Wednesday 30 September 2015

Seëninge

Efesiërs 1 : 3  Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

Dankie dierbare Hemelse Vader vir U groot genade in my lewe.   Elke dag openbaar U Uself opnuut aan my. 

Wanneer ek soggens die huis verlaat met ‘n swaar gemoed, hoor ek die voëltjies sing, en dan weet ek dat dit U is wat my herinner dat U vandag vir my sal sorg net soos wat U vir hulle sorg… dat ek soos hulle, my vreugde in U moet vind.

Op pad werk toe, reën of sonskyn, sien ek mense op die straathoeke staan of sit.  Hul skouers hang… hul oë is dof…  Party bedel, ander hoop om vandag gehuur te word.  Ek weet dat dit net U genade is wat my van hulle onderskei, want ek is niks beter as hul nie.

In die verkeer sien ek mense soos sardientjies in 'n blikkie binne ‘n taxi.  Die bestuurder van die mini-bus ignoreer ‘n rooi verkeerslig en moet uitswaai vir ‘n ander motor.  Dankie Hemelse Vader vir die luukse van ‘n eie motor.  Dit is ‘n uitgawe en ‘n kopseer, maar U het nog altyd gesorg dat my motor se wiele draai.

Gedurende die dag sien ek mense rook, eet, drink… baie van ons met ongesonde rolletjies op rolletjies om die middel… terwyl daar kinders is wat vandag honger skool toe is en hoop op ‘n maaltyd by die skool, want vanaand sal daar weer niks op die tafel wees nie.

Gedurende die dag kom ek op verskeie gesprekke af waar mense mor en kla oor die werk, die omstandighede, die maatskappy, die baas, die klein salaris… en dit terwyl daar soveel is wat ons werk met ‘n glimlag sal kom doen vir heelwat minder per maand.

Na werk besoek ek die supermark vir brood en melk, maar ek stap met heelwat meer daar uit, om nie eens te praat van my skuldige gewete nie.  Ek probeer dit regverdig deur te dink dat almal ‘n keuse het en dat my keuse is om hard te werk sodat ek die nodige middele het, maar ek besef ek probeer my gewete sus. 

Here, maak my oë oop vir diegene in nood.  Gee my ‘n hart vir ander.  Laat ek elke dag opnuut besef dat ek meer seëninge het as wat ek verdien.  Gebruik my Liewe Heer tot eer en verheerliking van U Naam.

Vir Leipoldt was Oktober 'die mooiste, mooiste maand'.  Mag hierdie maand vir jou besonders mooi wees.

Tuesday 29 September 2015

Gierigheid

Efesiërs 5:5 Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of 'n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.

Lee Farkas is ‘n man wat skool vroeg verlaat het om sy pa se versekeringsmaatskappy oor te neem.  Die het hy, binne enkele maande, in die grond in bestuur.  Daarna het hy nog ‘n besigheid begin wat misluk het.  

Uiteindelik het hy op ‘n klein dorpie, Ocala, beland waar hy ‘n Huislening maatskappy onder die naam van Taylor, Bean & Whitaker begin het.  Dit was sy deurbraak.  Die besigheid het baie vinnig gegroei en hy het kort voor lank 2500 mense in diens gehad. 

Omdat alles nie op ‘n eerlike manier gedoen is nie, het hy fondse nodig gehad.  Hy het by Colonial Bank aangeklop en op die een of ander manier die Uitvoerende Hoof, Cathy, onder sy spel gekry sodat sy hom basies gehelp het om voort te gaan met sy oneerlike besigheid.  Hy sou ook by Freddy Mac en Ginnie Mae banke aanklop vir hulp en omdat Colonial Bank hom ondersteun het en Cathy hom gehelp het om te sorg dat sy rekeninge goed lyk al was daar nie geld in nie, het hulle ook krediet aan hom toegestaan. 

Dit was ‘n ingewikkelde skema waarvolgens verskeie partye ‘n reg (verband) sou hê op dieselfde eiendom.  In baie gevalle het die eiendomme nie eens bestaan nie.  Farkas het meer as 3 biljoen dollar verduister.

Op die ou end sou dit die ondergang van Freddy Mac en Ginnie Mae Banke beteken.  Meer as 500 000 huiseienaars sou hul huise verloor en 2500 mense sou werkloos wees.  In April 2011 is Lee Farkas skuldig bevind op 14 aanklagte van sekuriteitsbedrog en sameswering.  Hy is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis.

Om sy gewete te sus, het sy filantropie geen perke geken nie.  Hy sou ‘n vervalle teater in die dorp restoureer vir miljoene dollars.  Hy het mense aangestel teen ses syfer salarisse terwyl hul geen ondervinding gehad het nie.  Niemand het regtig geweet hoe die operasie inmekaar steek nie en hy wou ook nie hê enige iemand moet te veel omtrent die besigheid weet nie.  Die hoofkantoor was ‘n droom om in te werk met ‘n kombuis waar daar elke dag eksotiese disse, soos kaviaar en ingevoerde salm voorgesit sou word. 

Lee het ook nie gehuiwer om homself te bederf nie.  Luukse huise, bote, privaat stralers, eksotiese vakansies…

Miskien dink jy dat jy darem nie naastenby soos Lee is nie, want jy is nie besig met enige oneerlikheid nie.  Gierigheid is net nog ‘n vorm van selfsug wat hom in verskeie gedaantes voordoen.  Skep jy vir jouself meer kos in… neem jy die grootste stuk koek… eet jy uit in duur restaurante, maar gee die motorwag net ‘n vuil kyk…  Behandel jy die bedelaar asof hy nie bestaan nie terwyl jy in oorvloed leef…  Sorg jy dat jy genoeg werk het al weet jy jou kollegas is nie besig genoeg nie… vergeet jy gerieflikheidshalwe van jou ouer(s) in die ouetehuis… is jy een van daardie motoriste wat op ‘n afrit sal verbyjaag en voor gaan indruk?


Monday 28 September 2015

Heers oor My skepsels

Genesis 1:26 Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

As kind het ek dikwels aanskou hoe die groot mense gereed maak om te gaan jag.  Gewere word skoongemaak… die ligte op die voertuig word nagegaan… daar heers ‘n opgewondenheid onder die manne.  Ek krimp in-een, huil hartverskeurend, smeek my pa om nie saam te gaan nie.  Iewers is daar ‘n onskuldige dier of tien wat nie môreoggend die son gaan sien opkom nie.  Die volgende dag moes ek die afslag en verwerking van die vleis aanskou.  Dit het ‘n geweldige impak op my kindergemoed gehad.

Onlangs hoor ek die eerste keer van “Driven Hunting”.  Oorsee vind dit al jare lank plaas, en seker hier ook, maar ‘n herrie het losgebars nadat oorsese toeriste op drie plase naby Alldays in Limpopo meer as ‘n 100 diere oor 5 dae geskiet het. 

Die jagters word in ‘n kamp ingeneem waar daar ‘n verskeidenheid wilde diere is.  ‘n Groot skare word gehuur om in ‘n lang ry van weerskante af geraas te maak sodat die diere gekanaliseer word in ‘n oopte waar jagters op houtstellasies gereed staan om hul af te maai.  Niks moeite nie… geen stap en hoop jy kry ‘n dier onder skoot nie… geen kans vir wegkom nie, want die diere vlug van die geraas reg in die visier van die jagters / ‘n wagtende vuurpeleton.

Agterna word die dooie diere in rye voor hul neergelê en poseer hul trots agter hul prooi.  Inderdaad waarde vir geld en sukses is min of meer gewaarborg.  Dis ‘n wen-wen situasie.  Die plaaseienaar kry ‘n lekker vet inkomste en die toeriste is verseker van ‘n trofee wat hulk an saam terugneem.

Die hartseer is dat die NSPCA moet toesig hou sodat dit gebeur volgens aanvaarbare  standaarde!!!  Agterna is dit ook hul hartseer taak om die gewonde diere te vind en van kant te maak, want gewondes sal daar wees.

Is dit regverdig?  Is dit moreel aanvaarbaar?  Is dit wat God in gedagte gehad het toe hy ons as aangestel het om te heers oor die diere?  Wie is die eintlike diere?  Watter respek betoon dit teenoor God se pragtige, onskuldige, skepsels?

Ek kan nie vir een oomblik dink dat dit is wat God in gedagte gehad het toe hy ons aangestel het om oor die diere te heers nie.  Sulke gedrag maak van ons van die wreedste diktators op aarde.

Sunday 27 September 2015

Balle

Lukas 14 : 26  “As jy my dissipel wil wees, moet jy My liewer hê as jou eie pa en ma, vrou en kinders, broers en susters – ja, meer as jou eie lewe.  Anders kan jy nie my dissipel wees nie. (NLV)

Ons dominee het vanoggend ‘n baie oulike manier gebruik om die boodskap oor te bring na aanleiding van die teks.  Die boodskap het gegaan oor die dinge wat ons weghou van God. 

Hy het een van die gemeentelede gevra om voor by hom te kom staan en verskillende grootte balle, een vir een vir hom gegee om vas te hou.  Elke bal het iets gesimboliseer wat ons van God kan weghou bv. geld, besittings, jou beroep, sport, sukses, selfliefde, iemand vir wie jy liewer is as vir God, ens.  Laastens neem hy ‘n strandbal en gooi dit vir die persoon wat al die vorige balle vashou.  Die enigste manier om die bal te vang, was om die ander balle te laat los.  Die strandbal het God gesimboliseer.  Verdere verduideliking was nie nodig nie, want almal het verstaan dat jy alles moet los om God te ontvang.

Die voorbeeld met die balle kan  verder geneem word.  Ons is so besig om meer as een bal in die lug te probeer hou, dat ons  nie in staat is om nog ‘n bal by te voeg nie.  Is enige van daardie balle werklik vir jou enige iets werd terwyl jy hul in die lug probeer hou?  Nee, dit is eers as jy almal ophou ‘juggle’ en een gebruik om mee te speel dat die bal van enige nut is.  En terwyl jy die balle in die lug probeer hou, kan jy op niks anders fokus nie.  Die balle word die middelpunt van jou fokus.

Ek moes vanoggend baie eerlik na my eie lewe kyk en besef dat daar indringende veranderinge moet plaasvind.  Die enigste manier is om al die ander balle te laat gaan om vir God plek te maak.  

Thursday 24 September 2015

Jy het niks meer nodig nie

Filippense 4 : 11 Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.

Min mense is tevrede met wat hul het.  Meeste hunker voortdurend na iets.  Kyk maar net na al die nuwe voertuie op die paaie, of hoeveel ‘goed’ ons om ons vergader.  Party mense het nooit iets om aan te trek nie, maar hul kaste kreun onder al die klere.  Ander kan weer nie ‘n ‘gadget’ verbyloop nie.  Ons koop en koop en koop.    

As jou geluk in besittings lê, sal jy nooit genoeg hê nie.  Indien jou doelwitte en drome jou begin frustreer, is dit ‘n duidelike teken dat jy te veel op wêreldse goed staatmaak.  Jy sal eers vry wees wanneer jy oorgee:  “God, neem asseblief beheer oor my lewe.  U weet presies wat ek nodig het.  Gee my wat ek nodig het, nie wat ek begeer nie.”

Wanneer ons tevrede is met wat ons het, het ons die kettings van gevangeskap afgeskud.  Dan kan ons ware vryheid geniet.  Ons sal nie meer onvergenoeg wees en voortdurend wind najaag nie. 

Op hierdie punt is daar plek vir God om ander prioriteite binne ons te laat wortelskiet sodat ons fokus kan verskuif. 


Vind vandag vrede en rus in die wete dat jy niks meer as God in jou lewe nodig het nie.

Tuesday 22 September 2015

Wees net geduldig

Habakuk 2 : 3  Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

Deel van God se plan is om jou drome waar te maak en jou te gee die begeertes van jou hart.  Net omdat dit nog nie gebeur het nie of omdat dit langer neem as wat jy bereid is om te wag, beteken nie dat dit nie gaan gebeur nie.

Moenie opgee op jou drome of mismoedig word nie.  Dieselfde God wat daardie droom in jou hart geplaas het, wil ook seker maak dat dit vervul word.  God is getrou.  Dit maak nie saak hoe lank dit neem of hoe onmoontlik dit voorkom nie, as jy bly glo sal jou tyd aanbreek.  Soveel mense gee op net voor hul drome realiseer.  As jy ophou glo, gee jy as’t ware jou droom op. 

Ek weet dit is nie maklik nie.  Al probeer jy hoe hard om te glo, is daar altyd die stemmetjie wat jou anders wil oortuig, maar hou aan om jouself te hereinner dat jy net moet bly glo... ten spyte van enige teendeel wat jy sien of ervaar, bly glo.  Hou jou oog gevestig op jou droom.  Verklaar in geloof:  “My tyd het aangebreek.  God is in beheer en Hy is besig om in die agtergrond te werk.  My drome sal verwesenlik word.”  Terwyl jy aanhou om jou drome te visualiseer, en woorde van lewe daaroor spreek, sal jy sien hoe alles in plek begin val. 

Geniet Erfenis / Nasionale Braaidag môre.


Monday 21 September 2015

Neem jou gedagtes gevange

2 Korintiërs 10 : 5  Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Voel jy asof jy beheer verloor het oor jou lewe?  Dit is nie net ‘n gevoel waarmee jy een oggend opstaan nie.  Dit is as gevolg van jou denke oor ‘n periode van tyd.

Wanneer jy inkopies doen, trek jou keel heelwaarskynlik toe as jy die totaal sien, maar jy glimlag floutjies en haal jou kaart uit.  Jy weet die aankope veroorsaak dat jy verder in die skuldgat afdaal, maar jy probeer dit regverdig op elke moontlike manier.  ‘n Stemmetjie knaag binne jou… hoe gaan jy die einde van die maand haal op dit wat jy in jou rekening oor het?  Nog erger, hoe gaan jy die paaiement bekostig?  En as jy die minimum paaiement betaal het, bly daar ‘n baie klein deeltjie van die fasiliteit oor om die res van die maand van te leef. 

Jou gedagtes maal en maal.  Jy onthou dat jou huwelik ook deur ‘n moeilike tyd gaan.  Jou gemoed sak in jou skoene as jy onthou jou kind het jou ook gevra om te onthou om die skoolfonds te betaal… en dat hy ander skoene nodig het.

Alhoewel die scenario fiktief is, is daar baie mense wat elke dag voel asof hul nie meer kop bo water kan hou nie.  Hulle is ongelukkig by die huis… ongelukkig by die werk… sukkel finansiëel… daar is geen lig in die tonnel nie.


Daar is hoop.  Neem elke gedagte gevange deur dit te meet aan God se wil vir jou lewe.  As kinders van God behoort ons nooit te dink iets is onmoontlik of te moeilik vir God om in te gryp of te verander nie.  Die bose lê altyd op die loer en probeer jou oortuig dat daar geen hoop is nie… dat jy ‘n doodloopstraat bereik het… dat die fout by jou lê.  Wyk satan!  Neem jou lewe terug, want dit is nie oor terwyl daar nog ‘n God in die hemel is nie.

Sunday 20 September 2015

As Hy die son en die maan kan laat stilstaan

Habakuk 3 : 11 het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek.

Op die oomblik is ek vasgevang tussen die duiwel en die diep blou see.  In my eie lewe is daar niks om te kla nie, maar een van my familielede, is nie net siek nie, maar het geen inkomste nie en die huis waarin die persoon woon, moet teen die einde van die maand ontruim word.  Die persoon se wederhelf het ook besluit dat sy nie meer kans sien om die persoon te versorg nie en het eenvoudig op ‘n bus geklim en die individu aan homself oorgelaat.

Omdat ek nie self ‘n krisis beleef nie, kan ek eenvoudig my skouers optrek en hom aan sy lot oorlaat… dis immers nie my skuld of my probleem nie.  Nie so maklik as jy ek is nie, want ek kan eenvoudig nie. 

Daar is baie verskonings wat ek kan uitdink… ek het nie slaapplek vir die persoon nie… ek het niemand om hom gedurende die dag te versorg nie… ons beweging sal ingeperk word…   Om alles te kroon, het ek alreeds twee ander persone wat finansiëel sukkel wat onlangs by my ingetrek het.  Dis 3 ekstra monde om te voed terwyl my salaris nie eksponensieel verhoog het nie.    Wat staan my te doen?

My enigste hoop is op hulp van bo.  As God die son en maan kan laat stilstaan, behoort my uitdagings vir Hom net ‘n ligte irritasie te wees wat Hy met een handveeg kan omkeer.  Dit is hoekom ek nie een oomblik huiwer om hierdie uitdaging die hoof te bied nie.  Om die waarheid te sê, ek reken dit is my plig.  God sal voorsien… solank ek gehoorsaam is. 

Sal jy asseblief bid sodat ek vir hierdie mense sal kan sorg?


Thursday 17 September 2015

Go Bokke!

Psalm 44:6  Met u hulp sal ons ons teëstanders verslaan, in u Naam sal ons dié oorwin wat teen ons opstaan.

Die rugby wêreldbeker is op hande.  Ons land se trots, die Springbokke, is in Engeland en hul taak is om die ander spanne te verslaan sodat hul die Webb-Ellis trofee kan huistoe bring.

Dit maak nie saak wie in daardie span speel nie... ‘n span bestaan nie uit individue nie.  Wat wel saakmaak is dat hul ons land verteenwoordig.  Suid-Afrika is tans ‘n klein bootjie op ‘n baie stormagtige see.  In die verlede het ons egter al gesien hoe sport ons kan verenig. 

Vee enige vooroordeel of negatiwiteit uit jou gedagtes en gooi jou gewig in by diegene wat ons span ondersteun.  Hulle het nie ‘n maklike taak nie, maar ek glo hulle kan dit weer regkry.

As die Springbokke wen, wen Suid-Afrika, en elkeen van ons.  As hulle verloor, is dit net nog ‘n brander wat ons tref.  Verloor is egter nie ‘n opsie wanneer God aan jou kant is nie.


Toe die dissipels saam met ‘n slapende Jesus op die see ‘n storm beleef het, het hulle geweet dat hul Hom nodig het om hul te red.  In U naam sal ons die ander spanne oorwin, Here. 

Wednesday 16 September 2015

Besluite

Job 22 : 28  Wat jy besluit, sal uitgevoer word, dit sal voorspoedig gaan met jou.

Oproepsentrums is niemand se gunsteling instansie om mee sake te doen nie.  So skakel ek eendag ‘n oproepsentrum en na ek skoon duiselig voel van al die opsies wat ek moes kies, antwoord ‘n agent:  “Goeie dag, my naam is Colin.  Hoe kan ek u dag vandag ophelder?”

Die wind was heeltemal uit my seile.  Dit was so verfrissend om nie die standaard:  “How are you?” te hoor nie.  Hy het nog steeds sy rympie gekommunikeer… “dat alle oproepe opgeneem word, ens”, maar dit was sy opregtheid en energie wat dit ‘n ervaring gemaak het wat my bybly.

Vir al wat ek weet, het hy ook nie ‘n perfekte lewe nie, maar hy het ‘n wilsbesluit geneem dat hy kliënte sal opbeur en hul aandag behou.  Dit is nie altyd maklik om vrolik te wees as alles rondom jou inmekaar stort nie, maar dit gaan beslis ook nie beter gaan net omdat ek en jy met ‘n lang gesig rondloop nie.  Daarmee sê ek nie ons moet nou almal vals raak en voorgee alles is honkiedorie nie, maar daar is ‘n tyd en ‘n plek vir alles. 


Die teks hierbo sê eintlik dat ons elke dag opnuut kan kies…  Gaan ek positief wees sodat dit met my goed gaan, of gaan ek negatief wees…  Positiwiteit trek positiwiteit aan en ongelukkig stoot negatiwiteit mense van jou af weg.  Jy kry mense wat verbitter deur die lewe gaan.  Niks en niemand kan enige iets reg doen in hul lewe nie en almal is verkeerd behalwe hul.  As dit jy is en jou lewe is nie ‘n piekniek nie… lees weer die vers hierbo.

Tuesday 15 September 2015

Blaai om

Jesaja 43:18 Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.
Kevin Paul is nog ‘n gestremde swemmer van Port Elizabeth wat ook sy visier gestel het op ‘n medalje in London by die Olimpiese Spele.
Kevin sê:  “Maak gebruik van dit wat God jou gegee het.  Ek is gestremd, maar ek sien dit nie as ‘n struikelblok nie, eerder as nog ‘n gawe van God.
Kevin ly aan Poland Syndrome.  Hy is gebore sonder ‘n “pectoral muscle” en sy linker arm is korter terwyl sy regterhand kleiner is. 
In 2008 is Kevin se drome bewaarheid toe hy ‘n goue medalje in die 100 m borsslag losgeswem het by die Olimpiese spele in Beijing.  Vanjaar hoop hy om nog ‘n medalje te verower by die Londonse spele.
Wat my verbaas is dat daar soveel mense sonder enige gestremdheid is wat doelloos deur die lewe gaan.  Hulle droom nie van groot hoogtes wat hul wil of kan bereik nie.  Hulle het nie mikpunte nie, maar bly tevrede met hul lot.  Gestremdes het dieselfde keuses as nie-gestremdes.  Ons kan besluit dat ons op ‘n hopie gaan sit en onsself bejammer, of ons kan dit wat ons het gebruik om dit te bereik waarvoor God ons bestem het.
Jy kan nie bly vassteek by die verlede nie.  As jy nie soveel ontvang het as ander nie, beteken dit nie dat jy niks ontvang het nie.  Indien jy tenagekom is of alles verloor het, kan jy nie toelaat dat jy daar bly lê nie.  Jy is tot soveel meer in staat.
Aanvaar dit wat in die verlede gebeur het, en gaan aan. 

"There comes a day when you realize turning the page is the best feeling in the world, because you realize there's so much more to the book than the page you were stuck on..." - Unknown

Monday 14 September 2015

Fokus op die onsigbare

2 Korintiërs 4 : 18  Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Elke werknemer weet daar is base, en dan is daar base.  Dieselfde geld vir maatskappye.  As jy gelukkig is, werk jy vir iemand/’n maatskappy wat omgee vir sy werknemers.  So ‘n maatskappy het voordele, maak die werknemers deel van die maatskappy, waardeer hul insette, laat hul deel in die winste, ens.  Die werknemers is gelukkig en gemotiveerd en ek glo meer produktief.

Dan is daar diegene wat die laaste druppel bloed uit jou sal tap.  Daar word net al meer en meer van jou verwag.  Jy voel asof jou werksplek ‘n slagveld is waarheen jy elke dag teen wil en dank moet gaan en dat jy jouself moet verdedig/regverdig.  Niks wat jy doen sal ooit goed genoeg wees nie.  Daar sal eerder meer en meer van jou verwag word.  Jy sal nie vergoed word volgens verdienste nie en jy sal net soos ‘n meubelstuk behandel word.  As die meubelstuk nie meer inpas by die baas/maatskappy se beeld nie, word daar eenvoudig van jou ontslae geraak.

Sommige goed kan jy nie verander nie.  Jy kan van werk verander, maar dit is ook nie altyd moontlik of prakties nie.  Wat jy wel kan doen, is om jou oog van hierdie sigbare dinge aft e haal en eerder op die onsigbare te fokus.  Jy gaan nie eendag rekenskap gee oor hoe jy behandel is nie, maar wel oor jou bydrae.
Volgens statistiek bedank mense nie van ‘n werk nie, maar van ‘n baas.  Die persoon wat jou so onregverdig behandel, is in jou lewe vir ‘n rede.  Hanteer hom/haar/hulle soos wat God van jou sou verwag.


Onthou dat jy nie vir ‘n baas werk nie, maar vir God.

Sunday 13 September 2015

God is by jou

Sefanja 3 : 17  Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde.  Hy jubel en juig oor jou

As jy jou toon stamp, is dit asof jou hele liggaam toon word.  Jy vergeet van alles rondom jou en hinke-pink oral met die toon.  Jy wys en vertel vir een en almal wat met jou toon gebeur het.  Dit is asof jou toon jou liggaam word.  Jy plak dalk ‘n pleister op, vertroetel dit en kyk kort-kort daarna.

Sou iets nou gebeur wat jou aandag aftrek, gaan jy vergeet van die toon.  Dit beteken nie die toon is nie meer seer nie, maar dit is net dat jou fokus verskuif het.

Probleme sal daar altyd wees en wanneer ons, ons in die oog van die storm bevind, vergeet ons ook van alles.  Ons fokus so op daardie probleem, praat met ander daaroor en probeer ‘n oplossing daarvoor vind.  Ons hele wese word oorgeneem deur die probleem.  Ons rasionaliseer daardie probleem tot so ‘n mate dat ons daarvan oortuig is dat selfs God niks hieraan kan doen nie.

Indien ons egter ons fokus na God sou verskuif en Die Bybel lees waar ons herinner word aan al die wonderdade wat hy al gepleeg het, sal ons aandag afgelei word van ons probleem.  Dit beteken nie die probleem is weg nie, maar dat ons fokus verskuif het. 


Vandag wil ek jou terugneem na die Bybel.  Lees die teksgedeelte en onthou dit.  God is by jou.  Sy vreugde en liefde ken geen perke nie.  Deur op die probleem te fokus ontneem jy jouself van die wonder van God se almag.  Geen probleem is vir Hom te groot nie.  

Thursday 10 September 2015

Die enigste waarheid

2 Korintiërs 1 : 14  Tot nou toe het julle ons maar gedeeltelik verstaan.

Daar is mense wat nie glo dat God in staat was om die skepping in sewe dae te voltooi nie.  Party glo aan ‘n oerknal… ander glo aan evolusie… sommige rasionaliseer dit.  Dis onmoontlik om soveel in ses dae te doen, so dalk was ‘n dag destyds ‘n 100 jaar of so iets...

Noem my naief, maar ek glo aan die skepping.  Ek glo dat God die hemel en aarde en alles daarop, die see en alles daarin, die uitspatsel… die mense… alles in ses dae gemaak het en dat Hy op die sewende dag gerus het.  Maar dit maak nie sin nie, sê jy.  Jy’s reg, maar dit hoef nie sin te maak nie.  Vir my is dit genoeg dat dit in Die Byble staan.  Ja, ek weet daar is diegene wat reken dinosaurusse het soveel miljoen jare gelede bestaan en as jy die Bybel terugwerk, kom jy nie by daardie miljoene uit nie.  So what!  Ek glo eerder vir God, voor ek ‘n wetenskaplike, argeoloog of enige iemand anders glo.

Ek voel jammer vir diegene vir wie alles moet sin maak of bewys moet word.  Hulle bevraagteken alles en kan eenvoudig nie Die Bybel as waarheid aanvaar nie.  Ek het al soveel redenasies gehoor of gelees:  Dis nie moontlik dat ‘n vis ‘n mens kan insluk en die mens oorleef en uitgespoeg word nie… Dit is nie moontlik dat mense in ‘n oond gegooi word en nie eens na rook ruik nie… Indien jy na die hoeveelheid Israeliete kyk wat uit Egipte gevlug het, sou almal dit nie in ‘n dag deur die oopgekloofde see gemaak het nie… 


In hierdie lewe en vandag maak dit dalk nie sin nie, maar dit is omdat ons net gedeeltelik verstaan.  Eendag sal God alles vir ons mooi verduidelik.  Tot dan glo ek die enigste waarheid:  Die Bybel.

Wednesday 9 September 2015

Blydskap

1 Johannes 1 : 4  En ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees.

Toe ‘n groepie studente eendag hul klaskamer binnestap, lig die professor hul in dat hul ‘n onvoorbereide toets gaan skryf.  Soos altyd deel hy die toets uit, maar niemand mag dit omdraai totdat hy so sê nie.

Op die gegewe oomblik draai hul dit om.  Dit is ‘n wit folio met net ‘n swart kolletjie daarop.  Sy opdrag aan die studente is om vir hom ‘n opstel te skryf oor dit wat hul daar sien.

Die studente staar na die stuk papier en probeer verstaan wat hul sien.  Party begin langtand skryf, ander draai die papier die kant toe en dan daai kant toe en begin op die ou end ook maar skryf.  Nadat almal klaar is, neem die professor die toets in en sê dat hy dit vir hulle gaan lees. 

Party het ingewikkelde verduidelikings gegee, ander het ‘n filosofiese of wetenskaplike oogpunt gehad, maar elke enkele opstel het die swart kolletjie as middelpunt hanteer.

Die professor sê toe vir hulle:  “Weet julle wat vind ek so interessant omtrent hierdie oefening.  Nie een van julle het oor die wit papier geskryf nie.  Almal het net op die swart kolletjie gefokus.”  Hy gee so ‘n skewe glimlaggie en vra vir hulle:  “Is dit nie maar hoe ons die lewe ook benader nie?  Dit behoort makliker te wees om die groot wit papier raak te sien, eerder as die klein swart kolletjie, tog spandeer ons soveel tyd aan daardie klein swart kolletjie.  Dit het tyd geword dat ons die kolletjie ignoreer en die prag van die wit papier raaksien.”

Daarmee het hy die studente gegroet en verdaag.

Ontvang via epos

Ons lê nagte wakker oor iets wat ons, ons eggenoot, ‘n familielid of kind gedoen of gesê het, maar ons vergeet hoeveel vreugde hul ons gebring het.  Ons sien een struik in die tuin doodgaan en dink die hele tuin is besig om te vergaan.  Ons sien ‘n kas vol klere, maar dink ons het niks om aan te trek nie.  Ons mor omdat ons vroeg moet opstaan, maar vergeet hoe bevoorreg ons is om ‘n werk en familie te hê waarvoor ons kan opstaan.  Ons mor oor die prys van goedere, maar vergeet dat ons bevoorreg is om dit te kan koop.

Gaan jy van nou af op die wit papier fokus, of op daardie klein swart kolletjie?


Tuesday 8 September 2015

Sien God deur die oë van Ragab

Josua 2 : 9  en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle.

Jy sal onthou dat Joshua nou die volk die beloofde land moet inlei, maar dat hulle opstandig raak.  Hy stuur toe verkenners om te gaan kyk hoe dit daar lyk.  Die verkenners gaan by Ragab, die prostituut, tuis.
 
Intussen hoor die koning dat die verkenners in die land is en hy vra vir Ragab of hulle daar is of was.  Sy vertel ‘n leuen en sê daar was mans, maar sy weet nie wie hul was nie.  Intussen versteek sy die mans in haar dakkamer, welwetend dat die koning se manne na hulle gaan kom soek.

Die mans kruip so lank daar weg dat hul aan die slaap raak.  Sy maak hul wakker en uiter die woorde in die teksgedeelte hierbo.  Sy sê die volk is bang omdat hulle gehoor het hoe magtig hul God… die Rietsee in twee gekloof… vyande uitgewis… ens.  Dan vra sy of hul sal onthou dat sy vir hulle goed was en haar lewe sal spaar wanneer hul die land inneem.


Ons ken die verhale in die Bybel en ons het dit al heelwaarskynlik in ons eie lewens ervaar.  Hoekom kan ons God nie deur die oë van hierdie prostituut sien nie.? Sy het net gehoor van Sy almag en reeds weet sy dat Hy tot alles in staat is.  

Monday 7 September 2015

Sy engele sal jou dra

Psalm 91 : 11-12  Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.

Weet nie of dit al met jou ook gebeur het nie, maar ek het al op die snelweg gery en gedink ek wil van baan verander, maar dan is dit asof iets my keer.  As ek weer kyk is ‘n motor reg langs my wat ek sowaar nie gesien het nie.  Ek glo vas dat dit God se Engele is wat my beskerm het op daardie oomblik. 

Net so het ek al gegaan vir ‘n onderhoud en so gehoop ek kry die werk, maar helaas moes ek daardie ‘jammer maar’ oproep verwerk omdat ek nie die geskikte kandidaat was nie.    Die teleurstelling op daardie oomblik is baie erg, want ek bid immers vooraf om te weet of dit die regte ding is, vra God om saam te gaan en as dit Sy wil is, vir my die pos te laat kry.  Kort daarna vind daar personeelvermindering in daardie selfde besigheid plaas en ek besef… God en Sy Engele het my weereens beskerm.

Psalm 91 is die langste Psalm.  Dis asof God wou seker maak ons weet dat Hy omgee en ons tot die uiterste sal beskerm.  “Waarom gebeur slegte goed dan met Christene,” vra jy?  Ek wens ek het die antwoord vir jou daarop gehad.  God beloof Sy beskerming en ek het dit al male sonder tal ervaar.

My wens is dat jy dit ook al ervaar het, en nog elke dag vorentoe sal ervaar.  Jy is nêrens veiliger as by die Allerhoogste nie. 



Sunday 6 September 2015

Mans

Efesiërs 5:22 Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.

Wanneer ‘n vrou aan God onderdanig is, is jy nie Sy slaaf nie.  Dis eerder respek en vertroue en ‘n begeerte om dit te doen wat Hom sal behaag.  Dieselfde geld wanneer vrouens aan mans onderdanig is. 

Vanmiddag was ‘n man op die punt om by ons gebou in te stap, toe ek op pad uit is.  Hy’t beleefd opsy getree en vir my beduie dat ek kan uitstap.  Op pad uit, het hy my beleefd gegroet.

Waar ek my motor parkeer, moet ek vir ‘n hysbak wag.  Twee mans is voor my daar.  Hulle tree beleefd terug en beduie vir my om voor te stap. 

Dit is maar net twee voorbeelde van mans wat nog respek vir vroue het en ek weet daar is nog baie van hulle. 

Slaan jy egter deesdae ‘n tydskrif oop, word daar oor mans gekla.  Dit bekommer my, want ons skeer alle mans oor dieselfde kam, en of ons dit nou wil weet of nie, daar is baie goeie mans in die wêreld. 
Ja, ons moet diegene wat vroue leed aandoen uitwys, maar die ewige optimis in my wil glo dat hul in die minderheid is.  Daarom wil ek vroue uitnooi om die positiewe gedrag en optrede van mans aan te prys en eerder daaroor te praat as oor die negatiewe.  Dit is so dat goeie nuus selde die koerante of tydskrifte haal, maar ons hoef nie ook daartoe by te dra nie.  ‘n Positiewe omgewing gaan mans aanmoedig om nog beter teenoor vroue op te tree en kort voor lank is outydse sjarme weer aan die orde van die dag.


Thursday 3 September 2015

Jy kan!

2 Korintiërs 12 : 8 – 9  Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

Henry Herbst (19) is half blind gebore en glokoom het die res van sy sig oor die jare geeis.  Vir my as ‘n siende persoon, is dit ondenkbaar om sonder sig deur die lewe te gaan, maar vir Henry Herbst is dit glad nie ‘n probleem nie.

Hy het nie vasgehaak by sy gestremdheid nie, maar besluit dat hy alles kan doen wat enige siende persoon kan doen.  Sy selfstandigheid grens aan koppigheid volgens sy broer en hy sal net vir hulp vra as hy geen ander keuse het nie.

Hy is ‘n Paralimpiese swemmer, wat hoop op ‘n goue medalje by die Olimpiese Spele in London.  Swem?  Hoe swem ‘n blinde reguit?  Hoe weet ‘n blinde om om te draai.  Henry sien nooit ‘n probleem raak nie, maar eerder ‘n oplossing.  Sy afrigter sit gereed met ‘n stok met ‘n sponsie aan en sy tik op sy kop as hy naby genoeg is om om te draai.   Om fiks te bly, moet hy baie oefen.  As jy nie weet hy is blind nie, sal jy dit nooit dink wanneer jy hom ‘n oneindige stel trappe sien opdraf nie.

Ons raak dikwels verstrengel in ons omstandighede.  God neem nie altyd die omstandighede weg nie, maar Hy gee ons wel die nodige krag om daardeur te kom.  Niks is onmoontlik as jy erken wat jou swakheid is en jou krag by God soek nie.


“They must follow their dreams. If you want something, work on it. Don’t let anyone tell you you can’t do it.” Henry Herbst

Wednesday 2 September 2015

Rus

Psalm 62 : 2 Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.

Wat maak jou onrustig?  Party van ons gaan haal die bobbejaan agter die berg. 

Dalk bekommer jy jou oor jou aftrede… Gaan jy genoeg geld hê?  Gaan jy gesond wees?  Gaan jou kinders by jou staan?

Of jy bekommer jou dalk juis oor jou kinders.  Miskien is hul werkloos en jy bekommer jou dus oor hul finansies en toekoms.

Jou eie veiligheid is dalk vir jou ‘n bekommernis in ‘n land waar daar soveel misdaad gepleeg word.

Dalk is jou gesondheid besig om agteruit te gaan… of jou eggenoot s’n…

Eerstens, onthou dat slegs 10% van dit waaroor ons bekommerd is, wel gebeur.  Met ander woorde, 90% van jou bekommernis is heeltemal onnodig!  Wat ‘n vermorsing van kosbare tyd; selfs verlore slaap. 

Probeer van vandag af om jou nie meer te bekommer nie.   ‘n Goeie begin is om jouself af te vra of jy enige iets aan die situasie kan verander.  Deur jou byvoorbeeld te bekommer dat dit gaan reën tydens ‘n uitstappie is nutteloos, want jy het geen beheer daaroor nie.  Jy kan wel ‘n sambreel saamneem.


Daardie kosbare tyd kan eerder gebruik word om God se Woord te bestudeer en kosbare beloftes daar te vind soos hierbo.  Vind rus vir jou onstuimige gemoed by God.  Geen probleem is vir Hom te groot nie.

Tuesday 1 September 2015

Tree vorentoe

Eksodus 14:16  En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan.

Moses moes God blindelings vertrou en hy moes die Israeliete oortuig dat God hul nie in die steek sou laat nie.  Met die Egiptenare op hul hakke vlug die Israeliete reguit in die rigting van die Rooisee.  Sou jy dit kon doen?  Sou jy nie dalk gewonder het of Moses nou al sy varkies verloor het nie?  Dalk sou jy sommer agtergebly het.

God het ook nie solank die water in twee gekloof alhoewel Hy moes weet dat die Israeliete op pad is.  Moses moes eers sy kierie lig en sy hand oor die see uitsteek.

Soms wil ons nie daardie tree in geloof gee nie.  Ons wil bid en wag vir God om die water te kloof.  Ons verwag dat God eers alles in plek kry en dan sal ons vorentoe tree.  As dit so sou werk, sou geloof nutteloos gewees het.  Geloof beteken mos juis om te glo dit wat jy nie kan sien… of dit wat glad nie sin maak nie.  God verwag van ons om teen alle logika in op Hom te vertrou. 

Die Israeliete moes Moses en God vertrou, al het dit nie sin gemaak nie.  Alhoewel die Israeliete dit nie geweet het nie, het God hul wel beskerm terwyl hul vlug.  In vers 19 lees ons:   Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem.  Tussen hulle en die Egiptenare was ‘n Engel van God.  Niks en niemand sou hul tenakom nie.

Al lyk dit vir jou asof jy die volgende tree blindelings moet neem, weet dat God se Engel daar is om jou te beskerm en dat jy op Hom kan vertrou as jy daardie tree in geloof gee.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...