Tuesday 30 June 2015

Die reis


Rigters 18:6 Die priester het vir hulle gesê: “Gaan gerus! Die Here is by julle op julle reis.”

Tien sjefs kan dieselfde resep kry en almal se eindproduk kan verskillend lyk en proe.  Dit hang alles af van jou afmetings, volgorde, metode en kombinasies.  

Derduisende graad eentjies begin hul skoolloopbaan met sterre in hul ogies.  Nie almal sal egter terselfdertyd matriek maak nie.  En diegene wat matriek klaarmaak, sal nie almal dieselfde rigting inslaan nie.  Elkeen se lewenspad verskil, selfs tweelinge s’n. 

Tog het menige sjef al ‘n nuwe dis ontdek met foute wat hul gemaak het. 

Daar is geen resep vir die lewe nie en nog minder ‘n handleiding.  Ons gaan nie almal dieselfde pad neem nie. Party se pad is skouspelagtig terwyl ander se pad ‘n stamperige grondpad is.   Wanneer ons by ‘n T-aansluiting kom, twyfel ons… links of regs?  Soms neem ons die verkeerde afdraai, ander kere bereik ons ‘n doodloopstraat.  

Eintlik gaan dit nie oor die bestemming nie, maar oor die reis.  Nie almal se reis is ewe lank nie.  Om te aanvaar dat jy nie altyd in beheer is nie, maar dat jy weet Wie in beheer is, is dalk nie so ‘n slegte idee nie.

Monday 29 June 2015

Vrees


2 Timotheus 1 : 7  Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

Baie van ons mis uit op groot seëninge of geleenthede wat God vir ons in gedagte het net omdat ons in vrees leef.  As ons nie die toekoms vrees nie, jaag ons verlede spoke op.  Ons is bang vir die politiek, die ekonomie, die onrus in die Midde Ooste… Ons is bang ons neem verkeerde besluite… en ons vermy konflik, want ons is bang ons trap op iemand se tone.  Omdat die Gees in ons is, hoef ons niks te vrees nie.

Vrees kom nie van God nie, krag wel.  Sy krag is onmeetlik en dit is die krag waarmee Hy ons toerus.  En partykeer moet ons ‘n wilsbesluit neem om vrees uit ons te lewe te verban.  Om vrees te oorwin, moet jy dit tromp-op loop en konfronteer.  As jy dit wat vrese by jou laat ontstaan ignoreer, groei daardie monster binne jou en oortuig jou dat jy rede het om bang te wees.

Indien jy vanoggend opgestaan het met vrees in jou gemoed, haal diep asem en sê:  “Ek verklaar hiermee dat ek niks vrees nie, want God se krag is binne my.”  2 Timotheus 1:7 is jou wapenrusting.

Sunday 28 June 2015

Omstandighede


Deuteronomium 30:3  sal die Here jou God jou omstandighede verander

Onlangs vra iemand my om vir hulle te bid.  Ek weet dat die persoon eens op ‘n tyd naby aan God was, maar dat hy afgedwaal het.  Die besef dat God wondere kan vermag en omstandighede kan verander, noop die persoon om my te vra om vir hom te bid.  Hy voel hy kan God nie self nader nie.  
  
Miskien sien jy iets van jouself hierin.  Jy sal jouself nie as ‘n Christen uitgee nie.  Jy weet wie Hy is en daar was selfs ‘n tyd toe jy Hom beter geken het, maar jy’t afgedwaal en nou voel jy asof jy geen reg het om God as’t ware vir ‘n guns te vra nie.  Jy vra ander dalk ook om vir jou te bid omdat jy nie self weet hoe of waar om te begin bid nie.

Wat gaan gebeur as God daardie persoon se gebed vir jou beantwoord?  Gaan jy besef dat Hy steeds daar is?  Gaan jy Hom bedank? Gaan jy Hom weer ‘n kans gee en terugkeer na Hom of gebruik jy God net as jy Hom nodig het.

God wil jou vandag uitnooi en verseker dat jy altyd by Hom welkom is.  Jy hoef nie deur middel van iemand anders met Hom te kommunikeer nie.  As jy voel dat jou geloof eenvoudig nie sterk genoeg is nie, maar dat die hoop daar is, dan is jy inderdaad besig om God te vertrou.  Jy sou nie daardie persoon gevra het om vir jou te bid as jy nie geweet het waar jou hulp vandaan kom nie.

Kniel voor Hom en stort net jou hart teenoor Hom uit.  Hy is gereed om jou in Sy arms toe te vou en terug te verwelkom.

Ek bid vir jou.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...