Wednesday 29 April 2015

Raak rustig

Lukas 10 : 41  Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge,

Terwyl Maria by Jesus se voete gesit het, het Marta rondgeskarrel om alles gedoen te kry.  Soos dit maar gaan as ons so baie dinge het om te doen dat ons nie weet waar om te vat of waar om te los nie, het sy angstig geraak.

Miskien is jy ook besorg en bekommerd oor baie dinge en beleef jy ook ‘n angstigheid.  Dalk is daar dinge wat swaar op jou hart lê en jou hele menswees in beslag neem.  Jy sukkel dalk om te fokus en te onderskei tussen wat belangrik is en wat kan oorstaan.   Bekommernis en angstigheid kan jou heeltemal ontspoor. 

Leer gerus by Maria.  Te midde van ‘n geskarrel rondom haar, het Maria eenvoudig by Jesus se voete gaan sit en op Hom gefokus.  Moenie toelaat dat omstandighede jou fokus van God aflei nie.  Wanneer jy by Hom rus gevind het, sal jy weer kan fokus.

Ek hoop dat jy op Werkersdag ware rus mag ervaar.


Tuesday 28 April 2015

Verander jou houding

Job 9:27 “As ek sou dink: ek wil ophou kla, ek wil my houding verander en vrolik wees,
Norman Vincent Peale het gesê:  “Vermy mense wat negatief dink en optree.”

Daar is mense wat jy teëkom wat jou absoluut dreineer.  Jy is amper te bang om te vra hoe dit gaan, want jy weet al dat daar ‘n lang treurmare op pad is.  Hulle sien eenvoudig min of geen rede om positief te wees.

Ander trek jou weer aan met hul positiewe gesindheid.  Die glas is altyd half vol vir hulle.  Vir elke probleem, het hul ‘n oplossing en niks kry hul onder nie.  Hulle het altyd ‘n bemoedigende woord en sal dikwels vir die ‘underdog’ opkom.

Om te vra by wie jy graag meer tyd wil spandeer, is seker ‘n retoriese vraag, want ek weet alreeds die antwoord. 

Wat ons sê en hoe ons optree, is die beeld wat ander van ons het.  Daardeur kan ons mense na ons toe aantrek of hul afstoot.  Helaas, ons is nie almal ekstroverte nie, maar ons almal kan ons uitkyk op die lewe verander. 


Wanneer ons, ons in dieselfde geselskap bevind mag dit gebeur dat ons nie agterkom hoe negatief ons is nie, omdat die res net so negatief is.  Niks verhoed ons egter om uit daardie groep te breek nie.  Jy sal sommer ligter voel as jy agterkom hoe ‘n positiewe gesindheid jou gemoedstoestand verbeter.

Monday 27 April 2015

Geluk

Spreuke 16:3  Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.

Onlangs filosofeer ek en ‘n vriendin oor die lewe.  Ons wonder hoekom mense geluk probeer najaag.  Vir party lê geluk in ‘n verhouding… hulle soek net die regte maat.  Vir ander lê dit in nog besittings… daar is altyd nog iets wat hul moet koop of besit… En vir sommige lê dit in sukses… sukses met hul besigheid, finansies, verhoudings… werksbevrediging…

Geluk het dus verskillende waardes vir verskillende mense.  Tog kan ons nie anders as om te wonder hoekom hierdie najaging nooit regtig ophou nie.  Sodra iemand ‘n doelwit behaal het wat hul geluk behoort te bring, jaag hul ‘n volgende doelwit na.  Hoe meer hul geluk najaag, hoe meer word hul gejaag.  Waarom? 

Is dit omdat ons idee van geluk verkeerd is?  Hoekom is dit dat ‘arm’ mense dikwels meer lag en gelukkig voorkom as diegene wat veronderstel is om suksesvol te wees en op die oog af alles het wat hul nodig het… en dalk nog meer? 

Die slotsom waartoe ons gekom het, is eenvoudig.  Geluk kan nie nagejaag of gesoek word nie, want dit is nie ‘iewers’ nie.  Ander kan jou ook nie gelukkig maak nie.  Geluk is binne jouself.  Wanneer jy gelukkig is met wie jy is en waar jy is, dan het jy vrede en daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan, is ware geluk. 


Thursday 23 April 2015

Alles is moontlik

Matteus 19:26  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

Is jy gelukkig in jou werk?  Staan jy elke dag met ‘n lied in jou hart op en kan jy byna nie wag om by die werk te kom nie?  Indien jou antwoord ja is, is jy een van ‘n baie klein groepie mense wat werklik geniet wat hulle doen.  Jy kan jouself as uiters gelukkig ag.

Vir te veel mense is hul werk ‘n plek waar hul moet wees, maar nie noodwendig uit eie keuse nie.  Dink net daaraan… jy spandeer die grootste deel van jou dag by die werk en jy haat elke oomblik daarvan.  Partykeer is daar ‘verswarende omstandighede’, soos ‘n baas of kollega wat die wêreld vir jou moeilik maak, maar meeste van tyd is jy dalk net in die verkeerde beroep.  Dalk is dit nie eens ‘n beroep nie, maar net ‘n werk en meer waarskynlik, ‘n middel tot ‘n doel.  Ons weet almal dat ons ongelukkig nie sonder ‘n inkomste ver gaan kom nie.

Hoekom is soveel mense dan ongelukkig in hul werk?  Laat ons eerlik wees, werkloosheid is aan die orde van die dag, so as jy ‘n werk het, behoort jy jouself alreeds gelukkig te ag.  Soms is dit net nie genoeg nie.  Jy kan eenvoudig nie dag in en dag uit met sleepvoete jouself na die werk dwing nie.

Hier is ‘n baie interessante aanhaling:  "If you don't like where you are, move...  You are not a tree..." ~ Unknown


Jy mag dalk dink dat dit nie moontlik is in die huidige arbeidsmark nie, dan moet jy weer vandag se teks lees.  Maklik sal dit miskien nie wees nie, maar dit is nie onmoontlik om van beroep of rigting te verander nie, want by God is alles moontlik.  Moenie jou vertroue in mense plaas nie, plaas dit in God.  Vra Hom om jou in die regte rigting te lei.  Hy maak nooit foute nie.  Jy sal opeindig presies waar jy moet wees… op presies die regte tyd.

Mag jy 'n heerlike langnaweek geniet.

Wednesday 22 April 2015

Wie is jy?

Psalm 18:2  Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here, my Sterkte.

Indien iemand jou vandag sou vra wie jy is, wat sou jou antwoord wees?  Sou jy jou naam en van as antwoord gee?  Miskien sou jy ook jou titel of posbeskrywing bygevoeg het as jy werk.  Dalk sou jy net jou naam gegee het en aangevoer het dat jy ‘n huisvrou of pensioenaris is.  Party van ons sou dalk selfs ons adres of ‘n bietjie agtergrond oor waar ons vandaan kom gegee het.

Dis interessant hoe ons onsself definieer.  Jou waarde sit nie in ‘n naam, van, titel of adres nie.  As alles van jou weggeneem word, wie is jy?  Dis nogal iets om ‘n rukkie oor na te dink.  Wie is ek?
My hoop is dat jy kan antwoord dat jy ‘n volgeling van Jesus Christus is… dat jou hele lewe om Hom draai… dat Hy jou sterkte is.


Kind van God, Hy’t jou eerste liefgehad en daardie liefde het nog nooit verflou nie.  By Hom hoef jy niks te bewys nie.  Jou status of besittings is nie waarin Hy belangstel nie.  Al wat Hy van jou verwag is om Sy liefde te beantwoord met ‘n onvoorwaardelike liefde en Hom alleen te aanbid.  Laat die wêreld en alles anders vervaag.  Fokus net op Hom.

Tuesday 21 April 2015

Geen voorskrifte

Psalm 139 : 4  Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.

 “Liewe Here, wil u nie asb vir my ‘n maat stuur nie?  Hy moet asb nie bles wees nie, en tog ook nie oorgewig nie… O, en hy moet sobere gewoontes hê en ‘n kind van U wees…”

Vang jy jouself ook dat jy bid, maar terselfdertyd vir God voorskryf presies hoe Hy jou gebede moet beantwoord?  Ons is seker maar almal skuldig daaraan, in ‘n mindere of ‘n meerdere mate.

Ek en jy bewandel hierdie aarde maar net ‘n paar jaartjies.  God het dit nie net geskape nie, maar Hy’t alles haarfyn beplan.  Niks gebeur maar net toevallig nie. 

Die teks hierbo is vir my ontsettend mooi.  Daarvolgens hoef ek nie vir God enige voorskrifte te gee nie… nog voor ek dit verwoord het, weet Hy alreeds wat ek wil sê.  Dit beteken nou nie dat jy nie hoef te bid nie.  Jy moet nog steeds jou hart met God deel, maar jy hoef beslis nie vir Hom voor te skryf nie.  Uit ervaring weet ek dat my voorskrifte in elk geval nooit naby dit waarmee Hy te voorskyn kom kan kersvashou nie. 

Dien Hom in jou onskuld en glo onvoorwaardelik, soos ‘n kind, dat Hy in elke behoefte van jou kan en sal voorsien.

Many folks want to serve God, but only as advisers

Monday 20 April 2015

Gelykheid

Lukas 6:31  Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

Na ‘n dag is dit nodig dat ons terugkyk en onsself afvra:  “Het ek vandag iewers ‘n verskil gemaak?”  ‘n Dag wat verbygaan sonder ‘n goeie daad, is ‘n dag wat vermors is.  Goeie dade is nie noodwendig groot fanfare wat jou in die kollig plaas nie - dit skuil in hoe iemand voel as jy wegstap.

Wat my verbaas is dat ons dikwels goeie dade teenoor ander verrig, maar ons eie familie ken ‘n ander sy van ons.

As jy per ongeluk in iemand vasloop by die werk, vra jy gewoonlik beleef om verskoning.  Tuis moet die troeteldiere pad maak of hul maak kontak met jou skoen.  Jy’s besig by die stoof en draai om, net om teen jou seun vas te loop.  Vra jy vir hom ook beleef om verskoning of blaf jy:  “Wat soek jy onder my voete?”

Hulle wat die naaste aan ons is, is seker die aangewese persoon om ‘n getuigskrif vir ons te gee, as dit sou nodig wees.  Die vraag is net:  “Sal hul ons lof besing, of sukkel om iets opbouends van ons te sê?”

Ons optrede behoort oral dieselfde te wees.  Daar behoort geen verskil te wees in hoe ons die persoon hanteer wat ons vullisblikke leegmaak, of die baas by die werk nie… of hul ‘n kind of ‘n belangrike persoon is nie.

By God is ons almal gelyk en daarom moet ons ook almal dieselfde behandel.  Miskien moet ons onsself afvra of ons iemand anders sou hanteer as God teenwoordig was.


Sunday 19 April 2015

Mind over matter

Job 12:12 “Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare.

Eendag as ek groot is… so droom ons mos en dan op ‘n dag besef ons dat ons nie net grootgeword het nie, maar ook ouer.  Ouderdom is ‘n sensitiewe onderwerp vir baie mense, en ek wil my verstout om te sê, meer vir vrouens as vir mans.

Dit wil voorkom asof mans beter verouder.  Ja, sommige mans ontwikkel ‘n spaarwielletjie, maar meeste mans is relatief kreukeltraag.  Dalk is dit die feit dat mans skeer en dooie vel voortdurend plek maak vir nuwe vel.  Nietemin, party vrouens sukkel nog met puisies dan is die eerste plooi al daar.  Swaartekrag, plooie, grys hare, velle… en menopause!

Dis een kant van die munt.  Die ander kant is dat jy gemaklik raak in jou vel.  Genadiglik begin jare se ondervinding in wysheid omskakel en kan jy iets wat jou voorheen paniekbevange sou maak, redelik kalm hanteer. 

Helaas ons word nie oud of wys gebore nie.  Lewenslessies sal ons langs die pad leer. Party van ons se vingertjies is pikswart verbrand van leer.   Alles gebeur egter met tyd en elke seisoen het sy eie uitdagings, sowel as sy eie seëninge.  In plaas van jou lewe omwens tot die volgende mylpaal, geniet eerder die tydvak waarin jy jouself nou bevind.


Age is a case of mind over matter.  If you don’t mind, it doesn’t matter.

Thursday 16 April 2015

God sal jou nie faal nie

Psalm 50:15  Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”

Omdat ons soveel aanslae daagliks moet verduur, is dit maklik om eensaam en verlate te voel.  Wanneer jou baas jou kortvat oor iets wat jy nie gedoen het nie… indien jy nie jou teikens bereik nie… as jy die bus verpas… wanneer jou kind alweer geld nodig het vir ‘n uitstappie en jou beursie reeds papierdun is… indien ‘n verhouding op die rotse loop… as daar nog ‘n rekening opdaag…  Soms is dit klein dingetjies, ander kere is dit ‘n nasionale ramp.  Hoe dit ookal sy, partykeer moet jy wonder waar God is as jy Hom nodig het.

Sien Hy nie hoe jy besig is om te sink nie?  Hoe lank moet jy nog bid vir ‘n ander werk of ‘n oplossing vir jou finansiële probleme?   

Net omdat niks gebeur nie, beteken dit nie dat God elders besig is en nie nou tyd vir jou of jou krisis het nie.  Hy is deeglik bewus van jou situasie.  Soms wag Hy dat jy dit met Hom bespreek of ten minste jou afhanklikheid van Hom erken.  Ander kere is Hy besig om dinge rond te skuif in die agtergrond en is Sy planne veel groter as wat ek of jy verwag.  Wanneer Hy vir jou deurkom, is dit asof die see in twee verdeel.  God maak ‘n defnitiewe pad en alles val perfek in plek.

Moenie vandag moed opgee nie.  Hou vas aan God en bly hoop in die seker wete dat Hy 100% in beheer is.  Nou is nie die tyd om boedel oor te gee of op te hou bid nie.  Wanneer jy op jou knieë is, is jy op jou naaste aan God.  Net so kan jy slegs opkyk as jy platgeslaan op die naat van jou rug lê. 


When you get to your wit's end, you'll find God lives there

Wednesday 15 April 2015

Sonde

1 Johannes 1:8  As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.

As daar nou een ding is waarmee ons goed is, is dit om onsself te verontskuldig.  Ek is nie sondig nie, want ek doen nie wat hy/sy doen nie… Aag, dis net ‘n pen – die maatskappy sal dit nie eens mis nie… Ek is elke Sondag in die kerk…Dis net ‘n ou witleuentjie…  Ons regverdig ons sonde op soveel maniere dat ons later glo ons is spierwit skoon en rein van enige sonde.

‘n Baie oulike aanhaling het my aandag getrek:  “’n Christelike huis, is ‘n huis waar sondaars woon.”  Dis korrek, want as Christen erken jy jou sondes en jy vra om vergifnis daarvoor.  Ons kan nie in ontkenning bly leef en glo dat ons sondevry is nie.

Selfs in die Onse Vader het God ons geleer om te bid:  “en vergeef ons, ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;”


Mag Die Bybel jou maatstaf wees om te meet of jy vandag geleef en opgetree het soos daar van ‘n kind van God verwag word.  Vra die Heilige Gees om jou bewus te maak wanneer jy struikel.  En bid dat God dit wat skarlakenrooi van sonde was, witter as sneeu sal maak.  

Tuesday 14 April 2015

Jou deurbraak is om die draai

Markus 2 : 10  - 12  Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man:  “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”  Hy het opgestaan, dadelik sy draagbaar gevat en voor die oë van almal uitgestap.

In Markus 2 vind ons die uitsonderlike verhaal van geloof.  ‘n Verlamde man het gehoor dat Jesus in die dorp is.  Hy het vier van sy vriende gevra om hom te dra na die huis waar Jesus was, maar toe hulle daar aankom, was daar soveel mense dat hul nooit met hom en sy bed naby Jesus sou kom nie. 
Meeste van ons sou moedeloos omgedraai het en huis toe gegaan het, maar hierdie man was so vas oortuig dat hy net by Jesus moet uitkom dat hy sy vriende ompraat om hom op die dak te tel en ‘n gat daaruit te sny sodat hul hom deur die dak kon neerlaat tot by Jesus.  Kan jy jou voorstel dat iemand soveel moeite doen?  Sou jy soveel moeite gedoen het?  Dit kan net wees omdat hierdie man vas geglo het in Jesus se helende hande. 

Jy weet, soveel van ons gee op net voordat daardie wonderwerk gebeur.  Die verlamde man is ‘n voorbeeld vir ons.   Deur sy verhaal leer ons dat jy eenvoudig moet aanhou ten spyte van teenstand of terugslae.  As jy vas glo, stu voort.  Moenie moed opgee nie. 

Waarvoor hoop en vertrou jy vandag?  Glo vas dat dit sal gebeur en dat jou wonderwerk binne jou bereik is.  Jy is veel nader aan ‘n deurbraak as wat jy dink.  As Hy verlamdes kan laat opstaan… iemand wat jare lank bedlêend is… wie se spiere verswak is, laat opstaan en uitstap… dink net wat kan Hy vir jou doen!


Monday 13 April 2015

Hemel of hel?

Openbaring 21 : 8  “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.”

Daar is steeds mense wat glo daar is nie ‘n hel nie.  Of hul glo dat hel hier op aarde is. Die hel op aarde word deur mense veroorsaak en glo my, dit kan nie eens amper vergelyk word met die ewige hel van God nie.

As jy jouself al gebrand het, sal jy weet dat dit bitter seer is en dat die pyn baie lank voortduur.  In die hel, gaan jy vir ewig brand.  Die pyn sal nooit weggaan nie.  Jy gaan smag na water, maar daar sal niks wees nie.  Jy sal uitroep tot God, maar Hy is nie daar nie… net die ewige verdoemenis.
Genadiglik is daar hoop, want almal kan gered word. Psalm 103:8  Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.

Dit is nie maklik nie en dit gaan opoffering en volharding verg, maar die beloning is die hemel.  Matteus 7 : 13 – 14  “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.  Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

Ongelukkig is die hemel vir slegs ‘n klein groepie beskore, hulle vir wie hul hele lewe om God draai.  Ook vir jou is daar steeds hoop.  God wil nie dat een siel verlore gaan nie.  Jesaja 55 : 7 het die antwoord:   Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.


Die breë pad is die maklike pad, want dis soveel pret en jy hoef niks op te offer nie.  Niks wat die moeite werd was, was egter nog ooit maklik nie.  En om die smal pad te loop is nie opoffering as jy God eers leer ken het nie.  Om die waarheid te sê, daarna het jy geen behoefte aan wêreldse genietinge nie.  Jy dors na God en jy sien met blymoedigheid uit na die dag dat jy Hom van aangesig tot aangesig sal aanskou.

Sunday 12 April 2015

Laat ons saam bid...

Romeine 12 : 18  As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

My hart bloei vir my geliefde land, Suid-Afrika.  My voorgeslagte het iewers in die 1700’s hierheen gekom.  Ek ken geen ander land nie en daar is vele redes hoekom ek nie die land kan, of wil, verlaat nie.  Dit is my land.  Ek het dit by niemand gesteel nie. Niks wat ek besit het ek gratis ontvang nie.  Inteendeel, ek het my hele volwasse lewe nog elke dag van my lewe meer as een werk gehad om genoeg te verdien om te oorleef, maar ook om voorsiening te maak vir die toekoms.  Vir my bestaan kleur- geslag- en geloofsverskille nie, want ek glo daar is rykdom in diversiteit.  My sienswyse word op niemand afgedwing nie en ek vra niemand om vir my te sorg of enige iets gratis te verskaf nie.  Ja, ek besit ‘n huis in ‘n middelklas woonbuurt, en ‘n motor en ander aardse besittings.  My twee kinders het in staatskole skoolgegaan.  Vir die oudste was daar nie geld om verder te studeer nie.  Hy het in Engeland gaan werk en daarna hier begin werk.  Deur harde werk het hy homself opgewerk, maar hy kan steeds nie ‘n huis bekostig nie.  As inwoner van hierdie land, betaal hy sy belasting en maak ‘n bydrae tot die samelewing.  Die jongste is nog op skool en dalk sal daar vir hom ‘n geldjie wees om te gaan studeer. Ongelukkig sal hy nie vir ‘n beurs in aanmerking kom nie.

My ma woon al 22 jaar by my en ek versorg ook my pa finansieel.  Hy het uiteindelik op 80-jarige ouderdom afgetree, sonder ‘n sent pensioen of enige vaste bates.  Beide my ouers het nie matriek nie, want destyds moes hul uitspring om te gaan werk om die familieplase wat onder droogte gesteier het te onderhou. 

Die afgelope tyd begin my keel toetrek as ek sien wat in ons land besig is om te gebeur, want ek is ‘n mens en logika sê vir my dinge gaan nie beter raak nie, maar eerder veel slegter as dit so aanhou.  Daar is geen respek vir mens, dier of selfs ‘n skadelose standbeelde nie.  ‘Handouts’ is aan die orde van die dag en as ons oortree, moet daar ooreengekom word dat daar nie teen ons opgetree sal word nie, alvorens ons die universiteit se administrasie kantoor sal verlaat.  Daar word op TV gesê dat hierdie ‘n ‘plan’ is waarmee daar nie gestop sal word alvorens alle (“klem op alle, volgens die individu”) vorms van kolonialisme en wit onderdrukking uitgewis is nie.

Frankryk het ‘n revolusie gehad, maar die paleis in Versailles is nooit afgebreek nie. Dis deel van die Franse geskiedenis en erfenis.  Moet ons nou die Kasteel, Voortrekkermonument, Taalmonument, Vrouemonument, ens afbreek?  Moet almal wat nie swart is nie, hul eiendom opgee en die land verlaat? 

Is dit nie so dat diegene wat hier in 1652 geland het saam met soveel ander lede van die bevolking, hierdie land van ‘n kaal stuk aarde, tot ‘n ontwikkelde land van vandag help opbou het nie?  Ons kan natuurlik die land teruggee soos wat ons hom gekry het… die infrastruktuur, eknomie, ens is tog ook tekens van kolonialisme en ook seker as gevolg van die ‘onderdrukker’ vandag daar.  Dieselfde groep mense wat nou nie meer welkom is of enige bestaansreg het nie, was ‘n goeie sport om alles te deel na 1994.  Ons het sonder enige kwade gevoelens alles begin deel.  Ons word sleggesê en beskuldig deur diegene wat nie eens gebore was voor 1994 nie.  Dorpe en strate se name is verander… ons woonbuurte, skole en kerke is oopgestel vir almal.  Heng, die land se deure is selfs wyd oopgegooi vir die res van Afrika en ons het hule ook verwelkom.  Wie hits Xenofobiese geweld aan en wie rand hul aan en verwoes hul eiendom? Skielik is ek net so 'n vreemdeling in hierdie land as iemand wat onlangs hierheen gevlug het.

Al het alle bevolkingsgroepe al jare saamgewerk, en dieselfde geleenthede gehad om hul tot bestuursvlak op te werk, het baie van net ‘n sekere groep hul werk deur regstellende aksie verloor en plek gemaak vir ‘n nuwe generasie wat heel dikwels eerder staak as werk.  Ons gun almal ‘n plekkie in die son… ons gee en gee en gee, maar hoe meer ons gee en hoe meer ons terugstaan, hoe meer word ons beskuldig en tot sondebok gemaak. 

Eerder as om op gratis behuising en toelaes staat te maak, het diegene wat hul werk verloor, besighede begin en weldra mense in diens begin neem.  Hulle betaal belasting en help om werkloosheid te bekamp.  Maar wanneer daar projekte gesoek word vir “Corporate Social Investment”, word blankes nooit gekies om voordeel te trek nie.  Arm blankes is lankal nie meer net beperk tot ‘n klein groepie lui mense nie.  Die groep groei, maar hulle is die randfigure wat almal ignoreer.

Hoekom hierdie lang relaas?  Omdat ek vas glo dat God steeds in beheer is.  Die fokus van hierdie pleidooi is nie om verdere verwydering tussen verskillende groepe te veroorsaak nie.  Die oproep is ook nie tot ‘n spesifieke groep, van watter aard ookal gerig nie, maar tot elke persoon wat wil betrokke raak.  As volk moet ons, ons voor God verootmoedig en weer terugkeer na Hom.  Christene kan nie, en mag nie net na die situasie kyk en dink dit is onmoontlik nie.  By God is alles moontlik.

Hiermee versoek ek jou om saam met my en almal wat hierdie dagstukkies daagliks lees, in gebed te tree vir Suid-Afrika om as volk tot inkeer te kom.  Laat ons bid dat ons mekaar as mede-inwoners van hierdie pragtige land sal aanvaar en veral verdra.  Bid vir vrede en God se ingryping om mense nader aan mekaar te bring en blind te maak vir mekaar se verskille.  Ons is almal mense en om die een of ander rede is ons saamgegooi in dieselfde land; Suid-Afrika.  Hierdie land is groot genoeg vir almal.  ‘n Land word nie gebou deur mekaar te verwyt en te verdryf nie. 

Hemelse Vader, U is almagtig en U is in staat om vrede te bewerkstellig, al lyk dit menslik onmoontlik.  U het ons almal geskape en die grootste gebod oortree ons so maklik.  Herinner ons weer om mekaar lief te hê.  Here, respek vir U en ander is so belangrik.  Daarsonder sal ons nooit mekaar kan verdra nie.  Maak ons oë oop vir mekaar se goeie punte en laat ons daarop voortbou.  Ek weet dat U ons kan saamsnoer en alle haat kan verdryf.  Suid-Afrika is ons beloofde land, Here.  U het ons hier geplaas vir ‘n rede.  Laat elkeen van ons, ons doel in die lewe vind en op ‘n daadwerklike wyse tot die samelewing bydra… nie vir eie gewin nie, maar ter wille van mekaar en bo alles, ter wille van U koninkryk.

Ek nooi jou uit om jou gebede via die skakel op die webblad te plaas.  
www.watsediewoord.blogspot.com  Kommentaar is ook welkom, maar laat ons begin deur ‘n voorbeeld te stel en nie klippe of modder te gooi;  nie te kritiseer, maar mekaar met respek en liefde te behandel.  Menings is welkom, maar laat dit opbouend wees.  Ghandi het immers gesê dat elkeen die verandering moet wees wat hy/sy wil sien.  Die verandering kan by jou en my begin, terwyl God voor ons uitstap en die pad na vryheid en verdraagsaamheid aandui.  

Daar is krag in gebed.  Kom ons bid saam…


Thursday 9 April 2015

Jy is vry

Jesaja 10 : 27  In daardie dag sal die Here die gevangenskap van sy volk beëindig.  Hy sal die juk van slawerny van hulle skouers aftel en dit stukkend breek.

Ek lees onlangs ‘n interessante artikel oor ‘n spinnekop.  Spinnekoppe spin ‘n web en wanneer ‘n ander insek daarin beland, kan hul nie weer loskom nie, want daardie draadjies is taai.  Jy het dalk al gesien hoe sit ‘n spinnerak aan jou vingers vas as jy dit wil verwyder.  Wat interessant is, is dat die spinnekop nie self vassit aan daardie taai draadjies nie.  Hoekom nie?  Blykbaar stel ‘n spinnekop se lyfie olie vry wat teen sy beentjies afloop en die draadjies glad maak sodat hy daaroor kan loop sonder om vas te sit.  Is dit nie nog ‘n bewys van die ongelooflike Goddelike skepping nie.  Hoe uniek het God nie ‘n spinnekop gemaak nie?  Dis asof die spinnekop gesalf is met olie.

Net so rus God se salwing ook op jou.  Daardie salwing beskerm jou sodat dinge wat sou seermaak nie aan jou vatplek kry nie.  Bitterheid gaan nie aan jou vassit nie…  Jaloesie gaan nie by jou posvat nie…  Die valstrikke wat jou vyande vir jou stel, gaan jou nie terughou nie, want jy is ‘n gesalfde van God.  Jy is onder Sy beskerming en omdat Hy jou omvou met Sy vlerke, sal niks jou onderkry nie.  

So jy kan vandag met gemoedsrus tegemoetgaan, gesalfde van God, want jy is vry.

Wednesday 8 April 2015

Die land van 'meer as genoeg'

Eksodus 6 : 8  Ek sal julle laat kom in die land wat Ek onder eed vir Abraham, Isak en Jakob belowe het.  Dit sal jul eie land wees.  Ek is die Here.

Die Israeliete was vir baie jare slawe in Egipte.  Dit was ‘n tyd van swaarkry, pyn en lyding.  Hulle het hul bevind in ‘n land van ‘net-net oorleef’.  Op ‘n dag het God hul uit Egipte bevry en hul na die woestyn geneem.  Dit was die land van ‘net genoeg’.  God het elke dag in hul behoefte voorsien, maar daar was geen luukses nie. Daar word vertel dat hul vir 40 jaar lank dieselfde klere gedra het en dat die klere nooit verslete geraak het nie. Dis beter, maar dis nog nie die beloofde land nie.

Uitendelik het God hul die beloofde land binnegelei.  Dit was duidelik die land van ‘meer as genoeg’.  Alles was daar in oorvloed.  Die trosse aan die wingerde was so groot dat twee sterk mans dit moes dra.  Geen wonder dit is genoem die land van melk en heuning nie.  Melk en heuning is albei vloeistowwe.  Net soos vloeistof vloei, het oorvloed oor hul gespoel.  Hulle kon dit nie opgebruik nie.


God is met jou ook op pad na die land van melk en heuning.  Jy bevind jouself vandag ook in die land van ‘net-net oorleef’.  Op die oomblik weet jy nie hoe jy dit tot die einde van die maand gaan maak nie.  Dis te verstane as jy geen ekstra inkomste het nie en die uitgawes nie ophou nie.  Enige iemand sal benoud raak.  Moet jou egter nie bekommer nie.  God het jou nie vergeet nie.  Beweeg net vorentoe in die rigting wat Hy jou lei en binnekort gaan jy daardie beloofde land van ‘meer as genoeg’ binnegaan.

Tuesday 7 April 2015

Dapper man

Rigters 6 : 12  Die Engel van die Here het toe aan hom verskyn.Hy het vir hom gesê:  “Die Here is by jou, dapper man!”

God het Gideon ‘n dapper man genoem.  Gideon het rondgekyk en gesê: “U praat tog seker nie van my nie. Ek kom uit ‘n arm gesin en ek is die kleinste van hul almal.”  Gideon se beeld van homself was een van minderwaardigheid, swakheid en onvermoë.  God het hom egter gesien as sterk, vol selfvertroue en ‘n oorwinnaar.

Gaan jy glo wat God van jou sê of gaan jy dit glo wat jy jouself wysmaak?  Ons staar ons blind teen gevoelens, omstandighede, of dit wat ons dink.  Jy mag dink dat jy swak is, dat jy nie die kruis kan dra wat op jou skouers rus nie, maar God sien jou as sterk.  Jy mag dalk bang en onseker wees, maar God reken jy het alles binne jou om jou omstandighede die hoof te bied.  Jy dink jy is in die skuld – God reken die seisoen het vir jou gedraai.  Jy voel jou siekte kry jou onder – God weet dat jy reeds genees is.  Jy mag voel asof jy nooit uit die kloue van verslawing sal ontstnap – God het reeds die kettings gebreek. 


Begin jou denke met God s’n sinchroniseer.  Sê vir jouself oor en oor dat jy nie is wie ander sê jy is, of wat jy dink jy is nie, maar dat jy is wie God sê jy is… ‘n dapper man… in Jesus naam.

Monday 6 April 2015

Ryke seëninge

Romeine 15 : 29  As ek na julle kom – dit weet ek vir seker – sal Christus vir my ‘n ryke seen gee om vir julle te bring.

Hoop jy het 'n geseënde Paasnaweek gehad.

Elkeen van ons het ‘n getuienis van daardie keer toe God vir ons op ‘n bonatuurlike manier deurgekom het. Voor daardie wonderwerk het alles onmoontlik gelyk en die toekoms was stikdonker.   Net toe jy dink dit is klaarpraat, gebeur daardie wonderwerk. 

Partykeer is ons so stomgeslaan as ons God se almag so ervaar dat ons dit byna nie kan glo nie. Hoe kon Hy dit regkry?  Ons wil so graag ‘n logiese verklaring vir die gebeurtenisse hê, maar dit is nie nodig nie.  God tree nie op volgens ons logiese maniere nie.  As dit onmoontlik lyk, is dit God se spesialiteit wat ingeroep moet word.  Hy spesialiseer in wonderwerke.  Sy tydsberekening is ongelooflik.  Wanneer ons letterlik wil boedel oorgee, beweeg Hy bloot die stukkies van die legkaart en alles val perfek in plek.

Vandag is jy weer op moedverloor se vlakte en jy’t dalk vergeet van ‘n vorige keer toe jy ook so gevoel het, want ons ontwikkel dikwels tonnelvisie te midde van ons probleme.  Roep vandag weer daardie oomblik van absolute verwondering voor jou geestesoog op en sê:  “God, my situasie lyk uiters pateties, maar U het vantevore vir my ryke seëninge gebring, so ek vertrou U volkome.  Here help my, asseblief.”

Binnekort gaan jy weer lag en vrolik wees en gaan hierdie aaklige tyd wat jy nou deurgaan net ‘n slegte herinnering wees.  Onthou om God te bedank vir sy ryke seëninge en om daaroor te getuig teenoor ander.

Wednesday 1 April 2015

Paasnaweek

Johannes 19:6  Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!” “Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

‘n Bietjie meer as 2000 jaar gelede het God Sy Seun, Jesus Christus, na die aarde gestuur met net een doel voor oë.  Hy moes sterf sodat elke mens wat in Hom glo verlos sal wees.  Terwyl Sy bloed gevloei het, het diegene vir wie Hy gesterf het, hul verlekker in sy dood. 

Volgens verskeie bronne, was kruisiging nie ‘n maklike dood nie.  Dit het ook nie net by die kruisiging gebly nie.  Hulle het hom gevloek, gespot en gespoeg terwyl Hy met die swaar kruis, wat ons sondes verteenwoordig, voortgestrompel het. Gedurende sy 33 jaar op aarde het Hy net goed gedoen. Nooit het Hy enige iemand weggewys nie.  Mense wat deur ander uitgewerp is, het Hy homself mee vereenselwig… prostitute… tollenaars… armes…  Deurentyd het Hy diegene met wie Hy in aanraking gekom het probeer oortuig wie Hy werklik is, maar helaas… ons ken die hartseer einde.

Hy sou egter nie Jesus Christus gewees het as die verhaal op daardie tragiese noot sou eindig nie.  Nee, Hy’t opgestaan uit die dood, net soos wat Hy vooraf voorspel het. 

Daar lê ‘n langnaweek voor.  Baie mense gebruik hierdie langnaweek as die laaste kampgeleentheid voor die Winter aanbreek.  Daar is feeste en geleenthede om by te woon en winkels weet nou al dat ‘n groot gedeelte van die bevolking hul gaan besoek en sorg dat hul winsgrens mooi opgestoot word.
Ons mag egter nooit hierdie as maar net nog ‘n langnaweek van rus en ontspan sien nie.  Hierdie is een van die belangrikste naweke op die Christelike kalender.  Sonder Christus se kruisdood, sou ons verlore gewees het.  Sonder Sy opstanding, sou daar nooit ‘n wederkoms wees waarna ons kan uitsien nie.


Dankie God dat U, U Seun geoffer het vir my.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...