Sunday 29 November 2015

Hardloop voluit

1 Korintiers 9:26  Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie

Die matriek eksamen is verby.  Hoe het jy gevaar?  Het jy al die tyd tot jou beskikking behoorlik gebruik om jou voor te berei?  Of was dit moeilik om op jou boeke te fokus.  Dit is nooit lekker nie.  Jy wil ook televisie kyk of saam met jou maats tyd deurbring. 

Eksamentyd is maar ‘n kort rukkie van opoffering.  Indien jy gedurende daardie paar weke alles insit, sal jy kommerloos op die uitslae kan wag.  Jy sal weet dat jy jou bes gedoen het.  Dit gaan nie daaroor hoe slim of minder slim jy is nie, dit gaan wel daaroor dat jy dit bereik waartoe jy in staat is.

Indien jy die tyd wel benut het, gaan jy die vrugte pluk.  Ek hoop dat jy geen berou het nie.  Die punte wat jy in matriek behaal, is iets wat jy vir die res van jou lewe op CV’s moet aandui.  Elke potensiele werkgewer gaan daarna kyk.


Mag jy die rustydjie behoorlik benut en mag jou toekomsplanne in plek val.  Mag geluk en sukses jou vergesel waar jy ookal gaan.

Thursday 26 November 2015

Versterk my

Jesaja 40 : 29  Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie

Voel jy dalk asof jy jouself in ‘n hoekie ingeverf het?  Dink jy dit is onmoontlik om uit jou situasie te kom?  Dis nie moeilik om so te voel nie.  Rondom ons val die lewe uitmekaar.  Wat ons egter vergeet, is dat God binne hoorafstand is.  Al wat ek en jy moet doen, is om uit te roep na Hom:   “Here, help my!  Ek kan nie meer nie!”  

In plaas daarvan om ons mismoedigheid teenoor God te erken, uiter ons dit meeste van tyd sommer net in die algemeen teenoor vriende, familie, kennisse... maar wat van teenoor God!  

Dit maak nie saak hoe groot of onoorkombaar die struikelblok voor jou lyk nie.  Roep uit tot God.  Vertel Hom hoe mismoedig en uitgeput jy is.  Laat Hy weet hoe uitgeput na liggaam en gees jy is.  Vra Hom om in te gryp en oor te neem.  Dit is wanneer jy sal voel hoe sy krag jou verfris en vernuwe. 

Om jou swakheid teenoor God te erken beteken nie dat jy pateties is nie.  Dit beteken dat jy weet waar jou krag vandaan kom.

Wednesday 25 November 2015

Loof Hom te alle tye

Psalm 145 : 2  Elke dag wil ek U loof, ek wil u Naam altyd prys.

Dit is amper outomaties om God te wil loof en prys wanneer dit goed gaan.  Wat die hart van vol is, loop die mond immers van oor.  Maar wat maak ons wanneer ons lewensboodjie besig is om te sink?

Terwyl die Titanic besig is om te sink weerklink sirenes oorverdowend terwyl aankondigings oor megafone mense aanmoedig om kalm te bly… of hul vra om ordelik aan te tree vir die paar reddingsbootjies…  Pandemonium heers terwyl mense  heen en weer hardloop op soek na geliefdes of reddingsbaadjies.  Te midde van al die chaos, staan die orkes kalm en speel.   Saam met die Titanic, het die orkes ook ‘n watergraf tegemoet gegaan.

Miskien is die antwoord dat hulle daarop gefokus het om God te loof, eerder as om paniekbevange te raak.  Miskien het hul geweet waarheen hul op pad was.  Ek glo dat hul daardie vrede ervaar het wat absolute verstand te bowe gaan.  Hoe anders sou hul daar kon bly staan en musiek maak?

Ek wil jou aanmoedig om God ook te loof te midde van dit wat jy deurgaan.

Tuesday 24 November 2015

Zeus

 Jesaja 48 : 13  Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê, deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei

Voel jy ook of jy die hele wereld op jou skouers rus?  Buiten jou eie probleme, dra jy ook swaar aan jou kinders en/of ouers se probleme.  Net soos jy dink jy kan asemskep, tref die volgende hou jou.  Dalk het jy ook nog probleme met jou motor, skoonouers, finansies, ‘n lekkende dak, wankelende verhoudings… die moontlikhede is net so legio soos jou probleme.

In New York, by die Rockefeller Sentrum, is daar ‘n brons standbeeld van die griekse god, Zeus, wat ‘n aardbol op sy skouers balanseer.  Zeus is gespierd, maar dit lyk amper asof hy beur en steier om die beeld omhoog te hou.

In teenstelling met hierdie beeld, dink ek aan die liedjie:  “He holds the whole world in His hands…” 

Interessant dat die St Patrick’s Katedraal oorkant die straat van hierdie beeld staan.  Binne die katedraal is daar ‘n uitbeelding van die geboorte van Jesus… die een wat gekom het om al ons probleme en sondes op Hom te neem.

Ek en jy wil die wereld en al sy probleme op ons skouers laai, terwyl God dit in Sy twee hande vashou.  Daar is geen rede hoekom ons so moet ‘suffer’ nie.  God wat die heelal geskep het, hou hierdie bolletjie waarop ek en jy woon in die holte van Sy hand.  Hy kreun, beur en steier nie onder die gewig daarvan nie.  Hy is ten volle in beheer van alles.  Een beweging van Sy hand en alles verander.

Laat ons nie op ons eie kragte staatmaak of probeer om Zeus te wees nie, maar ons swakheid en afhanklikheid van God erken en Hom vra om oor te neem.  Hy is heeltemal in staat om daardie las van jou te dra.

Monday 23 November 2015

Oorwinning

2 Korintiers 2 : 14  Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus.

In ander se oë is jy dalk ‘n verloorder.  Hulle kyk neer op jou en party verlekker hul selfs in jou huidige situasie.  Miskien voel jy selfs of jy dit verdien waardeur jy op die oomblik gaan.

Jesus het eendag ‘n groep mense uitgedaag om die eerste klip te gooi as hul sonder sonde is.  Een na die ander moes hul wegdraai.  Niemand is sonder sonde nie.  Elkeen reken seker maar sy of haar sonde is nie so groot soos ander s’n nie.  Sonde bly egter sonde. 

God se beloftes lei ons altyd na oorwinning.  Wat dit beteken is dat dit nie saak maak waar jy jou tans bevind, wat ander sê of hoe desperaat jou situasie is nie… by God is daar altyd uitkoms.  So jy hoef nie op ‘n hopie te sit en jouself wys te maak dat daar geen uitkoms is nie.  Of jy werkloos is, jou eggenoot jou verlaat het, jy jou besigheid verloor het, jou kinders jou versaak het, jy jouself in ‘n diep depressiewe put bevind… daar is hoop.   Ons glo so maklik wat daardie listige stemmetjie ons wysmaak of wat koerante of ander mense se.  Hoekom glo ons nie so maklik wat God sê nie?    

Al is jy hoe platgeslaan, staan vandag op en sit jou geloof in aksie.  Indien jy in die hospitaal is, glo dat dit nie einde is nie.  Indien jy jou spaargeld verloor het, sien hoe jy weer van vooraf begin en selfs meer maak as wat jy ooit vantevore gehad het.  Ander sê jy is te oud, maar jy gaan binnekort ‘n gesogte pos losslaan.  Hoe meer onmoontlik jou situasie, hoe groter die kans op ‘n wonderwerk. 

Jy sien, ons dien nie ‘n God van gemiddeldes nie, maar wel ‘n God van wonders.  In Moses se hande is sy kierie net ‘n stok… in God se hande het dit die mag om water uit ‘n rots te laat vloei.  Sit jou situasie in God se hand, want Hy wil jou daaruit bevry en na oorwinning lei.

Sunday 22 November 2015

Welkom Disa FM 95.9

Matteus 14:31 Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Junie 2013 het ek met jou gedeel dat ek die geleentheid het om weer uit te saai… vir Radio Disa, ‘n internet radiostasie. 

Om aansoek te doen vir ‘n frekwensie in Suid-Afrika, is nie maklik nie.  Om aansoek te doen vir ‘n frekwensie om ‘n Christelike radiostasie te bedryf, is ‘n seker resep vir teenstand.  As jy so lank wag en soveel terugslae beleef, soos wat die Radio Disaspan die afgelope 29 maande beleef het, dan is dit maklik om te begin twyfel en te wonder of dit ooit gaan realiseer.

Die lisensie is op die ou end goedgekeur en ook daardie goeie nuus het ek met jou gedeel in Mei vanjaar, maar satan is listig en wou nie sommer bes gee nie.  God is egter magtiger as enige ander mag of krag en wanneer Hy voorstap, skei die waters in twee en stap jy droogvoets deur.

Op 23 November om 10h00 die oggend, gaan Disa FM 95.9 op die lug.  Ons uitsaaigebied is die Overberg, maar omdat ons toring op Sir Lowry’s pas staan, sal dit heel moontlik wees om ons in die Kaapse Skiereiland op te vang.

Radio is ‘n kragtige medium!  Hoeveel te meer as dit aangewend word om siele te red!  Die leuse van Disa FM 95.9  is:  “We unashamably proclaim Christ”.  Dit gaan nie om ons nie… dit gaan om God. 


Jesus wil jou ook vandag vasgryp en vra:  “Kleingelowige, hoekom twyfel jy?”  As ek dit vir Disa FM kan doen, dink net wat ek vir jou kan doen!

Thursday 19 November 2015

Bly in my

Johannes 15 : 7  As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

Hierdie tyd van die jaar is mense gewoonlik op hul laaste bene.  Dit voel asof die jaar eenvoudig te lank was en net nie einde kry nie.  Alles en almal irriteer jou en jy’s oor sensitief.

Sien dit as ‘n tyd waartydens jou karakter ontwikkel word en ‘n geleentheid om te groei in geloof.  Ons kan maklik in die omstandighede vasgevang raak, maar die toets is om gefokus te bly.  Al voel dit ook of jy twee tree vorentoe en drie teruggee, moenie moed verloor nie. 

As julle in my bly en my woorde in julle… die woordjie ‘bly’, dui op vastigheid… om nie te wankel nie.  Fokus op God.  Mediteer op Sy woord.  Hy sal jou deurdra na ‘n plek van kalmte. 

Dit verg getrouheid en onwrikbare geloof van ons.  Wanneer ons bly glo, bly vertrou, bly vashou, kan God sien dat ons op Hom vertrou. 

Moenie nou moed opgee nie.  Studeer hard… maak daardie afsprake…  maak klaar wat jy moet klaarmaak.  Die einde is in sig.  Kort voor lank breek daardie welverdiende ruskansie aan.

Wednesday 18 November 2015

Genadegawes

Romeine 12 : 6  Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.

Die sleutel tot ‘n gelukkige, vervulde lewe, is eintlik eenvoudig.  Wees net die mens wat God bedoel het jy moet wees.   God het so ‘n unieke plan met elkeen van ons dat Hy verskillende genadegawes vir elkeen van ons gegee het. 

Jy hoef nie iemand anders te wees, of soos iemand anders te wees nie.  Ons kan nie almal vir die Springbokke speel nie… ons kan nie almal die baas wees nie, maar ons kan wees wie God wil hê ons moet wees.  Wanneer jy jouself is, kom daardie genadegawes na vore en vind jy wie God jou bestem het om te wees. 

Soms mors ons soveel  tyd omdat ons probeer om iemand anders te wees.  Ons gee voor en probeer mense beindruk, maar dit is nie volhoubaar nie.  In die proses raak ons diep ongelukkig en mis ons uit op ‘n gelukkige lewe.

Raak rustig en spandeer tyd met God sodat jy jouself en jou unieke genadegawes kan leer ken.  Wanneer jy in harmonie met God se wil vir jou lewe is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

Tuesday 17 November 2015

Skaam jy jou vir God?


Markus 8:38  Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Vanoggend hoor ek op die nuus van ‘n busbestuurder wat sy werk verloor het omdat hy gebid het.

Lees jy die artikel op News 24, sien jy dat Jerome Rose homself beskryf as eerstens ‘n Christen en dan ‘n busbestuurder.  Hy werk vir die MyCiti busdiens in Kaapstad.

Hy het ‘n gebed van slegs 30 sekondes gebid alvorens hy sou vertrek.  “I pray to thank God for allowing us to see another day and for Him to bless our journey”. ‘n Passassier wat aanstoot geneem het, het hom gaan rapporteer.  Regtig! 

Hy het ‘n skriftelike waarskuwing gekry, maar voortgegaan om te bid.  ‘n Mede-kollega het hom met sy selfoon opgeneem terwyl hy bid en die video aan bestuur gaan wys.  Na nog twee waarskuwings, en ‘n dissiplinêre verhoor, is hy van sy pligte onthef. 

Wat word van die mensdom?  Ek dog ons woon in ‘n land waar jy vry is om jou Godsdiens uit te leef!  Wat dit selfs meer hartseer maak, is die toewyding van Jerome.  Hy woon eintlik in Pniel, naby Stellenbosch, maar hy’t net een maal per maand huis toe gegaan sodat hy in Atlantis, naby sy werk kon wees.

Ek het onbeskryflike bewondering vir hierdie man met sulke vaste beginsels.  Volgens hom is dit nie die ergste dat hy werkloos is nie, want “God het groter planne vir hom.”

Hoeveel van ons staan onbeskaamd vir God op?  Laat Jerome Rose vir jou en my ‘n voorbeeld wees en ons, ons laat lei deur Markus 8:38. 

Ons het meer mense nodig om te bid – oop en bloot – al kos dit jou, jou werk.  Mag ek jou ook vra om saam met my te bid dat God homself deur Jerome se omstandighede sal openbaar.  Ek kan nie vir een oomblik dink dat God hom in die steek sal laat nie.

Monday 16 November 2015

Maak toe die deur

Joël 2 : 25  Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het.

Jy kan losbreek van die verlede.  Die pyn of hartseer wat jou gevange hou, definieer jou dalk tot nou toe, maar dit hoef nie saam met jou die toekoms in te gaan nie. 

Net soos ‘n swerm sprinkane landerye vernietig, vernietig gedagtes aan die verlede jou kanse op ‘n sorgvrye toekoms. 

God wil jou veel meer teruggee as wat jy verloor het.  Al die jare wat jy in die verlede vasgehaak het… al die trane… al die ure wat jy oor die verlede bly tob het… God wil dit teruggee en meer.  Hy wil vir jou ‘n toekoms gee, gevul met vreugde en blydskap. 

Sien al die pyn voor jou geestesoog in ‘n kamer.  Jy staan by die deur en vandag gaan jy daardie deur vir eens en vir altyd toemaak, omdraai en wegstap.  Die verlede en al sy pyn bly toegesluit die oomblik wat daardie deur toeklik.

Buite daardie deur is ‘n nuwe lewe, vol lig en ‘n liefdevolle God.   Die verlede is vergete en die toekoms wink vir jou. 


Sunday 15 November 2015

Paaie

Psalm 16 : 7 – 8 Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.  Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.

Paaie is ‘n wonderlike analogie vir menswees. 

Op ons lewensreis, neem ons verskillende paaie.  Soms beland ons in ‘n doodloopstraat… ander kere bereik ons t-aansluitings of kruisings.  Waarheen nou?  Watter kant toe?   Soms beland ons in ‘n verkeersknoop waar ons gefrustreerd raak en lank sit en wag.  Partykeer is ons op die hoofroetes en soms neem ons agterpaadjies.   

Die paaie is ook nie almal gelyk nie.  Sommige is styl en ander vervelig reguit.  Dan is daar slaggate wat ons teëkom en soms beland ons op ‘n ruwe grondpad.

Niemand vat ‘n pad net om iewers te gaan stilhou nie.  Jy bly beweeg.  Die lewe vereis dieselfde van jou.  Moenie op een plek stagneer nie.  Beweeg aan. 

Paaie is nie die enigste plek waar ons soos Carrie Underwood vra “Jesus take the wheel” nie.  Ook in ons daaglikse bestaan, moet ons God vra om beheer van ons lewens te neem.  Laat God jou dag en nag lei en leer.

Wednesday 11 November 2015

Water

2 Konings 3:17  Kyk, so sê die Here: Julle sal nie wind of reën sien nie, en tog sal hierdie vallei vol water word, sodat julle en julle slagvee en julle pakdiere kan drink.

Daar word al lank voorspel dat die volgende groot oorlog oor water sal gaan… en nou het dit ‘n realiteit geword.  Gistermiddag hoor ek dat tienerseuns ‘n jong seun met klippe doodgegooi het wat nie vir hulle van die water wat hy by die rivier gaan haal het wou gee nie.

Groot dele van ons land gaan gebuk onder ontsettende hitte en watertekorte.  Kwa-Zulu Natal is tot rampgebied verklaar.   ‘Water shedding’ is die nuutste woord in ons woordeskat.  Johannesburg is al drie dae sonder water, nie omdat dit soseer droog is nie, maar omdat daar eenvoudig te veel water gebruik word.   Ten spyte hiervan, besef mense steeds nie hoe kosbaar water is nie.  Ons het tot nou toe redelik onverantwoordelik met water omgegaan.  Die feit dat daar water uit ‘n kraan om, beteken nie dat dit vir altyd so sal wees nie.

Ek het onlangs ‘n opmerking by die werk gemaak dat mense minder water moet drink omdat water so skaars is, waarop ‘n kollega geantwoord het:  “Dit is hoekom ons water koop.”  My stelling mag jou dalk laat frons, terwyl my kollega se antwoord jou mag laat lag.  Hoe dit ookal sy, dit bly ‘n ernstige saak.  Agt glase water word blykbaar aanbeveel… en hoe meer water jy drink, hoe makliker verloor jy gewig.  Nadat jy water gedrink het, moet jy noodgedwonge ‘n draai loop en die toilet spoel… met water wat letterlik ‘down the drain’ gaan.  Maak dit sin?

Water is nodig om te oorleef.  Diere staan in die bloedige son sonder water terwyl ons water mors.  Weet jy hoe ‘n uitgeteerde dier daardie water wat in die toilet afgespoel word sou opslurp?  Is dit werklik nodig om jou swembad vol te maak of jou motor te was ofjou tuin nat te maak? 

Net God kan water voorsien – dit kom nie uit ‘n winkel of bottels nie. 


Gister het ‘n groep mense  reeds by die Uniegebou saamgetrek om te bid vir reen.  Eerskomende Sondag gaan alle kerke ‘n biddag vir reen hou.  Net soos wat God vir die volk water uit die niet laat kom het, kan hy ook buite ‘n reenseisoen water vir ons gee.  Laat ons kniel voor ons Almagtige God en ons verootmoedig.  “Vader, U alleen kan uitkoms bied vir mens en dier.”

Tuesday 10 November 2015

Hoe word ek gered?

Romeine 10 : 9  As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

Wanneer ons afsterf, is dit die einde van ons vleeslike liggaam en bestaan.  Verskillende gelowe het verskillende sienings oor wat daarna gebeur.  Wat dink jy gebeur dan?

God gee vir elkeen wat die geleentheid wil aangryp ‘n wonderlike belofte.  Bely dat Jesus die Here is en glo met jou hele hart dat Jesus die dood oorwin het.  As jy dit sonder voorbehoud kan doen, swaai die hemel se poorte vir jou oop. 

Tog is daar steeds diegene wat glo dat hul nie goed genoeg is om eendag hemel toe te gaan nie.  Dalk voel jy ook so.  Dalk bly jy vashaak by jou sondige verlede en glo dat God jou as gevolg daarvan nooit ‘n kans sal gee nie.

Jy pynig jouself so onnodig.  Hierdie is nie ‘n eksklusiewe uitnodiging nie.  Dit is daar vir enige iemand wat die sleutel tot die ewige lewe wil aanvaar.  Die keuse is joune.

Monday 9 November 2015

Onregverdigheid

Levitikus 19:15  “Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie

In ‘n onlangse uitgawe van Huisgenoot lees ek een van die hartseerste ware verhale wat ek al ooit gelees het. 

Jare gelede het ‘n gesinslid haar suster in ‘n gestig laat opneem omdat sy swanger geraak het by ‘n plaaswerker.  Volgens hierdie gesinslid het sy dit gedoen omdat haar pa die vrou sou doodslaan as hy sou uitvind van die swangerskap.  Dit het weliswaar in die veertigs gebeur, toe buite egtelike swankerskappe ongehoord was, wat nog te sê oor die kleurgrens heen.  Omdat die vrou reeds 38 en geskei was, wou geen tehuis vir ongehude moeders haar inneem nie.  Die gesinslid het toe die plaaslike dokter oortuig om haar as geestessiek te sertifiseer.

Regverdig dit die daad?  Verseker nie. Gaan dit enigsins aan die situasie verander?  Ongelukkig nie.  Die arme vrou het jare lank in ‘n gestig vir verstandelik gestremdes deurgebring.  In die laat negentigs het die regering van hierdie mense ‘vrygelaat’ omdat hul op hul eie kon funksioneer.  Geen familielid wou haar inneem nie en sy’t haar laaste jare in ‘n vensterlose kamertjie met haar enigste vriendin uit die gestig deurgebring.

Ons kan nie oordeel nie, want ons ken nie die volle verhaal nie, maar ek wonder tog:  “Hoe kan een mens oor ‘n ander se toekoms besluit en daardie persoon se hele toekoms vernietig?”  Die baba is aangeneem en ook sy lewe is onherroeplik beinvloed. 

Een ding weet ek… dat die lewe nie regverdig is nie en dat geregtigheid nie altyd geskied nie.  Hierdie vrou is oorlede sonder dat enige van die familie ooit hul aandeel in die ontsporing van haar lewe erken het nie.

Soms dink ons dat dit wat ons doen die beste is, maar ons besef nie altyd die omvang van ons dade nie.  Niemand het die reg om iemand van hul toekoms en drome te ontneem nie.  

Sunday 8 November 2015

God gaan vir jou deurkom

1 Kronieke 14 : 11  “God het my vyande met my hand gekloof soos water 'n wal kloof!” Dit is waarom hulle daardie plek Grootkloof noem."

In hierdie hoofstuk staar Dawid die onmoontlike in die gesig.  Hy en sy manne moet teen ‘n reuse mag Fillistyne gaan baklei.  Hierdie was anders as toe hy teen Goliat te staan gekom het.  Op die oog af het Dawid se klein groepie manne nie ‘n kans gestaan teen die oormag Fillistyne nie.  Al wat Dawid gehad het was ‘n belofte van God om saam met hulle te gaan. 

Plaas jouself in Dawid se skoene.  Jy is oor vyftig en jy doen aansoek vir werk.  Wat is die kans dat jy daardie pos gaan kry?  Volgens jou bankrekening het jy minder as R100 vir die maand oor.  Hoe op dees aarde kan jy ‘n familie onderhou vir die res van die maand?  Die eienaar van die huis waarin jy woon het vir julle kennis gegee en jy het nêrens om heen te gaan terwyl die einde van die maand nader kruip.  En God verwag jy moet bly glo dat Hy die pad saam met jou stap!  Wat help dit as tyd besig is om uit te hardloop?

Die verskil tussen jou/my en Dawid is dat Dawid God onvoorwaardelik vertrou het.  

Met ‘n ooglopende minderheid, en God se belofte, het Dawid die Fillistyne aangeval… en as oorwinnaar uitgetree.  Ek en jy gee op nog voor ons daardie oormag aangedurf het.  God verwag van ons om te vertrou…teen alle logika in.

Soos God vir Dawid deurgekom het, sal hy ook vir jou deurkom.  Glo… vertrou… moenie moed opgee of dink dit is onmoontlik nie. 

Here, rig asseblief my voetstappe… versterk my geloof terwyl ek die onmoontlike vreemde aandurf.



Thursday 5 November 2015

Jou liggaam is 'n tempel

1 Korintiërs 6:19  Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie?

Daar is gereeld artikels in tydskrifte oor mense met baie ernstige siektes.  Aan die een kant raak dit jou en aan die ander kant dank jy God dat dit nie jy is nie.

‘n Rukkie gelede het ek ‘n erge maagvirus gehad.  Vir slaap was daar bitter min tyd.  Nadat ek oor die toilet gehang het, het ek kouekoors gehad en dankbaar in die bed neergeval.  Binne minute het ek weer die duvet eenkant toe gegooi van hitte en kort daarna weer gehardloop.  Voor ek gaan slaap het, het ek niks makeer nie en soos meeste mense nie besef hoe kosbaar my gesondheid is nie. 

Meeste van ons aanvaar ons gesondheid as vanselfsprekend.  Niemand weet egter wat die toekoms vir ons inhou nie.  Sport, sigarette, losse sedes, drank, ooreet… eendag betaal ons die prys vir daardie onbesonne leefstyl.  Ja, ons lewe net een maal en wil dit tog geniet, maar sou ons dit steeds gedoen het as ons geweet het wat die prys sou wees wat ons eendag moet betaal?

Nie almal raak siek as gevolg van hul eie optrede nie.  Soms is dit in jou gene of tref dit jou eenvoudig uit die bloute. 


Ek glo vas in God se vermoë om te genees.  Jesus het soveel mense genees terwyl hy hier op aarde was.  Moenie ophou bid en God vertrou om jou te genees nie.  Bring egter ook jou kant deur jou liggaam te respekteer en met sorg te hanteer.  

Wednesday 4 November 2015

Om te plant

1 Korintiers 3 : 7  Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.

Ywerige tuiniers sal weet dat jy die grond kan voorberei met die beste bemesting, maar as jy nie  natmaak nadat jy geplant het nie, is al jou harde werk verniet.  Dus woeker ons met die grond, maak nat, spuit plaagdoders en as ons gelukkig is, is daar iets om te oes.  Daar is niks lekkerder as om jou eie groente of vrugte te oes nie. 

Min besef ons dat daar niks sou wees om te oes as God nie by die groeiproses betrokke was nie.  Jy sien, as ek en jy ons kant bring, sal God ook Sy kant bring.  Geen boer sal ‘n enkele graankorrel oes as hy op die stoep bly sit nie.  Geen boer sal egter ‘n wingerd in die middel van ‘n woestyn aanle nie. Jy plant dit wat aard in die omgewing.  Solank ons binne God se wil bly, sal ons sukses behaal. 


“Make sure you are doing what God wants you to do--then do it with all your strength.” ― George Washington

Tuesday 3 November 2015

Aborsie

Eksodus 20:13  “Jy mag nie moord pleeg nie.

Vanmiddag tref ‘n plakkaat teen ‘n lamppaal my aandag.  Abortions, same day, painless…

Ek kan nie oordeel as iemand ‘n aborsie oorweeg of ondergaan het nie.  Almal se omstandighede is verskillend en iemand wat wel op daardie punt kom, moet absoluut desperaat wees.  Vir so iemand moet dit na die enigste uitweg lyk. 

Deur absolute genade hoef ek nooit so ‘n besluit te geneem het nie.  Ek het wel ‘n miskraam gehad.  Die fisiese pyn van ‘n miskraam is niks in vergelyking met die lewenslange pyn daarna nie.  Die gemis gaan nooit weg nie.  Sestien jaar later dink ek steeds aan die mensie wat nooit ‘n kans op lewe gehad het nie.

Hoe kan enige iemand aborsie as pynloos adverteer?  Ek kan nie dink dat die emosionele pyn ooit sal weggaan nie.  Wat as jy dit berou? 

Indien jy dalk daardie moeilike besluit moet neem, wil ek jou aanmoedig om ander opsies te oorweeg.  Ek is seker daarvan daar is ‘n kinderlose paartjie wat jou babatjie met liefde sal oorlaai.

Niks kan so erg wees dat jy ‘n mens se lewe kan neem nie.  Moenie dat iemand jou vertel dat die fetus nog nie ‘n mens is nie.  God het daardie mensie in jou moederskoot gevorm en hy/sy is kosbaar.



Monday 2 November 2015

Kalmte

Soms kom daar tye in jou lewe dat dit voel asof jy jouself in die een muur na die ander vasloop.  

Frustrasievlakke loop hoog en jy moet jouself keer om nie te gil as nog iets verkeerd gaan nie.  Party mense sal seker se:  “welcome to my world.”

Miskien gee Henry Ford se aanhaling jou ‘n bietjie perspektief:  “When everything seems to be going against you, remember that the airplane takes off against the wind, not with it…” –

Genadiglik gaan alles verby.  As jy al gevlieg het, sal jy weet dat die opstyg en landing eintlik die enigste tyd is wat jy weet dat jy ‘vlieg’.  As die vliegtuig eers in die lug is, is dit amper vervelig stil, behalwe as jy ‘n bietjie turbulensie ervaar.


Blykbaar is die gevaarlikste tyd van enige vlug, juis die opstyg en landing.  ‘n Vlieenier vertrou op hul kennis, instrumente en beheertoring om hul en die passassiers se veiligheid te verseker.  Ek glo dat hul seker elke keer ‘n sug van verligting slaak as alles volgens plan verloop het.  Ek en jy weet waar ons kalmte kan vind te midde van ons eie storms.   Psalm 131 : 2  Ek het rus en kalmte gevind.

Sunday 1 November 2015

Egskeiding

Maleagi 2:16   Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

‘n Familielid se vrou het hom so ‘n ruk gelede verlaat, kinders en al.  Sy’t na ‘n ander provinsie verhuis.  Dit was nie lank nie, of sy is terug en kontak hom.  Sy soebat hom om vir haar en die kinders ‘n dak oor hul koppe te gee… op haar voorwaardes… sy wil haar eie kamer hê en kom en gaan soos sy wil.   

Hy dink aan die kinders en neem haar terug.  Sy lewe raak ‘n lang uitgerekte nagmerrie.  Sy tart hom totdat hy soos enige mens dinge kwytraak wat hy nie moes nie.  Die hartseer is dat sy dit op haar selfoon opneem en daarmee na die hof gaan waar sy ‘n interdik a.g.v. verbale mishandeling teen hom kry.  Op ‘n Vrydagaand daag die polisie op en ten aanskoue van sy kinders word hy versoek om die huis te verlaat.  Die oudste kind soebat dat hul pa net die aand ten minste in die huis kan slaap.  Sy stem in, maar vroeg Saterdagaand, nadat sy heel dag uit was, is die polisie daar en word hy versoek om die sleutels te oorhandig en sy eie huis te verlaat, of hy word in hegtenis geneem.  Sy het die hof en die polisie oortuig dat die huurkontrak deur hul albei onderteken is terwyl dit slegs in die man se naam is.  Dit terwyl sy nooit ‘n sent bygedra het nie.

Misdaad teen vroue en kinders in ons land geniet baie aandag en ek praat dit nie vir een oomblik goed nie, maar wanneer ‘n vrou die stelsel in haar guns misbruik, moet jy daaroor begin wonder.  Vir my bly die vraag:  “Hoe kan hierdie vrou vanaand haar kop neerlê, wel wetend dat sy die pa van haar kind uit sy eie huis gesit het?”  Terloops net een van die kinders is syne.  Die ander is ‘n vorige eggenoot se kind wat hy aangeneem het as sy eie.  Terwyl die vrou naweke die kinders in sy sorg laat en by ander mans slaap, het hy net ‘n week gelede nog vir die kind ‘n nuwe selfoonkontrak uitgeneem. 

Egskeiding is niks anders as geweld… en die keer is dit nie geweld teenoor die vrou of kinders nie.


Vandag wil ek jou uitnooi om saam met my te bid vir hierdie man, vrou en kinders sowel as enige ander persoon wat deur soortgelyke hartseer gaan.  Daar is geen wenners nie.  Hulle is almal uitgelewer aan satan se lis.  Net God kan hier ingryp en vrede bewerkstellig.  

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...