie toelaat dat dit my onderkry nie. Ek sal God prys te midde van my stryd.

Sunday 1 February 2015

'n Vrolike mens is 'n gesonde mens

Spreuke 17 : 22 'n Vrolike mens is 'n gesonde mens...

Elkeen van ons worstel met ons eie demone. Party stry teen die drankduiwel, ander sukkel met hul gesondheid. Tania Hess was maar 29 jaar oud toe borskanker by haar gediagnoseer is. Sy glo dat kanker floreer op negatiwiteit, daarom het sy 'n wilsbesluit geneem om positief te bly te midde van dit waardeur sy gegaan het. Toetse, operasies, chemo, haar hare wat uitval, naarheid... alles het sy met 'n positiewe gesindheid deurgegaan. Sy het eerder gefokus op'n gesonde dieet sodat sy enige terugslag kan afweer. 

Kanker is nie kieskeurig nie. Of jy nou oud of jonk, mooi of lelik, pienk of pers is... kanker slaan toe waar hy die kans kry. Waarskuwing is daar selde en ons almal reken dit gebeur net met ander.

My wens is dat Tania se verhaal jou hoop sal gee en dalk jou ingesteldheid teenoor jou eie beproewing sal verander. Wees positief en 'n inspirasie vir ander. Verlede jaar het dit vir my gevoel ek kom net met kankerslagoffers in aanraking. As dit nie 'n kollega was nie, dan was dit 'n familielid. Elkeen van hul het my egter laat skaam voel omdat ek my gesondheid as vanselfsprekend aanvaar het. Ek het ook besluit om nie meer oor enige pyn of skeet te kla nie, want daar is mense wat veel erger deurgaan en steeds vreugde uitstraal.

As jy 'n kankerstryd voer, bid ek dat God jou sal ondersteun en dra. Ook dit sal verbygaan. (met erkenning aan Kuier)

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...