Thursday 30 June 2016

Goedhartigheid en vriendelikheid

1 Tessalonisense 5 : 15 Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense

In Galasiërs 5, lees ons van die vrugte van die gees (liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid).  Hierdie vrugte is geestelike kwaliteite wat manifesteer in ons lewens wanneer ons God toelaat om in en deur ons te werk.  Mettertyd omvorm die vrug van die gees ons tot ‘n beter mens.

Goedhartigheid en vriendelikheid is twee van die vrugte van die Gees.  Hoe meer goedhartig ons teenoor ander is, hoe meer geleentheid is daar vir hulle om God deur ons te sien.  Hoe vriendeliker ons teenoor mense is, hoe meer reageer ons soos God.  Ons weet ook dat dit wat ons saai, ons ook sal maai.  Hoe ons dus teenoor ander optree, is hoe mense ook teenoor ons sal optree. 


Vind vandag maniere om goedhartig en vriendelik teenoor andere te wees, selfs al ervaar jy nie dieselfde behandeling van hul nie.  Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.  Styg uit bo omstandighede.  Bewys liefde aan hul wat dit die minste verwag en jy sal uiteindelik veel meer terug ontvang.  

Wednesday 29 June 2016

Soekend

Nehemia 9 : 6  Dit is U! U alleen is Here! U het die hemel gemaak, die hoogste hemel en sy hele leërmag, die aarde en alles daarop, die oseane en alles daarin. U laat hulle almal lewe; die hemelse leërmag buig voor U.

Mense is soekend. Hul soek antwoorde op die vreemdste plekke. Jy sien dikwels hoe iemand die sterrevoorspelling lees of fortuinvertellers besoek.  Almal wil weet wat die toekoms inhou of wanneer die gety van die lewe vir hul gaan draai. 

Wat ek altyd wonder is, hoekom jou na sterrevoorspellers wend, as jy die een wat die sterre gemaak het, kan nader.  God alleen weet wat die toekoms inhou.

God het jou nie maar net geskape en gesê: “Voorspoed, hoop jy maak dit” nie.  Nee, hy het ons geskape om ‘n verhouding met hom te hê. Hy wil hê dat ons hom bo enige iets anders kies. 


Moenie vandag tweede beste kies nie.  Die antwoord lê nie in die bonatuurlike nie, maar in die Een wat oor bonatuurlike kragte beskik.  Vra God om Homself aan jou te openbaar.  Vra Hom om jou Sy paaie te wys sodat jy Hom kan ken in alles wat jy doen en ook al die dae van jou lewe.

Tuesday 28 June 2016

Engele

Psalm 103 : 20 Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam.

Het jy dit ooit geweet? Dat wanneer jy woorde van geloof uiter, engele opdrag gegee word om namens jou te beweeg.  God het nie engele nodig om Hom te help nie, die engele is daar om Sy opdragte uit te voer en gewoonlik sal dit wees om ons op die een of ander manier te help wanneer God hul opdrag gee.  Dis asof God vir die engele vra:  “Het julle gehoor wat my kinders sê? Hoor julle hoe my kind sê dat hy op my vertrou?  Komaan, engele gaan draai die situasie om.”  Die engele gehoorsaam Hom.

Indien ek of jy die sluier voor die geestelike realm sou wegtrek, sou ons ‘n hele skare engele kon sien wat oor ons waghou.  Die hoekom dit belangrik is dat ons let op wat uit ons mond kom.  Ons woorde kan die engele in beweging laat kom, of die vyand.


Die keuse is ons s’n om geloof en lewe oor ons huis, familie en toekoms te spreek.  Elke dag is daar ‘n geleentheid om die engele in beweging te bring.  

Monday 27 June 2016

Vandag

Psalm 118 : 24  Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees

Daar is altyd die hoop dat dit eendag beter sal gaan… dat ons skip eendag sal inkom.  Eendag sal dit beter gaan.  Eendag sal die swaarkry verbygaan.  Die gevaar van hierdiemanier van dink, is dat ons as’t ware guns uitstel.  Hoekom kan vandag nie daardie dag wees nie?   Ware geloof is in die hede.  Die groot EK IS, nie die een wat eendag groot is nie of iewers in die toekoms groot sal wees nie. EK IS…nou.  Hy wil sy grootheid, sy guns en genade elke dag bewys.

Dit is hoekom vandag jou dag is.  Sien met verwagting uit na hierdie dag.  Dit is die dag waarop jou lewe vir altyd gaan verander.    Dit is die dag waarop jy jou lewe lank gewag het.  Nie volgende week of volgende jaar of iewers in die toekoms nie. 


Jy gaan verbaas staan oor wat Hy in jou lewe gaan doen… vandag.

Sunday 26 June 2016

Wat uit jou mond kom, bepaal jou toekoms

Spreuke 18 : 21  Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.

Liewe Medegelowige,

Soos wat ons die middel van die jaar nader, wil ek jou bemoedig en uitdaag om woorde van lewe oor jou eie lewe te spreek.  Dit wat uit jou mond kom, bepaal jou toekoms.  Niemand, behalwe jy, besluit wat uit jou mond kom nie.  Jy het totale beheer oor dit wat jy uiter.  Dus beskik jou woorde oor die mag om dinge te laat gebeur; goed of sleg. Hulle is die saadjies wat jy in jou eie lewe saai.

Indien jou woorde gevul is met geloof, hoop en belofte, dan sal dit die vrugte wees wat jy gaan oes.  As jy egter ontmoedigende woorde, vrees of negatiwiteit uiter, dan gaan dit ongelukkig ook deel wees van jou lewe.

Soos wat ons die tweede semester van 2016 tegemoetgaan, kan jy ‘n besluit neem om vars te begin.  Ek verklaar in geloof jy is alles wat God jou geroep het om te wees. 

Wees bedag op jou woorde. Vermy elke enkele negatiewe uitlating. Maak ‘ek kan’, jou mantra.  “Ek kan, want ek is geseën… ek is in staat… ek is talentvol… ek is oulik… ek is alles wat God my geroep het om te wees.


Ek waardeer dat jy “Wat sê die Woord” lees en met jou vriende en familie deel.  Weet vandag dat ek vir jou bid en begeer dat jy God se guns en goedheid in jou lewe sal ervaar, van nou af tot in ewigheid.

Thursday 23 June 2016

Vrees is 'n leuen

2 Timoteus 1 : 7  Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing

God se begeerte is dat jy voortdurend groei, dat jy voortdurend hoër hoogtes vir jou lewe bereik. Baie keer gebeur dit dat ons besluit om God te vertrou, net om deur die vyand anders oortuig te word.

Sodra jy gedagtes ervaar soos:  “wat as ek misluk” “wat as ek dit nie maak nie” “wat gaan ander van my dink” “jy is nog nie gereed nie”, kan jy maar weet dit is nie van God nie.  God glo in jou, want Hy’t jou gemaak en ek glo nie God het jou met defekte gemaak nie.


Die Bybel sê vrees is ‘n gees. Dit speel op ons emosies en hou ons terug.  Die goeie nuus is egter dat jy die mag het oor vrees.  Volgens die woord sal liefde vrees oorwin.  Wanneer ons God se liefde ontvang, het ons vertroue in die toekoms omdat sy planne vir ons net goed is.  Vrees is ‘n leuen. Kies vandag om God te glo en ontvang Sy liefde sodat jy vrees kan oorkom en vorentoe kan beweeg om jou toekoms tegemoet te gaan wat God vir jou voorberei het.

Wednesday 22 June 2016

Tree vir tree

Jesaja 43 : 2 As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,

Het jy al ooit ‘n tree in geloof gegee?  Het jy al iets gedoen omdat jy gevoel het God verwag dit van jou, maar dat dit geensins sin maak nie?

Glo my, dis nie maklik om God se roepstem te volg nie. Wat Hy van jou verwag, maak selde sin en daarom wil ons nie sommer daardie eerste tree gee nie.  Ons wil wag totdat alles in plek val of totdat dit die logiese stap is. 

Jy is dalk sielsongelukkig by die werk en jy wil jou eie onderneming begin, maar jy wil eers genoeg geld bymekaar maak. 

Jy sien, God verwag juis van ons om daardie stap te neem terwyl daar geen waarborge op sukses is nie.  Al wat jy moet doen is om te sê:  “ok, God dit maak nie sin nie en dit is ‘n massiewe risiko, maar hier gaan U en ek.”  Dis dan dat God die water in twee deel, soos met Moses en die Israeliete. Dis wanneer God jou na plekke neem wat jy nooit gedink het jy jou ooit sal begewe nie. 

Party mense wag vir ewig dat die water moet skei alvorens hul die eerste tree gee en so loop hul soveel mis.  Gehoorsaamheid is wat die water laat skei.  Jy dink dalk jy wag op God, maar God staan en wag vir jou.  As jy doen wat God van jou verwag, dan aktiveer jou gehoorsaamheid sy guns, sukses en ongekende sukses.

Meeste dinge wat langs die pad gebeur is eenvoudig klein toetsies om jou voor te berei op die uiteindelike eksamen.   Jy’s gereed.

Tuesday 21 June 2016

Jou woorde

Deuteronomium 30 : 19  Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

Jy weet dat daar krag in jou woorde skuil. Deur dit wat jy spreek, kan jy jou toekoms seën of benadeel.  As jy wil weet hoe jou lewe vyf jaar van nou daarna gaan uitsien, luister na dit wat jy vandag oor jouself sê. 

Wanneer jy sê: “ek is so diep in die skuld, ek sal nooit hieruit kom nie” of “ekis  sielsongelukkig, egskeiding is al uitweg” of selfs “dis winter, so ek sal seker weer griep kry”, dan kan jy maar weet dis wat gaan gebeur.  Stel jouself nou die teendeel voor.  “Volgende jaar hierdie tyd, gaan ek skuldvry wees.”  “God het ons saamgevoeg, en daarom sal ons huwelik hierdie krisis deurstaan.”  “Ek weet nie wanneer laas ek verkoue gehad het nie, en ek gaan ook nie hierdie jaar siek word nie.”

Baie van ons wonder hoekom ons net nie ‘n deurbraak kan kry nie, maar dit is omdat ons nie sê:  ”my deurbraak is hier nie.”  As jy aldag en heeldag vir ‘n kind vertel hy’s dom of stout, gaan daardie kind dit glo.  Dieselfde geld vir jou.  Nie net moet jy positief op die lewe en ander ingestel wees nie, maar veral teenoor jouself. Glo in jouself, glo in jou toekoms en vermoëns, want God het jou die mag gegee om lewe te spreek.  God se guns rus op jou.  Jy is nie ‘n mislukking nie. Jy is ‘n oorwinnaar.

Dit is hoe jy jou lewe omkeer.  Verklaar in geloof:  “Dit gaan ‘n uitstekende dag wees. God is deel van my toekoms en Hy rig my voetstappe, daarom gaan goedheid en guns my metgesel vir die toekoms wees.”

Monday 20 June 2016

Laat gaan

Jesaja 43 : 18      Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie

Ons weet dat teleurstelling en mislukking nie ons lewenspad kruis omdat ons nie genoeg geloof het nie.  Hierdie dinge wat met ons gebeur is soms groot en soms net ligte irritasies.  G’n mens se lewe is altyd maanskyn en rose nie.  Dit sit ons miskien ‘n paar tree terug, maar dit behoort ons nie te ontmoedig nie.  Ja goed, jy wou baie graag ‘n eie huis koop en toe keer die bank die lening af.  Of jy doen aansoek vir ‘n beter pos, maar iemand anders kry dit.  Jy ontmoet iemand en aanvanklik lyk dit asof dit jou huweliksmaat is, maar helaas die persoon se ware kleure begin wys en die verhouding loop dood.  Dalk is dit meer ernstig soos ‘n motorongeluk, siekte of om iemand aan die dood af te staan? 

Dit is hier waar vandag se teks ons die pad wys.  Die geheim om teleurstellling te oorkom, is om die verlede te laat gaan. As jy vandag enigsins voel asof jy vasgeval het, probeer deur selfondersoek vasstel waaraan jy vasklou.  Jy moet bereid wees om die teleurstellings en/of mislukkings te laat gaan d.m.v. vergifnis.

Wie het jou seergemaak?  Wie het jou tenagekom? Het jy enige beheer daaroor gehad?  Gee dit nou oor aan God.  As jy nodig het om jouself te vergewe, doen dit vandag. As jy God se vergifnis nodig het… jy het dit reeds ontvang d.m.v. Sy kruisdood. 

Dis tyd om van die verlede afskeid te neem en aan te beweeg.  Neem vandag daardie eerste tree.

Sunday 19 June 2016

Wag, luister...

Psalm 85 : 8  Ek wil luister na wat God die Here sê

Dit gebeur gereeld dat mense dink hul kan God nie hoor nie of hul dink God ‘praat’ nie met hul nie.  Die probleem is nie dat God nie praat nie;  dat Hy nie vir ons rigting bied nie… Die probleem is dat ons nie genoeg ingesteld is op Sy stem nie.

Om te leer om die stem van God te hoor, is seker die mees belangrike tegniek wat jy ooit sal moet aanleer.   Hoe meer aandag jy aan Hom gaan gee, hoe meer sal jy Hom leer ken en verstaan en duidelik hoor wat Hy vir jou sê.  Soos jou pa met jou gesels, so gesels God met jou.  Soms bemoedig Hy jou, soms waarsku Hy jou, soms vermaan Hy jou… Vra God om jou geestelike ore te open sodat jy sensitief ingestel kan wees op Sy stem. “Here, help my vandag om U stem te hoor.”


God wil vir jou wysheid, rigting, beskerming en leiding gee.  Hy wil jou hartseer spaar en jou lewe makliker maak.  Hy wil jou waarsku en attent maak. Al wat jy moet doen, is om te luister en voor jy jou kom kry sal jy die wonderbaarlike ervaring geniet om Sy stem te hoor en ook Sy hand van seen in elke aspek van jou lewe sien. 

Thursday 16 June 2016

Onmoontlik!

2 Korintiërs 9 : 8  En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

Toe die Israeliete in die woestyn was, het God hul manna uit die hemel gevoer.  Dit was Goddelike voorsiening, en tog het hul moeg geword om dieselfde kos elke dag te eet.  Dalk kan jy daarmee vereenselwig, want niemand wil dag in en dag uit brood eet nie.  Hulle het vir Moses gesê:  “Moses, ons wil ‘n slag vleis eet.” Natuurlik het hul terugverlang na die vleispotte van Egipte en vergeet hoe swaar hul lewe as slawe was.

Soos jy jou kan voorstel, het Moses bekommerd geraak.  Waar sou hy immers vleis kry? Hulle was in die woestyn en daar was niks anders as sand nie.  Daar was nie ‘n winkel in sig of ‘n vliegtuig wat noodvoorraad kan afgooi nie.  En nou wil twee miljoen plus mense vleis hê.  God het egter maniere om te voorsien waarvan ons nooit kan droom nie.  Hy het bloot die wind van rigting laat verander en daar vlieg ‘n hele swerm kwartels die kamp in.  Die Israeliete het nie eens nodig gehad om op te staan en te gaan jag nie.  Dit klink nou na toeval, maar dan moet jy ook verstaan dat kwartels nie normaalweg ver van waterbronne af beweeg nie.  Dit was net God wat hul daar in die woestyn kon kry. 

Ek reken wat ek vir jou probeer sê is dat God wonderwerke kan verrig.  Hoe meer onmoontlik jou situasie, hoe groter die wonderwerk. Kwartels in die woestyn!!!  Brood uit die heme!!! ‘n Wolk om jou teen die son te beskerm!!!  Jy het nog niks gesien nie.


Wat het jy vandag nodig?  Wat wil jy meer as ooit sien gebeur?  God is in staat om ENIGE IETS te maak werk.  Jy sal nooit vir God in ‘n posisie kry waar Hy vir jou sê:  “Nee, nou verwag jy darem ‘n bietjie te veel nie.”  Gee God’n kans om jou te verstom.

Wednesday 15 June 2016

'n Goeie en uitgestrekte land

Eksodus 3 : 8 Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk en heuning.

God is ‘n God van oorvloed.  Wanneer Hy Sy volk van die beloofde land vertel, is dit nie ‘n klein, afskeep landjie nie.  Nee, dis ‘n goeie, uitgestrekte land, wat oorloop van melk en heuning.    Net soos wat God die kinders van Israel na hierdie fantastiese land geneem het, so sal hy ook vir jou doen.  Hy wil jou neem na ‘n plek van oorvloed, ‘n plek wat oorloop van geleenthede en vooruitgang. 


Indien jy vandag in opstand wil kom oor jou situasie omdat jy voel dat jy nog nie jou doel bereik het nie, dan is dit goed.  As jy nie op ‘n goeie plek is nie, moenie tevrede wees daarmee nie.  Hoop en bid vir iets beter.  God het soveel meer in gedagte vir jou.  Bly staande en hou aan glo dat jou deurbraak om die draai lê.

Tuesday 14 June 2016

Ek laat my nie intimmideer nie

Filippense 1 : 28  en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle 'n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God.


Wanneer God aan jou kant is, hoef jy nie geintimiteerd te voel deur die vyand nie. 

Jou vyand is dalk kanker… dit staan nie ‘n kans teen God nie. Siekte kan jou nie distansieer van God nie. Hy het jou in die palm van Sy hand.  Niks kan jou daaruit gryp nie.  As dit nog nie jou tyd is om te gaan nie, is daar geen manier wat jy sal gaan nie. 

Selfs jou vyand, finansies, staan nie ‘n kans teen God nie.  Daar is ‘n salwing oor jou lewe wat jou beskerm en bemagtig.  God self het jou met krag deurweek.  Dit is hoekom die skrif jou ook herinner dat jy tot alles in staat is deur Hom wat jou die krag gee.

Gaan vandag uit met jou kop omhoog en jou bors breed uitgestoot.  As God vir jou is, wie kan immers teen jou wees.  Die vyand staan nie ‘n kans teen die Almagtige God nie.  Jy is bemagtig en toegerus vir oorwinning.

Moenie vir een oomblik voel dat jy geintimmideer word nie.

Monday 13 June 2016

God se plan

Spreuke 19 : 21  Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas.


Wanneer ons Die Bybel lees, besef ons wat ‘n meester beplanner God is.  Om die aarde in 6 dae te maak, verg sekerlik meesterlike beplanning, maar dit is nie waar God geeindig het nie.  Hy weet verseker ook wie jy in jou lewe nodig het en wie vir jou deure kan oopmaak.  Hy weet wie vir jou ‘n goeie woordjie sal doen en wie by jou sal staan deur dik en dun.  Sekere mense kruisjou pad om ‘n spesifieke rede, op ‘n spesifieke tyd.  Hulle is die Engele wat Godoor jou padstuur.  God het alles mooi beplan en uitgewerk.  Hy is nie vaag of skarrel rond om dinge wat verkeerd loop gou anders te laat verloop nie.  Jou lewe word tot op die laaste sekonde georkestreer sodat jy jou goddelik bestemde potensiaal kan bereik.

Kyk maar terug oor jou lewe.  Keer op keer sal jy sien hoe God jou voetstappe gerig het en jou bepaalde situasies laat vryspring het.  ‘n Sekonde te vroeg of te laat en dinge kon heel anders verloop het.  Al wat jy hoefte doen is om getrou aan Hom te bly en toe te laat dat Hy jou lewe rig.  Sy plan vir jou staan vas en behels veel meer as waaroor jy kon droom of hoop.

Sunday 12 June 2016

Beteuel jou humeur

Spreuke 19 : 11 'n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.

Elke mens het ‘n “hot button”.  Party het ‘n hele paar.  Myne is mense wat in die verkeer indruk terwyl dieselfde duur brandstof uitluier.  Ek weet al presies waar mense oor afritte glip en voor gaan indruk, of in ‘n afdraai baan ry en op die laaste nippertjie by die hoofbaan indruk.  Glo my, ek het empatie met mense wat hul in die vorm van ‘road rage’ te buite gaan.  Sou dit enige iets verander het as ek byvoorbeeld my humeur sou verloor en iets onbesonne aan daardie motoris gedoen het?  Nee, hoegenaamd nie.  Sulke mense is selfsugtig gebore en dink heelwaarskynlik dis hul reg om so op te tree. 

Jy sien, die lewe is vol gebeurtenisse wat ons kan frustreer of ontstel.  Miskien het jou planne nie uitgewerk soos jy wou hê dit moes nie of dalk het iemand jou seergemaak met ‘n opmerking.  Of dalk het jy ‘n taak aangepak wat jy vanoggend sommer gou-gou moes afhandel en jy sukkel nog steeds.  Ons kan nie alles beheer nie, maar ons kan beheer hoe ons daarop reageer. 

Gaan elke dag tegemoet met ‘n positiewe houding, vol hoop en verwagting op God se goedheid.  Terselfdertyd moet jy besef dat alles nie altyd seepglad kan of sal verloop nie.Ons is egter geskep om in vrede te leef.  Vrede is ‘n magsposisie.  As iemand vir jou kwaad is en jy reageer nie, behou jy jou magsposisie.   


Om terug te kom na my situasie in die verkeer… Ek het besluit dat sulke motoriste my vrede steel.  Hulle lok my uit en kry dit reg om my te laat reageer.  Om my ‘mag’ en gemoedsrus terug te kry,  sorg ek dat ek in die ver regse baan bestuur sodat hul gedrag my nie ontstel nie.  Dis my vrede en ek weier om dit af te staan.

Thursday 9 June 2016

Leef die lewe wat God vir jou aanwys

Psalm 119 : 37  Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys.


‘n Vriendin van my werk saam met iemand wat die lewe vir haar baie moeilik maak.  Die persoon sal byvoorbeeld werk waarmee sy moet begin wegsteek en dan onopsigtelik dit op die laaste nippertjie in haar in-mandjie kom druk.  Natuurlik kan my vriendin dan nie haar spertye haal nie, wel behalwe as sy saans tot watter tyd sit en werk.  Of die persoon sal ‘n oproep maak waartydens sy my vriendin openlik bespreek, wel wetende dat my vriendin die gesprek kan hoor.  My vriendin moet natuurlik op haar tande kners om nie iets te sê of doen nie.  As my vriendin dit met hul direkte hoof opneem, word sy van rassisme beskuldig.  Jy sal met my saamstem dat hierdie nie ‘n maklike situasie is om jou Christenskap uit te leef nie.

Om ‘n lewe van oorwinning te leef, soos God ons beloof, is dit nodig dat ek en jy baie selektief is met dit waaraan ons, ons tyd en aandag bestee.    Sekere gedagtes sal ons moet ignoreer… sekere gesprekke of kommentaar, en sekere mense, sal ons moet ignoreer.  Dit is natuurlik nie maklik as dit ‘n kollega is nie, maar ons sal dit tog sover moontlik moet probeer.  Ons maak partykeer die fout om te dink ons moet elke geveg veg.  Meeste van hierdie gevegte kom bloot oor jou pad om jou aandag af te lei.  As die geveg nie tot God se eer is nie, ignoreer dit.

Ons is so besig om almal te oordeel en te probeer regruk (jou eggenoot, jou kinders, jou kollegas, jou vriendin) of selfs om hul guns te wen, dat ons nie tyd het om op ons eie drome te fokus nie.  Draai weg van dit wat jou aandag aflei.  Onthou ook dat jy niemand se goedkeuring nodig het nie, net God s’n.


Dis nogal bevrydend wanneer jy besef dat jy nie nodig het om jouself heeltyd te verdedig nie.  Dit is ook nie nodig om diegene wat jou te na gekom het terug te kry nie.  Dan besef jy dat jy uiteindelik op God en jou siel kan fokus.

Wednesday 8 June 2016

Moenie na die mure kyk nie

Josua 6 : 1  Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie.

Hoofstuk 6 van die boek Josua, begin op ‘n relatiewe donker toon met die Israeliete wat min of meer gevange is binne Jerigo. InVers 2 bring God hoop.  Die Here het vir Josua gesê: “Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee.

Jy sou dink dat daar iets aardskuddend sou plaasving, maar dan sê God vir Josua dat hy 6 dae lank om die stad moet loop en op die sewende dag moet hul op die ramshorings blaas.  Wat sou jy gedink het van so ‘n opdrag? Ek weet ek sou skepties gewees het. 

Die prentjie van Josua en sy mense wat soos miertjies buite hierdie stadsmuur staan, mismoedig en wanhopig, vergelyk goed met meeste van ons wanneer ons ‘n onoorkombare probleem in die gesig staar.  Ons kyk egter een ding mis.  Josua het die guns en beloftes van ‘n almagtige God gehad.  Josua was nie verslae nie, want hy het geweet God is aan sy kant en dat God alreeds die oorwinning bepaal het.  So die crescendo van die verhaal het amper nie die effek wat jy sou dink dit moet hê nie, want ons weet reeds… die mure het toe geval.


Moenie vandag kyk na die mure in jou lewe nie.  Kyk na die beloftes van God.  Onthou  bietjie vandag oor watter mag en krag Hy beskik.  Beweeg vorentoe in geloof en gehoorsaamheid, wel wetend dat niemand ‘n kans staan teen jou as God vir jou is nie.

Tuesday 7 June 2016

Ontwaak

Romeine 13 : 11 En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.

 Soveel van ons leef ‘n lewe waar ons oorweldig is deur die eise van ons tyd.  Ons is uitgeput, leef van pille en maak psigiaters en sielkundiges skatryk.  Vir party mense is dit so erg dat ek glo hul leef nie eens meer nie.  Hul haal asem en doen wat van hul verwag word, maar hul is lankal dood van binne.
As dit jy is, is dit hoog tyd dat jy jou lewe terugneem.  Laat ek jou bemoedig om jouself te verhef bo die dinge wat jou terughou.  God sê:  “Ontwaak my kind, ek wil jou nie langer in hierdie omstandighede sien nie.    Jy’t lank genoeg rondgeploeter.  Dis tyd om jou volwaardige plek in te neem."
Wat is die essensie hiervan?  As gelowige ploeter jy nie voort nie, jy leef voluit.  Jou redding is naby, en so ook jou uitkoms.  Die tyd vir jou om gelukkig te wees, is hier.  Die tyd vir jou om daardie spesiale iemand te ontmoet, is hier.  Soos wat jy op ‘n afstand ‘n braaivleisvuur kan ruik, so kan jy jou deurbraak as’t ware ‘ruik’.
Dis opwindend, is dit nie?

Monday 6 June 2016

Maak los

Filippense 3 : 13  Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

 Wat keer jou om die beste wat God vir jou in stoor het te ontvang?  Vandag is die dag vir ‘n deurbraak sodat jy kan uitkom by die plek wat God jou voor, voorberei het.  Onvergewensgesindheid is een van die dinge wat jou kan terughou.  Vrees is nog een.  So ook jaloesie, stress, kleingelowigheid en verslawing.  Hierdie dinge is nie van God nie.  As jy ‘n gelowige is, het jy die saad van die grootte God in jou.  Daar is geen uitdaging te groot vir jou nie.

Jy sal onthou hoe Josua en Kaleb van die beloofde land teruggekom het nadat hul dit verken het.  Hul woorde aan Moses was:  “Laat ons onmiddellik die land binnegaan.”  Nie volgende week of volgende maand of wanneer dit of dat eers gebeur het nie, maar nou.  Hulle was nie mense wat dinge oor-analiseer nie.  As jy byvoorbeeld alles herkou en eers by almal goedkeuring of bevestiging wil kry alvorens jy beweeg, gaan jy net mooi nêrens kom nie.  Jy sal vasgevang bly in die klitsgras van klein dingetjies.

Besluit vandag om jou nie verder deur hierdie klein goedjies te laat terughou nie.  Wees ‘n Josua of ‘n Kaleb.  Moenie na jou omstandighede kyk nie, kyk na jou God, want Hy bemagtig jou om die goeie wat Hy vir jou in stoor het, jou eie te maak.


Sunday 5 June 2016

Gee

Markus 12 : 17  Jesus sê toe vir hulle: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” En hulle was stom van verbasing oor Hom

Dis interessant hoe meeste mense wat nie twee keer dink om geld op onnodighede uit te gee, hul beursie deursoek vir die kleinste moontlike muntstuk Sondag in die kerk of vir die bedelaar by die robot.  Verskonings is volop… ek wil eers my geldsake regruk alvorens ek my tiende gee. Die kerk  kry genoeg.  ‘n Tiende van watter bedrag? 

Dit gaan oor gehoorsaamheid.  Hoor wat God van jou verwag.  En onthou altyd, dit wat jy het, is nie joune nie… alles kom van God. 

By die radio het ons onlangs ‘n ‘pledge’ gehad.  God het dit op my hart gelê om ‘n sekere bedrag te skenk.  Die boodskap was duidelik.  Ek moes die bedrag skenk en hul vra om dit spesifiek aan te wend vir kruideniersware.  Die kruideniersware moes geskenk word vir iemand wat in gehoorsaamheid, uit die min wat hul het, kom ‘pledge’.  Daar kom toe ‘n man met ‘n R20.  Hy is werkloos en dit is sy enigste R20, maar God het gesê hy moet die R20 kom ‘pledge’.  Ek wens jy kon die trane oor daardie man se wange sien stroom toe hy met soveel meer wegstap as wat hy gegee het.  Dit gaan nie oor gee of hoeveel jy gee nie, maar hoekom jy gee, jou gesindheid. 

Jy kan nie ontvang as jou hande toe is nie.  Jy moet gee sodat jy ruimte het om te ontvang.   En wanneer ons getrou is met min, kan God ons met meer vertrou.  Iemand het eendag gesê:  “You can’t outgive God.”  Amen!

Thursday 2 June 2016

'n Jakkals in jou beursie

Salomo 2 : 15  “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.

Dis dikwels nie groot dinge wat ons terughou nie, maar daardie kleinjies.  So byvoorbeeld sal ons maklik ‘n paar rand op koffie en ‘n muffin uitgee of oorspandeer op ons kruideniersware begroting.  Al hierdie klein uitgawetjies en ekstras tel gou op en voor jy jou kom kry, is jou kredietkaart ‘n probleem. 

As jy dink hoeveel ure jy insit om jou salaris te verdien… al die vroeg opstaan… geen etenstyd… ekstra ure sonder betaling… moet jy besef dat jy jou harde werk misken wanneer jy nie jou spandeer gewoontes in toom hou nie.  Hoeveel van ons gaan byvoorbeeld ons strokies na?  Ek koop gewoonlik net in die Winter vir my kat kristalle vir sy sandbak.  Twee weke gelede gaan ek my strokie na by die huis terwyl ek uitpak en so waar as vet, daar staan dit swart op wit… 2 sakke kristalle.  Natuurlik het ek die winkel hieroor gaan aanspreek en my geld teruggekry.  Net so moet jy jou bankstate ook nagaan.  Hoor bietjie by die bank of hulle nie goedkoper rekeninge het nie. Jy kan status nie eet nie, so is ‘n platinum kredietkaart, waarvan die fooie gewoonlik die hoogste is, regtig onnodig?

Jy moet ook na ander aspekte kyk, byvoorbeeld jou versekering.  Jou motor verminder in waarde, so ook meeste items wat ons spesifiseeer.  En tog sit die versekeraar elke jaar jou premie op.  As jy geen eise gehad het nie, en daar is items wat in waarde verminder, moet jy aandring op ‘n verlaging in premie, eerder as ‘n verhoging.

Moenie toelaat dat die klein jakkalsies jou finansiële wingerd verniel nie.  Jy is aangestel as rentmeester oor jou finansies.  Werk verantwoordelik daarmee, maar vra God veral waarop Hy wil hê dat jy jou swaarverdiende geld spandeer.

Wednesday 1 June 2016

Maak self die storm stil

Markus 4 : 39  Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom.

Wat doen jy as die storms van die lewe rondom jou woed?  In Markus lees ons hoe Jesus saam met sy dissipels in ‘n boot was toe ‘n storm losgebars het.  Meeste van ons sou uiters veilig gevoel het met Hom saam met ons in die boot, of hoe?  Wel, die dissipels was ook seker gerusgestel toe hul in die boot klim saam met Jesus.  Dieselfde dissipels was egter paniekbevange toe ‘n geweldige storm losbars en hul vir hul lewe vrees.  Skielik was Jesus se nabyheid nie genoeg nie, hulle wou Hom in aksie sien.  “Jesus, staan op.  Hoe kan U slaap?  Jesus, doen tog net iets.”  Jesus het opgestaan en die storm aangespreek en dadelik het dit bedaar.  

Nou vir die verrassing… jy hoef nie oorweldig te wees deur bekommernis en vrees nie.  Net soos Jesus die storm aangespreek het, kan jy dit ook doen.  Regtig!   Die Bybel leer ons dat dieselfde Gees wat God uit die dood laat opstaan het, binne ons is.  Hy leef in ons en Hy bemagtig ons om oorwinning in elke aspek van ons lewe te ervaar.  Wonderbaarlik, ne!  

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...