Sunday 31 January 2016

Smag daarna om meer soos God te word

Psalm 42 : 2  Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.

Hierdie is ‘n teks wat ek nooit mooi verstaan het nie, maar ek begin dit al so ‘n bietjie verstaan.
Binne my is ‘n drang om meer van God te leer, om Hom te verstaan… om Sy hart te verstaan.  Hoe kon Hy dit oor Sy hart kry om Sy Enigste Seun te stuur om vir sondaars soos ek te sterf?  Wat maak dat God se liefde vir ons so grensloos is?

Wees nou maar eerlik, meeste mense voel vere vir ander, of vir God.  Ons was gedurende die vakansie by ‘n oord saam met ander mense in ‘n swembad en dit het my verstom hoe selfgesentreerd mense is.  Hul, of hul kinders sal sien jy staan rustig die lafenis en geniet, maar dan kom spring hul bo-oor jou kop om reg voor jou te ‘bom’.  Kinders sou sommer met nat voete oor ander se handdoeke op die gras loop.  My ouers het my geleer dat jy ander in ag neem.  Ek sou ‘n loesing kry as ek dit sou waag om ‘n grootmens nat te spat of op iemand se handdoek te trap.

Oujaarsaand het ons sommer so in die skuur geskoffel op maat van pragtige Suid-Afrikaanse musiek.  Weereens was ek verstom om te sien hoe party ander as’t ware uit die pad stamp.  Die baan is tog groot genoeg vir ons almal en dit is nie ‘n resies om te sien hoeveel rondtes jy kan voltooi nie.


Maar te midde van hierdie klein jakkalsies, het ek besef dat dit my naaste is vir wie Jesus aan die kruis gesterf het en dat ek die ander wang moet draai, want dit is wat Hy sou doen.

Thursday 28 January 2016

Wees 'n seën vir ander

Matteus 5 : 6  Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hule sal barmhartigheid bewys word.

Elke keer dat ek die winkel besoek let ek op dat my inkopies duurder word.  Dit maak dat my keel toetrek.  Ek kan myself nog onder die bevoorregtes reken, want ek het immers ‘n vaste maandelikse inkomste.  Hoe gemaak as jy geen inkomste het, of slegs ‘n toelaag ontvang.

Staatspensioen beloop tans net oor R1400 pm.  Kinder- en ander toelaes is veel minder.  Kan jy jouself indink hoe jy oorleef met so ‘n bedrag?  Noodgedwonge is hierdie mense van ander afhanklik.  Ek kan nie vir een oomblik dink dat dit vir so iemand maklik is nie.

Jesus het soveel barmhartigheid betoon terwyl hy hier op aarde was.  Indien ons, onsself Christene noem, wat meer en meer soos Hy wil word, dan moet ons ook barmhartigheid betoon. 

Jy hoef nie vir iemand geld te gee nie.  Koop vir hul basiese kos items, of as jy werklik omgee, nader iemand wat by ‘n robot bedel en vra wat hul nodig het sodat jy dit vir hul kan koop.


God seen my mildelik en die minste wat ek kan doen is om tot seën vir ander te wees.  

Wednesday 27 January 2016

Aanvaar die verlede en beweeg aan

Matteus 1:22  Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:

Ek lees iets wat my hartsnare roer.  ‘n Jong dame van 17 jaar het ‘n verhouding met ‘n getroude man.  Toe sy vir hom vertel dat sy swanger is met sy baba, verloor hy belangstelling en laat haar in die steek.  Sy besluit op ‘n selfdoen-aborsie.  Gelukkig of ongelukkig misluk die aborsie.  ‘n Jong seun, met verskeie liggaamsgebreke word gebore.  Op drie-jarige ouderdom word hy aangeneem.

Niemand sou hom blameer as hy bitter is nie, maar hierdie seun is geensins bitter nie.  Hy verstaan hoekom sy ma hom probeer aborteer het.  Hy verstaan ook hoekom sy hom vir aanneming opgegee het.  Hy glo ook dat dit die beste was, want hy het in ‘n liefdevolle huis grootgeword.  Hierdie ouerpaar het hom soos enige ander kind grootgemaak en hom laat glo dat daar niks met hom skort nie.

Hy is getroud en hul het drie kinders saam.


Ons kan so maklik ons omstandighede blameer of bly vassteek by dit wat in ons verlede gebeur het.  Hierdie jong man se lewe is egter getuienis dat jou lewe soveel meer positief kan wees as jy besluit om die verlede te aanvaar en aan te beweeg.  Ons weet nie altyd hoekom nie, maar ons weet dat God ‘n doel met alles het.

Tuesday 26 January 2016

Draai die ander wang



Matteus 5:39  Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.

Hoeveel keer het ons al artikels gelees van mense wat hul deur opportuniste uit hul swaarverdiende geldjies uitgepraat het?  Gewoonlik lees ons ook dat die rentekoers onnatuurlik hoog was… dat gierigheid die oorhand gekry het… dat mense hul huiswerk moet doen… dat hul eerder met betroubare makelaars of banke moet sake doen.

Wel, dit is presies wat ‘n dame gedoen het met haar pensioengeld toe sy na 37 jaar diens afgetree het.  Sy het haar geld deur ‘n geakkrediteerde bank makelaar belê.  Twee maande later was elke sent daarmee heen en moes sy hoor dat die makelaar geregtelik ondersoek word.  

Hoe sou jy voel as jy uiteindelik aftree, met die nodige gemoedsrus van ‘n neseiertjie, net om skielik agter te kom daar is eintlik niks?

Hierdie dame het besluit dat sy nie dit wat gebeur het kan omkeer nie, maar dat sy wel haar talente kan gebruik om weer van voor af te begin.  Nie vir een oomblik het sy gevra:  “Wat het ek gedoen dat God my so straf nie?”  Haar redenasie was dat sy besluite geneem het wat negatiewe gevolge gehad het en dat net sy iets daaraan kan doen om dit om te keer.  Hierdie vrou het letterlik die ander wang gedraai.

As onderwyseres het sy gereken dat skoolhou in Engeland die oplossing is, veral met die gunstige wisselkoers.  Maar God het ander planne met haar gehad.  Sy het ‘n pos as versorger van ‘n senior burger gekry.  Die dame se familie was onbeskof en het met alles foutgevind wat sy gedoen het.  Gewoonlik kan ‘n mens meer hanteer as jy ‘n goeie nagrus kry, maar dit was haar ook nie beskore nie.  Snags het sy op ‘n matras op die koue vloer geslaap in ‘n posseël-grootte kamertjie.

Omdat sy geweet het dat sy nie kan tou opgooi en huis toe kom nie, het sy die agentskap gevra om haar te verskuif.  Sy het by ‘n baie dierbare dame in Wallis beland.  Hulle was onmiddellik geesgenote.  Sy het die dame 6 jaar lank opgepas en uiteindelik huiswaarts gekeer.

Alles het verander.  Sy was nie meer die mens wat sy was voor sy na Engeland vertrek het nie.  Oor die verloop van jare het sy soveel waardevolle lesse geleer.  As mens het sy ‘n metamorphose ondergaan en as bonus nader aan God gekom as ooit te vore.  Uiteindelik was die verlies van haar pensioen ‘n bedekte seën.

Monday 25 January 2016

As deure oopgaan



Spreuke 18 : 16  'n Geskenk maak vir 'n mens die pad oop en gee hom toegang tot mense met mag.

As jy na die verhaal van Dawid en Goliat luister, dink jy dit is alles God, maar dit is nie heeltemal waar nie.  God het nie die klippie gekies nie en Hy het ook nie die slingervel gebruik nie.  Dit was Dawid wat die gawe wat God hom gegee het gebruik het.

Soos Dawid, het ek en jy ook ‘n talent wat binne ons dormant lê.  Daardie talent kan vir jou nuwe deure open en jou lei na ‘n lewe van oorvloed, maar die geheim is dat jy daardie talent ontgin en ontwikkel.  Elke dag wat jy groei, leer, verbeter, raak jy meer voorbereid.

Terwyl jy wag, hou aan om jou talente te ontwikkel.  Maak ‘n studie van andere wat jy bewonder.  Wees leergierig sodat jy vir hul pos kan aansoek doen of eendag wees wie hul is.  

Indien God sien dat jy jou kant bring, sal Hy vir jou deure open. 

Sunday 24 January 2016

Maak die beste van elke sekonde

Psalm 90:4  Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.

Dit is asof elke jaar vinniger verbygaan.  Vandag gee jy jou graad eentjie in trane by die skool af en binne ‘n oogwink maak jul gereed vir die matriekafskeid.  Net gister vertel iemand my van ‘n drie-jarige seuntjie wat in ‘n swembad verdrink het.  Daar is verskillende emosies wat deur jou bruis by die aanhoor van sulke nuus.  Een daarvan is dat ‘n jong lewe kortgeknip is nog voor dit begin het. 
‘n Ander gedagte is dat die jong mamma sekerlik drome vir haar en haar seuntjie gehad het en dat daardie drome nou net drome sal bly.

Ons stel so maklik uit om iets te doen sonder om daaraan te dink dat ons dalk nooit die geleentheid gaan kry om dit te doen nie.  Hoekom moet ons wag vir die regte oomblik, of totdat ons gereed is of totdat ons die nodige fondse het?  Ek is iemand wat altyd aan die toekoms dink en daarvoor beplan, maar wat as ek nie hier gaan wees om daardie toekoms te geniet nie? 

Ek dink dit is nodig om meer ‘in the moment’ te leef… bietjie meer geniet en minder roetine… bietjie meer speel en minder werk.  God het vir ons elkeen ‘n afgemete tyd beskikbaar gestel en aangesien ons nie weet hoe lank daardie tyd sal wees nie, mag ons net sowel die beste van elke sekonde maak.


“One day, you will wake up and there won’t be any more time to do the things you’ve always wanted…  DO IT NOW…” ~ Paulo Coelho

Thursday 21 January 2016

God maak nie onderskeid nie

Handelinge 10 : 34 – 35  Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.

As jy iemand is wat vandag voel dat niemand vir jou lief is nie, moet jy weer die teks lees.  Of dalk voel jy dat jy so ver afgedwaal het dat God jou nooit weer naby Hom sal toelaat nie.  Nog erger, dalk is jy heimlik jaloers op iemand anders se verhouding met God.  Jy wens dat jou verhouding met God soos hulle verhouding kon wees.  Jy glo dat jou geluk ook sal draai as jou verhouding op dieselfde vlak as hul s’n kan kom.

Jy kan dus nou ontspan in die seker wete dat God geen witbroodjies het nie.  Die speelveld is gelyk.  As jy Hom aanneem, vereer en doen wat reg is, is daar geen onderskeid nie.


Soms wil ons alles vir almal wees.  Ons probeer om almal te ‘please’.  Eintlik maak niks en niemand behalwe God saak nie.  

Wednesday 20 January 2016

Die tafel is gedek vir jou



Psalm 23 :5  U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.

Toe God jou lewe beplan het, het Hy dit tot in die fynste besonderheid gedoen.  Hy het die regte geleenthede, die regte mense en die perfekte deurbrake vir jou opgelyn.  Daar is seëninge met jou naam op in Sy hande.  Niks en niemand kan God se planne vir jou in die wiele ry nie.  

Hoe kom jy daarby uit, veral as jy kyk hoe jou lewe nou daar uitsien? Deur getrouheid… getrouheid in jou Bybelstudie, getrouheid in jou geloof, getrouheid om Hom te eer.  Bid sonder ophou. 

Dink aan die skepping.  Die eerste vyf dae het God die hemel, die aarde, die lug, land en see gemaak.  Toe le Hy pragtige tuine aan. Daars struike, eksotiese blomme, vrugtebome… Waterstrome kabbel deur die lushof.  In die grond is daar goud, silwer, koper en pragtige edelstene versteek.  Op die sesde dag skep God vir Adam en plaas hom in die tuin.  Adam is saggies neergesit midde in ‘n voorbereide seëning, iets wat God met groot sorg vir hom geskep het.  

Net so het God ook alles vir jou voorberei.  Die tafel is gedek vir jou.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...