Thursday 30 July 2015

Besigheid

Jakobus 1:11  Want wanneer die son begin skyn en dit word baie warm, dan word die veldblomme droog en hulle val af en die mooi blomme is nie meer daar nie. So is ’n ryk mens en sy besigheid, hy sal verdwyn soos ’n veldblom.

Om in vandag se sakewêreld te oorleef, is nie maklik nie.  Kompetisie is oral.  Een oomblik het jy nog ‘n briljante idee en die volgende oomblik betree iemand anders die mark, en bied dieselfde produk of diens aan teen ‘n laer prys.

Indien jy en jou besigheid wil oorleef, moet jy vinnig besluit.  Kan ek my pryse verlaag?  Waar kan ek koste besnoei?  Wat kan ek doen om seker te maak ek behou my markaandeel en vergroot dit?  
Om alles te kroon, betree meer en meer mense die sakewêreld omdat hul geen ander keuse het nie.  As jy jou werk verloor of nie kan werk kry nie, moet jy innoverend begin dink en uitspring om ‘n inkomste te genereer. 

Christene is, of raak, ook deel van hierdie omgewing.  Gaan jy jou Christenskap en waardes volhou terwyl jy probeer oorleef, of gaan jy dit prysgee, of net so ‘n bietjie aanpas om seker te maak jy oorleef?  Die sakemense met wie ek te doen gehad het en wat hul Christenskap bely het, het my ongelukkig nog meeste van tyd ontnugter, want baie gou kom jy agter dit is net lippetaal. 

Indien jy jouself in hierdie ‘cut-throat’ omgewing bevind, bid dat God jou sal help om so sake te doen dat dit Hom tot eer sal strek.  Gee aan die keiser (belasting) wat hom toekom en moenie mense indoen of tenakom nie.  Dit gaan verseker nie maklik wees nie, maar dink ‘n bietjie oor hierdie teks.  Kan die sukses in besigheid jou ‘n plek in die hiernamaals verseker?  Nee!  Kan jy deur jou besigheid en die manier waarop jy sake doen vir jou ‘n plek verseker?  Beslis. 


Maak vandag ‘n verskil in die sakewêreld.

Wednesday 29 July 2015

Draai terug

Kronieke 7:14 en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

Op ‘n stadium het ek ‘n program oor verskillende dorpe in Suid-Afrika aangebied.  Wat my opgeval het, was dat menige dorp sy ontstaan rondom ‘n kerk gehad het.  Mense sou op ‘n plaas ‘n dorp stig en byna die eerste gebou wat opgerig word, is die kerk.  En so groei die dorp.  Die kerk word die gemene deler wat die gemeenskap saamsnoer.

Pasella, Mooiloop en Kwêla besoek ook dikwels die kerke in die dorpe wat hul besoek.  Vlug na Egipte het ‘n pragtige skoot van die kerk in die middel van die dorp wanneer die program begin. 
Volgens berigte in die media, loop kerke leeg.  Oor die jare het luisteraars met my gedeel dat hul nie meer kerk toe gaan nie (om verskeie redes), maar dat die Christen Radiostasies hul kerk geword het.  Almal is welkom.   Niemand oordeel jou nie, so jy voel  tuis. Jy hoef nie aan te trek nie en ook nie eens jou huis te verlaat nie.

Dit het my laat wonder of dit nie is waar die probleem in ons land lê nie?  Die kerk het nie geskuif nie; God ook nie.  Om die waarheid te sê, geestelike voedsel was nog nooit so vrylik beskikbaar soos vandag nie… Tydskrifte, Radio, Geestelike literatuur, TV, epos, internet, blogs…  Tog is daar min dade/optrede van Christenskap wat ek aanskou.  Mense is bang… hulle twyfel… soek hulp by sielkundiges…

Wat dan impliseer dat ons nie meer die kerk en God as die middelpunt van ons lewens sien nie.  Hoe kan ons verwag dat dit beter gaan in ons land as ons nie terugkeer na God nie?  Om die atmosfeer in die kerk, die weer, moegheid of die dominee se vermoëns te blameer is net om ons gewetens te sus.  Indringende selfondersoek is nodig. 

Is die kerk en God die middelpunt van jou bestaan?

Tuesday 28 July 2015

Dankbaarheid

Psalm 142:8  Bevry my uit my gevangenskap, dat ek u Naam kan loof.

Wanneer ons na iemand se welstand verneem, is dit of ‘n retoriese antwoord “goed dankie”, of ‘n klaaglied.  Bitter min mense sal antwoord dat hul groot rede tot dankbaarheid het. 

Toegegee, elke dag bring sy eie uitdagings en as jy ‘n moeilike tydjie agter die rug het, is dit normaal dat dit op die voorgrond van jou gedagtes is.  Elkeen van ons kan egter besluit of ons die glas as half vol, eerder as half leeg wil sien.

Wanneer ons besluit ons lewensglasie is halfvol, sal ons die klein dingetjies begin raaksien wat ons rede tot dankbaarheid gee.  Die psalmdigter stel ‘n voorwaarde… bevry my en ek sal U Naam loof.  Ons kan God loof terwyl ons in gevangenisskap is, hetsy letterlik of figuurlik.  Om God te prys te midde van jou omstandighede, is ‘n wilsbesluit.  Dit lei ook jou aandag af van dit wat jou neerdruk. 


‘n Dankbare hart is een manier om vir God te wys dat ons getrou bly al druk die lewe ook vir ons dat ons oë traan.  In plaas van vandag ‘n retoriese “goed dankie” te gee, eer God met jou antwoord.

Monday 27 July 2015

Ek is swak

2 Korintiërs 12 : 8 – 10  Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Wanneer dit nie met ons goed gaan nie, bid ons gewoonlik dat God ingryp.  Ons wil ook hê dat Hy ons probleme moet laat verdwyn soos mis voor die son.

As God dan nie ingryp nie en bowenal sê:  “My genade is vir jou genoeg,” is dit asof ons dikmond eenkant wil gaan sit en onsself bejammer.  God wil ons nie help nie en nou sal ons maar in stilte moet ‘suffer’. 

Dikwels hoor ons net ‘n deeltjie van dit wat gesê word en kom dan tot ons eie gevolgtrekkings.  Ons mis die kern van die boodskap ook in die gedeelte.  Soms is dit vir God nodig om vir ons nee te sê.  Elke ouer weet dat ons nee sê omdat ons a.g.v. ervaring weet dat dit vir die kind se eie beswil is.  Met God is dit dieselfde.  Hy sê nee omdat Hy beter weet. Dan kan Sy krag tot volle werking kom. 

Wanneer ons erken dat ons swak is, dan is ons op die beste plek ooit, want dan word ons omvou deur God se beskerming. 

So die wêreld en al sy boosheid kan maar kom.  Ek, nietige en swak mens, is gereed vir enige beledigings, ontberings, vervolgings en moeilikheid, want God is my rots.  Platgeslaan deur die lewe is daar net een rigting om te kyk, en dit is op, na God.

Sunday 26 July 2015

Moederhen

Psalm 91 : 2  “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

Vanoggend in die verkeer het ek ‘n motor gesien met die teks hierbo as registrasienommer.   Hierdie bestuurder weet waar hy/sy veilig is. 

Na wie toe vlug jy wanneer jy bang is?  Ons kan met almal praat en elke moontlike kontak uitput… op die ou end is God die enigste op wie ons werklik kan vertrou. 


Wanneer die ekonomie druk en die winde van verandering waai, dan wil ek hê jy moet weet dat jy jou na God kan wend.  Hy is die 'moederhen' onder wie se vlerke jy veilig kan gaan skuil en waar jy beskutting teen die aanslae van die lewe sal vind.  Anders as mense, sal God jou nooit in die steek laat nie.  Partykeer kom ons nie eens agter dat ons op mense vertrou, eerder as op Hom.  

As jy slapelose nagte beleef, verskuif jou fokus na God.  

Thursday 23 July 2015

Seën vir jou

Numeri 6 : 24 – 26  Die Here sal julle seën en beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.

Vandag wil ek jou laat met hierdie seën.  Die woorde is kosbaar en net vir jou bedoel.

Wednesday 22 July 2015

Neem die eerste tree in geloof

Jesaja 41 : 10  Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.  Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Israel was besig om deur ‘n uiters moeilike tyd te gaan.  Israel is God se geliefde volk.  Hy het hulle gekies en daarom sal Hy hulle ook nie versaak nie.
Iemand wat mishandel word, leef voortdurend in vrees.  Stadig maar seker word jou selfvertroue afgebreek.  Jy word van jou meswaardigheid ontneem en mettertyd glo jy selfs dat jy dit verdien.  Baie mense wat mishandel word, glo selfs dat hulle die oorsaak van die mishandeling is.  Hul wêreldjie krimp tot ‘n diep vallei van ongelukkigheid.   
Daar is egter ‘n lewe buite daardie vallei.  Ons hoef nie ons omstandighede te vrees nie.  Deur dit alles is God by jou.  Hy keur nie die mishandeling goed nie, maar Hy wil hê dat jy uitreik na Hom.  Hy sal jou help, jou vashou en met sy eie hand red.  Soos Israel, het Hy jou ook gekies.

Neem die eerste tree in geloof.  Jy is dit aan niemand anders as jouself verskuldig nie.  God het baie meer vir jou in gedagte as dit waardeur jy tans gaan.

Tuesday 21 July 2015

Wees bly oor beproewings

Jakobus 1 : 4  Julle moet bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.  En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.
‘Seriously?’  Wie kan nou bly wees as jy beproef word?  Ons weet die lewe gaan die een of ander tyd sy rugkant vir ons keer.  Al wat ons dan wil doen is om so gou as moontlik daar deur te kom. 
Jakobus skryf hierdie brief aan Joodse Christene wat oor die wêreld versprei is. Verder in die gedeelte sê hy ook:  “As ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord.” 
God verwag nie van ons om in stilte te ly nie.  Hy weet dat jy selfs meer alleen voel wanneer jy beproef word en daarom kan jy jou gerus na Hom wend.  Dit is juis dan dat jy heerlike kwaliteit tyd met God het.  In jou broosheid is jy oop vir Sy stem en leiding.  Jy weet dat jy nie op jou eie kan oorwin nie en jy vertrou Hom blindelings.

Wanneer jy so daarna kyk, wens jy amper jou beproewing wil sommer nou opdaag.  Geestelike rypheid behoort die een hunkering in elke Christen se lewe te wees.  En dit is waarheen ons op pad is elke keer dat ons so naby aan Hom is.

Monday 20 July 2015

'n Veilige skuilplek

Psalm 91 : 4  Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek.  Sy trou beskerm jou aan alle kante.
Die afgelope week het die woorde vleuels en skuilplek by vyf verskillende geleenthede na my gekom. Een oggend was dit in die vorm van ‘n nommerplaat Psalm 91 : 2.  Dit was vir my duidelik dat God my wou verseker dat ek beskermd en veilig is.
Dit was uiters betekenisvol in ‘n week waar ek tot die uiterste beproef is, op soveel verskillende maniere.  Ek het mismoedig gevoel en was op ‘n plek waar ek net wou boedel oorgee.
Dus was dit uiters betekenisvol om keer op keer hierdie woorde tee te kom.  God wou my verseker dat ek nie alleen is nie en Hy wou my herinner dat daar vir my ‘n veilige hawe wag.
Die lewe is verseker nie maklik nie.  Elkeen van ons word op ons eie manier beproef.  Party van ons kan meer hanteer as ander… of dalk het party net meer deurgemaak as ander.  Die teks is vir elkeen wat voel dat die aanslae van die duiwel besig is om hul onder te kry. 

Hy is ‘n omgee God.  Jy is nie alleen nie.  Kom skuil onder Sy vleuels tot jy weer die lewe in die oë kan kyk.  Dis die een plek waar jy nie hoef voor te gee of haastig te wees nie.

Sunday 19 July 2015

Moet oor niks bekommerd wees nie

Matteus 6 : 34  Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis.  Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.
Die gedeelte van die hoofstuk gaan daaroor dat aardse skatte of kos en klere nie ons prioriteite moet wees nie.  Dit maak nie sin nie.  As ons nie werk en ‘n inkomste verdien nie, gaan ons beslis nie eet nie.  
Terwyl ons werk ontwikkel ons allerhande behoeftes en vul ons lewe met besittings. Kort voor lank is dit waarom die lewe draai.  Nog… nog… nog.
Jesus is uitgesproke oor die afhanklikheid van geld.  Ons kan nie God en mammon dien nie.  Jesus het nooit ‘n beroep beoefen of ‘gewerk’ nie.  Hy het geen inkomste gehad nie, maar nooit honger gely nie.  Hy het nie ‘n huis gehad nie, maar het altyd ‘n plek gehad om sy kop neer te lê.  Hy het nie kaste vol klere gehad nie, maar was voldoende geklee.
Hoekom is ons so gesteld op besittings?  Wanneer jy Matteus 6 vanaf vers 19 lees, besef jy dat God van jou verlang om nie jou vertroue en toekoms op aardse besittings te bou nie, maar eerder op Hom te vertrou. 
Stress en uitbranding is die siekte van ons tyd.  En die mees basiese oorsaak daarvan is ons voortdurende strewe na meer. 

Jesus sê dit is die ongelowige wat hul bekommer oor wat hul gaan eet, drink of aantrek.  Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.  Al wat ons hoef te doen is om die koningsheerskappy van God te soek en dit wat voor Hom reg is ons prioriteit te maak en Hy sal al hierdie dinge as bonus byvoeg.

Thursday 16 July 2015

Maak tyd vir God

Matteus 6 : 6  As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie.
God soek nie vertoon en groot woorde wanneer ons bid nie. Gebed is ‘n privaat gesprek tussen jou en God. 
Wat ‘n voorreg om in gesprek te tree met die koning van die heelal?  ‘n Bonus is dat Hy ons in elke opsig ken.  Selfs wanneer jy met jou beste vriend(in) jou diepste hartsgeheime deel, is daar gewoonlik verskillende weergawes van die waarheid.  Met God is dit nie nodig nie.  Praat net met Hom en bou aan die verhouding.
Eintlik is dit ‘n voordeel dat ons God nie kan sien nie.  Maak nie saak hoeveel jy op ‘n persoon voor jou fokus nie, die oomblik wat iets jou aandag trek, gaan jy jou fokus verskuif.  In ons binnekamer, waar ons veilig voel, met ons oë toe, kan ons inderdaad op God fokus. 
In vandag se gejaagde lewe is dit veral nodig om tyd te maak om stil te word en tyd met God te spandeer. 


Wednesday 15 July 2015

Raadpleeg God


Psalm 25 : 4 – 5 Maak my U wil bekend, Here, leer my U paaie.  Laat U waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is my God, my redder.  In U stel ek elke dag my verwagting.
Om doelgerig te lewe en ‘n duidelike idee te hê van wat jy in die lewe soek, is nie op sigself verkeerd nie.  In vandag se lewe is geleenthede skaars en daarom moet jy sekermaak jy weet presies wat jy doen, waarheen jy op pad is en hoe jy daar gaan uitkom.  Dis ‘n kwessie van ‘survival of the fittest’.
Hoeveel van hierdie gedrewenes sluit God by hul planne in?  Is God hoegenaamd in die prentjie?
Jy sien, om God te raadpleeg beteken nie dat jy nie op jou eie kan regkom nie.  Hier’s ‘n ‘reality check’.  God het ons nie nodig nie, maar ons kan eintlik nie sonder Hom nie.  Moenie voel asof jy nou ondergeskik is en geen sê in jou eie lewe gaan hê nie.
God is nie ‘n beheervraat nie.  Hy dra jou belange op die hart.  Met jou beperkte uitsig op die lewe, gaan jy verseker hier en daar ‘n verkeerde besluit neem en duur lesse leer.  God ken jou hart en jou drome.  Hy sal jou help en wys waar om te loop.

Is dit nie genoeg rede om op Hom te vertrou nie?

Tuesday 14 July 2015

Woorde ontbreek my

Romeine 8 : 26 – 27  Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge, wat nie met woorde gesê kan word nie.  En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.
Here, ek buig in aanbidding voor U neer, maar woorde ontbreek my.  Waar begin ek, Here?  Hoe verduidelik ek my verlede? My lewe is een groot gemors. 
Ek het myself soveel keer voorgeneem om ‘n nuwe blaadjie om te slaan, maar dan gebeur daar weer iets en ek gee my weer oor aan die lewe en al die versoekings.  Ons lewe immers net een keer!  En die drank het my gehelp om te ‘cope’.  Ek het niemand skade aangedoen nie.
Die enigste vlieg in die salf is my gewete.  Ek het altyd skuldig gevoel as ek weer terugkeer na die werklikheid.  Elke keer het ek myself voorgeneem dat dit die laaste keer is… tot my pêlle my arm draai. 

Ek neem aan my gewete was die Gees wat voortdurend vir my ingetree het. Dit is tyd Here, dat ek luister en besef U het nooit opgegee op my nie.  Miskien is dit hoe ‘n mens bid, Here… deur sommer net jou hart oop te maak en jou deur die Gees te laat lei.  Deurgrond my, O Here.

Monday 13 July 2015

Wag en kyk!

Eksodus 14 : 13  Maar Moses het die volk geantwoord:  ”Moenie bang wees nie.  Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag red.
Farao het uiteindelik die volk laat gaan.  God het vir hulle die pad aangewys met ‘n hoë wolkstapel wat voor hulle uitgegaan het.  Gedurende die nag het ‘n wolk waarin vuur was vir hulle lig gegee.  Maar God het ook besluit om die Farao weer hardkoppig te maak en hulle agterna te sit.  Die Farao het sy leër opgekommandeer en hulle agternagesit. 
Jy kan jou die Israeliete se verbasing voorstel toe hulle sien die Egiptenare is op hulle.  Niemand wat vryheid gesmaak het, wil weer gevang word nie.  Gedagtes van dit wat hul voorheen deurgemaak het, moes hul kasty.  Ek kan my voorstel hoe vasgekeer hul moes voel, dalk selfs moedeloos.  Ons moes geweet het dit is te goed om waar te wees!  Waar is God nou?
Wanneer mens in ‘n hoek is, is dit natuurlik om iets of iemand te soek om te blameer.  Iemand moet verantwoordelik wees vir dit waardeur jy nou gaan.  Die ironie van die verlede is dat ons so gou die swaarkry vergeet en net die mooi onthou en romantiseer.  Dis presies wat die volk gedoen het.  Hulle het Moses blameer en gesê dat hy hulle in Egipte moes gelos het – nou gaan hulle hier in die woestyn omkom!
Moses se geloof en vertroue in God was egter op ‘n ander vlak as die volk s’n.  Hy antwoord hulle met die teks hierbo en eindig met die woorde:  “Wag en kyk!  Die Here sal in julle plek veg.” 
Wie weet, jy kan dalk ook vandag jouself met die Israeliete en hul situasie vereenselwig.  Skuldeisers is op jou spoor en jy verlang terug na die tye toe jy nog arm was, maar minder probleme gehad het. 

Wag vandag op die Here.  Jy mag jouself tans in die woestyn van die lewe bevind waar alles kaal en hopeloos lyk.  Dit is die perfekte plek vir ‘n wonderwerk.  God het ‘n plan en jy hoef net in stilte op Hom te vertrou.  Wag en kyk!

Sunday 12 July 2015

Dankie Here!

Lukas 15:7 Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Ten spyte daarvan dat ek die Here met my hele hart dien, kan ek nie dieselfde van elke lid van my gesin sê nie.  So worstel ek met die vraag:  “Hoe kan ek eendag voor God verskyn sonder hulle wat die naaste aan my is?”  

My oudste seun was twaalf jaar gelede laas in die kerk.  Alhoewel hy in ‘n Christelike huis grootgeword het, Sondagskool toe is, aangeneem en voorgestel is, het Hy geen verhouding met God nie en daarom geen behoefte om kerk toe te gaan.  Daar is soveel rede vir my om trots op hom te wees, maar hy weier om enigsins na my te luister as ek die aangeleentheid aanroer.  Mettertyd het ek besef die onderwerp is taboe, maar dit het nie beteken dat ek opgee nie.  Gebed sou my geheime wapen teen satan word.

Baie dinge het die afgelope paar maande in sy lewe gebeur en hy sou baie keer bel en net vra dat ek vir hom bid.  Min het ek geweet dat God besig is met my kind.  Onlangs kry ek ‘n WhatsApp boodskap van hom:  “Ma was al die tyd reg… die Here version… en eer jou vader en jou moeder…”  Ons voer ‘n lang, diep gesprek en ek moet myself inhou om nie ‘n ‘yes’ teken te maak nie.  Ek is bang opgewonde met die besef dat ek besig is om ‘n ommekeer te aanskou.  

Gister bel ek hom en byna die eerste woorde is:  “Ons gaan môre kerk toe.”  Dis byna asof ek nie registreer nie.  Het ek reg gehoor?  Here, ek bid so lank...  Versigtig trap… ek mag niks sê wat hom sal afskrik nie. 

Vir die eerste keer wonder ek of predikers weet watter groot verantwoordelikheid op hulle rus?  ‘n Honger siel gaan vandag in ‘n kerk sit en hoop om ‘n boodskap te ontvang.  Ek bid vir elkeen wat die boodskap verkondig… dat hul elke moontlike geleentheid sal gebruik om ‘n siel te red… om iemand wat bang terugkeer na die huis van die Here te laat tuis voel.

Dankie, dankie, dankie Here.  Ek weet dit is maar net die begin, maar hoe wonderbaarlik was U ingryping in my kind se lewe nie.  Dankie dat U vandag ‘n moederhart laat juig.  Saam met die engele jubel ek oor een siel wat sy eerste treetjie tot bekering gee.

Thursday 9 July 2015

Om 'n bestaan te maak

Genesis 3 : 17  met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe lank;
Jy hoef nie ‘n ekonoom te wees om te weet dat ons moeilike tye beleef nie.  Elkeen van ons voel dit aan ons sak.  Net ‘n paar nodige items, kos alreeds ‘n plaas se geld.  Vir luukshede is daar selde ‘n ekstratjie.  Indien jy dus ‘n werk het, kan jy jouself uiters bevoorreg ag.  Ten minste is daar ‘n maandelikse inkomste. 
Vir entrepreneurs of kleinsake eienaars is die lewe veel moeiliker.  Die verhoging in petrolpryse en eskom se prysverhogings, met gepaardgaande kragonderbrekings, plaas geweldige druk op die kontantvloei van menige kleinsakeonderneming.  Jy kan immers nie elke keer dat die petrolprys of eskom pryse opstoot jou eie pryse opstoot nie, want dan is jy binnekort sonder kliënte.  Sonder jou personeel kan jy ook nie.  Al genade is om meer kapitaal in die besigheid te pomp, of meer skuld aan te gaan.  Om kop bo water te hou, ‘betaal’ baie van hierdie sakemanne nie eens hulself nie. 
Sogenaamde kleinsakeondernemings, is die drywer van die ekonomie en word ook gesien as ‘n belangrike rolspeler in die vermindering van werkloosheid, maar hulle kry min of geen steun van die owerhede.

Vandag wil ek jou versoek om vir hierdie dapper mans en vrouens te bid wat elke dag moedig voortbeur ten spyte van al die probleme wat hul elke dag in die gesig staar.  Hoe meer mense hul werk verloor, hoe groter word hierdie groep.  Elkeen probeer sy bes om ‘n eerlike bestaan te maak en sukses beteken meeste van tyd net genoeg om al die gate toe te stop.

Wednesday 8 July 2015

Jy is kosbaar

Jesaja 43:4  Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet

“Have you ever noticed that Rolls Royce and Bentley don’t have commercials?
REASON:  They know the value of their product brings customers to them.
LESSON:  When you know your value, you don’t have to beg people to like you, to be your mate, to spend time with you or to love you.

Te veel individue ly aan ‘n minderwaardigheidskompleks.  Diesulkes wonder altyd of hul goed genoeg is.  Regdeur hul lewe sal so iemand hunker na liefde en aanvaarding.  Enige besluit of optrede word agterna tot vervelens teruggespeel om seker te maak dit was in alle opsigte korrek.  Al word hul tenagekom, sal hul niks doen om hulself te verdedig nie, want hul wil niemand se toegeneendheid verloor nie. 
God het jou as individu geskape, met alles wat jy nodig het om jou selfvertroue te gee.  Jy het niemand se goedkeuring nodig nie.  Niemand hoef aan jou te skaaf of jou te verander nie. Jy sien, God doen niks halfhartig nie.  Daarom hoef jy nie iets of iemand te probeer wees wat jy nie is nie.  Daar is geen rede om verskoning te vra vir wie jy is of te wonder wat ander van jou dink nie.
Net soos met Rolls Royce en Bentley, hoef jy ook nie jouself te bemark nie.  God ken jou waarde en daarom kan jy leef in die seker wete dat jy waardevol, kosbaar en uniek is.


Tuesday 7 July 2015

God se beloftes

Hebreërs 6 : 12  Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

Indien ons God in gebed sou nader en Hy op elke versoek onmiddellik antwoord, sou ons niks waardeer het nie, en ons sou ook nie in geloof gegroei het nie.  Ons groei juis wanneer ons God blindelings moet vertrou… wanneer ons op die onmoontlike hoop en ons verstand vir ons probeer wysmaak dit is onmoontlik… wanneer ons geen logiese rede het om te glo nie, want “all the odds are against us”…  wanneer ons God deur ons trane prys…  God is die God van die onmoontlike.

Wanneer jy so glo, groei jy in geloof, jou karakter word gevorm, maar jy kom ook tree vir tree nader aan die oplossing.


Moenie vandag moed opgee omdat jy nog nie ‘n antwoord op jou gebede ontvang het nie.  Skop jou hakke stewig in en kweek ‘n houding van vasberadenheid.  God verseker jou dat Hy jou gebede hoor, meer nog, dat Hy selfs die onuitgesproke begeertes van jou hart ken.  Elke droom wat Hy in jou geplant het, elke belofte waarop jy vertrou, selfs dit wat jy nog nie eens teenoor jouself erken het nie, weet Hy van en is vir Hom belangrik en daarom SAL Hy vir jou deurkom.

Monday 6 July 2015

Druk deur

Handelinge 20 : 24  Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.

Indien jy op ‘n manier by die verkondiging van God se Woord betrokke is, sal daar altyd die een of ander vlieg in die salf wees wat jou van koers af gaan probeer bring.  Indien dit nie mense en hul uitlatings is nie, is dit dalk fondse of te veel ander hooi op jou vurk.

God is egter betroubaar.  Bid en vra Hom om jou by te staan om jou taak uit te voer.  Net omdat hy nog nie jou gebed beantwoord het nie, beteken nie dat Hy nie nou tyd daarvoor het of dat dit nie in die ‘belangrike’ mandjie is nie.  Moenie opgee of mismoedig raak nie.  Nou is nie die tyd vir negatiewe gedagtes nie.  Raak opnuut ywerig oor jou saak. 

Paulus se lewe was bedreig.  Hy is vervolg… mense het hom met hul praatjies probeer beinvloed.  Daar was negatiewe en ontmoedigende gedagtes, maar Paulus se houding was eenvoudig.  “Niks gaan my van koers af dwing nie.”  Paulus se fokus was op sy lewenstaak en Hy’t geweet hy moet net op God wag, want as God vir hom is, kan niemand teen hom wees nie.  Daarom kon Paulus voortbeur ten spyte van sy omstandighede.

Die bediening is nie altyd maklik nie, maar dit is beslis die moeite werd.  Ons werk nie vir aardse belonings nie, maar wel vir God.  My enigste begeerte is om eendag met soveel siele in my twee arms voor God te staan dat ek hul nie alleen sal kan vashou nie. 


Byt vas en druk deur.  Jy kan, want God is aan jou kant.

Sunday 5 July 2015

Wonderbaarlik geskape

Psalm 139 : 14  Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.

Te veel mense gaan gewond deur die lewe omdat hulle voel dat hul nie goed genoeg, mooi genoeg, lank genoeg, maer genoeg, ens is nie.

Jy skiet op geen enkele manier tekort nie.  Die dag toe God jou in die moederskoot aanmekaar geweef het, het Hy nie ‘n ‘mould’ gebruik wat Hy al verskeie kere vantevore gebruik het nie.  Nee, jy was die eerste en enigste van jou soort wat Hy ooit gemaak het.  'Limited edition' boeke, motors waarvan net ‘n paar gemaak word, muntstukke of seëls waarvan daar net ‘n beperkte uitgawe gedruk word, is uiters waardevol.  Versamelaars is bereid om baie geld te betaal om so ‘n raar item te bekom.

Daarom mag jy nie twyfel aan jou eiewaarde nie.  Jy is absoluut uniek.  En as daar miskien iets is waarmee jy nou nie so tevrede is nie, dan moet jy dit eerder as iets beskou wat jou waarde nog meer opstoot. 


Soms word iemand gebrandmerk as ‘stout’ of ‘sleg’.  Kinders wat uit gebroke huise kom, word gebrandmerk as ‘moeilik’.  Moenie fokus op wat ander sê nie.  Fokus op wat God sê:  “My kind, ek het jou met liefde op ‘n wonderbaarlike wyse geskape.  Jy is vir my so pragtig en kosbaar.”

Thursday 2 July 2015

Nederigheid

Psalm 131 : 1  Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.

Nederigheid is ‘n kuns.  As jy byvoorbeeld trots is daarop dat jy nederig is, is jy inderwaarheid nie nederig nie.  Nederigheid is dus nie iets waarmee jy spog nie.  Dit is bloot ‘n bestandeel in jou samestelling.
Om nederig te wees, beteken nie dat jy omverskoning moet vra dat jy leef nie.  Dit beteken bloot dat jy jouself nie beter as enige iemand anders ag nie.  Jy gun ander ‘n plekkie in die son en is bly wanneer hul sukses bereik. 

Soms beteken dit dat jy iemand moet gelukwens wat ten koste van jou gewen het, om welke rede ookal, maar jy doen dit omdat dit niks van jou neem nie.

Hoe meer jy terugstaan sodat ander kan uitstaan, hoe groter word jou lewensruimte en is daar meer plek vir God.  Hy kan jou nie bereik as jy omgewe is van eiewaan nie. 

In ‘n wêreld wat behep is met presteerders, is dit amper beroep-selfmoord.  Jy is nie veronderstel om ander ‘n geleentheid te gee om jou verby te gaan nie.  Jy moet wen… ten alle koste.  Hoe gouer, hoe beter, hoe meer hoe beter, hoe groter hoe beter…  Diegene wat in die slag bly… wel, hulle is mislukkings en verdien om vertrap te word.


Ons het van die lewe ‘n kompetisie gemaak.  Dit was nooit bedoel om een te wees nie.  Anders sou God nooit van ons verwag het om ons naaste lief te hê soos onsself nie.

Wednesday 1 July 2015

Die onwaarskynlike


1 Samuel 16:10  Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

Sondagoggend het ek na ‘n interessante boodskap oor die radio geluister.  

Saul was steeds koning, maar God het hom verwerp (1 Samuel 16 : 1) en vir Samuel opdrag gegee om die nuwe koning aan te wys.  Samuel het nie verstaan hoekom hy dit moet doen terwyl Saul koning is nie, maar God por hom aan en stel voor dat hy ‘vers neem om te offer.  

Daar gekom het hy vir Isai gevra om sy seuns te roep.  Met elkeen wat verskyn het, het Samuel die boodskap gekry dat dit nie hy is nie.  So het al sewe seuns verskyn en steeds wag hy vir die regte een.  Hy vra toe vir Isai of hy nog seuns het waarop Isai antwoord dat daar net die jongste oorbly wat skape oppas.

Soos ons weet het sekere getalle betekenis in die Bybel.  Een is vir ‘n eersgeborene wat die mees waarskynlike is om as koning aangewys te word.  Drie verwys na die Heilige Gees en vier na God wat regeer uit al vier windrigtings. Sewe is ook betekenisvol.  God kies die mees onwaarskynlike een, nie die eersgeborene, of die derde, vierde of sewende nie, maar die agste… die jongste… die kleinste… die een wat ‘n nederige skaapwagter is… wat waarskynlik nie te aangenaam ruik na dae in die veld nie.  

Die mens wik, maar God beskik, was die boodskap. Die mens probeer gewoonlik om sin te maak uit dinge of dit uit te redeneer, dus maak hierdie optrede van God nie sin nie.  Ons soek ‘n patroon of ‘n verklaring.  Soos Samuel bevraagteken ons dit en erken dat ons nie verstaan nie.  

God het oor die eeue bewys dat Hy nie soos mense dink of optree nie.  Wanneer ons dink alles is oor, het God nog ‘n uitkoms…  Wanneer ons mismoedig en uitsigloos is, weet God dat uitkoms binne ons bereik is. Indien ons dink ons weet nie meer watter kant toe nie, is ons waarskynlik reeds daar.  Ons maak onsself moeg om God te probeer verstaan.  Dit is nie nodig om Hom te verstaan nie.  God gebruik die mees onwaarskynlike kandidaat.  Net hy weet hoekom.  Al wat ons hoef te weet, is dat dit absoluut die regte persoon is, as God hom of haar gekies het.  Net so hoef ons ook nie te wonder oor ‘n uitkoms uit ons situasie nie.  God sal daarvoor sorg.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...