Sunday 31 July 2016

Wat is die lewe?

Het jy al ooit ‘n staatshospitaal besoek?  Indien nog nie, wil ek jou uitnooi om dit te doen.  Daarna sal jy nooit weer kla oor die maandelikse tarief wat jy vir jou mediese fonds betaal wat sal verseker dat jy behoorlike mediese hulp kan kry as jy dit eendag nodig het nie.

Ek het die onbenydenswaardige ‘voorreg’ gehad om iemand daar te besoek.  Sommer nog voor jy instap, lyk dinge al verwaarloos.  Stap jy by ongevalle in, is daar massas mense wat wag.  Al weet jy nie waarheen om te gaan, is daar nie ‘n navrae of ontvangs nie.  Die wagtende pasiënte is jou enigste hoop.  ‘n Man beduie in die rigting van swaaideure.  “Mag en daar ingaan?” Hy beduie weer.  

Anderkant die deure lyk dit erger.  Die gange is skemerdonker en koud al skyn die wintersonnetjie ylweg buite.  Ek soek ‘n ontvangs of ‘n lid van die verpleegpersoneel.  Niks.  Ek hoor stemme verder in die gang.  Hier sit personeel en eet.  Ek vra waar ek die pasiënt sal vind.  Met ‘n mondvol hoender en vet wat by die mondhoeke uitloop, word ek gesê om in die gang af te gaan na die manssaal.  Ek draai verstom om.  Halfpad in die gang af skree ‘n manlike personeellid agter my aan dat ek deur die dubbeldeure en nog ‘n saal moet stap en dan die pasiënt sal vind.

Daar aangekom, lê die persoon in ‘n skoon bed.  Dis 14 grade buite.  Die persoon het ‘n agterstevoor hospitaal jurk aan.  Een van daardie komberse wat jou nie warm maak nie, lê opgerol eenkant en ‘n laken is al wat hom warm moet hou.  Bo sy bed hang ‘n leë drip.  Die pypie gaan nie in sy arm in nie, maar krul onder ‘n staalbedkassie sonder handvatsels in.  Die naald is steeds in sy arm.  Op die bedkassie is ‘n blink bakkie met ‘n naald en bloed in.  Langsaan staan ‘n plastiekhouer met ‘n spuitnaald en ‘n pienk vloeistof daarin.  Sy baard is lank.  Om sy mond ‘n oranje smeersel.  Oorskiet pampoen, hoor ek later.  Sy liggaam amper gelyk met die plastiek matras... maer, ondervoed.  Die mond ingesonke… van die valstande is daar geen teken nie.

Die oë vlieg verwilderd oop.  “Ek is dors… en honger.  Ek kry koud.  Dis verskriklik koud.  Ek stap uit en gaan soek op ‘n Saterdagmiddag ‘n oop winkel in ‘n dorp waar alles eenuur sluit.  Ek kry ‘n kombers en koop ‘n sappie met ‘n tuit soos wat kinders uit drink.  Terug by die hospitaal neem twee bewerige, benerige hande die bottel.  Ek help om dit tot by die lippe te kry.  “Here, dis lekker koeldrank, die.  Waar het jy dit gekry?”  Die tongetjie lek bewerig oor die lippe om elke druppeltjie in te neem.  Ek lig die laken op terwyl ek sy waardigheid probeer bedek, posisioneer die kombers en plaas die hospitaalkombers en laken bo-oor.  “Dankie,” word daar geprewel.  Ek bid dat niemand die kombers sal steel nie. 

Ons groet… albei wonder of ons mekaar weer sal sien.  Ek loop in ‘n waas van trane daar uit.  Die swaaideure waardeur ek sonder sukkel ingekom het, verg nou ‘n kaart om uit te kom.  Ek gaan soek ‘n personeellid om hul kaart te ‘swipe’.   Ek wil uit.  Ek wil die sonlig op my liggaam voel.  Ek wil bid… vir genade, maar ek weet nie of ek vir genesing moet bid nie.  Is die lewe binne daardie mure enigsins slegter as die lewe hier buite?

Is dit hoe iemand behandel word wat sy lewe lank gewerk het… altyd ‘n bydrae tot die samelewing gemaak het.  Ja, hy het foute gemaak wat die oorsaak is dat hy vandag in eensaamheid die dood inwag, maar is dit reg?


Thursday 28 July 2016

Bly kalm

Eksodus 14 : 14 Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.

Dit is seker een van die moeilikste dinge om te doen.  Dit is amper asof ons geprogrammeer is om te reageer;  om iets te doen!  Ons kan eenvoudig nie niks doen nie.

Soms is dit nodig om stil te word en God volkome te vertrou.  Indien jy jouself vang dat jy wil ‘doen’, gebruik daardie tye om te bid.  Dit is al wat nodig is.  God is in beheer.  Hy is volkome in staat om die situasie te hanteer. 

Terwyl jy bid, dwing dit jou om te fokus.  Jou hele wese word op God gerig en gefokus.  Stadig maar seker kom alles in fokus.  Gebed klink na ‘niks-doen’ wanneer die wêreld om jou vergaan, maar dit is die kragtigste ‘daad’ wat jy kan verrig.


Onthou niks kan kers vashou met God nie.  Hy beskik oor al die mag en die krag wat jy nodig het om uit hierdie situasie te kom.  Hy het vir Josua die son laat stilstaan.  Vir Daniël het hy die leeus se bekke gesluit.  Vir Dawid het hy vernuf gegee om die reus te oorwin.  God sal vir jou deurkom.  Dink jy dit waardeur jy gaan is vir Hom onmoontlik?

Wednesday 27 July 2016

Bevryding

Eksodus 6:12   Nogtans het die Here vir Moses en Aäron na die Israeliete en na die farao, die koning van Egipte, toe gestuur met die opdrag om die Israeliete uit Egipte te bevry.

Die vyand lê voortdurend op loer om jou vrede te steel.  As hy die kans kry, gaan hy jou toegooi onder ‘n juk van depressie, jou selfbeeld vernietig of bloot jou karakter ondermyn.   Wanneer hy eers ‘n houvas op jou het en daardie juk oor jou geposisioneer het, is die res maklik.  Nou beheer die vyand jou.  Al werk jy hoe hard, gaan jy nie suksesvol wees nie, want die juk beheer jou.

Miskien leef jy met so ‘n juk op jou lewe?  Miskien reken jy selfs dat die vloek oor geslagte heen aan jou oorgedra is.  Alkoholisme… beulemie… ‘n toestand as gevolg van jou gene…


God het vir die Israeliete gesê:  “Ek het gesien hoe my volk ly.  Ek kom om hul vry te maak.”  God sien elke onregverdige situasie.   Hy sien waarmee jy worstel en wat jou terughou.  Hy verlekker hom nie in jou situasie nie.  Hy is bereid om iets aan jou situasie te doen.  Hy kan en Hy gaan.  Roep Hom aan.  Vra Hom om jou te bevry van hierdie situasie.  Jy het nie nodig om alleen hierdie las te dra nie.  

Tuesday 26 July 2016

Waar val jou saad?

Markus  4 : 8  Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en 'n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.”

Ons hoor al meer van kinders wat geboelie word by die skool.  Een van my kollegas het in die week net by die werk aangekom, toe hy ‘n oproep van die skool kry.  Die skoolhoof het sy seun in die kantoor gehad waar hy hartverskeurend gehuil het omdat kinders hom gespot het.  Spot is ook boelie, want dit breek jou selfbeeld af.

Onlangse navorsing wat ek gelees het, skets ‘n hartseer prentjie.  Een man wat in sy 40’s is, uit ‘n gegoede huis kom, ‘n bogemiddelde IK het… wat volgens alle verwagtings moes presteer, sukkel het om ‘n werk te behou.  Met verhoudings het hy ook nie veel beter gevaar nie.  Hy was reeds 3 keer geskei. 

Tydens ‘n onderhoud het hy vertel dat hy as kind oorgewig was.  Kinders het hom as ‘n slaansak gebruik. Hulle sou gereeld ‘vettie’ en ‘loser’ koggel. Partykeer het hul sy kosbak afgeneem en dit gaan wegsteek. Hy’t later geweier om kos skool toe te neem.  Daardie woorde het iewers gaan vassteek en op die ou end het hy geword wat hulle van hom gesê het.

Ongelukkig steek woorde wat seermaak makliker vas as komplimente.  Dit was asof hierdie jongman vasgehaak het by daardie woorde. 

Woorde is saadjies.  As iemand iets negatief omtrent jou sê, vra jouself af of daar enige waarheid insteek.  As daar waarheid daarin steek, vra jouself af wat jy daaraan kan doen. Indien jy iets daaraan kan doen, doen dan iets daaraan. As jy geen beheer daaroor het nie, verwerp dit.  Indien daar geen waarheid daarin steek nie, vergeet daarvan.  Sodra jy daaroor begin dink en wonder, gaan dit wortel skiet en gaan jy sukkel om dit uit te roei.

Vind ook maniere om positiewe gedagtes vas te lê.  Skryf notatjies en plak dit op die spiëel.  “Jy is kosbaar.”  “Jy is perfek.” “Jy het mooi oë/mond/vel.”  “Jy’s geseënd.”  “Jy is ‘n wenner.”

Jy is dit aan jouself verskuldig.  Wees jou eie beste vriend en ondersteuner.  Wees lief vir jouself.  Binnekort sal jy sien hoe jou uitkyk of die lewe verander en jy sal ook agterkom dat ander se optrede teenoor jou gaan verander.

Monday 25 July 2016

Eendag in die hemel

Matteus 6 : 10  laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

God wil graag vir jou ‘n idee gee van die hemel terwyl jy hier op aarde is.  Hy wil vir ons sy planne wys en hoe dit tot uitspeel in jou lewe.  God heers reeds in die hemel.  Daar is Sy wil outomaties.  Daar is geen teenstand, geen twyfel, geen vyand of enige iets anders Hom teengaan nie.  Op aarde word Sy wil in ons lewens volbring – eerstens wanneer ons Jesus as ons Verlosser aanvaar en dan wanneer ons ons onderwerp aan Sy wil vir ons lewe, ons gedagtes, ons woorde en ons dade.  Elke dag stry ons ‘n stryd teen donker, maar ons moenie deur donker oorheers word nie. God is ‘n God van lig.  Laat Sy lig in jou lewe skyn en alle donker, negatiewe gedagtes bestry.

Soos wat jy jou hart oopmaak en God in nooi in jou lewe, kom jy onder Sy wil.  En wanneer jou wil in lyn met God s’n vir jou lewe is, het jy krag.  Dis dan wanneer jy ‘n klein kykie kry op wat die hemel eendag inhou.

Wat ‘n wonderlike manier om ons staande te hou te midde van moeilike tye.  Eendag gaan ons saam met God in die hemel wees… eendag gaan daar geen hartseer of swaarkry of trane meer wees nie.  Eendag… in die hemel.

Sunday 24 July 2016

Tel jou woorde

Spreuke 10:19  Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig

Verhoudings is nie maklik nie.  Of dit nou ‘n liefdesverhouding is of’n verhouding tussen familie, dit bly kompleks.  Kort voor lank ruineer ons die verhouding deur woorde of dade.  Partykeer kan ons dit red, ander kere lei dit eenvoudig skipbreuk.  Verhoudings op enige vlak vereis harde werk. 

Gebrek aan kommunikasie word as die hoofoorsaak vir egskeidings aangevoer.  Ek wonder partykeer of ‘n gebrek aan kommunikasie werklik die oorsaak is.  Sal dit nie dalk beter wees as ons nie met woorde kommunikeer nie?  Woorde rig soveel skade aan. Of dalk moet ons leer om eerder stil te bly as ons nie iets opbouend kan sê nie.  Is dit regtig nodig om ‘n storie oor te vertel?  Moet ons altyd reg wees?


Laat ons hierdie week probeer om bewus te wees van elke woord wat uit ons mond kom.  

Thursday 21 July 2016

Die krag van verbeelding

Spreuke 4 : 23   Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Verkoopskonsultante het die geleentheid om vir hulself naam te maak.  As jy suksesvol is, is dit die beste plek om te wees, want jy word raakgesien.  Daar is ook gewoonlik baie aantreklike aansporings pryse.  So het ek een keer die geleentheid gehad om vir ‘n oorsese reis te kompeteer.  Die wenners en hul maats, sou sewe dae in Mauritius gaan ontspan.  Vandat die oomblik dat die kompetisie aangekondig is, het ek gesê:  “Ek gaan wen.”  Om my te motiveer het ek ‘n eilandtoneel as ‘screen saver’ op my rekenaar gehad.  Elke dag as ek my rekenaar aanskakel het die eiland prentjie my herinner aan my doel.  Dit was ‘top of mind’. 

Ons verbeelding is ontsettend kragtig.  God het ons geskep as viuele wesens.  Om die regte beelde voor jou geestesoog op te roep, veroorsaak dat jy beweeg in die rigting van jou mees dominante denke.  Dit wat jy voortdurend sien, verskuif later na jou hart en eventueel word dit ‘n realiteit. 
Stel jou nou voor dat jy die beeld oproep wat God van jou het.  Dieselfde beginsel geld. As jy aanhoudend oor jouself dink soos wat God oor jou dink, gaan jou lewe in daardie rigting beweeg.  Kry jougedagtes in lyn met God se Woord en mediteer daarop sodat jy meer en meer daardie beeld kan oproep wat Hy van jou het.  Sien elke oggend hoe jy daardie dag sukses gaan behaal.  

Terloops, ek het die kompetisie gewen en sewe wonderlike dae in Mauritius saam met my man en die res van die wenners deurgebring.  Alles is vir ons betaal en ons het soveel sakgeld gekry dat ons dit nie eens kon opgebruik nie.  Ons het die mooiste herinneringe teruggebring, maar bo alles het ek die krag van visualisering ontdek. 

Wednesday 20 July 2016

Eer God

Romeine 4 : 20  Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.

Wanneer jy die verhaal van Abraham lees, weet jy dat Abraham se omstandighede buite sy beheer was.  Hy was reeds te oud om kinders te hê, en tog het God hom beloof dat hy ‘n seun sou hê.  Kyk ‘n bietjie wat Abraham gedoen het terwyl hy gewag het dat God se beloftes realiseer.  Hy het God geëer en gegroei in geloof.  Elke oggend het hy opgestaan en gesê:  “Dankie, Here vir u getrouheid.  Dankie dat my seun op pad is.  Abraham het God bly dank vir dit wat deur die gees aan hom geopenbaar is en die verhaal eindig op ‘n gelukkige noot, want klein Isak is gebore.

Net soos met Abraham, het God ook in jou hart drome geplaas.  Hy het ook oor jou beloftes gespreek.  Jy wil so graag glo dat dit gaan waar word, maar dit lyk op hierdie stadium onmoontlik. 
Daar is eintlik nie ‘n manier wat dinge kan uitwerk nie. God sê vandag vir jou:  “Wat ek begin het, sal ek klaarmaak.  Volg Abraham se voorbeeld.  Loof God vir die deurbraak terwyl jy wag.  Dis een manier om jou geloof te versterk. Hou aan bid… hou aan glo… hou aan hoop.  Binnekort sal jy sien hoe God die water voor jou oë in twee skei.

Tuesday 19 July 2016

Here moet my tog nie verlaat nie

Klaagliedere 5:20 Waarom sou U ons dan bly vergeet, ons vir altyd verlaat?

O, Here vandag kom ek na U toe met al my seer en al my smart.  Ek voel soos ‘n drenkeling, Here.    Ek verstaan nie hoekom hierdie dinge gebeur nie.  Net soos ek dink ek kan asemhaal, dan slaan ‘n brander my weer te pletter. 

Hoekom al hierdie aanslae, Here?  Ek weet U beloof dat U my nie bo my vermoëns sal beproef nie, maar ek begin wonder, Here.  My kragte raak al minder.  My liggaam is broos en seer.  Die ergste van alles is dat daar geen sigbare merke van hierdie aanslae teen my op my liggaam te bespeur nie.  Op die oog af mag mense selfs dink ek het geen sorge nie, want ek steek dit so goed weg.  Die seer is hier binne, Here.   Ek kan met niemand daaroor praat nie.  Die skande is te groot.   Waar begin ‘n mens in elk geval.  So krop ek dit maar op en so reën die aanslae op my neer.  Soms is daar ‘n venster van genade.  Dan probeer ek ook lag en vrolik wees, maar kort voor lank word ek weer aan die stryd herinner… kom die pynlike herinneringe weer by my op.  Dit is besig om my te ruineer en dit verander wie ek is.  Die vloek… die sondes van die vaders… Waar gaan dit alles eindig, Here? 

Vergewe my hierdie oomblik van selfbejammering.  Bewaar my van die bose, Here.  Deur dit alles weet ek dat U alleen my hoop en my uitkoms is.  

Monday 18 July 2016

I'm gorgeous and I know it

Jesaja 43 : 19  Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

Ongeag wat tot dusver in jou lewe gebeur het, dit is nooit te laat om die mens te word wat God jou geskape het om te wees nie.  Jy is nie wat mense sê jy is nie. 

‘n Paar jaar gelede het ons vakansie gehou in Namibië.  Dit was ons eerste besoek en ons het sommer baie foto’s geneem.  Namibië is enige fotograaf se droom. Daar is ongelooflike mooi landskaptonele.  Tussen Swakopmund en Walvisbaai het jy die kontras van die oseaan aan die een kant en die Namib woestyn aan die ander kant.  Ek het nooit gedink ek sal liries raak oor sand nie, maar dit is beeldskoon.  In die binneland kry jy weer die veld en doringbome met massiewe versamelneste.  Op ‘n stadium bestuur my man en ek sit en kyk deur die foto’s. Ek is nie so vertroud met die kamera nie en probeer uitwerk hoe om ‘n foto te delete wat nie so perfek is nie.  Op ‘n stadium sê ek, ek wonder wat doen ‘format’.  Wel, as jy weet wat gebeur as iemand ‘format’ op ‘n kamera of rekenaar druk, kan jy dink hoe ek op daardie oomblik gevoel het.  Dit wis alles uit… elke enkele foto is daarmee heen. 


Wel, ‘format’ alle negatiewe uitlatings, stellings of insprake oor jou lewe.  Wis dit uit.   Dit wat die onderwyser, die rugbyafrigter, jou gewese meisie, jou sogenaamde vriende van jou gesê het… dis alles vergete.  Herprogrammeer jou denke met positiewe denke.  Ek is perfek… geskape na die beeld van God.  Ek is in staat om groot hoogtes te bereik.  Nie net gaan ek hierdie hoogtes bereik nie, maar ek gaan uitstaan en onthou word vir dit wat ek bereik het.  God het in my ‘n meesterstuk vervolmaak.  Ek is briljant.  Ek kan eenvoudig geen voet verkeerd sit nie.  My lewe is doelgerig op koers.  I’m gorgeous and I know it!

Sunday 17 July 2016

10 Commandments from a dog’s perspective

Ons hond hoes nou al vir weke.  Twee weke gelede het die veearts haar ‘n inspuiting en antibiotika gegee.  Vandag is ons weer terug.  Op pad na die veearts ‘praat’ sy met my.  Sy kyk my in die oê en prewel-tjank.  Wat sy probeer sê weet ek nie, maar ek hoop nie sy’t my gevra ek moet haar net nie laat uitsit nie, want dit sou ek nooit doen nie.  Dalk was sy net dankbaar dat ek haar ‘dokter’ toe neem.

Die keer is die diagnose dat sy ‘n geruis op haar hart het en ook water op haar longetjies.  Ons het haar by die Animal Cruelty gaan uitsoek destyds.  Sy was so maer.  Vir jare beskerm sy ons en verskaf sy ons vreugde.  Nou het sy ons nodig.  Sy moet vir die res van haar lewe hart medikasie gebruik.  En dis die minste wat ek vir haar kan doen.

Terwyl ek in die spreekkamer wag op die veearts, lees ek hierdie pragtige gedeelte:

10 Commandments from a dog’s perspective:
1. My life is likely to last 10 to 15 years; any separation from you will be painful for me. Remember that before you adopt me.
2. Give me time to understand what you want from me; don’t be impatient, short-tempered, or irritable.
3. Place your trust in me and I will always trust you back. Respect is earned not given as an inalienable right.
4. Don’t be angry with me for long and don’t lock me up as punishment; I am not capable of understanding why. I only know I have been rejected. You have your work, entertainment, and friends, but I only have you.
5. Talk to me. Even if I don’t understand your words, I do understand your voice and your tone. You only have to look at my tail.
6. Be aware that however you treat me, I’ll never forget it, and if it’s cruel, it may affect me forever.
7. Please don’t hit me. I can’t hit back, but I can bite and scratch, and I really don’t ever want to do that
8. Before you scold me for being uncooperative, obstinate, or lazy, ask yourself if something might be bothering me. Perhaps I’m not getting the right foods or I’ve been out in the sun too long, or my heart is getting old and weak. It may be I am just dog-tired.
9. Take care of me when I get old. You too will grow old and may also need love, care, comfort, and attention.
10. Go with me on difficult journeys. Never say, “I can’t bear to watch” or “Let it happen in my absence.” Everything is easier for me if you are there. Remember, regardless of what you do, I will always love you.

Thursday 14 July 2016

Veel beter

Jesaja 61 : 7    In plaas van vernedering sal julle twee keer soveel besittings hê as tevore, in plaas van minagting sal julle lof ontvang oor wat julle besit. Julle sal in julle land twee keer soveel besit as tevore en julle sal altyd vreugde hê.

In die Ou Testament lees ons van die moeilike tye waardeur die volk van God moes gaan.  Hul was dikwels in gevangeskap en is sleg behandel deur verskeie nasies. 

Juis daarom moes hierdie woorde vir hul ongelooflik bemoedigend gewees het.  En toe die tyd aanbreek, was God getrou aan Sy woord.

Die Koekkedoor deelnemer, Wessel, het met die laaste episode gesê:  “Ek kan nie glo hoe my lewe verander het nie.  Ek sou ‘n maand gelede nooit kon dink dat ek vandag hier sou staan.”  Hy het nou wel nie daardie episode gewen nie, maar sy lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.  Te veel deure het vir hom oopgegaan.

Maak vandag hierdie belofte ook deel van jou toekoms.  God gaan jou optel uit die put waarin jy jouself bevind.  Hy gaan jou hele lewe verander.  God gaan altyd voluit en Hy hou daarvan om verwagtings te oortref. 

Dalk glo jy dit nou al te lank… jy glo, maar niks gebeur nie, om die waarheid te sê jou situasie vererger net.  Onthou die nag is op sy donkerste net voor die dagbreek. Jou tyd gaan aanbreek en dit gaan skouspelagtig wees.

Wednesday 13 July 2016

Aanvaarding

Romeine 15 : 7  Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God

Chere Botha vertel hoe mense gebid het dat sy ‘genees’ moet word toe sy gebore is as Down Sindroom baba.  Haar ma het egter gevra dat hul eerder moet bid dat sy haar volle potensiaal sal bereik.  En hoe het sy nie haar potensiaal bereik nie!

Chere is die eerste volwaardig gekwalifiseerde Down Sindroom onderwyseres.  Sy het al soveel bereik. Niks hou haar terug nie.  Alles wat sy doen, doen sy voluit. Sy oefen juis nou haar Engels, om die woorde duidelik uit te spreek sodat sy Engelse toesprake kan hou.  Oor en oor hoor jy haar sê:  “Ek dank my Hemelse Vader vir al die geleenthede.” Sy gee Hom al die eer. 

Haar nuutste deurbraak is ‘n rol in ‘n verhoogstuk met die titel ‘Die hemel het ‘n kromosoom verloor’ 

So dikwels vra ons:  “Why me?” Hoekom gebeur dit met my?  Hoekom moet ek so swaar kry?  Chere het heeltemal ‘n ander uitkyk.  Sy reken sy sou nooit die lewe gehad het wat sy vandag het as sy ‘normaal’ was nie. 

Is dit nie juis ‘n kwessie van aanvaar wie God ons gemaak het en eerder te fokus om die beste ‘ek’ te wees nie?  Ons wil so graag ‘n ander lewe hê as die een wat ons het… ons wil so graag soos ander wees of soos hulle lyk.  Aanvaar wie jy is.  Jy is perfek en presies wat God beplan het.

Tuesday 12 July 2016

Vertel van God se guns

Nehemia 2 : 18  Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak

Nehemia het daarvan gedroom om die mure van Jerusalem te herbou, maar hy het nie geld, materiaal, gereedskap of mannekrag gehad om dit te doen nie.  Wat hy in oorvloed gehad het, was teenstand.  Mense het hom probeer oortuig dat dit onmoontlik is.  Is mense ook besig om jou te ontmoedig? 

Nehemia kon maklik toegegee het, maar te midde van al die teenkanting, het hy vir hulle eerder vertel dat God se goeie hand oor hom gehou word.  Nehemia het geglo dat hy kan omdat hy in God se vermoëns geglo het. 

So begin hul toe die astronomiese taak om die muur te herbou.  Nehemia hou aan om tydig en ontydig vir hul te vertel van God se goedheid wat op hom rus.  Die resultaat? Hulle het die muur in rekordtyd herbou.  Dit behoort ten minste ‘n jaar of twee te geduur het, maar hul het dit in 52 dae klaargemaak.
Hierin is ‘n baie groot les vir ons.  Moenie die struikelblokke of onmoontlikhede uitwys nie.  Spreek eerder daardie beloftes van God uit en laat ander hoor dat jy weet God se guns rus op jou en jou lewe.  Daarmee saam geniet jy Sy beskerming, Sy genade en ook Sy liefde.


Monday 11 July 2016

As alles teen jou is

Psalm 41 : 8  Almal wat my haat, staan en fluister oor my, hulle wens my net die ergste toe:
Was jy al in ‘n situasie waar jy gevoel het alles is teen jou en dat ander hul verlekker in jou lot?  Ek dink dit is min of meer hoe Oscar Pistorius moes voel.  Ja, hy het Reeva doodgeskiet… daarvoor betaal hy elke oomblik wat hy wakker is en heelwaarskynlik ook in sy drome (nagmerries).  Aanvanklik is hy aan mansslag skuldig bevind en het hy tronkstraf daarvoor gekry. 

Nog skaars was hy onder huis arres vrygelaat, of hy moet hoor daar word nou geapelleer en dat hy moontlik weer tronk toe kan gaan, die keer op aanklag van moord.  Dis dejavu as hy weer vir Gerrie Nel in die oë moet kyk…  weer vir regter Matsipa moet antwoord… weer voor Reeva se familie moet ineenkrimp. 

Niks wat hy doen kan dit wat op Valentynsdag twee jaar gelede gebeur het, omkeer nie.  Reeva is dood.  Weer word hy skuldig bevind – die keer vir moord en die vonnis is 6 jaar.  Sommige mense reken dis te min, ander, soos ek, reken dis te lank.  Hoeveel pyn kan een mens hanteer?  Niks wat Oscar doen sal sy reputasie weer in ere herstel nie.  Elke enkele daad wat hy pleeg, elke woord wat hy uiter, elke gesigsuitdrukking of emosie wat hy wys word ontleed en buite verband geruk.  Nou wil hul weer appelleer teen die kort vonnis.  Kan hulle die man nie met rus laat nie?

Dalk het Oscar sy lot aanvaar soos jy ook jou lot aanvaar het.  Jy glo jou verhouding is tot niet.  Jy dink dis onmoontlik om te herstel van jou verslawing.  Jy het dalk ‘n misdaad gepleeg en jy weet jy gaan boet.

Deur die genade oordeel God nie met dieselfde maat waarmee ons oordeel nie.  Hy vergewe en laat die verlede waar dit hoort. 

Vers 12  Dit weet ek: U het my lief, my vyand sal nie oor my triomfeer nie.

Oscar kan weer opstaan as hy geanker bly in God.  Hy het die liefde van sy familie en God wat hom sal deurdra.  As hy weet aan Wie hy behoort, kan hy nie verslaan word nie.  As God vir jou is, wie kan teen jou wees?

Ook jy moet weet dat hierdie net ‘n tydelike terugslag is.  Dit is ‘n teleurstelling en dis onregverdig, maar dit mag jou nie terughou van wat God vir jou in gedagte het nie.  Wat jy in die gesig staar mag groot, swaar en onoorkombaar lyk, maar moenie toelaat dat dit jou intimideer nie.  Een aanraking van God se hand en die situasie is omgekeer.

Sunday 10 July 2016

Noukeurig neergepen

Lukas 1 : 3  Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf.

Goed, so die Bybel is deur God geinspireer, maar wie het dit geskryf?  Daar is klaarblyklik meer as veertig skrywers.  Hoekom nie net een nie?  Die rede daarvoor is sodat daar meer as een persoon is wat hul weergawe van die gebeure weergee sodat ons die goue draad daarin kan sien.

Vandag het ons tegnologie en is dit maklik om biografieë te skryf. Daar is televisie kameras wat alles kan vasvang en in argiewe bewaar.  Ons het google. Toe Jesus gebore is, was dit heel anders.

Lukas was ‘n dokter.  Hy was nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie.  In die tyd waarin hy geleef het, moes ‘n dokter omtrent hoog aangeskrewe gewees het.  Lukas wil alle moontlike twyfel uit die weg ruim.  Hy doen sy huiswerk… gaan feite na… maak sin dis ‘n chronologiese weergawe sodat dit kan sinmaak. 

Dankie, Lukas.  Dankie dat jy gehoorsaam was om duisende jare gelede alles op papier neer te lê sodat dit vir die nageslag bewaar is.  Dankie dat jy seker gemaak het dat dit nie hoorsê is nie, maar koue, harde feite.  

Thursday 7 July 2016

Die Bybel

2 Timoteus 3:16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek,

Die relevansie van Die Bybel in vandag se lewe word bevraagteken? Boonop is daar diegene wat reken dat logika by die venster uitvlieg as jy die Bybel lees.  Die see kloof in twee en mense stap droogvoets deur… Jona word deur ‘n vis ingesluk!  Daniël kom heelhuids uit die leeukuil… Jesus word uit ‘n maagd gebore!  Die aarde kan nie in ses dae geskape word nie en… die mens het uit ‘n aap ontwikkel tot wat ons vandag is.

Genadiglik het God ons nie vir die wolwe gegooi nie.  Die Skrif is deur God geinspireer.  Dis ons kompas en ons reëlboek. Hierin word ons geleer wat aanvaarbaar is en wat nie.  Ons word geleer om reg en goed te doen, ander reg te help en ongeregtigheid reg te stel.  Ons sal nooit kan sê:  “Ek het nie geweet nie.” Vir elke gebeurtenis… elke vraag… elke gryntjie twyfel is daar ‘n oplossing in die Woord van God.  En dit is die waarheid… elke enkele woord daarin vervat.

Wednesday 6 July 2016

Goedheid en guns

Psalm 23 : 6 Net goedheid en guns sal my volg, al die dae van my lewe

Daar is soveel mense wat geluk najaag, wat wonder wanneer hul skip gaan inkom of wanneer hul tyd gaan aanbreek.  Hul hoop op ‘n deurbraak…  Hulle wil meer en meer hê… hulle wil meer en meer besit… hul kyk na ander om hul gelukkig te maak.  Eintlik is dit verkeerdom, want volgens die teks sal goedheid en guns jou volg… oral waar jy gaan.

Dit is amper soos om in die verkeerde rigting na iets te soek.  Dalk begeer jy om iemand in jou lewe te hê en jy voel jy het nou al alles gedoen, maar jy kan net nie die regte persoon ontmoet nie.  Dit is tyd om op te hou soek.  Daardie persoon gaan jou lewe binnekom sonder dat jy ‘n vinger verroer.  Miskien is jy werkloos en is jy elke dag op die internet of in koerante, op soek na werk.  God gaan vir jou deure oopmaak.

God se goedheid is besig om jou te volg, maar dit kry nie tyd om jou in te haal nie.  Kyk ‘n slag in die truspieeltjie van jou lewe.  Dit is goedheid en guns wat jy daar sien.   Gee kans dat dit jou kan inhaal.  

Tuesday 5 July 2016

Slaap rustig

Psalm 127 : 2 Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite 'n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.

Ek is een van daardie mense wat agt ure slaap nodig het, maar ook sukkel om aan die slaap te raak.  Ek is verseker nie die enigste mens wat sukkel om te slaap nie.  Wat ek ook nie kan verstaan nie, is dat ek ook nie laat slaap wanneer ek die kans kry nie.  Nee, dan is ek sommer vroeg wakker en staan ek maar liewer later op.  So gaan kosbare slaap verlore.

Dit is duidelik dat ek en jy moet besef dat ons nie moet toelaat dat enige iets ons rus steel nie.  God verlang dat ons ‘n goeie nagrus geniet sodat ons vars en uitgerus kan wees. 

Wat hou jou uit die slaap? Bekommernisse oor jou verhoudings? Bekommernisse oor ons land? Bekommernis oor veiligheid? Ek het al gelees dat ‘n mens so ‘n uur voor slaaptyd moet begin rustig raak en dat jy nie in daardie tyd op jou selfoon of rekenaar moet werk nie, maar ek glo ook daardie uur kan gebruik word om in God se teenwoordigheid te spandeer.  Leer Hom ken.  Raak Sy kind.  Bou aan  ‘n verhouding met hom.


As daar enige sorge is – gee dit vir God.  Hy slaap nooit en daarom is Hy die perfekte bewaker.  En die beste van alles… as kind van God hoef jy nie te swoeg en te sweet nie.  God voorsien in elke behoefte… selfs terwyl ons slaap.  Amazing!  Ons kan inderdaad rustig slaap.  God het alles onder beheer.

Monday 4 July 2016

Laat jou lig skyn

Matteus 5 : 16  Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Het dit al met jou gebeur dat jy iets bak en mense dan vir jou die resep vra?  Ek is seker daarvan dat dit jou baie goed laat voel, want dit beteken die item wat jy gebak het lyk aptytlik en smaak heerlik.  Dis lekker om te weet iemand aspireer om te doen wat jy gedoen het, ne?

Nadat God die mens geskape het, het hy gesê dat dit “baie goed” was.  Hy was trots op dit wat Hy geskape het.  God het ‘n goeie resep gehad, want hy het ook vir Eva geskape en daarna is nog vele van ons gevorm in die moederskoot.  Ek glo dat God op elkeen van ons trots is.

As ander jou sien, dink jy hul sal so beindruk wees met jou, dat hul sal hoop God maak nog van jou soort?  Is jy ‘n goeie verteenwoordiger en voorbeeld van Sy handewerk?  Skitter jy soos ‘n blink diamant wat perfek geslyp is?  Wat dink ander as hul jou hoor praat?   Is jou optrede sodanig dat dit God se noukeurige handewerk huldig? 

As ons net elke dag onthou dat ons God Almagtig verteenwoordig, behoort ons dade en woorde heel anders te wees.  Waar ons ookal gaan, behoort mense God deur ons te sien skyn.  Wees ‘n voorsmakie van wat hul kan verwag as hul eendag van aangesig tot aangesig met Hom kom.

Sunday 3 July 2016

As God se stem weerklink

Joël 2 : 11 Die Here laat sy stem weerklink voor sy leërmag uit. Sy leër is ontsaglik groot, dié wat die Here se bevel uitvoer, is sterk. Die dag van die Here is 'n groot dag

God leer ons om sy stem te hoor bietjie vir bietjie.  Dit kan gebeur wanneer jy iets wil koop en skielik net voel dis nie die regte tyd of item nie. Of dit kan by die kantoor wees waar jy die gevoel kry om liewer net nie op iemand se opmerking te reageer nie.

Hierdie ‘gevoelens’ is belangrik, want dit is God wat ons deur die Gees lei.  Moenie hierdie indrukkeof gevoelens ignoreer nie. 

Vroeër vandeesweek, is ek vroeër as gewoonlik gereed.  My man wil opstaan, maar ek sê hy kan maar nog ‘n minuut lê.  ‘n Minuut of wat later sê ek hy kan maar net sowel opstaan sodat ons kan ry.  Hy gaan laai my soggens by die busstop af.  Op pad na die eerste robot, hoor ons ‘n slag, maar ons sien niks. Ons weet daar was ‘n motor kort voor ons.  Alhoewel alles binne sekondes gebeur, kan ek jou presies vertel wat tydens elke milli-sekonde gebeur het.  Na die slag, vra ons amper gelyk:  “Wat was dit?”

Dan sien ons twee goed in verskillende rigtings trek.  Ons registreer daar is ‘n voertuig van ‘n sekerheids maatskappy met ligte aan die oorkant wat noodligte aanskakel en nader beweeg aan die twee goed.  Byna gelyk registreer ons:  “Dit was ‘n mens op ‘n fiets.”  “Oh, no!” my man se twee woorde is met skok en algehele verslaentheid gevul.  Met die dat die sekerheids voertuig die fietsryer se liggaam met sy voertuig probeer verskans en ek betyds by die busstop moet wees, besluit ons om om die toneel te ry.  Uit die hoek van my oog, sien ek hoe die man se kop stadig lig.  “Hy leef,” dink ek.  Ek begin woordeloos vir hom bid, maar ook vir die motoris.  Albei is slagoffers.

Die voertuig wat hom getref het, het onmiddellik remme aangeslaan en omgedraai.  Die hele voorruit is ‘n spinnerak soos die fietsryer dit getref het.  Ek speel alles in my kop af.  Die lig was groen vir ons en die motor voor ons.  Sesuur in die oggend is dit nog stikdonker, met slegs straatligte om die omgewing te verlig. Daar is min tot geen verkeer, so die fietsryer, wat ‘n glimbaadjie dra, moes gedink het dit is veilig om oor die robot te ry wat vir hom rooi sou gewees het.  Ek bid steeds. My man groet en ry terug huis toe om ‘n laaste bietjie slaap in te kry alvorens hy opstaan om te gaan werk.

Ek glo vas dat dit ons sou gewees het wat daardie fietsryer sou getref het as dit nie was dat ons nie onmiddellik gery het toe ek klaar was nie.  Soms weet ons nie eens dat God besig is om ons te beskerm nie, maar Hy is.  Vir die fietsryer moes dit ‘n verskrikking gewees het. My man sê dat die man darem op die sypaadjie gesit het toe hy op pad terug weer verby die toneel ry.  Toe hy later werk toe ry, was ‘n noodvoertuig besig om die motor weg te sleep.  Vir die motoris wag daar ook ‘n nagmerrie wat wissel van versekering, sonder motor wees, laat vir werk tot dalk ‘n hofsaak.

Vir my en my man is dit ‘n teken van God se algehele beskerming en die besef dat dit net genade was.  Dankie Here dat U, U stem laat weerklink het in ons ore, maar bowenal dankie vir U hand van beskerming.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...