Tuesday 31 May 2016

Vra en sien sy krag

Efesiërs 1 : 19  en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

Vandag wil ek jou herinner aan die almag van God.  Dit gebeur so baie dat ons nie eens die moeite doen om ons hart uit te stort voor God nie.  En dit is nie omdat ons nie deur diep genoeg waters gaan nie.  Nee, dit is omdat ons onbewustelik reken dat daar geen uitkoms is nie.  En weet jy, dit is presies wanneer daar wel geen uitkoms is nie, want ons roep nie die regte hulp in nie.

Leer een ding vandag aan en dit is die gewoonte om God oor enige iets te nader.  Bespreek dit met hom… stort jou hart uit… laat Hy hoor hoe afhanklik jy van Hom is, dat jy weet dat daar niks aan jou situasie gedoen kan word, behalwe as Hy sou intree.

Miskien dink jy dat ‘n alwetende God tog kan sien waardeur jy gaan en dat Hy behoort in te tree as  Hy dan so ‘n liefdevolle God is.  Dink ‘n bietjie aan die volgende situasie.  Iemand naby aan jou sukkel finansiëel.  Alles omtrent hul wys duidelik aan jou dat hul op moedverloor se vlakte sit, maar hul rep nie ‘n woord nie.  Jy stuur die gesprek in ‘n rigting wat jy glo hul die vrymoedigheid sou gee om te praat, maar hul ‘suffer in silence’.  Jy maak van ‘n verjaarsdag gebruik om geld te gee as geskenk, hopende dat jy uithelp, steeds geen woord nie.  Hoe sou jy voel?  Sou jy nie ook wens dat hulle net met jou moet praat nie?  Dis dieselfde met God.  Hy sien hoe ons ly en hy probeer op subtiele maniere uitkoms gee deur mense wat hy oor jou pad stuur of boodskappe, maar jy maak nie van die uitgestrekte hand gebruik nie. 

Wil jy vandag ‘n wonderwerk sien gebeur?  Wil jy vir eens en vir altyd uit jou situasie uitkom?  Val dan vandag op jou knieë voor hierdie magtige God neer en vra Hom vir uitkoms.  Jy sal verstom staan oor dit wat Hy kan vermag.

Monday 30 May 2016

Geskenk

Efesiers 2 : 8  Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God.

Ons dien so ‘n vrygewige en liefdevolle God.  As jy nie vir iemand lief is of as daar nie iemand is wat jou oorlaai met liefde nie, sal dit dalk moeilik wees om jou voor te stel hoe groot God se liefde vir jou is.  Dit is allesomvattend.  Hy het jou so lief dat Hy enige iets sal doen om ‘n verhouding met jou te hê. 

Ons leer in die Bybel dat sonde die mens van God skei, maar onthou net dat God nie van jou verwyder wil wees nie.  Dit is juis hoekom Hy Sy Seun gestuur het om vir ons sondes te betaal.
Daar is mense wat dink hul kan hul plek in die hemel verdien.  Hulle dink as hul genoeg goeie dade doen of die regte dinge doen of sê dit aanvaarbaar vir God sal wees.  Of hul dink as hul kerk toe gaan en darem nie te groot sondes pleeg nie, hul steeds hemel toe sal gaan.  Party wil hul lewe eers in orde kry voor hul tot bekering kom.

Let egter op dat vandag se teks ons daarop wys dat redding ‘n gawe van God is.  Ons kan dit nie verdien of daarvoor betaal met goeie dade nie.  Jy kan dit net kry as jy dit aanvaar as geskenk van God. 

As jy God nog nie as jou Verlosser en Saligmaker aanvaar het nie, wil ek jou uitnooi om dit vandag te doen.  Daar is geen beter tyd as vandag om daardie geskenk te aanvaar nie. 

Mag jy gevul word met ‘n wonderbaarlike vrede en gemoedsrus wanneer jy daardie kosbare geskenk aanvaar. 

Sunday 29 May 2016

Beweeg aan

Filippense 3 : 13  ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

Dis so maklik om deur die lewe te gaan terwyl jy fokus op dit wat nie uitgewerk het nie… foute, seerkry, ens.  Ons bly tob oor dit wat kon wees.  As ek maar net my studies voltooi het… Ek moes meer tyd met my kinders spandeer het…  As ek net nie ‘n slagoffer van personeelverminderingwas nie…  Somsdink ek oor romantiseer ons selfs die verlede.  Ons vergeet van die mense wat ons by die maatskappy geirriteer het of dat die kinders stout was. 

So lank as wat ons in die verlede leef en op die negatiewe fokus, is dit waar ons gaan vashaak.  En die nadeel is dat ons die positiewe geleenthede wat God vir ons beplan misloop. Jy kan niks aan die verlede doen of verander nie, maar jy kan jou toekoms verander.  Die gif van die verlede gaan jou toekoms vergiftig. 

Los die verlede vir eens en vir altyd.  Wat gebeur het, het gebeur.  Wat in die toekoms gaan gebeur, hang van jou optrede en houding af.  As jy egter ‘n ander uitkoms wil hê, moet jy anders begin optree. As jy eensaam is, reik uit na ander.  As jy hartseer is, begin daadwerklik die humor in die klein dingetjies raaksien.  As jou geldsake benard is, dink watter van jou talente jy kan aanwend om ‘n inkomste te genereer.  Wat jy ookal doen, moet die teenoorgestelde wees as dit wat jy tot nou toe gedoen het sodat jy ‘n ander uitkoms kan kry.

Thursday 26 May 2016

Van lelike eendjie tot beautiful swaan

1 Korintiërs 1 : 27  En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam,

As kind kon ek my verluister aan die storie van die Lelike Eendjie.  Die eier van 'n swaan is onder ‘n eend gesit om uit te broei.  Toe die kuiken uitbroei, het hy saam met die hoender kuikens rondgeloop en soos hulle opgetree.  Niemand het die swaan geleer om ‘n swaan te word nie.  Vir die ander eende, was hy egter lelik, want hy't nie soos hulle gelyk nie en daarom het hulle hom gespot.  Hy het maar gedink hy is ‘n hoender en sou vir die res van sy lewe loop en rondpik en skoffel. Wat die spottery betref, moes hy dit maar gelate aanvaar, want aan hoe hy lyk, kon hy immers niks doen nie.  Ons ken egter die verhaal.  Uiteindelik sou hierdie lelike eendjie ontpop in ‘n pragtige swaan.

Glo jy ook jy is ‘n ‘hoender’, net omdat jy tussen ander hoenders leef?  Dalk glo jy wat die ander hoenders van jou sê... dat jy lelik, vet, dom, ens is.  Jy reken dalk dat jy nie werd is om op beter dae te hoop nie…dat jy jou omstandighede maar moet aanvaar. 

Moenie die ‘experts’ glo nie.  Sogenaamde kenners was al male sonder tal verkeerd  Glo eerder wat God van jou sê.  .  Jy is vir hoër hoogtes bestem.  Jy is ‘beautiful’, slim, volmaak geskape, uniek en so verskriklik spesiaal.

Wat sê die Woord Volume 1 - CD

Wat sê die Woord dagstukkies is nou beskikbaar op CD.

Bestel vandag nog jou kopie via epos:  mcoetsee0@gmail.com

Koste:  Slegs R100

37 snitte met inspirasie en pitkos en lieflike agtergrond musiek.

Wat sê die Woord – Volume 1
Vertroue & Geloof

  1. Vertrou op Hom (musiek)
  2. Op wie vertrou jy
  3. Droom groot
  4. God sal jou nie in die steek laat nie
  5. Beperkinge
  6. Word ‘n toeskouer
  7. Wie op my vertrou
  8. Koninkryksambassadeurs
  9. Gaan dan in vrede
  10. Net een Evangelie
  11. Om te groei
  12. Twee opsies

Inspriasie & Bemoediging

  1. God insprieer ons (musiek)
  2. Net 5 tree
  3. Dra vrugte
  4. Aanhouer
  5. Trouble trees
  6. Hulle wat nie kan praat nie
  7. Bid vir hulle
  8. Sy troue liefde
  9. Fokus op wat jy kan doen
  10. Jy kan!
  11. Om deur te druk
  12. By God is daar altyd hoop
  13. Oorwinnings of mislukkings
  14. Swaar Laste
  15. Waar sal my hulp vandaan kom
  16. Skadu’s
  17. Om vol te maak
  18. Herprogrammeer jou denke
  19. Helder oggendlig
  20. Tree trug en spring oor
  21. Game Over
  22. Hartseer, teleurgesteld, ontnugter & gebroke
  23. Moet jou nie ontstel nie

Lofprysing

  1. Loof Hom(musiek)
  2. Here dis alweer ek

Wednesday 25 May 2016

Nie beter nie, maar vry

Eksodus 6 : 6  Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is wat julle van die dwangarbeid van Egipte bevry.

As slawe moes die Israeliete aldag en heeldag boustene maak.  Hulle is elke dag gedruk om meer en meer boustene te maak.  Later was die hoeveelheid wat daar van hul verwag is om te maak so groot, dat dit menslik onmoontlik was om dit reg te kry.  Dan is hul gestraf.  Die omstandighede was onmenslik en Farao het net meer en meer verwag.  Op een stadium gee hy opdrag dat die strooi wat hul gebruik om die boustene mee te maak, weggeneem word, maar terselfdertyd verwag hy dat hul dieselfde hoeveelheid boustene vervaardig.  Buiten dat hul hierdie onmenslike hoeveelhede moes maak, moes hul nou nog ook strooi gaan soek.

Terwyl hul desperaat strooi gesoek het, sou hul verseker bid: “Asseblief, Here, wys ons waar om nog strooi te vind.  U weet dat hulle ons gaan slaan en straf as ons dit nie maak nie.  Here, help!”

Weet jy wat mis ek en jy hier?  Die Israeliete het hul lot tot so ‘n mate aanvaar dat hul selfs bid om gehelp te word om beter slawe te wees.  En God beantwoord dalk nie hul gebede nie.  Hoekom?  God se plan was nie dat hul in die juk van slawerny vasgevang bly nie.  Terwyl die Israeliete in slawerny vasgevang was, het God nie opgehou om aan hul te dink nie.  Hy het Moses in die paleis laat opgroei en ‘n invloedryke man laat word.  En Hy was besig om Moses voor te berei om die volk na ‘n beloofde land te lei.

Ook jy moet jou nie blindstaar teen die omstandighede waarin jy jou bevind nie.  Jy is dalk, soos die Israeliete so passief ‘geslaan’, verneder en uitsigloos, maar weet vandag dat God reken jy is die kop en nie die stert nie.  Jou visie mag dalk beperk wees, as gevolg van omstandighede, maar van waar God kyk, lyk jou toekoms rooskleurig.  Al sien jy nie onmiddellike verandering in jou omstandighede nie, kan jy daaraan vashou dat God besig is met wonderbaarlike planne vir jou.

Tuesday 24 May 2016

Jy droom te klein

Psalm 126 : 3  Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.

Voel jy asof jy alles in die lewe bereik het wat jy wou bereik?  Dink jy dalk dat jy in elk geval te oud is om nog te droom?  Wel, dis nie hoe God dink nie.  Hy het ons nie met enige beperkings geskape nie. 

God verwag nooit van jou om op te hou droom nie. Om die waarheid te sê, God dink ons droom te klein en te min. Daarom moedig Hy ons aan om groter en groter te droom en nooit te stagneer nie. 
Terselfdertyd moet ek vir jou herinner dat ons idee van groot en God se idee van groot heeltemal verskil.  Josef sou nooit kon droom dat hy eendag ‘n baie belangrike persoon sou word toe hy daar in die put gegooi is nie.  Dawid het gedink dis goed genoeg dat hy die koning dien, maar nooit gedroom dat hy inderdaad eendag die koning sou word nie.  As koning moes Dawid gedink het: “dis great,” maar ook hier het God se drome Dawid s’n ver oortref.  Nie net het Dawid koning geword, maar sy nasate het vir die volgende 1000 geslagte geheers.

Ons droom te klein, maar selfs al droom ons klein, moenie ophou droom nie.  Solank jy asemhaal, kan jy maar weet dat God nog nie klaar is met jou nie.  Wees oop vir groot dinge wat in jou lewe gaan plaasvind, want God gaan GROOT!

Monday 23 May 2016

Herprogrammeer

Jesaja 43 : 18  Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

Met die aankoop van ons eerste skootrekenaar ‘n paar jaar gelede, het ons ‘n paar baie eenvoudige, dog belangrike lesse geleer.  Die rekenaar kom nie noodwendig met die programme wat jy nodig het of gebruik nie.  Ons moes sekere pakkette oorweeg, aankoop en installeer.  Ons het ook nodig gehad om anti-virus sagteware aan te koop. 

Ons verstand werk baie soos ‘n rekenaar.  Babas word gebore met geen vooropgestelde idees, vrese of vooroordele.  Oor die jare word ons egter geprogrammeer met sekere programme.  Meeste daarvan is voordelig en laat ons groei as mense.  Ongelukkig word ons baie keer heeltemal deur ‘virusse’ geaffekteer.  Virusse soos haat, jaloesie, minderwaardigheid, vergiftig ons. 

Dalk het ek en jy nodig om ons anti-virus program op te dateer.  Ek het ‘n gratis een ontdek, genaamd ‘Die Bybel’.  Die wagwoord is Eksodus 20.

‘Wipe’ jou rekenaar (verstand) en herprogrammeer dit met positiewe denke.



Sunday 22 May 2016

Dit kom beslis

Habakuk 2 : 3  Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

My kind is lief vir ‘soet’ springmielies.  Ek skiet die mielies en dan maak ek ‘n stroop van versiersuiker, water en kleursel.  Jou tydsberekening moet egter perfek wees.  Kook die stroop te kort, het jy ‘n klomp nat springmielies. Kook jy dit te lank, het jy sandsuiker. 

Net so is God se tydsberekening perfek.  Vervul Hy ons drome te gou, is ons nog nie gereed daarvoor nie. Neem Hy te lank, is dit nie meer nodig nie.  God alleen weet wanneer ons gereed is en dan sal dit gebeur. 

Maak nie saak hoe lank jy reeds wag nie, dis nog nie te lank nie.  Dit waaroor jy droom, is wat Hy in jou hart geplaas het, so hoekom sal Hy dit nie vir jou gee nie?

Solank as wat jy aan jou drome vashou en voor jou geestesoog sien hoe dit vorm aanneem, is daar nog hoop.  Al wat God van jou verwag is om geduldig te wees.  Dit kom beslis… so sê Hy en so sal dit wees.

Thursday 19 May 2016

Rig jou gedagtes

2 Korintiërs 10 : 5  en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Sodra ons toelaat dat ons omstandighede ons gedagtes oorheers, verloor ons beheer oor ons lewens.  Dis ‘n aanval teen die kennis van God.  Dis tyd dat jy jou gedagtes beheer. Neem beheer oor jou lewe terug.

Ons is wel deel van die wêreld, maar as gelowiges, is ons nie beperk tot hierdie wêreld en die omstandighede waarin ons, ons bevind nie.  Mediteer daagliks op die Woord van God en laat toe dat Sy waarheid by jou insink sodat jy totaal vry kan wees. Sy waarheid maak jou vry.

Van hierdie oomblik af neem jy beheer terug oor jou lewe en jou denke deur blatant en voortdurend oorwinning oor jouself te spreek.  Sodoende posisioneer jy nie net jou gedagtes nie, maar ook jouself vir geestelike seëninge. 


Is dit nie ‘n fantastiese plek om te wees nie?  

Wednesday 18 May 2016

Waarvoor wag jy?

2 Timoteus 1 : 6  Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra

Partykeer dink ek ons is darem te maklik met te min tevrede.  Dalk het ons, ons lus vir die lewe verloor en nou strompel ons maar so sleepvoet voort.  Ja, so loop on sook en huil terwyl ons voortploeter.  Ons is afgestomp. “Auto-pilot”is aan. 

Wat het geword van ons drome… die sterre in ons oë?  Net omdat dinge nie uitgewerk het soos ons gehoop het nie, beteken nie dat dit buite die kwessie is nie.  Moenie met tweede beste tevrede wees nie.  Jy verdien eerste prys.

Laat jouself toe om daardie drome op te diep en begin jou oorwinnings en deurbrake visualiseer.  NIKS is onmoontlik nie.


Net soos wat jy ‘n vlammetjie kan aanblaas solank daar nog ‘n gloeiende kooltjie is, net so kan jy jou drome weer aktiveer. Toe, toe, toe!  Waarvoor wag jy?  

Tuesday 17 May 2016

Groot dinge is op pad

Psalm 126 : 3  Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.

As jy na jou lewe op hierdie oomblik kyk, glo jy steeds dat God groot dinge in jou lewe kan doen?  Dalk reken jy dat jou omstandighede te hopeloos daarvoor is.  Die goeie nuus is dat God op die punt is om groot dinge in jou lewe te doen… as jy Hom toelaat.

Ons praat nie hier van net een area nie, maar verskeie areas. Dit gaan jou familie, jou loopbaan, jou kreatiwiteit, geleenthede, verhoudings, geldsake… net mooi alles raak.  Aanvanklik mag jy dalk geen verandering opmerk nie, maar wanneer jy dit die minste verwag, gaan jy ewe skielik die verandering opmerk.

God sit nie heeldag en TV kyk of slaap nie. Hy is voortdurend in die agtergrond besig.  Ek onthou ‘n speletjie wat my as kindgefassineer het.  Dit was so ‘n plat vierkant met 8 vierkantige blokkies binne-in en ‘n 9de leë spasie.  Die blokkies was ‘deurmekaar’ en het geen logiese prentjie gehad nie.  Die idee was om die blokkies so te skuif dat dit ‘n volmaakte prentjie maak.  Om dit reg te kry, moes jy strategies dink, en jou skuiwe beplan.  Soms moes jy die blokkies wat alreeds deel van die prentjie was, ‘skommel’ omdat dit jou uiteindelik sukses sou laat smaak met ‘n volledige prentjie.  Glo my, dit kon jou nogal ‘n rukkie besig hou.

Stel jou nou voor dat elkeen van ons ‘n ‘blokkie’ is wat God moet rondskuif sodat almal se prentjie volmaak is?  Dit gaan sekerlik ‘n bietjie langer neem as my poging.  Die goeie nuus is dat Hy nie, soos ek met die speletjie gaan opge,e totdat Hy dit nie regkry nie.  Om die waarheid te sê, elke skuif van Hom is lank vooruit beplan.


God rig jou voetstappe.  Hy het ‘n plan hoe om die regte mense oor jou pad te bring sodat jou deurbraak kan gebeur. Hierdie is ‘n seisoen van voorbereiding vir ‘n meesterplan om in plek te val.  

Monday 16 May 2016

Minag jou probleme

1 Samuel 17 : 26 Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”

Interessant om te weet dat Dawid nooit na Goliat as ‘n reus verwys het nie.  Ander het na Goliat as ‘n reus verwys, maar nie Dawid nie.  Sodoende het Dawid geen erkenning gegee aan dit wat ander omtrent Goliat gedink het nie. Hy het Goliat verklein in sy geestesoog deur na hom as ‘n onbesnyde Fillistyn te verwys.  So iemand was minderwaardig, onheilig en het nie ‘n verbond met God gehad nie.  Daarmee het Dawid ook besef dat Goliat dus nie dieselfde guns as hy, kind van God, kon verwag nie.

Begin jy sien hoekom Dawid wel ‘n kans teen Goliat gehad het?  Dawid het besef dat God se liefde vir en al sy beloftes, die enigste wapens was wat hy nodig gehad het.


Die les wat ons hieruit kan leer, is dat ons te veel maak van ons probleme.  Ons mor en tob oor hulle, vertel vir almal van ons laste en laat toe dat hul ons vreugde steel.  Dalk het dit tyd geword om ons probleme te begin hanteer met die minagting wat hul verdien.  

Sunday 15 May 2016

Gehoorsaamheid

Eksodus 19 : 5  As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees

Soms verwag God dinge van ons wat eenvoudig nie sin maak nie.  Dit pas nie in by ons verwysingsraamwerk nie, nog minder by ons eie planne.  Gewoonlik is dit iets wat jou laat kopskud en wonder oor God.

U wil hê ek moet bedank!  Ek is die enigste broodwinner en as ek by die huis kom is daar ‘n hele paar ogies wat op my vertrou om te voorsien in elke behoefte van hulle.  U weet tog dit is nie moontlik nie, God.  U wil hê ek moet my studies hervat… op 43… met 3 klein kindertjies en ‘n man wat werkloos is!  Nee, ek het seker verkeerd gehoor.  U wil hê dat ek my spaargeldjies moet gebruik om vir so en so te gee!  U wil hê dat ek my vaste werk los en ‘n eie besigheid begin!

Dalk moet ons ophou dink.  Ons annaliseer en ontleed.  Dit moet sin maak, maar met God maak goed selde sin. As dit nie so ‘n bietjie onmoontlik lyk nie, gaan daar heel waarskynlik nie geleentheid vir ‘n getuienis wees nie. 


Jy kan net jou hoogste potensiaal bereik as jy God blindelings vertrou.  Al maak dit nie sin nie, wees net gehoorsaam en jy sal verbaas staan om te sien waarheen Hy jou lei.  Elke keer wat jy in gehoorsaamheid reageer, sal daar seën volg.  God beloon altyd gehoorsaamheid.

Thursday 12 May 2016

Geloof sonder werke

James 2 : 20  Geloof sonder werke is dood

Hoe leef jy jou geloof uit?  Wat doen jy wat sal maak dat ander mense jou as ‘n gelowige beskou? Ons kan nie net glo nie.  Ons moet ook die daad by die woord voeg.

Ons leef seker in die moeilikste tyd vandag.  Buiten misdaad, korrupsie, werkloosheid, armoede, ens, ens, ens… is daar ook nog ‘n selfsugtigheid onder die ou mensdom.  Elkeen is net op sy of haarself ingestel en net die eie ek se behoeftes is belangrik.  Mense voel vere vir hul naaste… wel meeste mense. 

Daar is ‘n klein handjievol wat regtig probeer goed doen sonder om enige eer vir hul selfloosheid te verwag.  Maar daar is ook baie instansies wat hul deure moet sluit omdat daar eenvoudig nie meer ondersteuning is vir hul saak nie.  So byvoorbeeld hoor ek onlangs van ‘n inrigting vir verstandelik gestremdes wat binnekort hul deure sluit.  Die inwoners se familie moet hulle kom haal.  Hoeveel van daardie familie gaan hul met liefde haal en versorg?  Hoeveel ou mense word uitgebuit vir hul pensioen of kinders vir hul kindertoelae?

Ons mag nie ‘n blinde oog keer of dink dat ons hul net van die wal in die sloot gaan help nie.   Jy hoef nie geld te gee nie.  As jy weet van iemand wat swaarkry, laat ‘n supermark ‘n paar sakke kruideniersware by hul aflewer.  Ek hoor onlangs van ‘n bekende organisasie in Johannesburg wat boekies met eetbewyse verkoop. Jy kan dan ‘n blaadjie uitskeur en daarmee kan ‘n hawelose ‘n maaltyd geniet.  Ons hoef nie ver te soek nie. Daagliks skuur ons skouers met behoeftiges.


Miskien kan jy vandag die antwoord op iemand se gebede wees.

Wednesday 11 May 2016

Jy's 'n diamant

Romeine 5 : 3 – 4  Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;

Die manier waarop ons terugslae hanteer, het ‘n groot impak op jou sukses al dan nie.  As jy jou ineenkrimp of bitterheid die oorhand laat kry, gaan jy jou entoesiasme verloor.  Eintlik laat jy bloot toe dat sulke terugslae jou weerhou van die toekoms wat God vir jou in gedagte het.

Daarenteen kan jy aanhou glimlag, positief bly en voortbeur, jubelend oor God se goedheid.  Dit is dan dat God se karakter in jou ontwikkel en jy ‘n oorwinnaar word. 

Ons ken almal die noue verbintenis tussen ‘n diamant en ‘n stuk steenkool. Die enigste verskil is dat die diamant veel groter druk ervaar het as die stuk steenkool.  Wanneer jy vasberade deurdruk, teen alle logika in en toelaat dat God jou brei en vorm, sal jy uiteindelik ook ‘n kosbare diamant word.

Terugslae en beproewings word potensiaal, talent, groei en voortuitgang.  So aanskou jy as’t ware hoe jy ontluik en sukses behaal.


Tuesday 10 May 2016

Woorde

Spreuke 20 : 3  Dit is eerbaar om ‘n rusie te vermy;  enige dwaas kan ‘n rusie begin.

Vandag wil ek iets met jou deel oor woorde.  Indien jy toelaat dat woorde jou seermaak, tot so ‘n mate dat jy nie kan ophou om daaroor te dink nie, kan jy gerus verder lees.

Nie almal kan ‘n kwetsende woord afskud soos water van ‘n eend se rug nie.  Vir meeste van ons laat woorde van venyn aaklige letsels.  Ons hoor dit amper soos ‘n refrein… dit maal deur ons kop.  En ja, soms word dit ons realiteit.  Ons glo dit en laat toe dat dit ons van ons selfvertroue ontneem.

Wat ons nie besef nie, is dat dit ons van daardie oomblik af beheer.  As jy wraakgedagtes begin koester en jouself nie kan keer om daaroor te dink nie, het dit jou lewe oorgeneem.  Sommige van ons byt terug, ander kruip in hul dop.  En so beland ons in daardie persoon se mag.  Daar is ongelukig mense wat ‘n behae daarin skep om ander te verneder.  Staan egter sterk.  Daarmee bedoel ek ook dat jy anders begin optree sodat daardie persoon nie meer hom/haarself kan verlekker in jou pyn nie. 
Ja mense het die reg om te sê hoe hul voel, maar ons het ook die reg om te besluit hoe ons daarop gaan reageer.  Ons kan besluit om hul te ignoreer en te vergewe.  Stap weg.


Ons vergeet dat daar geen reël is wat jou verplig om met almal oor die weg te kom nie.  Jy hoef nie van almal te hou nie en daar gaan ook diegene wees wat nie van jou hou nie.  Al wat jy moet doen, is om die mens te wees wat God jou gemaak het om te wees.  Iemand wat in vrede leef en liefde teenoor jou naaste betoon.

Monday 9 May 2016

Kan God regtig?

Jesaja 41 : 18  Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine laat uitborrel. Ek sal woestyngebied in rietvlei verander, dor land in fonteinwêreld.

Kan God regtig sulke dinge doen?   Kan Hy regtig die onmoontlike vermag?

Ja, ‘n duisend maal ja.  God kan wonderwerke laat gebeur… selfs vandag nog… selfs in jou onmoontlike situasie. 

Jy sê jy is al moeg gebid, maar dat niks gebeur nie.  Hou aan bid en hou aan glo.  God se tyd is nie ons tyd nie en God se antwoorde is ook nie altyd wat ons verwag nie.  Meeste van tyd is dit veel beter as wat ons verwag het en gewoonlik is dit wanneer ons al verby moedeloos is dat daar uit die bloute uitkoms kom.

Gebruik jou wagtyd om God beter te leer ken.  Lees Sy Woord… hoor wat Hy van jou verwag.  Dalk is daar iets wat jy eers moet laat gaan, sodat jy plek kan maak vir dit wat jy voor wag.

God sal jou nie teleurstel nie.  

Sunday 8 May 2016

'n Nuwe seisoen

Spreuke 18 : 21 Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.

Hierdie week begin met fantastiese nuus vir jou.  God wil nuwe en verbasende dinge in jou lewe laat gebeur.  Vandag breek ‘n nuwe seisoen aan; ‘n seisoen van voorspoed, vrede en vreugde.  Die stormwaters wat jy die afgelope tyd beleef het, is verby.  Die put van mismoedigheid waarin jy jou bevind het, is iets van die verlede.  Niks gaan jou terughou of in jou pad staan nie.  Alles wat jy aanpak, gaan ‘n sukses wees en jy sal elke oomblik op die pad vorentoe geniet.

Klink dit te goed om waar te wees?  Jou antwoord op hierdie vraag is die katalisator vir die toekoms.  As jy reken dit is te goed om waar te wees… dat jy die een is met wie dinge eerder verkeerdloop of dat jy so gewoond aan mislukking en teespoed is dat jy nie kan dink hoe ‘n toekoms sonder dit sal lyk nie… wel dan gaan dit presies so wees.  In teenstelling hiermee, kan jy dink: “Yes!  My tyd het aangebreek.  Wyk satan! God is in beheer en daarom sal dinge van vandag af anders wees…dan is dit ook presies hoe dit sal wees. Ons vergeet van die mag wat die tong oor beskik… dat die tong lewe of dood kan spreek… en meer hartseer is dat ons vergeet ons het beheer oor hierdie klein, maar magtige deel van ons liggaam.  God beheer nie ons tong of ons gedagtes nie, ons beheer dit ongelukkig deur ons houding.


Kies om seen, voorspoed, genade, geluk…alles wat positief is, oor jou lewe te spreek.  Dis ‘n nuwe seisoen.

Thursday 5 May 2016

Vergifnis

Matteus 6 : 12 en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

Ek weet nie van jou nie, maar daar is tog dinge wat ek in die verlede gedoen of gesê het waaroor ek spyt is.  Dit is dan nodig om na die persoon te gaan wat jy tenagekom het en omverskoning tevra.  Of jou verskoning aanvaar gaan word, is ‘n ander saak.  Ek glo ons vra juis verskoning omdat ons hoop en glo die ander persoon sal ons misstap oorsien/vergewe.  Stel jou nou voor jy het deur die hele proses gegaan, net om te hoor dat jammer ongelukkig nie alles gaan regmaak nie of dat dit nie genoeg is nie. 

Daar is mense wat eenvoudig nie kan, of wil, vergewe nie.   Ek kan nie oordeel nie, want ek is nie in jou situasie nie.  Wat ek wel weet is dat ons almal feilbaar is en almal iewers iets gaan doen waaroor ons berou het.  As ons dan verwag om vergewe te word, hoekom kan ons nie ook vergewe nie.

Sukkel jy ook om te vergewe?  Dalk is jy ook iemand wat daardie rympie sing:  “Ek sal hul vergewe, maar vergeet… nooit.” 

Vergifnis is nie ‘n eenrigtingstraat nie.  Dis ‘n wedersydse gebaar… ‘n gebaar van genade.  God begenadig ons oor en oor en daarom kan ons ook ons medemens begenadig. 


Vergeef en spreek vry.

Wednesday 4 May 2016

Trek jou tentpenne uit

Filippense 3 : 14  Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Partykeer bereik ons ‘n plek in ons professionele lewe waar ons vashaak.  Ons slaan tent op en kap die penne lekker diep in.  Dan bly ons daar.  Later is dit nie meer so gerieflik nie en ons begin mor en kla, maar ons bly waar ons is.

Is dit tyd dat jy jou tentpenne uittrek en kamp afslaan sodat jy kan aanbeweeg?  Vra jouself af wat veroorsaak dat jy nie wil aanbeweeg nie.  En wees sommer lekker eerlik met jouself.  Soms is dit omdat ons nie harder wil werk nie… soms is dit omdat ons en die baas of kollegas ‘n goeie verhouding het… of dalk is jy gerieflik naby die werk en nie lus vir vroeër opstaan of verkeer nie. 

Jy weet seker teen die tyd dat niks gaan verander as jy dieselfde dinge doen wat jy in die verlede gedoen het nie.  Verandering is nodig… om die waarheid te sê, dis noodsaaklik.

God het fantastiese planne vir jou, maar jy sal uit jou gemaksone moet tree sodat jy die geleentheid kan kry om te groei en die mens te word wat Hy jou bestem het om te wees.  In die proses sal jy God ook beter leer ken en verbaas staan wanneer Hy voor jou uitstap.

Tuesday 3 May 2016

God se tydsberekening

Filippense 4 : 11  Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.

Wanneer ons so gefokus is op ons toekoms, staan ons ‘n kans om die eintlike doel vir ons lewe mis te kyk.  Ons ontwikkel as’t ware oogklappe wat ons daarvan weerhou om enige iets anders raak te sien.   Indien ons dan nie ons doel bereik nie, ervaar ons dat geluk ons bly ontwyk.  Met ander woorde, ons geluk hang af van wat ons bereik.  Die teenoorgestelde is dus ongelukkigheid.

Sodra ons drome en doelwitte ons begin frustreer, moet ons besef dat ons balans versteur is… dat ons te afhanklik daarvan is… dat dit ons beheer.  So hoe nou gemaak? Laat gaan.  “God, ek gee dit alles oor aan U.  U ken die begeertes van my hart, maar meer nog, U weet wat die beste vir my is.  Ek kies om U te vertrou, dat U sal weet wanneer ek gereed is hiervoor.


Sodra ons leer om tevrede te wees met ons omstandighede, verloor die vyand sy greep op ons lewe.  Dan het dit nie meer die mag om ons te beheer of frustreer nie. Deur oor te gee, bewys ons dat ons God vertrou.  Wanneer jy God vir die regte tydsberekening vertrou, sal jy met vrede en vreugde gevul word, wel wetend dat God net goeie planne vir jou het en dat dit op die punt staan om te gebeur.

Monday 2 May 2016

Pragtig!

Psalm 139 : 14  Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:

Lees weer hierdie woorde van Dawid in Psalm 139.  Voel jy ook so oor jouself?  Is jy ook trots op wie jy is?  Op wie God jou gemaak het?

Ongelukkig dank meeste van ons nie juis so nie.  Ons is ons eie grootste kritici.  Ons vind fout met ons liggaam, ons persoonlikheid, ons wese.  Ons breek onsself af.  Ja,nederigheid is goed, maar dit beteken nie dat jy nie spesiaal, uniek of kosbaar is nie.  Niemand anders het jou vingerafdruk nie.  Daar was nog nooit iemand soos jy nie en daar sal ook nooit iemand identies aan jou wees nie.  Jy is die bloudruk waarmee God slegs een van jou gemaak het. 

Sê eerder vir jouself: “Ek is wonderlik, aantreklik, opwindend."  Jy sal voel hoe jou energievlakke styg, soos jou bors uitstoot van trots.  So verbeter jou selfbeeld en jy begin ‘n lewe van uitnemendheid leef.


Ignoreer wat jy tot dusver van jouself gesê het of wat jy geglo het wat ander van jou gesê het.  Begin glo wat God van jou glo.  Sien jouself vir ‘n verandering deur God se oë.  Pragtig!

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...