Tuesday 31 March 2015

Met God aan jou kant

Romeine 8 : 31  Wat sal ons dan van al hierdie wonderlike dinge sê?  As God aan ons kant is, wie kan ooit teen ons wees.

So dikwels laat ons toe dat ons herkoms ons toekoms bepaal.  

Indien jou ouers nie welaf was nie, of humeurig was, of met een of ander verslawing geworstel het, leef jy dalk in voortdurende vrees dat dieselfde lot joune kan word.  Dit hoef egter nie jou lot te wees nie.  Jy kan die een wees wat die bose kringloop breek.  As kind het jy nie veel beheer oor jou lot gehad nie en al wat jy kon dink was dat die lewe nie regverdig is nie.  Jy mag jou dalk vir jou ouers geskaam het. 

Dalk het jy gedroom van eendag… eendag wanneer jy kan wegbreek en die verlede agterlaat.  Hoekom nou daardie verlede weer toegang gee tot jou hede?  Ironies genoeg is dit onsself wat dit nie wil begrawe nie.  Deur dit terug te speel en te onthou neem dit ons keer op keer terug. 
Neem vandag ‘n daadwerklike besluit dat jy nie langer in die verlede gaan leef nie.  Dit is verby en jy kan daar niks aan verander nie, maar jy kan jou toekoms verander.  Vergewe as dit nodig is en maak vrede indien nodig.   Ek weet dit is nie maklik nie, maar dit is nodig, want as jy nie op daardie punt kom nie, gaan die verlede keer op keer terugkom om by jou te spook. 


Wanneer jy kies dat God eerste in jou lewe kom, kan niemand jou toekoms bederf nie.  Hy is aan jou kant!

Monday 30 March 2015

Breek die kettings, Here

Psalm 101 : 3  niks wat sleg is, wil ek nastreef nie. Ek haat wat verkeerd is. Dit mag geen houvas op my hê nie.

Dawid het ‘n stryd gestry, maar hy was vasbeslote om God te eer in sy gedagtes.  Hy’t geweet dat hy moes waak teen dit wat hy sou aanskou.  Wat hy sou sien, sou sy denke affekteer.  As hy oor sy gedagtes sou waak, sou dit hom keer om na iets te kyk wat God ongelukkig sou maak.

Pornografie, sensuele tonele in rolprente, TV programme vol vloekwoorde, tonele wat niks aan die verbeelding oorlaat nie, eksplesiete boeke, suggestiewe gesprekke… waaraan is jy skuldig?  Partykeer staan ons sterk, maar ander kere is ons ook maar nuuskierig.  Veral as jy hoor almal praat oor ‘n boek of rolprent wil jy tog nie hê mense moet dink jy is preuts nie. 

Dit gaan egter nie oor preutsheid nie, maar oor morele waardes. Hopeloos te min mense het nog ‘n besliste wit en swart area.  Vir soveel het dit tot ‘n grys niemandsland vervaag.  Alles is aanvaarbaar en toelaatbaar.

As jy enigsins twyfel of ‘n boek, rolprent of TV program aanvaarbaar is… vra jouself af of jy dit saam met God sou geniet? 


Ek bid dat jy jou waardes in heroorweging sal neem en harder sal probeer om God te eer in alle omstandighede. Jy kan nie reg of verkeerd weeg na aanleiding van jou medemens se begrip daarvan nie.  Dit is ‘n saak tussen jou en God.  Net jy sal weet waaraan jy moet werk.  Vra God om jou te help en jou weerstand te versterk… om jou die moed te gee om op te staan vir wat reg is… in Sy oë.

Sunday 29 March 2015

Geloofsvertroue

Hebreërs 10 : 35  Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in.

Indien daar iets is waarvoor jy nou al lank bid sonder dat jou gebede beantwoord word, wil ek jou vandag bemoedig om nie moed op te gee nie.  Soveel keer gee ons moed op net voor ons deurbraak sou plaasvind.  Moenie dat dit met jou gebeur nie. 

Jou deurbraak is so naby!  Die nag is op sy donkerste net voor die dag breek en daarom voel ons partykeer is dit juis hierdie donker dieptes wat ons ontmoedig en laat tou opgooi. 

Moet nooit vergeet dat jy ‘n getroue God dien nie.  Die feit dat jy geen verandering sien nie, beteken nie dat Hy nie besig is met jou probleem nie.  ‘n Boer kan nie sy koring oes omdat hy nie meer kan wag vir dit om ryp te word nie.  Hy moet geduldig wag vir daardie perfekte oomblik.  God is die groot Landbouer en Hy wag vir die perfekte oomblik om vir jou deur te kom.  Moet nie jou geloofsvertroue prysgee nie, want jou beloning is binne jou bereik.  Die wonder is dat ons genadiglik gou die pyn van afwagting en hoop op ‘n deurbraak vergeet.  Daardie pyn bly nie vir altyd nie. 


Terwyl jy wag, doen dit in die volle wete dat ‘n deurbraak om die draai is.  Wanneer jy soggens opstaan, prys God vir die belofte wat die nuwe dag inhou en vra Hom om jou te help om vas te staan in geloof omdat jy Hom onvoorwaardelik vertrou al wil elke gryntjie menswees binne jou moed opgee.  Jou oes is byna gereed.  Sorg dat jy gereed is vir die oestyd.

Thursday 26 March 2015

Jy is pragtig!

Psalm 139 : 14  Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.

Hoeveel keer dink jy dat jy ‘n mislukking is?  Definieer jy jouself dalk volgens woorde wat andere oor jou gespreek het soos byvoorbeeld:  “Jy’s onnosel…”   Of het ‘n bynaam jou realiteit geword?  “Vlam, Stokkies, Bakbeentjies…?”

God se weergawe omtrent jou lyk totaal en al anders.  Eerstens, en die mees belangrikste van alles, moet jy onthou dat Hy jou na Sy beeld geskape het.  Tweedens moet jy onthou dat jy uniek is.  Nêrens op Moeder Aarde is daar nog iemand soos jy nie.  Elke deeltjie van jou is sorgvuldig aanmekaar geweef in die moederskoot.  Elke sproetjie, moesie, geboortevlekkie is deel van God se pragtige skepping.  Niks is buite verhouding nie.

Jy kan met die mooiste mens op aarde praat en hy of sy sal baie gou hul ‘foute’ aan jou uitwys.  Of hul is te kort, te lank, te maer, te mollig... Hul hare is te frizzy of hul neus te  krom… Jy sien dit nie raak nie, maar dit is daardie persoon se realiteit.  Niks wat jy sê of doen kan hul oortuig dat hul pragtig is net soos hul is nie.  Jy is presies dieselfde… ook jy is deeglik bewus van jou tekortkoming(e). 

Wie is ons om God se wonderbaarlike skepping te kritiseer?  As iemand jou dus afkraak… of jy jouself afkraak… word God gekritiseer en afgekraak.  Sou jy jouself beter kon maak?  Sou jy die persoon wat jy kritiseer beter kon maak?  Min van ons kan perfekte beelde skep, wat nog te sê ‘n lewende wese. 


Sien jouself deur God se oë.  Nadat Hy die mens geskape het, het Hy gedink dit is BAIE goed.  Goed is net nie goed genoeg vir Hom nie… BAIE goed… perfek…  Loof en prys Hom daarvoor.

Wednesday 25 March 2015

Voorspoed vir jou

Job 22 : 28  Wat jy besluit, sal uitgevoer word, dit sal voorspoedig gaan met jou.

Maak jouself gereed vir ‘n groot verskuiwing in jou lewe en omstandighede.  Vir jou mag dit voorkom asof daar geen uitkoms uit jou huidige situasie is nie.  As mense redeneer ons volgens ‘n logiese orde en as iets onmoontlik lyk, dan glo ons dit is onmoontlik, maar… logika vlieg by die venster uit wanneer jy met ‘n bonatuurlike God te doen kry.  Vir Hom is niks onmoontlik nie.  Dus moet jy ophou om jouself blind te staar teen jou idee van onmoontlik en begin glo dat God in staat is om ‘n dramatiese verskuiwing in jou lewe te bewerkstellig.  Daardie verskuiwing sal jou omstandighede 180 grade omkeer. 

Die probleem van die verlede is so goed as verby.  Die feit dat jy net nie ‘n werk of ‘n ander posisie kan kry nie, gaan totaal verander.  Die verslawing of slegte gewoontes wat jy sukkel om af te skud gaan nie meer ‘n probleem wees nie, want God gaan die kettings breek wat jou weghou van Hom af.  Dit wat jare sou neem, gaan binne ‘n oogwink gebeur. 

Ongekende voorspoed is jou voorland.  Die vraag is of jy gereed is hiervoor?  Ons kan onsself uit goeie geleenthede uit dink omdat ons byvoorbeeld glo dat ‘alles wat kan verkeerdgaan, sal verkeerdgaan’ of ‘dit help nie eens ek vra God nie, dis tog onmoontlik’.


Glo vandag, met jou hele hart, dat ‘n verskuiwing op die punt staan om te gebeur omdat ons God van wonders in beheer is.

Tuesday 24 March 2015

Verbly jou in die Here

Psalm 32:11  Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel, alle opregtes.

Elke dag, min of meer op dieselfde tyd, hoor ek ‘n man buite ons kantore sing.  Jy hoor hom van ver af en die hele tyd sing hy uit volle bors.  Aan die begin het ons gedink die persoon het te diep in die bottel gekyk, maar mettertyd het ons, ons horlosies begin dophou en geweet ons sal nou enige tyd die sanger hoor.  Met die eggo tussen die geboue, kan jy egter nie uitmaak wat hy sing nie.

Op ‘n dag is ek buite terwyl hy verbykom.  Groot is my verbasing om te sien dat dit ‘n bergie is wat van een drom na ‘n volgende loop en daarin krap terwyl hy uit volle bors sing:  “Ek kyk op na die Here…” Dis nie ‘n bekende melodie nie, heelwaarskynlik een wat hy self opgemaak het, maar dis seker een van die mooistes wat ek al gehoor het.  Nie omdat dit so melodieus is nie, maar omdat hy dit met vaste oortuiging uit sy hart uit sing.  As bergie besit hy niks en het hy geen inkomste nie, maar Hy kyk op na die Here en die sorg vir hom.


Die rou eerbetoon en vertroue van hierdie man laat my besef hy is ryker as enigeen rondom hom.  Hy plaas nie sy vertroue in ‘n baas, ‘n inkomste, besittings of aardse rykdom nie.  Hy kyk eenvoudig op.  

Monday 23 March 2015

Hoe lank nog?

Galasiërs 6 : 9  Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.

Sou dit nou nie goeie nuus gewees het as ek jou vandag kan verseker dat al jou probleme op ‘n einde is sodra jy ‘n Christen word nie?  Of dat God van nou af al jou gebede binne 24 uur sal beantwoord nie?  Dit is egter onrealisties.  God het sy eie tyd.  Hy werk nie volgens ons idee van dringendheid nie.  Om die waarheid te sê, Hy verwag dat ons geduldig moet wees.

Dit sou veel makliker gewees het as Hy vir ons ‘n idee kon gee hoe lank ons moet wag op genesing… of hoe lank nog voor jy die regte persoon gaan ontmoet… of hoe lank jy nog moet wag voor jou kind weer op die regte pad sal kom…  Die probleem met dit is dat daar dan geen rede vir geloof is nie.  Geloof verg van ons om te glo al het ons nie ‘n idee hoe lank dit gaan neem nie. 


Van ons tydelike kollegas se kontrakte is onlangs beeindig.  Toe ek vir een van hulle vra of hul al enige vooruitsigte het, het hy geantwoord:  “Nee nog nie, maar dit sal op die regte tyd kom.  As dit nie so gebeur nie, is daar geen getuienis nie.”  Hierdie kollega se hoop is op God.  Hy vertrou God vir uitkoms, al lyk dit volgens alle uiterlike faktore onmoontlik, weet hy dat God nooit laat is nie.  Hy sal bly glo en vertrou, nie een oomblik verslap nie, en op die regte oomblik, sal Hy die oes insamel.

Sunday 22 March 2015

'n Lewe van angstigheid

Spreuke 14 : 30  'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond…

Indien jy dit nog nie self gesê het nie, is ek seker jy’t iemand al die woorde hoor gebruik:  “Ek is siek van bekommernis.”  Die woordjie ‘stress’ is so deel van ons woordeskat deesdae.  En daar is verseker genoeg rede tot kommer.  Jy hoef maar net na die nuus te luister of ‘n koerant oop te maak.  Die lewe is nie maklik nie. 

Werknemers bekommer hul oor die sekerheid van hul inkomste en werkgewers bekommer hul oor die voortbestaan van hul besigheid.  Tussenin is daar nog die politiek, verhoudings en die ekonomie. 

God het nie vir ons bedoel om ‘n lewe van angstigheid te leef nie.  Hy wil hê dat ons kalm en rustig moet wees sodat ons nie ons liggame skade aandoen nie.  Bekommernis is nie goed vir jou gesondheid nie, dit weet jy self.  

Ongelukkig het nie een van ons ‘n skakelaar wat ons kan afskakel nie.  Die enigste manier hoe ons kan kalm en rustig wees, is om God te vra vir vrede.  Vrede is nie net ‘n gevoel nie, maar ‘n magtige posisie.  Wanneer ons hart en gemoed gefokus is op God, in plaas van op die wêreld en sy probleme, sal ons Sy vrede ervaar.  Dit is wanneer ons die toekoms vierkantig in die oë kan kyk, want ons weet Hy is in beheer.

Thursday 19 March 2015

U let op my trane

Psalm 56 : 8  My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.

Die Fillistyne het vir Dawid in Gat gevange geneem.  Dawid is nie op ‘n lekker plek in sy lewe nie.  As gevangene het hy genoeg tyd om homself te sit en bejammer.  Hy is gejaag en vervolg.  Hulle beskuldig hom, het bose planne en is uiters vyandig teenoor hom.

Dawid is dalk moedeloos, maar hy is nie sonder hoop nie.  Hy weet baie goed dat God alles sien gebeur en dat niks by God ongemerk verbygaan nie.

Miskien is daar mense wat jou ook ‘n harde tyd gee.  Dit voel vir jou asof jy net mooi niks kan regdoen nie en of hul gedurig op jou ‘case’ is.  Hul optrede en hul woorde maak jou seer. Jy probeer jou bes om sterk te staan en die ander wang te draai, maar dit kry jou tog onder. Uit pure magteloosheid dryf hul jou tot trane.  Jy weet dus presies hoe Dawid moes voel.

Vandag moet jy mooi kyk na hierdie teks.  Jou pyn en hartseer word raakgesien.  Elke traan wat jy stort is in Sy boek opgeteken.  Jy is nie alleen nie en jy is nie vergete nie.  Vers 10 verseker jou: God is aan my kant. en vers 12 vra ‘n baie belangrike vraag:  Wat kan 'n mens aan my doen?


Keer op keer red God ons uit.  Net soos Dawid moet ons Hom ook loof en prys en nie vergeet om dankoffers aan Hom te bring nie.  Niemand is so vir jou as wat God is nie en niemand het jou so lief as wat Hy jou het nie.

Wednesday 18 March 2015

Moenie by die verlede stilstaan nie

Jesaja 43 : 18  Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

As jy vandag ‘n sommetjie moet maak om uit te werk hoeveel tyd jy aan die verlede spandeer, sal die antwoord jou seker verstom.  Hoekom ons soveel tyd aan die verlede spandeer, weet ek nie.  Tog bly ons terugdink aan wat was of wat kon wees.  Ons is so vasgevang in die verlede dat ons nie vandag kan geniet nie, en daarom ook nie die mooi toekoms kan sien wat daar op ons wag nie.  Iets onbenulligs gebeur en dit voer ons terug na die verlede en so spandeer ons kosbare tyd op iets waaraan ons geen jota of tittel kan verander nie.

Jesaja 43 is ‘n pragtige hoofstuk met vele beloftes en woorde van bemoediging.  God het jou by die naam geroep…  maak nie saak waardeur jy gaan nie, Hy is met jou… Hy herinner jou dar Hy die Een is wat ‘n pad deur die see maak… dat Hy die Redder is en in vers 15 die versekering:  Ek is die Here, julle heilige God, die Skepper van Israel, julle Koning.


Juis daarom hoef ons nie meer onsself te sit en verknies oor wat was nie.  Dit is geskiedenis.  Om die volle omvang van God se seën  op jou lewe te ervaar, moet jy die verlede laat gaan.  Jy bekommer jou nie meer daaroor nie en jy laat ook nie toe dat dit jou toekoms bederf nie.  Jy is vry!  Verklaar dus dat die verlede vergete is en dat jy gereed is om die toekoms, met al Sy wonderlike beloftes, tegemoet te gaan.

Tuesday 17 March 2015

Vra

Lukas 11 : 9  “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word.

As jy soggens wakker word, sien jy voor jou geestesoog ‘n fantastiese dag vol interessante verrassings of gaan jy die dag met ‘n swaarmoedigheid tegemoet omdat dit vir jou uitsigloos voel? 
Weet jy, dit maak nie saak of jy vannag wakker gelê het en jou siek bekommer het oor jou werk, jou finansies, jou verhoudings, of enige iets anders nie.  Die dag wat vanoggend gebreek het, is ‘n nuwe dag… ‘n nuwe geleentheid om voorspoed oor jouself uit te spreek. 


As jy negatief voel of is, trek jy negatiwiteit aan, maar dieselfde geld vir positiwiteit.  As daar niks is wat jou opgewonde maak nie, vra God om jou hart en jou gedagtes te vernuwe en jou te vul met opwinding oor die nuwe dag.  Verwag groot en onmoontlike dinge…deure wat oopgaan… mense wat jy ontmoet… geleenthede wat oor jou pad kom… daar is altyd hoop.

Monday 16 March 2015

God se goedheid

Efesiërs 1 : 18 – 19  Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag

Elkeen van ons kan getuig van God se goedheid in ons lewens.  Iewers oor die afgelope jare, het God jou beskerm, jou verhef, jou deurgedra en vir jou deure oopgemaak.  Dit is God se guns wat op jou gerus het.  Dis egter nie tot die verlede beperk nie.  God wil daagliks vir jou bederf en jou oorvloediglik seën.  Ek glo beslis dat die beste nog op pad is vir jou… dat dit op die punt staan om te gebeur en dat jy dit nog vele kere in die toekoms sal ervaar.  Maak gereed vir die oorvloed wat op jou gaan neerreën.

Paulus het hierdie brief jare gelede geskryf, maar oor die eeue heen is dit oor en oor gedemonstreer.  God beskik oor geweldige mag en krag en Hy wend dit aan om vir jou, as gelowige, ‘n heerlike erfenis te bestem. 


Jy glo nie juis hierdie woorde vandag nie.  Waar jy jou tans bevind, kan jy nie sien dat daar groot en wonderlike vooruitsigte vir jou in stoor is nie, maar dit is juis waar ek jou daarop wil wys dat jy moet toelaat dat jou geestesoë verhelder sodat jy kan sien dat Sy guns op jou rus.  Maak nie saak hoe stormagtig jou omstandighede op hierdie oomblik is nie, daar is hoop en oorvloedige seën vir jou op pad.

Sunday 15 March 2015

Stuur my!

Matteus 9:38  Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Oor die eeue heen maak God op gewone mense staat om die oes in te samel waarvan Hy hier in Matteus praat.   “Hoe weet ‘n mens dat God jou geroep het?” vra jy.  Jy sal dit weet omdat ‘n intense behoefte by jou ontstaan om die opdrag uit te voer.  Dis ‘n gevoel waarvan jy nie kan wegkom nie.  Jy weet net jy moet gehoorsaam.

Dis een ding om gekies te word om vir God te werk, maar dis ‘n ander ding om dit te gaan doen en daarmee vol tehou.  Die rede daarvoor is dat satan alles in sy vermoë sal doen om jou te keer.  Hy gaan twyfel by jou saai.  Sommer reg van die begin gaan jy twyfel of jy reg gehoor het. Daarna sal hy jou laat glo jy’s nie toegerus nie… jy kan nie alles los nie… jy beskik nie oor die nodige fondse nie… en so sal dit aangaan.

Gelukkig word jy nie alleen uitgestuur nie. God rus jou toe en Hy stap self voor jou uit.  Menige sendeling sal jou vertel van God se byna onmoontlike voorsiening en beskerming.  Gehoorsaamheid aan God, word altyd beloon.


Onthou net dat dit nie altyd nodig is om die sendingveld te besoek nie.  God kan jou dalk in die kerk gebruik of by jou werk of in die gemeenskap.  Jy sal weet waartoe Hy jou roep.  Is jy gereed om uit te gaan om daardie oes te gaan insamel?  Sien jy kans om jou hele lewe aan Hom te wy en vir Hom terug te gee? Weet jy, dis nie ‘n opoffering nie; dis ‘n absolute voorreg en ‘n ongelooflike geseënde ervaring.

Thursday 12 March 2015

Beproewings suiwer geloof

1 Petrus 1 : 6 – 7 Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

“Ai, Here hoekom kan dit nie ‘n slag beter gaan nie?  Ek is moeg gesukkel, moeg van ongelukkig wees.  Ek is moeg van al die seer.  Dit voel of daar nie meer ‘n gryntjie krag in my liggaam oor is nie.  Wat kan nog verkeerd gaan?  Ek is platgeslaan, Here.  Net sodra ek dink ek kan uit hierdie dryfsand uitklim, dan suig dit my weer terug.  Here, help my!”

Vandag is die teks hierbo vir jou.  Die beproewings wat jy deurmaak is alles deel van ‘n groter plan. Ek weet dit is nie wat jy wil hoor nie.    Jy sien, God moet ons geloof partykeer toets… ons moet soos goud gesuiwer word , want dis wat beproewings doen… dit reinig jou.  Wanneer jy deur ‘n beproewing gaan, word jy gestroop van alle pretensie.  Rou, menslike emosie kom na vore.  Dis die skuim van die onsuiwerheid wat afgeskep word en mettertyd bly die suiwer goud agter.  


Dit beteken ‘n algehele paradigma skuif.  Jy moet bly wees wanneer jy so ‘n bietjie grondpad tref.  Die rit is beslis nie maklik nie, maar dit beteken nie jy kan nie die rit geniet nie.

Wednesday 11 March 2015

Langtermyn planne

2 Korintiërs 1:17  Was ek miskien oorhaastig toe ek hierdie plan gemaak het? Of word ek deur menslike oorwegings gelei as ek planne maak…

Wanneer jy vir ‘n onderhoud gaan, is een van die vrae gewoonlik:  “Waar sien jy jouself oor vyf jaar?”  Dis ‘n vraag wat my altyd onkant vang.  Die lewe is eenvoudig te onseker om lank vooruit te beplan.  Daarmee wil ek geensins die idee skep dat ek pessimisties is nie.  Verandering is deel van die toekoms en veranderinge bring gewoonlik nuwe geleenthede, wat my betref. 

Ja, ‘n mens moet ‘n plan hê en weet waarheen jy mik, maar jy moet ook nie te verbaas wees as jou planne omvergewerp word nie.  Ten spyte van ‘n perfekte strategie en haarfynbeplanning, kan die beste planne steeds skeefloop.

Wie sou ooit kon dink dat die olieprys byna sou halveer?  Net so verwag jy dalk ook nie dat jou huidige omstandighede kan verander nie.  Jy is gelukkig en gemaklik waar jy jou tans bevind.  Dis uitstekend en ek gun jou dit. 


Solank ons net onthou dat enige plan wat ons mag maak, nie deur menslike oorwegings gelei moet wees nie.  Ken God in al jou planne en vra Hom om jou ook te help om enige onverwagse wendings te hanteer.

Tuesday 10 March 2015

Laat môre in God se hande

Matteus 6:34  “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Dit wil voorkom asof bekommernis ons nuwe nasionale sport is.   Min gesprekke draai om positiewe gebeurtenisse.  Toe die olieprys die hoogte in skiet, terwyl die rand wipplank gery het, het ons knaend oor die verhoging van die petrolprys gepraat en hoe dit ons affekteer.  Nou dat die olieprys gedaal het, hoor jy selde dat mense oor die positiewe kant van die saak praat.  Ons kry liewer ‘n ander onderwerp waaroor ons kan teem.  Die koerante en nuusbulletins gee ons genoeg ammunisie.  Min besef ons dat hierdie smartvraat-houding juis koerante se sirkulasiesyfers laat styg.  Slegte nuus verkoop!

Die Bybel leer ons egter anders.  Ons moet ons juis nie bekommer nie.  Wanneer mense so bekommernisse uitruil, hoor ek ‘n sugting na rus en vrede, maar tog word dit nie aangegryp nie.  Al waarop ons moet fokus, is vandag. 


Hier is as’t ware ‘n opdrag.  Moet jou nie oor môre bekommer nie.  Ja maar, die rand bly verswak, waar gaan dit eindig?  Dis God se probleem.  Het jy al gesien hoe gaan dit in die parlement?  Dis God se probleem.  Die land val uitmekaar uit… kyk maar na Eskom.  Dis God se probleem.  Ek en jy moet ons eenvoudig bepaal by vandag.  Laat môre in God se hande.

Monday 9 March 2015

Voor die mens nog roep

Jesaja 65 : 24  Voor die mens nog roep antwoord Ek...

Indien twee mense verlief is, wil hul alles van mekaar weet.  Hulle deel alles met mekaar.  Daar is geen geheime nie.  Emosies en gevoelens word blootgelê.  Hulle wil alles van mekaar weet en kan nie genoeg van mekaar kry nie.  Mettertyd voltooi hul selfs mekaar se sinne. 

Dis waar jou verhouding met God moet wees… so naby dat jul byna een is. Daarmee saam gaan ‘n gevoel van veiligheid, vertroue en ‘n hunkering om net nader en nader aan Hom te leef. Dis byna asof jy geen beheer oor hierdie dringende behoefte het nie, maar jy weet dit is allesoorheersend.  

Ek dagdroom gereeld.  Soms is dit so vergesog dat ek dit nooit eens vir enige iemand sal vertel nie.  Dis soort van ‘n privaat droom.  Meeste van tyd is dit boon-op onbelangrik, sommer net sulke verbeeldingsvlugte.  As een van daardie drome dan ‘n werklikheid word, sonder dat ek daarvoor gevra het, kan jy jou indink hoe verbaas ek is. 

Daardie verbasing vervaag as jy die teks hierbo lees.  God hou van bederf en omdat Hy ‘n omgee God is, voorsien hy selfs in dagdrome, hoe vergesog ook al.


Ek bid dat jou verhouding met God elke dag sal groei en dat jy ook ‘n onblusbare dors na Hom sal ervaar. 

Sunday 8 March 2015

Passasiers op die trein van die lewe

Rigters 18 : 6  “Gaan gerus! Die Here is by julle op julle reis.”


At birth we boarded the train and met our parents, and we believe they will always travel at our side. However, at some station our parents will step down from the train, leaving us on this journey alone. As time goes by, other people will board the train; and they will be significant i.e. our siblings, friends, children, and even the love of your life. Many will step down and leave a permanent vacuum. Others will go so unnoticed that we don't realize they vacated their seats. This train ride will be full of joy, sorrow, fantasy, expectations, hellos, goodbyes, and farewells. Success consists of having a good relationship with all passengers requiring that we give the best of ourselves.

The mystery to everyone is: We do not know at which station we ourselves will step down. So, we must live in the best way, love, forgive, and offer the best of who we are. It is important to do this because when the time comes for us to step down and leave our seat empty we should leave behind beautiful memories for those who will continue to travel on the train of life.

I wish you a joyful journey on the train of life. Reap success and give lots of love. More importantly, thank God for the journey.

Lastly, I thank you for being one of the passengers on my train.

(Met dank en erkenning aan 'n kosbare epos vriendin wat my lewensreis elke dag verryk)

Thursday 5 March 2015

'n Briefie vir jou

I Samuel 1:5  maar aan Hanna het hy ’n dubbele deel gegee; want hy het Hanna liefgehad; maar die HERE het haar moederskoot toegesluit.

Een van die mees aangrypende artikels wat ek nog gelees het, is geskryf deur Wendy Ruth Lopatin.  Die artikel gaan oor ‘n brief wat sy skryf aan die kind wat sy nooit gebaar het nie.  Haar hele lewe lank het sy gesmag na ‘n kindjie.  Sy’t selfs name gereed gehad vir hul:  Ruth as dit ‘n dogtertjie is en Daniel as dit ‘n seuntjie is. 

In haar woorde:  “Life doesn’t always follow one’s chosen course.”  Sy is getroud, maar a.g.v. loopbaan besluite en ook die feit dat hul wou emmigreer, het sy eers op die ouderdom van 31 swanger geraak.  Die huwelik was ongelukkig alreeds wankelend en het nie die miskraam wat sy gehad het, oorleef nie.  Op 38 ontmoet sy haar sielsgenoot, maar hy is geskei en sy dogter woon by haar ma.  Omdat hy nie die skeiding van sy dogter kan hanteer nie, weier hy haar summier die geleentheid om ‘n eie kindjie te hê.  Toe hy uiteindelik versag, is sy reeds in haar middel veertigs en helaas word sy nooit swanger nie.  Haar moederskoot bly leeg, vandaar die aangrypende brief aan die kindjie wat sy nooit kon vashou nie.

Berusting kom eers toe ‘n vriendin haar kind op 29 jarige ouderdom aan die dood afstaan, want skielik besef sy dat sy ten minstenooit haar Ruth of Daniel kan verloor nie, want hul het nooit die lewenslig aanskou nie.

‘n Leë moederskoot moet seker een van die grootste sere wees wat ‘n vrou kan ervaar.  Ons weet nie hoekom God jou dit ontneem nie, maar ek kan jou verseker dat dit nie is omdat hy jou wil seermaak nie.  My gebed vir jou wat ook smag na ‘n kindjie, is dat jy soos Wendy iewers berusting sal vind. 


Wednesday 4 March 2015

Vergifnis

Psalms 130:4 Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.

Vergifnis:  ‘n Klein woordjie;  maklik om uit te spreek, maar moeilik om uit te leef. 

Meer as wat nodig is, laat ons toe dat iemand anders se optrede of uitsprake ons vreugde kelder.  Gister het iemand een sin geuiter, wat my hele denke en wese sedert daardie oomblik oorheers het.  Ek kon nie ophou om die woorde oor en oor terug te speel en ontleed nie.  Dit was allesoorheersend, Dwarsdeur die nag het dit my wakkergehou en vanoggend terwyl ek kospakkies voorberei vir my gesin, was dit selfs erger, want toe was ek op die stadium waar ek begin wraakgedagtes koester.  Ek gaan dit doen en dan sal die persoon so voel en dan gaan ek dat sê en my punt bewys.  

Al my gedagtes het gesetel rondom die manier hoe ek daardie persoon wou terugkry en goed op haar plek sit.  Deur middel van die Heilige Gees, het God my egter bewus gemaak van my denke en optrede… dis nie hoe ‘n Christen sulke situasies hanteer nie.  Ek het ook besef dat daardie persoon se een sin my vir hopeloos te lank gehou gevange gehou het.  Dit het beslis nie soveel tyd en aandag verdien nie en die feit dat ek dit toegelaat het, het niks aan die situasie verander nie.  Van die oomblik dat ek besef het my optrede is verkeerd, dat ek haar gaan vryspreek, het ek absolute vryheid ervaar.

Het iemand jou dalk iewers in die verlede tenagekom?  Herkou jy ook steeds daaraan?  Oorheers dit ook jou denke? 

Jesus het nie een enkele keer kwaad met kwaad vergeld nie.  Tot op die laaste oomblik aan die kruis, het Hy nog ‘n sondaar langs hom vrygespreek.  Hy’t in vrede gesterf… dit is volbring. 


Gooi die kettings af en leef ‘n lewe van vergifnis.  

Tuesday 3 March 2015

Lewensmoeg

Filippense 4 : 13  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Lewensmoegheid bekruip en oorval ons wanneer ons dit die minste verwag.  Vandag werk ma en pa in die meeste gevalle om die pot aan die kook te hou (en natuurlik die skoolfonds te bekostig).  Die kers word aan beide kante gebrand.  Enkellopendes het dalk nog meer druk, want hul werk langer ure en daar is net een inkomste vir dieselfde uitgawes.  Dit is ook nie net werksdruk nie, maar soveel ander druk.  

Ons dryf onsself om te presteer om ons werk te behou en dan lei ons verhoudings met die gevolg dat ons dan weer daar moet vure doodslaan.  Dan probeer ons opmaak met geskenke of ‘n wegbreek en ervaar weer finansiële druk of ons het twee of meer werke wat nog meer druk op ons tyd plaas en so kan ons aangaan.  Jy weet self wat alles druk op jou plaas. 

Meer mense besoek deesdae sielkundiges en psigiaters as ooit tevore.  Uitbranding is nie meer ‘n vreemde term nie.  Al meer mense moet van medisinale hulpmiddels gebruik maak, al is dit net Rescue Remedy.  Soms wonder ons hoe ons oorleef.

Realiteit is dat die druk nie gaan minder raak nie, heelwaarskynlik meer.  Ja, jy kan probeer afskaal tot op ‘n punt, maar dan moet jy ook bereid wees om die konsekwensies te dra.  Al waarheid is dat God jou die krag sal gee om jou in staat te stel om kop bo water te hou. 


Here, vandag besef ek dat ek nie op eie krag kan voortstoom nie.  Ek het U daadwerklik nodig in my lewe.  

Monday 2 March 2015

Al hierdie dinge

Matteus 6:33  Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Onlangs het ek die groot stap geneem om my bestaande voertuig in te ruil op ‘n ander voertuig.  Jy kan nou maar lag, maar ek is ‘n sentimentele mens en raak baie geheg aan my voertuig.  Eerstens omdat sy ‘n gawe uit God se hand is en tweedens omdat ons twee so baie tyd saam deurbring. So om van my voertuig afstand te doen, is nie ‘n maklike besluit nie.  My voertuig is ook ‘n instrument om hierdie blog te bemark d.m.v. ‘n advertensie op die agterruit. 

Elke keer reken ek dit sal die voertuig wees waarmee ek vir die res van my lewe gaan ry wat beteken dat die voertuig uiters goed versorg word, en daarom kom so ‘n besluit nie maklik nie.  Logika moet darem ook inskop wanneer die geleentheid  hom voordoen om die voertuig te vervang, sonder dat dit ‘n arm of ‘n been gaan kos, want ons almal weet dat motor koop nie ‘n goeie belegging is nie. 

Dus word hierdie besluit in oorleg met God gemaak en soos wat Hy belowe in die teks hierbo, kan jy maar begin uitsien, want hy sal voorsien, solank as wat jy jou kant van die ooreenkoms nakom.
So kom ek op die punt wat die transaksie die groen lig kry.  Op pad huis toe pak twyfel my beet.  Wat as ek nie heeltemal binne God se wil optree nie… wat as dit meer my wil is as Sy wil?  Onmiddellik tree ek in gesprek met God:  “Asb Liewe Here, gee my ‘n teken.  As dit regtig binne U wil is, laat ek vandag iewers langs die pad dieselfde motor teëkom.” 

Nou moet ek byvoeg dat die voertuig huidiglik uiters skaars is, met ‘n ellelange waglys.  Hier’s die getuienis.  Op die presiese oomblik dat ek “amen” sê ry daardie spesifieke voertuig, in presies dieselfde kleur wat ek bestel het, reg langs my.”  Praat van ‘n teken.  Ek was so stom geskok dat ek spontaan in ‘n lagbui uitgebars het.  “Ja, Here… U hou daarvan om 'n behoorlike teken te gee .” Daardie voertuig het voorwaar uit die lug geval.  Hy was sekondes tevore nêrens in die verkeer nie en my baan het vinniger gevloei wat gemaak het dat ek daardie voertuig ook nie weer daarna gesien het nie. 

Wat ‘n verstommende God dien ons nie.  Dit gaan nie oor wêreldsgoed of oor besittings nie.  Dit gaan oor ‘n God wat letterlik vir jou ENIGE IETS sal gee wat jy vra.

Dankie dierbare Hemelse Vader vir elke seëning uit U hand.  Ek verdien dit nie eens amper nie, maar ek aanvaar dit met grasie.  My nuwe motor is pragtig en sy ry soos 'n droom.  Ook Sy sal tot eer en verheerliking van U naam aangewend word.

Al hierdie dinge

Matteus 6:33  Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Onlangs het ek die groot stap geneem om my bestaande voertuig in te ruil op ‘n ander voertuig.  Jy kan nou maar lag, maar ek is ‘n sentimentele mens en raak baie geheg aan my voertuig.  Eerstens omdat sy ‘n gawe uit God se hand is en tweedens omdat ons twee so baie tyd saam deurbring.  So om van my voertuig afstand te doen, is nie ‘n maklike besluit nie.  My voertuig is ook ‘n instrument om hierdie blog te bemark d.m.v. ‘n advertensie op my agterruit. 

Elke keer reken ek dit sal die voertuig wees waarmee ek vir die res van my lewe gaan ry wat beteken dat die voertuig uiters goed versorg word, en daarom kom so ‘n besluit nie maklik nie.  Logika moet darem ook inskop wanneer die geleentheid  hom voordoen om die voertuig te vervang, sonder dat dit ‘n arm of ‘n been gaan kos, want ons almal weet dat motor koop nie ‘n goeie belegging is nie. 

Dus word hierdie besluit in oorleg met God gemaak en soos wat Hy belowe in die teks hierbo, kan jy maar begin uitsien, want hy sal voorsien, solank as wat jy jou kant van die ooreenkoms nakom.
So kom ek op die punt wat die transaksie die groen lig kry.  Op pad huis toe pak twyfel my beet.  Wat as ek nie heeltemal binne God se wil optree nie… wat as dit meer my wil is as Sy wil?  Onmiddellik tree ek in gesprek met God:  “Asb Liewe Here, gee my ‘n teken.  As dit regtig binne u wil is, laat ek vandag iewers langs die pad dieselfde motor teëkom.” 

Nou moet ek byvoeg dat die voertuig wat ek beplan om te koop huidiglik uiters skaars is, met ‘n ellelange waglys.  Hier’s die getuienis.  Op die presiese oomblik dat ek “amen” sê ry daardie spesifieke voertuig, in presies dieselfde kleur wat ek bestel het, reg langs my.”  Praat van ‘n teken!  Ek was so stom geskok dat ek spontaan in ‘n lagbui uitgebars het.  “Ja, Here… nou is ek oortuig dis die regte besluit.” Daardie voertuig het voorwaar uit die lug geval.  Hy was sekondes tevore nêrens in die verkeer nie en my baan het vinniger gevloei wat gemaak het dat ek daardie voertuig ook nie weer daarna gesien het nie. 


Wat ‘n verstommende God dien ons nie.  Dit gaan nie oor wêreldsgoed of oor besittings nie.  Dit gaan oor ‘n God wat letterlik vir jou ENIGE IETS sal gee wat jy vra, selfs al is die wêreldsgoed.  Hy hou daarvan om ons te bederf.

Vandag is die herdenking van my geboortedag en wil ek graag ook getuig dat God my elke enkele dag van my lewe gedra, ondersteun en ook soms bederf het.  Ja, ek word ook soms getugtig, seker minder as wat ek verdien, maar dan weet ek ook om die suur saam met die sout te aanvaar, maak die lewe interessant. 

Sunday 1 March 2015

Ek is BY jou

Jesaja 43 : 2  As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie

Hoekom daar altyd ‘n vlieg in die salf moet wees, weet ek nie, maar dat daar altyd iets sal gebeur om die glimlag van jou gesig te vee, dis ‘n feit.  Nee, dis nie negatiewe denke nie, dis realiteit.  Die lewe bestaan nie net uit vreugde en goeie tye nie.  Een ding waarvan ons seker kan wees, is dat struikelblokke oor ons pad sal kom.

Gelukkig hoef ek en jy nie in vrees te leef nie.  Alhoewel ons weet dat ons nie gevrywaar is teen hartseer of pyn nie, weet ons dit kan ons nie onderkry nie, want God verseker ons in hierdie teks dat Hy deur elke situasie met ons is.  Ek weet nie van jou nie, maar met Hom aan my sy, sien ek vir enige iets kans, selfs daardie spreekwoordelike berg staan nie in my pad nie. 


As jy nou uitsigloos voel in die situasie waarin jy jou bevind, maak hierdie teks joune.  Dikwels staar ons, ons blind teen die omstandighede en sien ons nie vir God reg langs ons nie.  Moenie moedeloos wees nie.  Hy is BY jou… elke oomblik en in elke situasie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...