Thursday 31 March 2016

Die weg en die waarheid



1 Korintiërs 16 : 24  My liefde is by julle almal in Christus Jesus.

Jesus min my salig lot, ek weet dit uit die Woord van God... Bekende woorde uit ‘n ou halleluja liedjie (lied 437) van jou kinderdae.  Omdat die Bybel so sê.  As kind het ons dit gehoor, geleer en geglo.  God verwag van ons om soos kinders te glo.  Hoekom die Bybel bevraagteken?  Hoekom tegnies oor die Bybel dink?  By God is alles moontlik. 

'n Groot verskeidenheid skrywers – van skaapwagters tot konings – het vir ten minste 1 200 jaar lank daaraan geskryf, en tog bevat die verskillende boeke een en dieselfde boodskap en begrip van wie God is!  Die Bybel is die mees verkoopte, sowel as die mees vertaalde boek. Dit is omdat God wou sekermaak dat mense eendag verstaan alhoewel die ‘storie’ deur verskillende mense vertel is, dit ooreenstem, omdat dit die waarheid is.  

 Sy Woord is die weg en die waarheid.

Wednesday 30 March 2016

God sal nie laat los nie

1 Kronieke 28 : 20 
Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie, want God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie…


Wat ‘n blye versekering!  God sal nooit ons hand laat los nie.  

Eendag staan ‘n pa en sy seun op die wal van ‘n rivier in vloed.  Hulle moes dringend aan die ander kant kom.  Die pappa het die seuntjie beveel om sy hand styf vas te hou as hulle deur die rivier beweeg.  Toe sê die seuntjie:  “Pappa hou jy liewer my hand vas.”  Die pa vra toe wat die verskil is of hy die seun se hand vashou en of die seun sy hand vashou.  “Want Pappa, as jy my hand vashou sal jy nooit laat los nie, maar as ek jou hand vashou sal ek dalk laat glip.”  

As God jou hand vashou, kan jy verseker wees dat Hy nooit sal laat gaan nie.  Sy oneindige liefde sal dit nie toelaat dat jy wegdryf van Hom nie.  Maak nie saak wat gebeur nie...

Tuesday 29 March 2016

Instrumente


Spreuke 27 : 17  Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.


Om ‘n instrument in God se hand te wees, beteken dat jy hoë temperature sal moet weerstaan en dat jy gehamer en geslyp sal word.  ‘n Hamer en bytel waarmee die kunstenaar die pragtige beeld skep, word nooit op ‘n plaatjie by die beeld vereer nie, die kunstenaar se naam word wel vermeld.  So is ek en jy slegs ‘n instrument in Sy hande en moet ons nie verwag om vereer te word as instrumente nie.  

Ons is gereedskap.  Sonder gereedskap kan daar egter nooit ‘n pragtige beeld wees nie.  Gereedskap lê partymaal in onbruik, ander kere word dit daagliks gebruik.  Wees net beskikbaar, gewillig, wanneer die Meester jou en my benodig.  So het ons deel aan die skepping en wonderwerke in wording.  Laat U Wil geskied.



Monday 28 March 2016

Alles is onder beheer

Openbaring 22 : 21 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.


God hou die hele wêreld in Sy hande.  Hy sorg dat dit reën op die regte tyd.  Seisoene volg mekaar ritmies, sonder huiwering op.  Die planete bly in hul wentelbaan. Op die vasgestelde tyd kom die son op en gaan dit weer onder.  

Die kompleksiteit van die heelal is ver buite ons begrip.  Jy dra kennis van swaartekrag, maar hoe bly alles mooi regop terwyl die aarde in die rondte tol?  Dit is die mag van ‘n Hoër Hand.  Dit is die almag van God.  

Dat die mens voortplant van ‘n blote eierselletjie en ontwikkel tot ‘n mens, is nog ‘n wonder.  

Hoe weet die swaeltjies wanneer om die tog na die noorde aan te pak?  

Dit is tyd dat ons ophou om logika hierin te sien en bloot soos ‘n kind aanvaar dat by Hom alles moontlik is.  

Wednesday 23 March 2016

Jesus Christus kom terug

Mattheus 17 : 23  en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word." Hieroor het hulle baie bedroef geword. 
Johannes 20 : 6  Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê,


Dank God dat ons nie ‘n lewelose beeld hoef te aanbid of ‘n dooie god nie.  Dank God dat Hy Sy Seun gestuur het.  Meer nog, dat Sy Seun die dood oorwin het.  Dit is die enkele bewys wat ons nodig het om te weet dat God almagtig is.  Geen ander God kon die dood oorwin nie.  

Hy het selfs vir ons die versekering gegee dat Hy terugkom, toe Hy die doeke wat daar oor Sy gesig was, netjies opgevou agtergelaat het.  Joodse tradisie wil dit hê dat ‘n man sy servet net neergooi as hy klaar geëet het, maar as dit opgevou word, beteken dit hy kom terug.  Jesus Christus kom terug. 

Tuesday 22 March 2016

Die regte pad

Spreuke 19 : 3  Sy eie dwaasheid bring 'n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here.


Party van ons spring sommer so op ons eie op ons perdjie, kap die hakskene in die perd se lieste en storm die lewe tegemoet.  En dan beland ons iewers in die spervuur en ons wonder hoe ons uit die gemors gaan kom.  

Dit gebeur ook met jong paartjies wat in die huwelik tree.  Die huweliksbeloftes is net ‘n formaliteit wat so gou as moontlik afgehandel moet word sodat die partytjie kan begin.  En dan wonder ons hoekom soveel huwelike in egskeidings eindig...  Julle kan nie die hawe verlaat sonder dat Jesus die stuurman van jul huweliksbootjie is nie.  Daar is rotse en ysberge waarvan julle nie weet nie.  Hulle is sigbaar as gebrek aan kommunikasie, lang werksure, ontrou, verskille oor hoe geld bestee word, sogenaamde vryheid, verskille oor dissipline vir die kinders, ens.  

Hy kan julle veilig deur die gevare stuur.

Monday 21 March 2016

Hoekom?

1 Korintiërs 13 : 12  Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.


Via epos ontvang ek die verhaaltjie van iemand wat gekla het oor die kruis wat hy moes dra.  Toe kap God ‘n stukkie van die kruis af.  Na nog ‘n ent kla die persoon weer en God kap nog ‘n stuk af.  ‘n Ent verder, kla hy weer en weereens word daar ‘n stuk afgekap.  Uiteindelik kom die man by ‘n rivier.  Hy kyk links en regs, maar nêrens is daar plek om oor te gaan nie en die rivier is in vloed.  Toe hoor hy die stem:  “Die aanvanklike kruis sou lank genoeg gewees het om neer te sit en veilig oor die rivier te stap.”  

Jy vra ook hoekom moet jy op die oomblik so swaarkry en jy wil ook hê dat God jou kruis ligter maak.  Daar is ‘n rede hoekom jy op die plek is waar jy op hierdie oomblik is.  Vra eerder dat Hy jou die krag gee om daardeur te kom as wat jy Hom vra om die las ligter te maak.  God ken die volle prentjie.

Thursday 17 March 2016

Koning Rugby

Johannes 18 : 37  "Dan is jy tog wel 'n koning?" vra Pilatus. "Dit is soos u sê: Ek is 'n koning," antwoord Jesus. "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê."


Saterdag na Saterdag aanbid mense koning rugby.  Daar word kaartjies gekoop en busse gereël om belangrike wedstryde of toetse te gaan kyk.  Geen koste word ontsien nie.  Weke voor die tyd word kamerade gewerf.  Ander beplan weer ‘n saamtrek van ‘n groep vriende om die wedstryd te kyk op televisie.  Vleis, drank en vingerhappies word gereël en uiteindelik breek die groot dag aan om koning rugby te vereer.  

Het die tyd nie aangebreek om dieselfde ywer te toon om Koning Jesus te vereer nie?  Saam met Leon Goosen wil ek uitgil:  “Hy’s mos die lewe, man!”  Al wen jou gunsteling span ook elke enkele wedstryd, gaan dit jou nie in die hemel bring nie.

Wednesday 16 March 2016

Here, ek wil op die water loop

Matt 14 : 28 “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.”  (29) En Hy sê:  “Kom!”

Jesus het vir Petrus geroep om op die see te loop na Hom toe.   Petrus was bang en toe vrees hom oorval, het Hy gesink.  Jesus het egter dadelik Sy hand uitgesteek en hom gegryp.  Jy begin ook dikwels ‘n taak in geloof en dit gaan goed totdat jy begin twyfel.  Geloof is om God te alle tye te vertrou.  Dan sal Hy jou op hoë plekke laat loop;  selfs op die stormsee sal jy veilig loop.  Vertroue is ‘n vaste geloof in die onsienbare dinge.  Jy is bang om God te vertrou, en dit is normaal.  Bly in gebed daaroor en laat God weet dat jy ‘n begeerte het om Hom te vertrou.  Solank jou begeerte sterker is as jou vrees, is dit genoeg vir Hom.  As jy Hom vertrou, is Hy elke oomblik daar met ‘n uitgestrekte hand.

Tuesday 15 March 2016

Staan nader

Staan jy nader as daar oor God, geloof of godsdiens gepraat word of sorg jy dat jy jouself vinnig uit die voete maak?  Jy lees Bybel, bid en gaan kerk toe, maar God moet tog net nie van jou verwag om te getuig nie.  Sulke mense word klip-christene genoem.  (Matt 23 : 27 verwys na witgeverfde grafte). Die boodskap het net soveel effek op jou as wat dit op ‘n klip het.  Jy gaan net so min die woord uitdra as wat ‘n klip dit gaan doen.  Dalk dink jy dat daar genoeg ander mense is wat dit kan doen.  Jy is verkeerd.  In Lukas 10 : 2 word jy geroep:  Hy het vir hulle gesê: "Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”  Jy en ek is albei arbeiders en ons moet aan die werk spring.  Ons mag nie die boodskap net vir onsself hou nie.

Monday 14 March 2016

So moet julle dan bid

Mattheus 6 – So moet julle dan bid


Toe die Israeliete in die woestyn getrek het, het God hulle elke dag net genoeg manna gegee vir daardie dag.  Dit was nie vir hulle nodig om spaarsamig daarmee te werk of daarvan oor te hou nie, inteendeel dan sou dit sleg word.  God het selfs vir verskeidenheid gesorg;  Manna en Kwartels.  So sorg God vandag steeds vir jou in die kleinste besonderheid.  Jy hoef nie oor die dag van môre bekommerd te wees nie;  nie as jy elke dag bid vir vandag se brood nie.  Hy sal sorg.  Hy is getrou.  Hy het jou geleer hoe om te bid en Hy sal nooit op Sy Woord teruggaan nie.  Daar sal nie oorvloed wees nie, maar jy sal nooit honger ly nie.  Laat U wil geskied... Laat U koninkryk kom...

Sunday 13 March 2016

Liefde in aksie

1 Johannes 3 : 17 – 18  Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?  Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

Jy’t seker al gehoor dat jy kan gee sonder liefde, maar jy kan nie liefhê sonder om te gee nie.  Die teks herinner ons so pragtig daaraan dat liefde nie net oor woorde of gedagtes is nie, maar oor optrede of aksie.  Liefde beteken dat jy uitreik na ander en doen wat hul gelukkig maak.  Partykeer is dit so maklik soos ‘n glimlag, maar dit kan ook verder strek.  Dalk kan jy vir iemand se brandstof of kruideniersware betaal?  Kyk ‘n bietjie rondom jou en jy sal gou sien waar jy iets vir iemand anders kan beteken.  Daar is dalk ‘n bejaarde egpaar wat nie meer self hul gras kan sny nie of self inkopies gaan doen nie.  Miskien is daar ‘n enkelma met wie se kinders jy kan bal skop.  Daar is altyd iewers waar jy ‘n handjie kan gee.


Begin liefde uitstraal met dade. Moet nie net fokus op mense wat naby aan jou is of dieselfde as jy is nie.  Reik uit na diegene wat nie soos jy lyk of dink nie.  God wil Sy genade op aarde uitstort, maar Hy het jou hande nodig.  Jy kan ‘n saaier van liefde wees.  Strooi liefdessaadjies net waar jy gaan.  Daardie saadjies gaan ontkiem en self saad skiet wat weer ander se lewens sal raak of verander.  Ons mag nie apaties teenoor ander wees nie.  Liefde teenoor ons naaste is ‘n opdrag van God.

Thursday 10 March 2016

Hoe sien ander jou?

1 Tessalonisense 4 : 12  Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing, en julle sal van niemand afhanklik wees nie.

Is jy ‘n Christen?  Indien ander na jou lewe kyk, wat sien hulle? Wen jou lewe die respek van ander?  Iets wat ons uit die oog verloor, is dat ons verteenwoordigers van God is.  Daarom behoort ons anders te leef en op te tree.  Ons lewe behoort eer aan God te bring.

Partykeer is iemand ‘n Christen in die kerk, maar buite daardie vier mure is daar min of niks wat getuig van ‘n lewe tot eer van God.

Die teks sê nie jy moet uit jou pad gaan sodat almal jou kan respekteer nie.  Dit sê ook nie jy moet ‘n goue medalje of Oscar wen nie.  Nee, dit sê eenvoudig dat jou daaglikse lewe die respek van ander moet inwin.  Jy moet uitstaan bo die res en ‘n lewe van uitnemendheid leef.  Dit beteken dat jy die een moet wees wat nee sê wanneer almal pret het en dit wat hul doen indruis teen jou Christelike beginsels.  Dit beteken dat jy nie haat of tweespalt tussen mense sal aanwakker nie, maar eerder die vredemaker sal wees.

Wanneer jy voortdurend in sekere geselskap is, raak jy soos daardie mense.  As jy voortdurend tyd met God spandeer, ontwikkel jy van Sy karaktertrekke. 


Ons konformeer te maklik met dit wat in is.  Neem ‘n standpunt in teen dit wat nie in lyn met jou Christelike standaarde is nie.

Wednesday 9 March 2016

Maak vrede

Jesaja 27 : 5   Hy, Israel, moet met My kom vrede maak, hy moet vrede met My kom maak!

Jesaja beveel aan dat jy vrede maak.  Nie maklik nie, ne. Die geheim is om te verklaar dat jy dit kan hanteer.  Dit is nie net ‘n positiewe uitkyk nie, maar jy neem Sy krag aan.  Dis hoekom die skrif sê:  Laat die wat swak is, sê:  “Ek is sterk.”  Daarenteen, as jy voortdurend sê:  “Ek sal eenvoudig nooit kan leer motor bestuur nie” of “die onderwyser pik op my” of “ek sal nooit weer ‘n werk kry nie” dan is dit asof jy boedel oorgee en hierdie dinge na jou aantrek.  Energie dreineer uit jou liggaam… jou kreatiwiteit wyk en jy voel oorweldig deur jou omstandighede.  Onthou egter jy is nie ‘n slagoffer nie, maar ‘n oorwinnaar.


Sê eerder vir jouself:  “Maak nie saak wat my rigting kom nie, ek kan dit hanteer.” Jy is nie net gereed daarvoor nie, maar meer as gekwalifiseer om dit die hoof te bied.  As jy binne die wil van God bly, sal Hy dit wat bedoel was om jou te na te kom omdraai en tot jou voordeel aanwend.  Niks kan jou onderkry as jy jou oog op God hou nie.

Tuesday 8 March 2016

Praat met jouself op die regte manier

Fillipense 4 : 13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Daar is vele figure in die Bybel wie se geloof tot die uiterste beproef is.  Baie mense reken Christene het ‘n maklike lewe, maar dit is nie waar nie.  Petrus het nie ‘n maklike lewe as gelowige gehad nie.  Hy is onder andere in die tronk gegooi… hy is gemartel… was ‘n skipbreukeling… is vals beskuldig en het nie eens altyd kos gehad om te eet nie.

Meeste van ons sou lekker negatief geraak het en dalk selfs die Christen-ding opgegee het, want niemand wil tog soveel deurgaan nie. Paulus het egter besluit dat Hy nie gaan opgee nie. Hy het geweet dat Hy oor ‘n innerlike krag beskik wat alle verstand te bowe gaan.  Die skepper van die Heelal het hom bemagtig, seen oor hom uitgestort en geroep om in die lewe te heers as koning van sy eie bestemming.  Daarom het hy homself nie verder negatief gestem nie.


Net soos Paulus moet jy met jouself op die regte manier praat.  Moenie toelaat dat negatiewe, destruktiewe self vernietigende gedagtes in joukop posvat nie.  Instede verklaar dat jy ‘n oorwinnaar in Christus is en neem beheer oor jou lewe.

Monday 7 March 2016

Links of regs

1 Petrus 5 : 9  Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.

Ek het ‘n T-aansluiting in my lewe bereik.  Hierdie punt is bereik nadat ek baie lank vir ‘n uitkoms gebid het.  God het my egter nie die maklike uitweg gegee deur presies te laat gebeur waarop ek gehoop het nie.  Nee, hy bring my by hierdie punt waar ek moet besluit of ek links of regs gaan draai.  Gaan ek links, is alles min of meer vir die volgende twee jaar heel gemaklik in my lewe.  Gaan ek regs, moet ek God vertrou.  Oor die afgelope weke het God my genoeg verseker ‘dat Hy weet presies wat ek nodig het’ of dat ‘Hy sal sorg’ of dat Hy ‘net goeie planne vir my het’.  Alhoewel ek redelik impulsief is, neem ek sekere besluite nie blindelings nie.  So gaan my gedagtes met my op hol en begin vrees die oorhand kry. 

Ek weet dat jy die oomblik dat jy vrees ervaar, dit moet teenstaan.  Jy moet onmiddellik reageer.  Sou jy dit nie doen nie, gaan jou verstand oorneem en voor jy jou kom kry sal jy meer as genoeg logika ontwikkel om jou net daar vas te vang.

Toe God vir Dawid gesê het om teen Goliat te gaan veg, het Dawid vining na die slagveld gegaan.  Dis duidelik dat Dawid nie ruimte gelaat het vir enige gedagtes om pos te vat nie.  Hy het eenvoudig nie toegelaat dat vrees sy hart in ‘n greep vasvat en hom daaruit probeer praat nie.  Dawid het eenvoudig gedoen wat God van hom verwag het.

Indien ek verder gaan probeer om sin te maak uit die situasie, gaan ek vir altyd hier bly.  Ek weet waartoe ek in staat is… ek weet dat alles wat ek tot hier in my lewe gedoen het, my toegerus het om ‘n sukses te maak van die regsdraai. Ek weet ook dat God my nie in die steek sal laat nie.  Wat egter gebeur is dat die vyand elke keer toeslaan dat ek sin in hierdie keuse sien en nog erger, ek laat dit toe.


Wat staan my te doen?  Ek moet God gehoorsaam, die vrees teenstaan en eenvoudig doen wat Hy van my verwag.  Hy het my tot hier gebring, en Hy sal my deursien.  Net soos wat Hy met Dawid was, sal Hyo ok met my wees.  Here, in geloof gooi ek die kettings van vrees af en draai ek regs.

Sunday 6 March 2016

Dit is jou land



Amos 9 : 15  Die Here hulle God sê:  Ek sal hulle in hulle land hervestig.  Ek sal nooit weer toelaat dat iemand hulle wegneem uit die land wat Ek vir hulle gegee het nie.

In ‘n politiek onstabiele tyd waarin ons leef, is dit woorde wat jou hoop gee.  Ons weet dat niks toevallig gebeur nie.  Alles gebeur met ‘n doel en binne God se wil.

Ek is in hierdie land omdat God my hier hevestig het.  Dit is my geboorteland, my heimat.  Ek ken geen ander land nie.  My voorvaders het so lank gelede hierheen gekom dat ek nie eens kwalifiseer vir ‘n voorsaat visa nie.  

Daarom gaan ek nie onrustig slaap as ek hoor dat daar diegene is wat my nie ‘n plekkie in die son gun nie.  Ons is hier om ‘n rede en al weet ons nie wat die toekoms inhou nie, weet ons dat God nie sal toelaat dat iemand die land waar Hy ons hervestig het sal afneem nie.   

Daar is egter ook ‘n verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan. Ek moet ‘n bydrae tot die samelewing lewer en ek moet sorg dat ek binne die wil van God bly.  As ons afdwaal, kan ons nie verwag dat God geduldig moet bly nie.

Thursday 3 March 2016

Lank genoeg



2 Kronieke 12 : 1  Maar toe Rehabeam goed gevestig en sterk was, het hy die voorskrifte van die Here verontagsaam.

Rehabeam was Salomo se seun. Dit het voorspoedig met hom gegaan.  Hy het 18 vroue gehad en 60 byvroue by wie hy 28 seuns en 60 dogters gehad het.  Daar was ‘n tyd toe Rehabeam God se stem gehoorsaam het.  Terwyl hy besig was om opgang te maak, het hy God gedien, maar toe hy die boonste trappie van die leer bereik, het hy van God weggedraai. Ironies genoeg was dit nie net hy wat afgedwaal het nie, maar die hele Israel het sy voorbeeld gevolg.

Ek dink nie ons kan vinger wys na Rehabeam nie, want ons doen soms nie veel beter nie.

Ons ken almal die eposse en smsse wat vra dat daar asseblief vir iemand gebid moet word, om welke rede ookal.  Ek het egter nog nooit ‘n epos of sms ontvang wat sê:  “Dankie dat julle gebid het, ons is nou daardeur en hier is ‘n getuienis van God se almag.”  
 
Ons weet baie goed waar ons hulp vandaan kom, maar hoekom vergeet ons so gou wat God vir ons gedoen het?  Laat vandag se teks ons herinner om God in goeie sowel as slegte tye te dien en nie net ‘mooi-weer-Christene’ te wees nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...