Thursday 28 April 2016

Reguit paaie

Jesaja 57 : 2  Dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is


As verloste kind van God, put jy krag uit sy Woord.  Dit is die daaglikse brood wat jou geestelike honger stil.  Dit is jou kompas in die lewe.  God dui die weg aan.  Besluite word vanselfsprekend omdat jy Sy stem hoor.  Jy weet wat is reg en wat is verkeerd.  

Dit beteken nie dat jy nooit weer teespoed gaan teëkom nie, maar dit beteken dat jy nie deur donker dieptes op jou eie hoef te ploeter nie.  Die Lig is duidelik voor jou, langs jou, bo jou en ook onder jou en al wat jy hoef te doen is om Hom te volg, waar Hy ook al lei. 

Die reguit pad is nie ‘n maklike pad nie, maar die beloning aan die einde is totale vrede.

Wednesday 27 April 2016

Maak die mense my dissipels

Matt 28:19: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels  Markus 6 : 12  Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer


Sy laaste opdrag aan sy dissipels was dat hul moet uitgaan en die woord verkondig... tot aan die uithoeke van die aarde.  Suid-Afrika staan bekend as ‘n Christelike land en tog is daar nog soveel mense wat God nie ken nie.  Die grootste gevaar is dat jy in ‘n Christen-huis opgroei en selfs kerk toe gaan, maar nog nie die Ewige Lewe beërf het nie.  

Om genoeg van God te weet dat jy glo jy ken Hom en om Hom as jou Verlosser en Saligmaker aan te neem, is twee verskillende dinge.  Wanneer jy jou ou lewe aflê en ‘n nuwe lewe as Christen aanpak, kan jy nie meer dieselfde mens wees nie.  Jy sal ‘n afkeer aan sondige dinge hê en ‘n ewige honger na Sy wil ervaar.  Jy sal Hom in alles ken en Sy leiding vra alvorens jy enige besluit neem.  En daarom sal jy ook nie skaam wees om die evangelie te verkondig by elke moontlike geleentheid nie.  

Praat jy eerste met mense oor God of praat jy saam as hulle van Hom  praat?

Monday 25 April 2016

Hoe goed ken jy Hom?

Spreuke 3 : 6  Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.


Dit is werklik my wens dat jy God op so ‘n besonderse wyse ken dat waar jy ook al in die lewe mag gaan, of dit werk toe is, in die tronk, op die landerye, in ‘n siekbed, op see, by jou huis, in ‘n vliegtuig, in die skool of universiteit, op ‘n trein, langs die braaivleisvuur, op ‘n boot...  jy Hom steeds naby jou sal voel omdat jy ‘n lewende verhouding met Hom het.  Dat jy Hom daagliks aanbid en ook sy onmeetlike liefde elke oomblik ervaar.  

Dit is ‘n gevoel van veiligheid te midde van gevaar, ‘n gevoel van beskermende arms om jou al is jy koud, ‘n gevoel van liefde duur gekoop vir jou en my deur sy kosbare bloed.

Sunday 24 April 2016

Ten volle betaal

1 Korintiërs 6 : 20  Julle is gekoop, en die prys is betaal.  Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.


As daar gratis monsters in die winkel uitgedeel word, storm almal om daarvan te kry.  Wanneer daar ‘n uitverkoping is, is daar ‘n samedromming van mense.  

Hoekom gryp meer mense dan nie die kans aan om gratis hemel toe te gaan nie?  Die kaartjie is immers meer as 2000 jaar gelede betaal en in jou naam uitgereik.  

Weet jy wat dit gekos het?  Niemand van ons sou dit kon bekostig nie, maar danksy die onverstaanbare genade van God, het Hy deur Sy seun, Jesus Christus, vir ons met Sy kruisdood die prys volledig betaal.

Thursday 21 April 2016

Engele en hare

Lukas 12 : 7  Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.


Dit is darem ‘n wonderlike gedagte – dat God selfs weet hoeveel hare daar op my kop is – ek weet dit nie eens self nie.  Hy ken my deur en deur – niemand ken my so goed soos Hy nie.  Jy kan iemand net so goed ken as jy daardie persoon self gemaak het en as jy elke oomblik van elke dag by daardie persoon is en daarom kan ek jou verseker dat jy nooit, ooit alleen is nie.  

Op ’n ligter noot, deel ek ’n epos boodskap met jou:  “Weet jy hoekom jou hare soggens so deurmekaar is?”  “Omdat die engele besig was om jou hare te tel.”

Wednesday 20 April 2016

Hoe nou gemaak?

Jesaja 32 : 17  Wie reg doen, sal vrede hê;  wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet.


God het vir ons ‘n handleiding gegee;  die Bybel.  Dis ook jou kompas vir die lewe.  Wanneer jy jou Bybel gereeld lees, groei jy as Christen nader aan Hom.  Dis ook jou reddingsboei in tye van nood.  In die Bybel vind jy bemoediging en troos.  Telkens sal God jou lei na die regte vers vir die krisis waarin jy is.  Dit is waar jy hoop vind as jy moedeloos is.  

Alhoewel die Bybel soveel jare gelede geskryf is, is dit steeds relevant.  Soms dwaal jy af en hoe wonderbaarlik lei God jou nie weer terug tot aan Sy voete nie.  Dalk is dit jy en het jy nou die Bybel in jou hande.  God vra jou om vas te staan tot dit volbring is.  Staan vas in geloof.

Tuesday 19 April 2016

Die groot oordeel

Romeine 2 : 5  Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek.


Ten spyte daarvan dat die Woord wyd verkondig word en Suid-Afrika bekend staan as ‘n Christelike land, is daar steeds mense wat leef asof daar nooit ‘n oordeelsdag sal wees nie.  Vandag wil ek ‘n beroep op jou doen, wat nog nie tot bekering gekom het nie.  Selfs al breek die oordeelsdag nie in jou leeftyd aan nie, kan ek jou verseker, God kom weer en dan kom Hy om diegene te haal wat vir altyd saam met Hom in die Hiernamaals sal leef.  Jy wil nie die donker en verlate dieptes van die hel tegemoet gaan nie.  Nie jy of ek weet wanneer ons laaste dag sal aanbreek nie.  Moenie tot dan wag nie.  Leer God nou ken.  Roep Hom aan.

Monday 18 April 2016

Liefde

1 Korintiërs 13 : 13  En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!


Leo Buscaglia, (afgestorwe professor by die Universiteit van Suid Kalifornië, sielkundige, motivering spreker en skrywer van verskeie boeke) vertel die verhaal hoe hy besluit het om die Universiteit se Dekaan elke dag ‘n drukkie te gee.  Die eerste dag het die man weggebeur en was hy wantrouig.  Mettertyd het hy die drukkie beantwoord en toe Leo Buscaglia die dag weggaan, het hy gevra wie hom nou ‘n drukkie gaan gee?  

Selfs die mees geharde persoon het liefde nodig.  Reik uit na iemand wat op die oog af geen liefde nodig het nie en jy sal verbaas wees hoe jou eie lewe verryk word.

Sunday 17 April 2016

Dors na God

Ps 42 : 2  Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.


As Christen weet jy dat jy ‘n ewige dors na God het.  Daardie dors word nooit geles nie.  Dit bly ‘n smagting; ‘n honger na Hom.  Hy word alles oorheersend in jou lewe, jou hartsverlange.  En tog is dit nie ‘n seer nie.  Dit bring eerder gemoedsrus.  

Laat God die begin en die einde van jou lewe wees, die alfa en die omega.  Die mens kan nog lang rukke sonder kos, maar nie sonder water nie.  Net so kan jy sonder baie dinge in jou lewe, maar jy kan nie sonder God nie.  Jy kan nie sonder Sy Woord nie.  Bybelstudietyd word jou gunsteling tyd van die dag en God se Woord gaan voor jou oop.

Thursday 14 April 2016

Die bron van hoop

Romeine 15 : 13 Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!


As jy met mense gesels dan hoor jy hoe baie van hulle, hul hoop op aardse dinge plaas.  

Wanneer ek die Lotto wen..., sodra my man aftree... as ons huis net klaar betaal is... wanneer die kinders groot is... as ek klaar is met my kanker behandeling... 

Daar is afhanklikheid in hierdie woorde opgesluit, hoop dat dinge beter sal wees sodra die een of ander fase aanbreek.  

Dit terwyl die bron van hoop, God, ons op enige gegewe oomblik met ware hoop kan vul.  Hy is die bron van hoop en Sy hoop vul jou met vreugde en vrede.   

Wednesday 13 April 2016

Bid

Die grootste geskenk wat iemand jou kan gee, is om vir jou te bid.  Soveel te meer as Jesus vir jou intree by die Vader.  

En jy kan ook vir ander bid.  Dra jou eggenoot, jou kinders, jou ouers, jou vriende, jou familie aan God op in gebed.  

Gebed is ons direkte lyn na God.  Hy is nooit te besig vir jou nie.  Gebed is die noodlyn na God.  Dit is die reddingsboei in die stormsee.  Gebed is nie tydgebonde of plekgebonde nie.  Julle kry nie omdat julle nie bid nie... (Jak 4:2).  

Bid voortdurend.  Bid uit dankbaarheid, bid uit nood, bid omdat jy moedeloos is, bid vir jouself en vir ander, maar moet nie stilbly nie.  God wil jou hoor.

Tuesday 12 April 2016

Plus minus

Die menseras het nou maar eenmaal die vermoë om so vasgevang te word in probleme dat ons tonnelvisie ontwikkel.  Ons sien nie meer goeie dinge raak nie.  Ons hou op lag en vind in niks meer vreugde nie.  Die lewe raak een lang treurmare.  

Feit is dat die lewe nie gaan stilstaan omdat jy deur ‘n moeilike tyd gaan nie.  Jy raak steeds ouer en jou lewe tik verby.  Wees nou eerlik.  As jy aan groot krisisse terugdink, lyk hul nog so erg?  Ontstel dit jou nog steeds?  Tyd en afstand tussen jou en die probleem, bring alles in perspektief.  

Te midde van die stryd, raak stil.  Dink hoe getrou God is, hoeveel vreugde Hy jou al laat ervaar het.  1 Kronieke 16 : 27  Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en vreugde vul die plek waar Hy is.  

Dink aan die onmoontlike wat Hy al in jou lewe vermag het.  Fokus op die positiewe en jy sal nie tyd hê vir die negatiewe nie.  Trek eenvoudig ‘n streep deur negatiewiteit (-).  Dan verander die minus (-) in ‘n plus (+).

Monday 11 April 2016

Sit neer

Lewe jy ‘n lewe van sussie-ek-is-jammer-dat-ek-leef lewe?  Voel jy skuldig en kan jy jouself nie vergewe nie?  Dra jy so swaar aan skuldgevoelens dat jy niemand in die oë kan kyk nie?  

Neem vandag ‘n besluit om die saak na Jesus te neem.  Voor jy met Hom begin praat, sit daardie pakkasie aan Sy voete neer.  Praat nou jou hart uit.  As jy klaar is, staan op en draai jou rug op die verlede. God sal daarvan ontslae raak.  Psalm 147 : 3  Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.  

‘n Professor het ‘n leë glas vasgehou en aan studente gevra hoe swaar dit is.  Nadat hulle geraai het, vra hy hulle wat sou gebeur as hy die glas heeldag vashou?  Heel week? ‘n Maand?  Het die glas swaarder geword?  Nee, maar enige iets wat jy lank vashou sal later voel asof dit swaarder is.  

Wat moet jy doen om van die pyn ontslae te raak wat noodwendig met tyd sal kom?  Sit die glas neer.  En so moet jy ook jou probleme neersit anders kan dit jou siek maak.  

Sunday 10 April 2016

Om 'n verskil te maak

Maleagi 3 : 18  Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie.


Daar was een maal ‘n man wat langs die strand gestap het en toe hy sien dat daar honderde see stêrretjies op die sand lê, begin hy hulle een vir een terug gooi in die see.  ‘n Ander man kom toe na hom en vra:  “Hoekom doen jy dit?  Hoekom mors jy jou tyd om die see stêrretjies terug te gooi?  Dit is ‘n onbegonne taak en jy kan hulle nooit almal red nie.”  

Die eerste man het voortgegaan om die see stêrretjies terug te gooi en toe hy een weer in die branders sien verdwyn, sê hy:  “nee, ek kan nie, maar dit maak ‘n verskil in daardie een se lewe.”  

Jy kan nie almal se lewens aanraak of verander nie, maar jy kan ten minste jou bes probeer met diegene wat jou pad kruis.

Thursday 7 April 2016

Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

Psalm 121 : 1
Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?


Mense is kortsigtig.  Jy kan nie verder as jou probleem sien nie.  Te midde van jou probleme, het jy as’t ware oogklappe op.  Soos iemand wat tonnelvisie het, sien jy niks buite jou probleemveld nie. 

Dis juis dan wat jy moet besef dat God groter is as enige berg, die wat jy kan sien, maar ook die wat jy nie kan sien nie.  Jy moet Hom net vertrou en die probleem vir Hom gee.  

Hou eerder jou oog gevestig op Hom as op jou probleem.

Wednesday 6 April 2016

Besig, besig, besig

Eksodus 15 : 11  Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!


Partykeer dink ek dat ons so kerk-bewus is dat ons van die Herder van die gemeente vergeet.  

PPK, Protestant, Apostolies, Gereformeerd, Hervormd, Volle Evangelie, Metodiste, Rooms Katoliek, Rhema, Grieks Ortodoks ...  Terwyl ons onder mekaar veg oor of ons vroue of gays as dominees moet toelaat, al dan nie, is daar siele wat verlore gaan.  

Daar is ‘n storie van iemand wat vir die duiwel gevra het hoe hy mense so maklik laat afdwaal?  “Ek hou hulle net besig.” 

Vra jouself af of dit waarmee jy jouself besig hou, tot eer van God strek?  Vereer jy Hom deur jou doen en late?  Gee jy Hom eer vir dit wat in jou lewe gebeur?

Tuesday 5 April 2016

Nie nou nie

Matteus 13 : 9  "Wie ore het, moet luister!"


Wanneer jy met iemand redeneer, kan jy nie hoor wat daardie persoon sê nie.  Is jy besig om met Hom te redeneer?  Jy moet fyn luister om Sy stem te hoor.  Hy praat gereeld met jou.  God het ons met goeie rede geseën met twee ore en een mond.  Dit is sodat ons twee keer soveel sal luister as wat ons praat.  God antwoord egter nie altyd soos wat ons dit wil hoor nie.  

Daar was ‘n klein seuntjie, wie se ouers baie arm was.  Ten spyte daarvan het hy gedroom van ‘n nuwe fiets vir Kersfees.  Sy ouers sou dit nooit kon bekostig nie, maar hy’t so vas geglo dat Hy Liewe Jesus vir enigiets kon vra en dit sal ontvang dat hy vir sy maatjie vertel het dat Liewe Jesus vir hom ‘n fiets vir Kersfees sou gee.  Kersoggend kom die maatjie opgewonde by hom aan om na die nuwe fiets te kom kyk.  Daar is geen fiets nie.  “Liewe Jesus het jou seker nie gehoor toe jy Hom gevra het nie,” sê die maatjie.  

En toe antwoord hierdie seuntjie met die wysheid waaroor min van ons beskik:  “Liewe Jesus het gehoor.  Hy’t net gesê, nie nou nie.”

Monday 4 April 2016

Leef volgens God se wil

Romeine 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.


Hoekom na ander kyk om die eerste stap te neem?  Daar is ‘n spreekwoord in Engels wat lui:  “If it is to be, it’s up to me.”  

Niemand kan besluite namens jou neem nie.  Niemand kan jou motiveer nie.  Wees jou eie beste vriend.  Daar is genoeg mense wat jou gaan probeer onderkry, hoekom moet jy ook nog so hard op jouself wees?  

Jy moet egter verantwoordelikheid neem vir jou eie lewe en dade.  Deur op jou knieë te bly, kan jy God in alles ken en dan is keuses en besluite soveel makliker.  

As elkeen van ons ons Christelike geloof uitleef, m.a.w. leef soos God van ons verwag, dan sal die wêreld vir almal ‘n beter plek wees.  

Sunday 3 April 2016

Genade

Johannes 1 : 16  Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.


Voel jy ook soos ‘n hamster op sy wieletjie?  Elke oggend staan jy op, drink koffie, borsel tande, gaan werk toe, werk soos ‘n slaaf, keer huiswaarts, doen jou huistake, val in die bed, slaap, staan op...  Daar is geen afwisseling in jou sieldodende roetine nie.  Jy is so moeg van jou wieletjie of die baan waarom jy in sirkels hardloop.  

Daar is diegene wat alles sal gee om self te kan opstaan om werk toe te gaan, maar as invalide is dit hul nie beskore nie.  Daar is diegene wat met liefde jou vervelige werk sal doen, want as werklose het hulle geen vooruitsig om ‘n salaris te ontvang aan die einde van die maand nie.  Daar is diegene wat alles sal gee om jou ‘stout’ kinders of veeleisende man/vrou te hê, want hul gesin is deur die dood weggeneem.  Daar is diegene wat alles sal gee om te kan lewe, maar hul ly aan ‘n ongeneeslike siekte en weet dat die uurglas vir hul leeggeloop het.  

Wanneer jy hierdie sleurtake as genade sien, sal jou hele uitkyk op die lewe verander.  

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...