Thursday 29 January 2015

Gelowige ouers

1 Tessalonisense 5 : 18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

Royden Groenemeyer het in sy 18 jaar al meer kere by die dood omgedraai as wat sy ma wil onthou. Van twee-jarige ouderdom was hy in en uit hospitale. Dokters kon nie met sekerheid vasstel wat die oorsaak vir sy ineenstortings was nie. Een keer was hy vir drie maande in 'n koma en wou die dokters sy ouers oorreed om toestemming te gee om die masjiene af te skakel, maar hul het geweier. Een aand het hul besluit om saam met vriende deurnag te bid. Die volgende oggend het die dokter geskakel om te laat weet Royden het uit sy koma ontwaak. 

Op 'n stadium het hy 'n kanker gewas gehad en bestraling ondergaan. Toe sy ouers sy lyding aanskou, het hul besluit om die behandelings te laat staak. Alhoewel dokters gereken het hul teken sy doodsvonnis, het daar weereens 'n wonderwerk gebeur, want opvolg toetse het bewys hy is kankervry. 

Royden het egter nie ongeskonde hierdeur gekom nie en moes 'n spesiale skool bywoon omdat hy swaar geloop het en ook 'n spraakgebrek gehad het, maar ook hier het hy geseëvier, want vandag is hy die trotse eienaar van 'n senior fase-sertifikaat, die ekwivalent van 'n matrieksertifikaat vir gestremdes.

Hy is tegnies aangelê en hoop om 'n entrepreneur te word en ek glo ook hier sal hy sukses behaal, want Royden beskik oor 'n geheime wapen, gelowige ouers wat nooit ophou bid vir hul kind nie. Ten spyte van dokters se bedenkinge, ten spyte van liggaamlike gestremdheid, ten spyte daarvan dat hy 'anders' is, het hy almal verkeerd bewys, met genade van Bo.

So as jy vandag mismoedig is, lees weer die gedeelte oor Royden. Laat toe dat sy sukses jou motiveer om ook vas te byt. Niks is onmoontlik as jy jou kop daarop sit en op God vertrou nie. Gebed is kragtig. (met erkenning aan Kuier)

Wednesday 28 January 2015

Die regte woorde

Jesaja 50 : 4 Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister.

Daar gaan verseker nie 'n dag verby dat jy nie iemand teëkom wat hul hart teenoor jou oopmaak nie. Soms net op 'n skrefie, maar partykeer sommer wawyd oop. Die lewe druk van alle kante. Ons almal voel die druk van prysstygings, werksdruk, politieke onstabiliteit, ens. Die vraag is egter hoe jy daardie geleentheid hanteer?

Soms spreek jy jou kommer oor iets uit, en dan is die reaksie nie die simpatieke oor waarop jy gehoop het nie. Inteendeel, die luisteraar sluit eenvoudig by jou punt aan en neem dit verder. Bygesê, luister is 'n kuns. Alvorens jy volgende keer die storie verder vat, praat eerder die persoon moed in. Dit sal so verfrissend wees as jy nie ook gal braak nie, maar eerder 'n positiewe opmerking maak wat die persoon hoop sal gee. Ons val so maklik in die lokval van saamkla en negatiwiteit. Onthou negatiwiteit kweek negatiwiteit. 

Wanneer jy God vra om jou te leer luister, sal jy binnekort baie gewild wees, want dis eintlik die klaer se grootste behoefte... om gehoor te word... om daarvan verseker te word dat dinge nie so erg is as wat hy of sy dink nie. Positiwiteit is net so aansteeklik, en jy kan die katalisator wees wat 'n samelewing verander.

Tuesday 27 January 2015

Eerlikheid = Sukses

Spreuke 2 : 7 Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.

Van waardes is daar deesdae bitter min te sien. As jy deur koerante blaai of na die TV nuus kyk, dan wil dit eerder voorkom asof die oneerlikes en korruptes diegene is wat sukses behaal. Dis egter net ons persepsie omdat ons nie die volle prentjie kan sien nie. 

Moenie vir een oomblik dink dat God hul gedrag goedkeur nie. Sommige mense moet jy net genoeg tou gee, dan hang hul hulself binnekort op.

Ek verkies om God se Woord te glo en daarvolgens te leef. As Hy sê dat Hy eerlike mense seën met sukses en diegene beskerm wat onberispelik lewe, dan is dit waarna ek gaan streef. 

Waardes kry ons in saam met ons moedersmelk... dis basiese maniere waarmee ons grootgemaak word. Wanneer jou waardestelsel in plek is, sal jy dit nie moeilik vind om binne die wil van God te leef nie, maar as jy nie waardes het nie, dan is daar net een prioriteit en dit is die eie ek. Dit beteken dat elke ouer 'n verantwoordelikheid het om daardie waardes vas te lê. Dis die enigste manier om ons toekoms te verseker... en uiteindelik ware sukses te behaal.

Monday 26 January 2015

Om te kry wat jy vra


1 Johannes 5 : 14-15 En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra. 
 
God skuld die mens niks. Ons is ongehoorsame, eiewillige en selfsugtige wesens, van wie sommige dink hul het hulself geskape... dat daar geen God is nie. 

Wanneer jy dan 'n teksgedeelte soos die een lees, kry jy eintlik trane in jou oë. Dis nie net 'n kwessie dat ons kan vra nie, maar dat ons inderdaad kan vra met vrymoedigheid. 

Hoe ons dit ookal probeer regverdig, min van ons verdien enige genade van God. As jy God was en jy moes besluit of jy die persoon wat na jou kom se gebede verhoor, wat sou jy gedoen het? Meeste van ons sou seker eers ou koeie uit die sloot gaan haal het en eers 'n houtjie of twee probeer inkry alvorens ons die persoon goed laat verstaan dat ons hom of haar eintlik 'n groot guns bewys net om na hulle te luister. Wonderbaarlik genoeg is dit nie God se aanslag nie. 

God hou nie boek van die kwaad nie. Hy wil hê dat ons die vrymoedigheid moet hê om met ons behoeftes na Hom te kom en dan selfs met die verwagting dat ons gebede verhoor sal word.
Dis beslis 'n les in vergewinsgesindheid wat ons by Hom kan leer. Ons behoort ook ons naaste tweede, derde, vierde... ontelbare kanse te gee en hul steeds met liefde te hanteer... maak nie saak hoe hul voorheen teenoor ons opgetree het nie.

Dalk is daar iemand wat berou het oor wat hul jou aangedoen het, maar jou hartvogtigheid weerhou hul daarvan om jou te nader en om vergifnis te vra. Gooi die kettings van haat af en stel 'n vrymoedige gees ten toon.

Sunday 25 January 2015

Deursettingsvermoë

Kolosense 3 : 17 Wat julle ook al doen in woord of daad, doen alles in die naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom

Peter Hendricks het Sub A (Graad 1) gedruip en ook matriek. Sy eerste werk was om van rotte ontslae te raak op skepe en daarna het hy verskeie ander nederige werke gehad o.a. by 'n klerefabriek waar hy in 2004, as deel van personeelvermindering, sy werk verloor het. 

Tydens hierdie moeilike tyd, het hy by die skool waar sy vrou sekretaresse was, gaan uithelp om kinders op te pas as die onderwyser nie daar was nie, of die telefoon te beman en selfs diens gedoen as skoonmaker. Dis hier waar 'n droom begin het... om onderwyser te word, maar hy't nie eens matriek gehad nie. 

Deursettingsvermoë en 'n diepgewortelde droom is egter 'n goeie kombinasie vir sukses. Nadat hy 'n oorbruggingskursus by die Universiteit vanWes-Kaapland gedoen het, het hy 'n BA-graad in Sosiale Wetenskappe behaal, terwyl hy deeltyds gewerk het. Van sy R5000 pm moes hy R1500 pm aan studiegeld afstaan. Na vyf jaar het hy sy nagraadse onderwysdiploma behaal en vandag staan hy voor 'n klas as onderwyser. Pieter was op 39 die oudste student in sy klas, maar op 46 het hy die vrugte van sy harde arbeid gepluk. Sy boodskap is dat dit nooit te laat is om jou drome te bewaarheid nie. 

Ek hoop dat Peter se storie jou sal inspireer om daardie eerste stap te neem om verder te studeer en jou drome te bewaarheid. Elke jaar wat verbygaan, is 'n jaar wat jy al klaar kon studeer het en wanneer jy eers jou geleerdheid het, kan niemand dit van jou af wegneem nie. (met erkenning aan Kuier)

Thursday 22 January 2015

Rentmeesterskap

Titus 1 : 7 Want ’n opsiener moet as ’n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie;
 
Sasi (Suid-Afrikaanse Spaarinstituut) berrig dat Suid-Afrikaners se skuld van 1980 tot 2013 amper verdubbel het van 41,9% tot 75.3%. Volgens die Reserwebank het die skuldlas van privaat huishoudings gestyg van R230 miljard tot R2.1 triljoen en dit is net van 1994 tot 2010! M.a.w. Ons lewe op skuld. 

Onmiddellik behoort jy hierdie statistiek met jou eie situasie te vergelyk. Hoe staan jou geldsake hier aan die begin van die jaar? Die feestyd het die manier om ons almal 'n bietjie meer vrygewig met ons beursies te laat omgaan. Daarby gesê nie altyd oordeelkundig nie. En dit is juis waar die jaar op die verkeerde noot vir baie van ons begin, of dalk net op 'n nog slegter noot as waar hy verlede jaar geeindig het. 

Ons almal weet waarheen om te gaan as ons begin noustrop trek, maar hoe verantwoordelik is ons met dit waarmee ons toevertrou word? 'n Goeie nuwejaarsvoorneme is dalk om nie meer so maklik geld uit te gee nie. Daar word gesê dat jy twee weke moet wag alvorens jy iets koop wat jy graag wil hê. Na twee weke is die item dalk nie meer daar nie, of jy't van die behoefte vergeet, of jy besef dat jy daarsonder kan klaarkom. Ons wil alles hê, selfs al het ons dit nie nodig nie. Selfs op die TV word dit uitgebuit met advertensies soos: “I need to want it...” 

Binnekort breek die eerste betaaldag van 2015 vir baie aan. My gebed vir jou is dat jy meer verantwoordelik met jou geldsake sal omgaan. Maak 'n kopskuif om meer verantwoordelik met jou geld om te gaan. As jy in finansiële moeilikheid is, gaan sien 'n skuldberader, of gesels met jou skuldeisers... maak 'n daadwerklike plan om uit die skuld uit te kom. Ek bid ook dat jy sal begin spaar om voorsiening te maak vir jou aftrede. Al is jy hoe jonk, begin vandag spaar. Laat spaar, eerder as nog skuld/uitgawes jou motiveer. Diegene wat geld het, spaar getrou. Spaar is vir hulle 'n prioriteit, nie nog skuld nie. As spaar 'n gewoonte word, gaan jy dit nie eens agterkom of die geld mis nie, maar kort voor lank gaan jy 'n mooi neseiertjie opgebou het.

Dieselfde God wat jou as rentmeester aangestel het, gaan eendag van jou rekenskap eis, maar dis ook dieselfde, liefdevolle, God wat jou sal bystaan as dit jou hartsbegeerte is om skuldvry te wees. Jy's nie alleen nie. Hy sal jou bystaan...vra net.

Wednesday 21 January 2015

Klein jakkalsies

Hooglied 2 : 15 “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.
 
Hoe verskillend is mense nie? Wat vir een persoon snaaks is, laat 'n ander frons. Een persoon is doodgelukkig te midde van chaos rondom hulle, terwyl 'n ander pynlik netjies is. Dis presies waar die klein jakkalsies hul vatplek kry om jou huwelikswingerd te verniel. 

Teenoorgesteldes trek mos mekaar aan. Gewoonlik trou 'n suinige persoon met 'n vrygewige een of 'n introvert met 'n ekstrovert. Weereens ideale teëlaarde vir satan en sy trawante.

Onthou altyd wat jou na jou maat aangetrek het. Jy behoort nie dit wat jou na hom/haar aangetrek het te probeer verander na die huwelik nie, want dan is dit nie meer die persoon vir wie jy liefgeword het nie. Dis heeltemal in orde om van mekaar te verskil en die geheim is om mekaar se sterk punte reg te kanaliseer. 

Dis makliker om jou houding teenoor iemand te verander as wat dit is om hul natuurlike aard te verander. Glo my, dit neem soveel druk van jou verhouding af. Soms irriteer een swakpunt van ons wederhelf ons, maar ons ignoreer al die ander pluspunte. Besluit liewer waarmee jy kan saamleef en waarmee nie. Een voorbeeld... As jou man 'n goeie pa is, hoekom kerm en kla oor die gras wat nie gesny word nie? Jy kan altyd tuindienste kry, maar 'n goeie pa is skaars. 

Jy ken jou eie huweliksomstandighede en jy weet dat jy 'n belofte voor God afgelê het. Kyk wat jy kan doen om daardie huwelik te laat werk. Die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee, is om hul ma/pa lief te hê en dit beteken dat jy hul aanvaar... sogenaamde foute en al.

Tuesday 20 January 2015

Bid en julle sal ontvang

Johannes 16 : 22-24 As Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.

Magrieta Philander van Robertson het oor die jare net een droom gehad... een waarmee sy daagliks met haar Hemelse Vader oor gepraat het. Sy wou skoolgaan... leer lees, haar eie naam skryf en somme maak. Haar verhaal is 'n bevestiging dat God altyd deurkom vir diegene wat bid sonder ophou. Jy sien, Magrieta is 86, maar sy glimlag soos 'n sesjarige as sy trots die papier vashou waarop sy haar naam geskryf het. 

Magrieta deel met ons so 'n klein deeltjie van die lewe van iemand wat nie kan lees of skryf nie. Sy moes haar kleinkinders smeek om vir haar uit die Bybel voor te lees... As sy winkel toe gaan, moes sy op hul staatmaak om die regte geld uit te tel... As sy pos gekry het, moes iemand dit vir haar lees... Danksy 'n engel, byname Sharlene Scheepers, wat Abet klasse aanbied, het Ouma Magrieta na haar 80ste verjaardag haar lewensdroom bewaarheid... om te begin skoolgaan. En vandag is sy die topleerder in haar klas! Dit terwyl die jongste leerder 17 jaar oud is. Ouma Magrieta laat haar “niks deur ouderdom vertel nie,” sê sy. Haar boeke is netjies en tuiswerk word getrou gedoen.

Wat 'n uitstekende voorbeeld vir jongmense wat met swaar voete soggens moet opstaan vir skool. Jy besef dalk nie hoe bevoorreg jy is om te kan skoolgaan nie. Ouma Magrieta was nie so bevoorreg nie. Soms wonder ons wat die doel van skoolgaan is, maar as jy Ouma Magrieta se verhaal hoor besef jy gou dat ons te veel as vanselfsprekend aanvaar. (met erkenning aan Kuier)

Voorspoed met die nuwe skooljaar wat vandag vir die res van die land se skole begin.  Gee jou bes van die heel eerste dag af en onthou altyd om God deel van jou lewenspad te maak. 

Monday 19 January 2015

'n Nuwe jaar; 'n nuwe tyd

Prediker 3 : 1-4 Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek, 'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red, 'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou, 'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag, 'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans…

As ons heeltemal eerlik moet wees, wil ons nie juis weet dat elke ding sy tyd het nie. Niemand wil immers hoor dat daar terugslae sal wees of dat siekte of dood deel van ons toekoms is nie. Miskien wil ons nie die werklikheid in die oë staar nie of miskien leef ons in ontkenning. Wie weet?

Wanneer die einde van die jaar aanbreek, sien ons met groot hoop uit na die nuwe jaar, want opportunisties hoop ons dat dit 'n sorgelose jaar sal wees. Dalk sal dit minder van 'n skok wees as ons besef dat die nuwe jaar sy eie dosis soet en suur gaan meebring; dat alles 'n tyd het. Uit 'n positiewe hoek, kan dit nie altyd sleg gaan nie, want daar is ook 'n tyd vir goeie dinge. Die tye wissel mekaar ritmies af en maak die lewe interessant. 

Alhoewel niemand van ons ons hand sal opsteek vir 'n uitdaging nie, is dit tog tye wat jy altyd onthou. Die menslike brein het die wonderlike vermoë om die positiewe brokkies uit te haal en te romantiseer oor tyd. Hoeveel van ons dink nie met heimweë terug aan die verlede en die goeie ou dae nie? Was dit altyd sorgvry? Meesal nie, maar ons mis dit, want dit is die skadus wat die skildery van ons lewe vervolmaak.

Sunday 18 January 2015

Gebed vir 2015

Jesaja 40 : 31 Die wat op die Here vertrou kry nuwe krag, hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Liewe Heer, vandag wil ek aan U hulde bring. Baie dankie dat U my 'n nuwe jaar laat binnegaan aan U sy. Dankie dat U verlede jaar elke tree saam met my gestap het, dat U my toelaat om my vlerkies te sprei. As ek terugkyk, kan ek sien dat U my nooit in die steek gelaat het nie. Dit was nie altyd maklik nie en daar is tye wat ek liewer nie weer uit eie vrye wil weer wil deurmaak nie, maar ek weet dat ek vandag 'n beter mens is as gevolg van dit waarmee U my vertrou het. 

Liewe Heer, ek is nie 'n volmaakte kind van U nie, maar ek wil dit baie graag wees. Lei my en skep in my 'n rein hart, O Heer sodat ek altyd in afhanklikheid van U sal leef en dat ek elke tree sal gee in die rigting wat U vir my bepaal het. 

Liewe Heer, ek weet dat vanjaar nie sonder sy eie dosis probleme sal verloop nie. Al wat ek kan vra, is dat U my die krag sal gee om dit wat in my rigting kom die hoof te bied. Ek weet egter ook dat U 'n God van oorvloed is en daarom wil ek U nou reeds bedank vir die seëninge wat ek uit U hand gaan ontvang. Ek weet dat ek niks verdien nie, maar ek kom na U met volle vertroue, my oë onwrikbaar op U gerig. Verlede jaar is agter my en ek kyk met afwagting uit op die horison van 2015. 

Liewe Heer laat ek elke dag liefde uitstraal en mag ek U vra om my familie en vriende te seën. Here, ek bid vir ons land en die regering... U ken die uitdagings wat ons in die gesig staar. Sterk asseblief hul hande en leer hul ook om volgens U wil te wandel. Vader van genade, laat ons harte oorloop van vreugde en liefde vir ons naaste, maar veral vir U.

Thursday 15 January 2015

16 Januarie 2015

Jakobus 4 : 17  As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.

Van Maandag af sal die dagstukkies weer soos normaalweg verskyn, as dit die Wil van die Here is.

Jesusliefde vir jou.

Wednesday 14 January 2015

15 Januarie 2015

Spreuke 4 : 23  Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Tuesday 13 January 2015

14 Januarie 2015

Efesiers 6 : 10 - 11  Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.  Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

Monday 12 January 2015

13 Januarie 2015

Psalm 51 : 12  Skep in my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.

Sunday 11 January 2015

12 Januarie 2015

1 Johannes1 : 8-9  As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie.  Maar as ons ons sonde bely - Hy is getrou en regverdig.  Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Thursday 8 January 2015

9 Januarie 2015

1 Tesalonisense 4 : 17  Daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

Wednesday 7 January 2015

8 Januarie 2015

Spreuke 3:5-6 Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.  Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Tuesday 6 January 2015

7 Januarie 2015

Matteus 6:33  Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Monday 5 January 2015

6 Januarie 2015

Jakobus 1 : 22  Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself

Sunday 4 January 2015

5 Januarie 2015

Jesaja 50 : 7  Die Here my God help my, ek sal nie teleurgestel staan nie; ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...