Monday 29 February 2016

Hekkies

1 Korintiërs 10 : 13  Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

Het jy al gevoel asof jy op elke manier misluk en dat niks in jou lewe glad wil verloop nie?   Elkeen van ons het al teleurstelling of onregverdigheid beleef.  Sulke tye is dit maklik om oorweldig te voel en te dink dat jy nooit daaroor sal kom of dit nooit sal oorleef nie. 

Die lewe is ‘n hekkieswedloop.  Jy hardloop voluit en spring oor die hekkies.  As jy te moeg is, gaan jy die hekkie omstamp, maar moenie ophou hardloop nie.  Dit is daar vir ‘n rede, maar nie onoorkombaar nie.

Die wonder is dat God beloof dat Hy ons nooit bo ons vermoë sal beproef nie.  Ons dink so maklik ons kan nie meer nie, maar genadiglik voorsien God ons ook met die krag om elke situasie te kan oorkom. 

As jy vandag oorweldig voel deur jou omstandighede, weet net dat met God alles moontlik is.  Geen siekte, hoogte of diepte (probleme of uitdagings) kan ons van Sy liefde skei nie. 

Herinner jouself weer daaraan dat God goeie planne vir jou het.  Daarom kan niks of niemand jou terughou nie. 

Sunday 28 February 2016

Komaan!

Genesis 12 : 1  Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aaron gesê…

Abraham is beslis ‘n geloofsheld.  God maak een van die eerste verbonde met hom.  Ek weet nie of jy Abraham se geskiedenis ken nie, maar God het met Abraham se pa ook gepraat oor die verbond, nog lank voor Hy met Abraham daaroor gepraat het.  Abraham se pa het ‘Ur verlaat in die rigting van Kanaan.”  Sy pa was op pad na die beloofde land!  Maar dan lees ons dat hy op pad gestop het en in Haran gebly het.  Hoekom stop hy daar? Hy was moeg vir die gesukkel.  Dit was nie maklik om met troppe vee, familie en besittings te trek nie.  Uiteindelik het hy net op ‘n punt gekom wat hy gedink het:  “Tot hiertoe en nie verder nie.  Dis nou wel nie die beloofde land nie, maar dis ok.”

Is dit nie ‘n weerspieëling van ons eie lewe en manier van doen nie?  Ons spring vuur en vlam weg met groot drome en vol durf.  Langs die pad gebeur dinge wat ons ontmoedig.  En uiteindelik gee ons op of maak vrede met tweede beste. 

Nee!  Vandag wil ek bietjie daardie assies hard blaas sodat jou drome weer kan opvlam.  Jy gaan nie boedel oorgee nie.  Jy gaan dit al die pad tot in jou beloofde land maak.  Komaan!


Thursday 25 February 2016

Harmonie

Jakobus 5 : 16 Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word.  Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking. 

Verhoudings is uiters belangrik in die oë van God.  Ongelukkig is verhoudings nie eenvoudig nie.  Daar is vele verhoudings wat al skipbreuk gelei het… gebroke gesinne en gebroke families..  Dit is nie hoe God wil hê dat ons vir altyd moet leef nie.  Hy begeer dat ons, as Sy kinders in harmonie met mekaar sal leef en naby aan mekaar sal bly.  Wanneer ons vir mekaar bid, gebeur daar wondere. Ons open die deur vir God om heling te bewerkstellig. 

Om in liefde en harmonie saam te leef, beteken nie noodwendig dat jy met almal moet saamstem nie, maar wel dat jul sal besef dat God jul deur ‘n bloedband aanmekaar verbind het, om ‘n rede.  Daar is meer ooreenkomste tussen julle as wat daar verskille is.  Dit beteken dat julle moet uitreik na mekaar, vir mekaar moet bid en uitkyk. 


Die oomblik dat dit nie meer oor jou gaan nie, maar om God se mede skepesels, sal God ook in jou behoeftes voorsien.  Hy is nie blind vir die onreg of seer van die verlede nie.  Volg God se gebooie en bid vir mekaar sodat die band herstel kan word.  God verbreek nie familiebande nie, ons doen dit en daarom moet ons die eerste tree gee om dit te herstel.

Wednesday 24 February 2016

Terwyl hul op pad was

Lukas 17 : 14  Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle:  “Gaan wys julleself aan die priesters.”  Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword.

Onthou jy nog die gelykenis oor die melaatses? Hulle het uitgeroep: “Jesus, Here, kry ons tog jammer!”  As Jesus wou, kon hy net die woord gespreek het, en hulle sou almal op die plek genees gewees het, maar Hy wou sien dat hul geloof sterk genoeg is.  Hy verwag dat hul hulself aan die priester gaan toon.

Nou moet jy onthou dat melaatses nie welkom tussen ander mense was nie.  Hul was die uitgeworpenes wat aan die buitewyke gebly het.  Daar is geglo dat hulle vuil is en dat jy kon aansteek as jy in kontak met hulle kom.  So toe Jesus hulle stuur, het hul seker gehuiwer, want op daardie tydstip het hul nog nie beter gelyk as voorheen nie.  Hul liggame het nog die tekens van melaatsheid gedra.  Hulle kon seker redeneer dat hul eers ‘n bietjie moes wag totdat daar verbetering intree… of dalk het hul gedink hul kan miskien net daar bly en beter raak eerder as om moeite vir niks te doen.  Die sieniese inidividue kon dalk gereken het dat dit ‘n mors van tyd sou wees aangesien niks nog verander het nie. 

Hulle het egter besluit om die eerste tree in geloof te gee en sodoende die eerste stap na genesing geneem.  Absolute geloof. “ Jesus sê ons gaan beter word as ons gaan, so kom ons gaan.”  Die skrif sê ook dat hul geword het soos hul aanbeweeg het.  Ek glo as hul sou stop of omdraai, sou die melaatsheid weer teruggekom het, maar hulle het deurgedruk in geloof.


Nou wonder ek wat God op jou hart gelê het om te doen.  Huiwer jy of neem jy daardie tree in geloof.  Praat gaan God nie beweeg nie.  Kry jou geloofswiele aan die rol en doen wat Hy van jou verwag.  Ek weet dit is nie maklik nie. Dit is nie logies nie en nog minder maak dit sin.  Wat jy op die oomblik sien, laat jou ook nie voel dat daar ‘n wonderwerk reg voor jou neus is nie, maar ons mag Hom maar vertou.

Tuesday 23 February 2016

Vir aan Wie jy behoort

Psalm 30 : 5  Sing tot eer van die Here, julle wat getrou is!  Loof sy heilige Naam.

By die skool, in die media of deur middel van ander mense, word jy attent gemaak byvoorbeeld van nuwe virusse waarvoor jy moet pasop, hoe om meer bewus te wees van jou omgewing om nie ‘n slagoffer van misdaad te wees, padveiligheid, ens.  Indien iemand jou nog nie pertinent gewaarsku het nie, het jy ten minste daarvan bewus geword omdat jy daarvan gehoor het of inligting gesien het.  Dit is absoluut nodig, maar dit is net so nodig om te weet van God se guns.


Jy kan hierdie guns as’t ware oor jou lewe spreek. Wanneer jy die huis verlaat:  “Dankie, Here dat U vandag saam met my en my gesin hierdie huis verlaat… dat ons deurlopend u guns en beskerming mag ervaar.”  Gebruik reistyd om te mediteer oor God se guns.  Voor jou geestesoog, sien hoe deure vir jou oopgaan.  Onthou dat guns dieselfde is as voorkeur.   Dit beteken dat jou dag voorspoediger as ander s’n sal verloop, nie omdat jy meer belangrik is as ander nie, maar omdat God Sy hand oor jou hou.  Leef doelbewus, nie vir wie jy is, maar vir aan Wie jy behoort.

Monday 22 February 2016

Kom tot inkeer

Handelinge 3 : 19  ”Kom tot inkeer en maak reg met God sodat julle sondes uitgevee kan word.”

Vandag wil ek ‘n beroep op jou doen.  God het jou by die naam geroep.  Jy is Sy geliefde kind.  Hy wil nie sien dat jy verlore gaan nie.

Gebruik hierdie geleentheid om tot bekering te kom.  Bely jou sondes voor Hom.  Dit maak nie saak hoe sondig jou verlede is nie.  God sal dit uitvee asof dit nie bestaan het nie.  Hy wil jou net aan Sy bors druk en verseker: “dis in orde, my kind.  Jy’s veilig.  Ek is so lief vir jou.” 


Dierbare Hemelse Vader, vandag buig ek in ootmoediging voor U neer.  Ek bely elke enkele sonde voor U… die waarvan ek weet (noem dit by die naam), maar ook die waarvan ek nie eens weet nie.  Maak my witter as sneeu, Here.  Ek weet dat ek swak is en weer mag struikel, maar ek weet ook dat ek U kan vra om my sterk te laat staan teen versoeking.  Dankie dat ek U Vader mag noem.  Amen.”

Sunday 21 February 2016

Om te spog of nie

1 Korintiërs 4 : 7  Wat maak jou beter as enige ander gelowige?  Wat het jy wat God nie aan jou gegee het nie? En as dit dan aan jou gegee is, hoe spog jy dan asof jy op eie houtjie presteer het?

Ons het so pas huis gekoop.  My nuwe kar is ‘n...  Ek het uiteindelik die bevordering gekry waarvoor ek so hard gewerk het.  Uiteindelik het ek matriek geslaag / graad gevang.  Ek het die regte keuse gemaak toe ek my vrou getrou het.  Ek het ‘n merietebonus gekry. 

Hierdie is alledaagse uitlatings.  Meeste van tyd eien die spreker hom/haarself die krediet toe.  Dit gaan oor hoe goed of oulik ek is en wat ek bereik het. 

Meeste mense streef daarna om hulself en hul omstandighede te verbeter.  Hulle sal enige iets doen om hul drome te verwesenlik.  Christen of nie-christen… almal sal seisoene van voorspoed en teespoed ervaar.  Jy ken immers die gesegde:  “die duiwel sorg vir sy kinders”.

Wel, ek het nog nooit ‘n nie-christen eers die duiwel die eer hoor gee nie. Dit gaan net om hulle. 
Aardse besittings kan egter oornag verdwyn.  Gee aan God die eer vir die deure wat hy vir jou oopmaak of die geleenthede wat Hy oor jou pad bring.  Jy is nie beter of gelukkiger as ander nie, net meer begenadig.


1 Korintiërs 1 : 31  “Die persoon wat graag wil spog, mag net spog oor wat die Here vir hom gedoen het.”

Thursday 18 February 2016

Laat gaan!

1 Korintiërs 6 : 6 - 7  Maar nee, as Christene daag julle mekaar voor die hof en dit voor ongelowige regters!  Bloot die feit dat julle hofsake onder mekaar het, is al klaar vir julle ‘n neerlaag.  Hoekom dan nie maar die onreg ly en dit daarby laat nie?

Dit is vir my al asof ons deesdae net soos die Amerikaners word.  As iemand jou net skeef kyk, daag jy hom voor die hof. 

Jy weet hoeveel korrupsie in ons land plaasvind.  Dit lei tot vele hofsake. Diegene wat tenagekom is (van wie daar gesteel is), moet die skuldige partye voor die hof daag om te bewys wat hul reeds weet. Die prokureurs, advokate en regters lag al die pad bank toe.

Regters, wie heel moontlik nie Christene is nie, besluit tussen reg en verkeerd.  Die prokureur met die beste redenasies en skerpste brein kan jou heelwaarskynlik los kry, al is jy skuldig.   En as ons nie ons sin by die eerste hof kry nie, gaan ons na die hooggeregshof of die konstitusionele hof, maar ‘n punt bewys sal ons.


Die Bybel het ‘n ander siening oor die saak.  Hoekom dan nie maar die onreg ly en dit laat gaan nie!  Antwoord jy hierop:  “Oor my dooie liggaam!” of laat jy gaan?  Daar is uiteindelik net een Regter en Hy sal op die oordeelsdag reg laat geskied.

Wednesday 17 February 2016

Dit kan tog nie

1 Korintiërs 6 :15 Sal ‘n mens dan jou liggaam wat aan Christus behoort, met ‘n prostituut verenig?  Dit kan tog nie!  Of dink julle nie daaraan dat iemand wat homself aan ‘n prostituut bind, liggaamlik met haar een word nie?

Hoevel keer hoor jy nie dat iemand ‘n verhouding regverdig deur te sê: “die persoon het niks vir my beteken… dit was net seks.” 

Dit is die storie wat die eggenoot dikwels moet aanhoor.  Die persoon met wie die ontugtige sy/haar lewensmaat mee verkul, word weer oortuig dat die eggenoot hul nie verstaan of dat die huwelik in elk geval net op papier bestaan.  Dikwels bou die persoon met wie hul ‘n buite-egtelike verhouding het hul toekomsdrome op hierdie beloftes.  Eendag gaan hy/sy die eggenoot verlaat en dan gaan daar ‘n wonderlike nuwe verhouding ontstaan.

Realiteit is dat vele ontugtiges hul brood aan albei kante gebotter wil hê. Hul wil nie hul eggenoot verlaat nie, maar hul wil ook nie hul minaar/minares opgee nie.

So word die lewe ‘n leuen met geen wenners, net ‘n slagveld van vernietiging.  Wanneer jy seks met iemand het, word jou liggaam een met daardie persoon.  Dit is nie net ‘n biologiese feit nie, maar die Bybel berrig ook so. 

Of dit nou ‘n prostituut, ‘n one-night-stand of ‘n buite-egtelike verhouding is, dit is verkeerd omdat jy jou liggaam wat aan Godbehoort, verontheilig.  Dit kan tog nie!


As jy jouself vandag in so ‘n situasie bevind, breek met die sonde.  God sal jou vergeef en jou huwelik weer nuut maak.

Tuesday 16 February 2016

Trek aan

Kolossense 3 : 12 Julle is die mense wat God uitverkies het om Syne te wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek:  deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld.

Soms werk verhoudings nie uit soos wat ons gehoop het dit sal uitwerk nie.  Die ander persoon tree nie op soos wat ons wil hê hy/sy moet optree nie of hulle is eenvoudig nie soos wat ons gedink het hul is nie.   Die fout lê gewoonlik by die ander party, nooit by onsself nie.  Dus verwag ons dat hy/sy verander sodat dinge beter kan gaan. 

Dit werk ongelukkig nie so nie.  Of die ander persoon nou jou moeilike baas is, jou wederhelf, jou opstandige tiener, jou ouers… Verandering begin by jou. Jy moet verander!  Doen jou deel en God sal die res doen. 

Ja, ek weet dit klink nie regverdig nie, want jy glo steeds die fout lê nie by jou nie.  Laat egter toe dat God jou verander, want Hy gaan nie die ander persoon verander nie. Trek die regte ‘klere’ aan.


Staan soggens op met die gedagte:  “God, ek weet vandag gaan nie maklik wees nie.  Vorm my en maak my die persoon wat U weet ek kan wees.  Ek kan alles hanteer, want U is met my.”  Neem ‘n wilsbesluit om die res van die dag in hierdie staat van kalmte te bly.  Kies God se manier eerder as jou eie, want heel moontlik het jou eie planne tot nou toe nie gewerk nie.

Monday 15 February 2016

Seën

Psalm 68 : 19      U het krygsgevangenes weggevoer, mense het vir U geskenke gebring, selfs dié wat teen U in opstand was. Toe het U opgegaan na die hoogte om daar te woon, Here God!

Wanneer jy jou lewe leef tot eer van God, Sy Woord gehoorsaam, en ‘n lewe van integriteit en uitnemendheid leef, sal jy vind dat seëninge jou as’tware inhaal.  Jy sal nie kan wegkom van God se hand van oorvloed nie.  Hy sal jou so bederf dat jy later sal begin skaam voel.  Moenie, dit is Sy manier van dankie sê vir jou getrouheid.

Mense is knaend op soek na geluk.  Hulle sal geluk soek in verhoudings, geld, besittings…  Hulle soek op die verkeerde plek.  God is geluk.  Sodra jy God gevind het, het jy geluk ook gevind.  Die skrif sê dit ook.  As God die middelpunt van jou lewe is, val alle ander dinge in plek.

Begin om alles wat jou aandag van God aflei eenkant toe te stoot.  God sal hierdie dinge aan jou openbaar. Dit kan dalk moeilik wees, maar moenie aan versoeking toegee nie.  Jy kan nie vashou aan hierdie goed nie, want dan is daar nie plek vir God in jou lewe nie.  Daar moet niks in jou lewe wees wat belangriker is as God nie.


Sodra jy hierdie minimalistiese leefstyl bereik het, sal jy God se hande sien oopgaan.

Sunday 14 February 2016

Twee is beter as een



Prediker 4 : 9 - 10  Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer.  As een mens val, kan sy vriend hom ophelp.  Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.

Valentynsdag is wonderlik as jy iemand in jou lewe het… iemand wat jy kan bederf en wie jou ook kan bederf.  Die media en winkels het Valentynsdag verhef tot so ‘n mate dat jy skuldig voel as jy nie iets spesiaal vir jou geliefde sou doen nie.  

Met al die fokus op Valentynsdag en die publisiteit wat dit kry, kan diegene wat nie in ‘n verhouding is nie, voel dat hul uitmis op iets baie spesiaal.  Ons kan egter elke dag Valentysdag geniet deur liefde te betoon waar ons ookal gaan.

Dit gaan oor veel meer as rooi rose en sjokolade.  Dit gaan oor iemand wat jou mede-reisiger is op jou lewenspad.  Dit is daardie persoon wat jou sien op jou slegste tye en jou steeds onvoorwaardelik liefhet.  

Soos die man wat ‘n boek geskryf het wat sy vrou altyd wou skryf terwyl sy nog geleef het.  Ongelukkig het ‘n terminale siekte haar droom gekelder, maar hy het haar droom deurgevoer.  Dit is vir my die ultimate liefdesdaad.  Toe sy struikel, het hy namens hul albei die wedloop enduit voltooi.

Ouers wat gestremde kinders versorg… ‘n vriend of vriendin wat daar is as jou lewe ontspoor… iemand wat daar is as jy ‘n geliefde aan die dood afstaan… iemand wat ‘n hand uitreik na diegene wat ander vermy of verstoot… hulle is die ware Valentyne!

Of ons dit nou wil erken of nie… ons het almal een of ander tyd iemand nodig wat ons kan ophelp as ons struikel.

Thursday 11 February 2016

Vrees

Eksodus 15:16  Vrees en angs het hulle oorval, u magtige dade het hulle laat versteen toe u volk deurtrek

Vrees is die vyand se beste wapen.  Elke keer wat ons erken dat ons bang is, glimlag die vyand breed, want dan weet hy dat hy in beheer is. 

Jy droom daarvan om jou eie besigheid te begin.  Elke dag groei die droom.  Jy doen navorsing, maak sekere berekeninge, praat met ander… Iemand maak ‘n opmerking en jy begin twyfel… Ewe skielik lyk die idee ‘n bietjie lendelam en het jy nie meer vertroue daarin nie.  Jy raak bang en sien van jou idee af.  Die vyand het gewen.

Jy wil ‘n meisie vir die matriekafskeid ‘skiet’. Dae lank loop en beplan jy jou benadering.  Die dag breek aan dat jy tot aksie oorgaan, maar jou moed begewe jou, want jy is te bang sy sal nee sê.
Jou nuwejaarsvoorneme is om jou bestuurderslisensie te kry.  Jy maak ‘n afspraak met iemand om jou lesse te gee.  Die eerste les verloop nie goed nie. Jy is te bang om met die lesse voort te gaan, want dit lyk nie asof jy in staat is om te bestuur nie.

Ek is seker daarvan jy kan aan nog voorbeelde dink waar jou moed jou onlangs begeef het.  Keer op keer is dit omdat jy bang is jy misluk, of jy voel dat jy nie goed genoeg is nie, of selfs dat jy dit nie verdien nie. 

Vrees is ‘n gevoel wat jou emosies aantas.  Dit is waar ons die kwesbaarste is.  Wanneer jy egter kies om op God te vertrou, eerder as op jou eie kragte, sal vrees verdwyn.


Vandag wil ek jou moed inpraat.  Moenie toelaat dat vrees jou verswak of terughou nie.  Neem daardie stap in geloof, want jy is nie alleen nie.  God is vir jou en by jou en Hy sal nie toelaat dat jy misluk nie.

Wednesday 10 February 2016

Bybelstudie

1 Timoteus 4:13  Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee.

Wat ek nou gaan sê, is seker nie bevorderlik vir my blog nie, maar ek wil dit tog sê.  Bybelstudie is nie die lees van hierdie dagstukkie nie.  Dit is ook nie ‘n Bybelvers wat jy op jou selfoon kry nie.  Dit help, maar dit gaan oor veel meer.

Jou Bybel behoort die een boek te wees wat jy vodde lees.  Lees hom van voor na agter en terug en tussen-in.  Glo my, elke keer gaan jy iets anders raaklees.  Soms lees jy ‘n gedeelte wat jy al meer as een keer gelees het, maar vir die eerste keer maak dit sin.

Gelukkig help God ons daarmee, want wanneer jy werklik wedergebore is, sal jy jou Bybel WIL lees.  Jy wil meer weet, verstaan en God beter leer ken.


“The Bible is meant to be bread for daily use, not cake for special occasions…” ~ Unknown

Tuesday 9 February 2016

God maak nie onderskeid nie

Handelinge 10 : 34 – 35  Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.

As jy iemand is wat vandag voel dat niemand vir jou lief is nie, moet jy weer die teks lees.  Of dalk voel jy dat jy so ver afgedwaal het dat God jou nooit weer naby Hom sal toelaat nie.  Nog erger, dalk is jy heimlik jaloers op iemand anders se verhouding met God.  Jy wens dat jou verhouding met God soos hulle verhouding kon wees.  Jy glo dat jou geluk ook sal draai as jou verhouding op dieselfde vlak as hul s’n kan kom.

Jy kan dus nou ontspan in die seker wete dat God geen witbroodjies het nie.  Die speelveld is gelyk.  As jy Hom aanneem, vereer en doen wat reg is, is daar geen onderskeid nie.


Soms wil ons alles vir almal wees.  Ons probeer om almal te ‘please’.  Eintlik maak niks en niemand behalwe God saak nie.  

Monday 8 February 2016

Maak die beste van elke sekonde

Psalm 90:4  Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.

Dit is asof elke jaar vinniger verbygaan.  Vandag gee jy jou graad eentjie in trane by die skool af en binne ‘n oogwink maak jul gereed vir die matriekafskeid.  Net gister vertel iemand my van ‘n drie-jarige seuntjie wat in ‘n swembad verdrink het.  Daar is verskillende emosies wat deur jou bruis by die aanhoor van sulke nuus.  Een daarvan is dat ‘n jong lewe kortgeknip is nog voor dit begin het. 
‘n Ander gedagte is dat die jong mamma sekerlik drome vir haar en haar seuntjie gehad het en dat daardie drome nou net drome sal bly.

Ons stel so maklik uit om iets te doen sonder om daaraan te dink dat ons dalk nooit die geleentheid gaan kry om dit te doen nie.  Hoekom moet ons wag vir die regte oomblik, of totdat ons gereed is of totdat ons die nodige fondse het?  Ek is iemand wat altyd aan die toekoms dink en daarvoor beplan, maar wat as ek nie hier gaan wees om daardie toekoms te geniet nie? 

Ek dink dit is nodig om meer ‘in the moment’ te leef… bietjie meer geniet en minder roetine… bietjie meer speel en minder werk.  God het vir ons elkeen ‘n afgemete tyd beskikbaar gestel en aangesien ons nie weet hoe lank daardie tyd sal wees nie, mag ons net sowel die beste van elke sekonde maak.


“One day, you will wake up and there won’t be any more time to do the things you’ve always wanted…  DO IT NOW…” ~ Paulo Coelho

Sunday 7 February 2016

Na watter skildery kyk jy?

Psalm 42 : 6  Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?  Vertrou op God!

Ons lewe is soos ‘n kunsgalery.  Wanneer jy daardeur stap, verwonder jy jou aan die verskillende tonele wat in die skilderye uitgebeeld word.  Daar is jou kinderdae… jou ouers… daardie onvergeetlike rugbywedstryd waar jy die drie gedruk het… jou eerste motor… jou geliefde(s)… maar dan is daar ook die Tretchikoffs… die iris met die traan… verspeelde geleenthede… mislukte verhoudings… misbruik… onregverdigheid…  Hier wil jy nie tyd verwyl nie…

Of is dit juis waar jy meeste van jou tyd deurbring?  Geniet jy dit om daar te sit en staar na die ongelukkige prentjies terwyl die trane teen jou wange afloop?  Miskien besef jy dit nie, maar ons het ‘n keuse.  Ons kan kies om meer na die gelukkige skilderye te kyk as na die wat ons ongelukkig maak.


Dit is nie nodig dat die sprinkaanswerms verder jou landerye verniel nie.  (Joël 2 : 25-26).   Hang vandag al daardie skilderye in een vertrek, kyk een laaste keer daarna en trek dan daardie deur agter jou toe.  Skryf daarop, verbode, geen toegang.  En beweeg aan met jou hand stewig in die van God.

Thursday 4 February 2016

Beteuel jou humeur

Spreuke 19 : 11  ‘n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees

Ons bou so maklik ‘n muur tussen ons en diegene wat nie soos ons wil dink en optree nie.  Ek sal hom/haar nooit vergewe nie… Ek wil hom/haar nooit weer sien nie…

As die dood vandag aan jou deur kom klop, sou jy nog so oor die ander persoon voel?  Om kwaad vir ander deur die lewe te gaan, hou jou ook terug.  Alhoewel jy nie meer met daardie persoon wil praat of hul vergewe nie, beteken dit nie dat jy nie meer aan hulle dink nie.  Om die waarheid te sê, ek dink jy dink meer aan hulle.  Wraakgedagtes bou op.  Veral snags maak die spoke amok met sê-nou-maar speletjies.

Voor jy dus jou humeur verloor of daar woorde geuiter word wat letsels veroorsaak, haal diep asem.  Jy hoef nie altyd die laaste woord in te kry nie.  Jy hoef ook nie altyd reg te wees nie.  Dit vat baie meer van jou om weg te stap of niks te sê nie, ek weet, maar jy sal soveel beter oor jouself voel. 


Vergewe en vergeet.  Reik uit na diegene vir wie jy kwaad is en as dit nodig is, vra om vergifnis, maar moet dit nie laat tot die dag dat die doodsengel een van julle besoek nie.

Wednesday 3 February 2016

Maak God deel van jou prentjie

Hebreërs 12 : 2  Die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof

Wat hou die toekoms vir jou in?  Waarop hoop jy?  Waaroor droom jy? 

Ek lees dat Roeleen Strauss en haar verloofde hul toekoms altyd haarfyn beplan.  O.a. het hul beplan:  sy gaan deelneem aan Mej Suid-Afrika en wen, verloof raak, dan die Mej Wêreld titel verower...  Hul kan op die jaar terugkyk en tevrede wees, want alles het uitgewerk soos hul beplan het.  In die nuwe jaar gaan sy haar studies voltooi en trou… 

Daar is niks met beplanning, ambisie of visie verkeerd nie, maar waar pas God in die prentjie in? 


Maak God deel van jou prentjie.  Hy is heeltemal ten gunste daarvan dat ons droom en hoop op groot dinge.  Sy planne vir ons hou net goeie dinge in.  As ons dus ons planne met Syne sinchroniseer kan ons soveel meer bereik.

Tuesday 2 February 2016

Aanvaar die goeie en slegte tye

Prediker 7 : 14  En as daar ‘n dag van teëspoed kom, sien dit so:  soos die een het God ook die ander gegee.

Met die aanbreek van die nuwejaar, is dit asof ons reken dat alle teëspoed in die oujaar agter gelaat word.  Die nuwe jaar gaan net voorspoedig wees.  Daarom wens ons immers mekaar ‘n voorspoedige nuwejaar toe.

Realiteit is dat goeie en slegte tye mekaar soos seisoene afwissel, wel miskien nie heeltemal nie, want jy ervaar dalk herfs, winter, winter, winter, herfs, winter en wonder wanneer die lente of somer in jou lewe gaan aanbreek.

Omdat ons voortdurend op voorspoed bly hoop, soos ‘n dobbelaar hoop op die groot slag wat hy gaan slaan, bly ons teleurgesteld.  Wanneer ons besef dat dit nie altyd goed kan gaan nie… dat jy nie altyd kan wen nie… dan is ons meer realisties en nie so teleurgesteld nie.


En wanneer jou lente of somer dan aanbreek, waardeer jy dit soveel te meer.  En onthou, God is met jou elke dag, of dit nou ‘n goeie of ‘n slegte een is.

Monday 1 February 2016

Wysheid

Jakobus 1 : 5  As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt

Miskien is dit die antwoord.  Ons kort wysheid. 

As ons bid en vir God iets vra, word dit nie in ‘n pakkie by ons afgelewer nie.  Dus is dit nogal moeilik om te weet wanneer en hoeveel wysheid, selfs of, jy nou al wysheid ontvang het. 

Dit is een van daardie onverklaarbare dinge.  Jy vra daarvoor en geleidelik kom jy agter dat jy dinge in ‘n ander lig sien.  Dis soos wiskunde… jy verstaan dit nie, maar dan verduidelik iemand vir jou dit op ‘n manier waar jy dit ewe skielik snap.  ‘n Liggie het aangegaan.

Kennis is mag, en so ook wysheid.  Wysheid sorg dat jy nie soos ‘n dwaas optree nie, want jy’t ‘n vlak van intelligensie wat jou insig gee.  Tekste in die Bybel wat nooit sin gemaak het nie, kry betekenis.

Jou kollega wat jou altyd geirriteer het, is nie meer so irriterend nie, want jy verstaan nou hoekom hy/sy is soos hul is. 


Laat ons bid vir wysheid en dan optree teenoor ander soos iemand wat in die Lig leef.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...