Sunday 31 May 2015

Gideon Bybels

Openbaring  1:3  Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan,

In menige hotelkamer of gastehuis, sal jy ‘n Gideon Bybel vind.  Dit is voedsel vir ‘n honger, eensame, reisiger.  Die impak wat daardie gratis Bybel op iemand se lewe mag hê, word dalk geringgeskat, maar as jy die getuienis van Ron Archer lees, weet jy dat saadjies tog wel op vrugbare grond kan val.

Op die ouderdom van tien jaar, het Ron Archer ‘n rewolwer teen sy kop gehou, gereed om ‘n einde aan aan sy misrabele lewe te maak.  Gelukkig vir hom, het die rewolwer ‘n veiligheidsmeganisme gehad waarvan hy nie geweet het nie en het dit nie afgevuur nie.

Mens moet jouself afvra hoekom ‘n jong seun wil sterf instede van droom oor ‘n toekoms.

Hy het ‘n hartseer herkoms.  As gevolg van tragiese omstandighede het sy ma op ouderdom 14 ‘n prostituut geword en op 16, na mislukte aborsies aan hom geboorte gegee.  Hy het geen pankreas gehad nie, sy longe was nie goed ontwikkel nie en daar was nog ander fisiese afwykings.  Hy was ‘n ongewenste baba.

Toe hy begin skoolgaan, is bevind dat hy leergestremd is.  Hy het ook gehakkel.  Die lewe in die krotbuurt, Cleveland, Ohio was nie maklik nie.  As jong kind moes hy toekyk hoe kliënte sy ma slaan en soms het hul hom ook geslaan.  Dit is hoekom hy op 10-jarige ouderdom reeds nie meer wou leef nie.

Elke kind het net een persoon nodig wat in hom/haar glo.  Hy het daardie persoon ontmoet in sy graad vier jaar toe Mev Spears ingestem het om sy spraakterapeut te word.  Sy het vir hom ‘n Gideon Bybel gegee waaruit hy moes lees terwyl hy homself opneem.  Dit was die heel eerste keer dat hy ‘n Bybel vasgehou het.  Hy het dit gretig gelees en o.a. afgekom op die gedeelte van die hakelaar, Moses en ‘n klein skaapwagtertjie Dawid wat ‘n reus verslaan het.  Dit het hom laat besef dat God dikwels mense gebruik wat nie perfek was nie.  In sy eie woorde:  “ I began to understand that life can be a mess, but with His help it can become a message.

Danksy Mev Spears, het hy uiteindelik sy lewe omgedraai en later ‘n pastoor geword.  Met daardie einste Gideon Bybel het hy ‘n boodskap van hoop en heling begin verkondig wat sy ma, suster, ouma, oupa en ander familielede na God gelei het.  Dieselfde Bybel het hom gehelp om kerke te stig, herlewing te preek, vyf boeke te skryf, ‘n TV program aan te bied en leiers in Afrika en Indië by te staan met vrede samesprekings. 

Hy is innig dankbaar vir Gideons Internasionaal wat Bybels beskikbaar stel, want ‘n enkele Gideons Bybel het ‘n jong seun se lewe totaal en al omgekeer.

Thursday 28 May 2015

Uiterlike skoonheid

Spreuke 31 : 30  Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie;  as sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word.

Te veel van ons maak op ons uiterlike staat.  Ons spandeer ‘n fortuin aan skoonheidsmiddels om onsself so goed as moontlik te laat lyk, om nie eens van grimering en klere te praat nie. Tegnologie verbeter sodanig dat meer en meer gedoen kan word om die lyntjies wat Vadertyd aangebring het te verwyder of ten beste te verminder en die behandelings is deesdae relatief bekostigbaar vir Mevrou Alleman.  Ouderdom word ‘n vyand wat met hand en tand beveg word.

Uiteindelik kan ons egter nie die uitwerking wat tyd op die mens het vryspring nie.  Toegegee, party verouder stadiger en beter as ander, maar op die ou end verkreukel en vergrys ons tog maar almal.

As jy dus jou eiewaarde bereken op jou uiterlike, gaan jy een of ander tyd teleurgesteld word.  Dis baie beter om te besef dat ware skoonheid daarin lê dat jy God dien.  Sy liefde maak dat elke lyntjie ‘n pragtige storie vertel.  Elke grys haar word die trots van die Meesterskilder.  Die skete en kwale wat ons ontwikkel raak deel van ons onkreukelbare karakter wat in Hom gevestig is en daar is omdat ons vir Hom gewerk het en littekens oorhou omdat ons die stryd oorwin het.


Aanvaar jou ouderdom met grasie en dankbaarheid met die seker wete dat jou ware skoonheid van binne kom.

Wednesday 27 May 2015

Getuienis

Vanoggend loop my hart oor van vreugde en dankbaarheid; tot so 'n mate dat ek dit nie vir myself kan hou nie.  Die oorsprong van my vreugde lê in ‘n wonderbaarlike getuienis van God se getrouheid, grootsheid en almag.

Op 15 Julie 2013 het ek getuig oor die geleentheid wat ek van God ontvang het om weer agter die mikrofoon in te skuif as omroeper by Radio Disa.  Ek het ook getuig oor ons vennootskap met Radio Witzenberg, maar ongelukkig het dit nie heeltemal uitgewerk nie.  Radio Disa saai dus meesal die afgelope 2 jaar via die internet uit.  Ons het luisteraars wat van meer as ‘n 100 lande inskakel en ‘n groot gros luisteraars regoor Suid-Afrika.  Ten spyte hiervan was ons mikpunt nog altyd om ‘n FM frekwensie te bekom, maar Icasa het ons verskeie kere verseker dat daar geen frekwensies beskikbaar is nie. 
Op hierdie punt moet ek noem dat Doktor Gerhard Kotze hierdie radiostasie begin het in direkte opdrag van God d.m.v. ‘n boodskap uit die Bybel.  Wanneer iemand gehoorsaam is, en glo ten spyte van terugslae, en jy elke keer sien hoe God die struikelblokke uit die pad vee, besef jy dat hierdie eenvoudige gehoorsaamheid groter gevolge het.  Jy kan nie misluk as God voor jou uitstap nie.

Intussen het die omroepers by Radio Disa getrou ons tydgleuwe gebruik om die boodskap onbeskaamd te verkondig.  Internet radiostasies mag nie adverteer nie, so daar is geen vergoeding nie, maar dit was nie hoekom ons uitgesaai het nie.  Persoonlik doen ek dit vir God.  Dit gaan nie om erkenning of roem nie.  En natuurlik is ‘n mikrofoon ‘n magtige wapen as jy dit teen die duiwel inspan.  

Na 2 jaar van aanhoudende klop aan deure en ontelbare gebede, het Icasa uiteindelik ons lisensie uitgereik – op Doktor Gerhard Kotze se verjaarsdag! (27 Mei 2015)  Sy kerk, Amazing Grace Ministries, vier hierdie week ook hul negende bestaansjaar en daarom het hy al ons omroepers gisteraand genooi om die vieringe by te woon.  Min het ons geweet van die motief agter die uitnodiging. 

Woorde bestaan nie om vir jou te probeer beskryf van die vreugdevolle uitbarsting in die kerk die oomblik toe ‘n beeld van die amptelike,  goedgekeurde, getekende lisensie op die monitor verskyn nie.  Trane het oor my wange geloop.  Dit was ‘n visiuele beeld van God se almag en getrouheid.  Omroepers het mekaar omhels… die kerkgangers het spontaan gejuig en hande geklap.  Die vreugdevure was onblusbaar. 
Met trots, en erkenning aan God Almagtig, kan ek jou inlig dat ons frekwensie 95.9.  Sodra Icasa die nodige toerusting geinstalleer het en al die konneksies daar is, sal ons ‘op die lug’ gaan en dan kan jy na ons luister op jou radio.  Alhoewel ons baie internet luisteraars het, is ons deeglik bewus daarvan dat nie almal toegang tot die internet het of oor ‘n selfoon of rekenaar na ‘n radiostasie kan of wil luister nie. 

Net om jou gerus te stel… ons is nie in kompetisie met enige ander Christen Radiostasie nie.  Ons vergroot slegs God se grondgebied en reikvermoë.  My dagstukkie vir vandag, getiteld Niemand mag verlore gaan nie, sluit so mooi hierby aan, want daar is derduisende siele wat nog gered moet word.  Hierdie ongeredde siele kom nie kerk toe nie, so as iemand hul nie op ‘n ander manier bereik nie, sal hul verlore gaan.  Radio is maar net een medium om in te span.

Ek hoop dat hierdie getuienis jou vandag laat besef waartoe God in staat is en dat ek kan onomwonde kan getuig dat absoluut NIKS by Hom onmoontlik is nie.  Wanneer ek sê ’alle eer aan God’, dan bedoel ek dit met my hele hart.  God hoef homself nie te bewys nie, maar keer op keer verstom en verbaas Hy ons en net wanneer jy moed opgee of dink jou gebede werp nie vrugte af nie, hou Hy ‘n vuurwerkvertoning wat jou in verwondering laat. 

Hemelse Vader, vandag wil ek (saam met elke leser van hierdie boodskap) vir U baie, baie, baie dankie te sê.  Ons mag maar erken dat ons soms mismoedig geword het wanneer alles verkeerd geloop het, maar dat ons nooit hoop verloor het nie omdat ons weet dat U Almagtig is.

John 5:14-15  “This is the assurance we have in approaching God:  that if we ask anything according to his will, he hears us.  And if we know that he hears us--whatever we ask--we know that we have what we asked of him…”


Dankie dat ek hierdie oomblik met jou kon deel.  Ek hoop dat jy saam met my bly is en God ook vir hierdie wonderwerk sal loof en prys.  Ons webblad sal deur die loop van die dag opgedateer word met foto’s wat gisteraand geneem is.  www.radiodisa.com  

Niemand mag verlore gaan nie

2 Petrus 3 : 9  Die Here stel nie die vervulling van Sy belofte uit nie, al dink party mense so.  Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie.  Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

Ons honde het hierdie ewige wedstryd met ons.  As ons net die een hek oopmaak sonder dat die ander een toe is, glip hul uit en dan is hul letterlik pad af.  Jy kan maar roep en soebat, maar hulle hou hul doof.  Meeste van tyd gee ek dan op en laat hoor: “Ek gaan nie langer met hulle sukkel nie, hulle kan nou maar buite bly.”

Stel jou voor dat God dieselfde houding teenoor ons openbaar.  Hy is so verskriklik geduldig met ons.  Ons sondig, luister nie na Sy roepstem nie, slaan ons eie koers in, maak soos ons wil… en God bly geduldig. 

Miskien is jy ook hardhorend.  Jy het die boodskap al op verskeie maniere gehoor en jy weet dat jy op ‘n punt moet kom wat jy jou hart vir Hom gee, maar jy bly uitstel.  Dalk is daar nie eens ‘n spesifieke rede hiervoor nie.  Jy voel net dat jy nog nie gereed is nie.

Ons kan almal dankbaar wees dat God soveel vir ons omgee en dat Hy nie moed opgee nie.  Die teksgedeelte verwys daarna dat Hy wil hê dat ALMAL hul moet bekeer.


Dit beteken natuurlik dat daar vir diegene wat Hom reeds ken, genoegsame geleentheid is om ander na Hom te lei.  Ons kan nie aandadig wees daaraan dat EEN siel verlore gaan nie.  God verwag van ons om siele te red.  As ek na die mensdom rondom my kyk, is daar hope wat dit nie gaan maak nie, maar dit is juis waar ek en jy inkom.  Ons moet uitspring en daardie siele bearbei sodat God Sy mikpunt kan bereik… om ALMAL te red.

Tuesday 26 May 2015

Dis beter om te gee

Galasiërs 6 : 2  Dra mekaar se laste, en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus.

Daagliks ontvang ons nuus van mense wat uiters swaarkry.  As dit nie ‘n aardbewing in Nepal is nie, dan is daar ‘n orkaan wat iewers verwoesting saai, of ‘n vliegtuig wat val… 

Maar dit is nie net nuuswaardige omstandighede wat hulp verg nie… rondom ons is daar oral mense wat swaarkry.  Party het niks, terwyl ander in oorvloed baai.  Ons leer egter dat jou oorvloed geen waarde het as jy dit nie tot voordeel van ander kan aanwend nie.  

Materiële hulp is nie die enigste manier om jou naaste by te staan nie.  Daar is baie mense wat op ander maniere swaarkry.  Dalk weet jy van iemand wat ‘n siek kind of familielid versorg… daardie persoon sal dit so waardeer as iemand net vir hom/haar ‘n drukkie wil gee of ‘n koppie koffie vir hul maak.  In die ouetehuis sit daar ‘n magdom vereensaamde bejaardes.  Jy kan hul dag ophelder deur met hul ‘n geselsie te gaan aanknoop of dalk net te hoor of jy iets vir hul kan doen.

Ons kantoor het onlangs met ‘n skool kontak gemaak waar byna 200 kinders per dag gevoed moet word.  Hulle het nie geld nodig gehad nie, maar hande om op te skep of kos voor te  berei.


Die ou gesegde wat lui dat dit beter is om te gee as om te ontvang, bly van toepassing.  En indien jy jou eie sorge het, sal jy sommer daarvan vergeet as jy na ander uitreik.  Ons kan hierdie lieflike land van ons ‘n beter plek maak, deur meer vir mekaar om te gee.

Monday 25 May 2015

Tuinmaak

1 Korintiërs 3 : 6  Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het.

Elkeen van ons het ‘n talent of ‘n gawe ontvang.  Party plant, ander gooi nat, maar uiteindelik sal daardie tuin vergaan as elkeen se unieke talent nie ingespan word nie.

Daar is baie van ons wat groot planne het, maar dit bly net by planne omdat ons dink ons moet alles self doen.  God sou ons nie so verskillend gemaak het, as Hy nie goeie rede gehad het nie.  Wanneer ons, ons talente saamgooi kan ons berge versit.  Tydens spanbou sessies herinner hul ons altyd daaraan dat daar geen “I” in die woord “team” is nie. 

Suid-Afrikaners is nie juis bekend daarvoor dat ons saamstaan nie.  Ons verskil oor alles en beskuldig mekaar links en regs.  Dink net hoe sterk ons as nasie kan wees as ons besef dat ons eerder mekaar se sterk punte waardeer en dit tot voordeel van die hele land aanwend.   Daar is krag in diversiteit.  Ons vermors soveel kosbare energie om mekaar se verskille te identifiseer en dit te kritiseer.  Daardie energie kan veel beter aangewend word as ons mekaar se verskille as voordele sien wat ons tot ‘n gesamentlike doel kan aanwend.


Sommige van ons is goed met plant, ander is weer uitstekend met natgooi en as ons, ons kant bring sal God dit waaraan ons werk laat groei.    

Sunday 24 May 2015

Moenie oordeel nie

Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie;  met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

Blykbaar vorm jy ‘n opinie, oor iemand wat jy vir die eerste keer ontmoet, binne die eerste tien sekondes.  Dit beteken dat jy daardie persoon oordeel volgens jou eie werklikheid en hom/haar daarvolgens katagoriseer. 

Al oordelend gaan ons deur die lewe.  Wanneer ons in die kerk is, oordeel ons ander se hare of klerestyl.  In die bank of supermark se ry, oordeel ons die kassiere se bevoegdheid, al dan nie.  Ons kinders se prestasies is nooit goed genoeg nie.  Agter die motor se stuur beoordeel ons, ons mede-motoriste se bestuursvernuf. Selfs ‘n eenvoudige rugbywedstryd, word gebruik om ons oordeel-vaardigheid te beoefen.  Ons hou van blameer en die skeidsregter is ‘n goeie sondebok.

Hoeveel van ons besef dat ons met dieselfde maat geoordeel gaan word waarmee ons oordeel?  Ek dink meeste van ons besef nie eens wanneer ons ander oordeel nie.  Wat praat hul van die beste spelers wat op die paviljoen sit? 

‘n Goeie begin is altyd om te besef dat jy ‘n probleem het.  Persoonlik gaan ek myself goed begin dophou om te sien waar ek skuldig is.  Oordeel is ‘n negatiewe gedagte.  Elke keer as ek myself uitvang dat ek oordeel, moet ek dit in ‘n positiewe gedagte omskakel. 


Gaan jy saamspeel?

Thursday 21 May 2015

Genade en vrede

Numeri 6 : 24 – 26 Die Here sal julle seën en beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

In vandag se lewe is daar bitter min vrede.  God belowe egter ‘n wonderlike vrede.  Soos wat Hy dit destyds in Moses se tyd belowe het, so beloof Hy dit ook aan jou.

Ek wil vandag hê dat jy hierdie seëning oor jou voel spoel. Draai jou gesig na God en voel dit soos wat jy die son se strale op jou sou voel.  Wat jy ook al tot nou toe deurgemaak het, is verby.  God se genade rus op jou en Hy wil jou seën en beskerm.

Wanneer God tot jou redding verskyn en jou begenadig, is daar regtig niks meer wat jy nodig het nie.  Dit is soos om in ‘n woestyn te dwaal, uitgemergel na liggaam en gees, en dan op ‘n oase af te kom.  God is daardie oase… ‘n oase van vrede en veiligheid.


Mag jy ongekende vrede ervaar en mag God elke gebed van jou verhoor.

Wednesday 20 May 2015

Ek is jou God

Jesaja 41 : 10  Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Jy weet waardeur jy vandag gaan.  Jy ken die stryd en jy deurleef elke smartlike oomblik daarvan.  Te midde van dit alles glo ek dat jy nie anders kan as om hulpeloos en platgeslaan te voel nie.  Miskien voel jy so wanhopig dat jy dit oorweeg om boedel oor te gee.

Een aand hierdie afgelope week, voel ek net om iemand te skakel wat ek lanklaas mee gepraat het.  Ons gesels oor ditjies en datjies en later begin die persoon teenoor my oopmaak.  Net voor ons aflui, sê hy vir my:  “Baie dankie dat jy vanaand gebel het.  Jy sal nooit weet hoeveel dit vir my beteken nie.  Ek was so hartseer vanaand.  Dit het vir my gevoel of ek maar net ‘n einde aan alles moet maak, want ek beteken niks vir niemand… en ek is so moeg van alleen voortploeter.  Jy het op presies die regte tyd gebel… dankie.”  

Ek wonder hoeveel mense daar nog is wat soveel hartseer in hul saamdra. Dit moet ‘n verskriklike plek wees as jy voel jy beteken vir niemand niks nie en net wil opgee.


God wil jou vandag verseker dat Hy daar is vir jou.  Hy wil jou help, jou versterk, jou vashou en met Sy eie hande red.  Moenie moet opgee nie.  Moenie dink dat jy niks werd is of vir niemand iets beteken nie.  Jy is kosbaar en God het jou oneindig lief.

Tuesday 19 May 2015

Bekommernis

Lukas  1 : 37  By God is alles moontlik

Wat veroorsaak dat jy slapelose nagte het?  Heelwaarskynlik meer as een ding as jy ‘n kommerkous is.  Te veel van ons gaan haal die bobbejaan agter die bult.  Jy weet dat min van dit waaroor jy jou bekommer ooit realiseer, maar jy kan jouself nie stop nie.  Daar is altyd iets waaroor jy jouself bekommer.

“If you want to test your memory, try to recall what you were worrying about one year ago today.” - E. Joseph Cossman

Dalk is dit ‘n goeie toetsie vir jou.  Meeste van ons sal nie eens kan onthou nie.  Bekommernis verander niks aan jou situasie nie, maar dit maak jou angstig, depressief en dit affekteer jou gesondheid.  Is dit dan net dom mense wat hul oor onbenullighede bekommer?  Nee, bekommernis is een van daardie onwillekeurige aksies vir mense wat van nature geneig is om hul dinge aan te trek.

Die geheim is om jouself as’t ware uit te vang wanneer jy bekommerd is en dan jou gedagtes daadwerklik weg te dwing daarvan.  Wanneer jy jou fokus van die probleem verskuif en eerder op God fokus, kry jy rus en vrede.  Hou net aan om jouself te herinner:  Fokus op God… hoe meer onmoontlik die situasie… hoe meer fokus jy op Hom.  Maak Lukas 1 : 37 jou mantra.


Meeste van tyd verdwyn die oorsaak van jou bekommernis.  God verdwyn genadiglik nie.  Hy bly deurentyd aan jou sy.  

Monday 18 May 2015

Onder die Here se sorg

Psalm 27:10  Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.

Of jou ouers jou nou om welke rede ook al vir aanneming moes opgee, of hulle nou oorlede is… hul afwesigheid in jou lewe is iets waaraan jy nooit werklik gewoond word nie.

Indien jy aangeneem is, word vertel dat jy altyd na ‘n deel van jou verlede soek.  Dit kan maklik gebeur dat jy jou in ‘n verbeeldingswêreld bevind waar jul ‘n groot gelukkige gesin is, wat in harmonie met mekaar saamleef.  Menigmaal droom jy oor die dag wanneer jy hul vind en hul jou kan verseker dat hul geen ander keuse gehad het as om jou vir aanneming op te gee nie… dat hul die uit liefde gedoen het.  Met elke siekte of skeet wonder jy heel waarskynlik of dit iets in jou bloedlyn is.  Ja, daar is seker ook ‘n groot gros woede binne jou en jy voel miskien dat dit onregverdig was en dat jy hoop hul het ‘n goeie verduideliking.  Ek glo dat iets binne jou altyd sal knaag… dat die natuur jou sal dwing om hul te vind… al is dit net om berusting te vind.  En dit beteken nie dat jy nie lief is vir jou aanneemouers nie… dis net dat bloed kruip waar hy nie kan loop nie.

Dan is daar diegene wat hul ouers aan die dood afgestaan het en alhoewel op ‘n ander vlak, min of meer dieselfde gevoelens ervaar as iemand wat aangeneem is.  Die enigste verskil is dat die dood geen hoop op ‘n hereniging of weersiens bied nie.  In jou gedagtes sal jy hul met herinneringe lewend hou, maar die gemis sal nooit weggaan nie.  ‘n Deel van jou is weg en jy voel ‘n eensaamheid wat jy aan niemand kan beskryf nie.


Vind vandag berusting in die teksgedeelte.  Die Here het jou onder Sy sorg geneem.  Selfs hierdie omstandighede is deel van Sy groter plan en jy weet dat Sy planne vir jou lewe altyd goed is.  Vertrou Hom.

Sunday 17 May 2015

Omgord my met krag

Psalm  18:40  U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders voor my laat swig.

Dierbare Heer en Hemelse Vader, U ken my beter as enige iemand anders.  U het my gemaak. My persoonlikheid en my geaardheid is deel van dit wie U beplan het ek sou wees.  Elke gelaatstrek het U met groot sorg gevorm. 

Daarom Liewe Heer, het ek die vrymoedigheid om vandag na U te kom.  U is die enigste een wat weet van die onrustigheid binne my.  Ek glo U verstaan dat ek nie ondankbaar is vir al die seëninge in my lewe nie; dat ek soveel rede tot dankbaarheid het.  Maar Here ek kan die onrus nie meer onderdruk nie.  Ek wil uit my omstandighede ontsnap.  Dit voel asof ek stukkie vir stukkie doodgaan binne.  Elke dag moet ek al harder met myself praat om te onthou hoe geseënd ek is.  Party dae raas ek met myself en dwing ek myself om te onthou dat daar andere is wat U hulp veel nodiger het as ek.  Hoe hard ek ookal probeer, Hemelse Vader, ek kan myself nie tot rus bring nie.

U weet dat ek besluite moet neem wat my toekoms gaan raak.  Here, ek is so bang ek maak die verkeerde besluite.  Wys my asseblief wat U wil vir my lewe is, Here.  Indien die afrit wat ek wil neem die verkeerde een is, Here, blokkeer dit… stil my gemoed…

Indien dit egter die regte besluit is, al is dit hoe verrykend, Here moet my asseblief nie die pad alleen laat stap nie.  Ek kan nie hierdie nuwe fase op my eie betree nie. 

Dankie Liewe Here dat U ook na my luister, al is my probleem nie naastenby so ernstig soos ander s’n nie.  U genade en ondersteuning beteken die wêreld vir my.


Baie dankie vir die krag waarmee U my omgord en dat ek geen teëstander hoef te vrees nie.

Thursday 14 May 2015

'n Leë nes

Spreuke 4:3  Ek was ook eenkeer 'n kind, my moeder se oogappel, haar enigste.

Elkeen van ons het seker al die woorde geuiter:  “Die tyd vlieg so vining verby.”  Die eendag is jy nog ‘n sorgelose kind, en ewe skielik is jy groot, met ‘n eie gesin.  Binne ‘n oogknip is die kinders uit die huis en sit jy met ‘n leë nes.

Niks berei ‘n mens werklik voor vir daardie dag nie.  Vir baie ouers draai hul lewe om hul kinders. As hul klein is, is dit versorging en later is dit sport en ander aktiwiteite. Menige ouer weet hoe dit voel om jou lewe rondom jou kind se sosiale lewe te reël.  Dan breek die storm en drang jare aan… jare wat jy nie noodwendig wil oorhê nie, maar wat jul tog ook nader aan mekaar bring.  Indien die kind verder studeer, het jul so ‘n bietjie meer tyd, maar een of ander tyd gaan die voëltjie die nes verlaat.  Dis altyd makliker as daar nog ‘n voëltjie in die nes oorbly om te versorg, maar kort voor lank breek die dag aan dat die laaste voëltjie die nes verlaat.

Vir die kind is dit seker ook ‘n dag vol onsekerheid, maar meeste kinders sien met groot vreugde uit na die dag dat hul die voorskootbande kan knip om uiteindelik hul eie baas te wees. 

Jy het jou kind grootgemaak na die beste van jou vermoë en daarom behoort jy te weet dat hul gereed is om hul eie potjie te krap.  Een of ander tyd moet jy laat gaan. Moenie jou kind laat skuldig voel nie.

Vir enkelouers is dit seker veel moeiliker, maar vir getroudes bied die leë nes net soveel uitdagings.  Indien jul ‘n goeie en sterk huwelik het, behoort jul nou die tyd saam te geniet, maar as jul weggegroei het van mekaar, kan jul nou redelik opgeskeep wees met mekaar se geselskap.  Dis hoekom dit belangrik is dat jou lewe nie net om jou kinders draai nie, maar dat jy en jou wederhelf werk aan ‘n verhouding waar jul mekaar se geselskap geniet.

Wanneer ‘n kind die huis verlaat, is dit nie die einde van die wêreld nie.  Skep ‘n veilige en liefdevolle hawe waarheen jou kind uitsien om terug te keer, veral wanneer die storms van die lewe hul tref.


Iemand het eendag gesê: “Be kind to your children. They might just have to be the ones who look after you when you are old.”

Wednesday 13 May 2015

Die Leeukuil

Daniël 6 : 23  My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.”

Daniël het ‘n hoë pos in koning Darius se koninkryk beklee.  Daniël het uitgeblink en hiervan het die ander ministers en goewerneur-generaals niks gehou nie.  Hulle het iets gesoek wat hul teen hom kan gebruik.  Hulle het goed geweet dat daar, wat sy werk en menswees betref, geen fout gevind kan word nie.  Sy enigste swakplek, was sy godsdiens.  Daarom beding hul met die koning om ‘n dekreet uit te vaardig wat baie streng toegepas moet word indien enige iemand enige iets anders as die koning sou aanbid, in ‘n leeukuil gegooi moet word.  En koning Darius bevestig dit met ‘n eed.

Daniël het egter ongesteurd, en nie eens in die geheim nie, voortgegaan om God drie maal per dag te aanbid.  Hulle het hom by Darius gaan verklik en Darius het aan ‘n plan probeer dink om dit nie teen Daniël te hou nie, maar helaas… hulle het aangedring dat Darius hou by sy dekreet en so word Daniël in die leeukuil gegooi.

In die teks word die verhaal saamgevat.  God het die leeus se bekke gesluit.  Vers 24  Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het.  Ook toe Daniël en sy vriende in die oond gegooi is, het hul hare nie eens geskroei nie.

Jy sien, as ons God dien sonder om ons vir Hom te skaam, sal Hy getrou wees en ons in alles bystaan.  Moenie toelaat dat mense jou ompraat om van die kerk, Bybelstudiegroep of watter geestelike gebeurtenis ookal weg te hou nie. 

Vertrou jy God soos Daniël Hom vertrou het, of het jy maar jou bedenkinge oor Sy almag?  Hoe sou jy opgetree het as die regering sou beveel dat enige iemand wat God aanbid die doodstraf sou kry?  Ek dink ons maak gou ons sommetjies en kom dan tot die slotsom wat die beste uitweg sou wees, instede van soos Daniël eenvoudig blindelings op God te vertrou.


Dien God voluit en met trots… in alle omstandighede.

Tuesday 12 May 2015

Geloof in aksie

Lukas 5 : 20  Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

Het jy geweet dat God beweeg word deur geloof?  Selfbejammering, treurmares en trane doen niks, maar wanneer God jou geloof aanskou, veral wanneer dit nie maklik is om te bly glo nie, dan raak dit Hom baie diep. 

Male sonder tal, toe Jesus die aarde bewandel het, het Hy mense genees wanneer Hy hul geloof aanskou het.  Ja, God weet goed wat ons behoeftes is, maar Hy wil sien dat ons op Hom vertrou vir ‘n uitkoms.

Wanneer God sien dat jy alles in jou vermoë doen om gesond te word of dat jy vroeër opstaan om daardie ekstra tyd in te sit by die werk sodat jy in aanmerking geneem kan word vir bevordering… As Hy sien hoe jy op jou tong byt om nie ‘n skewe antwoord te gee of wanneer Hy sien hoe jy ander help terwyl jy eintlik die een is wat hulp nodig het… dit is dan dat God beweeg word, want Hy sien jou geloof.


Geloof in aksie, is wat God wil sien. Dit maak die deur oop vir God sodat seëninge oor jou kan spoel.  Leef jou geloof vandag daadwerklik uit en jy sal aanskou hoe die hand van God in elke area van jou lewe beweeg.

Monday 11 May 2015

Seën

Numeri 6 : 24 – 26 Die Here sal vir jou goed wees en vir jou sorg.  Die Here sal jou raaksien en vir jou Sy liefde gee.  Die Here sal jou goedgesind wees en vir jou voorspoed gee.

Hierdie woorde het God aan Moses gegee en hom gevra om die Israeliete daarmee te seën. 
Dis soos om te weet jy is die baas of onderwyser se witbroodjie.  Niks en niemand sal hom oortuig dat jy enige iets verkeerd kan doen nie.  Jou toekoms lyk rooskleurig en jy weet dat jy ‘n moeitevrye paadjie gaan stap.

Vandag het ek vir jou goeie nuus.  Hierdie woorde is net so relevant en van toepassing op jou lewe vandag as wat dit destyds vir Moses en die Israeliete was.  God sien jou raak en Hy wil jou met Sy liefde omvou.  Sy Vaderliefde is soos ‘n knus kombers op ‘n koue Wintersaand.  Jy kan verseker weet dat Hy vir jou wil sorg en jou goedgesind is. Sy guns rus op jou en daarom kan jy maar weet dat jou lewe dramaties gaan verander wanneer Hy die middelpunt van jou lewe is.


Neem Sy woorde en maak dit jou eie.

Sunday 10 May 2015

Ouderdom

Jesaja 46 : 4  Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra.

Onlangs lees ek dat ‘n tannie sê:  ”Al wanneer iemand aan my vat, is wanneer ek my hare een maal per maand laat sny.”

Hoe hartseer is dit?  Word ouer mense dan onsigbaar of onbelangrik?  Aanraking is een van die mens se basiese behoeftes.  Soms hoef dit net iemand se vingerpunte aan jou arm te wees of op ‘n ander keer, ‘n liefdevolle drukkie. Ja, die ouer garde is nie altyd so demonstratief soos die jonges as dit by drukkies uitdeel kom nie, maar ek merk dat al meer mense mekaar met ‘n drukkie, eerder as ‘n soen groet.  Hiervoor kan ons die jonger geslag bedank wat Jan en alleman met drukkies groet.

In die ouetehuise, by die kerk, in die supermark… ons vind hul oral… eensame mense… eensame ou mense, maar nogtans mense met ‘n behoefte aan aanraking.  En ‘n geselsie… hul begeer om ook hul mening te lug en ook iemand te vind wat belangstel in wat hul sê.

Dieselfde God wat jou in die wêreld gebring het, is vandag ook jou God in jou Herfsjare.  Al die jare het Hy jou gedra en so sal Hy jou nou ook dra.  Vertrou dat Hy ‘n engel oor jou pad sal stuur… iemand wat jou met liefde sal behandel en jou weer menswaardig sal laat voel.  Moet nooit dink dat jy nie meer belangrik is of dat niemand omgee nie.  Jy is absoluut kosbaar en daar bestaan nie iets soos ‘n vervaldatum vir ‘n mens nie.


“Age is an issue of mind over matter. If you don’t mind, it doesn’t matter.” - Mark Twain

Thursday 7 May 2015

Moedersdag

Spreuke 23:22  Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie.

Moedersdag.  Wat beteken hierdie dag vir jou? 

Vir verskillende mense het hierdie dag verskillende betekenisse.  Daar is die pessimiste wat glo dat dit net ‘n geldmaak foefie is.  Dan is daar diegene wat nie meer ‘n moeder het nie, of ander wat eenvoudig nie tyd vir hul moeder het nie.

Menige moederhart sien waarskynlik uit om op hierdie dag darem so ‘n bietjie raakgesien te word. Ma’s is altyd die een wat regstaan met liefde, versorging, ondersteuning en opoffering en daarom is dit hopelik nie te veel gevra om te hoop dat jou kinders jou op hierdie dag sal onthou en verras nie.

Baie pa’s bederf nie net hul eie moeders nie, maar betoon ook liefde aan die vrou wat vir hul ‘n kindjie in die wêreld gebring het.  Indien jy nie een van daardie pa’s is nie… dis nog nie te laat nie.

Dan is daar diegene wie se moederskoot leeg is… wat al jare droom van die dag dat sy ook moedersdag sal vier.  Bly glo en vertrou dat daardie dag sal aanbreek.

Indien jy ‘n kind (van enige ouderdom) is, hoop ek dat dit die dag is waarop jy ‘n groot ophef van jou moeder sal maak.  Alhoewel elke dag moedersdag is, is dit tog ‘n dag spesiaal aan haar gewy.  Maak tyd en moeite om by haar te wees en sê dat jy vir haar lief is, nie net met blomme of ‘n geskenkie nie, maar ook met woorde.  

Elke kind behoort vandag se teks ter harte te neem. Alhoewel jy nie jou ouers kon kies nie, het God dit so bestem dat jy aan hul toevertrou is.
 

Geseënde Moedersdag!

Wednesday 6 May 2015

Doelwitte

Johannes 14 : 4  En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

Daar is diegene wat hul lewens doelgerig beplan.  Alles wat hul doen, elke besluit wat hul neem is deel van die plan om hul uiteindelike doelwit te bereik.  Hulle weet presies waarheen hul op pad is.  Toeval bestaan nie in hul woordeskat nie.

Ander bestaan weer bloot net van dag tot dag.  Wat moet gebeur, sal gebeur…Party sal ‘n geleentheid aangryp as dit verbykom, ander sal dit nie eens raaksien nie.

Het jy ‘n plan vir jou lewe?  Het jy doelwitte?  Weet jy waarheen jy mik?

“The trouble with not having a goal is that you can spend your life running up and down the field and never score...” - Bill Copeland

Omdat ons nie weet hoeveel tyd ons oor het nie, kan ons nie maar net doelloos voortploeter nie.  Jy wil tog voel dat jy mylpale bereik en dat jy jouself verbeter.  Ons word nie met insig gebore nie, dit word oor tyd aangeleer en soos ons leer, so kan ons ‘n beter idee vorm van waarheen ons mik.


Wat is die doel van jou bestaan op aarde?  Hoe wil jy hê dat mense jou onthou?  As jy jou eie begrafnisrede kon skryf, wat sou jy graag daar wou neerpen?


Uiteindelik is daar net twee eindbestemmings:  Hemel of hel?  Ek glo nie laasgenoemde is deel van jou plan nie.  Dus moet jy jouself afvra wat jy doen om eersgenoemde te bereik.  En dit beteken nie dat jy nie die suksesleer kan klim of jou omstandighede kan verbeter nie.  Op die ou einde gaan dit oor hoe jy jou bestemming bereik.  Wat sal hulle wat jy op die roete teegekom het oor jou sê?

Tuesday 5 May 2015

50… 45… 40… 10…?

Genesis 18 : 24 Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie?

Die Here het so pas vir Abraham en Sara vertel dat hul ‘n kindjiegaan  hê op hul gevorderde leeftyd.  Daardie kindjie sou sorg dat Abraham se nageslag soos die sand van die see sou wees Gen 18 : 19 Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.

Die Here is op pad na Sodom en Gomorra en as dit so erg is as wat Hy gehoor het, gaan Hy die stede vernietig.  Abraham onderhandel van vers 24 met die Here om die stede te red as daar net ‘n paar regverdiges is 50…45…40…10?  Die Here stem in om die stad nie te vernietig as Hy 10 regverdiges daar vind nie.  Stel jou voor… net 10 gelowiges in ‘n hele stad! 

Hoe sou omstandighede in ons tyd lyk?  Hoeveel ware gelowiges is daar in ons stad/dorp?  Is jy een van hulle?  God se geduld met die mensdom verstom my.  Ons is selfsugtig en om die lewe ten volle te geniet, is ons enigste prioriteit, of dit in sonde is of nie.  Vir party bestaan daar nie eens ‘n moontlikheid om hul lewe aan God te wy nie, terwyl ander reken hulle sal dit wel eendag doen… net nie nou nie. 

Die verhaal eindig tragies, want in Sodom en Gomorra vind die Here net een regverdige, naamlik Lot.  Hy vra Lot en sy gesin om die stad te verlaat en om nie om te kyk nie, maar soos wat so dikwels gebeur as ons God wel vind, kyk ons met verlange terug op die sondige tyd van ons lewe wat soveel meer pret was… en toe verander sy vrou in ‘n soutpilaar.

Wanneer jy God as jou Verlosser en Saligmaker aanneem, is die ou dinge verby.  Jy is ‘n nuwe mens en die lewe het nuwe betekenis.  Daar is ‘n vrede binne jou wat jy nie kan beskryf nie en jy weet net dat jy honger na meer en meer van Hom.


My wens vir jou is dat jy ook jou verlede sal agterlaat en nie daarna sal terugverlang nie.

Monday 4 May 2015

Versoeking

Jakobus 1 : 12  Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

Daar gaan seker nie ‘n dag verby sonder dat ons op die een of ander manier versoek word nie.  Kyk nou maar net wat gebeur as jy besluit om met ‘n dieet te begin… ewe skielik verjaar iemand of daar is ‘n funksie wat jy moet bywoon… 

Soggens staan jy met ‘n lied in jou hart op en nadat jy Bybelstudie gedoen het en gereed gemaak het vir werk, val jy in die pad… net om ‘n selfsugtige motoris teë te kom wat jou ‘n kragwoord laat uiter…

Jou planne is agtermekaar om Sondagoggend kerk toe te gaan, maar Sondagoggend oorreed ‘n klein stemmetjie, met groot oortuiging jou, om agterstallige rus in te haal.

Boonop besef ons nie eens altyd dat ons versoek word nie.  Kollegas gesels saam en jy val in by die storie en kort voor lank kom jy agter julle skinder mos nou. 


God het goed geweet dat in ons swakheid ons nie alleen die mas sal opkom nie, daarom leer Hy ons in die Onse Vader om te bid:   en laat ons nie in versoeking kom nie…  Ons kan die toets deurstaan met God se hulp.

Saturday 2 May 2015

Uiterlike skoonheid

Spreuke 31 : 30  Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie;  as sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word.

Te veel van ons maak op ons uiterlike staat.  Ons spandeer ‘n fortuin aan skoonheidsmiddels om onsself so goed as moontlik te laat lyk, om nie eens van grimering en klere te praat nie. Tegnologie verbeter sodanig dat meer en meer gedoen kan word om die lyntjies wat vadertyd aangebring het te verwyder of ten beste te verminder en die behandelings is deesdae relatief bekostigbaar vir Mevrou Alleman.  Ouderdom word ‘n vyand wat met hand en tand beveg word.

Uiteindelik kan ons egter nie die uitwerking wat tyd op die mens het vryspring nie.  Toegegee, party verouder stadiger en beter as ander, maar op die ou end verkreukel en vergrys ons tog maar almal.

As jy dus jou eiewaarde bereken op jou uiterlike, gaan jy een of ander tyd teleurgesteld word.  Dis baie beter om te besef dat ware skoonheid daarin lê dat jy God dien.  Sy liefde maak dat elke lyntjie ‘n pragtige storie vertel.  Elke grys haar word die trots van die Meesterskilder.  Die skete en kwale wat ons ontwikkel raak deel van ons onkreukelbare karakter wat in Hom gevestig is en daar is omdat ons vir Hom gewerk het en littekens oorhou omdat ons die stryd oorwin het.


Aanvaar jou ouderdom met grasie en dankbaarheid met die seker wete dat jou ware skoonheid van binne kom.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...